wanneer die regses ons cover blaas

So paar dae terug vind ek myself saam met die familie rondom ‘n tafel vir ontbyt in ‘n gastehuis daar naby die Garsfontein/Solomon Mahlangu kruising. Etenstye was nog nooit die mees ernstige tyd in ons gesin nie (selfs wanneer ons gestry het) en op hierdie gegewe oggend het dit ook maar jolig gegaan. Ons gashere was ‘n paartjie van daai goeie gasvrye, eintlik klein bietjie te familiëre, Afrikaner oom en tannie. Jy weet mos, ons is eintlik almal familie (daarom natuurlik die vreemde “oom” en “tannie” in Afrikaans), so ons praat maklik as ons by “ons mense” is.

So vra oom gasheer toe uit wat ons die vorige aand gemaak het. Nee wat, ons het Menlyn besoek, vertel ons hom. Jy weet mos, bietjie goeie familie-tyd hier in die groot stad. Mens moet immers jou dosis verbruiking inkry as jy kans kry.

“Nee”, sê oom gasheer, “julle moenie Menlyn toe gaan nie, Menlyn is nie meer wat dit was nie, julle moet in die vervolg Woodlands Mall toe gaan”. Een van ons was ons eie vriendelike Afrikaner self gewees (of was dit dalk maar net dat daar so klein bietjie van ‘n aspriste Van Wyngaard-streep uitgekom het) en het heel onskuldig gevra: “Maar wat is dan verkeerd aan Menlyn”. Ons moes die antwoord kon raai.

“Menlyn het baie swart geword…”.

Sy analise van die situasie kon netsowel uit een of ander komplekse sosiologie joernaal gekom het. In baie meer woorde, en veel meer genuanseerd, sou die navorser dalk wou uitwys dat ten spyte daarvan dat daar ‘n groeiende swart middel-klas is, is daar steeds ‘n baie lae sosiale kohesie tussen Suid Afrika se wit en swart middel-klas, en is residensiële gebiede in Suid Afrika steeds op grond van ras geskei. Die navorser sou kon voortgaan om te noem dat daar natuurlik baie uitsonderings hierop is (en Menlyn sou dalk as voorbeeld kon dien), maar dat daar steeds ‘n patroon te bespeur is.

Die meeste van ons wat die nuwer malls daar waar die son opkom besoek sal waarskynlik wil beswaar maak teenoor die oom se analise van die situasie. Ons sal wil benadruk dat daar by ons geen “rassisme” te bespeur is nie (dalk sal ons verduidelik hoe goed ons met ons swart kolegas oor die weg kom of selfs wil vertel dat “ek het ‘n swart vriend”. Ons sal dalk in teenstelling met die oom ‘n analise wil maak dat dit nie oor ras gaan nie, maar eerder ‘n klassestryd is (ons weet mos immers almal Marx was verkeerd, en dat verskillende klasse in ‘n samelewing nie bevraagteken hoef te word nie)*. Die verskuiwing na die die plek waar die son opkom is dus maar ‘n “natuurlike ekonomiese proses”.

Daar sou genoeg waarheid in hierdie analise kon wees dat ons die saak maar daar kan los. Klas bepaal immers tog residensiële patrone. Met genoeg tyd, en “harde werk”, kan enige iemand dus maar inkopies doen waar hulle wil, en dit sal ons natuurlik nie pla nie. Maar wat presies sal die klasseverskil tussen Menlyn en Woodlands dan nou presies wees?

Nee, die regses blaas eintlik maar net ons cover. Skynbaar het hulle nog nie die nuus gehoor dat plaaslike wit diskoers moet “conform to the international injunction against openly prejudiced discourse” (Steyn and Foster 2008: 28), en wanneer hulle dink dat dit nou net “ons mense” hier bymekaar is, dan sê hulle gereeld goed waarvoor ons maar so half ongemaklik saamlag, en hoop die gesprek draai in ‘n ander rigting.

In hulle onkunde oor wat polities korrekte liberale etiket is, sê hulle egter by die naam dit wat die “res van ons” weet ons moet vermy: Ons gaan Woodlands toe omdat Menlyn te swart geword het.

* Natuurlik moet hierdie skynbare konsensus uitgedaag word, maar dit ‘n gesprek vir ‘n ander dag.

Steyn, M. and Foster, D. (2008) ‘Repertoires for talking white: resistant whiteness in post-apartheid South Africa’, Ethnic and Racial Studies, vol. 31 no. 1, pp. 25-51.

Advertisements

2 Responses to wanneer die regses ons cover blaas

  1. tiaan sê:

    Ek gaan Kolonnade toe want Menlyn is te ver 😉 …om nie eens te praat van Woodlands nie!

  2. Albert Cruywagen sê:

    Ek het vroeër die week dieselfde gehoor mbt Durban as vakansiebestemmng. Ekself bly egter ver weg van enige massa mense. Durban sien my nie weer op ‘n vakansieuitstappie nie; maar so ook Hartenbos in Desember. Maar nou moet ek bysê my kind is al groot en soek nie tienersensasies tydens vakansies nie. Wat sal ek kies as ek tussen Hartenbos en Durban moet kies op Nuwejaarsdag? Ek dink nog.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: