@gormendizer kom ons praat oor teoloë en stakings

Johan Swarts se rubriek verdien reaksie. Ek vat dit bietjie persoonlik op, want vermoed ek was iewers in sy gedagtes toe hy gekies het om te skryf, so ek voel bietjie verantwoordelik om maar te reageer. Terwyl my eie gedagtes nie volledig inpas by sy voorbeeld van hoe teoloë tipies reageer nie, is daar genoeg ooreenkomste tussen my eie onlangse opmerkings, en ook Johan se reaksie daarop, en waaroor hy in die rubriek skryf om my vermoede dat ek ten minste een van die was oor wie hy gedink het te bevestig. Natuurlik skryf Johan oor teoloë in die meervoud, en is elke opmerking wat hy maak nie op my gemik nie (dit sal elkgeval waarskynlik verwaand wees om te verwag dat ek die enigste een is wat hy in gedagte het), maar as een spesifieke teoloog, wat wel vermoedelik in sy gedagtes was, sal ek tog reageer.

As die wat agter Johan se argument lê reg verstaan, dan dink ek teoloë (en die kerk oor die algemeen) moet dit hoor. Ek hoor agter die argument die groter probleem dat teoloë wil praat oor dit wat in die samelewing aangaan, wil kritiek lewer, selfs wil voorstelle maak, sonder dat ons die werklikheid goed genoeg verstaan. In hierdie geval, ons verstaan nie die komplikasies van die landbousektor nie, verstaan nie die konteks van plaaswerkers nie, en verstaan nie die groter werking van die ekonomiese sisteem nie. Ons lewer dus goedbedoelde kritiek, maar dit is nie in voeling met die werklikheid nie, en as ons wil praat moet ons meer tyd spandeer om die data te verstaan.

Johan is nie die eerste wat dit sê nie. Blaai bloot weer deur David Tracy se Analogical Imagination, waar hy op die standaard kritiek teen teoloë wys wat sê dat ons te wyd en oor te veel wil praat, vae algemene analises maak, en besig is met wat in werklikheid bloot ongedissiplineerde refleksies is, wat ons onder die vaandel van “teologie” as aanvaarbaar beskou. Dis ‘n werklike probleem. Dit was een van die probleme wat ek ook spesifiek wou konfronteer toe ek op kerklike reaksies op geweld gewerk het. As ek Johan dus reg verstaan, dan dink ek ons moet hom hoor. Ons mag nie vir een oomblik verwag dat ons analise ongegrond mag wees bloot omdat ons dit as “teologie” bedryf nie. So kom ek probeer om my eie gedagtes bietjie verder te verwoord.

My eie mini-uitbarstingtjie waarna ek hierbo verwys was gebou op die gevoel dat ons besig is om met ‘n klompie double binds te sit wat ons met ‘n onmoontlike situasie los.

  • Plaaswerkers kry te min geld. Hulle kan nie hulleself onderhou met die geld wat hulle kry nie.
  • Ons kan nie die minimum lone verhoog tot op ‘n plek waar ons sal kan sê dat die geld wat plaaswerkers wel kry hulle toelaat om in dit te voorsien wat ons as “basiese menseregte” beskryf (kos, beshuising ens.) en nog steeds ons plase winsgewend bedryf nie.
  • Ons het reeds ‘n magdom mense wat nie kos kan bekostig nie (en ek praat nie van myself wat kla omdat die vleispryse oor kersfees opgaan nie), so as ons die minimum lone verhoog, en dan die hoër onkoste kan ondervang deur dit na die verbruiker toe te laat afkom, dan beteken dit nie bloot dat ek meer vir vleis gaan betaal nie, maar dat daar meer mense is wat nie kos kan bekostig nie (en ons sou kon byvoeg, dat die lewensonkoste van die einste plaaswerkers opgaan).

Die eerste twee punte hak aan die gesprek oor die Bureau for Food and Agricultural Policy se onlangse verslag, wat o.a. sê dat die huidige minimum lone te min is om van te leef. Dat plase nie ‘n ekonomiese bestaan sal kan maak as lone met meer as R20 verhoog word nie en dat dit steeds te min sal wees om ‘n gesonde dieët te kan volg. Die laaste hak aan voedselsekuriteit, wat steeds ‘n bedreiding bly in Suid Afrika, alhoewel ons ver beter vaar as ons buurlande.

As my eie eerste instink dus nie is dat plaaswerkers dom met hulle geld werk nie, dan is dit a.g.v hierdie tipe data. Om die waarheid te sê, ek dink dit is gevaarlik om ‘n regverdiging te gee vir so ‘n eerste instink, asof ons die “eintlike probleem” kan vind by die finansiële bestuur van minimum loon werkers, asof ons dit sou kon oplos deur ‘n klein bietjie “financial management” klasse. Of Johan dit werklik as ‘n rasionele argument beskou, en of hy dit net bloot as ‘n meer rasionele argument as sy skets van die tipiese teoloog beskou sal hy maar self op moet antwoord.

Ekself was verder nog heeltyd versigtig om die probleem as “onchristelike boere” te beskryf, wat bloot “gulsig” is. Ek wil nie maak asof boere bo verdenking is nie, maar ek dink wel dat boere vasgevang is in ‘n groter sisteem waarin die produksie van landbouprodukte nie op so ‘n manier gedoen kan word dat werkers genoeg betaal kan word om ‘n gesonde en veilige bestaan te voer nie (behalwe as ons plase verder meganiseer wat weer ernstige implikasies vir werkloosheid het). My eie vermoede is dat wanneer die middel-klas en politici die boere wil uitsonder as die eintlike probleem, dan versteek dit bloot hoe ons deel is van ‘n sisteem wat afhanklik is van hierdie einste salarisse waaroor daar baklei word.

Laastens, Johan se noble savages argument vra vrae oor hoekom teoloë enigsins wil praat oor die stakings. Dis ‘n ou kritiek op die kerk se sendingwerk, dat ons die “inboorlinge” as goedhartige maar primitiewe mense sien wat die “leiding” van die kerk nodig het, en in ander kontekste die “beskerming” van die kerk nodig het teen ‘n sluwe uitbuiter wat hierdie arme primitiewe mense nie die vermoëns het om te kan aanvat nie. Laat ek egter bloot reageer deur te sê dat ek dink Johan se “vrye agent” wat kontrakte kan sluit met wie hy/sy wil, en kan besluit dat om ‘n plaaswerker te wees nie werklik is waar hulle wil wees nie en dus ‘n ander werk kan gaan kry, is uit voeling met die realiteit. Ons sou dit graag so wil hê. Ons het selfs wette in plek wat aandring dat dit inderdaad so is. Maar die werklikheid is dat die plaaswerkers wat hierdie vryheid inderdaad gebruik, wat hulle goed vat en loop, in baie gevalle bloot in die diep gat van werkloosheid verval. ‘n Keuse tussen ‘n minimum loon wat nie ‘n “balanced food plate” kan verskaf nie en werkloosheid is kwalik vryheid. Om te werk met die vooronderstelling dat mense vasgevang is in ‘n ekonomiese posisie is nie dieselfde as om te aanvaar dat hulle inherent primitiewe goedhartige mense wat nie vir hulle eie aksies verantwoordelik gehou hoef te word nie, of selfs nie in staat is om hulle eie probleme op te los nie.

Dalk is die punt dat ek op ‘n ander manier kies om uit voeling met die werklikheid te wees. Die “werklikheid” is dat dit tegnies onmoontlik is om vir ‘n hele wêreld ‘n “balances food plate” te verskaf. Ons is almal veronderstel om te weet dat die ekonomie dit nie toelaat nie, en dat as ons gaan aandring daarop dat dinge anders moet lyk, die situasie net slegter gaan wees. Dit kan inderdaad gevaarlik wees om te sê dat dit onaanvaar is. Dit maak dat mens sommer maklik goed sê soos “Ek vind dit redelik maklik om die plaas-stakings te ondersteun“, wat dit laat lyk asof jy dan nie gehoor het dat hierdie stakings dinge nie gaan beter maak nie. Wat anders moet die kerk sê as ons gekonfronteer word daarmee dat mense moet leef op salarisse wat nie ‘n gesonde bord kos op die tafel kan sit nie as “dit is verkeerd”? Solank as wat die werklikheid ‘n konsensus is dat ons sekere morele vrae maar eers opsy moet skuif omdat dit nie tegnies haalbaar is om daaraan aandag te gee nie, kies ek om uit voeling met die werklikheid te wees.

Ek dink nie Johan wil so ver gaan om te sê dat teoloë as teoloë eerder stil moet raak nie (ek dink tog sy kritiek is hoofsaaklik teen teoloë wat nie wil luister nie, eerder as teen teoloë wat praat), maar op plekke kry ek tog die gevoel dat daar iewers ‘n groepie experts is aan wie ons die besluitneming moet oorlaat. Maar wie is hierdie experts? Sal ons dit oorlaat aan demokraties verkose politici? Die tegnokrate wat ‘n manier moet kry waarop ons die samelewing ten minste net vir nog so rukkie moet balanseer? Ons as teoloë moet tog op ons tone gehou word vir slegte analises, maar uiteindelik is ons ook besig om behoeftes van mense, morele vrae en beginsels wat moet geld wanneer ons oor die balans in hierdie fyn sisteem dink te verwoord. As ons sê “bliksem, dis onmoontlik om te kan leef met R70 per dag”, dan kan dit gevaarlik wees, dan kan dit implikasies hê wat ons nie voorsien nie, maar dan is ons dalk net besig om dit te doen: om te verwoord dat wat ons sien nie in lyn is met hoe ons glo ‘n samelewing moet lyk nie. En ek wil waag om te sê dat Johan self nie dink dis hoe ‘n samelewing moet lyk nie.

 

 

Advertisements

One Response to @gormendizer kom ons praat oor teoloë en stakings

  1. Johan se skrywe was uiters interessant en hierdie stuk van jou ook. Ek verskil ook nogal van Johan dat die saak nie so eenvoudig is soos leer die mense om beter met hulle geld te werk nie of laat hulle loop en ander werk gaan soek nie. Dit is amper onmoontlik om werk te kry vandag. Hoeveel mense met matriek kry vandag nie werk nie. Selfs mense met grade sukkel. Maar aan die ander kant is daardie lone net eenvoudig nie genoeg om op te lewe nie. So, ek glo albei kante is in hierdie geval ‘reg’.

    Maar wat vir my belangrik is van Johan se skrywe is dat die boere nie as die scapegoat gebruik moet word in hierdie saak nie. Dit is darem te gerieflik. En wanneer Christene voel dat hulle ook dink dat die lone te laag is, dat die indruk nie daarmee moet geskep word dat die boere die groot sondaars is nie. Wat kry ‘n boer vir die produk vandag? Die druk op ons landbouers het veroorsaak dat duisende der duisende landbouers die Suid-Afrikaanse mark verlaat het, met katastrofiese gevolge vir werkloosheid en voedselsekuriteit. Dit is net nie meer lonend om te boer vandag nie. En ook in die mynbou kring die werksverliese en ellende nou net verder uit, met die 14 000 mense wat waarskynlik nou hul werke gaan verloor.

    En voeg daarby die wit-swart saak. Dit is tragies dat daar teoloe is wat van hierdie saak ‘n wit/swart saak wil maak. Dit word natuurlik gedoen om polities korrek te wees. Maar die realiteit is dat die rasgrense bietjie meer vertroebel is as wat die 30 jaar gelede (waar sommige mense nog vasgehak sit) was. En dat baie swart boere ook hulle besighede kan verloor as gevolg van hierdie saak. Ras het weinig met dit als te doen, soos Johan tereg wys.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: