My teleurstelling in die FW de Klerk Stigting

@FWdeKlerkFoun het ‘n paar uur terug gevra ek moet vir hulle skryf hoekom ek teleurgesteld is in die Stigting. Hierdie was my vinnige reaksie.

Irené

Kom ons begin maar by die begin. Ek is 27. Afrikaans. Manlik. Predikant (of was ten minste gewees tot onlangs toe, tans is ek weer bietjie terug by die universiteit). Ek het in Swaziland grootgeword, en het van kleins af geweet dat apartheid verkeerd is.

Ek kan uiteraard nie sê dat my politieke bewussein ten volle ontwikkel was teen die tyd wat president de Klerk die bekende toespraak gemaak het op 2 Februarie nie. Maar ek onthou weld at dit vir my ouers belangrik was om te gaan stem tydens die referendum. Dit was vir hulle belangrik dat apartheid moet eindig.

Selfs teen die verkiesing van 1994 het ek nie regtig geweet wat aangaan nie. Kort daarna het ons Suid Afrika toe getrek, en jare later, toe ek op hoërskool was, het ek uitgevind van pas-wette. Die Nasionale Party het tot ‘n einde gekom, en in my onskuld het ek seker gedink dit was ook maar een van daai dinge wat moes gebeur. Maar FW de Klerk het tog ‘n tipe “hero” vir progressiewe wittes gebly. Na wie sou ons terugwys? Ons geskiedenis is besaai met leiers wie se besluite veroorsaak het dat ons onsself moet skaam. Maar FW de Klerk, so het ons geglo, het apartheid gestop. Hy het ‘n nobel-prys vir vrede gekry vir die manier waarop hy die oorgang help bestuur het. Hier was ‘n man wat ons maar in internasionale geselskap oor kon sê: “hy is een van ons mense”.

Iewers het ek van die FW de Klerk Stigting gehoor, maar nie regtig altyd fyn gevolg waarmee hulle besig is nie. Die reaksie op Samantha Vice deur Stewerd en Du Preez onlangs onder die titel “Skuld oor witlikheid werk rassisme in hand” was die eerste plek waar ek teleurgesteld was. Dis natuurlik aan die een kant onregverdig om ‘n artikel wat in ‘n koerant verskyn op akademiese gronde te beoordeel, siende dat daar eerstens nie genoeg plek is om jou standpunt volledig te verduidelik nie, en tweedens omdat jy beperk word in die taal wat jy gebruik. Ek het in my lewe al redelik gewerk in die veld wat as “whiteness studies” etiketteer word, waaruit baie van Vice se opmerkings kom. Dat daar van Vice verskil word is natuurlik aanvaarbaar, ons het konstruktiewe debat nodig in Suid Afrika. Maar dat ‘n reaksie deur die stigting haar argument afskiet sonder dat die argument eers verstaan word was vir my teleurstellend.

Dit het veral gegaan oor die woord “voorreg”, wat Vice op ‘n redelike tegniese wyse gebruik, en wat in die artikel bloot afgeskiet word. Voorreg by Vice gaan nie bloot oor jou bankrekening nie, maar oor die hele sisteem waarin jy jouself bevind, en gaan tweedens ook oor dit wat oor generasies opgebou is. Hierdie is natuurlik nie die plek om op tegniese konsepte in te gaan nie, maar ek wil maar net noem dat vanuit daai kort artikel het ek die idee gekry dat die outeurs nie enigsins kennis gedra het van die bronne waaruit Vice gewerk het en wat die terme beteken wat binne hierdie vakgebied gebruik word nie. Vice se artikel was in ‘n akademiese joernaal gepubliseer, waar sekere reëls geld. Natuurlik het baie wat haar artikel in die hoofstoom media bespreek het ook soortgelyke tegniese foute gemaak, maar ek sou gehoop het dat die stigting se reaksie nie in sulke slaggate sou trap nie.

Wat die huidige reaksie op die uitsprake van aartsbiskop Tutu betref lê dit so bietjie op ‘n ander vlak.

Daar is weer die foute. Ek dink byvoorbeeld aan die stelling “Those fortunate people who earn more than R585 000 pay 40% their incomes to the state to fund” – ek is geen ekonoom nie, maar soos ek my eie belasting kyk, dan werk Suid Afrikaanse belasting op ‘n glyskaal. Mense wat meer as R585 000 verdien sal 40% van hulle inkomste bo R585 000 aan belasting moet afstaan, nie 40% van hulle inkomste nie. Dit is ‘n ou fout, wat onder andere maak dat party mense simpel opmerkings maak soos dat hulle meer belasting moet betaal omdat hulle in ‘n hoër kategorie val. Dit is natuurlik nooit waar nie. Daar is egter ‘n groter punt.

Irené, my eerste kind is twee dae gelede gebore. Sy geboorte, en ons drome oor sy toekoms, maar dit weereens duidelik dat die mooi opmerkings oor “nie-rassigheid” bloot mooi teorie is, maar ons nie op die grond help nie. Indien daar egtheid aan die opmerking was, dan sou dit vir ons moontlik gewees het om te kan sê dat ons gemaklik sal wees met enige skool waarheen ons kind eendag gaan. Ons sou graag wou. Maar in Suid Afrika is die skole wat tydens apartheid as “swart skole” geplaas is steeds op ‘n standaard waarheen ek sal sukkel om my kind te stuur.

Apartheid dra natuurlik die skuld dat die “beginpunt” van ‘n demokratiese Suid Afrika so ‘n ongelyke sisteem gehad het. Die vraag onder bespreking is egter oor wat daarna gebeur het. Die afgelope 17 jaar is natuurlik ‘n moeilike geskiedenis. Dit vra natuurlik dat ons ernstig krities moet wees op van die prosesse wat in ons regering geloop het, ook op individue se besluite. Maar dra ons vandag nog die tekens van dekades se apartheid, eeue se kolonialisme, en ‘n nasionale (en ook internasionale) sisteem wat wittes bevoorreg?

My antwoord is ja.

Nou moet ek darem eers ‘n stappie terug neem. Ek is ook oortuig, soos ek aflei julle by die stigting is, dat ras-kategorieë ‘n onding is. Ons weet vandag daar is geen wetenskaplike begronding om mense op grond van ras in te deel nie. Daar is geen begronding om op grond van uiterlike kenmerke waardeoordele te maak nie. Meer nog, daar was nog nooit so ‘n begronding gewees nie. Die pogings om dit te doen word vandag as ‘n kwasi-wetenskap beskryf. Ons het mense op grond van ras ingedeel, en ons moet ophou om dit te doen.

Maar, ons sit met ‘n hele paar eeue se geïnternaliseerde oortuigings oor dit wat ons ras noem, en hierdie oortuigings moet gedekonstrueer word. Ons sit met ‘n sisteen wat volgens hierdie rasse-kategorië wat nie veronderstel is om te bestaan nie ingedeel te word. Ons moet ophou om oor ras te praat, maar eers moet ons die feit dat waar ons nog statistieke op grond van ras bymekaarmaak, toon die groepe wat ons gekonstrueer het nog ernstige verskille in hulle omstandighede.

As ons oortuig is dat ons nie oor ras moet praat nie, omdat ras nie bestaan nie, maar dit is nog duidelik dat wit kinders oor die algemeen in beter skole kom as swart kinders, wit volwassenes oor die algemeen groter salarisse kry as swart volwassenes, en wit families oor die algemeen toegang tot meer kapitaal het as swart families, dan beteken dit tog dat iets ernstig verkeerd is! Hoe kan kategorië wat geen begronding het nie nog so ‘n effek op dei materiële werklikheid van mense in hierdie land hê?

As die konstitusie wat julle so beskerm dit nie kan verander nie, is daar nie dan fout met die konstitusie nie? As die ANC regering dit nie kan verander nie, beteken dit nie dan dat daar fout is in hulle bestuur nie? En as die FW de Klerk stigting veg teen pogings om hierdie ongeregtigheid radikaal reg te stel, hoe moet ek dan oor hierdie organisasie wat ‘n naam dra waarvoor ek op ‘n stadium in my lewe die ongelooflikste respek gehad het dink?

Pierre de Vos het my gevoel weergegee. Ek is nie ‘n regskenner nie, maar sy konklusie dat die FW de Klerk Stigting maar net die ekonomiese belange van wittes probeer beskerm resoneer met hoekom ek die tweet geplaas het. Nie-rassigheid impliseer vir my veel meer as net ‘n paar mooi sinne wat belowe dat ons nie sal diskrimineer nie (al is die mooi sinne ook belangrik). Nie-rassigheid beteken dat my seun, en die swart kinders wat twee dae terug reg oor Suid Afrika gebore is dieselfde geleenthede, dieselfde kyke van alle mense, en dieselfde persepsies oor hoeveel waarde hulle het sal hê. Ons is nie daar nie. Ek pleit saam met julle vir ‘n wêreld waar ras nie meer sal bestaan nie, maar ek glo ook dat ons nie gaan wen deur “nie-rassigheid” te skreeu voor dit ‘n werklikheid geword het nie, en dit gaan ‘n hele paar generasies neem.

Vandag kan ons nog as wittes praat, en enige eenvoudige analise van Suid Afrika sal wys dat wittes steeds oor die algemeen baie sterk bevoordeel is en word. As die FW de Klerk ‘n stem vir geregtigheid wil wees, soos ek altyd gedog het die Stigting is, dan sal dit vra dat daar erns gemaak moet word met die vraag wie vandag die onderdruktes van Suid Afrika en die wêreld is, en wie aan die onderkant van die steeds bestaande rasse-idees lê. Eers wanneer ons hieroor gepraat het, en dit verander het, kan ons met trots praat van ‘n nie-rassige Suid Afrika.

Cobus

Advertisements

8 Responses to My teleurstelling in die FW de Klerk Stigting

  1. jan loubser sê:

    Apartheid was nie begin punt van die sogenaamde ongelykhede wat vandag in sa bestaan nie en daar is nie net in sa maar wereldwyd ongelykheid en die rede daarvoor is dat my voorouers n 1500 jaar gelede begin het on hulle self van barbare tot beskaafde wesens te omskep. Daardie proses het met tye met geweldige opofferings gepaart gegaan terwyl in ander dele van die wereld daar geen vooruitgang was nie net soos nou in sa. Die hoe lewens standaard in die weste wat gevolg het was n direkte gevolg van daardie vermoe om onself te verhef en daarvoor vra ek nie verskoning. Ons wat vir apartheid moes veg moes in afrika se stof stik ons eie bloed proe en ons makkers begrawe dus ons het ook n prys betaal ons het tenminste geveg vir dit waarin ons geglo. Die jeug se probleem dat hulle nie verstaan wat besig is om met hulle te gebeur nie. Organisasies soos hierdie stigtings verkondig n leuen. Dit maak nie saak hoe ver julle agteroor buig of wie julle aanbid julle is gedoem. Those who beat their swords into shears shall plough for those who don’t. Dit is die wet van die natuur, en dit is hoekom lsreal nog voortbestaan want hulle glo nie aan die mite dat die leeu en die lam saam kan le nie en meer belangrik hulle stel nie daarin belang om dit wat hulle doen om hulle voortbestaan te verseker moreel te regverdig nie. Hulle het reeds geleer die wenner vat alles julle sal ook leer

  2. DEON sê:

    jy fw was die apartheid en onskuldige wit mense moet van dag daar voor betaal want jy en jou mede kolegas het oms uit ver koop en julle het mos n groot paket gekry so f die res maar jy moet voor god gaan staan want vandag is jou volk in plakers kampe maar as daar n revoliesie so uitbruik sal ek jou eerste kry D.M

  3. Dankie, Cobus!

    Dit is jammer dat Adv du Preez glad nie reageer op jou kritiek op sy artikel of die Stigting se posisie nie.

    Maar sy antwoord op jou blog is ook op ‘n ander manier interessant. Sy gebruik van titels is nogal simbolies vir my – hy verkies “Adv” vir homself. Jy (ds), Zuma (pres) & Tutu (aartsbiskop) is “menere” en die res het geen titels nie. Dit is seker nie so bedoel nie, maar die respek vir ‘n regstitel en die weglating van alle ander het my laat dink aan die dag waarop ek ophou dink het aan oud-pres De Klerk as ‘n leier wat my verteenwoordig.

    Sien, my ontnugtering met met hom en sy geslag van politieke leiers (met 1 of 2 uitsonderings) het gekom op die dag wat hy in sy WVK getuienis geweier het om simobolies, as leier van die NP, verantwoordelikheid te vat vir alles wat in sy party se naam of vir hulle saak gedoen is. Sy argument was regsgeldig – die WVK wet het dit nie vereis nie. Maar daar is iets groter as die reg.

    (terloops, die ANC, aan die anderkant, kon dit insien en het onvoorwaardelik verskoning gevra vir alles wat verkeerdelik, met of sonder toestemming, in hulle naam deur onderdane gedoen is…)

    En, ek dink dat hierdie benadering ook hier deel van die probleem is. Die Stigting is heeltemal binne die letter van die Grondwet in hulle kommentaar waarna jy verwys. Maar, dit is die probleem. In die fase van ons geskiedenis is dit krities vir ons om eerder in die gees daarvan op te tree.

    Die belangrikste vraag wat ons geslag (alhoewel ek nou al 27+7 is) moet antwoord is: Hoe moet ons nou lewe, gegee ons land se verlede? Die gesprek en antwoord is natuurlik op totaal en al ‘n ander vlak as ons as mense van dieselfde geloofsoortuiging hieroor dink.

    Maar selfs as ons buite die raamwerk van geloof en moraliteit aan ons situasie dink, is dit noodsaaklik vir ons as jong, wit Afrikaanse Suid-Afrikaners om pragmaties en wys te wees. Natuurlik kan ons die Grondwet gebruik om ons regte en historiese voorregte te beskerm… maar ons is ‘n klein minderheid.

    Die detail van die ‘nasionale akkoord’ waarna Jaques verwys word baie verskillend verstaan deur verskillende Suid-Afrikaners en sal binnekort lank vergete wees. En, die Grondwet kan enige oomblik deur twee-derdes van ons verander word.

    Ons benodig groot wysheid. En, geen gesprek van waarde kan regtig buite die raamwerk van ons geloofsoortuiging of moraliteit gebeur nie.

    Ek stem daarom met jou saam dat die onlangse standpunte van die Stigting baie teleurstellend is. Maar, op ‘n manier is die Stigting se opinie irrelevant.

    Ek sou eerder graag ‘n debat sien deur jong wit mense – Irene en Jaques verskil van ons, so ek sal graag van hulle wil hoor in hul persoonlike hoedanighede. Ons moet hieroor praat vir ons en ons kinders se toekoms – sonder dat mense (of legacies) van vorige generasies oor ons skouers loer.

  4. Geagte Mnr van Wyngaard

    U vorige skrywes gerig aan die Stigting en my kollega, Me Irene Saunders, betreffende u teleurstelling in die Stigting, asook u kommentaar op u eie blog ter steun daarvan, het betrekking. U het aan Me Saunders voorgehou dat “ Iewers het ek van die FW de Klerk Stigting gehoor, maar nie regtig altyd fyn gevolg waarmee hulle besig is nie” en ook “Die reaksie op Samantha Vice deur Stewerd (gespel Steward, sien asseblief die artikel) en Du Preez onlangs onder die titel “Skuld oor witlikheid werk rassisme in hand” was die eerste plek waar ek teleurgesteld was”.

    Daar is n ou aanhaling wat lui dat “die goeie ding van oningeligte kritiek is dat dit gelukkig meer se oor die persoon wat dit uiter as die een teen wie dit gemik is”. Die kritiek waarna ek verwys, is wat u se wanneer u dit stel dat die “FW de Klerk Stigting maar net die ekonomiese belange van wittes probeer beskerm”, dat dit met u resoneer (soos dit deur P de Vos gestel is) asook die rede is hoekom u die tweet geplaas het.

    Met respek, u kommentaar/kritiek is nie net oningelig nie, dit is ook ‘n growwe mistasting. In hierdie verband wys ek u graag op die onlangse Maxwele-aangeleentheid waar die Stigting Mnr Maxwele, ‘n swart manlike student, se grondwetlike regte verdedig het by die Menseregtekommissie nadat hy deur Mnr Jacob Zuma se lyfwagte gearresteer en aangehou is nadat hy (Mnr Maxwele) ‘n klaarblyklik onaansienlike gebaar aan die presidensiele motor getoon het.
    Om u dan verder vriendelik behulpsaam te wees en ook behoorlik in te lig van die werksaamhede van die FW De Klerk Stigting: Dit bevorder handhawing van die Grondwet asook die nasionale akkoord. Die Stigting streef harmonieuse verhoudinge in multikulturele gemeenskappe na, asook die bevordering van vreedsame en onderhandelde resolusies van geskille en mobiliseer hulpbronne vir gestremde en minderbevoorregte kinders.

    As daar enige verdere onduidelikheid by u is oor die Stigting se werksaamhede kan u gerus ons webwerf besoek (soos hieronder vermeld) om enige twyfel uit die weg te ruim. Hou ook gerus die webwerf dop om ingelig te word van die Stigting se verdere reaksie ten opsigte van Mnr D Tutu se onlangse politieke stellings.

    Beste wense,
    Adv Jacques du Preez
    FW de Klerk Stigting

  5. Annemie Bosch sê:

    Cobus! Dankie dat jy hierdie dinge aangevoor het. Dis nodig om te sê wat jy gesê het – — en ek meen tog dat jy ook baie graag daaraan sal meedoen om, soos Dewald sê, “witmense opgewonde (te maak) oor hoe hul ‘witheid’ hul in die bevoorregte posisie plaas om versoening en heling van die land aan te pak!”

    Ek neem aan julle het albei ook die gewese Aartsbiskop Desmond Tutu se uitstekende artikel op p.9 van Vrydag, 19 Augustus se Cape \Times gelees oor sy uitspraak i.v.m. “wealth tax”. Daarin praat hy oor hoe ongelooflik wonderlik dit sou wees indien almal van ons wat duidelik deur Apartheid bevoordeel was en nog steeds is en lank sal wees – indien ons almal vrywilliglik sou bydra tot die fonds waarvan hy droom – ‘n fonds wat NIE deur die regering bestuur sou word nie, maar deur “captains of industry”, sodat ons nie sou wonder wat van ons geld geword het nie, maar seker sou weet dit is aangewend om die armes op só ‘n wyse by te staan sodat hulle uit die armoede-siklus sou kon breek en ‘n vrugbare bydrae sou kon lewer tot ‘n gesonde ekonomie in ons land…. en omdat hul selfbeeld in so ‘n geval gesond sou wees, sou alle verhoudinge in die land ook op ‘n gesonder fondament gebou kon word, en die hele land en sy bevolking sou daarvan kon baat.

  6. Cobus sê:

    Dewald, ek sal moet erken dat ek nog nie Marx gelees het nie. Ook nie Ricoeur, Nietzsche of Kung nie. Wel, ek het moontlik al stukkies van meeste van hulle gelees, maar ek kan nie sê ek het enige van hulle as gelees nie.
    Ek is ook nie presies seker waarom dit lyk of Vice my sinies maak nie, waarom dit lyk of ek sinies is nie, en ook nie of “sinies” en “krities” half sinoniem gestel word hierbo nie.

  7. Dewald sê:

    Cobus dit is vir my heel ironies dat die werk van Vice jou krities en sinies laat sienende day sy in haar atikel “Cynicism and Morality” skryf dat: “This attitude is hostile to the virtues of faith, hope and charity, upon which relationships and our sense of moral community depend…I suggest that holding the cynical belief is itself immoral, and that cynicism is disrespectful and destructive of morality”. Ek is seker dat jou verdere studies vir jou allerhande insigte gegee het en ek is bly om te sien dat jy Marx gelees het (en ek is seker Ricoeur, Nietzsche en Kung ook). Maar dit blyk asof jy hierdie kennis slegs gebruik om die waardigheid van die FW de Klerk Stigting aan te tas sonder om ‘n konstruktiewe alternatief te bied. Die werk wat hulle doen is nie net wit en swart nie maar net so kompleks en genuanseerd soos die geskiedenis van ons pragtige land. Ons almal droom van ‘n ‘nie-rassige Suid Afrika’ maar net so nodig soos wat jou kritiek rondom die identiteit van ‘witheid’ is om hierdie droom te bewerkstellig, net so nodig is dit dat daar ook ‘n sosiale bewustheid is wat kritiek uitspreek teenoor diegene wat nuwe sisteme van onderdrukking instel om dit te bewerkstellig. Ek is seker dat diegene geraak deur plaasmoorde of die mense wat woon in Zimbabwe met jou sal verskil oor die voordele van ‘witheid’ (of dalk verstaan hul nie hoe die sisteem hul bevoordeel het dat hul die geleentheid gehad het om van alle besittings en waardigheid gestroop te word of om in groot plaashuise vermoor te word nie – en miskien was hulle wel?). Cobus dit sal heeltemal sinneloos wees om jou toe te draai in sosio-politiese retoriek soortgelyk aan die banfloek tekste en dit is ook nie my doel nie. Ek is iemand wat jou geloofs tradisie en amp deel en ek hoor jou lied oor ons kulturele onkunde en dat ons benadering tot versoening onbevredigend is.
    Per geleentheid het Professor Nico Koopman vir my gesê dat ons as Christene ‘n profetiese rol het – om krities te wees teen strukture wat mense onderdruk en om vir hulle ‘n hoopvolle alternatief te bied. My pleidooi is dat ons as Christene onderskeidend sal wees en aan ons profetiese rol getrou sal bly maar dat ons dit sal doen in die lig van hoop. Baie van hierdie gesprekke rondom apartheid was reeds op die tafel toe meneer Mandela die president geword het, maar hy het dit reg gekry het wat ek mis by ons kritiese teoloë-om mense opgewonde en hoopvol te maak ten opsigte van transformasie, geregtigheid en versoening. Wees die virtue van Vice en maak witmense opgewonde oor hoe hul ‘witheid’ hul in die bevoorregte posisie plaas om versoening en heling van die land aan te pak!

  8. Irene sê:

    Beste Cobus,

    Dankie vir jou kommentaar. Ek sou graag oor `n hele paar van jou punte wou uitwei – ek is ook 27 en wit, maar het verskeie uitkyke en menings wat van joune verskil. Dit sou dalk op `n interessante gesprek uitgeloop het. Maar dit sal beter wees as mnr Steward (ons uitvoerende direkteur) en adv Jacques du Preez (operasionele beampte en skrywer van onder meer die Samantha Vice-artikel) hieroor uitbrei, aangesien hul baie meer ervare is op hierdie gebied.

    Mnr Steward is tans oorsee vir besigheid, en adv Du Preez is op verlof, maar sal Maandag vir die dag op kantoor wees – ek sal hom vra om hierop te reageer.

    Ek persoonlik vermoed dat jy `n verkeerde indruk van die Stigting se werk en uitgangspunt het, maar ek sal dit aan mnr Steward en adv Du Preez oorlaat om hieroor uit te brei.

    Dis jammer dat jy telleurgesteld is in die werk en uitgangspunt van die Stigting – uit ervaring weet ek egter dat mens nie almal kan oortuig of ‘win over’ nie, en almal nie altyd sal saamstem nie. Debat is egter altyd goed, veral vir demokrasie in ons land.

    Vriendelike groete,

    Irene

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: