Los die Bybel en praat met die gays

Tot ‘n groot mate was ek ‘n unlikely kandidaat om my mond groot oop te maak oor die onderdrukking van mense op grond van seksualiteit. Vir die eerste 18 jaar van my lewe vermoed ek het ek nooit regtig daaroor gedink nie. As jy my sou vra of of homoseksualiteit sonde is, sou ek sonder twyfel gesê het “ja”, maar niemand het my gevra nie, en ek het nie nodig gehad om daaroor te dink nie. Ek het nie die 7 bybelversies op ‘n ry afgeken wat daaroor sou praat nie (ek sou moontlik nie een hier uit my geheue kon haal nie, en in alle eerlikheid, as ek dit nou moet doen sal ek dit maar moet google, ek weet steeds nie waar almal is nie), dit was bloot ‘n non-issue.

Diep in my matriek-jaar in, ek was al oppad om te gaan teologie swot, het ‘n baie goeie vriend aangedui dat hy graag met my sal wil praat. Hy het iemand nodig gehad om aan te vertel dat hy met homoseksualiteit worstel (ek gebruik sy woorde), maar dat hy tot die oortuiging gekom het dit is verkeerd, en dat hy sy lewe wil verander. Laaste keer wat ons gepraat het was hy baie gelukkig met sy keuse, in ‘n heteroseksuele verhouding sover ek onthou, en het die lewe vir hom aangegaan.

‘n Jaar later was ek ‘n jong teologie student. Oor die algemeen redelik konserwatief. Een van my beste vriende is aangeraai dat hy moet begin praat oor die feit dat hy homoseksueel is, en ek en hy het begin praat. Hy het nie gevra hoe ek hierdie of daardie teks interpreteer nie, hy het nie gevra wat my siening is nie, hy het bloot gevra of ons vriendskap van so aard is dat ons mekaar vertrou. Ons het laat aande gepraat. Ek onthou hoe hy my toestemming gegee het om enigiets te vra, en ek het. Stukkie vir stukkie moes ek besef dat hierdie mens wat hier langs my sit nie inpas by die prentjies van gays wat vir my geteken is nie. Een dag het ek hom gevra oor Romeine 1. Sy antwoord wat dat hy nog nooit wanneer hy daardie teks gelees het verstaan het dat dit praat oor hom nie, vir hom het homoseksualiteit immers niks met onnatuurlikheid of seksuele verhoudinge wat nie binne ‘n vertrouensverhouding geskied nie te make nie. Laaste keer wat ek gehoor het was hy gelukkig in ‘n homoseksuele verhouding.

Daar was nog stories, en deurlopend kom daar nog stories. In verhoudinge is ek gevorm en word ek steeds gevorm.

Ek het nog nooit die 7 tekste in detail bestudeer nie. Ek het gesien hoe ons dit as ‘n tipe litmus toets gebruik om te kyk of jy in of uit is (na alle kante van die teologiese spektrum toe), maar dit het vir my maar half vreemd gevoel. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat die Bybel slaafs navolg rondom seksualiteit nie. Iewers, of dit nou by Levitikus of Paulus is (ek bedoel come-on, wie van ons dink regtig dit sou beter gewees het as ons almal liewers selibaat geleef het?) besef almal van ons dat die Bybel in ‘n ander tyd geskryf is, en dat dinge anders werk. Ons forseer nie ‘n vrou wat deur ‘n man verkrag is om met hom te trou nie. Ons gebruik klippe om huise te bou, eerder as om mense daarmee te gooi. So waarom moet homoseksualiteit anders wees?

Dalk was die Bybel vir my belangriker as wat ek ooit sal besef. Party van my minder godsdienstige vriende in die koshuis het my diep verhouding met my gay vriend maar vreemd aangekyk. Maar ek kon nie anders as om om te gee nie. Nie omdat ek oortuig was dat homoseksuele verhoudinge Bybels aanvaarbaar was nie (ek was op daai stadium nie), maar omdat dit ‘n regte mens was. En jy sien, as vroom Christen (vir die wat wonder, daar was so ‘n stadium) is ek geleer mens gee om vir ander. Jy probeer om vir ander respek te hê. En die waarheid is dat ek ‘n paar keer gesien het hoe vroom konserwatiewe Christene met meer respek omgaan met gays as party van die wishy washy liberals wat vertel dat jy maar kan spyker wie jy wil (om Steve Hofmeyr se woorde te gebruik) maar nog nooit die moeite gedoen het om by iemand te gaan sit en hulle storie te luister nie.

Hoe ons die Bybel lees is belangrik, en ek het waardering vir die Bybelwetenskaplikes wat fyn die tekste bestudeer. Maar hierdie debat gaan nie oor die Bybel nie, en hoe vinniger ons dit besef hoe beter. Dit gaan oor mense. As jy die Bybel in die prentjie wil inbring, dan wil ek aanbeveel dat jy dit saam lees. In die NG Kerk het daar op verskeie plekke ‘n gewoonte begin ontstaan om saam die Bybelteks te lees, ‘n gewoonte wat ons by die Algemene Sinode sterk gesien werk het. Die gewoonte dryf my partymaal die mure uit, maar in hierdie geval dink ek moet ons daar begin. Kom ons begin deur Johannes 4 te lees in gemeenskappe waar mense wie se seksualiteit nie dieselfde is nie saam luister. Ons kan nie een dag langer hieroor debat voer sonder om saam met die gay community op reis te gaan nie. Dit is immers hoe ons in die kerk van Jesus Christus moet werk. En dalk sal hierdie reis, om saam met mense wat vir baie van ons partymaal vreemd voel (ja, ook vir baie van ons wat hard sal baklei dat daar ruimte gemaak moet word vir gays, ook ons het nog ‘n lang pad om te stap met ons eie homofobie) meer vir die kerk beteken as die om die regte besluit op papier te neem.

(eintlik dink ek daar is ‘n stap wat hierdie een vooafgaan, maar kom ek stop vir eers hier)

Advertisements

8 Responses to Los die Bybel en praat met die gays

  1. Judy Engelbrecht sê:

    So word ek toe ookgedwing om navorsing te doen oor gays toe my dogter van 25 vir my kom sê sy trou met n vrou….waar trek n mens die streep n verhouding bespreekbaar maarn troue tussen die selfde geslag…ek sukel met die antwoord met in die oë kyk en al!

  2. Ek wens daar was meer mense wat soos jy gedink het. Dit sou dinge soveel makliker gemaak het

  3. Suzette sê:

    Ja, dit gaan oor mense, maar as jy die Here dien, kan jy tog nie die Bybel ignoreer nie. Mens wil dan vlgs. die wil van die Here lewe en my Bybel sê dis nie God se wil dat mense as aktiewe homoseksuele moet lewe nie. Ek het niks teen gays nie, God het hulle ook lief, maar hoe ek dit ookal vir myself probeer regverdig, kan ek net nie aanvaar dat dit is hoe God wil hê ons moet lewe nie.

  4. 1andonlyants sê:

    Mag ek asseblief vir jou n staande applous gee. Baie goed gestel,baie dankie hiervoor.

  5. Gerhard sê:

    In Piet Naude se boek “Stories vir die lewe” is daar ‘n storie getiteld “Kyk in sy oë” wat presies sê wat jy hier probeer sê.Die storie gaan oor ‘n verraaier wat in ‘n dorp weggesteek word en dan word die burgemeester deur die besettingstroepe(Die Nazis) gedreig dat as hy nie die verraaier aan hulle uitlewer nie die inwoners op allerlei maniere geteister gaan word.Almal in die dorp het egter geweet dat die “Verraaier” onskuldig was.Nadat die dorpsraad nie die probleem kon oplos nie het hulle die hulp van die priester ingeroep..Die priester het met beroep op ‘n bybelteks besluit dat dit beter is as een man vir die volk sterwe as dat die hele dorp se inwoners sou sterwe.Die man is toe uitgelewer aan die besetters en is doodgemartel.Baie jare later besoek ‘n wyse man die dorpie en wou weet waarom die “verraaier” wat ‘n groot kampvegter vir geregtigheid was uitgelewer kon word? Die Burgemeester antwoord toe:”Maar wat moes ek gedoen het? Ek het tog die priester se hulp gevra en hy het in die Woord gekyk vir ‘n antwoord.”
    “Dis waar julle die fout gemaak het,” antwoord die wyse.”Julle het net in die Bybel gaan kyk sonder dat julle ook in die man se oë gekyk het.”

  6. tiaan sê:

    Well said. Co-sign. (En ek kom uit Kollege uit – homofobie hallo! 😉 )

  7. Nadia sê:

    Gee mens defintief iets om oor na te dink.

  8. Albert Cruywagen sê:

    Cobus: Een groot waarheid wat jy hier loslaat, is: Dit gaan nie oor die Bybel nie; dit gaan oor mense!!!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: