anderster (eerliker?) gepraat oor belydenisskrifte

Belydenisskrifte is mos maar bietjie van ‘n olifant in die vertrek. Dit is dokumente wat onderteken word maar nie gelees word nie. Wat puntgewys aangehaal word as absolute bewysteks maar nie bespreek word nie. Hierdie ongeleesde, onbespreekte woorde is die grond waarop ons skynbaar moet bepaal wie deel van die “heilige, algemene Christelike kerk” is (of is dit net van die NG Kerk, is ons fine daarmee as jy deel van die kerk is al sou dit blyk dat op vraag x of artikel y se jota of tittel ‘n ander kyk ontwikkel, solank jy net nie deel van my kerk is nie), en wie die ketters is (dis nou daai mense wat ons ter dood veroordeel het in ‘n vorige lewe van die kerk).

Maar oor die laaste paar weke gooi ons woorde soos “quia” en “quatenus” heel liberaal rond (alhoewel meer gereeld quia as quatenus, en “heel liberaal” mag dalk ‘n op eerste oogopslag as ‘n onvanpaste beskrywing beskou word vir die plekke waar dis die gemaklikste rondgegooi word). Hier en daar lyk dit asof ons wil maak asof die olifant nooit ‘n olifant was nie, asof dit tog maar duidelik is dat belydenisskrifte almal, puntsgewys, en op elke punt, letterlik, soos deur die Heilige Gees en ons neergepen, aanvaar word.

Ons het ‘n meer eerlike gesprek oor belydenisskrifte nodig.

Ek hoop so ‘n eerliker poging word vasgevang in die ligte, speelse poging om oor belydenisskrifte te praat wat ‘n paar van ons onder Helené van Tonder se bekwame leiding neergepen het in gesprek met die Heidelbergse Kategismus. Jy kan die inleiding van Sewe Stories gratis lees (jy kry sommer ‘n stukkie van Helené se eie refleksie in die eerste opstel van die boek gratis by).

Hier is hoe ons dalk beter en eerliker oor belydenisskrifte kan praat:

In 2013 is die Heidelbergse Kategismus 450 jaar oud.
“Die wát?” hoor ek jou vra. En dit is ’n goeie vraag. Want soos ons – en jy waarskynlik ook – lees baie (gereformeerde) Christene selde of ooit die Heidelbergse Kategismus (HK).

of bietjie later

Hierdie vraag het ons, die skrywers, ook vir onsself gevra. En, om eerlik te wees, nie een van ons was eintlik aanvanklik te gretig om die Heidelbergse Kategismus te lees nie.

Met meer as genoeg voorbehoude het ons toe op reis gegaan met die Heidelbergse Kategismus: deur kerke se konsistories, Pretoriase nagklubs wat voorbereidings tref vir DJ Fresh-vertonings, om Sunnyside se straathoeke, deur koffiewinkels, pizza-plekke, bierdrinkbankies, via verdagte Portugese en Sjinese restaurante. Dit was amper soos die dae waarvan die Duitse filosoof Jürgen Habermas vertel het: Toe burgers nog in koffiewinkels en haarkappers bymekaargekom het en sake van die polis – die stad – bespreek het om sodoende saam tot mondigheid te groei.

Die waarheid is

Die Heidelbergse Kategismus is egter nié deesdae die mees wydgelese dokument waaraan ’n mens kan dink nie. En, in alle eerlikheid, soms gril mense ’n bietjie daarvoor. Dit is oud, stowwerig, verstok, weird, en dit pas nie lekker in die post-alles plekke waarin mense (ook ons) graag uithang nie.

En hier is die realiteit

Ook die groot Suid-Afrikaans teologiese aangeleentheid van die laaste kwarteeu – die aanvaarding van die Belydenis van Belhar, al dan nie – blyk implisiet beïnvloed te wees deur hierdie paradoks: Belydenisse maak skynbaar absolúút saak (vir sowel die voorstanders as die teenstanders van Belhar), maar eintlik maak dit glad nie saak nie (albei groepe weer geïmpliseer). Daar word voortdurend klem geplaas op die belangrikheid en gesag van belydenisskrifte in die kerk ten spyte van ’n groot gebrek aan deurligte, kreatiewe interaksie daarmee in die lewe van die kerk.

Hier is waarvan ons iewers in Arcadia op ‘n Saterdagmiddag oortuig geraak het: dalk, net dalk, is dit belangriker dat ons belydenisskrifte lees as onderteken, bespreek as aanhaal. En as my vermoede reg is dat die groot meerderheid van ons predikante en lidmate, as jy hulle nou in ‘n blik moet druk, iewers bietjie wonder of elk van ons belydenisskrifte dan nou regtig op elke puntjie presies reg is (ek is nie oortuig dat dit is wat “omdat dit in lyn met die Woord van God is” beteken nie, maar goed, meer daaroor op ‘n ander dag), ja, as hierdie vermoede reg is, dan is die beste manier om seker te maak dat hierdie antieke woorde nie meer gelees en bespreek word nie deur aan te dring dat ons ook nie daarvan mag verskil nie. Dis die maklikste manier om konflik te vermy: sê maar net niks oor belydenisskrifte nie.

As ons net ‘n bietjie sagter (en eerliker?) is oor hierdie goed dan lees ons dit dalk weer, en ontdek ons net dalk iets wat mooi is.

Die aanhalings kom uit die boek Sewe stories en ‘n stock cube.

Advertisements

3 Responses to anderster (eerliker?) gepraat oor belydenisskrifte

  1. Nic sê:

    Tiaan, as jy nie met die belydenisskrifte saamstem nie is daar die kerklike weg om dit wat nie (vir jou) aanvaarbaar is nie onder die kerke in kerkverband te bring. Dit is inderwaarheid jou roeping om dwaalleer uit die kerk te weer. Solank dit nie gebeur nie is jy oneerlik met die jongmense om die kern van die Skrifleer soos die kerke dit deur die eeue in die belydenisskrifte bely te vervang met wat jy deur die jaar met hulle espreek het. Die feit bly, hulle moet met belydenisaflegging van harte op die vrae kan antwoord. As kategeet is dit jou plig om hulle die leer wat hulle gaan bely weldeeglik te laat verstaan.
    Broedergroete,

  2. […] dit sal altyd anders wees as wat “ek” dink of glo. Dit is OK. Dit is dalk ook ‘n eerliker manier om oor ons belydenisskrifte te praat, want na al die groot uitsprake oor belydenisskrifte, is die waarheid mos dat in werklikheid is ons […]

  3. tiaan sê:

    Is tans besig om Belydenisklas voor te berei vir hul Belydenisaflegging (ek hou nie van die terme ‘voorstelling en aanneming’ nie) en as ons deur die vrae wat ek hulle gaan vra werk en ons kom by daai stukkie van “glo jy die Woord van God…soos dit in die belydenisskrifte van ons kerk vervat is…en dat dit my persoonlike geloofsoortuiging is” kom raak dinge nogals moeilik. Ek vra eerder van hulle ‘n eerlike beskrywing oor wat hulle glo oor sekere aspekte wat ons deur die jaar bespreek het en werk van daar af. Meeste van hulle lyk so semi geïnteresseerd vir so 2 minute as ek verduidelik wat die belydenisskrifte is…en dan is dit ook verby.
    My vraag is: is dit belangriker vir my om met hulle oor daardie ouens se belydenisse te praat, of om oor hul eie geloofsbelydenisse (en die ontwikkeling daarvan) te praat?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: