hoe kreasionisme my teologie gered het

Julie 30, 2011

In 2002 was ek vir 7 dae lank ‘n kreasionis. Vir 7 dae lank het ek in ‘n 7 dag skepping geglo. Dit was moontlik die belangrikste 7 dae in my teologiese ontwikkeling.

Om egter by hierdie 7 dae uit te kom moet jy die bietjie meer as 7 jaar wat dit voorafgegaan het verstaan.

Ek was skaars ouer as 7 toe ek die stoep buite my pa se kantoor tot my eie plaaslike sterrewag verklaar het.

Kort daarna het ek en my broer ons laaste sakgeld elke maand uitgehaal om daai dinosaurus boeke by CNA te koop. Hulle het ons gevang met die goedkoop eerste uitgawe, en toe moet ons natuurlik aangaan om die hele dinosaurus te koop (so toe leer ons ook sommer ‘n paar lesse oor hoe ons as verbruikers gevang word).

Op 14 jaar oud het my pa vir my Gideon Joubert se Groot Gedagte gekoop. Die God wat ape neem en ‘n Goddelike asem in hulle in blaas, Quantum Fisika, Versnellers en allerhande sakies wat ek vandag oortuig is ek nie regtig op 14 verstaan het nie het my verbeelding aangegryp.

Toe ek op 18 dus hoor oor hierdie vreemde groep mense wat glo dat Genesis 1 ‘n wetenskaplike verklaring vir ons “hier-wees” gee, was my gevoel ‘n kombinasie van geamuseerd wees, en die arrogante begeerte om hierdie tipe mense tog in debat te wil ontmoet.

Hier moet ek ‘n meer ernstige kantnote maak vir almal wat in kinder- en jeugbediening werk. Ek het later jare meer studente leer ken wat in hul ontmoeting met hierdie vreemde groep wat ons “kreasioniste” noem vir die eerste keer gedink het daaraan dat daar moontlik ‘n spanning tussen antieke tekste en wetenskaplike teorieë is. Dit lyk my of baie van ons ‘n ongelooflike kapasiteit het om sonder allerhande modelle oor “wetenskap en teologie” (‘n uiters belangrike gesprek) tog gemaklik met tekste van geloofstradisies en ontdekkinge van ‘n moderne wêreld kan saamleef. Dis natuurlik nou tot iemand jou neus kom vryf in die argument dat dit onversoenbaar is.

My bekering tot die kreasionisme het, soos met vele ander tiener-bekerings, saamgehang met die verleiding van ‘n sekere jonge kerk-kamp vriendin. Die belangstelling in genoemde vriendin was groot genoeg om my 400 kilometer noord te trek na wat ek later sou ontdek die sentrum van allerhande wêreld-vreemde idees is (Pretoria, die stad wat ek love). Tydens ons eerste ontmoeting het hierdie vriendin my vertel van ‘n wêreld waar mense glo dat die aarde 6000 jaar oud is en in 6 dae gemaak is (ek verkies maar net die 7-dag teorie omdat dit darem die poësie van Genesis 1 ernstig opneem). Sonder om enige detail oor die naweek te onthul, sal ek dit vir die doel van hierdie skrywe net saamvat met die volgende sin: Ek het weggestap met ‘n kopie van Evolution: the unscientific lie, wat die outeur en hoof van die huishouding (‘n idee wat vele jare later eers betekenis sou kry, maar tog deel van hierdie storie is) waar ek my naweek spandeer het vir my as aspirant teologie student gegee het. Ek het belowe om die boek te lees na my baie eksamens wat die tweede helfte van matriek inhou.

Ek het nie by my woord gehou nie, en die 92 bladsy boeke kort voor my rekord-eksamen verslind. En ek was ten volle bekeer! Ek het die lig gesien. Ek het ‘n koherente wêreldbeeld gevind. Ek het my pa vertel hoe verkeerd hy en Gideon Joubert is. Die hele storie. Vir ongeveer 7 dae. Toe het die krake in die argument begin duidelik word. Die boek wou skynbaar net nie staande bly teen die harde wetenskap van matriek Nat-Skei nie.

Na 7 dae was ek van een ding oortuig: Pasop vir mense wat vertel dat Genesis 1 letterlik gelees moet word.

Dit was een van twee teologiese oortuiginge waartoe ek deur eie worsteling gekom het, en waarmee ek die storm-en-drang tydperk van 2003-2005 se teologiese opleiding by die berugte teologiese fakulteit by TUKS betreë het. My oortuiging ten spyt het die gesin waarvan die outeur van genoemde boek die hoof was vir baie jare daarna soos familie gebly. Dit was my ‘Pretoria-huis’. Genoemde outeur het egter moontlik nooit besef hoe dankbaar ek vir die dag toe hy daai boekie in my hand gestop het was nie.

Toe ons fakulteit tref in 2003 was daar verskeie sogenaamde “behoudendes” wat reggestaan het om die nuwe inname toekomstige-dominees in selgroepe te bind. My brose ontwikkelende teologie het nie lekker geweet wat om te maak met almal wat wonderbaarlike genesings beleef nie, of wat in tale praat nie. Ek het nie geweet wat om te maak met allerhande stories oor die gevaarlike standpunte wat sekere dosente skynbaar sou huldig nie. Maar ek het geweet dat as jy hoor iemand vertel vir jou dat Genesis 1 een of ander wetenskaplike teorie bevat, dan moet jy wegbly.

Toe ek in 2004 by ‘n uiters behoudende denkgroep (wel, denkgroep is moontlik nie die regte woord nie, want in hierdie kringe was daar hoofsaaklik vertel hoe daar gedink moes word, eerder as wat ‘n groep gedink het) aansluit, en die eerste spreker met hierdie einste idee begin, toe kon daar gevaar liggies aangaan. Dit sou my jare neem om die massas ander probleme raak te sien wat ek by die bekende behoudendes wat in hierdie jare die gange en grasperke rondom die Teologie gebou beman (ja, hoofsaaklik beMAN) het te verstaan, maar hierdie enkele oortuiging was soos die Suiderkruis wat ek op 7 jaar oud ontdek het: dit het my heeltyd gehelp om rigting te vind binne die storm van vreemde Amerikaanse teologieë wat besig was (en is) om oor ons Afrikaner volkie en sy kerkies te spoel.

So in kort: Aan die outeur van daai 92-bladsy boekie. As jy hierdie ooit sal lees. Ek wil maar net dankie sê vir die hulp in my persoonlike ontdekkingstog van wie ek nie is nie. Dis uiteraard nie die belangrikste ontdekkingstog waarop ‘n mens kan wees nie, maar ek glo dit was die grootste oorsaak dat ek deur die eerste paar jaar van my teologiese opleiding kon gaan sonder om opgesweep te word deur allerhande conspiracy theories.


Soek jy kinders om namens jou te glo?

Oktober 13, 2010

Ek raak oor die afgelope jaar meer en meer ongemaklik met die manier waarop ons van ons kinders verwag om die godsdienstiges te wees wat ons nooit sal wees nie (kyk gister se post: youth as priests and prophets). Ouers gaan so twee uit drie keer op ‘n Sondag kerk toe, maar verwag van hulle kinders om Sondag oggend kerk toe te gaan, daarna Sondagskool toe te gaan, iewers in die week nog ‘n jeugaksie by te woon, en indien moontlik nog ‘n CSV byeenkoms by die skool ook. Hierdie mag nou klink soos net nog ‘n dominee wat wil moan oor ouers wat hulle kinders Sondag oggend by die kerk aflaai en dan wegry, maar dit sal tog nie heeltemal pas by die trant van hierdie blog nie, so kom ek verduidelik verder.

Zizek se A Plea for Fundamentalism (wat ek seker 6 keer al deurgeluister het steeds nie mooi verstaan nie) het my die eerste keer begin sensitief maak vir hoe ons een ding gebruik om ‘n ander in stand te hou (in sy geval oosterse godsdiense om ‘n oorgawe aan ‘n verbruikerskultuur instand te hou). As ons sou agterkom dat die kruk wat ons instaat stel om voort te gaan op ‘n manier wat ons nie wil erken nie egter verdwyn, sal ons nie kan voortgaan met hierdie praktyk nie. Rollins, wat baie sterk op Zizek steun, verduidelik dit mooi met ‘n storie van ‘n besigheidsman (32 min 30 sek) wie se godsdiens hom instaat stel om met slegte besigheidspraktyke voort te gaan. Toe hy egter sy geloof verloor (a.g.v die dominee wat vir hom bid sodat hy nie meer moet glo nie – jy sal die storie moet luister), en nie meer godsdiens het wat hom kan oortuig dat hy eintlik ‘n goeie mens is nie, verander hy sy werk en lewe, omdat hy toe eerlik moes wees oor wie hy is.

Die vraag wat ek meer en meer oor wonder: hoekom vind volwassenes dit so belangrik dat kinders soveel meer godsdienstig moet wees as wat hulle self is? En binne die logika van Zizek en Rollins maak dit uiteraard die vermoede oop dat volwassenes se sterk klem op kinders se kerklike betrokkenheid ‘n manier is om die feit dat religie geen werklike prioriteit meer vir hulle is nie weg te steek. Kinders word die kruk waarop ons leuen, en as ons ooit moet face dat hulle geen erg aan ons godsdiens het nie, dan sal dit ons eie verbintenis tot die godsdiens skielik vrae oor laat ontstaan.

Rollins se podcast van gister (15:00) stel dit baie hard: ons kinders se geloof verskaf ‘n psigologiese plesier van geloof vir ons. As ons kinders sou sê dat hulle nie glo nie, is dit diep traumaties omdat dit ons forseer om ons eie ongeloof te konfronteer.

Nog nie seker wat die implikasies vir jeugbediening aan die ander kant is nie…


ek is toe al die tyd ‘n volslae verbruiker

September 25, 2010

Ek beskryf myself nog altyd as een wat sterk krities staan teen die verbruiker kultuur hier rondom my. Ek is trots op my waardering vir die kommuniste, en vind dit pret om my vriend(inn)e wat hulle siele aan die advertensiewese verkoop uit te wys op die etiese vrae aan enige deelname aan die advertensiewese. En die res van my huismense sal waarskynlik nogals saamgaan met die vorige twee sinne. Maar weekliks dan land die Rekord en ‘n hele pak advertensies hier in ons posbus, en sal een van ons die moeite doen om dit uit die posbus te gaan haal en op die eetkamertafel te gooi. Buiten die die Mail & Guardian wat so once in a while hier in die huis rond is, is hierdie die enigste koerant wat ooit in die huis kom (sien, ons het capless-internet en weet hoe werk RSS readers).

Nadat die rekord en die advertensies van bykans elke groot winkel wat jy hier in die Pretoria-Bible-Belt vind hier geland het, dan volg daar die weeklikse ritueel van so lui-lui deur die advertensies blaai. Eers Game en Incredible connection se rekenaar advertensies. Nee, ek is nie van plan om ‘n rekenaar te koop in die volgende drie jaar nie, maar ag, ek wil darem net sien waar staan die pryse. Daarna volg die hardeware advertensies (moet my glad nie vra hoekom nie), asook general huisware. Ek skip die kos advertensies, maar Maryke kyk hulle deur (hierdie is waarskynlik die enigste deel van die oefening wat sinmaak, want kos moet ons koop, en Maryke weet hoe om die beste deal op kos te kry). Waar ek begin bekommerd raak is wanneer die week se advertensies die tweede keer begin deurgekyk word…

Iewers deur die loop van die week dan begin ek uiters skuldig voel oor die pak advertensies wat op die eetkamer tafel lê en wat ons lui-lui-leesstof is vir die aande na ete as ons sommer net sit en kuier en veronderstel is om te kyk wat in die koerant aangaan, en dan sal ek dit gaan weggooi. Dit was op hierdie punt vanaand wat ek besef het: ek is ‘n volslae verbruiker. Jy sien, dit is regtig baie advertensies wat hulle vir ons uitdeel. Dis eers wanneer die jy die pak so moet bymekaarmaak en na die buitenste asblik moet loop (want die een in die kombuis is vol) wat jy besef hoe baie dit is. En my weeklikste ritueel is om iets in hierdie pak te soek om te koop. Ek is nie ‘n goeie winkel-dwaaler nie, en het al gewerk daaraan om ‘n weerstand op te bou, so ek val darem selde vir die versoeking, maar week na week pak ek die ritueel aan om te kyk of daar nie tog ‘n ou uitverkopingtjie is wat ek net nie kan laat verbygaan nie.

Ek is Cobus. En ek is ‘n verbruiker. Dit is nou 24 uur vandag ek laas ‘n advertensie gekyk het…


kerk-wees as die tattoo-parlor toemaak

Augustus 24, 2010

In Menlyn mall, as jy op vlak 6 parkeer en dan instap na die flieks toe, dan het jy altyd daar verby die tattoo-parlor en dan CUM boeke gestap. Daai tattoo-parlor was volgens party nogals ‘n dodgy een, so girl met sulke leather straps wat die nodige toemaak het die plek se voorste ruit gedecorate. Reg langsaan was die CUM. Sekerlik een van die grootste simbole van Christian culture hier in Suid Afrika. Die twee so langs mekaar was nog altyd vir my ‘n mooi prentjie van die tension waarbinne ons leef. Tot gister toe…

Toe ek daar verbystap, sien ek die tattoo-parlor is weg, en CUM is besig om vergroot te word, lyk my in die tattoo-parlor in. CUM het die tattoo-parlor oorgeneem. Die tension is weg. Al was oorbly is Christian culture. En dan loop ek deur CUM, waar boek na boek verskillende vorme van voorspoedsteologie en fundamentalisme verkoop. Christian consumerism.

En dan moet ons kerk wees. Dan moet ek preek. En by default word ek as dominee met CUM se boeke identifiseer. By default verwag soveel mense dat die kerk die tipiese CUM boek moet ondersteun. Dit is immers Christelik. O, en by default vermoed ek is die kerk veronderstel om die toemaak van die tattoo-parlor met die girl met die leather straps oor te juig. Maar ek juig nie.

Ek sukkel om die gekruisigde Jesus te sien in ‘n vergrootte CUM boeke. Menlyn vlak 6. Geen boeke verkoop so goed soos Christelike boeke nie. CUM herinner my dat die kerk nie onderdruk word nie, dat die kerk in ‘n magsposisie is. En daaroor moet ons huil. Ons moet huil oor die kerk wat die tattoo-parlor met die girl met die leather straps uit die samelewing verdryf om meer plek vir
Christelike consumer-goods te maak.

En wat dan van kerk-wees? Ek weet nog nie mooi hoe om dit te formuleer nie, maar op ‘n manier voel dit vir my ons het meer kerk nodig wat vrae vra oor die groot Christelike boekwinkel langs Menlyn se movies, wat ‘n counter-cultural voice kan wees op die heersende Christian culture. Ek hoop die kerk kan dit doen…


hoekom party “progressives” my ‘n gatkramp gee

Junie 9, 2010

Jy hoef nie ‘n rocket scientist te wees om uit te figure waar my eie teologiese positionering te vinde is nie. Of dalk moet jy, siende dat dit actually nogsteeds, na 4 jaar van blog, gebeur dat mense my wil forseer om myself te positioneer. Of dalk is die meer korrekte formulering dat daar mense is wat vereis dat jy jouself moet polariseer. Jy moet jouself teenoor iets plaas voor jou positionering aanvaarbaar is. Dit dalk hoekom selfs ‘n arme dominee wat honderde blogposts al geskryf het steeds in ‘n blik gedruk sal word om te moet “positioneer”. “Wat glo jy?”, oor ditjies of datjies.

Dat ek ‘n voorliefde het vir ‘n meer progressiewe teologie, maar met ‘n lekker postmoderne, en meer en meer met ‘n lekker postkoloniale streep daaraan gegee, behoort duidelik te wees vir die fyn leser. Dat ek myself oor en oor al baie sterk teenoor enige vorm van fundamentalisme uitgespreek het is ook al geskiedenis. Beide in blogposts, asook in comments. Wat ek egter vandag uit die kas uit moet kom oor is die feit dat party progressives my al jare lank ‘n gatkramp gee.

My diepste gatkramp vind ek in progressives wat moan oor dogma, en dan direk daarna weer ander wil forseer om een of ander finale en korrekte formulering vir een of ander geloofsoortuiging te maak. Ek verkies dan maar my konserwatiewe vriende wat eerlik is daaroor dat hulle dink dogma en korrekte geloofsformulerings is van kardinale belang, eerder as die oneerlikheid wat ek by party progressives kry.

O, en in die paragraaf bo is daar natuurlik ‘n belangrike punt gemaak. Ek het sogenaamde konserwatiewe vriende. En ek het “ongelowige” vriende. En die beste van als is, hulle hou partymaal van mekaar! Hulle is saam oortuig dat ons moet ophou om die aarde op te neuk, en om die armes uit te buit. O, en hulle leef actually anders omdat hulle hiervan oortuig is.

Akademies is ek veronderstel om ‘n etikus te wees. In my persoonlike lewe glo ek dat die etiek altyd die gesprek moet troef. Hoe ons leef is belangriker as ons formulering van een of ander dogma. Baie sogenaamde progressives deel hierdie siening. Wat party skynbaar mis, is egter dat die oomblik dat hulle dan begin om te praat oor hoe onaanvaarbaar die geloofsformulering van ‘n ander is, of hoe een of ander iemand se goed nie kan inpas by some kind of moderne wêreldbeeld nie, en dit weer die belangrikste gesprek word, hulle die inkonsekwentheid van hulle eie benadering verraai. Dan verkies ek die integriteit van hulle met wie ek op soveel punte nie saamstem nie.

‘n Laaste stukkie confession. David Bosch is die teoloog wie se werk my die sterkste beïnvloed het ek dink. Ek lees Transforming Mission soos ‘n bybel. Die eerste paragraaf van die acknowledgments van my M.Div skripsie lui as volg:

When reading the work of David Bosch, the way in which Bosch opened himself up to beinfluenced by the church really made an impression on me. In his theology, hisindebtedness to ecumenical meetings and his emphasis on the local community plays animportant role. This was a constant reminder that theology should never, and can never,be formed in isolation. “…unlike philosophical schools or scientific experiments,theology has no life unless it is borne by a community” (Bosch 1995:60).

Die communities waarin ek myself bevind, hetsy gemeente, kerkverband, Christelike geloof, godsdienstige tradisies van die wêreld, plaaslike publiek, nasionale publiek, of internationale publiek, is almal divers. Hulle sluit almal mense in wat goed formuleer op maniere wat ek nie sou nie. Ook op maniere wat tipies “konserwatief” is. In die tradisie van Bosch waarin ek hoop om te beweeg, kan ek nie anders as om hulle ernstig op te neem nie. Want ek is besig met teologie, nie filosofie nie. En teologie het net ‘n lewe wanneer dit in gemeenskap mee geworstel word.


George Claassen en die “gemiddelde lidmaat”

February 2, 2010

Vandag was weer een van daai interessante dae van wyd uiteenlopende ervaringe. Van George Claassen tot by die “gemiddelde lidmaat”. Wel, ek moet darem net kwalifiseer dat die “gemiddelde lidmaat” in my eie opinie ‘n bitter slegte beskrywing is, en gewoonlik meer dui op wat die gebruiker daarvan wil hê die “gemiddelde lidmaat” moet wees, as wat empiries bewys sou kon word. As dit by sake soos ewolusie kom, is ons gemeente moontlik ook nie die “gemiddelde gemeente” nie. Ons het al op verskeie geleenthede as predikante ons waardering teenoor die wetenskap uitgespreek, en Bybelse skeppingsverhale gepreek as geen wetenskaplike teorie nie, maar as betekenisgewende narratiewe bespreek.

Elkgeval, kom ons aanvaar nou maar “for the sake of the argument” dat die gemiddelde lidmaat die mense was wat ek in die uur of twee voor George Claassen se bydrae by die fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria se fakulteitsopening. Twee gesprekke staan vir my uit. Een met iemand wat probeer sin maak van standpunte wat ‘n gepersonifiseerde duiwel verwerp, en ‘n ander van iemand wat met die realiteite van Christen-Ateïstiese huwelike in ‘n familie moet werk.

Claassen praat van bygelowe, maar ek sien hoe “gemiddelde lidmate” van hierdie bygelowe begin ontslae raak, en dit sonder die hulp van die new-atheists. ‘n Goeie dosis teologie help hierin. Wens hy wou dit erken.

Na Claassen se bydrae het ek beleef dat gelowig en ongelowig nou so sterk gepolariseer is dat ons min vir mekaar te sê het, maar die realiteit is dat menigte mense in baie nou verhoudinge saamleef, mekaar se opinies leer waardeer, en saam sin maak van die wêreld sonder om mekaar te hoef te oortuig, alhoewel hulle steeds in kritiese gesprek bly. Ek wens hy wou net met bietjie meer waardering luister.

Moet darem ook net byvoeg dat ek dink Claassen het vandag sy crowd bietjie misgelees. Daar is min sin daarin ‘n kerkgebou vol professors en gedoktoreerdes in die teologie te probeer oortuig om Darwin ernstig op te neem nie. Dit help nie om hulle op dieselfde vlak te sit as Stellenbosch se kreasioniste nie (jammer Stellenbosch, ons het hulle ook, ek verbeel my net George het op ‘n stadium oor Shofar geblog toe hy nog geblog het).

Elkgeval, ek sal maar teruggaan na die gewone lewe toe, waar baie Christene en Ateïste dit regkry om in liefde saam te werk vir die greater good van die samelewing.


dogma en veilige ruimtes, kerke en die se praatjies

December 1, 2009

Hendrien blog oor ‘n kamp wat ons die naweek gehad het. Klein eksperimentjie wat al vir so jaar lank loop, waar ons Badseloop toe gaan, ‘n klein groepie mense, flieks kyk (vlak flieks, diep flieks, rowwe flieks, chick flieks), kos maak, labirinte loop, in die warm-baddens lê en muf, en praat. En praat. Diep praat. Oor kerk praat as ons wil. Hier mag jy maar sê wat jy dink, en niemand gaan jou judge nie. Ek dink dis veral vir hulle wat al so bietjie van ‘n te lang paadjie met die kerk gestap het ‘n plek om te detox.

Die grootste ding waarna sy verwys is die veilige ruimte. Die ruimte waar jy jouself en jou vooronderstellings kan ontdek, en dit mag verander. En die spanning wanneer sy die gemeente tref.

Ek kuier so tydjie gelede by vriende van my in die gemeente. Goeie NG lidmate hoe jy ookal daarna kyk. En op ‘n punt sê die een net dat sy die kerk nog nooit beleef het as ‘n plek waar mens maar mag sê wat jy dink nie. As ‘n reël werk die kerk met ‘n vorm van dogma, en is die bevraagtekening hiervan baie keer letterlik strafbaar met die helse vuur. Die skep nie ‘n veilige ruimte om te sê wat jy dink nie, behalwe as jy een van die select few is wat mooi inpas in die sisteem wat geskep is.

Nou, moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek dink daar is baie waarde aan die dogma. My vriende wat meer positief is oor dogmatiese konstrukte (alhoewel hulle moontlik glad nie dit so sal noem nie), sal dalk heel negatief wees oor my evaluasie hiervan, maar ek dink dogma kan ongelooflike betekenis-gewende narratiewe wees. Narratief is nie die woord wat hulle dalk vir dogma wil gebruik nie, maar hoor my uit. Dit verskaf ‘n raamwerk waarbinne sin gemaak kan word van die lewe, maar belangriker nog, waarbinne die individu of gemeenskap motivering kan vind vir ‘n lewe van liefde, geregtigheid en hoop (dit geld nou net vir die gesonde dogmatiese konstrukte).

Maar wat as die betekenisgewende narratief van die verlede nie meer betekenis gee nie? En wat van die paar wat aan die anderkant sit waar betekenis moeiliker en moeiliker word om te vind deur middel van bestaande narratiewe? Stephan Bevans skryf redelik radikaal wanneer hy sê: “theology, when it is perceived as irrelevant, is in fact irrelevant”. En dit is presies dit wat as onuitspreekbaar beskou word. Al die kritiese vrae oor die opstanding, maagdelike geboorte, of watter pet topic die Afrikaanse “kritiese denkers” aanpak, vermoed ek is maar net die simptome van ‘n ervaring dat die bestaande vir alle praktiese doeleinde irrelevant geword het.

Kan daar weer waarde gevind word in die verlede, in die tradisie? Ongetwyfeld! Slegs ‘n ekstreme vorm van rasionalisme en individualisme kan ons oortuig dat slegs ons generasie die antwoorde het, en die verlede ons nie kan help nie. Maar sonder die veilige ruimte waar ek maar die onuitspreekbare mag uiter, dat die manier waarop ander oor God praat geensins resoneer met die wêreld, die konteks, waarbinne ek myself bevind nie, gaan soveel godsdienstiges (en ek evalueer die woord hier uiters positief) teen ‘n plafon vas bid (daai aksie van godsdiens waar ek die onmoontlike formuleer, waar die ander, dit wat ons God noem, my kan verander), geen antwoord kry nie, omdat alle antwoorde na ons toe terugkom in ‘n vorm wat vir ons in werklikheid onherkenbaar geword het.


Dan Denette en ‘n konstruktiewe voorstel vir godsdiens in skole

September 28, 2009

Ek voel myself tog verplig om ‘n konstruktiewe voorstel te probeer maak vir die hele godsdiens-in-skole gesprek wat op die oomblik aangaan. Ek het natuurlik persoonlike belang by hierdie saak. Ek is ‘n teoloog, en ‘n jeug-predikant. My vriende range van agnostici, ateïste, en verskeie vorme van Christene. My vriende is nou in hulle 20′s, en beide ek en hulle gaan oor 10/15 jaar kinders in skole van ons land hê, want vir basicly al my vriende is waai uit hierdie land nie ‘n opsie nie.

Ek wil vanuit my teologiese agtergrond ‘n bydrae maak. Dit is moontlik dat die voorstel op plekke met die huidige grondwet kan clash, ek is nie ‘n kenner van die grondwet nie, maar weet dat die grondwet verdraagsaamheid tussen mense wil aanmoedig, en ek dink dit vereis ‘n bepaalde teologiese kyk – dus impliseer ek dat sekere teologiese vooronderstellings tot onverdraagsaamheid sal lei. Sou dit met die grondwet clash dink ek grondwet, teologie, en menigte ander rolspelers sal moet saam gesels om te soek vir ‘n benadering wat in ‘n publieke ruimte sal werk.

Binne die huidige gesprek dink ek Dan Dennett se argument by 2006 se TED kan ons help met konstruktiewe gesprek. Kyk daarna, want die res van die post gaan daarop voortbou. Onder is net die gedeelte van die talk waarna ek hier wil verwys, maar die hele talk kan hier afgelaai word.

Nelus Niemandt het op my vorige post gereageer op facebook met die opmerking:

Die vraag is dalk of enige skool hoegenaamd van opvoeding kan praat en opvoed in die ware, holistiese sin van die woord, as godsdiens weggewens word? Selfs ‘n keuse om te swyg of vir atiesme is ‘n godsdienstige keuse. Hoe sou skole lyk as daar baie en respekvol oor godsdiens gepraat word?

Om godsdiens uit skole te wil verban ontken die feit dat godsdiens inherent deel van ons samelewing is. Dit is ‘n mag wat tot van die grootste humanitêre werk wat aan die gang is ingespan kan word, en ‘n mag wat tot ongelooflike geweld ingespan kan word. Dit vorm etiek, en word met tye gebruik om onetiese gedrag te regverdig. Godsdiens bly steeds ‘n bepalende faktor in die wêreldgeskiedenis, en ook in die geskiedenis van samelewings, en die meerderheid van individue.

Die moeilikheid met Dennette se voorstel is natuurlik die optimisme oor feite. Wie bepaal die feite? Watter feite? Dit gaan ‘n ongelooflike komplekse kurrikulum wees om aanmekaar te sit, maar ek dink ‘n uiters noodsaaklike een. As teoloog, en jeug-predikant, sal ek nog verdere redes wil byvoeg. Eerstens op grond van die ongelooflike hoeveelheid vrae wat onder jongmense bestaan oor verskillende godsdienste. As skole nie hierdie taak gaan opneem om jongmense ‘n prentjie te gee van hoe die wêreld van die godsdienste lyk nie, dan moet die kerk definitief ernstig daaraan begin aandag gee. Tweedens het die kerk uit sy eie geskiedenis die belangrikheid geleer van konstruktiewe gesprek met hulle van ander godsdienstige agtergronde: ons mag nie die onverdraagsaamheid tussen godsdiente, of tussen godsdienstiges en nie-godsdienstiges aanblaas nie, ons moet groter begrip kweek, sonder om verskille te relativeer.

Die kompleksiteit in ag geneem, en ook die feit dat so ‘n kurrikulum noodsaaklik is, wil ek nog ‘n voorstel maak. Eerstens dat ons nie net die verhale/feite van verskillende godsdienste moet leer vir kinders nie, maar ook op een of ander manier, dalk later in die kurrikulum, algemene inligting oor paradigmas (Thomas Kuhn) of wêreldbeelde vir kinders sal gee. Die gevaar van totaliserende ideologieë moet vir hulle geleer word, en ook hoe vooronderstellings funksioneer.

Binne ons skool sisteem moet ons dan besef dat elke onderwyser nie anders kan as om sy/haar eie keuse rondom geloofsoortuiging in die klas indra. Ouers van ‘n skool kies die algemene approach van die skool, maar kan nie ‘n enkele onderwyser in enige geloofsoortuiging in forseer nie. Alle kinders leer dus van alle godsdienste, maar gaan ook hoor hoe verskillende onderwysers keuses maak binne hierdie wêreld van godsdienstigheid/nie-godsdienstigheid. As ek kan aansluit by ‘n argument op ‘n ander blog van my rondom hoe ons teologie moet funksioneer: ons moet kinders help om self-krities te kan funksioneer, om die voorlopigheid van hulle eie standpunt (hetsy godsdienstig of nie-godsdienstig) te verstaan, maar om tog met volle oortuiging te kan kies vir ‘n verstaan van geloof/ongeloof wat hulle kan help om nie net sin te maak van hulle wêreld nie, maar ook om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Onderwysers moet nie minder oor godsdiens, en selfs hulle eie oortuigings, praat nie, maar leer hoe om op ‘n respekvolle wyse aan die publieke gesprek oor godsdiens, en tussen godsdienste, deel te neem, en ‘n voorbeeld wees vir ons kinders.

Idealisties? Moontlik. Maar ek sal graag hierdie pad saam met onderwysers wil stap, waar ons hulle kan help om gesond te ontwikkel, en dan meer van hulleself in die klas weg te gee, nie minder nie.


‘n briefie aan George Claasen

September 23, 2009

George. Ons ken mekaar nie. Ek kan ook nie onthou wanneer ek die eerste keer iets van jou gelees het nie, maar ek onthou wel dat jou naam oor die algemeen positiewe herinnerings oproep. Toe ek Sondag die Rapport opskrifte sien, was ek uit die aars van my agtergrond, opleiding en beroep geïnteresseerd om te hoor waaroor dit gaan. Toe ek die artikel lees was ek… ek weet nie, ek dink ek was kwaad, met ek “agge nee” gevoel daarmee saam. Ek was aanvanklik maar half skepties gewees, ek glo jy sal bly wees om dit te hoor, want Rapport het nou nie juis ‘n track record van ongelooflike beriggewing nie, hulle het mos maar ‘n manier om dinge bietjie met sensasie te belaai jy weet. So ek het jou blog gaan lees.

Ek moet begin deur te sê ek voel jou pyn. Ek het nie kinders nie, maar daar is wel baie kinders in my gemeente, en ek gesels graag met hulle. Ek raak bekommerd as ek van die teologiese uitsprake hoor wat hulle maak, ek raak baie bekommerd as ek iets optel van die hermeneutiese bril waarmee hulle na die Bybel kyk. Ek dink dit is gevaarlik. En ek vermoed dat die CSV’s by die skole, dalk selfs onderwysers, moontlik kan bydrae daartoe. Jy sien, as teoloog is ek geskool in histories kritiese eksegese, en sekere vorme van ‘n postmoderne hermeneutiek. Ek het dus ‘n redelike uitgewerkte verstaan van realiteit, transendensie, “Heilige boeke” en hulle ontstaan, en hoe ons tewerk moet gaan met antieke bronne om betekenis in ‘n post-moderne wêreld te vind. Ek lei af dat jy self redelike goed deurdagte idees het op bogenoemde sake. En verstaan jou ongemak wanneer mense daarvan verskil.

Baie van die goed wat jy noem laat my baie ongemaklik. Wanneer godsdienstige rituele na publieke ruimtes geneem word waar dit duidelik kan word wie nie daaraan deelneem nie, is ek nie net ongemaklik a.g.v my agtergrond in Etiek en respek vir Menseregte nie, maar is ek ook as teoloog ongemaklik, omdat ek dink sulke praktyke uit ‘n Konstantynse kerkverstaan kom wat die teologie ernstige vrae oor moet begin vra. Dit verwys nou spesifiek na jou ongemak met die gebeure in laerskool Stellenbosch se “Jesus-week”.

Maar tog voel ek heel ongemaklik met wat ek lees, en, ek moet erken, met tye selfs kwaad. Dalk moet ek by die kwaad begin. Ek verstaan jou dalk verkeerd, en sal dit dan graag wil weet, maar dit voel vir my of jy alle godsdiens oor dieselfde kam skeer. Dit voel of die kompleksiteit van verskillende godsbeelde, wêreldbeelde, en hermeneutiese raamwerke geïgnoreer word, en die wêreld in twee kampe verdeel word: Die godsdienstiges en die ateïste. Dan skuif die argument mos na die openbare uitleef van geloof . En as ek jou nou reg verstaan het, dan raak ek heel ongemaklik.

Dalk is die ding dat ek baie meer holisties kyk na onderwysers. Hulle is nie masjiene wat feite oordra nie. Hulle is mense met spesifieke idees rondom hoe die wêreld lyk en werk, wat belangrik is, etiek, godsdiens, transendensie, geloof, kultuur, ‘n verstaan van die geskiedenis vna Suid Afrika. Al hierdie sake gaan uitkom. As hulle nie na “God” mag verwys nie, mag hulle dan ook nie na enige Utilitarian etiese argumente verwys nie? Ek bedoel, daar is verskeie ouers wat immers nie met vorme van Utilitarianism gaan saamstem nie? As hulle nie mag Bybel lees nie, dan sekerlik ook nie Plato of Freud nie, siende dat beide sterk teenkanting gehad het op sekere tye, en nie een van die twee voorgeskryf word in die skool sillabus nie. Ek weet nie of dit die tipe onderwysers is wat ek soek nie. Ek dink ook nie dit was die onderwysers wat my die meeste gevorm het nie. Nee, die onderwysers wat my die meeste gevorm het, het hulle hele wese in die klas ingedra, hulle filosofie, waardes, vooronderstellings, en was boonop mense wat gesond en gebalanseerd ontwikkel het (ons het die juffrou wat net heeltyd Bybelversies gequote het vinnig-vinnig leer ignoreer).

As die probleem spesifieke gevalle is waar godsdiens op ‘n manier gebruik word wat ander kinders manipuleer, dan sal ek jou ondersteun in hierdie saak. Ek weet steeds nie of die hof die plek is om dit te beslis nie, siende dat ek vrees dat so ‘n aksie fundamentalisme net nog verder gaan laat opvlam, maar in die saak sal ek jou ondersteun. Maar as hierdie ‘n poging is om die volledige menswees van onderwysers uit die klas te haal, sodat net die kliniese opvoedkundige oorbly, of as dit ‘n poging is om enige blootstelling aan godsdiens uit skole te haal, dan raak ek ongemaklik.

So, na ek hierdie geskryf het, en my gedagtes hopelik nou meer georden is, dalk net die vraag: Wil jy nie net bietjie meer duidelik wees nie? Is alle godsdiens in skole ‘n probleem? Is alle verwysings na God of enige vorm van transendansie deur bestuursliggame en amptelike dokumente van skole waarteen julle wil stem dikmaak? Of gaan dit oor manipulasie van kinders, wat deur godsdiens, kultuur, filosofie, ja, selfs deur die wetenskap en opvoedkunde, kan plaasvind? Is daar vir jou nog ruimte vir onderwysers om volledig mens te wees, wat hulle hele kultuur-agtergrond, etiese-agtergrond en geloofs-agtergrond deel van hulle omgang met kinders maak? Of moet dit alles by die huis gelos word wanneer die skoolgronde betreë word?


boksiegode en bybelgode

Augustus 18, 2009

“Maar as God almagtig is, hoe kan hy teen Jakob verloor?”

vra een van die graad 11′s in die belydenisklas noudieaand. En hulle sien ook raak dat God vir ‘n klein rakker kies hier. Esau is eintlik ‘n baie beter keuse, hierdie Jakob vent is ‘n klein liegbek. Maar God kies hom. En dan is daar nog God wat spyt kry oor hy mense gemaak het, hoe kan ‘n alwetende God tog spyt kry? En Abraham wat vir God afstry daar kort duskant Sodom. En ons het nou maar nog net begin raak aan Genesis.

Ek dink dit was Anton van Niekerk wat iewers skryf dat ons die God van die filosowe so bietjie moet los ter wille van die God van die Bybel. Nou, dit het niks met ‘n letterlike lees, of ‘n konserwatiewe godsbeskouing of enige so iets te doen nie. Die God van die filosowe het maar net ‘n manier om presies in te pas in een of ander teorie, mooi gesistematiseerd, agtermekaar, met beskrywende terme wat verabsoluteer word.

David Bosch skryf:

It is only when one loses faith in a plausibility structure that one senses that its powers were excessive and specious. In this respect Polanyi quotes Arthur Koester who, only after ht had ceased to be a Marxist, was able to write: “My party education had equipped my mind with such elaborate shock-absorbing buffers and elastic defenses that everything seen and heard became automatically transformed to fit a preconceived pattern”. The point Polanyi is maing is that the worldview one embraces may not be “true”. It may, in fact, be the Big Lie. Still, it remains “irresistibly persuasive, since it sweeps away all existing criteria of validity and resets them in its own support”

Ek dink jy weet beter waarvan Bosch (en Polanyi, op wie se werk hy baie sterk steun) praat as wat jy dink. Daai mense wat wanneer hulle praat dan kom jy net agter dat julle praat heeltemal by mekaar verby. Julle praat verskillende tale. Julle gebruik dieselfde woorde, maar bedoel totaal verskillende goed. En die ergste is, hulle an glad nie verstaan hoekom jy nie kan insien wat hulle probeer sê nie. Punt is dat beide van julle met sulke “elaborate shoc-absorbing” sisteme sit, dat julle tekste en stories op die mees wonderlike manier kan maak pas in die bekende patrone.

Daarom dalk dat meer en meer van ons hier van die ander kant af, of ons nou grade in teologie, filosofie, literatuurstudies, of sommer net graad 11, het, goed in die Bybel lees, wat vir ons so obvious lyk dat dit is wat daar staan, en dan kom jy net agter dat bitter min mense aan die duskant sien dit eers raak, hulle het experts geword om die spanninge in die teks uit te stryk tot alles mooi inpas in hulle verstaan van wat daar moet staan. En jy? Jy kan of konformeer, of jy kan die teks lees, en weer lees, en elke stukkie spanning opraap as ‘n geleentheid om iets van die rykdom van hierdie teks te ontdek. Die Jode het dit gedoen in hulle midrash, die Reformatore het gesê ons moet, en die post-moderne teoloë kan bloot nie anders nie.


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 1,567 other followers