kerk, geweld en stakings?

Ek vind dit redelik maklik om die plaas-stakings te ondersteun. Ek maak my budget oop. Probeer vir ‘n oomblik dink hoe ek sou reageer as ek R70 per dag gekry het (selfs al het ek gratis verblyf gehad). Probeer my emosie indink as ek sou moes wonder of ek gaan geld hê om my seuntjie in ‘n skoon hospitaal te kry as hy siek word… en dan wil ek die stakings ondersteun.

Natuurlik keur ek die geweld af! Ek streef immers ook om alle vorme van geweld te veroordeel. Maar ek weet dat die staking op De Doorns nie op almal se lippe sou gewees het as dit bloot gegaan het daaroor dat ‘n paar duisend druiweplukkers aangedring het daarop dat hulle gaan sit en kyk hoe die druiwe aan die stokke vrot nie. Nee. Ons praat almal oor die staking want daar was vuur. Ons wonder almal oor R70 per dag, want die plase het gebrand. Ek skryf hierdie blogpost, omdat daar geweld was, nie in die eerste plek omdat mense R70 per dag kry nie. En ons kan die samelewing tot rustigheid maan so veel ons wil, en ons kan selfs vir die polisie nog groter gewere gee, solank publieke geweld die enigste manier is wat maak dat mense beleef dat hulle ernstig opgeneem word, gaan geweld gebruik word om ‘n saak op almal se lippe te kry.

Maar ek dink nie die staking gaan regtig werk nie. Nie op die korttermyn nie. Die waarheid is dat die hele sisteem so opgestel is dat as ons salarisse verhoog, gaan ons bloot net iewers ‘n stuk tegnologie kry om die werk goedkoper te doen. Wat beteken dat daar volgende jaar minder mense aangestel gaan word om druiwe te pluk. En dieselfde geld vir die myne. Iewers is daar ‘n masjien wat die werk goedkoper gaan doen. En of ons die politieke wil en kapasiteit het om regulasies so fyn op te stel dat werkgewers forseer word om beide hoër salarisse te betaal en steeds arbeidsintensiewe prosesse te implimenteer betwyfel ek, en of dit enigsins ekonomies moontlik is binne die huidige sisteem betwyfel ek elkgeval ook.

Hoe praat die kerk oor geweld en stakings? Ons distansieer onsself van alle vorme van geweld, en ons pleit dat almal sal rustig raak. Ek bedoel, hoe dan nou anders? Die kerk kan tog nie iets anders sê wanneer ons met vuur gekonfronteer word nie? Maar is die kerk nie besig om presies te doen wat die president, kabinet, aandeelhouers, mynbase ens. van ons verwag nie? Speel ons nie maar bloot ons rol om die status quo instand te hou nie?

Opposing all forms of violence, from direct, physical violence (mass murder, terror) to ideological violence (racism, incitement, sexual discrimination), seems to be the main preoccupation of the tolerant liberal attitude that predominates today. An SOS call sustains such talk, drowning out all other approaches: everything else can and has to wait… Is there not something suspicious, indeed symptomatic, about this focus on subjective violence-that violence which is enacted by social agents, evil individuals, disciplines repressive apparatuses, fanatical crowds? Doesn’t it desperately try to distract out attention from the true locus of trouble, by obliterating from view other forms of violence and thus actively participating in them?

(Zizek, Violence: Six sideways reflection)

‘n Te maklike uitweg (alhoewel dit ons dalk al ten minste een stappie beweeg) is om dan heel gesofistikeerd te verklaar dat die eintlike geweld die uitbuiting van ‘n paar boere is. Jy weet mos, dis ‘n voortsetting van apartheid. Dit sluit mense uit van beheer oor hulle eie lewens. Dit is selfs ‘n verdoeming tot ‘n vroeë dood (jy sal immers nie sukkel om armoede en ‘n korter lewensverwagting aan mekaar te koppel nie). En alles sal sulke elemente van waarheid in hê wat ons sal kan laat dink dat ons nou tog die morele hoëgrond betreë het. Ten minste is dit nie ons wat dan mense kwalik neem omdat hulle ontsteld is oor R70 per dag nie. Maar as hierdie selfde boere die prys van druiwe verhoog dan gaan ons bloot minder druiwe koop (en dan nog boonop rondom ‘n braaivleisvuur moan omdat druiwe so duur geword het).

Nee, die enigste manier waarop ons as kerk geweld werklik kan verwerp (soos wat ek absoluut oortuig is ons moet), en ‘n stem vir vrede kan wees (soos wat ek nog meer oortuig is ons moet wees), is om ‘n stem te wees wat praat lank voor daar ‘n plaas brand of ‘n myn tot stilstand kom. En hier raak dit moeilik.

Maar ek dink ons stem moet die volgende insluit:

  • Dat ons dit verwerp die idee dat jou ekonomiese posisie bepaal tot watter mate basiese menseregte op jou van toepassing is. Dit sluit in jou reg tot voldoende behuising, mediese sorg, onderwys ens.
  • Ons spreek onsself ten sterkste uit teen die sisteem van brutale ekonomiese ongelykheid.
  • Ons kan nie anders as om spesifieke geweldadige insidente te verwerp nie, maar ons mag dit net doen indien ons bereid is om onsself te verbind om die stemme van hulle wat onderdruk word ernstig op te neem ten spyte daarvan of insidente van geweld ons aandag daarheen dwing (ja, en net daar spreek die hele skrywe van hierdie blogpost op hierdie punt seker maar teen alles waarvoor ek argumenteer).

Om dit konsekwent te doen is bykans onmoontlik. Veral wanneer ons as predikante self ekonomies in die top 10% (of is dit die top 5%?) van Suid Afrika val. Maar as ons dit nie doen nie, dan gaan die koning van Nkandla (en ja, ek weet ek stel dit nou dramaties) maar net in stilligheid te dankbaar wees as die kerke opdaag om ‘n godsdienstige rasionaal te verskaf aan waarom ons die vrede moet bewaar, en dus die weg oopmaak dat so min as moontlik aan die sisteem verander hoef te word.

Die eintlik vraag is dalk, is die kerk instaat om meer dringerd te praat as wat die brandende plase praat? Want dit is wat die verwerping van geweld van ons vra.

* Ek skryf as deel van die kerk vir die kerk. Maar ek aanvaar dat daar ander instansies is wat net so belangrike rol moet speel, en wat soortgelyke vrae vir hulleself moet vra. As kerk staan ons egter in ‘n bepaalde tradisie waar hierdie vrae nooit uit ons gedagtes mag beweeg nie.

Advertisements

6 Responses to kerk, geweld en stakings?

  1. […] was verder nog heeltyd versigtig om die probleem as “onchristelike boere” te beskryf, wat bloot “gulsig” is. […]

  2. BoB sê:

    Gaan na die res van afrika voor julle verder nonsens praat. Ek het in 4 afrka lande ge werk en daar betaal hulle nie eers van hulle werkers nie. Net kos. Dit gaan baie lekker hier in Suid Afrika. Maar dus mense soos jy wat probeer om die ge weld regverdig al se jy jy stem nie saam ge weld nie maar in n manier doen jy dit tog. More sal jy dieselfde skryf wanneer nog boere vermoor word. Hulle kry te min geld etc etc. Dit gaan nie oor geld. Maar julle is so aan die slaap bly maar glo wat julle wil. Die land sal op uindig soos die res van afrika en dan gaan baie mense dood gaan van honger vergeet van R70. Daar gaan nuks oor wees nie. As julle dit oorleef hoop ek jy onthou my e – mail.

  3. Toortsie sê:

    Ja, ons betaal dalk te min. Maar neem ons in ag dat ons met ongeskoolde of swakgeskoolde werkers sit? Ek kan ook net noem dat die R70 die minimum loon is. Dis gewoonlik net beginners wat dit ontvang, die meerderheid plaaswerkers kry heelwat meer as die minimum loon. Dis ‘n redelike algemene praktyk dat die boere vir hulle plaaswerkers se hospitaalkoste betaal. Behalwe die salaris, sorg boere ook dat die werkers GRATIS dorp toe vervoer word. Hul betaal wel ‘n tipe “huishuur” maar as gekyk word na ‘n soortgelyke huis op die dorp is die huishuur wat gevra word MINIMAAL, want die huise vergelyk goed met die HOP huise – eintlik is daar GEEN vergelyking nie. Baie van die produkte wat op die plase geproduseer word, word, of gratis, of gesubsidieerd aan die werkers beskikbaar gestel.
    Ek het al meermale gesien dat as plaasmense dorp toe trek om ‘n “beter salaris” daar te verdien , hulle eerder verarm, omdat hulle dan nie meer die ongeskrewe voordele het van die plaas nie.

  4. Die kerk moet meer krities wees teenoor die regering. Dit is ‘n ou probleem in Suid-Afrika se kerke. Omdat die kerkleiers ekonomies welaf is, is hulle versigtig om die regering aan te vat. En die regerende party het duidelik ‘n sentrale rol gespeel in die stakings en die geweld van die afgelope tyd.

    Maar nou ja, die kerk en die regering is al vir eeue saam in die bed. So was dit met die Roomse kerk, so was dit met apartheid en so is dit maar met talle Gereformeerde kerke in post-apartheid Suid-Afrika.

    Van Jan van Riebeeck tot die tyd van die koning van Nkandla (wat terloops self ingewy is as pastoor in ‘n kerk), is ons as die kerk van Jesus (waarvan ek beslis deel is), dikwels maar niks anders as lafhartig nie.

  5. Ouboet sê:

    empatie. .. m.i. een vd grootste gawes wat d Inkarnasie ons bied

  6. Terence sê:

    Cobus, ek onthou dat in my bewuswording van die vraagstukke as jong dominee (want ek was salig onbewus), ‘n gedeelte uit die formulier vir die bevestiging van diakens my baie gehelp het. Daar staan dat die barmhartigheid van God ook uitgedra moet word na die samelewing toe. En: U moet die materiële en geestelike nood van mense fyn aanvoel en daadwerklik help. En dan: VERLIG OOK DIE OMSTANDIGHEDE WAT TOT DIE NOOD AANLEIDING GEE. Dit was altyd maklik om diakens te motiveer om die eerste deel te doen. Kospakkies aandra is maklik. Min sukses gehad met deel in hoofletters. In die 80’s is gesê, dit is die staat se deel want ons betaal belasting. Op my 2de kerkraadsvergadering was daar ‘n saak van ‘n oom en tannie wat saamgebly het want as hulle ttrou verloor een pensioen en medies. Die kerkraad he nie verstaan toe ek hulle aanbeveel om eerder die wetgewing aan tte pak as 2 ou mense nie. (Hulle is uiteindelik nie onder sensuur geplaas nie).

    Ek meen dat jou bydrae kan help om die hoofletters waar te maak, maar jy sal moet aan hou praat en skryf. Aanhoudende bewusmaking kan dalk die damwal breek.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: