wat help gebed dan nou as die wêreld vergaan? (my poging midde-in ‘n krisis)

Dis gons in die Afrikaanse kringe oor gebed. Albert het ons aan die praat gesit. En toe kom Japan. En Johan push ons met goeie reg na die obvious vraag toe: help dit om te bid vir Japan? Ons moet natuurlik hier van die ander kant af vir beide van hulle sê dat hulle die verkeerde vraag vra, of ten minste, die verkeerde inhoud aan die woorde van die vraag gee. “help” word uiteraard hier bedoel as “gaan God n.a.v gebed die weerpatrone verander”. Maar dan weer, hulle reageer op ‘n lewende siening van gebed, en daarom is hulle vrae geensins verkeerd nie, hul vrae is die vrae wat ons baie ernstig moet opneem!

Dit is amper banaal om nou so hiermee om te gaan, want ons wil uitskreeu dat niemand tog nou so kan dink oor gebed nie, maar realiteit is dat in ons moderne fundamentalistiese wêreld (waar mense ook nie meer kontak met die natuur en weerpatrone het nie, wat ek dink ‘n saak is wat ons sal moet bytrek in ons gesprek oor mense wat bid om die patrone van die natuur te verander) dink mense werklik dat massa-aksies God se arm kan draai. Johan stel dit goed:

Ek begryp dat dit goed bedoel word, maar ek sukkel om te verstaan wat hierdie gebede veronderstel is om te beteken.

Sedert die oorspronklike aardbewing wat ’n skok van 9 MW geregistreer het – wat mense dan ook genoop het om vir Japan te bid – was daar nie een nie, nie tien nie, nie eers ‘n honderd nie, maar meer as vierhonderd naskokke van 4.5 MW of groter.

Daar is copp-outs soos “ja, maar weet jy hoeveel meer die skade sou wees as ons nie gebid het nie”, maar kom ons face dit: Ons is vas soos wat die kerk haarself elke keer vasgeloop het wanneer hulle die God wat Borg beskryf met supernatural-theism as almagtig beskryf, en boonop manipuleerbaar. Dis eenvoudig: die God wat in baie van ons populêre boekies uitgepak word moes ‘n tiran wees. Want almal het nou al gebid vir Japan. Ja, ook hulle wat gewoonlik nie met ‘n tang naby enige vorm van godsdiens kom nie. En tog het die God wat die populêre boekies beskryf seker nou maar besluit dat dit nice is om nog ‘n paar aardbewings te stuur. En guess what! Nadat ek hierdie gaan post gaan die aardbewings waarskynlik nie stop nie!

As ons daai God in stand wil hou, dan moet ons nog dieper in ‘n gat in trap. Na 2004 se Tsunami was daar sekere Moslem leiers wat God se werk met die Tsunami verklaar het deur te sê dit is a.g.v die baie meisies wat met hulle bikinis op die strande gelê het wat dit gebeur het. En moenie dink die Christene was altyd beter gewees nie! Ek moes persoonlik aanhoor hoe uitsprake gemaak word soos “ja, maar dit is omdat hulle nie Christene is nie” (en ek wag nog dat iemand daai thread weer moet optel vir Japan).

So kom ek bely nou sommer net hier: as die God wat ons glo in die lewe van Israel en Jesus gewerk het die een is wat honderde duisende laat doodmaak omdat hy (ja, die gebruik van die 3de persoon manlik is bewustelik) spiteful is, of omdat hy nie regtig lus het om vandag gebede te antwoord nie, of omdat daar nog nie ‘n kritiese massa is wat gebid het nie, dan stel ek nie belang om langer daai God as my God te bely nie.

OK, maar genoeg gal gebraak vir eers. Hierdie post het eintlik ontwikkel as ‘n comment op Johan se blogpost n.a.v die rubriek.

Soos wat die naskokke van die aardbewing ontvou het, het ek tweetdeck gevolg, en in verwondering gesit en staar na hoe hulle wat gewoonlik totale godsdienstige apatie vertoon hulle verbintenis tot gebed vir Japan aankondig. Johan verwoord dit weer goed:

Terwyl ek gekyk het na die dodelike vloedgolwe wat oor die Japannese landskap gejaag het (wat enigiets van bote tot geboue meegesleur het asof dit plastiekeendjies was), het twee idees my beetgepak. Drie, eintlik.

Die eerste een was bloot: “%@#$%&!…”

Die tweede een was instinktief: “Bewaar hulle, Here!”

Die derde, effens terneergedrukte, gedagte was: “Wat help ’n gebed?”

My vraag was: hoekom die tweede instink? En ek vermoed ons moet praat oor hierdie tweede instink voor ons op die laaste vraag reageer.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis open met die volgende woorde:

Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem.

Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed, en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Die eerste sin is interessant. Ons moet vra hoe dit ontwikkel het dat ‘n spesifieke godsdienstige tradisie God as “enig en enkelvoudig” bely het, wat die implikasie van “geestelik” is, en dalk die mees interessante, waarom die verbintenis tot die misterieuse verwysing “wat ons God noem”.

Maar die tweede deel is wat my vanaand intrigue.

‘n Lang lys woorde wat heeltyd verwys na dit wat nie kan wees nie. Voor jy nou kom en sê dat ek ook God verwerp (wat loutere onsin sal wees), lees weer. Daai lysie beskrywinge is alles wat nie kan wees nie. Wat onmoontlik is. As dit nie was nie, dan was dit nie God nie. Dan het ek iets anders beskryf. God is per definisie (ten minste, ek dink as Gereformeerde is dit wat ek moet sê) dit wat onmoontlik is.

En dit bring my nou by die gebede en die vraag na die tweede instink. Hoekom wil hulle wat nooit bid nie skielik vir Japan bid? Die vraag is dalk een wat die psigoanalitisie moet beantwoord, maar kom laat ek waag: ek dink ons bid want ons ander taal breek af op hierdie punt. Wat moet ek nou vir my vriende sê oor Japan? “Sjoe, dit is verskriklik”. Nee, verskriklik is wanneer iemand doodgaan. Maar verskriklik is nie wanneer ‘n groot deel van ‘n land verwoes word, duisende steeds besig is om dood te gaan, en ‘n moontlik kern-insmelting op die horison te vinde is nie. Verskriklik doen dit nie dan vir ons nie. Ons het iets meer nodig. Hier dink ek het ons gebed nodig.

“Bewaar hulle, Here”. “Ag Here, help tog”.

Maar hierdie gebed is nie so ver van ‘n ander een af nie:

“My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?”

Die twee gaan saam. En met hoe meer erns ek nie anders kan as om in te gee en uit te roep “Here, help tog” nie, hoe meer kom die ander kant van die gebed “My God, my God, waarom het U ons verlaat”.

Ek dink as ons met Japan gekonfronteer word breek ons taal af. Ons het taal nodig om die onmoontlike te verwoord, beide die oproep tot onmoontlik goed, asook die weeklaag van onmoontlike lyding. Vir ons wat in godsdienstige taal geskool en gekultiveer is, of ons nou aktief godsdienstig is of nie, vermoed ek word ons in hierdie tye tot godsdienstige taal gedryf. “Japan is Godverlate”. “Al waar ons hoop kan vind in hierdie tyd is by God”. En as die een wat hierdie woorde gebruik verletterlik moet word raak dit beide kante toe belaglik. Maar as ek hierdie taal wegvat, hoe sal ons praat oor Japan?

Kom ons face dit: Geen regdenkende gelowige gaan more opstaan en verkondig dat as ons net ‘n massa-aksie loods dan sal Japan oormore oggend wakker word met die dorpe herbou, die kragstasies herstel, en die dooies opgewek nie. Meeste van ons, ten minste in die hoofstroomkerke, besef dat ons hierdie materiële realiteit baie ernstig moet opneem. Dat hierdie situasie nie oornag gaan verander nie. Dat dit net gaan verander deur ‘n wêreld wat oor dekades gaan werk om dit te herstel. Tog bid ons.

Help gebed dan?

Ja, gebed gee vir ons taal om oor die onmoontlike te praat. Gebed gee vir ons ‘n manier om die diepte van die krisis in meer as kort vloekwoorde uit te druk. As ek verder in Psalm 22 kom dan gee gebed ook vir my maniere om te praat oor ‘n tyd wanneer armes en rykes saam aan die tafel gaan sit. Ek bid dit in Afrika as iets wat werklik onmoontlik is. As dit vir my enigsins moontlik gelyk het, dan het ek dit nie gebid nie, dan het ek dit net gaan maak gebeur. Maar dit is werklik vir my ‘n onmoontlike situasie. Japan is vir my werklik ‘n onmoontlike situasie.

In gebed verwoord ek die onmoontlik slegte. En die onmoontlik goeie.

As die toets vir gebed is of God oornag aardbewings stop dan het die toets gefaal. Die kerk van die wêreld het Sondag oggend opgestaan en Japan in gebed opgedra. En terwyl hulle bid het die aardbewings voortgegaan.

Ja, ons het weer ons copp-outs: “dis omdat ons verkeerd gebid het”. “dis omdat ons met te min geloof gebid het”. In alle eerlikheid, daai is loutere onsin. Gaan werk deur jou Bybel-tekste as jy ‘n Christen is. Gaan werk deur dei vroeë kerk se geskrifte. Die idee dat ek God kan manipuleer deur die “regte woorde”, of een of ander “mind-over-matter-trick” van ‘n “sterk geloof” word deur die tradisie waaruit ons kom verwerp.

Nee, die probleem is nie dat ons verkeerd bid nie. Die probleem is dat ons gebed verkeerd toets.

“Wat help gebed?” Skynbaar nie vir aardbewings nie. Maar gebed help vir lyding. Dit help my om pyn en die allerverskriklikste gebeure te verwoord. Dit is die plek waar ek met alles wat meer as ekself is, met die wat meer is as wat ek kan sien of dink, kan baklei. Kan beskuldig dat die God wat ons as goed bely ons verlaat het. Want ons het nodig om dit te verwoord in hierdie tyd. Maar dit is ook moontlik die enigste plek waar ek verwoord dat daar nuwe moontlikhede is in hierdie onmoontlike omstandighede (alhoewel ek versigtig is om te vinnig hierdie nuwe moontlikhede ten spyte van onmoontlike tye te wil verwoord, ek dink die pleit dat ons deur God verlaat is moet eers insink, daar moet ons vir nou stilstaan, voor nuwe lewe gevind word).

So in kort dalk dit: moet ons ingee tot daai tweede instink om te bid? Ek dink tog so ja. Nie sodat Japan more gefix kan wees nie, maar juis omdat Japan nie more gefix gaan wees nie. Juis omdat ons vir jare gaan moet worstel met die realiteit van wat daar gebeur het, en omdat ons, omdat ons mense is, die realiteit van die situasie op ‘n sielskeurende wyse moet kan verwoord. Maar ook omdat ons moet regkry om oor hoop te praat sonder om die realiteit ligter te maak. Omdat die situasie onmoontlik (werklik onmoontlik, so onmoontlik dat ons massa-gebeds-aksie nie Japan se lot skielik more oggend, of volgende week, of volgende jaar, gaan omdraai nie) is, daarom moet ons bid.

En werk gebed dan?

Dalk moet ons leer om soos die ou Jode ons godsverlatenheid teenoor God te bely.

Dalk moet ons leer om God te beskuldig vir die verskriklike situasie waarin ons is… en dan saam te bid.

Dalk moet ons leer om by God te pleit vir uitkoms, wetend dat Japan more steeds in ‘n krisis is.

Want dalk is dit die enigste woorde wat ons oor het wanneer ons werklik met die onmoontlike, die werklik onmoontlike gekonfronteer word. Dan draai ons weer na die belydenis wat net in die taal van die onmoontlike verwoord kan word.

Dalk vind jy ‘n ander manier om sin te vind in werklik onmoontlike tye. Maar indien jy wil, kom bid saam met my:

My God, my God, alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is, waarom het U ons verlaat en bly U ver as ons om hulp roep?

Advertisements

2 Responses to wat help gebed dan nou as die wêreld vergaan? (my poging midde-in ‘n krisis)

  1. Ek vermoed die tweede instink is aangeleer.

  2. GerhardvR sê:

    Ek onthou dat ek baie meer sin kon maak van gebed nadat ek Vincent Brummer se boek “What are we doing when we pray?” gelees het.Vir elkeen wat ‘n moderne en goeie inleiding oor gebed in ons postmoderne era wil lees beveel ek dit van harte aan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: