… want dis nou eers 18 jaar later

Die gedagte dat ons opgeroep word om ‘n rasionele verdediging van ons geloof te gee. ‘n Apologie. Ek steur myself al hoe minder aan hierdie tipe publieke versoeke wat in predikante se rigting gestuur word, omdat die gesprek gewoonlik geen nuwe roetes vir ons gesprekke oopmaak nie.

Die laaste versoek het egter ‘n ietwat ander karakter aangeneem, en daarom reageer ek wel. Ek wil dus wel ‘n apologie vir my oortuiginge gee, alhoewel van ‘n ander soort. Hier het dit min met die rasionele verdediging van God uit te maak, maar wel met die uiters aktuele vraag oor hoe wit Suid Afrikaners oor ons verlede en hede praat.

Die rede waarom ek opgeroep is tot ‘n verdediging, was omdat ek sonder verdediging bloot net my geloof verklaar het. My geloof dat ‘n stelling soos “Ja, ons het n tragiese verlede, maar dis nou darem 20 jaar later”, totaal verwerp moet word. Soos dit met enige geloof dalk maar gaan, is daar sekeres vir wie so ‘n standpunt geen verdediging nodig het nie, die totale onaanvaarbaarheid hiervan blyk vir hulle voor-die-hand-liggend te wees. In geloofstaal sou ons egter sê dat ander “blind” is vir hierdie geloof, en dat hulle dus begelei moet word om ‘n ander realiteit te sien.

Dis natuurlik uiters arrogante taal. Maar wanneer ons oor ons diep oortuiginge praat, dan klink ons taal met tye uiters arrogant. En nou wil ek die eerste wees wat myself moet herriner dat ons bekering-ervarings selde die gevolg van ‘n apologie, ‘n rasionele verdediging van die geloof, is. Dis immers die oortuiging van massas moderne apologete, maar die waarheid is dat hulle eintlik maar net vir die “ingewydes” preek, net hulle eie posisie verskans teen kritiek. So hopelik kan ek my eie apologie binne ‘n ander tradisie plaas, een waar ek verwoord sodat dit duidelik kan word waar ek staan, met die doel dat ons gesprek net dalk verder kan beweeg.

Hier is die agtergrond van my apologie. Ek is vir ‘n paar dae by ‘n konferensie waar daar geworstel word met die vraag hoe ons siklusse van gewels wat oor generasies heen herhaal word kan breek. Israel-Palestina, Joodse vervolging in Duitsland, die onderdrukking van die Roma in Europa, massas stemme uit verskillende dele van Afrika, afstammelinge van slawe in Noord-Amerika, en natuurlik baie wit en swart Suid Afrikaners neem aan die gesprek deel. Vroeg in die konferensie het ek op facebook verwys na die opmerking van ‘n Amerikaanse sosioloog wat wys daarop dat Suid Afrika inderdaad beter met ‘n traumatiese verlede en die bou van ‘n nuwe samelewing omgegaan het as meeste ander voorbeelde in die wêreld. Ek dink dis belangrik dat ons partymaal goeie nuus moet hoor, en het dit dus op facebook gedeel.

‘n Groep wit predikante (ek dink tog dis belangrik om dit te noem) het hierop begin reageer. Daar was basies drie tipes reaksies. Een groep voel dat die WVK se werk veel verder en dieper moet gaan, en dat ons nog baie van ons trauma uit die verlede moet verwerk. ‘n Ander opinie is dat die ANC darem regtig baie droogmaak vandag. Dis ‘n ander debat as waarop ek nou wil reageer, maar dis ‘n algemene strategie dat wanneer wit Suid Afrikaners met die brutaliteit van ons verlede gekonfronteer word, ons begin praat oor die foute van die ANC. Jy weet, dis amper soos toe ons kinders was en ma met een van ons raas oor ons stout was, en ons dan dadelik aan ma verduidelik hoe stout boetie was. So asof dit ‘n verskil moet maak. So asof as ons boetie net in ‘n sleg genoeg lig kan skets, ma sal dink ekself is eintlik ‘n engeltjie.

Dit is die derde tipe reaksie wat my egter werklik ontstel het. Dalk moes ek nie ontsteld gewees het nie, mens hoor hierdie tipe stem immers gereeld in Suid Afrika, maar gegewe die omgewing waarin ek die afgelope dae was, gegewe die massas oë van mense wat trauma ervaar het, ook van die kinders wat uit families kom wat in vroeër generasies trauma beleef het, het dit my hard getref hierdie keer. Dit is die houding van wit Suid Afrikaners dat Apartheid in ‘n verre verlede lê, en dat daar nou al so baie tyd verbygegaan het dat ons darem nou bietjie kan ophou hiermee. Jy weet, dit is die Klopjag benadering. Dit was vasgevang in hierdie gesprek met die woorde “Ja, ons het n tragiese verlede, maar dis nou darem 20 jaar later”, en ek is gevra om ‘n apologie te gee vir my verwerping van so ‘n benadering. So kom ek probeer.

Eerstens, ek dink die poging om Apartheid as iets ver in die verlede te beskryf, waaroor ons dalk bietjie kan praat, maar wat nie wesenlik belangrik is vir hoe ons optrede in die hede, insluitend die besluite van die ANC, verstaan nie, is bloot swak sosiala analise. Kom ek stel dit brutaal. Ek dink nie ons kan my pa se generasie se daaglikse optrede, ook hulle kritiek op die ANC, verstaan sonder om te onthou dat hulle deur Apartheid, in die vorm van diensplig, gevorm is nie. Ek dink ook nie julle kan my generasie verstaan sonder om te onthou dat ons almal deur soldate grootgemaak is nie. Residensieële patrone, onderwysstelsel, ekonomiese ongelykheid, die taal wat ons gebruik in publieke diskoers, die politieke partye waarvoor ons stem, niks hiervan kan losgemaak word van ‘n geskiedenis van kolonialisme en Apartheid nie. So om ‘n roete te soek wat kritiek in die hede wil lewer sonder om konstant met die kompleksiteit van die verlede te worstel is bloot ‘n wenresep vir ‘n swak sosiale analise.

Tweedens, ek dink nie ons verwerk geskiedenis in 20 jaar se tyd nie. In elkgeval nie die werklike traumatiese geskiedenis nie. Die rule of thumb is immers dat geskiedenis boeke eers 20 jaar na ‘n gebeurtenis geskryf kan word. Orals oor die wêreld sien ons hoe daar generasies later nog geworstel word met die kollektiewe trauma in ‘n gemeenskap of land. Trauma wat oor honderde jare deel van ons samelewings geword het, neem heelwat meer as 20 jaar om te verwerk. En dit sal ons as wit Suid Afrikaners dalk goed doen as ons dit ook vir onsself onthou. As jou kinders so oud soos ek of jonger is, hulle is nie “born free” nie. Hulle is vasgevang in ‘n verlede, en gaan nie daaruit breek as ons dit stilmaak nie. Ons moet ons verlede weer en weer op verskillende maniere besoek, daaroor huil, daaroor lag, en oor tyd ons hede rekonstrueer in verhouding met ons pogings om anders met ons verlede om te gaan. So alhoewel dit half na common sense klink om te maak of trauma wat meer as 20 jaar in die verlede lê darem nou al iets is wat ons nou maar bietjie van kan vergeet, is dit bloot nie in lyn met enige soortgelyke voorbeeld in die wêreld nie.

Derdens, ek dink dit is bloot pastoraal brutaal. In geen gesprek met ‘n individu wat trauma beleef het maak ons so tipe opmerking oor die traume nie. Natuurlik is daar goed wat met tyd gesond word, en natuurlik verander die manier waarmee ons met ons trauma omgaan. Maar enige een wat ekstreme traume beleef het weet ook dat dit ook na 20 jaar weer skielik kan kop uitsteek op ‘n nuwe manier, en dat dit vir die res van jou lewe ‘n impak het op hoe jy dinge aanpak. Om egter vir iemand te sê dat die blote hoeveelheid tyd wat verloop het rede genoeg is dat ons kan verwag dat ons nou maar kan “aanbeweeg, meneer”, verstaan bloot nie hoe genesing werk nie. In ons kollektiewe traume wil ek iets soortgelyk sê, behalwe dat kollektiewe traume oor veel meer as een generasie ontstaan het. Waaroor ons kan praat is tot watter mate ons genesing gevind het, tot watter mate ons herstel gevind het, maar die blote hoeveelheid tyd wat al verloop het sedert 1994, of 1990, kies jou datum, kan opsigself nooit ‘n argument wees nie.

So daarom is ek uiters ongemaklik, en verwerp ek dit volledig, as ons goed sê soos “Ja, ons het n tragiese verlede, maar dis nou darem 20 jaar later.

So hoe kan ons dan praat? Hier is my voorstel:

Eerstens, ek kies om vanuit ‘n posisie van hoop te praat. Daarom wil ek sê dat ons nou maar eers 18 jaar in ‘n demokratiese Suid Afrika is, en dit ongelooflik is hoeveel ons reggekry het! As ‘n Swart vrou wat ‘n politieke gevangene was onder Apartheid hierdie wit man (dis nou ek) vanaand ‘n druk kan gee, dan sê ek wow. As ek luister na die twee hoërskool kinders van een van die UFS personeel wat vanmiddag my interrogate oor hoe Kaukasiërs se hare versorg moet word, hoe gereeld dit gesny en gewas moet word, en hierdie ongelooflike meisies van 14 en 17 kyk hierdie wit man in die oë, en praat met ‘n selfversekerheid, en ‘n gemak, wat my laat jubel, dan het ek hoop (alhoewel ons tog sou kon vra hoekom hulle eers vanmiddag hierdie vrae kon vra).

Tweedens, ek dink ek wil met verbintenis werk. Dit beteken dat ek erken dat ons nog ‘n lang pad het om te gaan, dat ons nog vir dekades of meer deur die brutaliteit van die verlede gaan moet werk, gaan moet werk deur wat die aan almal van ons gedoen het, en dat ek myself verbind daartoe. Ek doen dit nie as ‘n tipe van ‘n keuse vir “my issue” nie. Ek dink nie dat ons ‘n keuse het watter issue nou vir ons belangrik is, en dat rassisme en ons geskiedenis van kolonialisme en Apartheid een pet topic is waarop ek kan fokus nie. Ek dink dat as ‘n samelewing het ons nodig om onsself te verbind daartoe om hierdie goed aan te hou deurwerk, en ek verbind myself om dit te doen.

So aan my gespreksgenoot, hier is my apologie. Dit is my antwoord vir my sterk woorde. Hier staan ek, ek kan nie anders nie. Ek dink ons sal verder kom, nie net in terme van versoening nie, maar ook in terme van die verskeie probleme, ook polities, wat die land vandag in die gesig staar, as wit Suid Afrikaners leer om ons verlede eerder te ernstig op te neem as om dit te onderspeel, om alle analises wat ons maak ook binne die konteks van osn geskiedenis te maak, en om veral konstant bewus te wees hoe ons self steeds bevoorreg word deur hierdie verlede, en uiters sensitief te bly vir hoe ons standpunte steeds gekleur word deur die plekke waar ons kom. My ervaring is dat as ons dit regkry, dan is daar ‘n lewendige publieke debat waarvan ons deel word, nie as die “wit stem” in die samelewing nie, maar as mede-burgers.

Advertisements

4 Responses to … want dis nou eers 18 jaar later

  1. VisChris sê:

    “Ja, ons het n tragiese verlede, maar dis nou darem 20 jaar later.”

    Jammer Cobus, ek het n LANG REAKSIE geskryf, en toe verloor dit alles op WordPress. Ek gaan dit wraggies nie oorskryf en formuleer nie.
    Ek wil net duidelik sê jy lees ‘n heeltemal ander betekenis in my woorde hierbo as wat ek bedoel het.
    Die kort van my woorde wil sê TANS (NOU NA 18 JAAR) LOOP ONS GEVAAR OM DEUR DIE HUIDIGE BESTEL ‘N BAIE GROTER GEMORS EN ONREG IN ONS LAND TE SIEN ONTWIKKEL wat BESIG IS OM BAIE (meer en erge?!) VERWOESTING TE SAAI.. (Laat ons dit nie vergelyk met die graad van onreg en boosheid van die verlede nie – dis nie nou van belang nie,)
    Ek sluit volledig aan by ATTIE hierbo en pleit maar net dat DIT NOU PRIORITEIT VIR ONS WORD om PROFETIES baie meer dit aan te spreek en te help ONTBLOOT EN OMKEER.
    Gaan gerus voort om mee te werk aan verdere versoening en hoop. Dit staan natuurlik nie teenoor mekaar nie.

  2. attie sê:

    Cobus
    Baie waardering vir jou skrywe. Ek dink daar is meer van ons wat kies om vanuit ‘n posisie van hoop en verbintenis na ons land en ons omstandighede te kyk. Inderdaadis ons nog net 18 jaar in demokrasie in, en dit is hostoriese terme ‘n baie kort tydjie.

    Ek kan egter nie anders as om ook te sê dat deel van my hoop en my verbintenis is om op dieselfde ondubbelsinnige wyse die huidige korrupsie en blatante vergrype en misbruike deur die huidige regering te verwerp nie. Ek kry soms die gevoel dat ons wat in die vorige bedeling ons tande gekry het en dan “as soldate” ons kinders groot gemaak het, nie die reg het om meer en beter te verwag van ‘n regering nie. Kritiek teen die huidige “rampokkers” (nie almal in die ANC of regering is rampokkers nie, maar dat hulle daar is, is ongetwyfeld so) is meer as geregverdig. Ek dink dit is die verantwoordelike ding om te doen.

    Ondubbelsinnig en met alles in my verwerp ek die vergrype van die apartheid en daardie rampokkers maar net so ondubbelsinnig en met alles in my verwerp ek die huidige regering wat nie daarin kan slaag om korrupsie en selfverryking hok te slaan nie. Die huidige president is besig om die staatskoffers te roof vir sy eie gewin en op hierdie oomblik gebruik hy die staats-masjinerie om sy herverkiesing in Mangaung te verseker.

    Weereens sal ons hoop nie daarin lê dat reg en geregtigheid deur ‘n regering of ‘n demokrasie gaan geskied nie, maar ook in hierdie tyd sal die kerk beskikbaar moet wees dat God se reg en geregtigheid deur haar kan geskied.

  3. […] Cobus van Wyngaard discussed this in a recent post here … want dis nou eers 18 jaar later | die ander kant. He probably hears such things more often than I do, as we move in different circles, and in some […]

  4. Dit is vir my uiters moeilik om te verstaan dat sekeres nie wil erken dat dit veel langer as 20 jaar gaan neem om die verlede te verwerk nie; dat generasies die vloek van Apartheid sal dra.
    Kyk hoe lank neem dit nou al die Afrikaner om die Boereoorlog te verwerk…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: