ateïsme in ‘n kinderlike gebed

Oktober 20, 2011

Dankie Here vir die kos wat ons nou mag eet, gaan (ook) met die wat nie so bevoorreg soos ons is nie, Amen

Ek weet nie hoeveel keer ek hierdie gebed met die grootste opregtheid gebid het nie.

Hoe sal ons die gebed lees? Dalk moet ons eers die gebed probeer red. Die gebed kan gebid word vanuit die diepe worsteling met die bykans onmoontlike taak om iets aan die ongeregtighede in hierdie wêreld te doen. So gelees is dit ‘n kinderlike erkentenis dat ek in ‘n bevoorregte posisie is a.g.v die daaglikste brood wat op my tafel lê, en ‘n noodkreet dat die koninkryk mag kom – ‘n noodkreet dat slegs die een wat ons God noem, die een wat ons as almagtig beskryf, hier kan ingryp. Dit is ‘n uitroep dat die bo-werklike werklikheid wat ons God noem, die een wat natuurlik hoofsaaklik geinkarneer word in die vorm van mense se deelname aan die geskiedenis, in ‘n wêreld van brutale onreg moet inkom en saam met die armes (aan die kant van die armes?) moet wees sodat hulle die daaglikse voorsiening wat op my tafel kom ook op hulle tafel sal kom.

Maar ek dink nie dit is hoe ek dit gebid het nie. Ek dink ek het dit gebid met die stille hoop dat hierdie God nie in die vorm van mense se betrokkenheid in die geskiedenis inkarneer nie, maar dat God op een of ander bonatuurlike wyse troostend teenwoordig moet wees by hulle wat ly. Die gebed het nie die wesenlike probleem van die feit hierdie aarde nie die tekens van die koninkryk vertoon wanneer slegs party kan eet op die tafel gesit nie. In gebed wou ek moontlik bevoorregting aan die voorsienigheid van God toeskryf, en God dan stuur om te troos waar God skynbaar nie kon voorsien nie. Die gebed het maar net vertel wat ons instinktief geweet het: party is bevoorreg, en ander nie; dit is die wêreld waarin ons leef. God gee vir party kos, en vir ander nie.

Maar dit word ‘n ateïstiese gebed wanneer die gebed maar bloot die status quo in stand hou. Wanneer God se voorsiening hier en God se betrokkenheid daar geen effek het op die koms van God se koninkryk nie. Wanneer my geloof in dit wat ons God noem nie meer ‘n herinnering is daaraan dat die feit dat ek ‘n bord kos het en ‘n ander nie iets is wat verander kan en moet word nie, dan is dit immers die gebed van ‘n ongelowige (nie die eerlike gebed van ‘n twyfelaar nie, maar die oneerlike gebed wat sê dat ek nie die wêreld hoef te verander nie, omdat God dit sal doen, maar impliseer dat ons kan ontspan want God gaan elkgeval ook maar die status quo in stand hou).

Ons leef in ‘n wêreld met genoeg kos. Maar ‘n wêreld van ongelooflike ongeregtigheid rondom kos. Ek weet nie of ek dit sal waag nie, maar dalk moet ons kinderlik bid:

Here ons weet dat party honger is, droom dat u koninkryk sal kom, en dat almal genoeg sal hê op aarde, soos in die hemel. Gee vir ons ‘n ete wat dit sal laat waar word en maak ons los van eetgewoontes wat bydra tot die boosheid in hierdie wêreld.

Ek moet darem net as ‘n voetnota byvoeg dat die herhaling van die gebed heel bo tog ‘n konstante herinnering aan ongelykheid is/was, en iewers baie diep in my godsdiens tog goed losgemaak het.


Die krisis is groter as wat Vice beskryf

Julie 21, 2011

But I also think our country has long needed brilliant and honest academics, such as Vice, to place their ideas within the public space where they could have the greatest reach. No topic deserves such treatment more urgently than the permanent elephant in any South African room — race. So, allow me to rehearse Vice’s reflections and to engage them.

McKaiser, Confronting Whiteness

Ek deel McKaiser se gevoel. Ek dink ons het stemme soos die van Vice nodig, en as ek na die kommentaar die laaste paar weke op die massas artikels (en die inhoud van van hierdie artikels) luister, dan raak ek net meer oortuig dat ons Vice baie ernstig moet lees, moer verstaan waar sy verdaan kom, sodat ons vanuit hierdie tipe self-refleksie vorentoe kan beweeg. Daarom dat ek versoek dat ons begin deur by Vice stil te staan.

Dit gesê, daar is ‘n paar plekke waar ek ernstig kritiek wil lewer, nie teen Vice nie, maar amper om Vice se argument ‘n stap of twee verder te vat.

In kort, twee sake wat ek wil noem: Ek dink Vice het ‘n oordrewe klem op die politiek, en mis daarom ander belangrike dele van die publieke sfeer, en ek dink Vice het ‘n oordrewe klem op Apartheid, en mis daarom die groter geskiedenis.

Disclaimer: ek weet Vice het ‘n akademiese artikel gepubliseer, en dat hierdie konteks vra dat argument so gefokus as moontlik geskryf word, en nie die hele wêreld se vrae op een slag moet aanspreek nie. Ek wil dus nie impliseer dat Vice nie self aan hierdie twee sake kan dink nie, ek glo sy kan, en het al, maar ek dink dis belangrik dat dit verwoord word, en wil begin deur dit hier te doen.

Dit gesê, kom ek verduidelik. My argument begin bietjie persoonlik. Vice skryf:

While I am not an Afrikaner and so have escaped the taint that identity brings with it, I am a white South African, undeniably a product of the Apartheid system and undeniably still benefiting from it.

Daar is ‘n voetnote by waarin sy haar erns met haar eie posisie benadruk, en dit duidelik maak dat sy nie dink dat skuld net aan Afrikaners gekoppel moet word nie. Maar wat natuurlik nie genoem word nie, is wie Vice dan nou is? My doel is nie tipiese English-bashing nie, maar ek dink op hierdie punt laat Vice ‘n geleentheid verbygaan om die groter konteks waarbinne Apartheid ontstaan het, en haar eie verbintenis tot hierdie groter konteks, uit te wys.

Een frase uit Steyn se werk trek dit mooi bymekaar:

Apartheid was “a logical, if extreme, interpretation of the trope of modern Western whiteness”

Melissa Steyn, “Whitenss Just Isn’t What It Used To Be”, pxxxi

Later haal sy Nadine Gordimer aan:

As extraordinary obdurate crossbreed of Dutch, German, English, French in the South African white settler population produced a bluntness that unveiled everyone’s refined racism: the flags of European civilization dropped, and there is was, unashamedly, the ugliest creation of man, and the baptized the thing in the Dutch Reformed Church, called it apartheid, coining the ultimate term for every manifestation, over the ages, in many countries, of race prejudice. Every country could see its semblances there; and more peoples.

Melissa Steyn, “Whitenss Just Isn’t What It Used To Be”, p24

Beide kante is belangrik. Apartheid was die ekstreme vorm van rassistiese strukture in die wêreld, maar dit was nie uniek nie. Dit was ingebed in ‘n groter geskiedenis van kolonialisme. Hierdie woord is vreemd genoem weggelaat uit Vice se argument uit. Dit is jammer, want ek dink dit sal help om ook die vreemde posisie van ander witmense, hulle wat nie Afrikaners is nie, of selfs nie Suid Afrikaners is nie, se rol in ongeregtigheid, en se voortgaande bevoorregting, in die gesprek in te dra.

Dit bring ons egter by die tweede punt. Ek dink Vice plaas ‘n oordrewe klem op die politiek. Vandag word die wit posisie nie deur politiek in plek gehou nie, maar deur ekonomiese en intellektuele faktore. Dit gaan oor woorde, oor interpretasies van die verlede en hede, en dit gaan oor wie die beursie dra. As ons die ongeregtigheid wat met die wit posisie gepaardgaan dus wil konfronteer, dan sal ons moet kyk na veel meer subtiele meganismes as bloot wie besluit hoe die land regeer moet word.

Saam met dit sal ons dan ook weereens die internationale aard van die wit posisie moet verstaan. My bevoorregting is nie net Apartheid nie, maar dit is ook die feit dat daar ‘n internationale gemeenskap van witmense is wat vir eeue lank ‘n disproportionele deel van die bronne van die wêreld bymekaargemaak het, en daarmee hulle wat die wit posisie gedeel het bevoordeel het. Dit is ook omdat daar ‘n internationale gemeenskap van filmhuise, koerante, skrywers, bloggers ens is, en dat hierdie mediums tot ‘n oordrewe mate in wit hande is, en die saak van hulle wat wit is bevorder.

Om kolonialisme te onthou, en die effek daarvan nie net op die onderdrukking van hulle in Afrika en die Amerikas nie, maar ook in hoe dit Europa en die gepaardgaande ideale wit posisie bevorder het, help ons om te besef ons is nie in proses om 50 jaar se ongeregtigheid van Apartheid te reg te stel nie, maar 300 of 400 jaar van ongelyke wetgewing, en van bronne wat disproportioneel na die Noordelike halfrond, en na die bankrekeninge van wittes oralsoor, versprei is. Om te besef dit gaan nie net oor die politiek nie, help ons om te onthou dat rassisme op alle vlakke van ons bestaan funksioneer, en dat om een aspek aan te spreek nie die hele sisteem gaan verander nie.

Nadat ons dus by Vice stilgestaan het, maar voordat ons te vinnig sê witmense het deur hulle eie wit subjektiwiteit gewerk, sal ons die grootsheid, beide in tyd en skaal, van die manier hoe wit mense gesosialiseer is moet verwerk.


Annelie Botes, swart mans maak my ook bang…

Desember 2, 2010

Na my vorige post, laat ek maar my vreemde waarderings uitspreek, deur ‘n oombliklike waardering vir Annelie Botes se opmerkings. Natuurlik moet hierdie waardering gekwalifiseer word, sterk gekwalifiseer, maar vir ‘n oomblik, moet ek aan Annelie Botes erken: swart mans maak my ook bang.

Hierdie is ‘n komplekse storie, en om dit te ontken vermoed ek is om rasseverhoudinge in Suid Afrika nog meer skade aan te doen as wat Botes met haar opmerkings gemaak het. Die eenvoudige vergelyking wat sê dat alle rassiste Botes ondersteun, en almal wat nie rassisties is nie teen haar uitsprake is, werk bloot nie. Andile Mngximate se rubriek bring van hierdie kompleksiteite na die gesprekstafel toe deur te wys dat rassisme veel meer as eenvoudige vrees is.

Hanlie Retief se woorde: “En dit het ef-ol met rassisme te doene, keer sy. Sy’t nie ’n probleem “om ’n vurk en tafel en lavatory” met ’n swart man te deel nie.” Dis deels die probleem ek dink. Dat ons geleer is dat ons wonderlike nie-rassistiese mense is as ons “’n vurk en tafel en lavatory” met iemand wat swart is deel. Dan is dit maklik om nie rassisties te wees nie, en kan ons onsself verskans teen die pyn wat gepaardgaan met ‘n beskuldiging van rassisties wees. Beverley Tatum beskryf die pyn van hierdie beskuldiging so beautiful “I once asked a White teacher what it would mean to her if a student or parent of color accused her of being racist. She said she would feel as though she had been punched in the stomach or called a “low-life scum.”” Wat is ons nie bereid om te doen om van hierdie beskuldiging gespaar te word nie.

Ja, ons is bereid om Annelie Botes uit die land weg te wens as dit ons daarmee kan bewys dat ons “nie rassisties” is nie. Of is my interpretasie van die comments waarna hier verwys word heeltemal verkeerd? Want as ek teen Annelie Botes is, dan bewys dit mos hoe progressief ek is…

So laat ek verduidelik: Annelie Botes: swart mans maak my ook bang. As jy vir ‘n oomblik dink ek het die quote verkeerd, lees die hele onderhoud. Die logika loop soos volg: Ek hou nie van swart mense nie; ek verstaan nie swart mense nie; ek vermy hulle, want swart mense maak my bang. Ek wil ook eerlik wees, net Annelie Botes, maar daarom moet ek my uitspraak bietjie verander: swart mans maak my bang. Is dit a.g.v daai mes wat teen my gedruk was? Dit speel ‘n helse rol, en trust me, elke keer as ek rondom die middestad stop dan beleef ek weer daai emosies wanneer ek terugstap kar toe, elke keer vrees ek die karwag wat daar ronddwaal.

Maar ‘n ander verhaal moet ook gehoor word: ons ry die ander dag hier uit die huis uit oppad Menlyn toe. By die robot oor Atterbury straat bedel ‘n swart vrou. Ek vermy haar oë, sukkel om uit te figure wat om met al die bedelaars te doen. By die volgende robot bedel ‘n wit man. Ek sluit die deure, en vermy sy oë. Dis toe wat Maryke opmerk: “jy sluit die deure vir ‘n wit man en nie vir ‘n swart vrou nie”…

Siyabonga Ntshingila begin om van die slegte logika in Botes se argumente uit te wys. Ja, ons moet erken dat swart mense verantwoordelik is vir die meeste “contact crimes” in Suid Afrika, Botes se idee dat Engeland so wonderlik veilig is hou egter nie water teen die syfers nie. Maar ek wonder oor my eie belewenisse: as dit vrees is wat agter haar emosies sit, hoekom swart mense en nie swart mans nie? Hoekom nie ‘n groter vrees vir wit mans as vir swart vroue nie? Ten spyte van die sistemiese issues waarna Ntshingila verwys, en wat dieselfde is vir mans en vroue, is vroue slegs vir 2,2% van gewelds-misdaad in Suid Afrika verantwoordelik. Vir haar as vrou om nou alle swart mense oor dieselfde kam te skeer maak dus ‘n klomp vrae oop.

Daar is egter nog ‘n kant wat genoem moet word, en hier wil ek by die rubriek van Xhanti Payi aansluit: vrees dryf vrees, en om ‘n omgewing te leer ken, en die mense van daardie omgewing te leer ken, verlaag vrees. Charlotte Lemanski skryf in ‘n artikel oor hoe segregasie vrees vir misdaad verhoog op ‘n plek oor wit mense dat “their fear of the increasingly unknown  outside has exploded, leading to further fortification and, hence, deeper fear”. Is dit werklik te gevaarlik om ‘n tamatie te gaan koop? Is dit werklik meer gevaarlik vandag om ‘n tamatie te gaan koop as wat dit wat 30 jaar terug? Gaan dit in Engeland werklik veiliger wees om ‘n tamatie te gaan koop? Is daar nie dalk ook ‘n stuk waarheid in dat vrees nie net verhoed dat ons tamaties gaan koop nie, maar dat die feit dat ons nie winkel toe loop en ‘n tamatie gaan koop nie ook ons vrees verhoog? Is dit net vrees wat maak dat ons swart mense vermy, of is die feit dat ons swart mense vermy nie ook deels verantwoordelik vir ons vrees nie?

Daar is natuurlik ‘n ander saak wat genoem moet word: dit is nou maklik om vir Annelie Botes oor die kole te haal oor haar opmerkings (wat dit seker nou al duidelik is dat ek dink ernstige vrae oor gevra kan word), maar is sy nie bietjie van ‘n soft target nie? Hoekom nie dieselfde reaksie op die Afrikaanse dagblaaie en sondag-koerante wat verantwoordelik is daarvoor om die illusie te skep dat geweld slegs wit mense raak? Is hulle nie verantwoordelik vir die vrees- onkunde- hou-nie-van-swart-mense-nie argument wat Botes uitwys nie? Is sekuriteitskomplekse nie deels verantwoordelik vir ‘n verhoogde vrees wat ons beleef nie? Is die nalatenskap van apartheid nie aan die wortel van die geweld en vrees vir geweld wat ons beleef nie? Voor ons vir Annelie Botes oor die kole haal omdat sy vergeet het om polities korrek te wees (of omdat sy aspris reaksie uitgelok het), moet ons vra hoekom ons nie ons toys uit ons kotte gooi oor ekonomiese ongelykheid, woonbuurte wat steeds volgens ras verdeel is, sistemiese ongeregtigheid wat steeds die bevoordeling weens apartheid instand hou.

Ons kan van vrees getuig, maar kom ons erken dat arm swartmense in Suid Afrika steeds die ergste onder geweld ly, al is dit nie hulle wat die voorblaaie van Afrikaanse koerante haal nie. Vrees troef egter nie alle ander argumente nie. Ons sal moet krities staan teenoor die interpretasies wat gegee word vir die oorsprong van ons vrese. Verder, kritiek op hulle wat nie polities korrek is nie (hoe ongegrond hulle uitsprake ookal) gaan waarskynlik nie ‘n nie-rassistiese samelewing skep nie. Om die waarheid te sê, ons moet vra of die vinnige kritiek teen Annelie Botes se ondeurdagte opmerkings nie maar net ‘n maklike manier is om die oproep na kritiek op die voortgesette ongelykheid in Suid Afrika te vermy nie. Anti-rassisme vir witmense is nie om vir Annelie Botes uit die land te verwens nie, dit is om jou eie bevoordeling op grond van ras krities onder oë te neem, en op grond daarvan jou rol in hierdie nuwe Suid Afrika te gaan soek.


Zizek, Freud, Holocaust, Apartheid

Oktober 25, 2010

The joke evoked by Freud in order to render the strange logic of dreams gives us a useful gloss on the strange logic at work here: (1) I never borrowed a kettle from you;(2) I returned it to you unbroken; (3) the kettle was already broken when I got it from you. Such an enumerationof inconsistent arguments, of course, confirms by negation what it endeavours to deny-that I returned your kettle broken … Doesn’t this very inconsistency characterise the way radical Islamists respond to the Holocaust? (1) The Holocaust did not happen; (2) it did happen, but the Jews deserved it; (3)the Jews did not deserve it, but they have lost the right to complain by doing to Palestinians what the Nazis did to them. Zizek, Violence p110

En wat van ons?

  1. Apartheid het nie gebeur nie
  2. Apartheid het gebeur maar was glad nie so erg soos wat mense dit vandag wil maak nie. En elkgeval was dit nodig gewees vir die land.
  3. Apartheid was verkeerd gewees maar wat tans gebeur is net so verkeerd, indien nie erger nie, daarom mag niemand moan oor Apartheid nie

Die tweede en derde hoor ons maklik. Die eerste vermoed ek hoor ons as ‘n ekstreme vorm van die tweede, nl: Daar was iets soos Apartheid, maar dit was iets heeltemal anders as wat die ANC dit vandag wil maak (en dan word een of ander vorm van gelyke ontwikkeling uitgepak, en die standpunt word ingeneem dat gelyke ontwikkeling in werklikheid plaasgevind het).


ek is toe al die tyd ‘n volslae verbruiker

September 25, 2010

Ek beskryf myself nog altyd as een wat sterk krities staan teen die verbruiker kultuur hier rondom my. Ek is trots op my waardering vir die kommuniste, en vind dit pret om my vriend(inn)e wat hulle siele aan die advertensiewese verkoop uit te wys op die etiese vrae aan enige deelname aan die advertensiewese. En die res van my huismense sal waarskynlik nogals saamgaan met die vorige twee sinne. Maar weekliks dan land die Rekord en ‘n hele pak advertensies hier in ons posbus, en sal een van ons die moeite doen om dit uit die posbus te gaan haal en op die eetkamertafel te gooi. Buiten die die Mail & Guardian wat so once in a while hier in die huis rond is, is hierdie die enigste koerant wat ooit in die huis kom (sien, ons het capless-internet en weet hoe werk RSS readers).

Nadat die rekord en die advertensies van bykans elke groot winkel wat jy hier in die Pretoria-Bible-Belt vind hier geland het, dan volg daar die weeklikse ritueel van so lui-lui deur die advertensies blaai. Eers Game en Incredible connection se rekenaar advertensies. Nee, ek is nie van plan om ‘n rekenaar te koop in die volgende drie jaar nie, maar ag, ek wil darem net sien waar staan die pryse. Daarna volg die hardeware advertensies (moet my glad nie vra hoekom nie), asook general huisware. Ek skip die kos advertensies, maar Maryke kyk hulle deur (hierdie is waarskynlik die enigste deel van die oefening wat sinmaak, want kos moet ons koop, en Maryke weet hoe om die beste deal op kos te kry). Waar ek begin bekommerd raak is wanneer die week se advertensies die tweede keer begin deurgekyk word…

Iewers deur die loop van die week dan begin ek uiters skuldig voel oor die pak advertensies wat op die eetkamer tafel lê en wat ons lui-lui-leesstof is vir die aande na ete as ons sommer net sit en kuier en veronderstel is om te kyk wat in die koerant aangaan, en dan sal ek dit gaan weggooi. Dit was op hierdie punt vanaand wat ek besef het: ek is ‘n volslae verbruiker. Jy sien, dit is regtig baie advertensies wat hulle vir ons uitdeel. Dis eers wanneer die jy die pak so moet bymekaarmaak en na die buitenste asblik moet loop (want die een in die kombuis is vol) wat jy besef hoe baie dit is. En my weeklikste ritueel is om iets in hierdie pak te soek om te koop. Ek is nie ‘n goeie winkel-dwaaler nie, en het al gewerk daaraan om ‘n weerstand op te bou, so ek val darem selde vir die versoeking, maar week na week pak ek die ritueel aan om te kyk of daar nie tog ‘n ou uitverkopingtjie is wat ek net nie kan laat verbygaan nie.

Ek is Cobus. En ek is ‘n verbruiker. Dit is nou 24 uur vandag ek laas ‘n advertensie gekyk het…


en wat dan van God en die ringe

April 2, 2010

Die skerp leser sou seker agtergekom het dat God en die ringe, die twee dinge wat ons dan gewoonlik maak asof dit die belangrikste deel van in ‘n kerk trou, nie gister genoem is nie. Die mees prominente simboliese handeling in ‘n huwelikseremonie is gewoonlik die gee van die ringe en die groot soen. En dan doen ons dinge mos in ‘n kerk omdat hierdie ook ‘n verbintenis voor God is, of so sê hulle.

Nou moet my nie verkeerd verstaan nie, vir so baie van ons is hierdie verbintenis voor God werklik belangrik. Die Rooms-Katolieke het so ver gegaan om dit ‘n sakrament te maak. Maar ek dink die werk van die kerk lê primêr op die vlak van die gemeenskap wat saam verbind tot ‘n verhouding. Waar daar ‘n sterk godsdienstige belewenis met die huwelik saamgaan, moet dit natuurlik deel wees van ons seremonies, want dit weerspieël immers dan iets van hierdie twee mense en die gemeenskap rondom hulle.

Maar God gebeur meestal nie tussen twee mense op die huweliksdag nie. God het vir hulle in hierdie verhouding gebeur oor jare wat hulle saam aan die verhouding gebou het, op watter manier ookal. Partymaal het God nie vir hulle gebeur nie, en dan is ek nie seker of die huwelikseremonie die plek gaan wees waar God gebeur nie.

En dan die ringe. Die simbole van persoonlike verbintenis tussen twee mense. Weereens nie iets wat op hierdie dag gebeur nie, maar iets wat oor jare reeds gebeur het. Nie eens iets wat op hierdie dag publiek gemaak word nie, in die tyd waarin ons leef het daar oor jare reeds goed gebeur waarin twee mense publiek vir die mense rondom hulle gesê het dat hier ‘n verbintenis is. Daarom dat die mense rondom die verhouding lank voor die huwelik reeds baie kwaad sal raak indien een van die twee die verhouding met disrespek behandel deur byvoorbeeld ‘n ander soortgelyke verhouding gelyktydig aan te knoop.

Die huwelikseremonie bevat dus ‘n deel waarin op rituele-vlak net genoem word dit wat klaar gebeur het, dat twee mense hulleself aan mekaar verbind het, en in meeste gevalle waarby godsdienstige instansies betrokke is dat twee mense hulleself ook deur middel van ‘n gedeelte godsdienstige ervaring wat gewoonlik met sekere waardes gepaardgaan aan mekaar verbind het. Hulle het “voor God trou aan mekaar belowe”.

Toe ek en Maryke twee jaar terug ‘n paar vriende gevra het om kreatief die rituele vir ons huwelikseremonie aanmekaar te sit, was dit nie ringe en God wat ons vir hulle gevra het om oor te dink nie. Dit was Hauerwas se woorde uit ‘n week terug te post uit: Twee mense wat sê dat hulle vir ewig, deur goed en sleg, tot die dood hulle skei, trou sal bly aan mekaar weet nie wat hulle besig is om te sê nie. Daarom sê ons dit voor die geloofsgemeenskap en voor familie, om vir hulle te sê: “ons gaan hierdie nie op ons eie regkry nie, ons het hulp nodig” – Dit wat ons die “kerk”, die godsdienstige gemeenskap rondom ons (wat nie almal hulleself as Christene of selfs as eksplisiet godsdienstig beskryf het nie) gevra het om te doen, wat om ‘n ruimte te skep waarin familie, vriende, en ander wat rondom ons beweeg hullself kon verbind om hierdie huwelik te ondersteun, dit is wat die meeste tyd gekry het, dit is wat die meeste fokus gekry het.


net voor die huweliksnag – tussen familie en publiek

April 1, 2010

En dan net voor die huweliksnag waaroor ‘n groot deel van die Nuwe Testament vol in grappies al vertel is, kom die openbare huwelikseremonie. Op hierdie punt is die mense naaste aan die wat nou wil lewenslank ‘n verbintenis maak hopelik darem al ingelig van wat kom (alhoewel nie noodwendig nie), en in meeste gevalle is daar ook aandag aan die derde sirkel, wetlike aspekte, gegee. In meeste gevalle word die derde sirkel ook finaal voltrek hier, en in party gevalle word daar keuses gemaak om nie die derde sirkel as deel van die ondersteuning en beskerming van die huwelik te maak nie, maar tog die tweede sirkel, die godsdienstige, die openbare ritueel, wel.

Hierdie gaan nie net oor die familie nie. Alhoewel familie ‘n belangrike deel van hierdie ritueel kan word, en hulle ondersteuning vir die huwelik ook in die rituele wat hier plaasvind ingewerk kan word. Die hele publiek is ook glad nie hier uitgenooi nie. Hierdie is die plek waar hulle wat baie naby, en hulle wat rondom die verhouding staan, saamkom om hulle ondersteuning aan hierdie huwelik te kom bekendmaak.

Predikante het nou wel nie altyd ‘n goeie naam nie, is bekend daarvoor dat hulle die werk het om seker te maak heidene is bewus dat hulle lank gaan brand, en mense wat se timing rondom seks (primêr te vroeg) nie reg is nie onder oë te kry, en lang preke uit te ruk wat niemand lekker seker is wat die doel van is nie. Maar tog is die wêreld vol mense wat stories kan vertel dat predikante nie regtig so bad is nie. Hulle is veronderstel om ‘n stem van hoop, selfs al skyn hoop onmoontlik te wees, te wees in tye wanneer dinge maar rof gaan, en soveel keer in die geskiedenis was hulle dit ook. Hulle is veronderstel om ten spyte van al die gemors in die wêreld en al die stukkende verhoudings, aan te hou roep dat liefde moet seëvier, en deurlopend op kreatiewe maniere mense deel te maak van rituele waarin hierdie ander manier van leef, die manier van liefde, onthou word. Hulle preek om ook te verduidelik hoe dit dan sal moontlik wees dat die manier van die liefde geleef kan word, en hulle praat in persoonlike gesprekke om hierdie ook in soveel unieke kontekste te help gebeur.

Een van die plekke waar godsdiens, en ook dan predikante, rabbi’s, en priesters, nog altyd ‘n groot rol gespeel het was wanneer dit by huwelike kom. Hulle dra verantwoordelikheid om rituele te skep waarin mense hulleself aan mekaar en aan hierdie mense wat nou trou belowe aan mekaar kan verbind. Maar ek vrees ons het hierdie taak verloor. Ons het verval in ‘n mooi sedeprekie en die getroue voltrekking van die derde sirkel, die wetlike aspekte, wat gewoonlik in die formulering net ‘n godsdienstige skynsel gegee word.

Hoe sal dit lyk as die kerk en ander godsdienstige instellings weer hulle rol ernstig opneem om iewers tussen die nabyste familie en die wye publiek die mense wat rondom ‘n huwelik is te help om hulleself te verbind aan hierdie mense wat nou gaan trou? ‘n Plek waar predikante nie preek nie, maar ruimtes fasiliteer sodat stories, mooi stories nie, maak-sy-naam-gat stories nie, vertel kan word. ‘n Ruimte waar simbole van verbintenis tot uiting kan kom.