so stukkie afstand sal goed wees

Dat ons hier in Suid Afrika met ‘n ernstige vlaag van fundamentalisme te doen het is ook nou nie meer ‘n geheim nie. Mens verwag dit seker in die briewekolom van die Kerkbode, amptelike koerant van die NG Kerk. Mens verwag elemente daarvan op die Dopper sinode. Mens verwag dit by Shofar en CRC, en ‘n menigte ander kerke op mushroom hier rondom ons. Maar as jy dit in die Beeld, grootste Afrikaanse dagblad in die land, lees, dan moet jy weet, dit is hier.

Die fundamentalisme kom in verskillende vorme. Daar is die calvinistiese soort, die charismatiese soort, die wegraper soort, die ek-pas-nêrens-in-nie-maar-het-al-die-antwoorde soort, die vêr-regse soort. Maar hulle almal het dit in gemeen: Hulle is Christene, die Moslem, Hindu en Joodse fundamentaliste is maar in die minderheid hier by ons, en hulle lees die Bybel.

‘n Vriendin vertel my noudiedag dat ‘n prominente Afrikaanse meisieskool die gedeelte oor evolusie uit in die matriek silabus skip. Iemand anders van ‘n laerskool waar daai hoofstuk toegestaple is. Nog een van hoe hoërskool seuns ‘n Christen onderwyser aanvat in die klas omdat sy goed “teen die Bybel” leer. Mense verlaat die geloof, en doen so onder die vooronderstelling dat die Bybel gekant teen die goeie intelek is, so asof dit dan mos algemeen aanvaar word dat die Bybel letterlik gelees moet word.

In hierdie klimaat moet daardie boek of baie vinnig weggepak word, want anders het hy die potensiaal om ongelooflike skade te verrig, of ons gaan hom bitter vinnig moet leer reg lees.

Reg lees? Ja, ek weet. Ek’s nie naïef nie, ek weet daar is nie een “regte interpretasie” van tekste nie. Maar daar is ‘n ruimte waar binne ons moet lees. En vir ‘n begin moet ons ‘n kritiese afstand tussen onsself en hierdie boek kry. Dit is iets wat die immergewilde massa-opswepende-predikers wat ons Afrikaner volkie in nuwe rigtings laat ly skynbaar nie verstaan nie. Daai boek is nie vir jou geskryf nie! Hy vertel nie van ‘n wegraping wat in jou leeftyd gaan gebeur nie, sy gesinne werk anders as joune, sy huwelike ook, sy son en maan is op ‘n ander plek as joune. Hy is nie vir jou geskryf nie. As ons dit ten minste net sal onthou verhoog die kanse dat ons hierdie boek sal kan aanhou lees sonder dat hy onherroeplike skade aan ons land aanrig aansienlik.

Advertisements

9 Responses to so stukkie afstand sal goed wees

  1. […] elke teks interpreteer homself Hierdie word ‘n reeks wat skynbaar oor maande uitgestrek word, maar waarheen ek ook heeltyd terugkeer. Dit gaan nou oor hoe interpreteer ons die Bybel in ‘n postmoderne tyd. […]

  2. cobus sê:

    Egon, jammer jy kon nie die gesprek wat oor hierdie post op facebook ontstaan het volg nie. Ek trust nie jou idee dat mens werklik objektief kan wees nie. En ek het gedog ons is in die tekskritiek lankal verby die punt waar ons actually dink ons gaan die oorspronklike geskrifte vind.

  3. Egon sê:

    Julle relatiewe posisie is nog te naby aan die objek om objektiv te wees.
    Nog net een stapie terug.
    Warskynlik is daar so iets soos “die absolute waarheid”. Alle gelowe beweer dat hulle dit het.

    As ‘n mens bietjie na die ander gelowe kyk is mens altyd verbaas oor hoe blind almal agter absurde idees aan loop.

    Net so is dit as ‘n mens kyk hoe die gelowe ontstaan het. Kyk gerus na die oorspronklike skrifte. Kyk na Nag Hammadi skrifte.

    As julle klaar is daarmee dan stel julle self die opregte eerlike vraag. Is ons anders?

  4. […] is ‘n reaksie op twee posts terug se bespreking van ‘n kritiese afstand, en die belofte van ‘n paar gedagtes oor interpretasie in ‘n post-modernde tyd. En nou […]

  5. Dankie vir jou verduideliking Cobus. Ek stem saam dat die kritiese afstand ons help om die teks beter te verstaan. Ek het ook eksegese baie geniet by Tuks maar my belewenis was dat ons erg modernisties gedril is. Jou beskrywing “Where moderns (and this in large part was how we were trained) did exegesis to be able to teach a purer truth, a more correct interpretation, a perfect analysis that can withstand the rational scrutinizing of intellectual congregants…” is baie raak.

    Dit het veroorsaak dat ek al hoe meer klinies na die teks begin kyk het. Die uiteinde daarvan was dat die teks sy appel op my lewe begin verloor het. Dit het baie jare se worsteling gekos om die punt te bereik waar ek ‘n kritiese, “objektiewe” lees van die Bybel kon integreer met my persoonlike verhouding met God.

    Hierdie is die storie van baie teologiese studente en lê aan die wortel van die onsmaaklike bakleiery in die fakulteit nie te lank gelede nie.

    Dit is baie belangrik om fundamentaliste en Christene wat bloot naief is oor die historiese konteks en ontstaansgeskiedenis van die Bybel, te help om ‘n kritiese afstand op die tekste te kry. Maar dan mag ons hulle nie daar los nie! Dit is in my opinie die grootste fout wat teologiese fakulteite maak.

    Te dikwels word naiewe studente net gebombardeer met al die kritiese probleme in die teks, sonder om hulle te help om weer tot ‘n sintese te kom waar hulle die Bybel weer met hulle geloofslewe kan integreer. Dan eindig baie van hulle op as ateiste. Kletskerk is vol van hulle.

    Waarvoor ek pleit is dat ons versigtig moet werk met fundamentaliste, al is hulle verkeerd. Dis gewoonlik ‘n redelike lang en pynlike proses om deur hierdie issues te worstel.

    Hierdie gesprek is een van die belangrikstes in die kerk want dit is fundamenteel vir ons self-verstaan (lees identiteit) as Christene wat in ‘n komplekse mosaiek van pre-modernisme, modernisme en post-modernisme leef. Dis van alle gesprekke waar dat ons baie mooi na mekaar moet luister, maar veral van hierdie een!

    Ek sien uit om jou gedagtes oor ‘n post-moderne hermeneutiek te lees.

  6. Ek dink ek verstaan wat jy bedoel met “Daai boek is nie vir jou geskryf nie!”, maar die implikasies wat hierdie spesifieke stelling kan gevaarlik wees. Per implikasie ontken hierdie stelling die God geinspireerde aard daarvan, want dit impliseer dat God dus nie daarme rekening gehou het dat daar nog op hierdie stadium mense sou wees wat die Bybel probeer gebruik om ‘n boodskap daaruitte kry nie. Ek verstaan dat wat jy eintlik probeer se^ is dat die mens die Bybel moet “reg lees”.

    Die ironie is dat ‘n oppervlakige interpretasie van jou stelling net so gevaarlik is as ‘n oppervlakige intepretasie van die Bybel.

  7. cobus sê:

    Andries, dankie vir die kritiese lees. Paar plekke dalk waar ek die goed beter sou kon verwoord. Maar kom ek probeer verduidelik.

    Ek dink die wêreld is vol tekste wat ons almal erken “nie vir ons geskryf is nie”, maar wat ons tog steeds lees en betekenis daaruit put. Dink maar aan enige storieboek, enige fliek. Ons het van nature ‘n kritiese afstand, maar bly instaat om betekenis te vind daarin.

    Ek het my eie verstaan van lees onder andere hier opgesom. Binne hierdie perspektief sal die kritiese afstand, die dubbele “hy is nie vir jou geskryf nie” met die uitroepteken agteraan, nie die waarde van die teks, of die betekenis wat daarin gevind kan word enigsins verminder nie.

    Inteendeel, in my verstaan is dit juis hierdie kritiese afstand wat my help om die teks te lees en betekenis daaruit te vind. Ek lees dat as ‘n “ancient spirituel text”. ‘n Boek wat vir my insig kan gee oor hoe daar op ‘n tyd oor God gedink is. Op hierdie manier kan ek betekenis vind selfs daar waar daar geen moontlike pragmatiese toepassing van ‘n sekere gedeelte is nie. Op hierdie manier raak die boek nooit “uitgedien” nie.

    Dalk moet ek ook net hier noem dat hierdie post intend was as ‘n eerste van ‘n paar waarin ek wil probeer verduidelik hoe ek die teks lees. Gister se gesprek het my nou heeltemal gesidetrack, anders was die tweede aflewering al gepost. Maar hopelik sal dit dan duidelik word hoe hierdie kritiese afstand wat ek as eerste beginsel gebruik uitgepak word in ‘n post-moderne hermeneutiek… ek hoop…

    As ‘n side note. Ek is heeltemal gemaklik met jou benadering van ‘n teks wat vir ONS geskryf is ook. Hopelik het my waardering van die lees binne tradisie benadering al voorheen geblyk, en blyk dit weer soos wat ek oor hierdie netelige ou sakie blog.

  8. Het sopas die hele draad tot sover op Facebook gelees (ek dink omtrent 43 comments) en verstaan dat jou basiese definisie van fundamentalisme ‘n denkpatroon is wat geen ruimte vir die ander standpunt laat nie. Dit is gewoonlik ook ‘n teologies konserwatiewe standpunt.

    Ek wil graag kommentaar lewer op jou stelling: “Daai boek is nie vir jou geskryf nie!” Jy kwalifiseer dit minstens met “Hy vertel nie van ‘n wegraping wat in jou leeftyd gaan gebeur nie, sy gesinne werk anders as joune, sy huwelike ook, sy son en maan is op ‘n ander plek as joune.” Maar jy kan nie ‘n uitroepteken na daai stelling sit, dit herhaal en weer ‘n punt daarna sit nie. Ek weet jy kom terug daarna dat ons hierdie boek moet aanhou lees maar ons moet verder gaan as dit.

    As ons volstaan met “Daai boek is nie vir jou geskryf nie!”, wat is dan die doel en plek van hermeneutiek? Hoekom preek ons dan nog? Is dit nie juis omdat daai boek OOK vir ons geskryf is nie?

    Ek hoor jou, te veel Christene onderskat of ignoreer eenvoudig die Bybel se historiese en kulturele konteks, lees die Bybel so plat soos ‘n pannekoek soos prof Jurie sou sê.

    Maar as hierdie boek nie OOK vir my en vir jou geskryf is nie dan onderskat en ignoreer ons ook ‘n ander konteks wat inherent deel van die Bybeltekste is. Al die Ou Testamentiese en Nuwe Testamentiese geskrifte het binne die konteks van ‘n gemeenskap ontstaan, meer spesifiek ‘n GELOOFSgemeenskap.

    Dit het binne geloofsgemeenskappe gegroei en is telkens binne nuwe kontekste (nuwe tye, plekke en gemeenskappe) geherinterpreteer. Dit geld vir die skeppingstradisies, aartsvadertradisies, eksodus-tradisies, Sinai-tradisie ens. In Matteus 5-7 word Jesus geteken as ‘n nuwe Moses wat in die Sinai-tradisie teen die berg opgaan en ‘n “nuwe” wet vir die nuwe gemeenskap van dissipels aankondig.

    Paulus skryf aan die gemeente in Korinte “Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het.”

    Die mooiste teks vir my in die verband is 1 Joh 1. “Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe…” en hier kom die kruks van die saak in vers3: “Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het is die met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.”

    Die doel van die Bybelverhale is tog ook om jou as die leser subjektief in die verhaal in te trek. Dit moet ook met jou as leser in die 21ste eeu praat, jou uitdaag en jou verander.

    Die res van die kerkgeskiedenis is ‘n voortsetting van hierdie tradisie. Miskien is jy tog reg dat hierdie boek nie vir JOU geskryf is nie. Hy is vir ONS geskryf. En ONS beteken almal van ou Israel af, deur die vroeë kerk en die middeleeue, deur die verligting tot by ons vandag. ONS beteken ook dat ek nooit die Bybel in isolasie van ander Christene behoort te lees nie, veral nie in isolasie van Christene wat anders dink as ek nie.

    Jy het dit op baie ander plekke al duidelik gemaak dat jy nie pleit vir ‘n “objektiewe” modernistiese lees van die Bybel nie so ek wil jou nie daarvan beskuldig nie. Ek probeer maar net sê dat dit hier amper klink of jy dit doen.

    In my ervaring help dit nie om fundamentalisme aggressief te beveg nie. Dit maak mense net meer fundamentalisties. Mense moet liewer gehelp word om die engheid van hulle eie fundamentalisme raak te sien. Vir my persoonlik was dit ‘n baie lang, verwarrende en pynlike proses.

    Die van ons wat die pad van fundamentalisme af geloop het en aan die ander kant uitgekom het as mense wat nog steeds in God glo, moet empatie he (nie simpatie nie) met die wat nog blind is vir hulle eie onverdraagsaamheid.

  9. Hierdie “fundamentalisme” waarna jy verwys is natuurlik nie ekslusief die Afrikaner se domein nie, maar oorkruis taalgroepe en volke. Ek skryf spesifiek fundamentalisme in aanhalingstekens, want dis ‘n gelaaide term wat ook maar telkemale slagoffer word van subjektiwiteit. Dis geneig om oorhoofs gebruik te word en dan te verval in ‘n lelike veralgemening om almal wat ‘n konserwatiewer interpretasie van die geloof (Bybel) het, bloot as “fundamentaliste” te brandmerk en te verwerp en sodoende vir jouself ‘n teologies-morele hoegrond te skep. In die verband speel onoordeelkundige uitdeling van fundamentaliste-etikette dieselfde rol as wat die term “rassisme” so dikwels speel. Ek dink veral Islam kan getuig van die deurlopende afbrekende en verkeerdelike gebruik van die term “fundamentalisme”.
    Ek se nie dis wat jy hierbo poog om te doen nie, maar waarsku maar net teen die baie algemene en soms subjektiewe gebruik van hierdie gelaaide term.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: