publiek teologiese en politieke debat by TUKS

As deel van my nuutgevonde politieke bewussyn wat uit die laaste 6 maande tot ‘n jaar kom, is ek betrokke gewees by die reël van debat tussen 5 verskillende politieke partye rondom die tema: “Why should Christians vote for our party?“. Moet sê, dit sou dalk nie my verwoording vir ‘n tema gewees het nie, maar tog goed om bietjie te hoor hoe partye hulle verhouding met die Christelike geloof sien. Hierdie was die sprekers:

  • rev Kenneth Meshoe (ACDP)
  • dr Mathole Motshekga (ANC)
  • mr Willem Doman (DA)
  • dr Pieter Mulder (VF+)
  • Ms Nolitha Vukuza (COPE)

Drie van hulle was voorheen akademici, en twee was predikante.

Eers ‘n paar algemene opmerkings:

  1. Ek is impress met ons land se politieke vernuf! Al 5 wat gepraat het, het my impress. Oor al 5 het ek gevoel dat ek nie sal omgee as hulle betrokke is by die skryf van ons grondwet nie. Die probleem is nie die ANC se beleid nie, alhoewel die VF+ en ACDP daarvan sal moet verskil, siende dat verwysing na God drie-enig in die grondwet vir hulle belangrik is, maar die probleem is dat die ANC nie doen wat hulle sê nie!
  2. Ek is bekommerd oor die ANC se onkritiese verkondiging van die sterk meerderheid, Motshekga se idee dat die eenheid en grootte van die ANC in hulle guns tel teenoor die diversiteit van die ander partye. Al het die ANC met ‘n baie beter rekord gesit vir die laaste 15 jaar, dink ek nie ‘n twee derde meerderheid is ooit gesond as ‘n party vereis dat al sy lede dieselfde moet stem op sekere sake nie!
  3. Baie sterk klanke van koalisies word deur die opposisie partye gemaak, veral die VF+ en DA. Die opposisie plaas ook hoop op COPE, en Mulder het in soveel woorde gesê dat COPE asseblief beter moet doen sodat ons die ANC onder 50% stemme gedruk kan word.

Nou ja, die teologie… dit is maar min gewees dink ek, en ek het nie notas gemaak nie, so ek skryf nou maar uit die vuis uit so paar opmerkings.

  1. Meshoe verwys baie na Bybelse beginsels vir families, maar dit is uiteraard maar half vaag watter beginsels hy na verwys. Altyd die probleem as jy sterk konserwatiewe standpunte Bybels wil verdedig, dat daar maar ‘n paar beginsels is wat liewers nie oor gepraat moet word nie. So sy teologie was maar algemene verwysings na misdaad wat baie hard gestraf moet word en families wat baie belangrik is. Wil voorkom of dit baie sterk deur Ou Testamentiese wetstekste wat die bestuur van die samelewing moet help bepaal beïnvloed is, asook iets soos ‘n Deuteronomiese verstaan van die opvoeding van kinders.
  2. Motshekga. Ek het die man jammer gekry, regtigwaar. Moet moeilik wees om in so ‘n forum te verskyn terwyl ‘n 8 jaar lange hofsaak teen jou president op tegniese punte uitgegooi is, en hy na 8 jaar nog nie onskuldig bewys is nie (al was hy moontlik, dit tel ongelukkig nou maar min). Ook moeilik wanneer iemand soos Desmund Tutu besig is om jou party en leierskap so sterk aan te vat. Van teologie was hier niks sprake nie, soos op soveel ander plekke ry die ANC op hul geskiedenis, in hierdie geval hoe kerklik hul verlede is. Saam met dit het hy probeer argumente maak vir die sterk Christelike invloed van Zuma, maar dalk was ‘n Universiteitsomgewing nie die beste plek hiervoor nie.
  3. Vukuza se mees uitstaande teologiese uitspraak was dat die lewe en boodskap van Jesus polities was. Hoeveel sy verstaan van die studies hier rondom weet ek nie, maar ek stem uiteraard heeltemal met haar saam. Alhoewel haar spesifiek Christelike taal waarskynlik die minste was van die 5, vind ek as publieke teoloog by haar betoog die meeste aanklank, want die enigste rede wat ek by haar kon hoor vir hoekom Christene vir haar party moet stem was omdat die sosiale kwessies wat vir hulle belangrik is sou aansluit by dit wat vir my as Christen belangrik is: opheffing van armoede, leiers wat sterk etiese voorbeelde stel ens.
  4. Doman bou sy teologie op Romeine 13 wil dit vir my lyk, die onderdanigheid aan die staat. Alhoewel hy vir baie sterk Christelike waardes oorkom, is ek bietjie bang vir die piëtistiese klanke wat ek by hom hoor, wat geloof tot die private sfeer verskuif. Hy het baie verwys na die DA se goeie werk, maar die spanning tussen die private geloof en die publieke teologie was baie duidelik te bespeur. Die DA sal definitief bietjie aan hierdie argument moet werk.
  5. En dan Mulder. Ek is gewoonlik uiters krities op die VF+, so ek wil darem spesiaal vermelding maak vir die indruk wat hy op my gemaak het. Ek het waardering vir sy erkenning van ander partye, spesifiek COPE, en die VF se rol as ‘n minderheidsparty. Teologies was Mulder se klem egter gebou op die tipiese regse high profile issues (aborsie en homoseksuele huwelike), tesame met ‘n sekere verstaan van Matteus 10:32-33 (“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is”).

My opsomming van wat ek gehoor het sou dus wees dat partye teologies soos volg beskryf kan word:

  • VF+ en ACDP is sterk godsdienstig maar vanuit die publieke teologie vind ek hulle naïef. (Maar beide kandidate het my in hulle individuele hoedanigheid impress).
  • Die ANC en DA is teologies gekastreer. Die ANC a.g.v hulle slegte geskiedenis die laaste paar jaar, en die DA a.g.v die Afrikaner se verhouding met apartheid.
  • COPE is teologies stil. Hulle is 4 maande oud, en hoe COPE in die toekoms teologies gaan praat is nog onduidelik. Dandala se invloed sal sekerlik hier ongetwyfeld belangrik wees.

Hierdie observasies erken ek as sommer ligtelik gemaak, en net op grond van die stem van een verteenwoordiger van die party, en sonder dat ek notas gemaak het. So voeg gerus by, bevraagteken ens. Help dat mens iets kan sê van hoe partye teologies hulleself sien.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: