Kritiese self-gesprek oor ‘n gesprek met Babette’s Feast

Februarie 5, 2011

Die Film & Theology Club wat ‘n Kristy begin het, het gisteraand ons afskop gehad. Babette’s Feast. Volg ons gerus om facebook vir volgende geleenthede en verdere gesprek. Ons kyk ‘n film waaroor ons vooraf stem by NHK Philadelphia elke tweede Vrydag 19:00.

Kom ek begin met myself, en my gespreksgenote (en watse crowd gespreksgenote was dit nie!). Ons is so mainline as wat jy kan kry. Baie lidmate van die Hervormde kerk, die res waarskynlik sonder uitsondering in die NG kerk, behalwe vir die wat besluit het om maar (vir eers) hierdie kerk besigheid vaarwel te toe te roep, of dalk eerder dit bietjie op ‘n afstand te beskou. Ons het oor die algemeen tipies progressiewe idees. Gesprek oor homoseksualteit word sommer so ligtelik ingetrek, en konstant as kritiek op ‘n kerk wat nie kan ruimte maak hiervoor nie, die konserwatiewe kerk van die ou dae word sonder veel verduideliking aanvaar as ‘n plek waar ons nie weer wil wees nie. En baie van ons is nie net teologies opgelei nie (wat beteken ‘n stukkie papier met ‘n afkorting van een of ander graad daarop elkgeval nou?), maar of daar papiere agter ons naam is of nie, oor die algemeen ver bo gemiddeld verbind tot deurlopende kritiese refleksie.

Dit gesê is ons (my, want dalk stem die groep nie saam met my interpretasie van ons gesprek nie) eerste interpretasie van die film dus amper vanselfsprekend om die probleme in die konserwatiewe sekte wat deur die ou vader begin is raak te sien. Ons sien hoe mense vasgevang is in tradisie. Die stemme van die buitekant af, die soldaat, musikant, en natuurlik Babette, se taak in die verhaal is om hierdie bootjie van tradisionalisme en onderdrukking deur die kerk te kom skud. Hulle kom vertel die sektetjie dat daar ‘n groter wêreld daarbuite is, en dat daar regtig meer aan die lewe is as ‘n sterwende gemeentetjie wat sukkel om te sing.

Maar dan dink ek aan my ouma. Waar sou sy inpas? Liewe mens gewees. Sy’t nou wel nie Franse etes met skilpadsop gemaak nie, en het die hoenders se koppe nie vir ‘n hoofmaal voorgesit nie, maar die tannie kon ‘n feesmaal berei vir haal kinders en kleinkinders wat hier by die 30 plekke volgesit het as almal bymekaar was! Meer terselftertyd moes haar dogters maar hard baklei om haar te oortuig dat ‘n sweetpakbroek in die winter binne die huis tog aanvaarbaar kan wees, toe sy op 80 bitter koud kry. En die Halleluja liedere en Psalms en Gesange van die ou kerk was wat haar gedra het deur haar lewe lank. Sy was op ‘n manier ook een van die susters gewees. Wat op 75 nog diens gedoen het om die “oumense” van 65 te versorg.

Haar kyk op die film (wat ek natuurlik maar moet raai, siende dat sy nie hier tussen ons woon nie), laat my ander goed raaksien:

  • Die soldaat wat nooit kan seker wees of hy moes gewaai het nie. Is sy onsekerheid net oor die vrou wat hy agterlaat? Of ook oor die lewe van die gemeenskap. Dit gaan oor ‘n keuse tussen sukses (hy word ‘n generaal) en ‘n verbintenis tot iets dieper, wat hy moontlik in hierdie gemeenskap sou kry indien hy gebly het. En voor die ete praat hy met sy jonger self, want die ete moet bewys dat hy tog reg gekies het. En bewys die ete dit? Tot ‘n mate ja, hy besluit immers om voort te gaan met sy lewe. Maar hy moet ook erken dat die ou vader reg was, dat “aarde dinge nie belangrik is nie”. Hy maak die belaglike (volgens my opvatting ten minste) opmerking dat hy in gees altyd by die vrou van sy drome sal wees.
  • Die musikant wat inkom, en weggewys word omdat hy waag om die jong vrou van sy drome bloot te stel aan die taal van die liefde. En ons dink dat sy verloor het, want sy sou immers in die sale van Parys kon sing as sy en haar vader net nie so preuts was nie, as die godsdiens waarvan hulle deel was net nie so onderdrukkend was nie. Maar dan moet die musikant 35 jaar later erken dat hy niks gekry het nie. Amper soos die prediker, het al die roem en eer tot niks gekom nie. Maar die vrou van sy drome, so glo hy, is nou in ‘n gemeenskap waar daar vir haar omgegee word, waar haar kinders en kleinkinders rondom haar beweeg. Weereens is dit nie net die vrou wat ter sprake is nie, maar ook die vraag oor die hele gemeenskap waarvan sy deel is.
  • En dan Babette. Wat inkom, en smeek dat die twee vrou, en daarmee saam die hele gemeenskap, vir haar ‘n plek moet gee om te kan leef. Want die groot wêreld daar buite, waaraan die soldaat en die musikant die vroue wou blootstel, is te boos. Hierdie wêreld wil haar doodmaak. Vir 14 jaar sloof sy haarself af. En dan hou sy die fees wat ‘n fortuin kos. Net om uiteindelik te verklaar dat sy in hierdie gemeenskap gaan bly. Sy verruil haar posisie as kok vir die rykes van Parys daarvoor om kok te word vir die armes van ‘n gemeenskap wat niemand ken nie.

En ek wonder oor ons interpretasie. Was die sektetjie werklik verkeerd? Probeer die film werklik vir ons wys hoe belagrlik hierdie eng uitkyk op die lewe is? Of is die film eerder krities juis op die wêreld wat nie tot stilstand kan kom nie, en wys dat hierdie gemeenskap, hul foute ten spyt, eintlik iets het wat kan uitkom wat die kunssale van Parys, en die koninklike hof van Spanje, en die restaurante van die wêreld, nie na vore kan bring nie?

In hierdie interpretasie word die ete self nie die ding wat die gemeenskap transformeer nie. Wat die gemeenskap transformeer (want ek dink tog die film probeer iets van transformasie illustreer) is dat Babette haarself kan ontbloot as die kok wat sy is. Dat sy werklik deel van die gemeenskap kan word. Nie bloot as diensmeisie vir die vrou nie, maar as kok vir die armes. Haar deelwees verander die gemeenskap (die sop is lekkerder), meer as wat die ete die gemeenskap verander. Die ete is net die moment wat die moontlik maak dat sy kan wys wie sy is, en aanvaar word vir wie sy is, sodat sy kan vorm aan wie hierdie gemeenskap word.

Maar die gemeenskap bly. Die susters hou aan om die vroom leefwyse van hul vader voort te sit, en kos te gee vir die armes. Die kos is nou net lekkerder. Die soldaat gaan terug na Victoriaanse Spanje, waar die vals vroomheid nog meer is as in die gemeente. Om die waarheid te sê, die gemeente ontbloot eintlik die valse vroomheid van die Spaanse koninklike hof! Aan die koninklike hof word die preke van die ou vader gelees, maar duidelik nie nagevolg nie. In hulle konserwatiewe verbintenis tot die leringe van die ou vader, is die valse vroomheid van die susters (hulle is die ideaal van wat die gemeente besig is om te word) geensins ‘n valse vroomheid nie. Dit is ‘n deurleefde spiritualiteit, wat uiting vind in ‘n losmaak van hierdie aardse wêreld, ‘n lewe van eenvoud en gemeenskap, en ‘n sorg vir die armes.

As Babette se fees, en die teenwoordigheid van die generaal, die beste in die gemeente uitbring (wat ek dink die film oor duidelik is dat dit doen), dan gebeur dit nie los van die vroom godsdiens waarvan hulle deel is nie, dit help juis dat hulle by die essensie van dit wat die vroom ou vader hulle geleer het kan uitkom. Tydens die ete leer hulle dat die essensie van wat die ou vader geleer het dalk nie hoef uit te kom in onthouding van drank nie, die wyn is immers lekker, maar in liefde vir mekaar. Die ete help om die leeringe van die ou vader te beklemtoon, eerder as om dit omver te gooi.

Hierdie lees beklemtoon dus nie maar net my gewone progressiewe kritiek op die kerk nie, maar plaas my in die warm stoel van self-kritiek. Hoe is hierdie gemeenskap dalk krities op my eie sinlose bestaan?