God se genade?

Ek dink baie keer dat Luther, Calvyn, of dalk spesifiek hulle fans, gans te suksesvol was. Deur die eeue het ons reggekry om die soli’s tot absolute belaglikheid te verhef. My eerste ervaring hiervan was op die ouderdom van 16/17, toe ek in my naïviteit met ‘n baie goeie vriend van my gesels het en vir hom gesê het dat ek dink iets in sy lewe sal moet verander. Goed geskool in Gereformeerde teologie, of so het beide van ons gedink, het hy my net vertel dat God hom sal vergewe daarvoor…

My universiteitsjare het my oor en oor by die punt gebring dat Jesus darem maar vrek baie gepraat het oor hoe ons moet leef vir iemand wat gekom het om ons net te vergewe as ons dit nie doen nie. Ek het begin sien hoe verkeerd die idee is dat die bergprediking (Matteus 5-7) net daar is om ons te laat sien hoe sondig ons is, sodat ons vergifnis meer kan waardeer. Meer en meer het ek besef: Jesus het gepreek oor ‘n manier van leef. Jy kan nie daarvan wegkom nie!

Elkgeval, dis nou sola gratia waaroor ons praat: Die “Gereformeerde beginsel” van alleen genade. Ek sien Zuma ken hom ook, en gebruik dit, nes my vriend van destyds, om homself teen Tutu en God te beskerm. Maak nie saak wat Zuma gedoen het nie, Tutu moet hom vergewe, en mag dus nie langer vir hom sê hy was verkeerd nie, want God het hom vergewe.

Dis asof ons hele enterprize van die laaste klomp eeue net twee vrae vir mense beantwoord het:

  1. Hoe kan ‘n goeie God mense hel toe stuur?
  2. Hoe kan ek myself in die hemel kry?

En die antwoorde? God kan nie, hy gee vir mense die hemel as ‘n geskenk, uit genade alleen. En jy kan jouself ook nie in die hemel kry nie, dit is ‘n geskenk, jy kan maar net glo. O, en om te glo is ook genade (en bitter vinnig eindig jy by uitverkiesing en ‘n hele kan wurms wat jy maar net moet glo en nie oor vrae moet vra nie).

Dalk is die vrae vir vandag bietjie anders:

  1. Het God enigsins belang by hierdie wêreld?
  2. Wat beteken dit vir my?

En die antwoord, en dis nie ‘n nuwe antwoord nie: Ja! Dis ‘n goue draad dwarsdeur die geskiedenis van die teologie, van die vroegste gedagtes oor Yahweh (die Joodse naam vir God), deur die prediking van Jesus, en deur die geskiedenis van die kerk. God het belang by hierdie wêreld. As dit niks beteken vir my nie, as dit nie verander hoe ek leef nie, dan is ek at odds met God.

Advertisements

4 Responses to God se genade?

  1. Hans Matthysen sê:

    Riaan, ek glo ook dat God moet in beheer wees van my wêreld ten spyte wat daar buite in die wêreld aangaan.

    Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

  2. God is in beheer van die wêreld. God het ‘n spesifieke doel en God laat regerings en ouens soos Zuma toe om sy perfekte wil te laat geskied. God gebruik nie net Christene nie, Hy gebruik enige iemand.

    God is dieselfde van die begin en is steeds dieselfde. God kan dus nie teen Homself gaan en nie, maar God se meesterplan en wat ook genade genoem kan word was om Jesus in ons plek te straf vir ons sonde.

    Maar genade en vergifnis loop hand aan hand in die sin dat elkeen wat sy sondes bely vergifnis sal ontvang. Dit beteken dat as ek aanhou sonde doen ek nie net eenvoudig daarvoor vergewe word nie. Vergifnis en ganade volg op belydenis.

  3. cobus sê:

    Vriend Baas. Wel, ek vind myself tuis in die Joods-Christelike teologiese tradisie, en binne hierdie tradisie het ons nog altyd gepraat van ‘n God wat in die geskiedenis betrokke is, daarom die woorde: “Dis ‘n goue draad dwarsdeur die geskiedenis van die teologie, van die vroegste gedagtes oor Yahweh (die Joodse naam vir God), deur die prediking van Jesus, en deur die geskiedenis van die kerk. God het belang by hierdie wêreld.” Binne ‘n anders geloofs/teologiese tradisie sal jy natuurlik ander antwoorde kry.

  4. Baas Klaas sê:

    1. Het God enigsins belang by hierdie wêreld?

    Myns insiens is die voor-die-hand-liggende antwoord: “Nee!”

    Weet nie hoe jy by “Ja!” uitkom nie…

    2. Wat beteken dit vir my?

    Myns insiens dat jy self vir die goeie moet kies, aangesien dit insigself bevredigend is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: