elkeen lees met ‘n unieke bril

Ek sit my gedagtes voort oor die lees van die Bybel. Ek moet Sondag so bietjie by Raslow gemeente gesels met hulle kategete, en hulle het spesifiek gevra hoe ons die Bybel moet hanteer in kategese, so hierdie is maar my proses van voorbereiding. Dankie dat jy deelneem hieraan.

In die teologie hou ons daarvan om van “konteks” te praat. Veral dan nou om die Bybel “in konteks” te lees. En dis nie net slim Bybelkenners wat dit doen nie, ek hoor dit orals, ook in die gemeente. In konteks kan beteken jy moet nie net die versie uitlig nie, jy moet die hele hoofstuk of boek lees. Dit kan ook beteken dat jy die wêreld waarbinne die gedeelte ontstaan het moet in ag neem, die politiese of ekonomiese omstandighede byvoorbeeld. Ons Bybelwetenskaplikes het wonderlike werk gedoen oor die laaste twee eeue om hierdie konteks te gaan skets en verduidelik.

Partymaal sal ons selfs ‘n volgende stap neem, en raaksien dat sekere idees vandag “binne konteks” ontstaan. Wanneer iemand op die platteland iets sê wat vreemd is vir ons in die stad, dan sal ons sê ons moet sy konteks onthou. Wat ons egter gewoonlik sukkel om te erken is dat ook my eie lees van die Bybel is nie totaal objektief nie, maar is gekleur deur my eie ervaringe. Die mooi manier waarop dit gesê word is dat “alle teologie is in wese kontekstueel”1

Die realiteit is dus eenvoudig so dat wanneer verskillende mense dieselfde deel lees, dan hoor hulle verskillende goed. Jou ekonomiese omstandighede, politieke ideologie, generasie waarin jy gebore is, en bloot jou lewensverhaal, bepaal wat jy gaan raaklees in die Bybel. Vir party mense maak hierdie realiteit hulle bang, hulle hou daarvan dat die Bybel vas en waar is, en dat hulle die Bybel kan gebruik om vir ander te wys wie reg en wie verkeerd is. Maar ander embrace hierdie realiteit, en gaan op ‘n avontuur saam met die Bybel.

Bybel lees in groepe veral word nou ‘n avontuur van dinge ontdek wat ek nooit sou raakgesien het nie. Lees bietjie die Bybel saam met iemand uit die local plakkerskamp uit, of saam met ‘n kid uit die gemeente wat totaal en al clueless oor die leer van die kerk is, en kyk hoe hulle dinge raaksien wat jy nooit aan sou gedink het nie. Die bevryding is dat die dominee nie meet die enigste legitieme interpretasie van die Bybel het nie, en ook nie die kategeet nie, maar dat almal saam interpreteer. Die stemme van jongmense in gemeentes word dan nog ‘n unieke bril wat met respek behandel moet word.

Natuurlik neem dit nie die vorige posts oor Bybelinterpretasie weg nie. Om bloot verskillende versies bymekaar te gooi, of al die problematiek uit die Bybel weg te try argumenteer bring ons nie my die unieke bydrae van jou bril nie. Dit is waarskynlik bloot maniere waarop ons steeds die realiteit probeer verwerp dat elkeen ‘n bril het. Maar wanneer ons ‘n teks lees, dan is daar waarde daarin om ook te hoor hoe ander dit lees, om werklik te luister, en om te weet dat my interpretasie is maar bloot een van baie. Dit bring nederigheid, en dit maak Bybel lees ‘n avontuur.

Hierdie los nie alles op nie. Dit antwoord byvoorbeeld nog glad nie die baie moeiliker vraag: “Hoekom moet ons Bybel lees?” nie. Maar as jy dan nou besluit om te lees, dink ek hierdie is ‘n perspektief uit die laaste 50 jaar wat belangrik is om te onthou.

1 – Bosch, D J. 1991. Transforming Mission. p422-423 het ‘n mooi opsomming hiervan.

Advertisements

2 Responses to elkeen lees met ‘n unieke bril

  1. Hans Matthysen sê:

    Luk 24:45 Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. ( Wie se verstand is vandag oop?)

  2. Dit sou ook waarde kon hê om die leser te begelei om sy/haar eie Bybellees-geskiedenis na te spoor: Is s/hy van huis uit geleer om die Bybel simplisties vers-vers in isolasie te lees? Is s/hy groot gemaak met ‘n “openbaringsprespektief” (i.e. mens lees die Bybel spesifiek om te hoor wat God nou vir die lese wil sê)? Is s/hy geleer om die Bybel te lees as letterlike geskiedskrywing? Is die Bybel net te beskou as ‘n wetboek met voorskrifte?

    Indien mens wil saam lees, moet elke saamleser geleentheid gegee word om die speelveld gelyk te maak mbt interpretasie-verwagtinge, anders gaan die saam-lesers heeltyd by mekaar verby praat.

    Laat weet maar wat jy dink …

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: