Beste Dirk, kom ons praat oor konsentrasiekampe

September 22, 2017

Beste Dirk

Ek verwag nie werklik dat jy hierdie gaan lees nie. Dan weer, ek dink nie jy het verwag dat prins William jou brief gaan lees nie. So dis OK. Ons skryf hierdie goed mos maar meer vir die gehoor as iets anders.

Laat ek begin deur te sê dat ek jou woede oor die konsentrasiekampe van die Suid Afrikaanse oorlog van 1899-1902 deel. Ek is geen kenner op internasionale reg of oorlogswette nie, maar die bietjie wat ek van etiek verstaan maak dat ek nie anders kan as om ’n verskroeide aarde beleid en konsentrasiekampe as ’n totale misdaad teen die mensdom te beskou nie. Ek sien jy wil graag saam met Willem ’n kransie gaan lê, en dit is ’n mooi gebaar, ook mooi in pas met hoe ander politieke prosesse in Suid Afrika verloop het. Ekself sal egter hoop dat Willem publiek verskoning sal vra vir die brutaliteite van die Suid Afrikaanse oorlog – en ja, ook vir die groter Britse koloniale proses. ’n Verskoning sal goed natuurlik nog nie regmaak nie, maar dis ’n goeie begin vir die herstel van verhoudings. Selfs al kan ek ook insien dat die Suid Afrikaanse oorlog witmense wat was oor koloniale grond geveg het, en dus weerskante ingeweef was in ’n groter storie van onreg, verander dit niks aan die absolute brutaliteit van verskroeide aarde en konsentrasiekampe nie.

Maar Dirk, ek verstaan ons Afrikaners nie altyd nie. Daar is ’n Christelike verbeelding wat ek dink ons gemis het, en ek vrees ons steeds mis. Jy skryf:

My oumagrootjie en haar twee klein kindertjies, Petrus en Christina, is soos vee op oop treintrokke sonder toiletgeriewe vanaf Rustenburg na die Irene-kamp vervoer.

Petrus is dood in die kamp. Sy laaste woorde was: “Mamma, ek is honger.”

kan u uself indink hoe dit moes voel om as ’n banneling na Ceylon toe gestuur word terwyl u eggenote en u kinders in ’n konsentrasiekamp moes wees

En die Christelike verbeelding?

Eksodus 22:21 – “Jy mag nie ‘n vreemdeling verdruk of laat swaarkry nie, want jy was self ‘n vreemdeling in Egipte.”

Jy verwys na die swaarkry gedurende die Suid Afrikaanse oorlog wat ‘n “nooit-weer-gevoel-sindroom” onder Afrikaners laat posvat het. Dis natuurlik nie ’n nuwe analise nie, en ek bevraagteken ook nie die waarheid in hierdie historiese lyn nie. Maar Dirk, ons is tog ook ons eie mense, wat verantwoordelik is vir ons eie optrede. En kom ons kyk dit in die oë: waar Eksodus 22:21 (en ’n baie groter Bybelse lyn) ons sou roep om te sê: “nooit weer sal mense verdruk of onderdruk word nie, want ons was self onderdruk gedurende die Suid Afrikaanse oorlog”, het die Afrikaner storie een geword wat sê: “hulle het een maal op ons getrap, kom wat wil, niemand sal weer op ons trap nie”. Hierdie “kom wat wil” het uiteindelik ingesluit dat die koloniale projek wat deur die VOC begin is (en waarin baie van ons se voorouers ingeweef is), en wat deur die Britse ryk tot ’n brutale hoogte gebring is, uiteindelik een van sy mees afskuwelike vorme aangeneem het onder ons Afrikaners – apartheid. Die konsentrasiekampe het nie gemaak dat ons onsself verbind het om teen ongeregtigheid op te staan nie, maar het eerder ’n historiese verduideliking, en ’n ideologiese instrument in die verdediging, van brutale ongeregtigheid geword.

As ons ingeweef is in die verbeelding van die Jesus-storie dan is daar natuurlik veel meer as Eksodus 22:21 wat genoem moet word. Die Bybel, Ou en Nuwe Testament, se oproep op geregtigheid gaan nie net oor ’n intieme kennis van swaarkry en verbintenis wat daaruit vloei om te verseker dat dit nie met ander gebeur nie. Eksodus 22 gaan self voort met “Jy mag geen weduwee of weeskind veronreg nie”, sonder enige verduideliking van “jy was self ’n weduwee” – nee, dis bloot net ’n opdrag.

Maar Dirk ek verstaan jou brief nie. Ek weet nie of die ironie in jou woorde jou ontgaan het nie, “soos vee op oop treintrokke sonder toiletgeriewe”, ’n beskrywing wat vir meeste Suid Afrikaners bekend is, want dit herinner aan die massas gedwonge hervestigings onder apartheid, of die verontmenslikende praktyke va die vervoer van arbeiders op plase – ’n wond wat nog vlak lê in ons geheue, soos die ontploffing na aanleidind van die onlangse foto van ’n swart vrou wat in ’n hok agter op ’n bakkie vervoer was ons herinner het.

Kan jy jouself indink hoe dit moes voel om op die myne te moet kom werk om ’n basiese inkomste te kry terwyl jou “eggenote en kinders” nie mag saamkom nie en in die tuisland moet agterbly? Kan jy die stories hoor van ma’s wat hulle kinders se koppies moes vashou terwyl hulle sterf? Die verhale is openbaar vir die wat wil hoor, so ek hoef nie voort te gaan nie. Die verskroeide-aarde beleid en konsentrasiekampe was ’n misdaad (as een of ander hof nog nies o beslis het nie, dan dink e kelkgeval so). Apartheid was ’n misdaad (hieroor is daar wel duidelikheid in internasionele wetlike uitsprake).

Dalk sou Willem tog jou briefie kry. Dalk sou hy selfs reageer. Hy kon reageer deur vir jou te sê die storie van jou grootjie is nie so erg nie, want ’n generasie of wat later het van sy volksgenote immers iewers in oorlogskampe in Duitsland gesit. Of hy kon reageer deur vir jou te vertel dat jy nie die reg het om die storie van jou grootjie te vertel nie, want kyk net wat het jou mense dan gedoen onder Apartheid. Hy kan vir jou vertel dat die Suid Afrikaanse oorlog werklik ’n baie komplekse situasie was, en dat dit nou jammer is van jou grootjie, maar ons kan tog nou nie die politici wat maar gedoen het wat hulle moes doen om te oorleef kwalik neem nie. Ek hoop jy sal woedend wees as hy so reageer. Ek sou gewees het.

Ek tog moes ek al in skaamte in ’n gehoor sit waat ek gewens het ek kon vir jou skreeu “luister tog net Dirk”. Luister net na die stories van jou mede-landsgenote. Nee, nie luister lank genoeg dat jy kan reageer en regverdig nie. Luister. Net luister. Luister na wat my en jou mense gedoen het. Luister na wat ons steeds doen. Juis omdat ons die konsentrasiekampe onthou, luister, want “nooit weer” sal ons toelaat dat mense onderdruk word nie, dat mense behandel word asof hulle minder mens is nie, dat ma’s hulle kinders se koppies moet vashou terwyl hulle sterf van goed wat vermy kon word nie. Nooit weer nie.

Nee, nie een of ander “plan B vir ‘ons mense’” nie. Nie daar “nooit weer” nie. Dit is nie vir “nooit weer” van die Bybel nie. Ag, vergeet die Bybel, dit is nie die “nooit weer” wat ’n kans het om ’n vreedsame wêreld op die langtermyn te vorm nie.

So Dirk, jy kan briewe skryf vir Willem, maar dit los ’n suur smaak in baie van ons se monde. Nee, nie omdat ons nie jou woede oor konsentrasiekampe deel nie, maar omdat ons nie hoor dat jy self kan begin om die onregte waarby jy en jou voorouers betrokke was by die naam te noem nie. Dirk, Suid Afrika is op ’n moeilike plek, en ek gaan nie maak asof dit maklik gaan wees om deur ons verlede te werk nie. Maar die eerste stap is nie so moelik nie. Kan jy net dalk ’n brief skryf waarin jy uit jou hart uit sê: “Ek is jammer oor apartheid. Werklik jammer. Wat kan ek doen om dinge te help regmaak”. En dan luister jy. Werklik luister. Ek sê nie elke antwoord gaan help nie, maar ek weet Suid Afrikaners sal antwoord, en ek is oortuig daar gaan konstruktiewe voorstelle uitkom. Dalk sou jy dit selfs namens Solidariteit kan doen?

Ek gaan nie my asem ophou nie. Maar mens kan seker maar hoop. Dalk, net dalk, kan die herinnering aan konsentrasiekampe maak dat jy werklik empatie kan hê met swart Suid Afrikaners wat woedend is oor kolonialisme, apartheid, oor ekonomiese ongelykheid, en dalk selfs ook oor die tipe diskoerse wat van Solidariteit afkom wat skynbaar daarop gemik is om wit belange in plaas van die belange van Suid Afrika te dien.

O, en Dirk, die volgende keer wat jy ’n brief vir die koninklike huis skryf oor die Suid Afrikaanse oorlog (ek vermoet daar gaan dalk nog baie wees, die koninklike huis het nie juis ’n reputasie dat hulle briewe oor die Suid Afrikaanse oorlog ernstig opneem nie), onthou om hulle daarop te wys dat dit nie net Afrikaner vroue en kinders was wat in konsentrasiekampe gesterf het nie, maar dat daar waarskynlik net soveel swart Suid Afrikaners in konsentrasiekampe gesterf het, ook meestal kinders…

Groete

Cobus

Advertisements

dis nie ‘n volkskerk nie, dit lyk net soos een…

April 11, 2013

Neels Jackson se rubriek vanoggend is ‘n vreemde argument. ‘n Lang lys redes waarom die NG Kerk nie ‘n volkskerk is nie met ‘n slot wat sê dat die NG Kerk nogals baie soos ‘n volkskerk lyk. Iets soos: “Dit is nie ‘n volkskerk nie, dit lyk net soos een”.

Neels se lys argumente is basies die volgende:

  • Ons het ‘n sinodebesluit geneem dat ons nie meer ‘n volkskerk is nie.
  • Wit dominees ontken dat ons ‘n volkskerk is.
  • Wit lidmate ontken dat ons ‘n volkskerk is.
  • Op party plekke, veral middestede, is die NG Kerk nie meer wit nie.
  • Daar is selfs voorstedelike gemeentes waar jy gereeld ‘n “gekleurde” gesig sal sien.
  • In ons barmhartigheidswerk reik ons uit na swart gemeenskappe.

Maar selfs Neels weet nie hoe om verby Sondag oggend 9 uur te kom nie. Want maak nie saak wat sinodebesluite or wit dominees of wit lidmate sê  nie, maak nie saak ook die uitsonderings nie (belangrik soos wat hierdie voorbeelde is!), en dit maak selfs nie saak dat ons swart gemeenskappe wil “ophef” en “ontwikkel” nie, daar is so rondom 1000 simbole van die geskiedenis van kolonialisme, apartheid, institusionele rassisme en die teologiese regverdiging van apartheid wat elke Sondag oggend bymekaarkom. En my vermoede is daai simbole sê meer as wat Neels wil erken.

Jonathan Jansen se kritiek op die NG Kerk het my al baie gehelp. Ja hy werk met geykte stereotipes soos die “NG dominee met die swart pak”, iets wat ek dink as ‘n simbool van ‘n bepaalde ideologie funksioneer in sy retoriek. Ek dink Pierre de Vos doen iets soortgelyk, search maar net die “dominee” op sy Engelse blog en kyk wat jy kry. Ek sal die argument oor hoekom dit die “NG dominee” i.p.v die “APK dominee” is vir ‘n ander geleentheid los, maar ons moet tog besef dat daar ‘n bepaalde keuse gemaak word om die NG Kerk as voorbeeld te gebruik.

Ek dink dit is te vinnig om te sê Jonathan Jansen is só verkeerd. Ja, die proses waarvan Jansen net gehoor het (ons kan gerus ophou met die idee dat almal veronderstel is om die details van ons interne debatte hoef te ken) is meer kompleks as wat hy dit in sy kort rubriek beskryf. Ja, ons dra nie swart pakke en wit dasse nie (alhoewel ek dink ons veronderstel is om die metaforiese aard van Jansen se opmerking te moet raaksien). Maar ons moet hom hoor:

“Die georganiseerde kerk is immers die een plek waar jy sonder inmenging van buite steeds wit kan wees en afgesonder van jou swart susters en broers.”

En ons is ‘n wit kerk. Nie net omdat ons eredienste bestaan uit lidmate wat half bleek is en lyk of hulle voorouers oorwegend uit ‘n deel noord van Afrika gekom het nie. Om die waarheid te sê, beide Jansen se uitsondering van die NG Kerk asook Neels se verdediging van die NG Kerk loop die gevaar om die idee dat verandering beteken om “‘n paar gekleurde gesigte in ons eredienste te kry” te regverdig.

  • Ons is ‘n wit kerk omdat ons kerklike diskoers oor wat in die lang aan die gebeur is gereeld idees wat die instandhouding van ‘n wit identiteit ondersteun napraat (ek het daai idee in meer as 100 bladsye probeer neerpen elders).
  • Ons is ‘n wit kerk wanneer ons besluite oor eiendom en pensioenfondse daarop gemik is om die kapitaal wat in een deel van die kerk opgebou is oor dekades heen in die hande van daai selfde deel van die kerk te hou.
  • Ons is ‘n wit kerk wanneer ons teologiese studente se opleiding basies uitsluitlik leeswerk van wit teoloë insluit.

En dalk moet ons hierdie lysie nog uitbrei, met merkers wat ons herinner dat ons ‘n wit kerk is. Ons moet byvoeg dat by elkeen van hierdie tipe merkers is daar uitsonderings, en die uitsonderings word al hoe meer. Orals waar ek beweeg sien ek jong predikante wat Steve Biko as een van die belangrikste outeurs wat hulle gelees het sien. Ek sien plekke waar ringe ernstig begin dink oor wat dit beteken om kapitaal in die vorm van geboue deel buite die NG Kerk se beheer te laat gaan (en nie dit verkoop aan die een wat die hoogste aanbod maak nie). Ek sien hoe gemeentes en sinodes meer en meer standpunte inneem wat instandhouding van die voortgesette ongeregtighede wat hoofsaaklik arm swart Suid Afrikaners raak uitdaag. Ons beweeg dalk nie so vinnig nie, maar ons beweeg wel.

In die kerk is daar egter ‘n groeiende ander stem as die een wat sê

“om te maak of dit vandag steeds ’n kwessie van rassisme is, is op sy beste ’n teken van oningeligtheid en op sy slegste ’n teken van moedswilligheid of onnoselheid”.

Dit is die stem van ‘n groende groep lidmate en predikante wat erken dat hulle sukkel met hulle eie witheid. Hoe meer hulle deel van hierdie land word, veral psigologies hulleself as deel van ‘n Suid Afrika van 50 miljoen mense, nie 5 miljoen nie, beleef, hoe meer raak hulle ook bewus dat hulle gesosialiseer is om wit te wees.

Nee Neels, dit is nie oningeligtheid, moedswilligheid of onnoselheid wat maak dat ons rassisme (al sou ek die woord dalk met een van sy ander verbuigings wil vervang, maar dis nie nou so belangrik nie) as ‘n voortgaande probleem in die NG Kerk sien nie. Dit is omdat ons dink dat om eerlik op die tafel te sit dat ons steeds worstel met ons eie geras wees ons verder gaan help om te worstel met hoe ons dag na dag, Sondag na Sondag, verder wegbeweeg van die wêreld van wit bevoordeling en swart onderdrukking.

So ek dink ons kan maar gemaklik met Jansen saamstem: die mure van hierdie plek moet afgebreek word en iets nuuts moet opstaan. Dis mos maar hoe die kerk nog altyd gepraat het. Oor doodgaan vir ‘n ou lewe en opstaan in nuwe lewe. Van ons sien reeds tekens van hierdie voortgaande opstanding ook in die NG Kerk, maar ons erken tog dat ons nog op die lang pad van sterf vir die ou self is, op die lang pad om die mure van die tempel af te breek sodat iets nuuts gebou kan word.

Want jy sien, die georganiseerde kerk is wel die een plek waar jy nog sonder inmenging wit kan wees, maar dit is deels omdat die georganiseerde kerk die een plek is waar wette nie die skyn van verandering kan bring nie. Dit is deels omdat al wat hier verandering bring is diep oortuiging. Die kerk bly immers ‘n organisasie van vrywilligers.

Jansen het tog maar die antwoord tot ‘n mate namens die kerk gegee: “Christus se opstanding gee my hoop vir ’n nuwe begin, selfs in die (NG?) kerk.”


Oor pedofiele, apartheid en ekonomiese ongeregtigheid

Januarie 9, 2013

So paar weke terug land ek langs ‘n Rooms Katolieke priester by ‘n tafel. Ons gesprek vind plaas binne een van die mees transformerende ruimtes waarvan ek nog deel was. En daar bestaan so bykans heilige moment waar jy voel dat vreemdelinge mekaar kan vertrou soos wat vriende selde kan. Ek vra hom dus die een vraag wat ek seker nooit weer vir ‘n Rooms Katolieke priester sal vra nie: “Wat gaan met die Rooms Katolieke Kerk gebeur a.g.v die pedofiel priesters?” (ek weet nie of ek dit so verwoord het nie, maar dit was die implikasie)

Hy is nie te geskok nie. Hy verdedig nie. ek het verwag hy gaan iets sê oor hoe priesters toegelaat gaan word om te trou of soiets, een of ander polities korrekte uitkoms wat darem die kerk sal vorentoe neem. Hy verduidelik egter bietjie van die interne politiek wat dit duidelik maak dat hy dink die kerk is dieper in die moeilikheid as wat selfs ek gedink het. En toe sê hy eenvoudig: “I think the church will be much smaller by the time this is over, but more humble”.

Ek het so bietjie soos ‘n hond gevoel. Of soos Piet Meiring. Nie seker watter een van die twee nie.

Piet Meiring vertel hoe hy deel was van ‘n afvaardiging na Rwanda wat moes gaan help dink oor hoe Suid Afrika se WVK model kan help om deur die gemors in Rwanda te werk. Op een stadium vra hy toe vir een van die Rwandese: “Waar was die kerk in dit alles?”. Die man het ontplof! Hy het die stories vertel van kerke wat mense bymekaargemaak het en dan die soldate ingeroep het om die mense te kom vermoor! Daardie aand by aandete toe kyk die man op ‘n stadium na Piet Meiring en sê vir hom: “Jy is mos die een wat vanmiddag die vraag oor die kerke gevra het. Kan ek jou nou ‘n vraag vra: “waar was die kerke gedurende apartheid?”. Oom Piet eindig sy storie altyd met die woorde: “Ek skuld daai man nog ‘n antwoord.”

Ek het die priester so geluister en gedog, as hy nie so ongelooflike pastor was nie, dan sou hy sekerlik nou vir hierdie jong astrante NG teoloog gevra het: “So, wat gaan julle met apartheid maak?”

Ons moet ‘n skuif maak in ons denke. Die grootste probleem wat voor die kerk se deur lê is nie dat ons nie beheer het oor die samelewing nie, dit is nie dat mense nie meer kerk toe gaan nie, en dit is nie dat mense op ander plekke as in die kerk gaan soek wanneer hulle die transendente in hulle lewens wil ontdek nie. Inteendeel. Ek dink op hierdie gebiede doen die kerk eintlik heel goed (ten minste as jy wil syfers tel). In Suid Afrika skryf predikante nog gereeld in koerante, Christelike tydskrifte verkoop soos soetkoek, die ANC raak nog ontsteld as kerke briewe skryf waarin hulle sê die ANC maak droog (wat dit vir my laat lyk dat die kerk nog tot ‘n mate ‘n bedreiging is), en hulle loop in kerke rond as dit verkiesing tyd is (wat beteken hierdie platvorm kan nog bepaal vir wie daar gestem gaan word). Daar is geen vrywillige instansie wat die tipe lidmaatskap wys wat die kerke kan wys nie (of probeer ek nou te hard om die kerk te laat goed lyk?), en ten minste in ons samelewing bly ons grotendeels Christelik (onthou jy my voorstel dat ons ‘n klompie “SA draai na Allah” borde in Pretoria opsit om te kyk wat die reaksie is? Toets dit as jy twyfel).

Ons probleem is dat kerke apartheid ondersteun en priesters wat pedofiele is beskerm. En in werklikheid, is dit nie ons grootste probleme nie, omdat ons eintlik nou al redelik konsensus het daaroor dat hierdie probleme is (of was). Die kerk se grootste probleem bly dat ons teen ons eie identiteit ingaan en telkens onsself in situasies vind waar ons deel is van die ongeregtigheid in die samelewing. Die kerk se sterkste aanspraak op legitimiteit is egter dat ons ‘n lang geskiedenis het van deel van bewegings wat tot groter geregtigheid gelei het.

So hier is my voorstel: ek dink die kerk het ‘n teologie wat ons in staat kan stel om ons eie sonde op die tafel te sit. Waar anders kry jy ‘n organisasie wat weekliks bymekaarkom om skuld te bely? Dalk het hierdie weeklikse ritueel ons immuun gemaak teen die effek van skuldbelydenis, maar ek dink daar is moontlikhede wat ons hier rondom kan ontgin. Die grootste probleem vir die kerk is nie dat ons te min geld het, te min politieke mag, of selfs te min lede het nie. Ons grootste probleem is dat ons in ons strukture deel geword het van die instandhouding van ‘n status quo wat ongeregtigheid laat voortgaan. Dat ons rituele en metafore (teologie) gekonstrueer het wat dit vir mense moontlik maak om eties vrede te maak met ‘n verbruikerskultuur, diep ekonomiese geregtigheid en ekologiese verwoesting (om maar ‘n paar te noem). Maar weet ons al hoe om ons diep teologiese verbintenis tot ongeregtigheid te bely?

Die vrees wat tot die tipe skeptiese reaksies lei wat ek gister openbaar het is die volgende: Ons kan ‘n glorieryke toekoms vir die kerk beplan waar lidmate betrokke is by ‘n eindelose verskeidenheid van projekte in gemeenskappe, opheffingswerk, diens en getuienis, kom ons gebruik maak die lingo van die dag, waar ons missionaal is in volle glorie. Ons kan onsself oortuig dat as ons hierdie roete gaan dan gaan mense (nie enige mense nie, daai middel-klas wit lidmate wat die pad gevat het, of wie se ouers die pad gevat het) terugkom na ons kerke toe, en ons kan selfs reg wees. Maar ons kan steeds as instansie, en as kollektief van mense wat dag tot dag met iewers ‘n lewe maak, deel wees van die sistemiese ongeregtigheid in ons samelewings.

As ons hier gaan begin krap, as ons op hierdie probleem gaan fokus, dan gaan ons oplossings vir die toekoms van die kerk anders lyk. Ons gaan waarskynlik nie in die eerste plek ‘n antwoord soek vir hoe ons mense weer in die kerk gaan kry nie. Ons gaan nie ‘n model soek vir hoe ons die kerk kan herstruktureer nie. Ons gaan dalk soos die priester erken dat die toekoms van die kerk is dat ons kleiner en meer nederig gaan wees, maar hopelik gaan ons aan iets op die tafel kan sit waarna generasies na ons kan terugkyk en sê: “die kerk het God reg gehoor”.

 


… want dis nou eers 18 jaar later

Desember 8, 2012

Die gedagte dat ons opgeroep word om ‘n rasionele verdediging van ons geloof te gee. ‘n Apologie. Ek steur myself al hoe minder aan hierdie tipe publieke versoeke wat in predikante se rigting gestuur word, omdat die gesprek gewoonlik geen nuwe roetes vir ons gesprekke oopmaak nie.

Die laaste versoek het egter ‘n ietwat ander karakter aangeneem, en daarom reageer ek wel. Ek wil dus wel ‘n apologie vir my oortuiginge gee, alhoewel van ‘n ander soort. Hier het dit min met die rasionele verdediging van God uit te maak, maar wel met die uiters aktuele vraag oor hoe wit Suid Afrikaners oor ons verlede en hede praat.

Die rede waarom ek opgeroep is tot ‘n verdediging, was omdat ek sonder verdediging bloot net my geloof verklaar het. My geloof dat ‘n stelling soos “Ja, ons het n tragiese verlede, maar dis nou darem 20 jaar later”, totaal verwerp moet word. Soos dit met enige geloof dalk maar gaan, is daar sekeres vir wie so ‘n standpunt geen verdediging nodig het nie, die totale onaanvaarbaarheid hiervan blyk vir hulle voor-die-hand-liggend te wees. In geloofstaal sou ons egter sê dat ander “blind” is vir hierdie geloof, en dat hulle dus begelei moet word om ‘n ander realiteit te sien.

Dis natuurlik uiters arrogante taal. Maar wanneer ons oor ons diep oortuiginge praat, dan klink ons taal met tye uiters arrogant. En nou wil ek die eerste wees wat myself moet herriner dat ons bekering-ervarings selde die gevolg van ‘n apologie, ‘n rasionele verdediging van die geloof, is. Dis immers die oortuiging van massas moderne apologete, maar die waarheid is dat hulle eintlik maar net vir die “ingewydes” preek, net hulle eie posisie verskans teen kritiek. So hopelik kan ek my eie apologie binne ‘n ander tradisie plaas, een waar ek verwoord sodat dit duidelik kan word waar ek staan, met die doel dat ons gesprek net dalk verder kan beweeg.

Hier is die agtergrond van my apologie. Ek is vir ‘n paar dae by ‘n konferensie waar daar geworstel word met die vraag hoe ons siklusse van gewels wat oor generasies heen herhaal word kan breek. Israel-Palestina, Joodse vervolging in Duitsland, die onderdrukking van die Roma in Europa, massas stemme uit verskillende dele van Afrika, afstammelinge van slawe in Noord-Amerika, en natuurlik baie wit en swart Suid Afrikaners neem aan die gesprek deel. Vroeg in die konferensie het ek op facebook verwys na die opmerking van ‘n Amerikaanse sosioloog wat wys daarop dat Suid Afrika inderdaad beter met ‘n traumatiese verlede en die bou van ‘n nuwe samelewing omgegaan het as meeste ander voorbeelde in die wêreld. Ek dink dis belangrik dat ons partymaal goeie nuus moet hoor, en het dit dus op facebook gedeel.

‘n Groep wit predikante (ek dink tog dis belangrik om dit te noem) het hierop begin reageer. Daar was basies drie tipes reaksies. Een groep voel dat die WVK se werk veel verder en dieper moet gaan, en dat ons nog baie van ons trauma uit die verlede moet verwerk. ‘n Ander opinie is dat die ANC darem regtig baie droogmaak vandag. Dis ‘n ander debat as waarop ek nou wil reageer, maar dis ‘n algemene strategie dat wanneer wit Suid Afrikaners met die brutaliteit van ons verlede gekonfronteer word, ons begin praat oor die foute van die ANC. Jy weet, dis amper soos toe ons kinders was en ma met een van ons raas oor ons stout was, en ons dan dadelik aan ma verduidelik hoe stout boetie was. So asof dit ‘n verskil moet maak. So asof as ons boetie net in ‘n sleg genoeg lig kan skets, ma sal dink ekself is eintlik ‘n engeltjie.

Dit is die derde tipe reaksie wat my egter werklik ontstel het. Dalk moes ek nie ontsteld gewees het nie, mens hoor hierdie tipe stem immers gereeld in Suid Afrika, maar gegewe die omgewing waarin ek die afgelope dae was, gegewe die massas oë van mense wat trauma ervaar het, ook van die kinders wat uit families kom wat in vroeër generasies trauma beleef het, het dit my hard getref hierdie keer. Dit is die houding van wit Suid Afrikaners dat Apartheid in ‘n verre verlede lê, en dat daar nou al so baie tyd verbygegaan het dat ons darem nou bietjie kan ophou hiermee. Jy weet, dit is die Klopjag benadering. Dit was vasgevang in hierdie gesprek met die woorde “Ja, ons het n tragiese verlede, maar dis nou darem 20 jaar later”, en ek is gevra om ‘n apologie te gee vir my verwerping van so ‘n benadering. So kom ek probeer.

Eerstens, ek dink die poging om Apartheid as iets ver in die verlede te beskryf, waaroor ons dalk bietjie kan praat, maar wat nie wesenlik belangrik is vir hoe ons optrede in die hede, insluitend die besluite van die ANC, verstaan nie, is bloot swak sosiala analise. Kom ek stel dit brutaal. Ek dink nie ons kan my pa se generasie se daaglikse optrede, ook hulle kritiek op die ANC, verstaan sonder om te onthou dat hulle deur Apartheid, in die vorm van diensplig, gevorm is nie. Ek dink ook nie julle kan my generasie verstaan sonder om te onthou dat ons almal deur soldate grootgemaak is nie. Residensieële patrone, onderwysstelsel, ekonomiese ongelykheid, die taal wat ons gebruik in publieke diskoers, die politieke partye waarvoor ons stem, niks hiervan kan losgemaak word van ‘n geskiedenis van kolonialisme en Apartheid nie. So om ‘n roete te soek wat kritiek in die hede wil lewer sonder om konstant met die kompleksiteit van die verlede te worstel is bloot ‘n wenresep vir ‘n swak sosiale analise.

Tweedens, ek dink nie ons verwerk geskiedenis in 20 jaar se tyd nie. In elkgeval nie die werklike traumatiese geskiedenis nie. Die rule of thumb is immers dat geskiedenis boeke eers 20 jaar na ‘n gebeurtenis geskryf kan word. Orals oor die wêreld sien ons hoe daar generasies later nog geworstel word met die kollektiewe trauma in ‘n gemeenskap of land. Trauma wat oor honderde jare deel van ons samelewings geword het, neem heelwat meer as 20 jaar om te verwerk. En dit sal ons as wit Suid Afrikaners dalk goed doen as ons dit ook vir onsself onthou. As jou kinders so oud soos ek of jonger is, hulle is nie “born free” nie. Hulle is vasgevang in ‘n verlede, en gaan nie daaruit breek as ons dit stilmaak nie. Ons moet ons verlede weer en weer op verskillende maniere besoek, daaroor huil, daaroor lag, en oor tyd ons hede rekonstrueer in verhouding met ons pogings om anders met ons verlede om te gaan. So alhoewel dit half na common sense klink om te maak of trauma wat meer as 20 jaar in die verlede lê darem nou al iets is wat ons nou maar bietjie van kan vergeet, is dit bloot nie in lyn met enige soortgelyke voorbeeld in die wêreld nie.

Derdens, ek dink dit is bloot pastoraal brutaal. In geen gesprek met ‘n individu wat trauma beleef het maak ons so tipe opmerking oor die traume nie. Natuurlik is daar goed wat met tyd gesond word, en natuurlik verander die manier waarmee ons met ons trauma omgaan. Maar enige een wat ekstreme traume beleef het weet ook dat dit ook na 20 jaar weer skielik kan kop uitsteek op ‘n nuwe manier, en dat dit vir die res van jou lewe ‘n impak het op hoe jy dinge aanpak. Om egter vir iemand te sê dat die blote hoeveelheid tyd wat verloop het rede genoeg is dat ons kan verwag dat ons nou maar kan “aanbeweeg, meneer”, verstaan bloot nie hoe genesing werk nie. In ons kollektiewe traume wil ek iets soortgelyk sê, behalwe dat kollektiewe traume oor veel meer as een generasie ontstaan het. Waaroor ons kan praat is tot watter mate ons genesing gevind het, tot watter mate ons herstel gevind het, maar die blote hoeveelheid tyd wat al verloop het sedert 1994, of 1990, kies jou datum, kan opsigself nooit ‘n argument wees nie.

So daarom is ek uiters ongemaklik, en verwerp ek dit volledig, as ons goed sê soos “Ja, ons het n tragiese verlede, maar dis nou darem 20 jaar later.

So hoe kan ons dan praat? Hier is my voorstel:

Eerstens, ek kies om vanuit ‘n posisie van hoop te praat. Daarom wil ek sê dat ons nou maar eers 18 jaar in ‘n demokratiese Suid Afrika is, en dit ongelooflik is hoeveel ons reggekry het! As ‘n Swart vrou wat ‘n politieke gevangene was onder Apartheid hierdie wit man (dis nou ek) vanaand ‘n druk kan gee, dan sê ek wow. As ek luister na die twee hoërskool kinders van een van die UFS personeel wat vanmiddag my interrogate oor hoe Kaukasiërs se hare versorg moet word, hoe gereeld dit gesny en gewas moet word, en hierdie ongelooflike meisies van 14 en 17 kyk hierdie wit man in die oë, en praat met ‘n selfversekerheid, en ‘n gemak, wat my laat jubel, dan het ek hoop (alhoewel ons tog sou kon vra hoekom hulle eers vanmiddag hierdie vrae kon vra).

Tweedens, ek dink ek wil met verbintenis werk. Dit beteken dat ek erken dat ons nog ‘n lang pad het om te gaan, dat ons nog vir dekades of meer deur die brutaliteit van die verlede gaan moet werk, gaan moet werk deur wat die aan almal van ons gedoen het, en dat ek myself verbind daartoe. Ek doen dit nie as ‘n tipe van ‘n keuse vir “my issue” nie. Ek dink nie dat ons ‘n keuse het watter issue nou vir ons belangrik is, en dat rassisme en ons geskiedenis van kolonialisme en Apartheid een pet topic is waarop ek kan fokus nie. Ek dink dat as ‘n samelewing het ons nodig om onsself te verbind daartoe om hierdie goed aan te hou deurwerk, en ek verbind myself om dit te doen.

So aan my gespreksgenoot, hier is my apologie. Dit is my antwoord vir my sterk woorde. Hier staan ek, ek kan nie anders nie. Ek dink ons sal verder kom, nie net in terme van versoening nie, maar ook in terme van die verskeie probleme, ook polities, wat die land vandag in die gesig staar, as wit Suid Afrikaners leer om ons verlede eerder te ernstig op te neem as om dit te onderspeel, om alle analises wat ons maak ook binne die konteks van osn geskiedenis te maak, en om veral konstant bewus te wees hoe ons self steeds bevoorreg word deur hierdie verlede, en uiters sensitief te bly vir hoe ons standpunte steeds gekleur word deur die plekke waar ons kom. My ervaring is dat as ons dit regkry, dan is daar ‘n lewendige publieke debat waarvan ons deel word, nie as die “wit stem” in die samelewing nie, maar as mede-burgers.