Heer waar dan heen, is die kerk oppad heen?

Attie daar by sy koffietafel is besig om weer die gesprek oop te maak oor hoe die kerk van die toekoms moet lyk. Ons was oppad om bloot heen en weer op mekaar te reageer, so nou maak ek die gesprek maar hier oop met ‘n paar verdere gedagtes.

As ek Attie reg lees, dan is daar twee probleme wat hy beleef.

Eerstens, die kerk is nie meer so belangrik soos wat dit eens was nie. Hy beskryf die tyd waarin die kerk belangrik was as Christendom. Dit is nie net dat die kerk belangrk was omdat daar baie mense in die kerk was nie, maar veral omdat die kerk mag gehad het om te sê hoe dinge in die samelewing moet werk.

Die tweede probleem wat Attie raaksien (of is dit ‘n moment van hoop?) is dat mense se soeke na transendensie nie meer na die kerk lei nie. Daarom hak hy aan die bekende “spiritual not religious” lyn, en lewer kritiek op ‘n kerk wat irrelevant geword het. Dis egter belangrik om te sien dat Attie ook hierin ‘n oplossing vind (ek dink). Mense is nie wesenlik teen God of geloof nie, hulle hou eintlik nogals daarvan, glo nogals baie, en die kerk het dus ‘n groot “mark” (nie sy woorde nie) as ons net kan leer hoe om hierdie mark te tap.

Sy begin vir ‘n oplossing (en hier begin ons toe debat voer) is dat die kerk meer missionaal moet wees. Ek het al probeer om hierdie “missionaal” ding te verstaan (en ek dink ek het reggekry om David Bosch min of meer te verstaan, wat konstant aangehaal word wanneer daar oor missionaal wees gepraat word), maar die waarheid is dat ons nie regtig weet wat ons daarmee bedoel nie. Te minste, nie presies nie. Daar is ‘n paar lyne waaroor almal waarskynlik sal saamstem:

  1. Missionale kerkwees het iets te make met die sosiale nood binne ‘n bepaalde konteks. Dit gaan nie bloot daaroor om mense hemel toe te vat nie.
  2. Missionale kerkwees sluit almal wat hulleself “Christen” noem in, en kan nie ge-outsource word na een of ander kommitee toe nie.
  3. Missionale kerkwees moet op een of ander manier met my lewe tussen eredienste te doen hê.

As eerste voorbeeld vir wat as ‘n moontlike antwoord op die twee probleme hierbo kan dien, gee Attie vir ons Thomas Gemeente in Sheffield. Die spesifieke goed wat hierdie gemeente noem wat lyk my vir hom uitstaan is dat hulle die gemeente in groepe van ongeveer 20 mense organiseer, en die primêre fokus van die groepe is dan betrokke by “diens en getuienis” in ‘n spesifieke omgewing (geografies of binne ‘n bepaalde netwerk van verhoudinge). Die groepe wil ook hê dat die mense op wie hulle ‘n impak het (ek aanvaar deur hulle diens en getuienis) Jesus moet volg. In die comments verwys hy verder daarna dat hierdie kerk 600 gemeentes of 3 jaar gestig gekry het.

Kom ek verduidelik my ongemak met hierdie antwoord (voor ek my ongemak met die probleem verduidelik). Dis nie bloot omdat die “buitelands” is nie. Ek is eintlik bitter bly hy gee nie vir ons nog ‘n Amerikaanse model nie. Maar ek raak ongemaklik wanneer ek die link na die wikipage oor die gemeente volg, en dan die link na Sheffield volg en dan op Economy click. Lees maar self. Wat ons vind is ‘n gemeente wat ‘n ongelooflike storie vertel hand aan hand met ‘n ongelooflike ekonomiese verhaal.

Kom ek gee gou vir jou twee ander voorbeelde van dieselfde situasie. Saddleback Church (Rick Warren se kerk) kan jy vind in ‘n omgewing (Lake Forest) waar 66% van die huishoudinge meer as $100000 inbring. Die 2003 syfers vr Amerika was dat 15% van huishoudings hierdie tipe inkomste gewys het. Willow Creek Church (Bill Hybels) is in South Barrington, waar die inkomste mediaan van ‘n huishouding $170000 is. Iewers moet ons begin skepties raak oor kerkmodelle, maak nie saak hoe goed hulle lyk, wat geskep word in uitwonderlike ekonomiese omstandighede. Dalk kan ons iets by hulle leer, maar daar is massas vrae wat ons gaan moet vra. En vir die oomblik dalk net dit: hoeveel kan die gemeente in Danville, Attridgeville of die Moot regtig leer by ‘n model wat geskep is om mense wat uitsonderlik ryk is in die kerk te kry?

Ek weet nie vreeslik baie van die gemeente in Sheffield nie, maar omdat ek van Willow Creek en Saddleback geweet het, het ek sonder om twee maal te dink die links gevolg na die “Economy” konteks van hierdie gemeente wat as voorbeeld voorgehou word.

Vinnig iets oor die probleme: Is ons probleme in die kerk werklik dat ons mag verloor het en dat mense spirituele wyshede op ander plekke gaan soek? Deel van hierdie “mag verloor” was dat die kerk nie vandag meer vir opvoedkunde en mediese dienste verantwoordelik is nie. Ons het daai vir die staat (terug)gegee. En dit is nie maar bloot met geweld afgevat nie! Die kerk self het ook tot die oortuiging gekom dat dit beter is as die kerk nie hiervoor verantwoordelikheid neem nie. Ja, op plekke is die kerk inderdaad nog met hierdie tipe dienste besig, staan die kerk die skoene vol van dit wat ons eintlik glo die verantwoordelikheid van die politieke/ekonomiese sisteem is. Is hierdie verlies aan mag ‘n probleem? Ek dink nie so nie! Wat wel ‘n ernstige probleem is, en sentraal moet staan in die kerk se agenda, is dat hierdie politieke/ekonomiese sisteem waarvan die kerk haarself losgemaak het (of losgemaak is), is nie besig om seker te maak dat almal opvoeding, mediese sorg, en ‘n basiese menswaardige bestaan kry nie!

Oor die hele “spiritual not religious” ding sal ek later meer skryf, maar ek wonder of die kerk nie bykans uit verligting hierna gryp omdat dit as teken gebruik word dat die “harde ateïsme” waarvoor ons so bang was (en is) nie gewen het nie. Dit is dus die kerk se oplossing ook. Ons moet net weer regkry om God anders te verpak, dan kan ons hierdie samelewing wat eintlik almal “geestelik” wil wees weer in die kerk kry. Meer hieroor in ‘n volgende post.

Attie vra my waar ek voorstel ons moet gaan soek vir antwoorde. Kom ek probeer deur eers my kritiek op die modelle wat in ekstreme ryk kontekste ontstaan te voltooi.

Ek dink nie Saddleback, Willow Creek of St. Thomas doen net slegte dinge, of dat hulle eers hoofsaaklik slegte dinge doen nie. Inteendeel, ek dink hulle het al baie keer hulle ekonomiese mag gebruik om mooi goed te doen, en vermoed dit sal voortgaan. Maar daar is ‘n gevaar. As ek reg is dat ons hele politieke en ekonomiese sisteem so bedryf word dat dit nie net misluk daarin om die mediese en onderwysdienste wat vandag moontlik is aan mense te verskaf nie, en misluk daarin om ‘n basiese lewensstandaard daar te stel nie, maar meer as misluk, dat hierdie sisteem uiteindelik afhanklik is daarvan dat daar ongelooflike hoë vlakke van ongelykheid is, dat ons ‘n hoeveelheid bronne gebruik wat uiteindelik sal veroorsaak dat die hele ekologiese sisteem in duie stort, en dat daar iewers spotgoedkoop arbeid moet wees – dat mense dus uitgebuit moet word, dan gaan hierdie modelle ons nie help nie. Ek wil voorstel dat ‘n model wat in hierdie konteks ontstaan ons nie gaan help om daardie selfde konteks te ondergrawe nie.

Wat ons dus kry is dat hierdie tipe modelle voorstel dat die kerk “in die gemeenskap betrokke moet raak”, dat ons met “diens en getuienis” moet besig wees, maar telkens aanvaar dat ons nie te veel aan die groter toutjies kan trek nie. In kontrak hiermee, het die kreatiewe werk waarmee die kerk in Suid Amerika, in Swart Apartheid-Suid Afrika, in Swart gemeenskappe in die VSA, tussen vroue, en op ‘n massa ander plekke mee besig was die laaste paar dekades, vir ons kom leer dat as jy iets wil verander, dan help dit nie jy “raak betrokke” nie, jy sal die sisteem moet verander.

Die post raak te lank, so ek sal maar nog van hulle moet skryf. Ek dink ons probleem (myne, Attie s’n, meeste van ons wat in die NG Kerk is) is dat ons makliker aanklank vind by die modelle wat ons leer dat ons die sisteem basies kan los soos dit is, en net binne hierdie sisteem goeie dinge kan doen. Dit is omdat ons oor die algemeen aan die ontvangkant van hierdie sisteem sit. Ons bly onbewus daarvan, net soos Saddleback, Willowcreek, en ek vermoed St. Thomas (ek raai sommer, weet eintlik niks van hulle nie, maar as ek verkeerd is sal ek uiters verbaas wees), dat ons die hele sisteem wat na Christenkom gekom het sal moet help omverwerp en transformeer as ons werklik wil omgee vir die mense van hierdie aarde.

Advertisements

7 Responses to Heer waar dan heen, is die kerk oppad heen?

  1. Dankie. Ek is redelik op hoogte met wat die Algemene Sinode oor die Bybel sê. Ek is bewus van die uitspraak dat die Bybel nie “gesien kan word as ’n eksakte handboek vir historiese of wetenskaplike kennis nie”. Die laaste keer wat ek egter ’n diens bygewoon het (op Kersoggend), het die dominee daar op die kansel geklim ek daarop aangedring dat die Bybelverhale ‘geskiedenis’ is en historiese feite is. Ek was by ’n ander gemeente, ook gedurende 2012, deel van ’n selgroep waar daar vriendelik van my verwag was om te glo dat die verhaal van Adam en Eva ’n historiese feit is. Dat daar regtig mense soos ‘Adam’ en ‘Eva’ was wat in ‘Eden’ gebly het.

    Maar kom ons kyk net gou ’n oomblik na daardie skakel wat my aangebied is as antwoord. So word daar gesê dat die Bybel beslis BETROUBAAR is. Nou wat ek onder ‘betroubaar’ verstaan is dat dit wat dit probeer weergee oor onder meer die verlede, die natuur, die buitesintuiglike en die werklikheid, dat dit alles GELOOFWAARDIG is. Tog net verder aan sê dit nee, alles is nie eintlik geloofwaardig nie en dat die Bybel nie vertrou kan word in baie opsigte nie. Dat die Bybel nie “gesien kan word as ’n eksakte handboek vir historiese of wetenskaplike kennis nie”.

    Daar word verder gestipuleer dat die Bybel ‘DUIDELIK’ is, maar verderaan word verklaar dat “die hele Bybel [nie] so maklik is om te verstaan dat enige mens selfstandig en onmiddelik alles daarin kan begryp nie”.

    Oor die gesag lui die verklaring dat die Bybel BETROUBAAR en VOLDOENDE is (“omdat die Heilige Gees ons deur die Bybel alles leer wat ons hoef te weet om in God te glo en om sy wil te gehoorsaam”), net om verder aan te verklaar dat “die Bybel [nie] vir ons die volle kennis oor alle aspekte van die werklikheid gee sodat geen verdere menslike kennis nadenke of navorsing nodig is nie”.

    Oor al die verslae sedert die 1986 word daar gesê dat “die Algemene Sinode dit as riglyne (eerder as standpunte) goedkeur wat daarop dui dat die Algemene Sinode oor hierdie saak nie meer so sterk werk met vaste , dogmatiese uitsprake nie.

    Met ander woorde. Jy gee my ’n skakel na ’n verklaring wat dit (soos ek dit lees) duidelik stel dat die kerk JUIS NIE ’n ondubbelsinnige beleid jeens die Bybel het nie. Dat ons maar onsself laat rondwaai soos die wind waai. En dan wil jy vir my sê dat die hele saak ‘ondubbelsinnig’ is.

    Kom ek vertel jou nog ’n paar dinge. Dit is vir hierdie redes dat ons in die NG kerk vroue leraars toelaat maar nie gay leraars wat seksueel aktief is nie. Dieselfde geld vir mense wat egbreuk pleeg en self skei. Ons laat sulke mense toe want dit is sosiaal meer aanvaarbaar as gays. Wat die Bybel oor die saak te sê het, het niks met dit alles te doen nie. Ek is seker as genoeg van die hoogs geleerde manne daar by die sinode sit besluit dat die Skepper spiderman onderbroeke dra, dan sal daar ’n ou teksversie gevind word wat die gedagte steun. Maar ongelukkig word die web van leuens met elke sitting bietjie stewiger.

    En dan wil ek net sê, die tradisionele kerke loop miskien leeg ja, maar dit is omdat ons nie ’n ondubbelsinnige beleid oor die Bybel het nie. En as jy dink dat ek lieg en onsin praat, dan moet jy maar nog lekker lank en diep wonder oor hoekom die kerk leegloop en hoekom ouens wat in ondubbelsinnige terme praat (soos die Baptiste met hulle 150 000 000+ lidmate, die heel grootste ‘Gereformeerde’ kerk vandag) ewig aan die groei is. Dan was ek maar my hande in onskuld.

    Vrede vir jou.

  2. […] vrees wat tot die tipe skeptiese reaksies lei wat ek gister openbaar het is die volgende: Ons kan ‘n glorieryke toekoms vir die kerk beplan waar lidmate betrokke is […]

  3. Missionaal wees, het minder (eintlik geensins) met programme en aksies te doen en veel meer (eintlik) te make met ‘n “way of being”. Christus kon nie anders as missionaal wees nie- dit was deel van sy wese. Te veel gemeentes verwar en bedryf missionaal wees, met programme, met dinge-wat-gedoen-moet-word, ipv ‘n “way of being”.
    Hoekom bogenoemde? Ek veronderstel dat die menslike aspek van elkeen, lidmaat en dominee, hier die leiding gee: “Ons gemeente is ‘n missionale gemeente”- klink baie goed rondom die etenstafel met vriende en familie; “Ek het van my gemeente ‘n missionale een gemaak, ek is missionaal gefokus”- lyk goed op ‘n CV van die predikant. Daar is immers ego in ons almal se doen en late, ons is net te vrek skaam om dit te erken!
    Beweeg ons steeds te naby aan die staat/mag? Ek reken so, ja! Solank as wat die NGK kan spog oor wat sy doen en bydra tot die verbetering van die gemeenskap (soos wat Braam Hanekom gedoen het met die opening van die Namibiese Sinode in November 2012)- en ek gebruik die woord spog nie negatief nie! – kan ons eis dat ons by die regering van die dag ‘n stem wil hê. Gegewe, ter wille van die Koninkryk… Maar dis steeds ‘n sê waarna ons soek en dws mag, dan nie? En dit terwyl ons eintlik nie ‘n stem moet hê nie. Ons “being”, ons wese moet die praat werk doen.
    Bogenoemde stem saam met hoe ek Cobus se 3 punte verstaan…

    Om God anders te verpak? Is dit nie maar net nog ‘n model, ‘n program, 12 stappe wat gevolg moet word nie? En ons as blanke Afrikaners sukkel om weg te kom van programme en stappe en resepte: ons geskiedenis maak dit vir ons so moeilik!

    “Being” gaan oor “system change”, dit kan nie anders nie. En alles hierbo, gaan oor “being”.

  4. attie sê:

    Barend: EK hou nogal daarvan om te gaan kyk na die besluit wat die Algemene Sinode oor die Bybel geneem het. Ek dink juis dit is die ondubbelsinnge beleid. Gaan kyk gerus by http://www.kerkweb.org/sites/default/files/15_Bylaag_-_Skrifbeskouing.pdf

  5. attie sê:

    Cobus: Ek dink nie ons is so ver van mekaar af nie. Ek hou van jou drie punte van wat dit beteken om missionaal te wees. Ek dink juis missionale geloofsgemeenskappe (Vergeet waar dit vandaan kom) kan al drie daardie punte uitleef.

    “… die hele sisteem wat na Christendom gekom het sal moet help omverwerp en transformeer.” Klink vir my sommer lekker revolusionêr en dit sal inderdaad lekker en goed wees as dit kan gebeur. Is dit nie maar weer hunker na een of ander vorm van Christendom nie?

    Ek wonder ook of meer missionale geloofsgemeenskappe waar Christene tussen Sondae fokus op die nood van mense in ‘n spesifieke gemeenskap, nie daartoe gaan bydra dat die huidige sisteem op ‘n meer subtiele (subversive) manier die huidige sisteem gaan ondergrawe en die koninkryk van God gaan laat kom nie.

    Lekker gesprek.

  6. Ding sê:

    Die hele sisteem moet help omverwerp en transformeer? En dit gaan hoe gedoen moet word?

    Ding luister graag! Skryf asb. nog meer!
    Grondgroete

  7. Die kerk sal altyd deur die wereld benodig word. Daar sal altyd kerk wees. Die probleem kan seker op baie plekke gesoek word, maar vir my gaan dit uiteindelik oor die Bybel self. Elke prediker en evangelis verstaan die preek anders oor die Bybel, veral in die NG kerk (waarvan ook ek lid is, so terloops). Ons het nie ‘n ondubbelsinnige beleid oor die Bybel nie. Oor wat die boek is en wat dit behels nie. En dit verwar mense. En mense hou nie van ‘n ding wat hulle nie verstaan nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: