elke teks interpreteer homself

Hierdie word ‘n reeks wat skynbaar oor maande uitgestrek word, maar waarheen ek ook heeltyd terugkeer. Dit gaan nou oor hoe interpreteer ons die Bybel in ‘n postmoderne tyd.

Voor ek ‘n volgende stap byvoeg, moet ek net eers iets oor myself sê. Hoe meer tyd verbygaan, hoe minder van ‘n Bybelwetenskaplike word ek. Ek is mal oor die Bybelwetenskappe. Ek lees graag Walter Brueggemann, Marcus Borg en Albert Nolan as ek tyd kry. Jurie le Roux, Gert Steyn en Ernest van Eck het my ongelooflik gevorm in my jare op universiteit. Maar ek word minder van ‘n Bybelwetenskaplike oor tyd.

Ek’s ‘n dominee van ‘n NG gemeente. Met baie vriende wat nie kerk toe gaan nie. Wat beleef dat ek in ‘n krisis situasie is as ek kyk wat in die wêreld aangaan. Wanneer ek Bybel lees, dan lees ek om te probeer reageer op ongeregtigheid, absolute armoede, dreigende rampe, weermagte wat oorlog maak. En wanneer ek mense wil leer Bybel lees, dan is dit kategete, lidmate, kinders. En ek glo hierdie mense mag nie simplisties omgaan met die Bybel nie, want die krisisse van hierdie paragraaf en godsdiens is te nou inmekaar geweef, en die Bybel kan die probleem vererger.

Goed, nou dat dit uit die weg geruim is:

My volgende reël is gevorm op ‘n belydeniskamp. Ons het Kolosense 3 gelees op die kamp, en die jongmense het ons vasgevra soos gewoonlik. Ek kan nie onthou waaroor nie, maar dit was iets in Kolossense 3, en hulle het ontdek dat die Bybel homself weerspreek wanneer jy hierdie gedeelte met ‘n ander gedeelte vergelyk. Niks nuuts nie, ons weet mos nou al lankal dat daar goed is waaroor die Bybel nie ooreenkom nie. Dit het oom Willie Marais gemaak skryf aan boekies wat wys dat alles in die Bybel sin maak, en hy het die vreemste argumente daarvoor gebruik. Meer gematigde dominees het geleer dat alhoewel die Bybel bietjie oor feitelike goed verskil op plekke, dit altyd dieselfde praat oor God.

Die eerlike leser kom egter vinnig agter dis nie so nie, soos my belydenisklas dan nou ook gemaak het. Die realiteit is dat daar teologiese verskille, partymaal drastiese teologiese verskille, in die Bybel is. Ons probeer daarvan ontslae te raak deur te sê Jesus het goed verander van die Ou Testament, en elke keer wat ons iets in die Ou Testament raakloop wat vreemd is dan speel ons hierdie kaart. Dis nie net ‘n kaart wat die kerk nog altyd ten sterkste afgekeur het nie, maar dit los ook nie ons probleme op nie.

Hierdie feite het gemaak dat die Bybelwetenskappe van die laaste paar dekades nie meer gepraat het van ‘n “Teologie van die Bybel” nie (menende ‘n sistematiese samevatting van wat die Bybel oor God sê), ook nie eens meer oor ‘n “Teologie van die Ou Testament” en ‘n “Teologie van die Nuwe Testament” nie. Nee, hulle praat oor “Teologieë van die Ou Testament” en “Teologieë van die Nuwe Testament”. Ons erken dat die wysheidsliteratuur en die profete verskillende perspektiewe het. Dat verskillende profete verskillende perspektiewe, verskillende teologieë, het. Dat Lukas en Matteus en Johannes en Paulus elkeen ‘n eie teologie het.

Terug by die kamp, het ek en my kolega vir hulle gesê ons sal bietjie moet gaan dink oor hierdie baie intelligente vraag. Ons antwoord wat die titel van hierdie post: “Elke teks interpreteer homself”. In ons leesproses probeer ons net vra wat sê hierdie teks, ons probeer nie die hele Bybel te versoen nie. Ons laat die teks homself interpreteer, hoogstens binne dieselfde boek, outeur of tradisielyn, nie randomly in gesprek met enige ander teks in die Bybel nie.

Vir my kategete gaan ek net dit leer. Wanneer ons ‘n teks lees, dan probeer ons hierdie teks hoor, en ons weet dat ander tekste anders praat, en dis OK. Ek dink elkgeval dit is nader aan hoe die vroeë kerk hierdie briewe en dokumente gelees het.

Vorige posts in die reeks:

so stukkie afstand sal goed wees

dis ‘n boek daai, en daar is foute in

Advertisements

7 Responses to elke teks interpreteer homself

  1. […] “In ons leesproses probeer ons net vra wat sê hierdie teks, ons probeer nie die hele Bybel te versoen nie. Ons laat die teks homself interpreteer, hoogstens binne dieselfde boek, outeur of tradisielyn, nie randomly in gesprek met enige ander teks in die Bybel nie.” ♦ –elke teks interpreteer homself– […]

  2. Nelda sê:

    Ons moet onthou dat die Bybelboeke binne ‘n spesifieke tyd, vir spesifieke mense geksryf is, wat in spesifieke omstandighede gewoon het. Die Bybel moet dus krities-histories gelees word en sonder meer direk van toepassing gemaak word op ons lewe vandag nie

  3. mnr.muller sê:

    Uitstekend! Jou kategete is geseën om by jou klas te kan hê 🙂

    Ons kry te veel jongmense ná skool wat opgesweep word tot fundamentalisme/militante ateïsme, omdat hulle nooit geleer het om die teenstrydighede van die Bybel met hulle geloof (en die algemene soeke na sin) te versoen nie.

    Sodra hulle dit besef, is hulle ontgogeld en soek driftig na ‘n bewysbare waarheid; en tereg is hulle die bliksem in.

  4. Albert sê:

    ‘n Mens sal ook moet kyk na die idee dat die Bybel ‘n “volmaakte” boek direk uit die hemel is. Dit is deur mense geskryf en deur mense gekeur. Daarom sal dit die moeite werd wees om te kyk na die manier waarop die goddelike na vore kom met Bybelhantering.

  5. cobus sê:

    Ek stem heeltemal saam. Daarom my verwysing na die groot teks-“blokke” – Paulus, Johannes, wysheidsliteratuur ens.

    Oor my eie betrokkenheid, jy loop nou my proses vooruit, dis die volgende stap:-)

  6. Ronald sê:

    Mikro, makro, mikro, makro! Waar trek mens die lyn?

    As mens se scope nou weer te klein word, dan kan mens maklik in “tweezer”-eksegese verval! Dus, ek stel voor dat mens na die HELE boek (byv. die HELE Kolossense) se “teologie” moet kyk.

    Plus, as mens sê “elke teks interpreteer homself” kan mens dalk vergeet dat jy self ook betrokke is by die interpretasie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: