wat help gebed dan nou as die wêreld vergaan? (my poging midde-in ‘n krisis)

Maart 16, 2011

Dis gons in die Afrikaanse kringe oor gebed. Albert het ons aan die praat gesit. En toe kom Japan. En Johan push ons met goeie reg na die obvious vraag toe: help dit om te bid vir Japan? Ons moet natuurlik hier van die ander kant af vir beide van hulle sê dat hulle die verkeerde vraag vra, of ten minste, die verkeerde inhoud aan die woorde van die vraag gee. “help” word uiteraard hier bedoel as “gaan God n.a.v gebed die weerpatrone verander”. Maar dan weer, hulle reageer op ‘n lewende siening van gebed, en daarom is hulle vrae geensins verkeerd nie, hul vrae is die vrae wat ons baie ernstig moet opneem!

Dit is amper banaal om nou so hiermee om te gaan, want ons wil uitskreeu dat niemand tog nou so kan dink oor gebed nie, maar realiteit is dat in ons moderne fundamentalistiese wêreld (waar mense ook nie meer kontak met die natuur en weerpatrone het nie, wat ek dink ‘n saak is wat ons sal moet bytrek in ons gesprek oor mense wat bid om die patrone van die natuur te verander) dink mense werklik dat massa-aksies God se arm kan draai. Johan stel dit goed:

Ek begryp dat dit goed bedoel word, maar ek sukkel om te verstaan wat hierdie gebede veronderstel is om te beteken.

Sedert die oorspronklike aardbewing wat ’n skok van 9 MW geregistreer het – wat mense dan ook genoop het om vir Japan te bid – was daar nie een nie, nie tien nie, nie eers ‘n honderd nie, maar meer as vierhonderd naskokke van 4.5 MW of groter.

Daar is copp-outs soos “ja, maar weet jy hoeveel meer die skade sou wees as ons nie gebid het nie”, maar kom ons face dit: Ons is vas soos wat die kerk haarself elke keer vasgeloop het wanneer hulle die God wat Borg beskryf met supernatural-theism as almagtig beskryf, en boonop manipuleerbaar. Dis eenvoudig: die God wat in baie van ons populêre boekies uitgepak word moes ‘n tiran wees. Want almal het nou al gebid vir Japan. Ja, ook hulle wat gewoonlik nie met ‘n tang naby enige vorm van godsdiens kom nie. En tog het die God wat die populêre boekies beskryf seker nou maar besluit dat dit nice is om nog ‘n paar aardbewings te stuur. En guess what! Nadat ek hierdie gaan post gaan die aardbewings waarskynlik nie stop nie!

As ons daai God in stand wil hou, dan moet ons nog dieper in ‘n gat in trap. Na 2004 se Tsunami was daar sekere Moslem leiers wat God se werk met die Tsunami verklaar het deur te sê dit is a.g.v die baie meisies wat met hulle bikinis op die strande gelê het wat dit gebeur het. En moenie dink die Christene was altyd beter gewees nie! Ek moes persoonlik aanhoor hoe uitsprake gemaak word soos “ja, maar dit is omdat hulle nie Christene is nie” (en ek wag nog dat iemand daai thread weer moet optel vir Japan).

So kom ek bely nou sommer net hier: as die God wat ons glo in die lewe van Israel en Jesus gewerk het die een is wat honderde duisende laat doodmaak omdat hy (ja, die gebruik van die 3de persoon manlik is bewustelik) spiteful is, of omdat hy nie regtig lus het om vandag gebede te antwoord nie, of omdat daar nog nie ‘n kritiese massa is wat gebid het nie, dan stel ek nie belang om langer daai God as my God te bely nie.

OK, maar genoeg gal gebraak vir eers. Hierdie post het eintlik ontwikkel as ‘n comment op Johan se blogpost n.a.v die rubriek.

Soos wat die naskokke van die aardbewing ontvou het, het ek tweetdeck gevolg, en in verwondering gesit en staar na hoe hulle wat gewoonlik totale godsdienstige apatie vertoon hulle verbintenis tot gebed vir Japan aankondig. Johan verwoord dit weer goed:

Terwyl ek gekyk het na die dodelike vloedgolwe wat oor die Japannese landskap gejaag het (wat enigiets van bote tot geboue meegesleur het asof dit plastiekeendjies was), het twee idees my beetgepak. Drie, eintlik.

Die eerste een was bloot: “%@#$%&!…”

Die tweede een was instinktief: “Bewaar hulle, Here!”

Die derde, effens terneergedrukte, gedagte was: “Wat help ’n gebed?”

My vraag was: hoekom die tweede instink? En ek vermoed ons moet praat oor hierdie tweede instink voor ons op die laaste vraag reageer.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis open met die volgende woorde:

Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem.

Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed, en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Die eerste sin is interessant. Ons moet vra hoe dit ontwikkel het dat ‘n spesifieke godsdienstige tradisie God as “enig en enkelvoudig” bely het, wat die implikasie van “geestelik” is, en dalk die mees interessante, waarom die verbintenis tot die misterieuse verwysing “wat ons God noem”.

Maar die tweede deel is wat my vanaand intrigue.

‘n Lang lys woorde wat heeltyd verwys na dit wat nie kan wees nie. Voor jy nou kom en sê dat ek ook God verwerp (wat loutere onsin sal wees), lees weer. Daai lysie beskrywinge is alles wat nie kan wees nie. Wat onmoontlik is. As dit nie was nie, dan was dit nie God nie. Dan het ek iets anders beskryf. God is per definisie (ten minste, ek dink as Gereformeerde is dit wat ek moet sê) dit wat onmoontlik is.

En dit bring my nou by die gebede en die vraag na die tweede instink. Hoekom wil hulle wat nooit bid nie skielik vir Japan bid? Die vraag is dalk een wat die psigoanalitisie moet beantwoord, maar kom laat ek waag: ek dink ons bid want ons ander taal breek af op hierdie punt. Wat moet ek nou vir my vriende sê oor Japan? “Sjoe, dit is verskriklik”. Nee, verskriklik is wanneer iemand doodgaan. Maar verskriklik is nie wanneer ‘n groot deel van ‘n land verwoes word, duisende steeds besig is om dood te gaan, en ‘n moontlik kern-insmelting op die horison te vinde is nie. Verskriklik doen dit nie dan vir ons nie. Ons het iets meer nodig. Hier dink ek het ons gebed nodig.

“Bewaar hulle, Here”. “Ag Here, help tog”.

Maar hierdie gebed is nie so ver van ‘n ander een af nie:

“My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?”

Die twee gaan saam. En met hoe meer erns ek nie anders kan as om in te gee en uit te roep “Here, help tog” nie, hoe meer kom die ander kant van die gebed “My God, my God, waarom het U ons verlaat”.

Ek dink as ons met Japan gekonfronteer word breek ons taal af. Ons het taal nodig om die onmoontlike te verwoord, beide die oproep tot onmoontlik goed, asook die weeklaag van onmoontlike lyding. Vir ons wat in godsdienstige taal geskool en gekultiveer is, of ons nou aktief godsdienstig is of nie, vermoed ek word ons in hierdie tye tot godsdienstige taal gedryf. “Japan is Godverlate”. “Al waar ons hoop kan vind in hierdie tyd is by God”. En as die een wat hierdie woorde gebruik verletterlik moet word raak dit beide kante toe belaglik. Maar as ek hierdie taal wegvat, hoe sal ons praat oor Japan?

Kom ons face dit: Geen regdenkende gelowige gaan more opstaan en verkondig dat as ons net ‘n massa-aksie loods dan sal Japan oormore oggend wakker word met die dorpe herbou, die kragstasies herstel, en die dooies opgewek nie. Meeste van ons, ten minste in die hoofstroomkerke, besef dat ons hierdie materiële realiteit baie ernstig moet opneem. Dat hierdie situasie nie oornag gaan verander nie. Dat dit net gaan verander deur ‘n wêreld wat oor dekades gaan werk om dit te herstel. Tog bid ons.

Help gebed dan?

Ja, gebed gee vir ons taal om oor die onmoontlike te praat. Gebed gee vir ons ‘n manier om die diepte van die krisis in meer as kort vloekwoorde uit te druk. As ek verder in Psalm 22 kom dan gee gebed ook vir my maniere om te praat oor ‘n tyd wanneer armes en rykes saam aan die tafel gaan sit. Ek bid dit in Afrika as iets wat werklik onmoontlik is. As dit vir my enigsins moontlik gelyk het, dan het ek dit nie gebid nie, dan het ek dit net gaan maak gebeur. Maar dit is werklik vir my ‘n onmoontlike situasie. Japan is vir my werklik ‘n onmoontlike situasie.

In gebed verwoord ek die onmoontlik slegte. En die onmoontlik goeie.

As die toets vir gebed is of God oornag aardbewings stop dan het die toets gefaal. Die kerk van die wêreld het Sondag oggend opgestaan en Japan in gebed opgedra. En terwyl hulle bid het die aardbewings voortgegaan.

Ja, ons het weer ons copp-outs: “dis omdat ons verkeerd gebid het”. “dis omdat ons met te min geloof gebid het”. In alle eerlikheid, daai is loutere onsin. Gaan werk deur jou Bybel-tekste as jy ‘n Christen is. Gaan werk deur dei vroeë kerk se geskrifte. Die idee dat ek God kan manipuleer deur die “regte woorde”, of een of ander “mind-over-matter-trick” van ‘n “sterk geloof” word deur die tradisie waaruit ons kom verwerp.

Nee, die probleem is nie dat ons verkeerd bid nie. Die probleem is dat ons gebed verkeerd toets.

“Wat help gebed?” Skynbaar nie vir aardbewings nie. Maar gebed help vir lyding. Dit help my om pyn en die allerverskriklikste gebeure te verwoord. Dit is die plek waar ek met alles wat meer as ekself is, met die wat meer is as wat ek kan sien of dink, kan baklei. Kan beskuldig dat die God wat ons as goed bely ons verlaat het. Want ons het nodig om dit te verwoord in hierdie tyd. Maar dit is ook moontlik die enigste plek waar ek verwoord dat daar nuwe moontlikhede is in hierdie onmoontlike omstandighede (alhoewel ek versigtig is om te vinnig hierdie nuwe moontlikhede ten spyte van onmoontlike tye te wil verwoord, ek dink die pleit dat ons deur God verlaat is moet eers insink, daar moet ons vir nou stilstaan, voor nuwe lewe gevind word).

So in kort dalk dit: moet ons ingee tot daai tweede instink om te bid? Ek dink tog so ja. Nie sodat Japan more gefix kan wees nie, maar juis omdat Japan nie more gefix gaan wees nie. Juis omdat ons vir jare gaan moet worstel met die realiteit van wat daar gebeur het, en omdat ons, omdat ons mense is, die realiteit van die situasie op ‘n sielskeurende wyse moet kan verwoord. Maar ook omdat ons moet regkry om oor hoop te praat sonder om die realiteit ligter te maak. Omdat die situasie onmoontlik (werklik onmoontlik, so onmoontlik dat ons massa-gebeds-aksie nie Japan se lot skielik more oggend, of volgende week, of volgende jaar, gaan omdraai nie) is, daarom moet ons bid.

En werk gebed dan?

Dalk moet ons leer om soos die ou Jode ons godsverlatenheid teenoor God te bely.

Dalk moet ons leer om God te beskuldig vir die verskriklike situasie waarin ons is… en dan saam te bid.

Dalk moet ons leer om by God te pleit vir uitkoms, wetend dat Japan more steeds in ‘n krisis is.

Want dalk is dit die enigste woorde wat ons oor het wanneer ons werklik met die onmoontlike, die werklik onmoontlike gekonfronteer word. Dan draai ons weer na die belydenis wat net in die taal van die onmoontlike verwoord kan word.

Dalk vind jy ‘n ander manier om sin te vind in werklik onmoontlike tye. Maar indien jy wil, kom bid saam met my:

My God, my God, alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is, waarom het U ons verlaat en bly U ver as ons om hulp roep?


Oor Zuma se hemel en hel drama

February 7, 2011

Onthou jy nog “Die hemel en die hel” drama? Daai oefening waar verskillende scenes afspeel waarin mense doodgaan, en dan kom hulle elke keer voor die hekke van die hemel en hel te staan, waar die groot regter oor hulle oordeel. Party van hulle is jongmense was dronk na partytjies ongelukke maak, en wie weet watse slegte mense nog als. En wanneer die regter besluit dat hulle lot die ewige vuur sal beland, dan kom die duiwel met al die effects moontlik op die stage, en sleep die arme gillende akteur van die verhoor af. Aan die einde word kaartjies na die hemel verkoop deur ‘n gebed wat gebid moet word, waarna in goeie evangeliese taal jy gewaarborg word dat maak nie saak wat nie, jy sal eendag in die hemel wees, waar almal wit en goud sal dra omdat hulle deel van Jesus se party was.

Ek het ook in so konsert gespeel.

En dan verskyn Zuma op die scene. Geensins vreemd dat hy godsdiens en politiek vermeng nie. Met die vorige verkiesing het hy en vader Ray immers ‘n lekker sessietjie daar op stage saam gedeel, en almal wen, alle kante toe. Ons sou hoor dat hy ook pastoor is van een of ander onafhanklike kerk iewers. Nogals ironies nie waar nie, dat Suid Afrika weereens ‘n predikant vir ‘n president het. Maar die figuur wat nog altyd godsdiens en politiek vermeng het nou skynbaar te ver gegaan. Om by ‘n ANC rally op te staan en die hemel te beloof aan almal wat vir jou stem, te sê dat in die hemel jy die kleure van die party sal dra, en dat almal wat verkeerd stem die hel sal verkry het die kat in die hoenderhok losgemaak. Amper soos met Jesus se tyd is alle partye bereid om hom hiervoor te kruisig: SARK, NGK en Zille. As ons nou nog net vir Barnabas Lekganyane (leier van die ZCC) by hierdie lysie kan voeg, dan het ons sekerlik die sterkste opposisie wat jy maar aan kan dink. Almal verenig teen Zuma wat die hemel en die hel verkoop.

Maar hier is ‘n ongemak wat in my knaag wat ek nog sukkel om uit te figure. En wat ek hier skryf is seker maar net nog ‘n poging om dit te try doen.

Jy sien, obviously is Zuma se uitspraak bietjie belaglik. Die lysie redes hoekom dit belaglik is dat die ANC die regter oor hemel en hel is kan nogals lank aangaan. Maak nie saak of jy bekommerd dat die ANC dalk letterlik in die geheim ‘n groot gat in die Karoo gegrawe het waarin hulle verkeerde kiesers gaan afgooi tot in die hel wat die onderste verdieping van ons plat aarde is, en of jy dink die hel is ‘n metafoor vir enige omstandighede in either hierdie of ‘n volgende lewe nie, dat die ANC die regter is bly lagwekkend. Maar die reaksies is nie om van te lag nie! Ek bedoel, is dit nie net te beautiful nie. Helen Zille maak groter lawaai as die SARK omdat Zuma die hemel en die hel beloof. Is dit nie die grap van die jaar nie?

En dan is daar die ernstige teologiese vermaning van die SARK. Zuma mag nie met escapist teologie omgaan nie. Hy mag nie verlossing vir die hiernamaals verkondig nie, en so ‘n opium vir die mensdom aanbied nie (nee, die SARK het nie hierdie woorde gebruik nie), maar moet fokus op die werkloosheid en honger van mense hier. En ek moet applaud, ek stem heelhartig saam met die teologiese visie van die SARK. Maar wat impliseer ons as ons Zuma op teologie pak. Ek bedoel, ek lê regtig nie nagte wakker en wonder oor waar ons die mees koplekse teologie gaan kry, by die SARK of die ANC nie. Ons weet dat volgens die interne logika van die teologie maak die SARK veel meer sin. Maar kan ons ‘n politieke rally oordeel volgens die interne logika van die teologie? Ek bedoel, dan moet ek iewers Zille se speech wat sy in Mamelodi aangebied het terwyl Zuma besig was om die hemel en hel drama te reenact in die hande kry om die interne teologiese logika daarvan ook bietjie na te kyk. Want sou sy waag om Bybelse terme soos “geregtigheid” te gebruik, beter dit teologies regverdigbaar wees.

Ek vermoed egter dis veilig om te sê dat niemand werklik worry oor die teologiese koherensie van politieke uitsprake nie. So waaroor dan die issue? Waaroor die ongemak wat ons almal het? Ek vermoed dit is omdat hierdie bekende metafore ‘n totalitêre (daai’s darem vir jou ‘n vieslike Anglisisme) aanslag het. Dit maak universele aansprake van verlossing. En dit soek ons nie van die ANC nie. Nou kom ons vergeet eers vir ‘n oomblik van die feit dat die kerke en godsdienste meeste van die tyd presies dieselfde doen, en vra ‘n ander vraag: hoekom sê ons dan nie dat dit die probleem is nie? Hoekom het ons nie die speech geluister, en gesê dat ons ernstige probleem het as ‘n politieke party claim om die enigste weg tot verlossing (nie geestelike verlossing nie, maar politieke verlossing) te wees nie? En ek vermoed dis eenvoudig omdat ons eintlik stilweg aanvaar dat alle politieke partye dit doen. Ons verwag dat die leier van politieke partye moet opstaan en met allerhande politieke leuens vir ons moet vertel dat daar net een moontlike sinvolle opsie is om voor te stem, genoemde leier se party.

En dit is my issue. Dat ons vrede het daarmee dat politieke partye uitsprake maak wat claim dat daar net een opsie is. Dit terwyl ons in hierdie land veronderstel is om te bou aan ‘n sinvolle multi-party demokrasie. Is elkeen van hierdie rallies nie dan in wese problematies nie? Is enige party wat iets meer doen as om te sê “hierdie ideologie is waarvoor ons staan en hoekom ons dink dit ‘n belangrike stem in die land kan wees” nie besig om ‘n meer gesofistikeerde Zuma drame op stage te sit nie?

As beide Zille en die kerke hulleself net by die blatante godsdienstige retoriek gaan hou, vermoed ek gaan my ongemak bly. Ons kritiek is dan maar net ANC-bashing, en nie werklik konsekwente politieke kritiek gebou op ‘n visie van hoe dinge veronderstel is om te werk nie.

Hierby moet ek darem nog my grootste ongemak voeg: en dit is dat ‘n leier van ‘n party die president van die land kan wees en dan nog sulke uitsprake maak. By my issues met enige party wat uitsprake maak wat claim dat slegs een party tot die sukses van die land kan bydra (en ek weet die ANC is die meeste skuldig hieraan), dink ek dat hulle wat in die parliment en kabinet sit moet hulleself sterker aan die werking van die demokrasie as die sukses van die party bind. En die president moet ‘n voorbeeld hierin wees. Maar hier is ek seker maar ‘n idealis. Wie kan tog nou glo dat politiek eerbaar kan wees…


‘n taai en warm toffie

Augustus 14, 2009

“Mackenzie.” Her voice now came as calm and wonderful as first he heard it. “I am only asking you to do something that you believe God does. He knows them so much deeper and clearer that you will ever know your own children. He loves each one according to his knowledge of the being of that son or daugther. You believe he will condemn most of to an eternity of torment, away from His presence and apart from His love. Is that not true?”

Dit is die woorde van Sophia, die gepersonifiseerde wysheid van die Ou Testament, in The Shack. Die woorde vat nogal raak wat ek dink die grootste probleem vir party met die hel is: Ons sukkel om in beide God en die hel te glo.

Scot McKnight het iewers Brian McLaren gequote:

How can a moral God send people to an eternity of punishment for a lifetime of sin?

Selfde storie. Dit is hierdie tipe van vrae wat agter baie van ons se ongemak met die hel lê. Dit help nogals as ons net ‘n tikkie eerlikheid het in hierdie gesprek ek dink.

  • Ek kan jou vertel dat die grootste deel van die Ou Testament geensins na die hemel en hel eers verwys nie, jy kan met my stry, maar ek het die tradisie aan my kant (Hand 23:6-9 – die Saduseërs verteenwoordig die antieke Jode).
  • Ek kan jou vertel dat die drie verdieping wêreldbeeld baie van die teologie ingekleur het, en dat ‘n direkte oorneem van konsepte na ons dag toe meer probleme as oplossings veroorsaak, en die oorspong van ateïsme is by vele.
  • Ek kan vir jou ‘n lang relaas afsteek oor die Griekse terme, hulle oorsprong, en ander moontlike verstane (of ek kan dalk eerder een van my vriende wat beter met die Griekse taal omgaan vra daarvoor).
  • Ek kan vir jou vertel dat ons idees oor die hel baie meer deur Danté se Purgetory gevorm is as deur die Bybel, maar dat gaan 10 teen een nie indruk maak nie.
  • Ek kan jou vertel dat die hel die laaste klompie jare moontlik meer prominent figureer in sekere kringe as wat dit nog ooit gedoen het in die geskiedenis van die kerk, maar dit sal net ‘n teorie wees.

Ons almal weet dat dit nie regtig polities korrek is om van die hel te hou nie. Maar kom ons face dit, ons almal ken mense baie op een of ander weird manier sekerheid vind in hulle refleksies oor die betekenis van die hel vir almal wat nie dieselfde as hulle glo nie. Somehow is die wêreld vol van mense wat werklik glo dat God se genade meer duidelik word as die default destination van alle mense die hel is, en hoe erger daai hel, hoe meer genadig kan hulle God uitbeeld.

Ek kan baie dinge vir jou sê. Uiteindelik is al my filosofiese en teologiese argumente oor die bestaan van die hel en wie daar gaan opeindig egter sekondêr, en moet ek eerlik wees: Primêr hou ek nie van die idee dat daar ‘n God is wat kom leer het dat ons ander mense oor en oor moet vergewe, maar wat self nie kan regkry om die grootste deel van mense te vergewe sodat hulle nie nodig het om te ween en te kners op hulle tande nie.


God se genade?

April 6, 2009

Ek dink baie keer dat Luther, Calvyn, of dalk spesifiek hulle fans, gans te suksesvol was. Deur die eeue het ons reggekry om die soli’s tot absolute belaglikheid te verhef. My eerste ervaring hiervan was op die ouderdom van 16/17, toe ek in my naïviteit met ‘n baie goeie vriend van my gesels het en vir hom gesê het dat ek dink iets in sy lewe sal moet verander. Goed geskool in Gereformeerde teologie, of so het beide van ons gedink, het hy my net vertel dat God hom sal vergewe daarvoor…

My universiteitsjare het my oor en oor by die punt gebring dat Jesus darem maar vrek baie gepraat het oor hoe ons moet leef vir iemand wat gekom het om ons net te vergewe as ons dit nie doen nie. Ek het begin sien hoe verkeerd die idee is dat die bergprediking (Matteus 5-7) net daar is om ons te laat sien hoe sondig ons is, sodat ons vergifnis meer kan waardeer. Meer en meer het ek besef: Jesus het gepreek oor ‘n manier van leef. Jy kan nie daarvan wegkom nie!

Elkgeval, dis nou sola gratia waaroor ons praat: Die “Gereformeerde beginsel” van alleen genade. Ek sien Zuma ken hom ook, en gebruik dit, nes my vriend van destyds, om homself teen Tutu en God te beskerm. Maak nie saak wat Zuma gedoen het nie, Tutu moet hom vergewe, en mag dus nie langer vir hom sê hy was verkeerd nie, want God het hom vergewe.

Dis asof ons hele enterprize van die laaste klomp eeue net twee vrae vir mense beantwoord het:

  1. Hoe kan ‘n goeie God mense hel toe stuur?
  2. Hoe kan ek myself in die hemel kry?

En die antwoorde? God kan nie, hy gee vir mense die hemel as ‘n geskenk, uit genade alleen. En jy kan jouself ook nie in die hemel kry nie, dit is ‘n geskenk, jy kan maar net glo. O, en om te glo is ook genade (en bitter vinnig eindig jy by uitverkiesing en ‘n hele kan wurms wat jy maar net moet glo en nie oor vrae moet vra nie).

Dalk is die vrae vir vandag bietjie anders:

  1. Het God enigsins belang by hierdie wêreld?
  2. Wat beteken dit vir my?

En die antwoord, en dis nie ‘n nuwe antwoord nie: Ja! Dis ‘n goue draad dwarsdeur die geskiedenis van die teologie, van die vroegste gedagtes oor Yahweh (die Joodse naam vir God), deur die prediking van Jesus, en deur die geskiedenis van die kerk. God het belang by hierdie wêreld. As dit niks beteken vir my nie, as dit nie verander hoe ek leef nie, dan is ek at odds met God.


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 1,567 other followers