Dis dalk tyd om weer te dink oor godsdiens in skole

September 2, 2014

Dalk moet ek eers dit sê: ek is nie gekant teen godsdiens in skole nie. Ek dink ons gaan uiters knap onderwysers verloor as ons ‘n kliniese verdeling tussen geloof en lewe in die klaskamer wil inbring. Ek dink verder dat een of ander hofbevel wat godsdiens volledig uit skole gaan verban bloot die effek gaan hê dat Christene (en waarskynlik mense met ander godsdienstige oortuigings) hulle kinders na “godsdienstige skole” gaan neem, en dat dit die uiters belangrike publieke ruimtes waar kinders leer om met mense wat anders as hulle glo saam te leef gaan ondergrawe. Maar ek dink ook dat ons ernstige vrae moet vra oor die posisie van bevoorregting wat die kerk by skole veronderstel, wat die NG Kerk spesifiek by skole veronderstel (of veronderstel het), en wat sekere Charismatiese kerke vandag veronderstel.

Toe ek nog ‘n “jeugdominee” was moes ek jaarliks deur ‘n gesprek sit waarin my onbetrokkenheid by die plaaslike skole onder oë geneem is. Die onbetrokkenheid het basies daarop neergekom dat ek nie saalopeninge waargeneem het nie. Dit het al gebeur, twee keer wat ek te vinnig ja gesê het, en die ander keer by een spesifieke skool waar ek wel myself beskikbaar gemaak het, vir redes wat nie nou belangrik is nie, maar dit was ‘n uitsondering.

Daar was twee punte agter hierdie houding. Die een gaan oor ons verhouding met ander godsdienste, die ander oor ons verhouding met ander kerke.

Die makliker een om te verduidelik is waarskynlik ons verhouding met ander godsdienste en mense wat nie godsdienstig is nie. Buiten dat ek dink ons ‘n goeie godsdienstige kurikulum nodig het waaroor almal kan saamstem, en buiten daarvoor dat ek bo-op dit ook ruimte het vir skole om ‘n eie godsdienstige beleid op te stel wat die godsdienstige oortuigings van die meerderheid leerlinge in ag neem, dink ek ons het ‘n ongelooflike verantwoordelikheid teenoor alle leerlinge om dieselfde behandel te word.

Dit beteken dat ‘n skool soos die een waarin ek skoolgegaan het, waar die meerderheid Christene is maar daar ook ‘n redelike groep Moslems is, ernstig moet oorweer om die Imam ook van tyd tot tyd te vra om die skoolopening te doen. Ek pleit daarvoor as ‘n Christelike teoloog, predikant en ouer. Ek dink ons kinders het nodig om te leer om met respek om te gaan met mense van alle godsdienstige oortuigings. Ek dink ons kinders het nodig om te hoor dat daar wysheid in Islam is waaruit die samelewing kan tap. Ek dink ons kinders het nodig om te leer om op ‘n liefdevolle en leerbare manier met Moslems om te gaan indien hulle getroue Christene wil wees in ons wêreld vandag.

Dit beteken ook dat ons godsdienstige optrede nie teenoor kinders mag diskrimineer nie. Nooit nie. Diskriminasie het natuurlik baie grys areas, en dis gewoonlik hierdie grys areas waar die probleme lê, maar ons moet begin dink oor hoe ons godsdienstige byeenkomste ‘n nie-amptelike vereiste word vir verkiesing op ‘n leerlingraad of ander liggaam.

Maar die tweede punt gaan ons dlak help om meer van die probleme raak te sien: ons verhouding tussen kerke moet op ‘n manier verreken word in ons verhouding met skole. So hard soos wat ek wil pleit dat my eie kinders ‘n gesonde en ietwat gekontroleerde blootstelling aan verskillende godsdienste sal kry wanneer hulle eendag in ‘n publieke skool van hierdie land is, so hard sal ek baklei wanneer die skool gebruik word om my kinders te bekeer na hierdie of daardie oortuiging toe. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is nie gekant teen bekering nie, en dink ons moet volledig ruimte maak daarvoor dat mense ook van godsdienstige oortuiging kan verander, maar wanneer die skool ‘n captured audience word, en meer nog wanneer die magsverhoudinge waarin onderwysers teenoor kinders staan ter sprake kom, dan mag ons dit nie gebruik as evangelisasieruimte nie.

Daar is ‘n rede waarom ek dit onder my tweede punt sit. Ek dink ‘n groot deel van die probleme hiermee gebeur tussen kerke. Ons gebruik die ruimtes van publieke skole om dogmatiese gevegte in die lewens van kinders in te dra. Natuurlik dink die onderwysers en vrywillige ouers (my probleem is nie met kinders wat as gelykes op skoolterreine teologiese debatte voer nie, of selfs mekaar van teologiese standpunte oortuig nie, ek dink dit is deel van die lewe) wat hierby betrokke is nie dat hulle met “dogmatiese gevegte” besig is nie, hulle is mos bloot besig om die “Bybelse standpunt” te verkondig. Ek sal uiters ontsteld wees as my seuns eendag van die skool af kom en ek moet uitvind ‘n onderwyser of ander volwassene het die skool gebruik om vir hulle te vertel dat die kerk waarvan hulle deel is eintlik verkeerd is. Ek wil vir alle ouers en kinders, ook die wat nie godsdienstig is nie, respekteer op dieselfde manier waarop ek hoop my kinders respekteer sal word.

Ek dink dat Christene, as die meerderheid-godsdiens in Suid Afrika, het ‘n eerste verantwoordelikheid om aan te dring daarop dat skole nie ruimtes word vir ons godsdienstige gevegte nie. Waar dit gebeur moet ons as kerk protesteer.

Dit beteken waarskynlik dat ek dink die verantwoordelike ding vir kerke om te doen is om te erken dat daar waarskynlik sekere praktyke is wat iewers in die toekoms in ‘n hof gaan verskyn waarmee ons ook ongemaklik is, en wat ons ook dink beter bestuur moet word in skole. Ek dink ons kan hierop kritiek lewer sonder om bloot ‘n bepaalde weergawe van nie-godsdienstigheid te onderskryf. In kort: ek dink ons kan alle kante van die lewe, ook die godsdienstige, in skole erken, en dit op so ‘n manier doen waar ons kinders, ook Christen kinders, met ‘n waardering en ‘n respek vir mense van alle godsdienstige oortuiginge grootmaak.


anderkant Margate. Respek vir ‘n oorgang

Desember 19, 2011

Die jeugwerker in my wou sien wat Beeld toe nou te sê het oor Margate vanoggend. Maklik om te vind, gaan na www.beeld.com, en jy het vandag hierdie skerm gekry (screenshot). Afrikaanse lesers wil weet wat gebeur by Margate. Beeld verkope en besoeke aan hulle website sal opgaan as hulle vertel wat by Margate gebeur. Daai boodskap is duidelik.

Die materiaal gaan met massas waarskuwings gepaard”

“Ouers wat nié wil weet wat hul kinders op matriekvakansie aangevang het nie, moet eerder nié hierdie berig lees nie.”

“Hierdie video bevat taalgebruik en beelde wat mag aanstoor gee.”

Wat verkoop is nie tieners nie, wat verkoop is “skokkende” gedrag. Die “skokkende” gedrag is natuurlik nie so skokkend nie. Wel, die skokkende gedrag is vir die van ons wat lank genoeg stilgebly het om na jongmense te luister nie skokkend nie, want ons moes hierdie stories lankal hoor. Maar die gedrag is veral nie skokkend nie, omdat dit is wat volwassenes daagliks mee besig is – ons maak dit skokkend omdat hierdie mense 18 is.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, die van ons wat jongmense deur een deel van hulle oorgang na volwassenheid (belydenisklas) begelei sit met ‘n vrees elke jaar as daardie selfde jongmense op matriekvakansie gaan. Nie in die eerste plek oor die eksperikante wat op die Beeld video uitgebeeld word nie, maar oor dit wat nie uitgebeeld word nie: die feit dat daar iewers ‘n ongeluk gaan wees waarin daar waarskynlik ‘n 18-jarige gaan doodgaan. Die feit dat morning-after en kondome ten spyt daar ‘n jong meisie voor die bitter moeilike besluit gaan staan of sy ‘n aborsie moet kry en of sy met die swangerskap moet deurgaan, en beide kante toe gaan met ‘n ongelooflike stuk trauma gepaard.

Maar wat is Beeld se video anders as om ‘n klomp jongmense op die voorblad te sit en te vertel dat “hulle mag nie doen wat ons doen nie”. Is hulle sonde dat hulle strippers kry vir hulle partytjie? Is hulle sonde dat hulle hulleself onkapabel drink? Natuurlik nie! Wat nuuswaardig is, is dat hulle 18 is. Dit is dat 18-jariges strippers betas. Daai sonde is genoeg om Beeld se website te cover.

Die Youth, Church and Culture Podcast met die titel “Rights of Passage” kyk na ‘n soortgelyke storie. Panama City in Amerika. In ‘n gesprek vroeër die jaar het ek en die navorsers (wat hier praat) bietjie oor die ooreenkomste met Margate gepraat, en alhoewel ek nie vinnige lyne tussen Amerika en Suid Afrika wil trek nie, vermoed ek daar is ‘n soortgelyke konteks vir die jongmense wat aan Margate deelneem (eintlik maar ‘n baie klein persentasie van matrieks) en die wat by Panama City bymekaarkom. Ek dink egter veral dat Micheal, Wendy en Todd met baie meer respek omgaan met hierdie oorgangsritueel as Nadine Theron (maar dan weer, hulle werk is nie om te skok of nuus te maak nie, maar om te verstaan en te begelei).

Hier stop ek vir vandag. Ek gaan nie probeer verduidelik nie. Ek hoop maar net dat Margate meer kan word as ‘n moment wat ons gebruik om te vertel hoe skokkend “die jeug van vandag is”, en eerder ‘n plek waar ons respekvol kan luister na hoe jongmense probeer sin maak van ‘n oorgang in hulle lewens. ‘n Poging om self sin te maak van ‘n oorgang, binne ‘n konteks van ‘n wêreld wat vir hulle gesê het “figure self uit”.

So, wie is die jeug-navorsers wat volgende jaar op Margate gaan sit?


En sê nou hulle glo in die kerk maar nie ‘n Jesus nie?

Junie 14, 2011

Neels, Sakkie, en nou Henk, dryf my tot skryf. Laat ek nou sommer met die deur in die huis val: dit voel vir my na ‘n sinnelose gesprek. Alhoewel ek, soos vele ander, nogals ‘n liking in Neels se oorsprongklike artikel gehad het, het een opmerking my bietjie omgekrap gehad:

My indruk is dat baie van die kerk se kritici nie (meer) glo nie, al sê hulle dit nie reguit nie. En as jy nie glo nie, dan het die kerk seker nie veel sin nie.

Natuurlik beskryf Neels dit as ‘n “indruk”, en moet dit gelees word teen die agtergrond van sy groter argument, maar ek het altyd so stuk ongemak as dit wil voorkom of enige van ons beter weet wat ‘n ander glo as wat hulle self glo. So as jy vir my kom vertel dat iemand nie glo nie, al wil hulle dit nie sê nie, dan raak ek uiters ongemaklik.

Sakkie en toe Henk se reaksies het toe nou eintlik grotendeels Neels se breër argument gemis. Buiten vir hierdie stelling, waarop ek nou ook maar gaan reageer, het Neels nogals ‘n paar goeie punte gemaak. Sakkie het egter weereens op die teologiese belaglikheid gewys van die kerk, en predikante all over moes weereens reageer dat hulle nie inpas in die karikatuur wat Sakkie teken nie. Tot ‘n mate maak Sakkie toe dieselfde fout as wat ek dink Neels gemaak het, deur te maak asof hy beter weet wat die kerk nou eintlik glo as die kerk self. Deur die kerk se eie getuienis oor hoe hulle dink oor sake te ignoreer en eerder sy eie weergawe bo-op die kerk te plaas.

Henk se reaksie het darem mooi daarop gewys dat Sakkie se prentjie oor wat die kerk sê darem nou regtig nie ooreenstem met die siening van dominees nie. Maar toe argumenteer hy veel meer breedvoerig as Neels se kort opmerking hierbo dat Sakkie en ander eintlik oneerlik is, dat die redes wat hulle gee om die kerk te verlaat en die werklike rede nie dieselfde is nie.

Maar al drie hierdie argumente maak in my beskeie opinie dieselfde fout: hulle aanvaar dat mense wat kerk bywoon actually glo wat die kerk leer, as dat as hulle nie doen nie, hulle waai. Dalk was dit vir ‘n sekere generasie waar, maar soos wat ek skryf hardloop storie op storie deur my kop wat hierdie idee verkeerd sou bewys.

Ek dink aan een vriend wat aktief betrokke was in ‘n gemeente waar ek ook was, maar in al die jare nooit oor God gepraat het nie, en as ek daaroor sou wou praat my net gesê het dat hy “anders” dink oor God. Wat dit beteken weet ek nie, maar in sy eie opinie het sy standpunt en die van die kerk nie ooreengekom nie, maar dit het nie bepaal of hy deel is van die kerk nie.

Nog een wie se teologiese oortuiginge ek geken het, wat Borg en Spong, en al daai mensies wat Spangenberg et al so lief voor is, graag gelees het, en toe eendag aangekondig het dat sy nou ‘n super-fundamentalistiese charismatiese kerke hier in Pretoria gaan join. Ek wou op my rug val! Haar rede: haar nuwe ou is daar, en sy like elkgeval die kleiner kerk, so sy ignoreer maar wat hulle preek.

Nog ‘n vriend was spesifiek met die Nuwe Hervorming opgetrek, en ek het saam met hom in ‘n kerkgebou gesit terwyl die dominee teen hierdie lot Nuwe Hervormers uitgevaar het. En tog het dit nie gelyk na ‘n rede om te waai nie. Laat die dominee maar preek, hy het van die gemeente gehou, so hoekom waai?

Alhoewel die model moontlik bietjie simplisties is, herinner dit my tog aan die Behoort, Beleef, Bely gesprek so tyd gelede. Daar het ek so bietjie die idee dat die kerk ‘n plek is waar ons behoort voor gevra word na die presiese belydenis uitgepak. Ek vermoed egter die gesprek moet van die ander kant af ook gevoer word. Waar ek daar probeer verduidelik het hoe dit sou moontlik wees dat ‘n kerk kan ruimte maak dat mense behoort, en saam beleef, al bely hulle nie noodwendig presies soos die dominee, of kerkraad, of sinode, of wie ookal voorskryf nie, wil ek nou bloot sê dat of dit kerk hierdie ruimte gaan skep of nie, dit gebeur elkgeval.

Strepe jonger mense sit in kerke al glo hulle nie soos die kerk nie. Hulle pas in Sakkie se karikatuur in, en join die NG kerk wat hoog en laag sweer dat hulle nie hierdie lysie goed bely nie. Of hulle vind hullself tuis in wat Sakkie skryf, maar verkies die lewe van die plaaslike gemeente bo die lesing lokaal waar allerhande voordragte gelewer word. Ja, en selfs Neels en Henk se kernbelydenisse dat “vir my is Jesus Christus die Here” of “dat Jesus Christus die Seun van God is” word nie noodwendig gedeel nie. Of dit word na hierdie of daardie (hoor my baie mooi, na alle moontlike teologiese kante toe, hierdie is nie een of ander verskuilde pro-Nuwe Hervorming argument nie) kant toe interpreteer op maniere wat ek vermoed beide Neels en Henk sal getuig (OK, en nou raai ek wat hulle bedoel met stellings terwyl ek self sê hulle behoort in hul eie woorde dit te unpack) buite die grense van hoe hulle dit bedoel het gebruik word. Maar tog sit hulle somewhere in ‘n kerk. Vir die mense. Vir die liturgie. Vir ‘n algemene konneksie met die transendente. As hulle waai uit die kerk uit, dan is dit ook moontlik as gevolg van die mense, die liturgie, of ‘n totale verlies aan enige sinvolle konneksie met die transendente.

Is my vermoede reg? Ek weet nie, wat beleef jy? As ek reg is, is dit ‘n probleem?


wat is dan die punt van jongmense in gemeentes?

Februarie 21, 2011

Oom Malan het ons gehelp met Jeugbediening: ‘n Inklusiewe Gemeentelike Benadering (lyk my die volledige boek is nie meer beskikbaar nie, maar ‘n opsomming is in hierdie boek gemaak). Hy’t moeilik geskryf, en as studente het ons hom nie lekker verstaan aanvanklik nie. Maar met tyd dink ek het dit op ons gedawn: jeugbediening in sy tradisionele sin, is ‘n onding. Daai ruimtes waar kinders en jongmense entertain word terwyl die grootmense met die “regte kerk” besig is gaan ons nog duur kos. Ek dink dit was Charles Sell wat die pennie by my laat drop het in my 2de jaar.

Toe ons geleer het dat jeugbediening nie net is om die jongmense te entertain nie, of at least dat ons van ons ergste patronization ontslae geraak het, en met jongmense begin praat het, het die volgende vraag ontstaan: nou wat wil die jongmense dan hê? Hier hak ons steeds vas in baie gevalle. Elke kort-kort dan kom daar die wyse voorstel in gemeentes na vore dat: “ons moet die jongmense gaan vra wat hulle wil hê”. Die laaste keer wat ek die voorstel gehoor het was dit gelukkig van iemand wat so blatant is dat sy sommer bygevoeg het dat sy die jongmense dan sal manipuleer dat hulle sê wat sy elkgeval weet hulle wil hê. Meestal is ons nie so blatant nie, en vind ons net jongmense wat sê wat ons dink hulle moet sê. Daarom hoor ek die moderator van een van ons meer teologies konserwatiewe sinodes onlangs sê “wat die jongmense wil hê…” en basically sê dat die jongmense wil hê ons moet fundamentaliste word. En aan die ander kant hoor ons al die voices wat sê dat “die jongmense glo nie meer al hierdie goed nie…”. Maar selfs wanneer ons eerlik na die jongmense gaan, dan is die probleem dat hulle waarskynlik nie hierdie lysie behoeftes gaan kan verwoord wat werklik sê wat hulle werklik wil hê, en ook wat hulle nodig het nie.

Met die stem van die jongmense het ons dromme in die kerk ingedra. Met die stem van die jongmense het ons van ons hoë liturgiese drag ontslae geraak. Met die stem van die jongmense het ons video-clips in die kerk begin wys. Als goed wat ek like, maar ek haat die feit dat ons die jongmense as verskoning moet gebruik hiervoor.

Maar wat is die punt dan nou van jongmense in die gemeentes? In die conclusion van die reeks oor jong dominees in die kerk het ek geskryf oor wat jong dominees wil hê:

Wanneer ons ons monde wil oopmaak, wil ons veilig voel om dit te doen. Wanneer ons sê dat ons nie veilig voel om dit te doen, dan wil ons nie belaglik gemaak word nie. Wanneer ons ‘n interpretasie van die verlede of die hede deel, weet ons dit gaan krities bespreek word, en dit is reg so, maar ons vra dat dit nie ignoreer word net omdat dit ‘n jong persoon is wat die interpretasie op die tafel sit nie.

En dalk is dit nie soveel anders wanneer dit oor jongmense gaan nie. Piet Naudé skryf in 2004 oor die toekoms van teologiese opleiding, en dan vind jy die volgende twee quotes in bold:

“The first step in fostering creative scholarship is then not to rephrase questions, but to reshape the very community from which the questions are raised”

Hy gaan voort om te verduidelik hoekom diversiteit in akademiese kringe belangrik is. Nie as regstellende aksie nie, nie om waarmee ons besig is te legitimeer nie,

“but as co-determinants of the very questions we ask and therefore co-determinants of our theological agenda.”

Hierdie gebeur nie oornag nie. David White skryf brilliant oor hoe ons consumer culture die kritiese stemme van adolossente doodgemaak het. Net soos wat ons nie moet verwag dat die alternatiewe stem die eerste keer wat die akademiese omgewing gaan opstaan en sê “praat” reeds die nuwe vrae in al hulle kompleksiteite op die tafel gaan sit nie, moet ons ook nie verwag dat jongmense dit gaan doen nie. Dit gaan tyd vat. Dit gaan navorsing vat. Dit gaan lang en diep verhoudings vat. Dit gaan die meesters van suspisie vat om ons te help om te hoor wat nie gesê word nie. Dit gaan vrae dat ons nie stilstaan wanneer jongmense rebelle is op die maniere wat ons graag wil hê hulle moet wees nie. Maar die uitdaging vir jeugbediening vandag is of ons gaan toelaat dat jongmense die teologiese agenda van die gemeente verander. Die vraag is of die vrae op ons agenda verander omdat hulle in ons gemeentes is.

Ek wil nie meer hoor hoe baie jou gemeente vir jongmense doen nie. Ek wil hoor of die gemeente se agenda besig is om te verander omdat hulle die realiteit van jongmense as gespreksgenote ernstig opneem.


wat leer ons kinders in ‘n post-apartheid Suid Afrika?

Desember 6, 2010

Ek het nie kinders nie. Maar jeugbediening is al vir ‘n lang tyd so half deel van waar my gedagtes rond hardloop, en onderwys word dit meer en meer. ‘n Swart intellectual met wie ek vriende geword het oor die laaste maande vertel die naweek bietjie stories oor sy kind se onderwys ervaringe in ‘n “ou model-C skool”, waar 70% van die kinders nou al swart is, maar die onderwysers bly bykans uitsluitlik wit. Hy praat oor hoe dit by sy kind die prentjie gevestig het dat alle witmense onderwysers is, en alle swartmense by hulle moet leer (ten spyte daarvan dat sy pa en ma twee ongelooflike intelligente mense is!). Maar belangriker nog vir wat ek nou wil sê, hy vertel oor die ongemak met die manier waarop die storie van Suid Afrika vir sy kind geleer word. Dit is nie die eerste keer wat ek dit hoor nie, ‘n swart teoloog vriend het een aand vertel oor sy ongemak wanneer sy kind, ook in ‘n “ou model C skool” by die huis kom met sekere interpretasies van die Suid Afrikaanse geskiedenis wat hy weet net nie waar is nie, en nie dit waaraan hy self deelgeneem het weerspieël nie.

Ek dink daar is ‘n belangrike gesprek wat gevoer moet word oor swart kinders wat in skole kom waar die onderwysers uitsluitlik wit is, en die probleme wat gepaardgaan met die onderwyskorps van ‘n spesifieke skool wat nie getransformeer word nie. My eie vraag gaan egter vandag oor wit kinders. Wat moet ons ons wit kinders leer in ‘n post-apartheid Suid Afrika? Beverley Tatum help my vanuit die sielkunde om te verstaan hoe racialization in verskillende fases van ontwikkeling gebeur, en Shannon Sullivan het interessante teorieë oor hoe dit reeds by babatjies gevestig raak. In ons eie konteks het Jonathan Jansen belangrike goed geskryf oor jong wit Afrikaners die rassisme van hul ouers oorneem, sonder dat dit eksplisiet geleer word soos onder Apartheid. Wat moet ons dus vir wit kinders leer?

Daar gaan definitief verskille wees tussen wat vir wit en swart kinders geleer moet word. Hulle is op verskillende manier geracialize, en ons sal dit moet verstaan wanneer ons oor hierdie vraag dink. Maar wat as ons Justice Malala in ‘n tradisioneel wit skool, ‘n tradisioneel wit kerk, tradisionele wit gemeenskap lees, en sy antwoord ook ons antwoord maak. Wanneer hy skryf

“For the sake of our children and their children, we must constantly remind ourselves why there was a freedom struggle in this country”

dan link dit ongetwyfeld aan die onderwerp wat hier ter sprake is. Maar lees hom nou as ‘n wit ouer. ‘n Wit onderwyser. ‘n Wit predikant. In ‘n wit gemeenskap.

The first step is to accept that memory is crucial. We need to teach our children what happened here and how 46 years of apartheid nationalism nearly ruined us all. We need to teach them, in our schools and in the way we rebuild our country, that a crime as heinous as Nazism took place in South Africa.

Crucially, we need to entrench the values for which we fought in our children. It is not enough for us to just teach, it is also important to be non-sexist and non-racial. Unlike the racism preached by Botes, our children must see us living and mingling freely with our fellow countrymen. How we live our values is far more important than how much we teach them.

Die realiteit is dat ons dalk presies die teenoorgestelde probeer doen. Ons probeer om ons kinders geskiedenis-loos, konteks-loos groot te maak. Hoe minder hulle weet van die verlede, sodat hulle “skoon kan begin”, hoe beter. Dit dink ek moet verander. Ons moet ond kinders, wit en swart, leer oor die allerverskriklikste misdaad wat in hierdie land plaasgevind het. In die kerk moet ons ons kinders leer dat ons kerk (ten minste vir myself) foute gemaak het. Maar ons moet dit leef. En dit is dalk die werklike uitdaging wat voor ons lê. Hierdie geskiedenis, en die waardes wat ons wil kweek, kan nie in ‘n wit gemeenskap, ‘n wit kerk, ‘n wit skool met uitsluitlik wit onderwysers geleer word nie. Ons kinders moet ons sien waar ons gemaklik meng met die wye verskeidenheid van mense wat deel is van hierdie land.

Dit gaan moeilik wees. Dit is die reis wat voor ons deure lê.

 


‘n waarderende reaksie op ‘n “anonieme ,getraumatiseerde, vernederde vrou”

November 16, 2010

Op ‘n Woensdag oggend in 2004 woon ek actually die eerste periode se klas by. Oppad na genoemde periode ontvang ek die “Kampus Beeld” – ‘n poging van Beeld om studente-lesers te werf deur die Beeld te verpak in ‘n buiteblad van kampus-nuus – wat die JOOL koningin en haar twee prinsesse op die voorblad vertoon. Die drie saam het ‘n serp aan, slegs ‘n serp – seker maar ‘n poging van Beeld dat studente actually die koerant by die hekke moet neem. Die foto het ‘n diep indruk op my konserwatiewe godsdienstige sisteem gemaak. Dus sal ek nie verbaas wees as die debat wat die dosent die oggend in ons klas gevind het deels deur myself aan die gang gesit was nie. Ons klas was in twee geskeur oor die foto. Op baie eenvoudige wyse was daar die kamp wat gevoel het dat die foto darem regtig heeltemal te min toemaak (hier het ek myself tuisgevind), en die kant wat gevoel het dat die foto heeltemal alles wat belangrik is toemaak (hier het die oorwig van standpunte gelê). Die dosent sou ons egter ‘n les leer wat my tot diepe bekering sou roep (my vrou vra vanaand hoeveel keer ek dan tot bekering gekom het, en die antwoord is heel gereeld).

Soos dit ‘n goeie dosent betaam het sy* nie die gesprek gestop nie, maar die geleentheid gebruik om ons jong teologiese verbeeldings te vorm. Die konserwatiewe godsdienstige in my het geweet dat feministe uiters gevaarlik is, en dat mens nie moet luister wat hulle sê nie. My verbasing was dus groot toe ek ervaar dat die dosent ons konserwatiewes ondersteun daai oggend (so het ek dit ten minste beleef, in werklikheid het sy waarskynlik glad nie met ons saamgestem nie, ons het net ‘n mutual vyand gehad: die foto in die koerant). Maar sy het ons klein debatjie getransendeer deur nie te praat oor of die foto te veel of te min vlees wys nie, maar deur te praat oor wat die foto oor vroue, die samelewing se idee van ‘n waardevolle vrou, en vroue se selfverstaan oor hoe hulle veronderstel is om te lyk kommunikeer.

Gister se stormpie in die teekoppie het my weer aan hierdie verhaal laat dink.

Eers tweet Kerkbode:

Kerkbode betrek by porno smeerveldtog http://fb.me/Gw5tkxE2

en later

Verklaring e-pos veldtog teen Kerkbode http://fb.me/JsGJ44AH

Die links neem jou na Jean Oosthuizen (Nuusredakteur van Kerkbode en Pomp-aanlyn redakteur) en Adri-Louise van Renen (redakteur van LIG) se reaksies

My reaksie nadat ek die reaksies gelees het was:

Het iemand al d porn-beskuldigings v pomp en kerkbode gekry? v d opmerkings daaroor intrigue my,& ek sal graag d background wil kry

(ek het in my studentejare lelike emails vir mense wat my spam gestuur, so ek kry nie meer ketting emails nie, daarom dat ek moet vra)

Later die dag het een van my kolegas vir my die epos geforward:

Liewe Vriende,

Lees asb by www.kerkbode.co.za klik op Griffelmedia skakel en neem van die feite kennis.
Gaan op dieselfde Kerkbode Aanlyn tuisblad na multimedia in beeld. By die argief klik op tieners en seksualiteit…….

Die land  is geskok na mediaberigte  oor  die verkragting van ‘n dokter by ‘n hospitaal in Bloemfontein & skooldogters by ‘n skool in Gauteng.
Kyk hoe laat NGK leiers toe op  sy mondstuk Kerkbode Aanlyn dat vroue ten diepste verneder word.
Die absolute toppunt !

Toon jou misnoeë deur hierdie brief opgevou in die kollektebord te plaas.

Stuur aan landswyd en wêreldwyd.

Bid volhardend. God se Eer is op die spel! !

Anonieme ,getraumatiseerde, vernederde vrou.

Ja, die teoloog in my hoor onmiddelik dat “Bid volhardend. God se Eer is op die spel! !” ‘n sekere redelik fundamentele teologie kommunikeer. Ek kan natuurlik verkeerd wees, maar dit is wat ek hoor. Ek moet egter darem net hier noem dat anoniem heel waarskynlik aan Adri-Louise se oproep dat ons moet saamstaan teen Woolworths sou gehoor gegee het, en heel moontlik een van die mense kon wees wat saamgestaan het toe Woolworths “God se Eer” op die spel geplaas het!

In die weergawe wat ek ontvang het word niks gepraat van pornografie nie. So ek weet nie waar Adri-Louise hieraan gekom het nie. Ketting-emails het egter soos ons weet ‘n lewe van hul eie, en word natuurlik verander oor tyd, die weergawe wat sy gekry het het moontlik hierna verwys. My vriende in tekskritiek (vriende? nee, ek het net een vriend wat in tekskritiek spesialiseer, en dit isRonald) sal kan help, maar in die ontwikkeling van tekste dink ek die korter teks sou waarskynlik nader aan die oorsprongklike wees? Iemand wat met moderne kommunikasie werk sal seker ook hul vinger op navorsing oor die ontwikkeling van ketting-emails ook kan sit wat lig op die saak sal werk. Ek laat die opmerking oor pornografie dus met rus (buiten dat, siende dat ek nou ook die prentjie dupliseer op my eie blog, ek wil noem dat selfs sonder die verklaring van die simboliek is hierdie prentjie op links nie pornografie nie, maar dit ‘n saak vir ‘n ander dag), en fokus op wat ek sou beskou as die hart van die kritiek: dat die skakels op Kerkbode se website vernederend is vir vroue. In Adri-Louise se reaksie word hierdie kritiek erken, maar daar word nie daarop reageer nie.

Jean Oosthuizen se reaksie sê onder andere dat “Pomp 11 se jongste voorblad verlaag glo die vrou tot ’n verbruikersartikel“. Die email wat ek kry het bevat nie die woord verbruikersartikel nie. Weereens weet ek nie hoe die eposse ontwikkel het nie, maar as joernalis glo ek Jean weet dat die argument dat vroue tot ‘n verbruikersartikel verlaag word ‘n baie sterk lyn in feministiese analises is. Daai opmerking erken dus die harde feministiese kritiek (wat anoniem heel moontlik nie bedoel het nie), maar in die formulering van die sin kommunikeer dit ook dat of POMP skuldig is hieraan maar iets is waaroor ons nog sal moet praat. Nadat POMP se verduideliking van die metafoor gegee is wil dit voorkom asof die saak nou afgehandel is, en dat die kritiek oor verbruikersartikels en vernedering, asook pornografie (waaroor ek reeds reageer het) nou van die tafel af is. Maar is dit?

Ek dink aan meisies in my gemeente wat werklik met issues sit oor hoe hulle lyk. Vir hulle vermoed ek kommunikeer hierdie image net een ding: As jy nie soos ‘n model lyk nie, is jou kaal lyf nie welkom nie! Richard Beck, huidiglik een van my gunsteling bloggers, skryf onlangs in ‘n post oor Christelike nudisme dat nudisme se kritiek op die heersende kultuur wat liggame uitbeeld wat nie lyk soos die gemiddelde liggaam nie is om ons te herinner hoe lyk gewone kaal mense. Nie soos Hollywood films nie. Dele hang wat nooit in Hollywood hang nie. Hollywood het spiere waar gewone mense nie spiere het nie. Die semi-nudistiese image hier links (en as daar ‘n weergawe was wat pornografie aan hierdie image toegeskryf het wil ek darem net weer noem dat hierdie hier links nie pornografie is nie, maar “veilige” nudistiese beelde, en ons moet leer om die twee uitmekaar te ken) het wel geen eksplisiete seksuele uitbeeldings nie, maar versterk tog die beeld van hoe die ideale vrou veronderstel is om te lyk. Kom ons wees nou maar eenmaal eerlik met mekaar, ons sou nie ‘n kaal foto van ‘n gemiddelde vrou op ‘n voorblad gewaag het nie!

En hier is my punt: Ek’s nie groot op ketting-eposse nie. Ek het hierdie een ook vir niemand geforward nie. Ek is nie hiper sensitief vir nudistiese beelde nie (alhoewel ek geen begeerte het om ‘n nudis te word nie, so moet nie nog ‘n ketting epos begin nie). Daar is 10 teen 1 min van die konserwatiewe godsdienstige van my 2dejaar in my oor. Maar die klein klein bietjie wat die feministe my try leer het maak my as man sensitief daarvoor dat hierdie beeld wel vernederend kan wees! Dat hierdie beeld saam met die hele kultuur van uitbeelding van vroue wel trauma veroorsaak! En daarom, wetend dat anoniem heel moontlik nie om dieselfde teologiese vuur as ek sal gemaklik voel nie, wetend dat ons sal verskil oor van my uitsprake in die vorige paragraaf, en wetend dat sy moontlik vies sal wees omdat ek die beeld ook hier op my blog gesit het, wil ek tog sê: Ek dink jy het die reg gehad om hierdie briefie in die kollektesakkie te gooi!

En dit dalk my grootste ongemak. Net soos wat ons met die woolworths sage nie kon regkry om sistemiese vrae te vra nie, en nie ‘n genoegsame gesprek oor ekonomiese mag en manipulasie gehad het nie, het Bybelmedia ons weer gefaal en nie gehelp om die grooter sistemiese vrae oor hoe die media wel vroue verneder uit te bring nie. En ek is teleurgestel daaroor. Ek voel (ja, ek gebruik ‘n gevoelswoord hier) asof die reaksie op anoniem se brief eerder alles weer in eenvoudige “konserwatiewe” en “verligte” kategorieë gooi, en ek dink nie hierdie kategorieë werk in hierdie geval nie. Ons maak asof dit oor kaal boude gaan, en asof enigiemand wat issues maak oor ‘n paar kaal boude op ‘n boek sommer simpel is (wat dalk nog sou kon staan as dit werklik die enigste vlak was waarop die argument gelê het), en ignoreer in die proses die ernstige vrae oor die uitbeelding van vroue in die media. En ek wil nie deel van ‘n kerk wees wat dit ignoreer nie.

OK, en dan moet ek vanuit my sosiale media bril darem net op die youtube video reageer. Asseblief mense. Embed youtube videos op julle website, of beter nog, host julle eie videos. ‘n Video met die woord “seks” in gaan nie net links regs van jou video gooi wat 100% in stryd is met die mooi Christelike jeugbediening approach wat julle try uitpak nie, dit gooi ook die volgende aan die einde uit nadat jy dit gekyk het:


Bybel-Media se teikenmark gaan nie hiervan hou nie. As julle kritiek daarop kry is ‘n beter response om julle IT-guy oor die vingers te tik en jammer te sê as om te try verdedig. Ek wonder of Adri-Louise regtig dink ek moet die link na hierdie youtube clip na my gemeente se tieners forward, of na hulle ouers? Die kerkraad? Die kategete?

* Ek gee heel moontlik nie die dosent se standpunt getrou weer nie. Ek was 19, ‘n 2dejaar student, en dit was lank terug. So ek onthou net wat ek wou onthou. Moet dus asseblief nie hierdie verhaal gebruik om te besluit wat die dosent daardie oggend gesê het nie, maar hoor wel wat ek in die daaropvolgende jare vir myself geleer het as gevolg van ‘n belewenis daardie oggend.


Soek jy kinders om namens jou te glo?

Oktober 13, 2010

Ek raak oor die afgelope jaar meer en meer ongemaklik met die manier waarop ons van ons kinders verwag om die godsdienstiges te wees wat ons nooit sal wees nie (kyk gister se post: youth as priests and prophets). Ouers gaan so twee uit drie keer op ‘n Sondag kerk toe, maar verwag van hulle kinders om Sondag oggend kerk toe te gaan, daarna Sondagskool toe te gaan, iewers in die week nog ‘n jeugaksie by te woon, en indien moontlik nog ‘n CSV byeenkoms by die skool ook. Hierdie mag nou klink soos net nog ‘n dominee wat wil moan oor ouers wat hulle kinders Sondag oggend by die kerk aflaai en dan wegry, maar dit sal tog nie heeltemal pas by die trant van hierdie blog nie, so kom ek verduidelik verder.

Zizek se A Plea for Fundamentalism (wat ek seker 6 keer al deurgeluister het steeds nie mooi verstaan nie) het my die eerste keer begin sensitief maak vir hoe ons een ding gebruik om ‘n ander in stand te hou (in sy geval oosterse godsdiense om ‘n oorgawe aan ‘n verbruikerskultuur instand te hou). As ons sou agterkom dat die kruk wat ons instaat stel om voort te gaan op ‘n manier wat ons nie wil erken nie egter verdwyn, sal ons nie kan voortgaan met hierdie praktyk nie. Rollins, wat baie sterk op Zizek steun, verduidelik dit mooi met ‘n storie van ‘n besigheidsman (32 min 30 sek) wie se godsdiens hom instaat stel om met slegte besigheidspraktyke voort te gaan. Toe hy egter sy geloof verloor (a.g.v die dominee wat vir hom bid sodat hy nie meer moet glo nie – jy sal die storie moet luister), en nie meer godsdiens het wat hom kan oortuig dat hy eintlik ‘n goeie mens is nie, verander hy sy werk en lewe, omdat hy toe eerlik moes wees oor wie hy is.

Die vraag wat ek meer en meer oor wonder: hoekom vind volwassenes dit so belangrik dat kinders soveel meer godsdienstig moet wees as wat hulle self is? En binne die logika van Zizek en Rollins maak dit uiteraard die vermoede oop dat volwassenes se sterk klem op kinders se kerklike betrokkenheid ‘n manier is om die feit dat religie geen werklike prioriteit meer vir hulle is nie weg te steek. Kinders word die kruk waarop ons leuen, en as ons ooit moet face dat hulle geen erg aan ons godsdiens het nie, dan sal dit ons eie verbintenis tot die godsdiens skielik vrae oor laat ontstaan.

Rollins se podcast van gister (15:00) stel dit baie hard: ons kinders se geloof verskaf ‘n psigologiese plesier van geloof vir ons. As ons kinders sou sê dat hulle nie glo nie, is dit diep traumaties omdat dit ons forseer om ons eie ongeloof te konfronteer.

Nog nie seker wat die implikasies vir jeugbediening aan die ander kant is nie…