Annelie Botes, swart mans maak my ook bang…

Na my vorige post, laat ek maar my vreemde waarderings uitspreek, deur ‘n oombliklike waardering vir Annelie Botes se opmerkings. Natuurlik moet hierdie waardering gekwalifiseer word, sterk gekwalifiseer, maar vir ‘n oomblik, moet ek aan Annelie Botes erken: swart mans maak my ook bang.

Hierdie is ‘n komplekse storie, en om dit te ontken vermoed ek is om rasseverhoudinge in Suid Afrika nog meer skade aan te doen as wat Botes met haar opmerkings gemaak het. Die eenvoudige vergelyking wat sê dat alle rassiste Botes ondersteun, en almal wat nie rassisties is nie teen haar uitsprake is, werk bloot nie. Andile Mngximate se rubriek bring van hierdie kompleksiteite na die gesprekstafel toe deur te wys dat rassisme veel meer as eenvoudige vrees is.

Hanlie Retief se woorde: “En dit het ef-ol met rassisme te doene, keer sy. Sy’t nie ’n probleem “om ’n vurk en tafel en lavatory” met ’n swart man te deel nie.” Dis deels die probleem ek dink. Dat ons geleer is dat ons wonderlike nie-rassistiese mense is as ons “’n vurk en tafel en lavatory” met iemand wat swart is deel. Dan is dit maklik om nie rassisties te wees nie, en kan ons onsself verskans teen die pyn wat gepaardgaan met ‘n beskuldiging van rassisties wees. Beverley Tatum beskryf die pyn van hierdie beskuldiging so beautiful “I once asked a White teacher what it would mean to her if a student or parent of color accused her of being racist. She said she would feel as though she had been punched in the stomach or called a “low-life scum.”” Wat is ons nie bereid om te doen om van hierdie beskuldiging gespaar te word nie.

Ja, ons is bereid om Annelie Botes uit die land weg te wens as dit ons daarmee kan bewys dat ons “nie rassisties” is nie. Of is my interpretasie van die comments waarna hier verwys word heeltemal verkeerd? Want as ek teen Annelie Botes is, dan bewys dit mos hoe progressief ek is…

So laat ek verduidelik: Annelie Botes: swart mans maak my ook bang. As jy vir ‘n oomblik dink ek het die quote verkeerd, lees die hele onderhoud. Die logika loop soos volg: Ek hou nie van swart mense nie; ek verstaan nie swart mense nie; ek vermy hulle, want swart mense maak my bang. Ek wil ook eerlik wees, net Annelie Botes, maar daarom moet ek my uitspraak bietjie verander: swart mans maak my bang. Is dit a.g.v daai mes wat teen my gedruk was? Dit speel ‘n helse rol, en trust me, elke keer as ek rondom die middestad stop dan beleef ek weer daai emosies wanneer ek terugstap kar toe, elke keer vrees ek die karwag wat daar ronddwaal.

Maar ‘n ander verhaal moet ook gehoor word: ons ry die ander dag hier uit die huis uit oppad Menlyn toe. By die robot oor Atterbury straat bedel ‘n swart vrou. Ek vermy haar oë, sukkel om uit te figure wat om met al die bedelaars te doen. By die volgende robot bedel ‘n wit man. Ek sluit die deure, en vermy sy oë. Dis toe wat Maryke opmerk: “jy sluit die deure vir ‘n wit man en nie vir ‘n swart vrou nie”…

Siyabonga Ntshingila begin om van die slegte logika in Botes se argumente uit te wys. Ja, ons moet erken dat swart mense verantwoordelik is vir die meeste “contact crimes” in Suid Afrika, Botes se idee dat Engeland so wonderlik veilig is hou egter nie water teen die syfers nie. Maar ek wonder oor my eie belewenisse: as dit vrees is wat agter haar emosies sit, hoekom swart mense en nie swart mans nie? Hoekom nie ‘n groter vrees vir wit mans as vir swart vroue nie? Ten spyte van die sistemiese issues waarna Ntshingila verwys, en wat dieselfde is vir mans en vroue, is vroue slegs vir 2,2% van gewelds-misdaad in Suid Afrika verantwoordelik. Vir haar as vrou om nou alle swart mense oor dieselfde kam te skeer maak dus ‘n klomp vrae oop.

Daar is egter nog ‘n kant wat genoem moet word, en hier wil ek by die rubriek van Xhanti Payi aansluit: vrees dryf vrees, en om ‘n omgewing te leer ken, en die mense van daardie omgewing te leer ken, verlaag vrees. Charlotte Lemanski skryf in ‘n artikel oor hoe segregasie vrees vir misdaad verhoog op ‘n plek oor wit mense dat “their fear of the increasingly unknown  outside has exploded, leading to further fortification and, hence, deeper fear”. Is dit werklik te gevaarlik om ‘n tamatie te gaan koop? Is dit werklik meer gevaarlik vandag om ‘n tamatie te gaan koop as wat dit wat 30 jaar terug? Gaan dit in Engeland werklik veiliger wees om ‘n tamatie te gaan koop? Is daar nie dalk ook ‘n stuk waarheid in dat vrees nie net verhoed dat ons tamaties gaan koop nie, maar dat die feit dat ons nie winkel toe loop en ‘n tamatie gaan koop nie ook ons vrees verhoog? Is dit net vrees wat maak dat ons swart mense vermy, of is die feit dat ons swart mense vermy nie ook deels verantwoordelik vir ons vrees nie?

Daar is natuurlik ‘n ander saak wat genoem moet word: dit is nou maklik om vir Annelie Botes oor die kole te haal oor haar opmerkings (wat dit seker nou al duidelik is dat ek dink ernstige vrae oor gevra kan word), maar is sy nie bietjie van ‘n soft target nie? Hoekom nie dieselfde reaksie op die Afrikaanse dagblaaie en sondag-koerante wat verantwoordelik is daarvoor om die illusie te skep dat geweld slegs wit mense raak? Is hulle nie verantwoordelik vir die vrees- onkunde- hou-nie-van-swart-mense-nie argument wat Botes uitwys nie? Is sekuriteitskomplekse nie deels verantwoordelik vir ‘n verhoogde vrees wat ons beleef nie? Is die nalatenskap van apartheid nie aan die wortel van die geweld en vrees vir geweld wat ons beleef nie? Voor ons vir Annelie Botes oor die kole haal omdat sy vergeet het om polities korrek te wees (of omdat sy aspris reaksie uitgelok het), moet ons vra hoekom ons nie ons toys uit ons kotte gooi oor ekonomiese ongelykheid, woonbuurte wat steeds volgens ras verdeel is, sistemiese ongeregtigheid wat steeds die bevoordeling weens apartheid instand hou.

Ons kan van vrees getuig, maar kom ons erken dat arm swartmense in Suid Afrika steeds die ergste onder geweld ly, al is dit nie hulle wat die voorblaaie van Afrikaanse koerante haal nie. Vrees troef egter nie alle ander argumente nie. Ons sal moet krities staan teenoor die interpretasies wat gegee word vir die oorsprong van ons vrese. Verder, kritiek op hulle wat nie polities korrek is nie (hoe ongegrond hulle uitsprake ookal) gaan waarskynlik nie ‘n nie-rassistiese samelewing skep nie. Om die waarheid te sê, ons moet vra of die vinnige kritiek teen Annelie Botes se ondeurdagte opmerkings nie maar net ‘n maklike manier is om die oproep na kritiek op die voortgesette ongelykheid in Suid Afrika te vermy nie. Anti-rassisme vir witmense is nie om vir Annelie Botes uit die land te verwens nie, dit is om jou eie bevoordeling op grond van ras krities onder oë te neem, en op grond daarvan jou rol in hierdie nuwe Suid Afrika te gaan soek.

Advertisements

3 Responses to Annelie Botes, swart mans maak my ook bang…

  1. cobus sê:

    Gaan lees weer, ek weet Botes het dit nie gesê nie, ek het dit gesê.

    Die aanhaling van haar was: “Ek wéét hulle’s net sulke mense soos ek. Ek wéét hulle’t dieselfde regte as ek. Maar ek verstáán hulle nie. En dan… hou ek nie van hulle nie. Ek vermy hulle, want ek’s bang vir hulle.”

    Ek het dit verander om my eie woord na mans te verwys.

    Ek versoen goed seker maar moeilik met mekaar, maar verstaan ongelukkig nie in hierdie geval waarna jy verwys nie.

  2. Botes het nooit gese “swart mans maak haar bang nie”. Gaan lees maar weer.
    Uit die naam van jou blog lei ek af jy is ‘n gelowige? Hoe versoen jy jou uitsprake met jou geloof? Dit stryk regtig nie lekker nie.

  3. […] huidige misdaadsituasie veroorsaak het), soos wat Andile Mngxitama duidelik uitwys (dit het ek by Kobus gesien).   Nietemin,  Annelie se aanmerkings is nie  kwaadwillig en met voorbedagte rade […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: