ateïsme in ‘n kinderlike gebed

Dankie Here vir die kos wat ons nou mag eet, gaan (ook) met die wat nie so bevoorreg soos ons is nie, Amen

Ek weet nie hoeveel keer ek hierdie gebed met die grootste opregtheid gebid het nie.

Hoe sal ons die gebed lees? Dalk moet ons eers die gebed probeer red. Die gebed kan gebid word vanuit die diepe worsteling met die bykans onmoontlike taak om iets aan die ongeregtighede in hierdie wêreld te doen. So gelees is dit ‘n kinderlike erkentenis dat ek in ‘n bevoorregte posisie is a.g.v die daaglikste brood wat op my tafel lê, en ‘n noodkreet dat die koninkryk mag kom – ‘n noodkreet dat slegs die een wat ons God noem, die een wat ons as almagtig beskryf, hier kan ingryp. Dit is ‘n uitroep dat die bo-werklike werklikheid wat ons God noem, die een wat natuurlik hoofsaaklik geinkarneer word in die vorm van mense se deelname aan die geskiedenis, in ‘n wêreld van brutale onreg moet inkom en saam met die armes (aan die kant van die armes?) moet wees sodat hulle die daaglikse voorsiening wat op my tafel kom ook op hulle tafel sal kom.

Maar ek dink nie dit is hoe ek dit gebid het nie. Ek dink ek het dit gebid met die stille hoop dat hierdie God nie in die vorm van mense se betrokkenheid in die geskiedenis inkarneer nie, maar dat God op een of ander bonatuurlike wyse troostend teenwoordig moet wees by hulle wat ly. Die gebed het nie die wesenlike probleem van die feit hierdie aarde nie die tekens van die koninkryk vertoon wanneer slegs party kan eet op die tafel gesit nie. In gebed wou ek moontlik bevoorregting aan die voorsienigheid van God toeskryf, en God dan stuur om te troos waar God skynbaar nie kon voorsien nie. Die gebed het maar net vertel wat ons instinktief geweet het: party is bevoorreg, en ander nie; dit is die wêreld waarin ons leef. God gee vir party kos, en vir ander nie.

Maar dit word ‘n ateïstiese gebed wanneer die gebed maar bloot die status quo in stand hou. Wanneer God se voorsiening hier en God se betrokkenheid daar geen effek het op die koms van God se koninkryk nie. Wanneer my geloof in dit wat ons God noem nie meer ‘n herinnering is daaraan dat die feit dat ek ‘n bord kos het en ‘n ander nie iets is wat verander kan en moet word nie, dan is dit immers die gebed van ‘n ongelowige (nie die eerlike gebed van ‘n twyfelaar nie, maar die oneerlike gebed wat sê dat ek nie die wêreld hoef te verander nie, omdat God dit sal doen, maar impliseer dat ons kan ontspan want God gaan elkgeval ook maar die status quo in stand hou).

Ons leef in ‘n wêreld met genoeg kos. Maar ‘n wêreld van ongelooflike ongeregtigheid rondom kos. Ek weet nie of ek dit sal waag nie, maar dalk moet ons kinderlik bid:

Here ons weet dat party honger is, droom dat u koninkryk sal kom, en dat almal genoeg sal hê op aarde, soos in die hemel. Gee vir ons ‘n ete wat dit sal laat waar word en maak ons los van eetgewoontes wat bydra tot die boosheid in hierdie wêreld.

Ek moet darem net as ‘n voetnota byvoeg dat die herhaling van die gebed heel bo tog ‘n konstante herinnering aan ongelykheid is/was, en iewers baie diep in my godsdiens tog goed losgemaak het.

Advertisements

One Response to ateïsme in ‘n kinderlike gebed

  1. Annemie sê:

    Cobus! Jy spreek hier iets aan wat my my hele lewe lank pla – Nie dat ek, sovêr ek myself ken of nie ken, ooit die “kinderlike gebed” gebid het op die wyse waarop jy dit beskryf nie…Maar ek het tog in absolute magteloosheid tot die Here geroep omdat ek WERKLIK nie weet hoe ‘n mens “die sisteem” verander nie – Ek gee almal kos wat by my deur kom – en daar’s baie wanat ek het geen versperring en hoë mure om my plek wat hulle weghou nie, terwyl almal rondom my dit wel het…. maar DIT is NIE die oplossing nie. En oral waar daar oor armoede gepraat word – en daar word BAIE gepraat, word daar altyd verwys na die verskil tussen vir ‘n ou of “ou-in” ‘n vis te gee en om daardie persoon te leer visvang…. En dis sovêr aswat ons kom – want dit neem eindelose tyd en geduld om iemand “te leer visvang en ons is almal eenvoudig te besig om dit te kan doen — EN in watter dam ofv rivier of see gaan jy die mens leer visvang?

    Boonop is daar so baie wat hul lewe lank probeer het om vis te vang en wat hulself op die ou end disnis geloop het teen ‘n muur en dus totaal tou opgegooi het. Hulle het alle moed verloor en het dooie oë en uitgemergelde liggame en geen selfrespek meer nie, geen hoop en daarom ook geen krag om ooit weer te probeer werk kry nie. Sommige van hujlle is willoos en gelate en aanvaar eenvoudig die feit dat hul nooit iets sal vermag nie, en dus maar moet bedel. Uit baie van hulle het elke druppeltjie menslikheid gesypel en hulle waai maar net soos herfsblare rondin die wind.

    In ander het daar ‘n geweldige woede opgebou wat net onder die oppervlak lê. Daar is diegene wat die kos wat jy hul aanbied (dikwels ‘n speiaal voorbereide bord kos) uit jou hande neem en dit dan teruggooi dat die sous so oor jou voete spat . Ander wat ‘n R10-noot in 20 klein stukkies skeur, want WAT kan mens op slot van rekening met R10 doen nie…. of met R100 of met ‘n duisend? As jy nie kan werk nie dan is veleng dit net jou lyding soos baie dokters met hul goeie medikasie aan dood-siek oumense doen.

    Dus, as jy die armoede REGTIG wil aanspreek, moet jy GROOT dink. Pro-aktief dink en weë vind wat werklk werk om die HELE samelewing te verander…. en dis daardie :”groot dink” wat my koud sit en blykbaar alle ander mense wat omgee ook lam laat.

    Voeding-skemas, sopkombuise, en dies meer is alles goed en wel en ek glo nie die wat daarmee besig is moet ooit daarmee ophou nie MAAR hulle bied hoegenaamd geen permanente oplossing nie.

    My hart brand in my – maar my kop staan botstil. Is daar iemand wat hom dalk “aan die brand kan skop”?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: