Was #blacktuesday dalk te maklik?

‘n Groot deel van my dag is in ongemak spandeer. Ek vermoed ek skryf dalk nou meer vir myself as iets anders, maar hier is wat in my ongemaklike gedagtes omgaan.

Eerstens is ek ongemaklik met ‘n samelewing wat te maklik in twee groepe opgedeel kan word. As ‘n regering oor ‘n stuk wetgewing stem, en vir alle praktiese doeleindes is die uiteinde dat alle ANC MP’s een ding stem, en alle opposisie MP’s iets anders stem, dan gaan daar rooi ligte aan! Dis immers ‘n illusie dat MP’s se eie opinie 100% met hul party s’n ooreenstem, en in ‘n gesonde debat sal daar altyd momente wees waar individue na alle kante toe verskil van die dominante idee in hul party. As sulke verskille toegesmeer word vir ‘n eenvoudige argument waar partye teenoor mekaar staan, dan moet ons besef ons het nie meer met ‘n intellektuele debat te doen nie. Maar vandag was dit nie net die regering wat in twee gedeel was nie. Die publiek het gedeel in die ANC anti-ANC verdeling, met geen grys gebied nie. Vandag moet jy standpunt inneem. Vandag is #blacktuesday. Dit is judgement day. ‘n IOL News tweet vat dit saam: “Are you For or Against the #POIB? Tweet only “Yes” or “No” #IOLpoll“. Geen “abstain (soos in die parliment) nie, geen “ek weet nie”, geen “ek stem grotendeels saam, maar het ‘n probleem met sekere punte”, geen “dankie dat 1982 se wetgewing uiteindelik aangespreek word, maar ons kan beter doen as wat op die tafel is”. Vandag was dit “ja” of “nee”, en enigeen wat nie duidelik en volledig “nee” gesê het nie, is onder verdenking.

Maar ek is ook ongemaklik met die Protection of Information Bill. Pierre de Vos verduidelik van die probleme daarmee. Maar daar is vir my meer daaraan. Die hele idee dat lande geheime het ter wille van “nasionale sekuriteit” pla my. Die stand van “nasionale sekuriteit” in Amerika is maar net die mees algemene voorbeeld. Die idee is gebou op ‘n wêreld waarin lande en hul regerings absolute gesag het, en waar die omgang met mekaar wesenlik geweldadig is. Die model sal altyd sy slagoffers hê, en moet in geheel ondergrawe word. Die beste alternatief blyk vir my te wees dat inligting (alle inligting) ge-open-source word.

Maar ek is ook ongemaklik daarmee dat die middel-klas publiek die vergrootglas vandag alleen op die regering (en per implikasie op die ANC) geplaas het. Alhoewel party dalk met een of ander ideaal werk dat die plaaslike nasie ‘n tipe absolute sowereiniteit het, is dit ‘n illusie. Daar is ekonomiese magte wat vandag in my nederige opinie meer die septer swaai as ‘n regering. Ek vermoed meeste van ons ongemak met die betroubaarheid van hoë profiel politieke leiers (beide in Suid Afrika, asook in ander lande) tot ‘n groot mate daarmee gepaard gaan dat dit wil voorkom of hulle optrede eintlik maar ekonomiese magte dien, eerder as die politiek wat die burgers van ‘n bepaalde land moet ondersteun. Ek dink dit is ook hoekom ons bang is vir hierdie POIB, want die vrees bestaan dat politieke leiers hulle persoonlike belange in ‘n ekonomiese sisteem nog verder sal versteek. In kort: ek dink die kritiek op die wetgewing is te min, ons het vandag ‘n stem nodig wat eis dat rolspelers in die ekonomiese magspel nie langer inligting mag versteek nie. Ons het nodig om te weet wie waar belange het en hoe groot die belange is, daar lê moontlik ernstiger struikelblokke vir ‘n oop en vrye samelewing as in die kantore van regeringsamptenare (tot ‘n groot mate soek ons vandag ‘n regering wat instaat is om die nog groter magte ter wille van die land se burgers in toom te kan hou).

Die publieke reaksie, waarvan die media onlosmaaklik deel was het my ongemaklik gelaat. Uitsprake soos dat hierdie die “einde van demokrasie” is, of dat dit “dieselfde as apartheid” is, is uiters problematies. Alhoewel die vryheid van die media nie die alfa en die omega is nie (die media praat immers ook maar hoofsaaklik vir ‘n middel-klas groep, en selfs al voel die media hulle is vry om te sê wat hulle wil, kan die meerderheid se stemme steeds doodgedruk word), vaar Suid Afrika relatief goed in terme van media vryheid (en ons moet werk om dit nog beter te laat gaan). Soos reeds genoem, ek dink nie vandag se besluit is ‘n positiewe skuif nie, maar die keuse om die vergrootglad hierop te plaas as ‘n tipe nekslag vir demokrasie in Suid Afrika los my baie ongemaklik. Die skokkend hoë werkloosheid syfer onder jongmense, en die massas armes wat nie kan “saamspeel” binne die reëls van hoe ‘n moderne samelewing werk nie, is ‘n veel ernstiger probleem! Ek wil nie ontken dat ons nie elke dag aan die ernstigste vrae kan aandag gee nie, en dat daar dae kom wat ons ook aan die fyner detail moet aandag gee nie, maar ons mag nooit toegelaat word om ons eie agenda onkrities te aanvaar nie. Die grootste gevaar is natuurlik dat ons swart dra vandag ons ‘n valse gerusstelling gegee het dat ons besig is om te veg vir demokrasie, terwyl ons more voortgaan met wat Zizek noem die “catastrophic consequences of the smooth functioning of our economic and political systems” juis omdat ons gewete gesus is dat ons vandag ons deel gedoen het vir vryheid. Ons moet vir ‘n oomblik stop en raaksien dat die vraag hoekom die POIB so hoog op ons agenda is en ander sake so laag belangriker is as ons “ja” of “nee” vandag (sonder om ons stem vandag totaal te relativeer).

Die media het my ongemaklik gelaat. Die media laat my gereeld ongemaklik. Ek dink nie ons koerante doen buitensporig sleg nie. Die Afrikaanse koerante stel my wel nogals gereeld teleur, maar dalk is dit maar net omdat dit “myse mense” is jy weet. Wat my ongemaklik laat met die media (en vandag weer gepla het) is die indruk wat geskep word dat die media ‘n tipe “objektiewe stem van die mense” is. Wat te min gehoor word is dat die media erken dat dieselfde magte wat selfs hoë profiel politici met tye na marionette laat lyk, ook in spel is in die joernalistiek. Die vraag is ook maar “wat verkoop”, en die stemme wat verkope laat val word uitgesny, die stories wat verkope laat styg word ingesit. Ons het nodig dat beide regering en media (en ook akademie en kerk) eerlik raak oor die feit dat ons in die moeilikheid is, omdat ons almal in rigtings gedruk word deur magte wat sekere stemme stilmaak, en die agenda verdraai om sekeres te bevoorbeeld. Om die regering as die vark in die verhaal te skets en onsself op die morele hoë grond te plaas is ‘n oorvereenvoudiging wat ons op die lang termyn duur gaan kos.

En laastens (vir die oomblik) het my eie kerk my ongemaklik gelaat. Want wat het ons as kerk nou eintlik gesê wat anders is as die breë populêre middel-klas diskoers wat vandag afgespeel het? Ons het nie eens gepoog om dit in kerklike taal te omskryf nie (wat ek baie waardeer het), maar het meer belangrik die persepsie gelaat dat die konstitutionele demokrasie ons “hoogste goed” is, en onsself verbind om ‘n spesifieke politieke vorm te verdedig. Alhoewel ek dink die kerk in sekere tye ‘n stem moet wees wat ‘n “beter” politieke bedeling te ondersteun (om byvoorbeeld te pleit vir ‘n demokrasie i.p.v ‘n Nasionalistiese regering), en met ander tye haar stem kan byvoeg om te sê dat ‘n sekere rigting beter as ‘n ander is, is daar ‘n stuk geweld aan die verbintenis tot die verdediging van ‘n konstitusionele demokrasie wat nie by die kerk hoort nie. Ek is bly dat my eie kerk binne die konteks van wit afro-pessimisme probeer om mense positief te stem oor ons land, maar ek dink die kerk het ‘n ander tipe kritiese stem nodig as om bloot soos die FW de Klerk stigting onsself te verbind tot die beskerming van ‘n vorm van regering wat op ‘n spesifieke moment in ons geskiedenis seëvier het. As kerk kan ons so ‘n politieke beleid slegs voorlopig ondersteun solank as wat ons oortuig is dat dit bydra tot geregtigheid. Dalk is dit wat ons bedoel, dat ons oortuig ‘n dat ‘n konstitusionele demokrasie (eerder as een van die ander vorme van demokrasie) “God se wil” is, maar ek word ongemaklik gelaat, en wonder of ons nie maar bloot hierdeur dieselfde politieke stemme wat ons nog altyd ondersteun het net verder ondersteun nie… maar dit is ‘n gesprek wat ons hier onder mekaar ernstig sal moet voer.

Ek voel nou beter. Die skryf was vir my goed. So kom ek sê wat ek dink nou kan gebeur.

Ek dink dis sleg dat daar vandag “ja” gestem is vir die POIB. Ek dink egter ‘n “nee” stem sou bloot ‘n troosprys gewees het, want dan sou ons maar net teruggeval het op ouer wetgewing wat ook nog te veel beskerming vir hulle wat reeds in posisies van mag is gee. Ons moet wegkom van ons 1982 wetgewing lyk dit my (ten spyte van die pogings wat al gemaak is om dit te verbeter). Ons gesprek moet dus eerder val op die proses waarin daar oor wetgewing gekonsulteer word (IDASA se versoek gister), en om vir konkrete voorstelle rondom spesifieke veranderinge te argumenteer (byvoorbeeld die Nelson Mandela Centre of Memory se voorstelle). Dit gaan ons nie by ‘n ideale samelewing uitbring nie. Dis waarskynlik onmoontlik vir Suid Afrika om in die konteks van ander lande se wetgewing wette te maak wat ‘n radikaal oop samelewing in die korttermyn sal help vorm (alhoewel dit nogals nice sou gewees het). Die toets vir die publieke stemme wat vandag geveg het vir vryheid, is of hulle more gaan voortgaan om ‘n konstruktiewe bydra te maak, en of #blacktuesday maar net gegaan het daaroor om vingers na die regering te wys. As die kerk praat, dan beteken dit ons herinner dat die toets van ‘n konstruktiewe bydra lê in die lewens van die armstes, gemarginaliseerdes en uitgeworpenes in die samelewing, nie bloot in liberale waardes soos “media vryheid” ter wille van media vryheid nie. As ons as kerk praat, dan weet ons ook dat ons voorstelle vir beter wetgewing voorlopig is, en binnekort weer bevraagteken moet word, want hierdie is nie die Koninkryk nie.

Advertisements

4 Responses to Was #blacktuesday dalk te maklik?

  1. Johannes sê:

    Daar is wel dieper probleme as hierdie een wetgewing en jou nugter perspektief is lofwaardig. Vir baie middelklas rusbank-revolutionaries is die kwessie inderdaad net ‘n uitbreiding op hul News24 kommentare, en hulle het min verskoning nodig om teen die regering opgesweep te raak. Mens mïet immuniteit hê teen instintiewe massa-aksies.

    Maar met name soos Desmond Tutu, Ronnie Kasrils en Nelson Mandela wat die wetgewing veroordeel het, is die polarisasie nie heeltemal so swart en wit nie. Soos Noseweek se redakteur opgemerk het, was dit verbasend om oposisiepartye in ‘n saak verenig te sien. Die minderheid is nie altyd eentonig nie.

    Die media in Suid-Afrika gaan natuurlik nie net lê nie en as iets ondergronds moet gebeur sal dit. Maar ongeag al die moderating faktore is die wetgewing nogtans ‘n rooi vlaggie wat nie geignoreer kan word nie.

  2. Tom Smith sê:

    Dankie vir hierdie skrywe … dit help my ook dink

  3. […] van Wyngaard has written a throughtful blog post about it at Was #blacktuesday dalk te maklik? | die ander kant, and if you don’t read Afrikaans, Pierre de Vos makes some similar points in this piece Who […]

  4. Steve sê:

    Wat te min gehoor word is dat die media erken dat dieselfde magte wat selfs hoë profiel politici met tye na marionette laat lyk, ook in spel is in die joernalistiek.

    Amen!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: