boksiegode en bybelgode

Augustus 18, 2009

“Maar as God almagtig is, hoe kan hy teen Jakob verloor?”

vra een van die graad 11’s in die belydenisklas noudieaand. En hulle sien ook raak dat God vir ‘n klein rakker kies hier. Esau is eintlik ‘n baie beter keuse, hierdie Jakob vent is ‘n klein liegbek. Maar God kies hom. En dan is daar nog God wat spyt kry oor hy mense gemaak het, hoe kan ‘n alwetende God tog spyt kry? En Abraham wat vir God afstry daar kort duskant Sodom. En ons het nou maar nog net begin raak aan Genesis.

Ek dink dit was Anton van Niekerk wat iewers skryf dat ons die God van die filosowe so bietjie moet los ter wille van die God van die Bybel. Nou, dit het niks met ‘n letterlike lees, of ‘n konserwatiewe godsbeskouing of enige so iets te doen nie. Die God van die filosowe het maar net ‘n manier om presies in te pas in een of ander teorie, mooi gesistematiseerd, agtermekaar, met beskrywende terme wat verabsoluteer word.

David Bosch skryf:

It is only when one loses faith in a plausibility structure that one senses that its powers were excessive and specious. In this respect Polanyi quotes Arthur Koester who, only after ht had ceased to be a Marxist, was able to write: “My party education had equipped my mind with such elaborate shock-absorbing buffers and elastic defenses that everything seen and heard became automatically transformed to fit a preconceived pattern”. The point Polanyi is maing is that the worldview one embraces may not be “true”. It may, in fact, be the Big Lie. Still, it remains “irresistibly persuasive, since it sweeps away all existing criteria of validity and resets them in its own support”

Ek dink jy weet beter waarvan Bosch (en Polanyi, op wie se werk hy baie sterk steun) praat as wat jy dink. Daai mense wat wanneer hulle praat dan kom jy net agter dat julle praat heeltemal by mekaar verby. Julle praat verskillende tale. Julle gebruik dieselfde woorde, maar bedoel totaal verskillende goed. En die ergste is, hulle an glad nie verstaan hoekom jy nie kan insien wat hulle probeer sê nie. Punt is dat beide van julle met sulke “elaborate shoc-absorbing” sisteme sit, dat julle tekste en stories op die mees wonderlike manier kan maak pas in die bekende patrone.

Daarom dalk dat meer en meer van ons hier van die ander kant af, of ons nou grade in teologie, filosofie, literatuurstudies, of sommer net graad 11, het, goed in die Bybel lees, wat vir ons so obvious lyk dat dit is wat daar staan, en dan kom jy net agter dat bitter min mense aan die duskant sien dit eers raak, hulle het experts geword om die spanninge in die teks uit te stryk tot alles mooi inpas in hulle verstaan van wat daar moet staan. En jy? Jy kan of konformeer, of jy kan die teks lees, en weer lees, en elke stukkie spanning opraap as ‘n geleentheid om iets van die rykdom van hierdie teks te ontdek. Die Jode het dit gedoen in hulle midrash, die Reformatore het gesê ons moet, en die post-moderne teoloë kan bloot nie anders nie.


Paulus en Polisiekar

Julie 6, 2009

Twee mense/groepe wie se gedagtes ek moes leer waardeer: Paulus en Fokofpolisiekar.

As goeie Gereformeerde eerstejaar teologiestudent was Paulus die een Bybelskrywer wat vir my ‘n hero was. Sy argumente, sy teologie, die stories van sy lewe. Maar met tyd het die hero-worship so bietjie verminder. Dit was nie my dosente nie, die een wat die Paulus klasse aangebied het was uiteraard baie opgewonde oor vriend Paulus. Maar soos soveel ander wat ek nou al oor die jare leer ken het, het dit net vir my gevoel of my lees van Paulus nie so lekker opline met dit wat ek van Jesus gelees het in die evangelies nie. So ek het maar begin om bietjie minder Paulus te lees vir eers.

Ek was net so mooi aan die gang met die teologiese studies, nog ‘n eerstejaar wat te veel klasse gebank het, toe Fokofpolisiekar begin musiek maak het. Ek kan nie sê dit het regtig ‘n invloed op my lewe gehad nie. Tot ‘n goeie vriendin wat nie regtig ‘n kerk-mens was nie, sy het die kerk eers baie laat in haar lewe ontdek, my geleer het om hulle te luister. Van daar af luister ek hulle baie, ek luister hulle musiek om iets van die wêreld waarbinne ‘n jonger generasie, myself ingesluit, leef te verstaan. Hulle gee nie noodwendig vir my die antwoorde nie, maar hulle verwoord definitief die vrae! En realiteit is dat meeste van die kids by die kerk, ook die goeie kerk-kinders, hulle musiek ken.

Andries van Aarde se Fatherless in Galilee wat ek teen einde van 2007 gelees het, tesame met ‘n referaat oor een of ander verskriklike Griekse vertaling uit van Paulus se briewe uit wat ek gelewer so rukkie voor ek die boek gelees het, het my weer ‘n waardering vir ons vriend Paulus begin gee. Maar ek moet sê dit gaan my nog ‘n ruk vat om Paulus regtig weer te verstaan ek dink.

Paulus en Polisiekar het nogals lyk my ‘n soortgelyke kritiek op leiers:

20  Julle verdra dit as iemand julle soos slawe behandel, as iemand julle uitbuit, as iemand julle bedrieg, as iemand julle uit die hoogte behandel, as iemand julle in die gesig klap.
21  Laat my dan maar tot my skande erken dat ons vir sulke dinge te swak was! Nou praat ek soos ‘n dwaas: enigiets waarop iemand aanspraak maak om te roem, daarop kan ek ook roem.

Julle verdra dit as iemand julle soos slawe behandel, as iemand julle uitbuit, as iemand julle bedrieg, as iemand julle uit die hoogte behandel, as iemand julle in die gesig klap. Laat my dan maar tot my skande erken dat ons vir sulke dinge te swak was!

(2 Korintiërs 11:20-21, Paulus van Tarsus)

Ons kort ‘n leier, ‘n bedreër om ons op te sweep. Om vir ons rigting te kan gee.

(Die seksuele revolusie 1:36-1:50, Fokofpolisiekar van Suid Afrika)

2 Korintiërs 11-12 is van die mees sarkastiese dele in alles wat Paulus geskryf het, en hier drup dit letterlik van die sarkasme! Dis asof Paulus wil sê: “Dankie tog dat ons nie sulke goeie leiers was nie”, want die sterk leiers bedrieg mense bloot, lei hulle om die bos, kry reg om idees aan ander te verkoop wat nie waar is nie. En dit wil lyk asof mense dit dan nou juis soek, enige bedreër wat met ‘n sterk opinie en vinnige antwoorde sal kom rigting gee. Wat instaat is om mense te manipuleer om soos goeie skape almal in die regte rigting te loop. Ek raak baie bekommerd wanneer ek sien hoe onkrities die kerk inkoop op al wat ‘n leierskap-tegniek is. Dalk het ons ‘n Paulus nodig wat sal sê: “dankie tog dat ek te swak was om mense te manipuleer op die manier wat party predikante dit reggekry het”.

Nelus Niemandt, oor wie se idees ek noudiedag bietjie geblog het, skryf:

Ons het dalk minder van John Maxwell en meer van Henri Nouwen nodig.

Ek dink daar is min mense wat Paulus se idees oor leierskap wat ek in 2 Korintiërs 11 en 12 kry so goed verwoord het vir vandag as Henri Nouwen in The Wouned Healer, ons het ‘n tipe leierskap nodig wat weet hoe om oor swakheid te praat, en waaroor ons kritici nie sal sing dat leiers maar net ‘n ander vorm van bedreërs is nie.


@Niemandt – amen! stadig met die belydenis

Junie 29, 2009

Ek moet erken ek lees amper niks Beeld deesdae nie. Hulle “arme-wittes-wat-alewig-vermoor-word” eensydige beriggewing het my begin kry. Toe is ek Sowetan toe, maar hulle celebrity-skindernuus wat oor die afgelope weke net meer en meer geword het begin my te kry, so ek is daarvan ook af. Partymaal dink ek ek moet dalk bietjie meer Beeld lees, want ek hoor heeltyd die rumoars van ‘n godsdiens gesprek wat daar aan die gang is wat ‘n lewe van sy eie het. Maar Nelus Niemandt vra op Twitter vir gesprek n.a.v sy artikel in vandag se beeld, so ek het bietjie gaan lees.

Skuif die volgorde van Bely, Beleef, Behoort na Behoort, Beleef, Bely, skryf hy. Bely, Beleef, Behoort is die sisteem waarin hy grootgeword het. Ek dink dit is die sisteem waarin ek ook grootgeword het, alhoewel dit nooit eksplisiet gesê is nie. Ons het immers aanvaar dat jy bely, die moontlikheid dat jy nie saam bely nie is nooit eers oorweeg nie. So ook oor beleef. So ons het gepraat oor om te behoort aan hierdie kerk waarvan ons nou klaar deel is. Selfs voor ons amptelik belydenis afgelê het. Dat ons behoort deel maar heel vlak was het egter duidelik geword as enige van die vorige twee skielik gequestion word. Waag dit om te luister na daardie liberale teoloë, en ons sal dit duidelik maak dat jy nie meer behoort nie. Waag dit om bietjie rond te kuier by van daai crazy charismatics, of dalk die weird mystics, en ons maak dit baie duidelik dat jy nie meer behoort nie. Wanneer bely of beleef op die tafel gekom het, het dit altyd duidelik geword dat behoort nie eerste bestaan het nie, maar voorwaardelik tot die eerste twee was.

Nelus pleit al ‘n rukkie hiervoor, en ek waardeer dit. In sy boek Nuwe Drome, skryf hy byvoorbeeld:

As die ryk van God ‘n sokkerklub was, sou die klub oop wees om almal as lede te ontvang – kinders en grootmense, mans en vroue, beginners en ervare spelers, vurige ondersteuners en rustige bejaardes. Net mense wat sokker haat en alles wil doen om dit met boks te vervang, sal nie welkom wees nie.

Die vraag is egter, hoe lyk iemand wat sokker haat? Ek bedoel, ek kry netnou ‘n email van die Learning Community af, en op die voorblad is tans eerste Leonard Sweet en Frank Viola se Jesus Manifesto waaroor almal nou so begin rave, en so entjie onder dit goed oor Nelus se boek. As ek egter Sweet en Viola se manifesto lees, dan wil dit vir my lyk asof mense wat sokker haar hulle is wat nie saamstem met hulle ekstreme high Christology nie. As ek Sweet en Viola lees dan wil dit vir my klink of hulle die reëls klaar gemaak het, klaar besluit het wat jy moet bely, sodat jy kan behoort, en eintlik is daarbinne sommer opgesluit hoe jy moet beleef ook. Kyk en na daai bladsy dan lyk vir my my asof selfs al weet ons dat die sokkerklub teoreties oop is, is dit maar moeilik om mense lid te maak wat sokker se reëls anders verstaan as ek.

As ek Nelus reg hoor, en ek hoop ek doen, dat maak ons die klub eers oop, en dan bepaal die wat deel van die klub is saam oor tyd hoe ons bely, en partymaal op verskillende tye verskillend bely, hang af waar ons op hierdie geloofsreis is. Tony Jones het dit vir my die beste verduidelik toe hy geskryf het oor hoe die baseball community die baseball reëls oor tyd verander. Dit bly baseball, maar die reëls skuif. En wie bepaal die reëls?

Similarly, Christian orthodoxy is held in tension by you, me, the Pope and Benny Hinn — by all 2.2 billion of us. Plus, we’re also listening to the interpretations of those who’ve gone before us — the church fathers.

Dalk bly van die beste pogings om behoort eerste te plaas die van David Bosch. Gaan lees gerus bladsy 185-187 van Transforming Mission. Hy beskryf die kerk as ‘n “international hermeneutical community“, waar sokker beteken dat ons kies om oor die Bybel te praat, dit is ons oriëntasiepunt. En almal wat saam wil praat vanuit hierdie oriëntasiepunt is welkom. Sweet, Viola, Niemandt, Van Wyngaard, en wie ookal nog wil saamkom, hier behoort ons, en daarom dat ons saam kan bely oor tyd, nie andersom nie.

Ronald blog ook in reaksie op Nelus se artikel by Wurmblikkie.


is ek in die minderheid?

Junie 20, 2009

Ek beleef nogals die minderheid ding die laaste paar dae.

  • Die hele Pretoria is vol turn2god advertensies, en ek het my ongemak oor hierdie storie reeds begin noem.
  • ‘n Kind bel my om info oor Godly Revolution te kry, duisende jong Christene trek mos op soontoe, maar ek het bewustelik gekies om nie te weet wat daar aangaan nie.
  • Ek kom so paar minute terug vir die eerste keer in my lewe op Finesse se website af. Jou goedvoeltydskrif? Ek kan nogals sien hoekom ek nie regtig ‘n fan is nie. Dink daaraan, die Bergpredikasie… jou goedvoelpreek… iewers link die stuff nie.
  • Ons praat vanmiddag oor my bachelors van so klompie maande terug. ‘n Goeie aand saam met vriende, paintball en ‘n braai (ja, ek het regtig goeie vriende, niks stupids aangevang nie). So paar honderd meter van die braai af was Hillsongs besig om vir Jesus te getuig met musiek, maar ek het nie gevoel ek mis iets nie.
  • Oor oom Angus hoef ek nie veel te sê nie, het al daaroor geskryf. Die grootste fenomeen onder blanke Suid Afrikaners in jare. ‘n Uitgesproke Christen, maar ek voel nie ek kan daar link nie.

Is ek in die minderheid? Eintlik glo ek nie regtig so nie. Ek het ‘n vermoede dat dit ‘n minderheid groep van my land, selfs van Afrikaans sprekendes is, wat aan hierdie lys goed link. Maar hulle is baie vocal… baie baie vocal. Hulle maak dat die grootste christelike uitgewers maatskappy in die land ‘n lewe kan maak, maar ek stap deesdae maar by hulle winkels verby, daar is nooit iets waarin ek belangstel nie, ek het immers al ‘n Bybel.

Is hulle verkeers? Ek weet nie. Ek is elkgeval lankal verby die punt waar ek hulle try fight. Deesdae gaan ek maar my gang, vertel hoe van die God waarin ek glo, die God waarvan die Bybel my leer. Tel die stukke op indien nodig wanneer ek op iemand kom vir wie die naïwe en populêre geloofsstorie nie gewerk het nie, tel die stukke op wanneer ek op iemand afkom vir enige geloofsstorie nie gewerk het nie, ek link aan die groeiende groep mense wat in hulle diepste guts weet dat dit wat vir hulle gevoer was nie werk nie, maar nog nie taal het om te verwoord hoe hulle dan oor God dink nie, en kuier veral daar waar ek nie hierdie hoef te verduidelik nie, waar almal verstaan dat ek voel soos ek voel.


ons Afrikaner private godsdiens (aka oom Adriaan part 2)

Junie 11, 2009

Ek het vertel van oom Adriaan se besoek aan Amahoro. Vir baie Afrikaners ‘n diep geestelike belewenis van versoening met ons eie geskiedenis, en vreemd genoeg hoor ons nou ook die stories van watse indruk dit maak op ander uit verskillende dele van Afrika, omdat die Afrikaners wat hulle ontmoet het bereid is om die donker dele van hulle eie geskiedenis eerlik oor te praat. Ek kon dit nog nie oor my hart kry om vir die vriende wat ek uit Kenia gemaak het te vertel van Ek sal nie langer jammer sê nie. Maar goed, dit net ‘n vinnige update voor ek kom by waaroor ek wil skryf. 

Oom Adriaan het sy bediende Sarafina saamgebring Amahoro toe. Hulle was saam op die stage gewees, en sy het ons vertel van die Vlok huisgesin. Die verhaal het vir my so verteenwoordigend van ons godsdiensbelewenis geklink. Twee vrae en hulle antwoorde illustreer dit:

Aan oom Adriaan Vlok is gevra: Toe jy opdragte gegee het dat plekke gebom moet word ens, het jy nooit gedink aan of dit reg of verkeerd is, waar God hier inpas, wat jou geloof hieroor te sê het nie?

Nee. Dit was ‘n eenvoudige nee, hy het nooit daaraan gedink nie.

Aan Sarafina is gevra: Het jy geweet van die goed waarmee oom Adriaan besig was? Was jy nie bang om vir hom te werk nie?

Nee, was die antwoord. Oom Adriaan hulle was goeie Christen mense. Hulle het mooi vir my gesorg, ek was soos ‘n kind in hulle huis. Hulle het selfs gesê ek moet saam met hulle aan tafel eet.

Dit is die storie van ons Afrikaner godsdiens. Ja, en van gelowiges reg oor die wêreld. Dat ons geloof ‘n tot die private sfeer geskuif het. Geloof het te doen gehad met die binne kant, dit wat tussen my en God gebeur, dalk dit wat in my huis gebeur, huisgodsdiens byvoorbeeld. Die publieke wêreld is beheer deur die magte van die ekonomie, politiek ens, dit was die magte wat mos “geweet” het hoe ‘n samelewing bestuur moet word.

Vir oom Adriaan het dit verander, maar vir ons Afrikaners het dit nie. Godsdiens gaan maar in ‘n groot mate maar oor die private, dit wat in die “binnekamer” gebeur, my geloof, so sê ons, is ‘n private saak. Die private geloof is egter ‘n geloof wat gebreek het met Jesus van Nasaret…


ek en universiteitsoord en hulle alternatiewe diens

Mei 3, 2009

Die verkiesing is verby, so tyd om bietjie oor ander stuff te post. Wel, daar is nog baie dinge so in die nadraai van die verkiesing om oor te skryf, so dalk voel ek maar net tyd om bietjie iets anders te post.

Ek is vanaand NG Universiteitsoord toe. My vorige gemeente. 2003 was my eerste jaar, en ek was aanvanklik nie groot op Universiteitsoord nie. Kan nie mooi onthou hoekom nie, dink ek het nog te sterk vasgehou aan die jeug waarby ek was op Hoërskool. So ‘n gedeelte van 2003 het ek spandeer om bietjie rond te kyk na van die gemeentes rondom die Universiteit. Maar iewers die jaar het ek net besluit: Hierdie is my kerk. En my gewig daar begin ingooi.

Tot 2007 was ek daar betrokke gewees. In die laaste jaar wat ek daar was, veral die laaste 6 maande, het ek bykans nooit die kerkdiens bygewoon nie. Dalk was jy in Universiteitsoord, niks het verander nie. 1500 sitplekke, ‘n predikant wat daar van helshoogte af afkyk, van een verskriklike hoë preekstoel af, ‘n 4-manuaal orrel, met Wim Viljoen agter hom. 1500 studente, groot pret, groot buzz, goed geartikuleerde preke, goeie begeleiding… ek kon dit net nie meer vat nie.

Elke week het een van die wyke ‘n wyksdiens gehou, ek het die wyksdienste gaan bywoon. Een of ander ou agter ‘n kitaar wat musiek maak, gewoonlik nie ‘n band wat fyn ingeoefen is nie. ‘n Erediens waar daar die eerste tekens van ruimte vir interaksie was. Minder mense. In die saal. Daar het ek gaan stilword, en partymaal saam gesels. Daar het ek meer van kerk beleef.

Ek weet nie wat van die wyksdienste geword het in die laaste 18 maande vandat ek daar weg is nie, maar vroeër die jaar het ek gehoor hulle begin ‘n alternatiewe erediens. Eintlik het hulle van alternatiewe kerk gepraat, waarop ek redelik sterk kritiek gelewer het, maar vanaand het die dominee daar eerder van ‘n alternatiewe diens gepraat.

Dit was ‘n aangename verassing. Twee ouens met kitare wat rustig musiek maak. Tussen 10 en 15 mense wat saam sing (blykbaar was hierdie ‘n baie klein geleentheid, dis gewoonlik bietjie groter). Een van die rustigste vroue predikante wat ek nog ooit ontmoet het wat die verhaal van Thomas die twyfelaar van Johannes 20 lees. Ons uitnooi om ‘n stukkie papier te neem en by van die teksverse en vrae wat teen die mure opgeplak is te gaan stil staan. Vrae wat my nogals werklik weer laat raaksien het wie ek is. Toe sit ons weer, sy begin te gesels oor die karakters in die verhaal, ons gesels saam. Ek is ‘n buitestaander, maar ek deel ook my gedagtes: “ek dink Thomas was kwaad gewees”. Dit word deel van die woorde wat besig is om op ‘n groot stuk wit papier geskryf te word, dit word deel van die preek. As ek nie vanaand daar was nie, dan was daar iets missing gewees. Sy gesels nog, oor twyfel, oor wonder, oor God en verwondering, op ‘n manier wat my kritiese menswees laat kalm word. Toe staan ons op, staan in ‘n kring. Bid vir die girl wat in ‘n ongeluk was. Sing ‘n laaste lied. Die een ou met die kitaar spreek die seën uit. Onbekende seënwoorde… hy is nie eens die dominee nie. En toe ek uitloop besef ek… hulle het nie kollekte opgeneem nie.

Dit was vir my goed gewees. Dit was vir my ongelooflik goed gewees. Ek het baie vriende wat struggle met Universiteitsoord, en ek neem hulle nie kwalik nie. Maar vanaand het ek iets van kerkwees beleef. ‘n Ruimte waar ek mag vrae vra, waar ek mag struggle, waar ek mag twyfel.


katedraal of kommunitie

February 21, 2009

As jy Garsfontein van daar na die Ooste van Pretoria toe, en ‘n regs vang in De Villa Boa, dan kry jy op links die katedraal van die gnossies. Die hoofkwartier, soos Johan Rossouw dit beskryf. NG Moreleta. Ek onthou vroeër jare, toe NG Moreletta nog ‘n senior pastor gehad het, toe Dirkie van der Spuy nog Moreleta se voice was. Hulle het steeds een, maar mens hoor nie baie van haar nie. Nee, vandag hoor mens net van die Katedraal. Die R50,000,000 se gebou (of was dit so min), en ek hoor daar word steeds aangebou!

Maar wanneer ek hierdie paadjie ry dan is dit nie Moreleta toe nie. Oor hulle wil ek nie te veel sê nie, daar is genoeg daaroor gesê. Verder af in De Villa Boa, oor Wekker, iewers by ‘n volgende straat regs, dan links (ek het verdwaal oppad soontoe laas keer) kry jy ‘n winkelsentrum, agter die sentrum is daar ‘n stoorkamer. Daar is nie regtig parking nie, ons was so 15 mense  noudieaand daar, en die parking was maar min. Maar hier hou Pierre kerk vir ‘n klompie mense.

Third Place is die plek se naam, so algemene naam, vir so ‘n klein kerkie, dan ek nou nie eers kan link nie want ek kan nie die url ontdek nie, en google help nie. Hulle noem die stoorkamer “white space”, want dit is wat dit is. Dis net ‘n wit ruimte, wit mure en dak, met ‘n paar ou tuinstoele, maar eintlik moet jy jou eie bring, en koffie in die hoek. Geen naambord. ‘n Aircon wat water op jou mors voor jy by die deur kan ingaan. Hulle is ‘n community sal baie sê, maar Pierre verduidelik vir hulle dat dit ‘n kerk is, en dat ons daai woord moet gaan herontdek, opnuut gaan vul met betekenis, en nie weggooi en verruil vir woorde soos “kommunitie” nie.

Pierre vertel Woensdag dat mense partymaal vir hom sê hulle wil betrokke raak by Third Place – die droom van enige dominee, dat mense hulleself kom aanmeld! Maar, sê hy, daar is niks om by betrokke te raak nie! Ag, jy kan seker koffie ingooi as jy wil, maar daar is nie events of aktiwiteite of dinge wat gedoen moet word nie. As jy wil betrokke raak, leef dan die lewe wat anders is, sê hy…

Net die tyd sal leer of dit die katedraal of die kommunitie is wat die kerk van die toekoms gaan word, maar vir nou maak die katedraal my moedeloos, en die kommunitie gee my hoop…


terug by die punt

Januarie 29, 2009

Ek skuld ‘n groot verskoning aan die lesers van hierdie blog. Die comments die laaste paar dae het buite die gees van hierdie blog plaasgevind. Ek het die blog begin om te soek na hoe die kerk aan die ander kant kan lyk, maar die comments het gegaan daaroor om ‘n apologie te bied vir ‘n ongemak met die fundamentalisme. Ek vra dus verskoning aan jou, die leser. Ek is ongemaklik met die fundamentalisme, ek gaan nie verskoning daarvoor vra nie. Ek stel egter lankal nie meer belang in lang debatte daar rondom nie, en indien dit so sou gebeur dat ek wel myself in so gesprek vind, dan moet dit koffie involve, en nie op hierdie blog plaasvind nie.

Sou iemand dus nog wonder wat ek glo omdat hulle bang is dat ek net dalk ‘n heiden is, dan nooi ek jou uit om drie jaar se blogging te begin deurwerk, blogging is maar nie altyd ‘n mooi fyn geformuleerde genre nie, so jy sal sekerlik iets teen my kry. As jy egter begin met vra oor of ek die of daai leerstelling of Bybelversie onderskryf, dan gaan ek ongelukkig nie die gesprek hier kan voer nie, ter wille van die leser.

Wat vandag algemeen bekendstaan as die fundamentalisme (en ek gebruik die woord nie om mense sleg te maak nie, dit verwys net na jou as jy gemaklik is daarmee om na jouself so te verwys) het vir my baie pyn gekos, ek besef dat ander teologiese strome vir jou pyn kon gekos het, en is jammer daaroor. Ek sal egter steeds met jou gesels, maar dan is daar 1 reël: Dit moet koffie involve! As jy ernstig bekommerd is oor my siel, maar bereid is op ‘n rustige manier ook te luister wat ek sê, dan belowe ek vir jou ‘n beker goeie koffie. Filter koffie, Jacobs, Nescafé is op die menu hier by my. As tee eerder jou ding is, my vrou is baie lief vir teë’s, en hier is ‘n groot verskydenheid. Kom ons gesels op ‘n rustige manier daaroor, maar as jy my wil verketter… ag, moet asseblief nie.

Hierdie naweek gesels ek saam met ‘n groep vriende oor die verhouding tussen teologie en wetenskap, en het nog baie voorbereiding. Ek belowe dus geen verdere posts op hierdie blog voor dan nie. Na die naweek gaan ek aan. Die teologie wat jy hier gaan kry sou beskryf kan word as histories, en ek is gemaklik daarmee. In ‘n ander lig gesien sou dit beskryf kan word as emerging, daarmee is ek ook gemaklik. Ander woorde soos Gereformeerd sou ook gebruik kon word. Maar ek het reeds te veel tyd van my lewe wat vir goeie dinge kon gebruik geword het gebruik om myself teen allerhande vrae en beskuldigings te verdedig. Ek het ‘n baie goeie verhouding met mense op alle plekke op die teologiese spektrum van die NG Kerk, en is dus nou klaar, die goeie werk wag, Suid Afrika het ons nodig, en hier en daar is mense wat hulleself aan die ander kant bevind, en ‘n nuwe manier van praat oor God soek, dit is vir hulle wat ek skryf…

As jy jouself as fundamentalisties beskou en plek soek om te comment, Hugo het jou uitgenooi, maar net ‘n paar comments asseblief…


gesonde teologie

Januarie 27, 2009

N.a.v ‘n klompie comments tussen myself, Tiaan en ‘n sekere Amanda by teo@up het ek en Hugo bietjie gechat. Ek skryf toe op ‘n punt vir hom:

“ek onderskei tussen ongesonde en gesonde teologie, ongesonde teologie is teologie wat die wêreld afbreek – voorspoedsteologie, teologie wat geweld aanvuur ens, en gesonde teologie doen die teenoorgestelde, ek stem baie keer nie met die gesonde teologie filosofies saam nie, maar sal die gesondheid daarvan erken”

Hierdie siening het gekom na baie lang filosofiese en teologiese gesprekke met mense van elke kant van die spektrum Op ‘n punt kom jy agter dat daar soveel mense is met wie jy teologies verskil op plekke, maar as dit op die push kom oor wat geloof dan nou beteken, wat ons moet maak, dan vind ons mekaar heel goed. So ek was op soek na ‘n ander maatstaf as “konserwatief en liberaal”, or “reg en verkeerd”.

Daar is baie met wie ek verskil, wat ek dink tegnies “verkeerd” is, hulle maak dalk filosofiese of teologiese foute in my oë, maar hulle motiveer ‘n gesonde teologie, ‘n teologie wat God se koninkryk waarmaak (in Jesus se woorde), wat vrede en liefde aanmoedig. Vir so ‘n teologie het ek baie ruimte, maak nie saak wat oor allerhande dogmatiese stuffietjies gesê word nie.

Daarmee sê ek nie ons moet nie ook oor ander verskille praat nie, maar ek praat anders wanneer ek jou teologie as gesond erken. Hoe sou jy dink lyk ‘n gesonde teologie? En ‘n ongesonde teologie? Kan hierdie begrippe ons nie dalk help in ‘n kerk aan die ander kant nie?


hoe praat ons oor die kerk aan die ander kant…

November 18, 2008

My een kollega kry elke Dinsdag oggend so klompie mense, meeste pensionarisse, by sy huis bymekaar. Hulle lees Nelus Niemandt se Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede, en gesels daaroor. Ek was al so paar keer daar, heel oulike bunch. As enige iemand wonder of “ouer mense” uit die boks kan dink, dan moet jy saam hierdie lot kom kuier.

Elkgeval, ek is ook besig om saam met Noordelike Sinode te gesels oor die moontlikhede daarvan om mense te stuur om bietjie explore-werk te doen oor hoe die kerk aan die ander kant kan lyk. Party noem dit Emerging Churches, party iets anders. Punt is, ek glo ons moet uiters vloeibare ruimtes begin skep waar mense wat bietjie anders begin dink oor die kerk, kerk met betekenis kan begin skep. Ek dink daar gaan iets kreatiefs uitkom, en ek dink do gaan ons gehelp word om te sien waarheen vorentoe met die kerk.

My kollega vertel die mense toe van die idees, en hulle sit met ‘n klompie vra (ons het ‘n paar bad afstigtings gehad in die verlede, so hulle sien rooi ligte), en ek word genooi om te kom antwoord. Wel, ek het al baie gesê dat dit nie so maklik is om werklike alternatiewe te verdedig nie. Bestaande idees het ‘n baie lang geskiedenis, en jare se formulering en verdediging agter hulle. Al wat ek het is ‘n gutt feel en ‘n klompie random boeke om my te help. En hulle vra moeilike vra!

Maar dit was ‘n great gesprek! Ek het baie vanuit die geskiedenis gewerk, hoe dinge ontwikkel het, hoe dinge hier en daar screwd-up ontwikkel het, hoe sekere kern-goed herdink moet word, en wat ek sien vir die toekoms. Van die tannies het na die tyd baie positief kom gesels, oor ekologie, teologie, en kerk hou onder bome. Ek love die mense regtig! Hulle gee my hoop vir die kerk, en maak dat ek partymaal sommer net wil dominee word en saam met hulle gesels oor God (ja, daar is natuurlik oorgenoeg wat maak dat ek partymaal net wil gaan ander werk soek ook).

Elkgeval, ek wonder nogals baie oor die goed. Wat gaan die unieke feel wees wat die Afrikaanse gemeenskap (nie Afrikaner nie, Afrikaans) aan die kerk aan die ander kant gaan gee? Wat gaan die unieke feel wees wat ons klomp gereformeerdes, wat ‘n lang, en ek dink nogals nie ‘n te bad nie, teologiese tradisie agter ons het, daaraan gaan gee? En op hierdie stadium vir my belangrik: Is daar actually Afrikaans sprekendes wat reg is om aktief alternatiewe te begin soek???