Oor Zuma se hemel en hel drama

Onthou jy nog “Die hemel en die hel” drama? Daai oefening waar verskillende scenes afspeel waarin mense doodgaan, en dan kom hulle elke keer voor die hekke van die hemel en hel te staan, waar die groot regter oor hulle oordeel. Party van hulle is jongmense was dronk na partytjies ongelukke maak, en wie weet watse slegte mense nog als. En wanneer die regter besluit dat hulle lot die ewige vuur sal beland, dan kom die duiwel met al die effects moontlik op die stage, en sleep die arme gillende akteur van die verhoor af. Aan die einde word kaartjies na die hemel verkoop deur ‘n gebed wat gebid moet word, waarna in goeie evangeliese taal jy gewaarborg word dat maak nie saak wat nie, jy sal eendag in die hemel wees, waar almal wit en goud sal dra omdat hulle deel van Jesus se party was.

Ek het ook in so konsert gespeel.

En dan verskyn Zuma op die scene. Geensins vreemd dat hy godsdiens en politiek vermeng nie. Met die vorige verkiesing het hy en vader Ray immers ‘n lekker sessietjie daar op stage saam gedeel, en almal wen, alle kante toe. Ons sou hoor dat hy ook pastoor is van een of ander onafhanklike kerk iewers. Nogals ironies nie waar nie, dat Suid Afrika weereens ‘n predikant vir ‘n president het. Maar die figuur wat nog altyd godsdiens en politiek vermeng het nou skynbaar te ver gegaan. Om by ‘n ANC rally op te staan en die hemel te beloof aan almal wat vir jou stem, te sê dat in die hemel jy die kleure van die party sal dra, en dat almal wat verkeerd stem die hel sal verkry het die kat in die hoenderhok losgemaak. Amper soos met Jesus se tyd is alle partye bereid om hom hiervoor te kruisig: SARK, NGK en Zille. As ons nou nog net vir Barnabas Lekganyane (leier van die ZCC) by hierdie lysie kan voeg, dan het ons sekerlik die sterkste opposisie wat jy maar aan kan dink. Almal verenig teen Zuma wat die hemel en die hel verkoop.

Maar hier is ‘n ongemak wat in my knaag wat ek nog sukkel om uit te figure. En wat ek hier skryf is seker maar net nog ‘n poging om dit te try doen.

Jy sien, obviously is Zuma se uitspraak bietjie belaglik. Die lysie redes hoekom dit belaglik is dat die ANC die regter oor hemel en hel is kan nogals lank aangaan. Maak nie saak of jy bekommerd dat die ANC dalk letterlik in die geheim ‘n groot gat in die Karoo gegrawe het waarin hulle verkeerde kiesers gaan afgooi tot in die hel wat die onderste verdieping van ons plat aarde is, en of jy dink die hel is ‘n metafoor vir enige omstandighede in either hierdie of ‘n volgende lewe nie, dat die ANC die regter is bly lagwekkend. Maar die reaksies is nie om van te lag nie! Ek bedoel, is dit nie net te beautiful nie. Helen Zille maak groter lawaai as die SARK omdat Zuma die hemel en die hel beloof. Is dit nie die grap van die jaar nie?

En dan is daar die ernstige teologiese vermaning van die SARK. Zuma mag nie met escapist teologie omgaan nie. Hy mag nie verlossing vir die hiernamaals verkondig nie, en so ‘n opium vir die mensdom aanbied nie (nee, die SARK het nie hierdie woorde gebruik nie), maar moet fokus op die werkloosheid en honger van mense hier. En ek moet applaud, ek stem heelhartig saam met die teologiese visie van die SARK. Maar wat impliseer ons as ons Zuma op teologie pak. Ek bedoel, ek lê regtig nie nagte wakker en wonder oor waar ons die mees koplekse teologie gaan kry, by die SARK of die ANC nie. Ons weet dat volgens die interne logika van die teologie maak die SARK veel meer sin. Maar kan ons ‘n politieke rally oordeel volgens die interne logika van die teologie? Ek bedoel, dan moet ek iewers Zille se speech wat sy in Mamelodi aangebied het terwyl Zuma besig was om die hemel en hel drama te reenact in die hande kry om die interne teologiese logika daarvan ook bietjie na te kyk. Want sou sy waag om Bybelse terme soos “geregtigheid” te gebruik, beter dit teologies regverdigbaar wees.

Ek vermoed egter dis veilig om te sê dat niemand werklik worry oor die teologiese koherensie van politieke uitsprake nie. So waaroor dan die issue? Waaroor die ongemak wat ons almal het? Ek vermoed dit is omdat hierdie bekende metafore ‘n totalitêre (daai’s darem vir jou ‘n vieslike Anglisisme) aanslag het. Dit maak universele aansprake van verlossing. En dit soek ons nie van die ANC nie. Nou kom ons vergeet eers vir ‘n oomblik van die feit dat die kerke en godsdienste meeste van die tyd presies dieselfde doen, en vra ‘n ander vraag: hoekom sê ons dan nie dat dit die probleem is nie? Hoekom het ons nie die speech geluister, en gesê dat ons ernstige probleem het as ‘n politieke party claim om die enigste weg tot verlossing (nie geestelike verlossing nie, maar politieke verlossing) te wees nie? En ek vermoed dis eenvoudig omdat ons eintlik stilweg aanvaar dat alle politieke partye dit doen. Ons verwag dat die leier van politieke partye moet opstaan en met allerhande politieke leuens vir ons moet vertel dat daar net een moontlike sinvolle opsie is om voor te stem, genoemde leier se party.

En dit is my issue. Dat ons vrede het daarmee dat politieke partye uitsprake maak wat claim dat daar net een opsie is. Dit terwyl ons in hierdie land veronderstel is om te bou aan ‘n sinvolle multi-party demokrasie. Is elkeen van hierdie rallies nie dan in wese problematies nie? Is enige party wat iets meer doen as om te sê “hierdie ideologie is waarvoor ons staan en hoekom ons dink dit ‘n belangrike stem in die land kan wees” nie besig om ‘n meer gesofistikeerde Zuma drame op stage te sit nie?

As beide Zille en die kerke hulleself net by die blatante godsdienstige retoriek gaan hou, vermoed ek gaan my ongemak bly. Ons kritiek is dan maar net ANC-bashing, en nie werklik konsekwente politieke kritiek gebou op ‘n visie van hoe dinge veronderstel is om te werk nie.

Hierby moet ek darem nog my grootste ongemak voeg: en dit is dat ‘n leier van ‘n party die president van die land kan wees en dan nog sulke uitsprake maak. By my issues met enige party wat uitsprake maak wat claim dat slegs een party tot die sukses van die land kan bydra (en ek weet die ANC is die meeste skuldig hieraan), dink ek dat hulle wat in die parliment en kabinet sit moet hulleself sterker aan die werking van die demokrasie as die sukses van die party bind. En die president moet ‘n voorbeeld hierin wees. Maar hier is ek seker maar ‘n idealis. Wie kan tog nou glo dat politiek eerbaar kan wees…

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: