oor homoseksuele verhoudinge en kerklike ondersteuninsnetwerke

Julie 30, 2015

In 2003 was ek was ‘n groen eerstejaar teologiese student wat weens ‘n interessante loop van omstandighede besluit het om myself met groot moeite te laat verplaas van Sonop na Taaibos. Taaibos was my huis vir die volgende 5 jaar. Kelder 3 my eie privaat ruimte waar ek weer mens geword het. Op Kelder was daar diep kamermaat-skappe. Partners wat twee-twee deur die koshuis beweeg het. Jou kamermaat was die een wat agter jou moes kyk.

My kamermaat was gay. Ek het dit nie aanvanklik geweet nie. Ek dink nie hy het dit heeltemal geweet toe ek daar aangekom het nie. Maar teen halfjaar was dit vir hom duidelik wie hy was en dat hy vrede met homself moet maak. Hierdie vrede het beteken dat hy stadig, daar waar dit veilig was, moes begin praat oor wie hy was. In Kelder 3 was dit veilig.

Ons het diep paaie gestap. Na ons eerstejaar, toe ons enkelkamers kon kry, het ons kamers langs mekaar gekies, en so het ons vir nog twee jaar daarna langs mekaar gebly, tot hy uiteindelik uit die koshuis getrek het.

In 2004 het die Algemene Sinode van die NG Kerk verskoning gevra vir die pyn en onreg wat ons aan homoseksuele persone en hulle geliefdes veroorsaak het. Die presiese woorde was:

Dit is ook die roeping van die kerk om sonder vooroordeel, bewus van ons eie gebro­ken­­heid, ons lidmate op te roep en te begelei, om in waarheid met liefde en deernis voor God met mekaar om te gaan. In die lig hiervan vra die Alge­mene Sinode verskoning aan alle homo­seksueles en hulle fami­lies, binne en buite die kerk, vir elke geval waar die kerk sulke mense in die verlede, onder andere as gevolg van ’n gebrek aan leiding, seer­gemaak en veronreg het en waar God se liefde nie in die kerk se optrede raakgesien kan word nie.

Die Reformerende Kerk het die Sondag na die Algemene Sinode ‘n erediens gereël om erkenning te gee aan die verskoning, om dit te ontvang en in geloofsonderskeiding saam te dink oor hoe Christened an reageer op ‘n verskoning. My oud kamermaat het my saamgenooi kerk toe die aand. Ek het gegaan. Hulle het die verskoning aanvaar.

Tydens koffie na die tyd het ek skielik oogkontak gemaak met ‘n gesig wat ek geken het. ‘n Senior teologie student. Ons het nog nooit gepraat nie, ek het nie sy naam geken nie, en hy het nie myne geken nie, maar ons het mekaar se gesigte geken. Awkward moment, soos jy dalk kan dink. Dis 2004 en twee teologiese studente loop mekaar in ‘n gay kerk raak. Ons het toe maar gereël om later in die week te gaan koffie drink, sonder dat enige een van ons geweet het wat die ander se storie met die daarwees was.

Dit was die Donderdag, ek dink, en ons het maar eerder die privaatheid van die Aula se grasperk en ‘n koeldrank gekies, coffeeshops se tafeltjies is bietjie naby mekaar. Dit kom toe uit dat beide van ons die erediens net besoek het om deel te naam aan hierdie reaksie op die Algemene Sinode se verskoning. Maar ons stories was tog baie verskillend. Ek is heteroseksueel, behalwe nou as ‘n ander goeie vriend van my reg was toe hy altyd gesê het “ons is elkeen maar so bietjie gay” (dis mos nou maar deel van ‘n baie tegniese debat, maar dit maak eintlik nie saak vir die storie nie). Maar die senior student wat ek by die kerk raakgeloop het was op daardie stadium al vir 4 jaar in ‘n homoseksuele verhouding.

Ek het in die volgende paar minute meer geleer oor die kerk se reis rondom homoseksuele verhoudings as wat ek waarskynlik in die 10 jaar daarna geleer het. Hy het my vertel dat hy en sy lewensmaat nie in die Reformerende Kerk is nie, omdat hulle nie dink dis ideaal dat daar ‘n spesiale “gay-kerk” moet wees nie. Hulle is maar net lidmate van die kerk en wil net dood normaal deel van ‘n “gewone gemeente” (wat dit nou ookal is) wil word. Hulle het op daardie stadium by ‘n gemeente daar in die ooste van Pretoria ingeskakel… nee, nie die grootste een nie… (later jare toe ek predikant in Kameeldrif was sou ek leer dat die NG Kerk inderdaad homoseksuele lidmate het wat dood rustig as “gewone lidmate” – en baie keer as “baie aktiewe lidmate” soos dominees partymaal praat, inskakel).

Ek het meer geleer. Hierdie student, met wie ek nie kan onthou dat ek ooit weer gepraat het daarna nie, het my vertel dat dit moeilik is om ‘n homoseksuele Christen te wees, omdat dekades of meer waarin homoseksuele gedrag gestigmatiseer is ‘n patroon geskep het waarin homoseksuele persone volledig anoniem geleef het. Soveel so dat hulle nie eens hulle werklike identiteite sou openbaar aan ander homoseksuele persone nie, uit vrees dat dit sal “uitkom”. Maar om ‘n Christen te wees beteken dat ons deur Jesus se oë na verhoudings kyk, dit beteken dat ons in verhoudings staan wat deur liefde gedra word, verhoudings wat die beste in mekaar uitbring. Hierdie anonieme seksuele verhoudinge kon dit duidelik nie doen nie.

Toe die NG Kerk oor huwelike gedink het ‘n klompie jare terug het James Kirkpatrick eenmaal by die gemeente waar ek toe was kom praat oor die huwelik. Dit was treffend gewees (James het ‘n manier met woorde, en as hy praat is dit baie keer heel treffend). Treffend genoeg dat ek 6 blogposts uitgeryg het daarna (ek het makliker geblog daai tyd). Wat by my gebly het na daai dag was dat huwelike vir die kerk belangrik is, belangrik genoeg dat ons moeite doen om dit te beskerm. Ons beskerm dit deur families bymekaar te bring en ‘n net rondom hierdie huwelik te span, deur die verhouding liturgies en godsdienstig betekenis te gee, deur huwelikskontrakte en landswette te ondersteun wat in tye wanneer die verhouding nie so lekker gaan nie hierdie verhouding vashou en weer help regmaak.

In ‘n praatjie van Stanley Hauerwas wat ek jare terug geluister het maak hy die opmerking oor huwelike dat mense wat sê “till death do us part” nie eintlik weet waarvan hulle praat nie: daarom trou ons in die kerk. Ons het hierdie gemeenskap van gelowiges (en familie, vriende, selfs prokureurs en regters) nodig om hierdie verhouding te help dra, want menslik gaan ons dit nie maak werk vir ‘n leeftyd nie.

Ek maak al hierdie draaie om by een van die mees brutale goed wat ek in die laaste weke weer raakgelees het te noem. Die sirkulêre logika wat hier en daar kop uitsteek loop iets soos volg: homoseksuele persone is wesenlik promisku (en promiskuïteit beteken baie keer bloot meerdere seksuele partners oor ‘n tyd, niks anders nie), dis ‘n bewys dat permanente homoseksuele verhoudinge onmoontlik is, en daarom kan die kerk nie ruimte maak om permanente homoseksuele verhoudinge te dra en te verbind nie, aangesien dit elkgeval onmoontlik is vir mense wat inherent promisku is.

Dalk is ek ook inherent promisku. Ek weet nie. Wie sou ek gewees het sonder die gemeenskap, in my geval sonder die kerk, wat my oor dekades heen gevorm het om in verhouding te wees? Nie net dekades nie, die kerk wat oor eeue heen mekaar geleer het wat ‘n liefdevolle huwelik beteken. Die kerk (en familie en vriende) wat die dag wanneer die papaja die waaier tref (hopelik) gaan inkom en ons help om die stukke op te tel en die verhouding aanmekaar te hou. Met dit alles score heteroseksuele verhouding nie aldag baie hoog op die monogame skaal nie.

Maar hier is die afskuwelike van waar ons is: in ‘n wêreld wat nog bykans glad nie gedink het oor die tipe ondersteuningsnetwerke wat nodig is vir permanente homoseksuele verhoudinge nie, en die kerk natuurlik ook nie, wil ons werklik deelneem aan beskuldiging teenoor homoseksuele verhoudinge wat nie permanent bly nie sonder dat ons werk maak van hoe ‘n gemeenskap lyk wat hierdie permanente verhoudinge kan ondersteun.

Enige predikant wat net ‘n klein bietjie pastorale ervaring het sal vir jou kan vertel dat huwelike wat teen die stroom op gaan (mense van verskillende kante van die treinspoor in ‘n klas-bepaalde samelewing, mense van verskillende rasse in ‘n gerasde samelewing, mense van verskillende godsdienste, of in sekere gevalle selfs mense van verskillende opleidingsvlakke). Huwelike waaroor daar gefrons word het meer, nie minder nie, ondersteuningsnetwerke nodig as ons wil hê dit moet werk. En dis die brutaliteit wat ek rondom my sien: ons doen nie die nodige werk om hierdie ondersteuningsnetwerke te vorm nie, meer nog, ons wil selfs die bietjie wat bestaan met tye verban en afbreek, en dan wil ons vinger wys wanneer homoseksuele verhoudinge nie die nodige permanensie toon wat vir ons die ideaal is nie.

Toe ek en my vrou besluit het dat ons vir die res van ons lewe ‘n lewe saam gaan bou het ons nie geweet wat ons vir mekaar sê nie. Ons het nie geweet van die krisis wat ons gaan beleef toe … of … of … gebeur het nie (ek hoef nie in te vul nie, elke huwelik het mos sy storie). Maar ons het in die kerk getrou. Ons het ‘n prokureur gaan sien om ‘n kontrak op te stel. Ons het vriende en familie bymekaargemaak en vir hulle gesê “help ons”. En waar ons sou wees sonder dit, hetsy of ons nog bymekaar sou wees of ons nog seksueel in slegs een verhouding sou gestaan het, weet ek nie.


anderster (eerliker?) gepraat oor belydenisskrifte

November 20, 2014

Belydenisskrifte is mos maar bietjie van ‘n olifant in die vertrek. Dit is dokumente wat onderteken word maar nie gelees word nie. Wat puntgewys aangehaal word as absolute bewysteks maar nie bespreek word nie. Hierdie ongeleesde, onbespreekte woorde is die grond waarop ons skynbaar moet bepaal wie deel van die “heilige, algemene Christelike kerk” is (of is dit net van die NG Kerk, is ons fine daarmee as jy deel van die kerk is al sou dit blyk dat op vraag x of artikel y se jota of tittel ‘n ander kyk ontwikkel, solank jy net nie deel van my kerk is nie), en wie die ketters is (dis nou daai mense wat ons ter dood veroordeel het in ‘n vorige lewe van die kerk).

Maar oor die laaste paar weke gooi ons woorde soos “quia” en “quatenus” heel liberaal rond (alhoewel meer gereeld quia as quatenus, en “heel liberaal” mag dalk ‘n op eerste oogopslag as ‘n onvanpaste beskrywing beskou word vir die plekke waar dis die gemaklikste rondgegooi word). Hier en daar lyk dit asof ons wil maak asof die olifant nooit ‘n olifant was nie, asof dit tog maar duidelik is dat belydenisskrifte almal, puntsgewys, en op elke punt, letterlik, soos deur die Heilige Gees en ons neergepen, aanvaar word.

Ons het ‘n meer eerlike gesprek oor belydenisskrifte nodig.

Ek hoop so ‘n eerliker poging word vasgevang in die ligte, speelse poging om oor belydenisskrifte te praat wat ‘n paar van ons onder Helené van Tonder se bekwame leiding neergepen het in gesprek met die Heidelbergse Kategismus. Jy kan die inleiding van Sewe Stories gratis lees (jy kry sommer ‘n stukkie van Helené se eie refleksie in die eerste opstel van die boek gratis by).

Hier is hoe ons dalk beter en eerliker oor belydenisskrifte kan praat:

In 2013 is die Heidelbergse Kategismus 450 jaar oud.
“Die wát?” hoor ek jou vra. En dit is ’n goeie vraag. Want soos ons – en jy waarskynlik ook – lees baie (gereformeerde) Christene selde of ooit die Heidelbergse Kategismus (HK).

of bietjie later

Hierdie vraag het ons, die skrywers, ook vir onsself gevra. En, om eerlik te wees, nie een van ons was eintlik aanvanklik te gretig om die Heidelbergse Kategismus te lees nie.

Met meer as genoeg voorbehoude het ons toe op reis gegaan met die Heidelbergse Kategismus: deur kerke se konsistories, Pretoriase nagklubs wat voorbereidings tref vir DJ Fresh-vertonings, om Sunnyside se straathoeke, deur koffiewinkels, pizza-plekke, bierdrinkbankies, via verdagte Portugese en Sjinese restaurante. Dit was amper soos die dae waarvan die Duitse filosoof Jürgen Habermas vertel het: Toe burgers nog in koffiewinkels en haarkappers bymekaargekom het en sake van die polis – die stad – bespreek het om sodoende saam tot mondigheid te groei.

Die waarheid is

Die Heidelbergse Kategismus is egter nié deesdae die mees wydgelese dokument waaraan ’n mens kan dink nie. En, in alle eerlikheid, soms gril mense ’n bietjie daarvoor. Dit is oud, stowwerig, verstok, weird, en dit pas nie lekker in die post-alles plekke waarin mense (ook ons) graag uithang nie.

En hier is die realiteit

Ook die groot Suid-Afrikaans teologiese aangeleentheid van die laaste kwarteeu – die aanvaarding van die Belydenis van Belhar, al dan nie – blyk implisiet beïnvloed te wees deur hierdie paradoks: Belydenisse maak skynbaar absolúút saak (vir sowel die voorstanders as die teenstanders van Belhar), maar eintlik maak dit glad nie saak nie (albei groepe weer geïmpliseer). Daar word voortdurend klem geplaas op die belangrikheid en gesag van belydenisskrifte in die kerk ten spyte van ’n groot gebrek aan deurligte, kreatiewe interaksie daarmee in die lewe van die kerk.

Hier is waarvan ons iewers in Arcadia op ‘n Saterdagmiddag oortuig geraak het: dalk, net dalk, is dit belangriker dat ons belydenisskrifte lees as onderteken, bespreek as aanhaal. En as my vermoede reg is dat die groot meerderheid van ons predikante en lidmate, as jy hulle nou in ‘n blik moet druk, iewers bietjie wonder of elk van ons belydenisskrifte dan nou regtig op elke puntjie presies reg is (ek is nie oortuig dat dit is wat “omdat dit in lyn met die Woord van God is” beteken nie, maar goed, meer daaroor op ‘n ander dag), ja, as hierdie vermoede reg is, dan is die beste manier om seker te maak dat hierdie antieke woorde nie meer gelees en bespreek word nie deur aan te dring dat ons ook nie daarvan mag verskil nie. Dis die maklikste manier om konflik te vermy: sê maar net niks oor belydenisskrifte nie.

As ons net ‘n bietjie sagter (en eerliker?) is oor hierdie goed dan lees ons dit dalk weer, en ontdek ons net dalk iets wat mooi is.

Die aanhalings kom uit die boek Sewe stories en ‘n stock cube.


Dis dalk tyd om weer te dink oor godsdiens in skole

September 2, 2014

Dalk moet ek eers dit sê: ek is nie gekant teen godsdiens in skole nie. Ek dink ons gaan uiters knap onderwysers verloor as ons ‘n kliniese verdeling tussen geloof en lewe in die klaskamer wil inbring. Ek dink verder dat een of ander hofbevel wat godsdiens volledig uit skole gaan verban bloot die effek gaan hê dat Christene (en waarskynlik mense met ander godsdienstige oortuigings) hulle kinders na “godsdienstige skole” gaan neem, en dat dit die uiters belangrike publieke ruimtes waar kinders leer om met mense wat anders as hulle glo saam te leef gaan ondergrawe. Maar ek dink ook dat ons ernstige vrae moet vra oor die posisie van bevoorregting wat die kerk by skole veronderstel, wat die NG Kerk spesifiek by skole veronderstel (of veronderstel het), en wat sekere Charismatiese kerke vandag veronderstel.

Toe ek nog ‘n “jeugdominee” was moes ek jaarliks deur ‘n gesprek sit waarin my onbetrokkenheid by die plaaslike skole onder oë geneem is. Die onbetrokkenheid het basies daarop neergekom dat ek nie saalopeninge waargeneem het nie. Dit het al gebeur, twee keer wat ek te vinnig ja gesê het, en die ander keer by een spesifieke skool waar ek wel myself beskikbaar gemaak het, vir redes wat nie nou belangrik is nie, maar dit was ‘n uitsondering.

Daar was twee punte agter hierdie houding. Die een gaan oor ons verhouding met ander godsdienste, die ander oor ons verhouding met ander kerke.

Die makliker een om te verduidelik is waarskynlik ons verhouding met ander godsdienste en mense wat nie godsdienstig is nie. Buiten dat ek dink ons ‘n goeie godsdienstige kurikulum nodig het waaroor almal kan saamstem, en buiten daarvoor dat ek bo-op dit ook ruimte het vir skole om ‘n eie godsdienstige beleid op te stel wat die godsdienstige oortuigings van die meerderheid leerlinge in ag neem, dink ek ons het ‘n ongelooflike verantwoordelikheid teenoor alle leerlinge om dieselfde behandel te word.

Dit beteken dat ‘n skool soos die een waarin ek skoolgegaan het, waar die meerderheid Christene is maar daar ook ‘n redelike groep Moslems is, ernstig moet oorweer om die Imam ook van tyd tot tyd te vra om die skoolopening te doen. Ek pleit daarvoor as ‘n Christelike teoloog, predikant en ouer. Ek dink ons kinders het nodig om te leer om met respek om te gaan met mense van alle godsdienstige oortuigings. Ek dink ons kinders het nodig om te hoor dat daar wysheid in Islam is waaruit die samelewing kan tap. Ek dink ons kinders het nodig om te leer om op ‘n liefdevolle en leerbare manier met Moslems om te gaan indien hulle getroue Christene wil wees in ons wêreld vandag.

Dit beteken ook dat ons godsdienstige optrede nie teenoor kinders mag diskrimineer nie. Nooit nie. Diskriminasie het natuurlik baie grys areas, en dis gewoonlik hierdie grys areas waar die probleme lê, maar ons moet begin dink oor hoe ons godsdienstige byeenkomste ‘n nie-amptelike vereiste word vir verkiesing op ‘n leerlingraad of ander liggaam.

Maar die tweede punt gaan ons dlak help om meer van die probleme raak te sien: ons verhouding tussen kerke moet op ‘n manier verreken word in ons verhouding met skole. So hard soos wat ek wil pleit dat my eie kinders ‘n gesonde en ietwat gekontroleerde blootstelling aan verskillende godsdienste sal kry wanneer hulle eendag in ‘n publieke skool van hierdie land is, so hard sal ek baklei wanneer die skool gebruik word om my kinders te bekeer na hierdie of daardie oortuiging toe. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is nie gekant teen bekering nie, en dink ons moet volledig ruimte maak daarvoor dat mense ook van godsdienstige oortuiging kan verander, maar wanneer die skool ‘n captured audience word, en meer nog wanneer die magsverhoudinge waarin onderwysers teenoor kinders staan ter sprake kom, dan mag ons dit nie gebruik as evangelisasieruimte nie.

Daar is ‘n rede waarom ek dit onder my tweede punt sit. Ek dink ‘n groot deel van die probleme hiermee gebeur tussen kerke. Ons gebruik die ruimtes van publieke skole om dogmatiese gevegte in die lewens van kinders in te dra. Natuurlik dink die onderwysers en vrywillige ouers (my probleem is nie met kinders wat as gelykes op skoolterreine teologiese debatte voer nie, of selfs mekaar van teologiese standpunte oortuig nie, ek dink dit is deel van die lewe) wat hierby betrokke is nie dat hulle met “dogmatiese gevegte” besig is nie, hulle is mos bloot besig om die “Bybelse standpunt” te verkondig. Ek sal uiters ontsteld wees as my seuns eendag van die skool af kom en ek moet uitvind ‘n onderwyser of ander volwassene het die skool gebruik om vir hulle te vertel dat die kerk waarvan hulle deel is eintlik verkeerd is. Ek wil vir alle ouers en kinders, ook die wat nie godsdienstig is nie, respekteer op dieselfde manier waarop ek hoop my kinders respekteer sal word.

Ek dink dat Christene, as die meerderheid-godsdiens in Suid Afrika, het ‘n eerste verantwoordelikheid om aan te dring daarop dat skole nie ruimtes word vir ons godsdienstige gevegte nie. Waar dit gebeur moet ons as kerk protesteer.

Dit beteken waarskynlik dat ek dink die verantwoordelike ding vir kerke om te doen is om te erken dat daar waarskynlik sekere praktyke is wat iewers in die toekoms in ‘n hof gaan verskyn waarmee ons ook ongemaklik is, en wat ons ook dink beter bestuur moet word in skole. Ek dink ons kan hierop kritiek lewer sonder om bloot ‘n bepaalde weergawe van nie-godsdienstigheid te onderskryf. In kort: ek dink ons kan alle kante van die lewe, ook die godsdienstige, in skole erken, en dit op so ‘n manier doen waar ons kinders, ook Christen kinders, met ‘n waardering en ‘n respek vir mense van alle godsdienstige oortuiginge grootmaak.


want ons verwag tog meer van die kerk

November 12, 2013

Daar is verskeie weergawes van ‘n verhaal wat voortspruit uit versekeringsmaatskappye wat sekere rampe ‘n “act of God” noem. Dit loop gewoonlik iets soos volg:

‘n Besigheidsman wou ‘n kroeg langs ‘n kerk bou. Die kerk bid toe dat die kroeg nie gebou moet word nie. Halfpad in die bouery kom daar ‘n storm en vee die halfgeboude kroeg plad. Die versekering sê dit was ‘n “act of God”. Die besigheidsman dagvaar toe die kerk omdat hulle gebede veroorsaak het dat sy kroeg verwoes is, en die kerk reageer dat hulle gebede niks daarmee te doen gehad het nie.

Tans woed daar so gesprekke tussen ‘n paar kerkleiers, ‘n paar mense buite die kerk, ‘n paar so op die rand van die kerk en ander wat belangstel wat iets soortgelyks veroorsaak.

Mense identifiseer hulleself as “buite die kerk”, en maak dan duidelik dat hulle dink die kerk heelwat meer moet doen as bloot die minimum wat volgens die wet vereis word. Die kerk moet immers in liefde en menswaardigheid met mense omgaan, en kan daarom nie daarop roem dat ons optrede wettig was nie. Stemme binne die kerk beklemtoon weer dat die kerk gebind word aan die landswet en dat die kerk nie kwalik geneem moet word as ons binne die landswet optreë nie.

Die patroon is nie uniek aan hierdie gesprek nie, en daar is darem heelwat uitsondering op hierdie eenvoudige analise ook, maar die klein prentjie gee tog iets waaroor ons verder moet dink.

Die idee dat daar tog meer van die kerk verwag moet word is nie nuut nie. Kerke en kerkleiers wat betrokke is by een of ander skandaal sorg altyd vir nuus. Aan die ander kant hiervan hoor ons gereeld dat kerke van die organisasies is wat die meeste vertrou word deur die Suid Afrikaanse publiek.

Aan die ander kant is die etiek wat die kerk najaag ‘n onmoontlike etiek. Om jou vyande lief te hê en almal as gelykes te hanteer is iets wat ons met die “heiliges” identifiseer. Ons “gewone mense”, en die sluit gemeentes en predikante in, hou nie regtig hierby nie. So die kerk toon ook maar baie keer ‘n versigtigheid om self hierdie hoë verwagtinge op onsself te plaas.

‘n Deel van my hou daarvan dat stemme buite die kerk, en stemme op die rand van die kerk, na ons vinger wys en sê dat hulle meer verwag van die kerk, dat die kerk meer moet doen om by ons eie hoë etiese verwagtinge uit te kom. Aan die ander kant wonder ek partymaal oor die hoe sinvol dit is om van buite af vir mense te sê hoe hulle hulle eie morele riglyne moet toepas.

Ons is dalk op ‘n goeie plek as die kerk erken dat ons nie altyd regkry om ons vyande lief te hê, om alle mense as gelykes te behandel, en om veral aan die armes en die onderdruktes ‘n spesiale plek te gee nie. Hierdie stukkie eerlikheid is tog heelwat beter as die kerk wat probeer wys dat ons die morele hoëgrond het.

Daar is ook ‘n sterk liberale tradisie wat kom wys dat hierdie naïewe idees oor afsweer van geweld en liefde vir vyander ideale is wat bloot dom is om na te volg. Ek bedoel, as die kerk al ons eiendom en al ons geld more vir die armes weggee dan is dit so goed soos institusionele selfmoord. As ons nie ordentlike kontrakte met ons werknemers teken nie, as ons nie luister na wat ons by die wetmakers kan leer nie (en werk God nie oor daar nie?) dan gaan ons mense iewers uitbuit, of onsself laat uitbuit.

Daar is egter tog iets in die wese van die kerk wat maak dat ons partymaal dom goed doen. Party noem dit “geloof” en ander “roeping”. Een van my gunsteling seënbedes sê dit so mooi:

mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.

So partymaal gaan ons in versoeningsprosesse in ten spyte daarvan dat enige rasionele mens vir ons sal sê versoening is onmoontlik. Partymaal weier ons om geweld te gebruik al sê elke politieke analis dat geweld die enigste manier is om iets te verander. Partymaal bly ons selfs in huwelike langer as wat enige sielkundige sal aanbeveel. En op elkeen van hierdie goed sal ons voorbeelde kan wys waar ons dwaasheid toe nie gelei het tot iets wat daadwerklik verander het nie, en dat ons maar eerder die rasioneles, die analiste en die sielkundiges se raad moes gevolg het. Maar partymaal dan gebeur dit dat hierdie keuse om getrou te bly aan ons mees radikale idees, dinge regkry wat ander mense dink nie gedoen kon word nie.

Aan die ander kant dink ek daar is ook die gevaar dat die kerk as simbool waarvan ons “meer verwag” die half afgewaterde etiek van die samelewing oor die algemeen kan ondersteun. Dis ‘n langer argument, maar die oortuiging dat die dominee ten minste anders sal optreë, of die kerk ten minste beter sal doen, kan dit ook moontlik maak vir ander dele van die samelewing om hierdie verantwoordelikheid op sy te skuif. Uiteindelik moet die kerk tog ook sê dat ons nie so uniek is nie, dat hierdie ideale waarin ons glo ideale is wat ons glo die hele samelewing kan dien.

So in kort: dankie vir almal wat oortuig is dat ons tog meer van die kerk moet verwag, die kerk het nodig om hieraan herinner te word. Al verstaan as dat dit gevaarlik is vir die kerk om hierdie hoë verwagting aan onsself te stel, moet ons dit egter partymaal (selfs in dwaasheid) doen.


Oor die Heilige Drie-eenheid en ‘n subwersiewe politieke teologie

November 4, 2013

Daar is ‘n redelike standaard argument in moderne publieke teologie wat iets soos volg loop:

Teoloë en die kerk moet deelneem daaraan om dit wat die beste is vir die stad of die samelewing te soek. Ons moet help om die algemene goedheid vir almal na te jaag. Teoloë en die kerk moet egter nie verwag dat die samelewing waarbinne ons leef die taal van die kerk deel nie, maar moet Christelike waardes vertaal en verpak sodat dit gehoor kan word binne hierdie publieke sfeer.

En dan kom Gwede Mantashe (blykbaar, ek kon egter nog nie die hele speech opspoor nie) en hy breek hierdie idee volledig af.

Dis eintlik gevaarlik om te reageer op grond van ‘n koerantberig sonder dat ons die volledige speech gesien het. Ons is half vies as mense dit met die kerk doen, en moet dalk maar ‘n stukkie versigtigheid aanleer wanneer ons op politici reageer ook. Maar kom ons aanvaar die breë punt: Matashe (en baie ander deur die geskiedenis en vandag) gebruik Christelike konsepte om ‘n politieke agenda te dryf. So wat nou?

Kom ons sien dit eerste raak: Christelike metafore en taal is ongelooflik kragtig in die Suid Afrikaanse samelewing. As jy wil sê dat niemand jou sal onttroon nie, as jy wil praat oor die ewigheid, dan is ‘n uiters kragtige retoriese strategie om te verwys dat status quo sal voortduur tot Jesus kom. Almal weet skynbaar wat dit beteken. As jy wil uitwys dat die ANC-alliansie onlosmaaklik aan mekaar verbind is, dat hiedie drie partye een is, dan is ‘n goeie shorthand om dit met die Drie-eenheid te vergelyk.

Indien dit werklik werk om ‘n crowd op te sweep met hierdie teologiese konsepte, dan beteken dit dat dit genoeg raakpunte in die publieke sfeer het dat jy daarmee jou punt kan maak sonder ‘n lang verduideliking. Dit beteken egter ook dat Christelike taal publieke taal is.

Hoe sal ons maak hiermee?

Laat ek net eerstens my kaarte op die tafel sit: Dis net te maklik om uit te wys dat sou Mantashe die vergelyking tussen die drieparty-alliansie en die Drie-eenheid gemaak het hy homself aan een of ander vorm van kettery sou skuldig maak. En ook te maklik om dan aan te dring dat die kerk se rol moet wees om hierdie dwaalleer uit te wys en aan te dring op een of ander vorm van teologiese ortodoksie (met een of ander gesekulariseerde taal as enigste alternatief) in politieke uitsprake. Ja, ja, die kerk moet seker iets sê, maar ons moet beter kan doen as om uit te roep “dwaalleer”. Almal weet dit is dwaalleer, dit is die hele punt van so ‘n stuk retoriek! Die retoriese krag daarvan lê daarin dat jy heilige simbole neem en dit na jouself laat verwys.

Maar ‘n eerste reaksie is duidelik dat die kerk moet protesteer. Dit aanvaar dat die kerk tog ‘n verantwoordelikheid het om in die publieke sfeer beheer te probeer hou oor hoe kern Christelike simbole uitgebeeld word, en dat ons mag aandring dat dit binne die riglyne van die tradisie gebruik word. Hierdie reaksie is seker onvermydelik, en het dalk tog waarde. Ek weet egter nie of dit volhoubaar is, en of dit konsekwent uitgevoer kan word nie. Ons loop die gevaar om telkens op eksplisiete teologiese uitsprake van politieke partye te reageer, sonder om te weet wat om te maak met die teologie wat nie eksplisiet is nie. Is die onderdrukking van weduwees en weeskinders immers van minder belang as die misbruik van God se naam? As die kerk glo ons het ‘n verantwoordelikheid om “God se naam” in die publiek te beskerm, sal ons nie in ‘n permanente stroom van verklarings moet ingaan nie? En watse kriteria sal ons gebruik om te besluit “hierdie is darem te erg”, nou moet ons iets sê?

‘n Tweede moontlikheid sou wees om ‘n redelike sterk stroom van anti-apartheidsteoloë na te volg. Volgens die 1983 konstitusie was Suid Afrika ‘n Christelike land. In reaksie hierop het party teoloë toe gesê: OK, kom ons vat julle op julle woord, as julle ‘n Christelike land is, dan het die Bybel gesag oor julle, en gaan ons ‘n ander interpretasie van Christelike waardes aan julle voorbou en eis dat julle daarby hou. Party kan selfs opgewonde raak oor Mantashe se opmerkings, aangesien dit die Christelike godsdiens ‘n uiters bevoorregte posisie gee (nou wel met ‘n bietjie van ‘n ketterse verdraaiing van ‘n sentrale simbool, maar duidelik het Jesus meer traction as Mohammed of Buddha in hierdie politieke kringe).

Verwysings na die Drie-eenheid is nie algemeen godsdienstig nie. Dit is so spesifiek Christelik as wat jy kan kry. Daar sou dus in hierdie tyd kerke en teoloë kan opstaan en vir die ANC sê: dit lyk vir ons julle is ‘n Christelike party, ons wil nou met julle praat oor wat dit beteken om ‘n Christelike party te wees. Party het dit reeds begin doen deur te verwys na die sterk Bybelse tradisie dat politieke heerskappy nie ewig is nie, en dat slegs God ewig staan. Die Ou Testament is immers vol hiervan, beide met verwysing na Israel, maar ook na die groot wêreldmoonthede van die tyd (Babiloniërs, Perse, Grieke). So aan die ANC, van een Christen na ‘n ander: “niks is ewig nie”.

Maar om te maak of ons dink die ANC self glo dat hulle ‘n Christelike party is net omdat hulle met Christelike metafore werk (of dat die NP ‘n Christelike party was net omdat hulle Christelike konsepte in ‘n konstitusie laat inskryf het) is om hulle te ernstig op te neem. Politieke partye is nie Christelik is nie en godsdiens word bloot gebruik sover dit ‘n politieke agenda dien. Daar is wel Christene in politieke partye, en dit is iets waaroor ons meer ernstig kan praat. So om hierdie tipe erkenning te gee is om te veel te maak van die gebruik van Christelike taal. In elkgeval het ek ‘n ernstige wantroue in Christelike party-politiek, en dink ek die kerk moet eintlik maar vra dat politieke partye in hulle amptelike standpunte net by ‘n basiese stel gedeelde waardes hou (wat nie een van hulle elkgeval regkry nie).

Daar is dalk ‘n ander roete. Kom ek begin van die agterkant af.

As die ANC goeie teoloë was dan sou hulle enige kritiek op hierdie oorneem van die Drie-eenheid dalk vinnig afgewys het deur sterk op Paulus te steun. Paulus het immers die godsdienstig-politieke simbole van sy tyd geneem en dit op ‘n subversiewe wyse verwerk om ‘n radikale politieke teologie binne die Romeinse ryk te skep. As die Romeinse ryk sê “Die Keiser is Heer”, dan sê Paulus “Jesus Christus is Heer”. Hierdie politieke teologie het o.a tot vervolging gelei, wanneer Christene in die Romeinse ryk weier om aan die Keiser wat heer is te offer omdat hulle bely dat daar ‘n ander Heer is. As die ANC ‘n paar goeie teoloë sou betaal, dan dink ek hulle sou dalk ‘n argument kon maak dat hierdie leen van godsdienstig-politieke taal nie iets nuuts is nie, en dat hulle dit eintlik by die kerk kom leer het, dat dit eintlik ‘n subwersiewe handeling is om die mag wat Christelike simbole het te ondergrawe.

Ek vermoed die kerk van die eerste eeue nooit daaraan sou dink om ‘n publieke verklaring uit te ryk wat sê dat niemand mag uitroep “die Keiser is Heer” omdat dit kettery sou wees nie. Die kerk het bloot nie die mag gehad om so iets te doen nie. Wat hulle gedoen het is om weekliks, daagliks, bymekaar te kom. Eredienste te hou. ‘n Liturgie te ontwikkel. Briewe te skryf wat ernstige politieke implikasies gehad het. In die samelewing in te gaan en bloot hardnekkig te weier om ‘n ander realiteit te erken as “Jesus is Heer”. Meer as dit, hulle het so geleef dat selfs die Romeinse ryk naderhand nie sonder hulle kon klaarkom nie. Hulle het die siekes versorg, was eerlike en hardwerkende werkers, en het die stede waarin hulle geleef het ‘n beter plek gemaak.

Of dit Jesus se gelykenisse of Paulus se politieke teologie was, een van die fascinating aspekte van die Nuwe Testament is hoe heersende konsepte gevat word en polities subwersief herinterpreteer word binne die geloof in God (Drie-enig?). As die kerk kreatief genoeg is hoef ons niks te verklaar nie, maar bloot voort te gaan om hierdie spel van polities subwersiewe teologiese retoriek beter te speel.

Sondag oggend sit daar ‘n paar miljoen mense in Suid Afrika in duisende gemeentes met duisende predikante, pastore, priesters en profete. Die manier hoe die Christelike tradisie nog altyd gewerk het is om elemente uit die kultuur rondom ons te verweef met godsdienstige taal en oortuigings. Die twee moet met mekaar praat. Politieke uitsprake word op hulle kop gedraai en hierdie miljoene mense word gevorm deur ‘n alternatiewe politiek. Dit is die politiek van die goeie Skepper, die God van lewe. Die politiek van Jesus Christus is Heer, die Heer wat gekruisig is deur die politieke heersers van sy tyd. Die politiek van die Gees van God wat aan gewone mense krag gee om ‘n boodskap van versoening en geregtigheid te verkondig.

Ek dink aan een so poging van Klippies Kritzinger. Dalk hoef ons niks te sê oor Mantashe en die Drie-eenheid nie, maar bloot Sondag oggend in die erediens met hierdie votum of iets soortgelyks begin:

Where does our help come from?
Psalm 121 in Tshwane
JNJ (Klippies) Kritzinger

L: We lift up our eyes to the hills,
to the high places in and around Pretoria;
Where does our help come from?
Does our help come from Meintjeskop,
from the Union Buildings, centre of political power?
C: Our help comes from the LORD,
who made heaven and earth
L: Does our help come from Thaba Tshwane,
from the National Defence Force, centre of military power?
C: Our help comes from the LORD,
who made heaven and earth
L: Does our help come from Monumentkoppie, from the
Voortrekker Monument, reminder of the power of the past?
C: Our help comes from the LORD,
who made heaven and earth
L: Does our help come from the high building of
the Reserve Bank, centre of economic power?
C:Our help comes from the LORD,
who made heaven and earth
L: Does our help come from the high buildings of Unisa or the
University of Pretoria, centres of intellectual power?
C: Our help comes from the LORD,
who made heaven and earth
L: We lift up our eyes to the hills,
to the high places in and around Pretoria;
Where does our help come from?
C:Our help comes from the LORD,
who made heaven and earth;
who is the same, yesterday, today and forever;
who remains faithful to his promises,
who never forsakes the work of his hands.
Amen.

Ons kan ook politieke metafore subwersief ondergrawe. As ek nie dood ontsteld is oor Mantashe se skynbare opmerkings nie, dan is dit hoofsaaklik omdat ek van plan is om met my eie lewe dieselfde strategieë te gebruik wat ek in die aanhalings in die koerantberig sien, maar om dit te doen as teoloog.

Ek wonder hoe ‘n gelykenis sou klink wat op die heilige drieparty alliansie reageer? Dalk het ons ‘n gelykenis nodig, nie ‘n verklaring nie.


so wil ek antwoord oor dwaalleer

Mei 7, 2013

Ek wil ook partymaal praat van “die goeie ou dae”. Jy weet, toe dwaalleer nog dwaalleer was, en ons werklik gedink het die wêreld kom tot ‘n einde as jy met dwaalleer besig is en jy moet op ‘n hoop hout gegooi word en lewendig verbrand word. Of soos by Nicea toe hulle vir ‘n hele maand lank gepraat het oor ‘n saak. Of wat van Dordt wat 154 vergaderings in 7 maande gehou het om uiteindelik te kan sê “so glo ons” (en in die proses die een geloofsbelydenis gelewer het wat vandag die minste gebruik word in die kerk).

Eintlik wil ek in ‘n loflied saam met ‘n orrel uitbars omdat ons nie in daardie tyd leef nie. Kan jy nou dink as die Algemene Sinode vir 3 maande moet sit net om uiteindelik te kan sê: “so sê die meeste van ons” (want nie Nicea of Dordt het meer as dit gesê nie). Dit sal egter dalk beter wees as die manier waarop ons week na week moet hoor hoe iemand “dwaalleer” roep in die NG Kerk. Onthou julle die storie van die seuntjie wat wolf geroep het…?

Dalk moet ons egter bietjie saam dink oor hoe mens reageer op hierdie alewige “dwaalleer… dwaalleer…” refrein. Maar laat ek dit maar publiek doen, want ek kry al hoe meer die gevoel dat daar ‘n klein netwerk van mense in (en buite) die NG Kerk bestaan wat mekaar telkens inlig oor wie nou die volgende teiken is vir hulle dwaalleer aanklagte, en strategieë bymekaarmaak vir hoe hulle die lewe vir al wat ‘n dominee is met wie hulle bietjie verskil kan hel maak. So ek dink hardop en publiek.

Party dae dink ek daai lot wat met die sola scriptura ding gekom het sou hulleself maar bedink het as hulle geweet het wat ‘n lot Amerikaners daarmee sal maar teen die tyd wat die 20ste eeu aanbreek. Praat van die dag wat onder die eend se gat uitgeruk word! Iewers is ‘n klomp teoloë kwaad vir die pous wat ‘n klompie dodgy uitsprake maak om sy bankrekening te laat klop, en in protes roep hulle uit sola scriptura. Alleen die Bybel. As ons dus oortuig raak dat wat die kerklike leiers sê in stryd is met die Bybel, dan kies ons die Bybel. Fast forward ‘n klompie jare en iemand besluit dat ten spyte daarvan dat niemand nog ooit voorheen dit raakgesien het nie, kan hy die wegraping in die Bybel in raaklees. En bietjie later, ten spyte daarvan dat alle bewyse daarteen is, kan sola scriptura ook die grense van die natuurwetenskappe bepaal.

Waarheen sola scriptura geneem is, is egter ‘n verwerping van die tradisie. En nee, om ‘n frase uit ‘n geloofsbelydenis aan te haal is nie tradisie nie. Om ‘n geloofsbelydenis uit sy historiese tyd en plek te neem en te verabsoluteer is ook nie tradisie nie. Ek dink tradisie is om te sê dat ek nie die eerste een is wat ‘n teks lees nie, en dat ek ook nie die enigste een is wat ‘n teks lees nie (ten minste sover as wat tradisie oor die Bybel gaan). Dit beteken dat ek aanvaar dat daar ‘n bepaalde wysheid is in die manier hoe mense oor eeue heen tekste gelees het, maar ook dat die herinterpretasie van tekste altyd voortgaan.

Die probleem met die “dwaalleer… dwaalleer…” geroep wat ons tans hoor is dalk deels dat sola scriptura iets gemaak is wat totaal los van die gemeenskap van gelowiges en totaal los van die tradisie van die kerk staan. Sola scriptura word saam met “alleen my interpretasie” ‘n stok waarmee geslaan word. Eintlik word dit maar net die diepe oortuiging dat ek die “wil van God” ken, deurdat ek ‘n interpretasie op die tafel kan sit waarmee alle ander interpretasies tot dwaalleer verklaar kan word.

Die waarheid is egter dat individue nog nooit in die geskiedenis van die kerk bepaal het wat dwaalleer is nie (behalwe natuurlik as hulle deur die kerk aangestel is om dit te doen). Die kerk het dit bepaal. Die kerk het ook nog nooit slegs vir een enkele standpunt ruimte gehad nie, maar altyd vir meerdere opinies. Van Petrus en Paulus, deur die sinoptiese evangelies, deur Nicea, is die kerk nog altyd ‘n breë stroom van standpunte waaraan partymaal grense geplaas word. En partymaal word die grense weer verwerp. Dwaalleer kan uiteindelik net beteken dat jy buite die raamwerk van die kerk beweeg (of van ‘n spesifieke kerk beweeg wanneer dit dan op ‘n punt gedryf word). Dwaalleer kan onmoontlik beteken dat jy nie in lyn met die Bybel is nie. Dit kan net beteken dat jy die Bybel nie meer binne die raamwerk van die kerk lees nie. Die Bybel gaan immers nie ‘n eie interpretasie gee nie, slegs mense kan die Bybel interpreteer, en slegs wanneer dit buite die kerk se raamwerk val kan ons besluit iemand is besig met dwaalleer.

As dit oor dwaalleer gaan is dit sinneloos dat ons aanhou om met ‘n paar individue te stry oor wat die “korrekte” interpretasie van die Bybel is. As ons geforseer word om oor dwaalleer te praat dan gaan dit suiwer oor of iemand binne die raamwerk van die kerk beweeg. En die kerk se raamwerk is telkens maar dat daar ‘n verskeidenheid van moontlikhede is. Ja, selfs wanneer die kerk ‘n spesifieke standpunt het, was daar nog altyd ‘n breër raamwerk waarbinne ruimte gemaak is vir ander standpunte. Ons eintlike gesprek is maar net die vraag of teoloë en predikante binne die raamwerk van die kerk val. Indien wel, dan hou ons aan om met mekaar te stoei oor hoe hierdie raamwerk moet verander. Ons vorm saam verder aan die tradisie.

En as jy roep “dwaalleer… dwaalleer…” en die kerk stem nie met jou saam nie? Wel, dit lyk my dan moet jy of jou standpunt verander (of ten minste verbreed sodat daar vir ander standpunte ook ruimte is), of die kerk verlaat, of ander in ontevredenheid (dalk selfs woede) voortleef. As ek die storie so kyk het ons ‘n paar lidmate wat vir die derde opsie gekies het. Ons sal hulle seker altyd tussen ons hê, maar ons hoef onsself seker nie altyd deur hulle te laat ontstel nie?


dis nie ‘n volkskerk nie, dit lyk net soos een…

April 11, 2013

Neels Jackson se rubriek vanoggend is ‘n vreemde argument. ‘n Lang lys redes waarom die NG Kerk nie ‘n volkskerk is nie met ‘n slot wat sê dat die NG Kerk nogals baie soos ‘n volkskerk lyk. Iets soos: “Dit is nie ‘n volkskerk nie, dit lyk net soos een”.

Neels se lys argumente is basies die volgende:

  • Ons het ‘n sinodebesluit geneem dat ons nie meer ‘n volkskerk is nie.
  • Wit dominees ontken dat ons ‘n volkskerk is.
  • Wit lidmate ontken dat ons ‘n volkskerk is.
  • Op party plekke, veral middestede, is die NG Kerk nie meer wit nie.
  • Daar is selfs voorstedelike gemeentes waar jy gereeld ‘n “gekleurde” gesig sal sien.
  • In ons barmhartigheidswerk reik ons uit na swart gemeenskappe.

Maar selfs Neels weet nie hoe om verby Sondag oggend 9 uur te kom nie. Want maak nie saak wat sinodebesluite or wit dominees of wit lidmate sê  nie, maak nie saak ook die uitsonderings nie (belangrik soos wat hierdie voorbeelde is!), en dit maak selfs nie saak dat ons swart gemeenskappe wil “ophef” en “ontwikkel” nie, daar is so rondom 1000 simbole van die geskiedenis van kolonialisme, apartheid, institusionele rassisme en die teologiese regverdiging van apartheid wat elke Sondag oggend bymekaarkom. En my vermoede is daai simbole sê meer as wat Neels wil erken.

Jonathan Jansen se kritiek op die NG Kerk het my al baie gehelp. Ja hy werk met geykte stereotipes soos die “NG dominee met die swart pak”, iets wat ek dink as ‘n simbool van ‘n bepaalde ideologie funksioneer in sy retoriek. Ek dink Pierre de Vos doen iets soortgelyk, search maar net die “dominee” op sy Engelse blog en kyk wat jy kry. Ek sal die argument oor hoekom dit die “NG dominee” i.p.v die “APK dominee” is vir ‘n ander geleentheid los, maar ons moet tog besef dat daar ‘n bepaalde keuse gemaak word om die NG Kerk as voorbeeld te gebruik.

Ek dink dit is te vinnig om te sê Jonathan Jansen is só verkeerd. Ja, die proses waarvan Jansen net gehoor het (ons kan gerus ophou met die idee dat almal veronderstel is om die details van ons interne debatte hoef te ken) is meer kompleks as wat hy dit in sy kort rubriek beskryf. Ja, ons dra nie swart pakke en wit dasse nie (alhoewel ek dink ons veronderstel is om die metaforiese aard van Jansen se opmerking te moet raaksien). Maar ons moet hom hoor:

“Die georganiseerde kerk is immers die een plek waar jy sonder inmenging van buite steeds wit kan wees en afgesonder van jou swart susters en broers.”

En ons is ‘n wit kerk. Nie net omdat ons eredienste bestaan uit lidmate wat half bleek is en lyk of hulle voorouers oorwegend uit ‘n deel noord van Afrika gekom het nie. Om die waarheid te sê, beide Jansen se uitsondering van die NG Kerk asook Neels se verdediging van die NG Kerk loop die gevaar om die idee dat verandering beteken om “‘n paar gekleurde gesigte in ons eredienste te kry” te regverdig.

  • Ons is ‘n wit kerk omdat ons kerklike diskoers oor wat in die lang aan die gebeur is gereeld idees wat die instandhouding van ‘n wit identiteit ondersteun napraat (ek het daai idee in meer as 100 bladsye probeer neerpen elders).
  • Ons is ‘n wit kerk wanneer ons besluite oor eiendom en pensioenfondse daarop gemik is om die kapitaal wat in een deel van die kerk opgebou is oor dekades heen in die hande van daai selfde deel van die kerk te hou.
  • Ons is ‘n wit kerk wanneer ons teologiese studente se opleiding basies uitsluitlik leeswerk van wit teoloë insluit.

En dalk moet ons hierdie lysie nog uitbrei, met merkers wat ons herinner dat ons ‘n wit kerk is. Ons moet byvoeg dat by elkeen van hierdie tipe merkers is daar uitsonderings, en die uitsonderings word al hoe meer. Orals waar ek beweeg sien ek jong predikante wat Steve Biko as een van die belangrikste outeurs wat hulle gelees het sien. Ek sien plekke waar ringe ernstig begin dink oor wat dit beteken om kapitaal in die vorm van geboue deel buite die NG Kerk se beheer te laat gaan (en nie dit verkoop aan die een wat die hoogste aanbod maak nie). Ek sien hoe gemeentes en sinodes meer en meer standpunte inneem wat instandhouding van die voortgesette ongeregtighede wat hoofsaaklik arm swart Suid Afrikaners raak uitdaag. Ons beweeg dalk nie so vinnig nie, maar ons beweeg wel.

In die kerk is daar egter ‘n groeiende ander stem as die een wat sê

“om te maak of dit vandag steeds ’n kwessie van rassisme is, is op sy beste ’n teken van oningeligtheid en op sy slegste ’n teken van moedswilligheid of onnoselheid”.

Dit is die stem van ‘n groende groep lidmate en predikante wat erken dat hulle sukkel met hulle eie witheid. Hoe meer hulle deel van hierdie land word, veral psigologies hulleself as deel van ‘n Suid Afrika van 50 miljoen mense, nie 5 miljoen nie, beleef, hoe meer raak hulle ook bewus dat hulle gesosialiseer is om wit te wees.

Nee Neels, dit is nie oningeligtheid, moedswilligheid of onnoselheid wat maak dat ons rassisme (al sou ek die woord dalk met een van sy ander verbuigings wil vervang, maar dis nie nou so belangrik nie) as ‘n voortgaande probleem in die NG Kerk sien nie. Dit is omdat ons dink dat om eerlik op die tafel te sit dat ons steeds worstel met ons eie geras wees ons verder gaan help om te worstel met hoe ons dag na dag, Sondag na Sondag, verder wegbeweeg van die wêreld van wit bevoordeling en swart onderdrukking.

So ek dink ons kan maar gemaklik met Jansen saamstem: die mure van hierdie plek moet afgebreek word en iets nuuts moet opstaan. Dis mos maar hoe die kerk nog altyd gepraat het. Oor doodgaan vir ‘n ou lewe en opstaan in nuwe lewe. Van ons sien reeds tekens van hierdie voortgaande opstanding ook in die NG Kerk, maar ons erken tog dat ons nog op die lang pad van sterf vir die ou self is, op die lang pad om die mure van die tempel af te breek sodat iets nuuts gebou kan word.

Want jy sien, die georganiseerde kerk is wel die een plek waar jy nog sonder inmenging wit kan wees, maar dit is deels omdat die georganiseerde kerk die een plek is waar wette nie die skyn van verandering kan bring nie. Dit is deels omdat al wat hier verandering bring is diep oortuiging. Die kerk bly immers ‘n organisasie van vrywilligers.

Jansen het tog maar die antwoord tot ‘n mate namens die kerk gegee: “Christus se opstanding gee my hoop vir ’n nuwe begin, selfs in die (NG?) kerk.”


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 1 970 other followers