Steve, ek onthou iets anders as die stryd om te oorleef

Ek weet nie of die stof gaan lê het oor Steve se “Ons sal dit oorleef” nie, wat ek hier skryf is egter nie afhanklik van hoe gewild Steve se lied toe geword het nie. Ek luister Steve se lied as ‘n “act of remembrance”, ‘n verwoording van gebeure uit die verlede waarin herinneringe geskep word, en identiteit gevorm word, en ek wil op my manier vanuit my verstaan van ‘n spesifiek Christelike tradisie hierop reageer.

Steve kry meesterlik reg om in net ‘n paar woorde van die belangrikste momente wat die identiteit van Afrikaners vorm bymekaar te trek.

  • Die Anglo-boere oorlog, wat met reg beskryf moet word as die belangrikste moment in die vorming van wat ons vandag Afrikaners noem. Dit is in hierdie ervaring, en die “arm-blanke” geskiedenis hierna wat Afrikaner nasionalisme sy oorsprong gehad het.
  • Minder prominent maar tog duidelik sigbaar, veral in die kontroversieële woorde “die kaffer se dolk”, hoor ons Bloedrivier, 16 Desember, en die groter verhaal van die Groot Trek en die oorlog teen “donker” Afrika.
  • Die derde moment, wat die hele lied in werklikheid dra, maar slegs hier en daar eksplisiet genoem word, is die belewenis van misdaad en geweld in ‘n post-apartheid Suid Afrika. Dis nog maar ‘n onlangse stukkie herinnering, maar dit lyk of dit die dominante identiteitsvormende herinnering word vir Afrikaners vandag.

Miroslav Volf se The End of Memory het my gedagtes oor Steve se song tot ‘n groot mate in hierdie rigting gestuur. Hierdie ruimte gaan nie toelaat dat ek sy hele argument verduidelik nie, maar een sentrale argument moet genoem word: daar is etiese vrae oor “hoe” ons onthou. Elke hervertelling van die verlede is nie maar ewe legitiem nie. Veral nie as ek eties reflekteer nie!

Een sentrale voorwaarde vir hoe ons onthou is dat ons eerlik moet onthou. Dit beteken nie noodwendig dat ons elke detail so getrou moontlik moet onthou, of dat die herinnering van die historikus noodwendig meer getrou is omdat dit hierdie of daardie datum korrek weergee nie. Om eerlik te onthou beteken om die verlede nie ten koste van ander te onthou nie, of op so manier dat ek ander te na kom nie. Voorbeeld:

‘n Junior en senior kolega praat Maandag oor ‘n koppie koffie, en die junior kolega deel ‘n idee met sy senior kolega wat nuwe moontlikhede vir die maatskappy sal oopmaak. Donderdag vertel die senior kolega aan die bestuur dat hy en die junior kolega Dinsdag gepraat het, en dat hy (die senior kolega) met genoemde idee vorendag gekom het.

Die feit dat hy die dag verkeerd gehad het sal kwalik as ‘n oneerlike herinnering beskou kan word, maar die manier hoe hy die rolle omdraai wel.

Ek wil ‘n tweede riglyn noem wat ek glo vanuit ‘n Christelike tradisie belangrik is vir hoe ons onthou: ek glo ons het ‘n groter verantwoordelikheid om die pyn wat ons veroorsaak het te onthou as die pyn wat ons beleef het. Daar waar ons ander seergemaak het, daar waar ons die oorsaak was vir onreg en onderdrukking, moet dit onthou word, omdat ons ‘n verantwoordelikheid het om reg te maak. Waar ons pyn ervaar het, moet ons werk vir versoening, en werk na die nie-in-herrinering-roep van waar ons gely het (hier volg ek Volf), as deel van ons verbintenis om ook ons vyande lief te hê. Vir die laaste punt sal ek jou los om self deur Volf te werk, maar die verantwoordelikheid om die ongeregtigheid waarvoor ons verantwoordelik was te onthou wil ek aanraak.

Dus twee lense waardeur ek na Steve se in-herinnering-roep van vormende momente in die Afrikaner geskiedenis wil kyk:

  • Is dit eerlik?
  • Erken dit ‘n verantwoordelikheid om pyn en ongeregtigheid wat veroorsaak is te onthou?

Steve se uitbeelding van die Afrikaner as ‘n onderdrukte groep is natuurlik nie nuut nie. Dis ‘n klassieke lees van die Anglo-boere oorlog (en een wat nie totaal sonder waarheid is nie). Voeg hierby die intrek van die Groot Trek herinneringe, wat soos ek verstaan veral in die vorming van Afrikaner nasionalisme belangrik geword het, en dan die herinnering aan geweld en misdaad vandag, waarin bevestig word dat die Afrikaner vandag, soos daai tyd, steeds die onderdrukte is.

Ek kies om by die Anglo-boere oorlog te begin omdat dit beskou word as die belangrikste moment in die vorming van die Afrikaner, maar ook omdat dit moontlik die plek is waar daar die sterkste konsensus is dat hierdie groep wat ons Afrikaners noem ‘n lydende party geword het onder die groot Britse ryk. Daar is dus hier die kans dat ons kan sê dat Steve, en minigte ander, moontlik eerlik onthou. Wat natuurlik stilgehou word, is dat hierdie selfde gebeure, met dieselfde imperialistiese magte, selfs nog meer onderdrukkend op swart Suid Afrikaners ingewerk het. Die stilte hieroor maak dat hierdie gebeurtenis gebruik kan word om Afrikaners uit te beeld as ‘n onderdrukte groep teenoor alle ander groepe, i.p.v deel van die hele Suider Afrika, swart en wit, wat eens op ‘n tyd deur die Britse ryk onderdruk is.

Om egter hierdie herinnering nou by die 1830’s te gaan inlees begin al meer na oneerlikheid te ruik. Was die groep trekkers werklik die onderdrukte groep onder die mag van die “kaffer se dolk”, soortgelyk aan die gebeure rondom die oorlog? Of moet ons eerlik vertel dat die gebeure wat met Bloedrivier gesimboliseer word vir ‘n groot stuk onreg en lyding verantwoordelik was onder verskillende ander groepe wat in Suider Afrika gebly het?

Die derde moment is die een wat my erg ongemaklik laat. Wit Suid Afrikaners is die groep wat die kleinste kans het om vermoor te word in ‘n post-Apartheid Suid Afrika. Dit is ‘n groep wat ekonomies ongelooflike bevoordeling beleef. Om hierdie groep te beskryf as die lydende party, die party wat nou, soos in die verlede, alweer in ‘n situasie van onderdrukking is, is bloot oneerlik. Dat ons wat wit is, net soos ander in Suid Afrika, onder uitsonderlike hoë misdaad en geweld ly is inderdaad waar, maar daar is geen rede hoegenaamd om hierdie groep uit te sonder die lydende party van ‘n post-Apartheid Suid Afrika nie. Dit wat nie gesê word nie is nie maar onskuldig nie! Om stil te bly oor die massas arm swart Suid Afrikaners wat die impak van misdaad en geweld die ergste beleef is om oneerlik te onthou.

As ‘n oorgang na my tweede lens moet ek nog ‘n stuk oneerlikheid in hierdie herinnering noem: Om Afrikaners se identiteit te beskryf as eerstens ‘n groep wat “weer en weer” onderdruk word, sonder om by te voeg dat hierdie groep se identiteit vandag nog meer beskryf moet word as ‘n groep wat hulleself ook aan ernstige onderdrukking skuldig gemaak het is oneerlik.

Maar dit is meer as oneerlik, en hier kies ek ‘n benadering wat ek nie weet of ander wat nie vanuit ‘n Christelike etiese tradisie reflekteer noodwendig sal deel nie. Maar vir Christene glo ek het ons ‘n groter verantwoordelikheid om die ongeregtighede waarvoor ons verantwoordelik was te onthou as die ongeregtighede wat ons beleef het. Oor dit wat ons beleef het, moet ons ‘n openheid hê om te versoen, te vergewe, en te vergeet (hierdie deel vra baie langer verduideliking wat ek nie nou op ingaan nie). Oor dit wat ons veroorsaak het, het ons die verantwoordelikheid om te onthou sodat ons kan werk vir herstel (dink Saggeus in Lukas as hierdie vir jou vreemd klink). Dit beteken nie dat ons nooit ongeregtigheid wat ons beleef het moet onthou nie, dit moet inderdaad onthou word in ons stryd om geregtigheid, ek sê net dat ons eerste verantwoordelikheid is om die ongeregtigheid waarvoor ons skuld dra te onthou.

En hier faal Steve se weergawe oor wie die Afrikaner is. Want as ons hierdie riglyn ernstig opneem, dan moet ons die Afrikaner verhaal begin deur te onthou dat ons verantwoordelik was en is vir ongeregtighede, en daarom in die eerste plek onsself moet verbind tot versoening met hulle wat gely het a.g.v ons toedoen, en vir die regstel van die ongeregtighede wat hieruit gekom het.

Natuurlik het Steve net ‘n paar minute gehad, en kan mens nie alles in een lied skryf nie, maar ek het nog geen teken gesien dat Steve wil help bou aan ‘n vertelling van ons geskiedenis waarin erken word dat swart Suid Afrikaners in elke moment (Groot Trek, Britse oorheersing en misdaad en geweld in ‘n post-Apartheid Suid Afrika) die groep was wat aan die kortste ent getrek het nie, en ek hoor ook nie dat Steve ons identiteit help vorm met ‘n herinnering waarin die ongeregtigheid waarvoor ons verantwoordelik was belangriker is om te onthou as die lyding wat ons beleef het nie.

Hierdie is vir my persoonlik ‘n baie dieper probleem as die feit dat Steve gewaag het om “kaffers” te sing…

Advertisements

16 Responses to Steve, ek onthou iets anders as die stryd om te oorleef

  1. Wow Cobus. Hierdie is ‘n baie deurdagte en goed verwoorde post. Dankie man. Dit vat guts om die ander kant te sien, en nog meer om dit dan te noem. Ek sien nie veel “jammergatgeid” nie. @alleman, ek hou van hoe jy ook struggle met eerlik onthou.

  2. […] laaste, skryf Cobus onlangs by die ander kant oor Steve Hofmeyr se gewraakte lied, Ons sal dit oorleef. Cobus vat Hofmeyr se bondige […]

  3. alleman sê:

    @jagternw1976 Bloedrivier kan nie los van die ander twee plekke gesien word nie, ek kan nie eens verstaan hoekom jy dit wil doen nie.

    Ek sien jy is baie lief vir die woord “jammergat”. Persoonlik sien ek myself nie as “jammergat” nie, maar as anti-rassisties. En ek is anti-rassisties meer oor ek rassiste nie kan verdra nie as wat ek jammer oor enige iets is. Dis die oneerlikheid, victimhood, bekrap van padtekens en kleinlike haatlikheid, jy weet, wat moerse irriterend is.

  4. alleman sê:

    Cobus, nee ek het nie geweet jy was daar betrokke nie, en het ook nie enige kennis van Kameeldrift behalwe wat ek in die koerante gelees het nie, maar dit het my met ‘n vermoede gelaat dat daar dalk iemand is was rassime opgesweep het. As dit nie so was nie, aanvaar ek dit.

    Die media waarna ek verwys is nie die Afrikaanse media nie, maar koerante soos die Mail & Guardian Daily Maverick.

  5. @alleman. Ek het spesifiek verwys na Bloedrivier. Wat by Blaauwkranz, Moordspruit gebeur het is ‘n geselsie vir ‘n ander dag. 🙂

    Weereens bespeur ek ‘n tipiese jammergatgeit in bogenoemde kommentaar.

  6. cobus sê:

    Is my eie betrokkenheid by die gemeenskap in Kameeldrift die rede waarom jy dit noem, of is Kameeldrift werklik vir jou die voorbeeld wat tot ‘n moontlike bewys van “rassistiese veldtog”?

    Alhoewel die Kameeldrift ervarings die aanvanklike rede was vir hoekom ek begin reflekteer het oor die manier hoe witmense oor misdaad en geweld praat, het ek nog nie teruggegaan om daardie spesifieke voorbeeld te bestudeer nie. Tot ‘n mate voel ek ook dat dit iemand anders se taak moet wees (of dalk juis nie).

    Ek hoop nie dat enigiemand dink dat ek die lyding van enigiemand wil afmaak as niks nie. Ek doen nie. Ek gaan definitief nie myself begin legitimeer met stories oor Kameeldrift en mense wat ek ken om dit te bewys nie. Maar ek moet sê, ek sukkel om te sien waar die media dan nou die “boere se lyding afmaak as niks”.

    Twee opmerkings oor Kameeldrift is dalk in orde, nie omdat dit oor Kameeldrift gaan nie, maar omdat dit die groter vraag oor hoe ons oor geweld dink en praat aanraak:
    1) Kameeldrift is vandag een van die veiligste polisie distrikte in die Tshwane munisipaliteit.
    2) Die een plek in Kameeldrift waar misdaad en geweld steeds die ergste effek het is die plakkerskamp 500 meter agter die polisiestasie.

    As ons die Kameeldrift storie vertel sonder om te noem dat wat daar gebeur het slegs in ‘n baie spesifieke tyd gedurende 2008 gebeur het, en dat spesifieke bendes misdadigers daarvoor verantwoordelik was, en dat die geweld dramaties afgeneem het nadat hulle gevang is, dan is ons oneerlik in hoe ons die gebeure onthou. Dan kan ons maklik Kameeldrift interpreteer as ‘n moontlike argument vir ‘n “rassistiese veldtog”.

    As ons vergeet om te noem dat arm swartmense in Kameeldrift die mees brose slagoffers van geweld bly (as ons eers begin praat oor die verkragting van jong swart meisies uit die plakkerskampe sal dit ‘n lang aand raak), dan is ons ook oneerlik oor die Kameeldrift storie.

    Die realiteit is dat die media nooit die moeite gedoen het om te vertel dat misdaad in Kameeldrift ‘n ernstige draai gemaak het na die paar maande waarin Kameeldrift die voorblad van koerante gehaal het nie. Dieselfde media het ook versuim om te vertel wie werklik almal die slagoffers van geweld in Kameeldrift was. Terwyl ‘n paar witmense (veral belangrikes soos skoolhoofde en bekendes se familielede – almal mense wat vriende was, so moenie onderskat hoe moeilik hierdie is om te skryf nie!) se stories wêreldwyd (letterlik) vertel is, het die massas naamlose slagoffers van geweld nooit die koerante gehaal nie.

    Dit raak natuurlik net aan die eerste van my punte, die dat ons eerlik moet onthou. Die sentraliteit van die kerk se rol in Kameeldrift maak dat ons ook sou moet afvra of die tweede punt nie dalk iets vir Kameeldrift te sê het nie.

    Nou het ek te lank ge-comment, maar dalk het dit tyd geword dat hieroor gepraat word.

    (as ‘n disclaimer moet ek byvoeg dat ek nie meer in Kameeldrift betrokke is nie)

  7. alleman sê:

    Kobus, ek het hierdie nou weer gelees, en wil graag sê ek vereenselwig my met die politiek en die gesindheid daarvan.

    Daar is spesifieke plekke in die platteland waar boere so onder geweld en moorde lei dat mens nie anders kan as om te dink daar is ‘n rassistiese veldtog teen hulle nie, byvoorbeeld Kameeldrift.
    Mens moenie toelaat dat die media en ander kommentators hierdie boere se lyding afmaak asof dit niks is nie, hulle loop soms baie erg deur, meer as wat stedelinge wil erken.

    Maar ek weet ook dat daar ander dele is waar boere nog relatief veilig is, beslis nie meer onveilig as ‘n vrou wat in die nag in ‘n plakkerskamp van die busstop na haar woonplek toe moet stap nie.

  8. alleman sê:

    Erm, lyk my dis nou jou beurt om klei te trap met die geskiedenis. As jy reg onthou was die slag by Bloedrivier die resultaat van ‘n strafekspedisie nadat die Zulus Trekkers by Bloukrans en Wenen uitgemoor het.

  9. Jy praat van Bloukrans, Wenen ? Waar is jy vandaan ? Ek het gepraat van Bloedrivier, Natal.

    http://www.bloedrivier.org/bloedrivier_geskiedenis_slag_van_bloedrivier_01.php

  10. alleman sê:

    My kommentaar was oorhaastig geskryf by die werk. Wat ek bedoel het is dat wat by Bloukrans, Wenen en so gebeur het ‘n wreedheid teenoor ons voorouers was.

    Ek weet nie waarom jy dink dat die swartmense voel hulle is geregtig op alles nie. Die meeste wil maar net ‘n dak oor hulle koppe, lopende water, ‘n werk en sulke dinge hê.

    Ry deur enige deel van SA, en jy sal sien ‘n groort meerderheid van die land se mense het bitter min, en hulle is swart. Kyk wie werk in wie se huise en tuine. Kyk onder watter groep is die hoogste werkloosheid, die hoogste ongeletterdheid, die hoogste sterftes van jong mense, kinders en babas. Enige aanduider van welvaart sal jou wys wit mense is by verre die beste af. Wat werk, eiendom en geld (maar nie veiligheid en gemoedrus nie) betref is SA se witmense selfs beter af as die meeste wit mense van die meeste “wit” lande.
    Daar is net geen manier om ons as die groot victims van SA voor te stel sonder om diep oneerlik te wees nie.

  11. Ditto : Ons praat maar net.
    Hoe bedoel jy dat dit wat by Bloedrivier gebeur het ‘n wrede daad teen ons voorvaders was ? Geen een van die boere is gedood nie.
    Weet jy dat dit deur die boere van ouds se toedoen is dat die Tswanas na hulle grond kon terug keer ? Die Zulus het hulle verdryf (Dingaan nogals).
    Die swartmense voel hulle is alles ontneem, sommer net so, en dat hulle nou geregtig is op alles. TWAK man. Dit is waar die vyandigheid vandaan kom … Hulle luister na ‘n aap wat sy eie geskiedenis of herkoms nie ken nie en moor dan na hartelus.

  12. alleman sê:

    Ek het nie beweer dat ek enige groep verteenwoordig nie, of dat jy jou opinie afgedwing het nie. Ons praat mos net hier.

    Wat by Bloedrivier self gebeur het was ‘n wrede daad teen ons voorvaders waaroor ons nietemin nie nou meer onsself as victims hoef voor te stel nie, want ons voorvaders, asook die Britte, het daarna die Zulus ook op groot skaal uitgewis, en hulle van dele van hul grond asook hul vryheid ontneem, en in daardie posisie gehou tot baie onlangs. Sodanig so, dat jy baie victims daarvan vandag nog in lewende lywe kan gaan ontmoet.

    Niemand moet heeltyd jammer sê nie, maar as ons meer begrip kan hê vir hoe swart mense voel, sal dit help om ‘n deel van die vyandigheid te demp.

  13. @ alleman : Watter “groep” verteenwoordig jy ?
    Ek glo in vryheid van spraak en dwing my opinie op niemand af nie.
    Die geskiedenis is egter wit op swart, niks sal dit verander nie.
    Wat is jou beskeie opinie oor wat by Bloedrivier gebeur het ? (As ek mag vra). Was dit verkeerd ? Moet daarvoor ook jammer gese word ?

  14. alleman sê:

    @jagternw1976 Ek dink nie die pro- Blanke aksiegroep by Praag het enige iets nuttigs te sê nie, en hulle het ook nie ‘n gram eerlikheid in hulle nie.
    Net kleinlikheid en haatstokery kom van daardie kant af, en dis nutteloos om ‘n “artikel” van hulle aan te haal.

    Die Richard Dowden artikel is wel van belang – spesifiek vir Engelse om oor na te dink, en minder so vir ons wat ons eie selfondersoek moet doen.

    Elke groep moet mos sy eie selfondersoek doen, of hoe?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: