Inleiding: gedagtes oor ouderdom en mag

Ek is nie seker waar hierdie blogposts hul geboorte gehad het nie. My eie posisie as jong dominee het seker hierop ingespeel (ek het waarskynlik daardie posisie verloor, mens hou dit nie lank nie, maar ek was vir ‘n tyd lank die jongste dominee in die sinode gewees, en ek vermoed moontlik vir ‘n oomblik in die NG kerk ook), die verhale van soveel vriende en (veral?) vriendinne se belewenisse in eerste gemeentes sonder twyfel.

Die belangrikste was egter moontlik my eie werk op mag. ‘n Vrou in ons gemeente het eendag vir my gesê dat sy glo vroue sien die magsverhoudinge wat rondom ras en die wit genormaliseerde posisie inkom makliker raak, omdat hulle iets van aan die verkeerde kant van ‘n genormaliseerde posisie leef beleef as vroue. Ek het heeltemal saamgestem. Van die ander kant af dink ek dat as ek die analises van feministe verstaan, dan help dit my om soortgelyke probleme rondom ras te kan raaksien, en dieselfde kan gesê word vir die hele pakkie van dominante genormaliseerde posisies wat ons in die wêreld geskep het (wit, manlik, heteroseksueel, Christen ens).

My eie leeswerk oor witgeid (ag ek love daai woord, dit bring so mooi die werklike vreemdheid van die wit posisie na vore) het veral my gehelp om patrone te begin raaksien. En natuurlik moet ek ‘n tweede keer die feministe noem. Nie dat ek al genoeg ure van my lewe gewy het daaraan om feministe te lees nie, maar die bietjie wat ek met hulle te doen gehad het, het my lewe totaal verander, en ek glo vas dat dit een van die belangrikste bewegings van die 20ste eeu was, en een van die belangrikstes van die 21ste eeu gaan bly. Hierdie reeks gaan nie oor gender nie, maar in die kerk moet ons nog baie oor gender praat. En wanneer dit oor ouderdom gaan, dan kom gender definitief ook in spel.

Ouderdom is waaroor dit gaan. Ek skryf in die dae wat kom oor ouderdom en die verhouding tussen predikante van verskillende generasies. Of wat ek raaksien op ander plekke as die kerk ook geld weet ek nie, ek skryf maar uit die wêreld wat ek ken.

Voor ek egter begin moet ek net die volgende skryf, en dit dalk die enigste doel van hierdie eerste blogpost: Ek wil op geen stadium maak asof ouderdom op dieselfde vlak as geslag, ras, seksualiteit of godsdiens funksioneer nie. Ek besef dat ouderdom ‘n heel ander ball game is (dalk veral omdat almal iewers in hulle lewens beide kante van die saak beleef). Wat ek skryf is dus suiwer eksperimentele gedagtes wat met tye moontlike ooreenkomste rondom ouderdom en ander vorme van sosiale magsstrukture uitwys.

Advertisements

One Response to Inleiding: gedagtes oor ouderdom en mag

  1. Herman sê:

    Ouderdom het niks met jare, ure en minute te doen nie, maar alles met denke en ingesteldheid.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: