Kerklike debat en om anders te lééf

Ek is nie seker wat die doel van die drie artikels is wat saam as Kerkdebat in twyfel versprei word nie. Verseker kon dit nie drie kante van die saak belig het nie, want Jordaan, Strydom en Pretorius sê al drie eintlik maar dieselfde. Lees maar, dis heel eenvoudig: Daar is ‘n tradisionele geloof, en ‘n tradisionele praat oor God aan die een kant, en daar is een of ander “nuwe geloofstaal” aan die ander kant, met die onuitgesproke moontlikheid dat dit selfs ‘n totale verwerping van alle geloofstaal kan beteken.

Al drie probeer ‘n middeweg vind. Ons moet nuut praat sonder om die oue te los. Noem dit misterie, noem dit dialoog, noem dit wat jy wil, dit kom telkens op dieselfde neer. Iewers moet ons ‘n middeweg vind tussen die twee groepe wat Julian Müller uitwys. Twee groepe wat eintlik al stereotipes geraak het binne die Suid Afrikaanse publieke debat oor die toekoms van die kerk.

En in die proses het ons drie reaksies op Julian Müller en nie een van die drie raak aan die kern van sy argument nie:

Individuele spiritualiteit sonder sosiaal-etiese implikasie is aan die orde van die dag.

Albei groepe moet gehelp word om te verstaan wat die eise van die Evangelie vir húlle is.

Dalk hoor ek Müller verkeerd, maar as ek hom so lees dan het hy maar vrae oor beide groepe se bereidheid om te breek met ‘n individuele spiritualiteit en om die sosiaal-etiese implikasies van die evangelie sentraal te maak in die nuwe taal wat nodig is.

Dalk het ons almal oortuig geraak dat as Julian Müller skryf, dan moet ons hoor dat ons anders moet dink oor etlike artikels van die Apostoliese geloofsbelydenis. En daarop reageer die drie wat Kerkdebat in twyfel vol woorde pak dan ook. Maar ten spyte van die aanhak aan Wilhelm Jordaan se vorige rubriek, wat inderdaar met hierdie twee groepe gewerk het, is daar maar min in Müller se artikel oor hoe hierdie nuwe taal God sal omskryf. Wat hy egter wel herhaaldelik noem is eenheid, inklusiwiteit, etiek. Belhar, nie die Apostoliese Geloofsbelydenis nie, is waaroor hy praat. En Belhar se waarheidsaanspraak lê in ‘n manier van leef, nie in die korrekte formulerings oor hierdie of daardie metafisiese kontroversie nie.

Kom ek sê wat Julian Müller nie sê nie: Die Steeds Hervormers is nie juis veel meer wit as die Nuwe Hervormers nie.

(ek is nie deel van een van die twee nie, so ek getuig maar oor wat ek sien).

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek dink die pogings om een of ander onveranderde geloofstaal te vind is futiel. Die geskiedenis van die kerk is bloot teen jou as jy oortuig is dat daar een of ander punt in die geskiedenis is waarop ‘n bepaalde interpretasie van ons belydenis van geloof gefinaliseer is.

Ek dink verder oor dat al die wetenskaplike ontdekkings en filosofiese debatte die kerk nie kan verbygaan nie. Maar dan weer, dit het die kerk nog nooit verbygegaan nie. Kerklike burokrate het nog altyd versigtig die manier van praat geskuif (en as jy daaroor twyfel, vergelyk maar gerus die moderator vandag en die moderator van 100 jaar terug, of selfs die pous deur die eeue). Kerklike rebelle (heel gereels in die vorm van akademici) het nog altyd eksperimenteer met ander maniere van praat, of hierdie akademici wat aan die kerk gekoppel was nou teoloë of fisici was. Daar was nog altyd stemme wat geglo het die kerk ignoreer die veranderinge in die samelewing, en dan maar hul goedjies gevat en geloop het. Dis belangrik dat ons hieroor moet dink.

Maar ons kan so vasgevang word tussen hierdie twee groepe, of dalk eerder, tussen die burokrate se versigtige nuut-praat en die rebelle se eksperimente, dat ons vergeet dat ons in die NG Kerk eintlik ‘n belangriker debat op ons tafel het.

Hoe ons die wederkoms en entropie met mekaar in gesprek bring is belangrik. Maar hoe ons wit en swart Suid Afrikaners met mekaar in gesprek bring is heelwat belangriker. Hoe ons dink oor die kerklike ballinge is belangrik (en moet my nie verkeerd verstaan nie, dit is hoe die meeste van my vriende beskryf moet word), maar uiteindelik is dit ekonomie, taal en ras, meer as jou interpretasie van die maagedelike geboorte, wat bepaal of jy Sondag oggend in een van daai geboue wat as “NG Kerk” beskryf word gaan sit.

Ons kan so lekker saamdans oor hoe ons oor God moet praat, belangrik soos daai dans is, dat ons vergeet dat ons spesifieke verlede ons met een moerse sosiaal-etiese dilemma los, en dat dit, nie die vraag oor wat presies die aard van God is nie, bo-aan ons agenda moet wees.

So laat ons daai nuwe taal gaan soek. Maar kom ons begin deur te vra wat die sosiaal-etiese implikasies van hierdie nuwe taal gaan wees. As ek dit nie mis het nie, is dit waarvoor Julian Müller hierdie rondte gepleit het.

Advertisements

2 Responses to Kerklike debat en om anders te lééf

  1. Gerhard sê:

    Die probleem is dat nie een van die bydraers regtig probeer luister wat Julian Muller wil sê nie.In ons eie gemeente is daar bykans geen kontak met die plaaslike VGK gemeente nie behalwe die Ds wat eenmaal ‘n maand daar gaan preek.Gesamentlike eredienste was ‘n hele paar jaar laas gehou en dan net in die wit kerk se gebou.Nog nooit was daar ‘n gesamentlike erediens in die VGK se gebou gehou wat in die Township is nie. As daar oor gemeenskapbetrokkenheid gepraat word lyk dit of dit net die “Wit” gemeenskap is wat bedoel word.Daar is wel ‘n betrokkenheid van een of twee lidmate by die VGK by Keates Drift maar dis net ‘n uitvloeisel van ‘n gemeente in die Wes Kaap se betrokkenheid.Weereens is dit meer ‘n patriargale tipe betrokkenheid.Ek lees die volgende aanhaling vanoggend en vind dit baie toepaslik:”True contemplatives, then, must do justice, must speak justice, must insist on justice. … And so must we do whatever justice must be done in our time if we claim to be serious about sinking into the heart of God.
    – Joan Chittister
    -From Illuminated Life”

  2. Ek sien ook nie eintlik wat die drie bydraes met Julian Muller se artikel te doen het nie.

    So belangrik as wat oop gesprek is en “om geloof in nuwe taal te verwoord”, is dit ook nou al vir my irriterend en vervelig om jaar in en jaar uit te hoor dat die oplossing is dat mense net met mekaar moet praat, so asof geloof net oor ‘n gepraat gaan.

    Hierdie 2 paragrawe van Muller slaan die spyker op die kop:

    “In plaas daarvan dat die kerk lidmate help om ’n meer Bybelse verstaan van kerkwees te ontwikkel en ’n blootstelling bewerkstellig, wat taal- en kultuurgrense oorspan, word lidmate toegelaat om telkens weer in die ou gemaksone van die eie groep terug te trek.

    Die boodskap oor kerkeenheid en inklusiwiteit word wel in teorie gehoor, maar dit bly op abstrakte vlak sonder dat mense pertinent en konkreet uitgedaag word tot ’n nuwe lewenswyse.”

    Die praatkultuur in die kerk wat so bitter selde tot ‘n nuwe lewenswyse lei is een van die groot redes waarom baie Christene hulle in die eerste plek in kerklike ballingskap bevind. Blootstelling is ‘n sleutelwoord, blootstelling wat lei tot nuwe verhoudinge, wat lei tot ‘n nuwe lewenswyse in nuwe gemeenskappe.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: