My teleurstelling in die FW de Klerk Stigting

Augustus 19, 2011

@FWdeKlerkFoun het ‘n paar uur terug gevra ek moet vir hulle skryf hoekom ek teleurgesteld is in die Stigting. Hierdie was my vinnige reaksie.

Irené

Kom ons begin maar by die begin. Ek is 27. Afrikaans. Manlik. Predikant (of was ten minste gewees tot onlangs toe, tans is ek weer bietjie terug by die universiteit). Ek het in Swaziland grootgeword, en het van kleins af geweet dat apartheid verkeerd is.

Ek kan uiteraard nie sê dat my politieke bewussein ten volle ontwikkel was teen die tyd wat president de Klerk die bekende toespraak gemaak het op 2 Februarie nie. Maar ek onthou weld at dit vir my ouers belangrik was om te gaan stem tydens die referendum. Dit was vir hulle belangrik dat apartheid moet eindig.

Selfs teen die verkiesing van 1994 het ek nie regtig geweet wat aangaan nie. Kort daarna het ons Suid Afrika toe getrek, en jare later, toe ek op hoërskool was, het ek uitgevind van pas-wette. Die Nasionale Party het tot ‘n einde gekom, en in my onskuld het ek seker gedink dit was ook maar een van daai dinge wat moes gebeur. Maar FW de Klerk het tog ‘n tipe “hero” vir progressiewe wittes gebly. Na wie sou ons terugwys? Ons geskiedenis is besaai met leiers wie se besluite veroorsaak het dat ons onsself moet skaam. Maar FW de Klerk, so het ons geglo, het apartheid gestop. Hy het ‘n nobel-prys vir vrede gekry vir die manier waarop hy die oorgang help bestuur het. Hier was ‘n man wat ons maar in internasionale geselskap oor kon sê: “hy is een van ons mense”.

Iewers het ek van die FW de Klerk Stigting gehoor, maar nie regtig altyd fyn gevolg waarmee hulle besig is nie. Die reaksie op Samantha Vice deur Stewerd en Du Preez onlangs onder die titel “Skuld oor witlikheid werk rassisme in hand” was die eerste plek waar ek teleurgesteld was. Dis natuurlik aan die een kant onregverdig om ‘n artikel wat in ‘n koerant verskyn op akademiese gronde te beoordeel, siende dat daar eerstens nie genoeg plek is om jou standpunt volledig te verduidelik nie, en tweedens omdat jy beperk word in die taal wat jy gebruik. Ek het in my lewe al redelik gewerk in die veld wat as “whiteness studies” etiketteer word, waaruit baie van Vice se opmerkings kom. Dat daar van Vice verskil word is natuurlik aanvaarbaar, ons het konstruktiewe debat nodig in Suid Afrika. Maar dat ‘n reaksie deur die stigting haar argument afskiet sonder dat die argument eers verstaan word was vir my teleurstellend.

Dit het veral gegaan oor die woord “voorreg”, wat Vice op ‘n redelike tegniese wyse gebruik, en wat in die artikel bloot afgeskiet word. Voorreg by Vice gaan nie bloot oor jou bankrekening nie, maar oor die hele sisteem waarin jy jouself bevind, en gaan tweedens ook oor dit wat oor generasies opgebou is. Hierdie is natuurlik nie die plek om op tegniese konsepte in te gaan nie, maar ek wil maar net noem dat vanuit daai kort artikel het ek die idee gekry dat die outeurs nie enigsins kennis gedra het van die bronne waaruit Vice gewerk het en wat die terme beteken wat binne hierdie vakgebied gebruik word nie. Vice se artikel was in ‘n akademiese joernaal gepubliseer, waar sekere reëls geld. Natuurlik het baie wat haar artikel in die hoofstoom media bespreek het ook soortgelyke tegniese foute gemaak, maar ek sou gehoop het dat die stigting se reaksie nie in sulke slaggate sou trap nie.

Wat die huidige reaksie op die uitsprake van aartsbiskop Tutu betref lê dit so bietjie op ‘n ander vlak.

Daar is weer die foute. Ek dink byvoorbeeld aan die stelling “Those fortunate people who earn more than R585 000 pay 40% their incomes to the state to fund” – ek is geen ekonoom nie, maar soos ek my eie belasting kyk, dan werk Suid Afrikaanse belasting op ‘n glyskaal. Mense wat meer as R585 000 verdien sal 40% van hulle inkomste bo R585 000 aan belasting moet afstaan, nie 40% van hulle inkomste nie. Dit is ‘n ou fout, wat onder andere maak dat party mense simpel opmerkings maak soos dat hulle meer belasting moet betaal omdat hulle in ‘n hoër kategorie val. Dit is natuurlik nooit waar nie. Daar is egter ‘n groter punt.

Irené, my eerste kind is twee dae gelede gebore. Sy geboorte, en ons drome oor sy toekoms, maar dit weereens duidelik dat die mooi opmerkings oor “nie-rassigheid” bloot mooi teorie is, maar ons nie op die grond help nie. Indien daar egtheid aan die opmerking was, dan sou dit vir ons moontlik gewees het om te kan sê dat ons gemaklik sal wees met enige skool waarheen ons kind eendag gaan. Ons sou graag wou. Maar in Suid Afrika is die skole wat tydens apartheid as “swart skole” geplaas is steeds op ‘n standaard waarheen ek sal sukkel om my kind te stuur.

Apartheid dra natuurlik die skuld dat die “beginpunt” van ‘n demokratiese Suid Afrika so ‘n ongelyke sisteem gehad het. Die vraag onder bespreking is egter oor wat daarna gebeur het. Die afgelope 17 jaar is natuurlik ‘n moeilike geskiedenis. Dit vra natuurlik dat ons ernstig krities moet wees op van die prosesse wat in ons regering geloop het, ook op individue se besluite. Maar dra ons vandag nog die tekens van dekades se apartheid, eeue se kolonialisme, en ‘n nasionale (en ook internasionale) sisteem wat wittes bevoorreg?

My antwoord is ja.

Nou moet ek darem eers ‘n stappie terug neem. Ek is ook oortuig, soos ek aflei julle by die stigting is, dat ras-kategorieë ‘n onding is. Ons weet vandag daar is geen wetenskaplike begronding om mense op grond van ras in te deel nie. Daar is geen begronding om op grond van uiterlike kenmerke waardeoordele te maak nie. Meer nog, daar was nog nooit so ‘n begronding gewees nie. Die pogings om dit te doen word vandag as ‘n kwasi-wetenskap beskryf. Ons het mense op grond van ras ingedeel, en ons moet ophou om dit te doen.

Maar, ons sit met ‘n hele paar eeue se geïnternaliseerde oortuigings oor dit wat ons ras noem, en hierdie oortuigings moet gedekonstrueer word. Ons sit met ‘n sisteen wat volgens hierdie rasse-kategorië wat nie veronderstel is om te bestaan nie ingedeel te word. Ons moet ophou om oor ras te praat, maar eers moet ons die feit dat waar ons nog statistieke op grond van ras bymekaarmaak, toon die groepe wat ons gekonstrueer het nog ernstige verskille in hulle omstandighede.

As ons oortuig is dat ons nie oor ras moet praat nie, omdat ras nie bestaan nie, maar dit is nog duidelik dat wit kinders oor die algemeen in beter skole kom as swart kinders, wit volwassenes oor die algemeen groter salarisse kry as swart volwassenes, en wit families oor die algemeen toegang tot meer kapitaal het as swart families, dan beteken dit tog dat iets ernstig verkeerd is! Hoe kan kategorië wat geen begronding het nie nog so ‘n effek op dei materiële werklikheid van mense in hierdie land hê?

As die konstitusie wat julle so beskerm dit nie kan verander nie, is daar nie dan fout met die konstitusie nie? As die ANC regering dit nie kan verander nie, beteken dit nie dan dat daar fout is in hulle bestuur nie? En as die FW de Klerk stigting veg teen pogings om hierdie ongeregtigheid radikaal reg te stel, hoe moet ek dan oor hierdie organisasie wat ‘n naam dra waarvoor ek op ‘n stadium in my lewe die ongelooflikste respek gehad het dink?

Pierre de Vos het my gevoel weergegee. Ek is nie ‘n regskenner nie, maar sy konklusie dat die FW de Klerk Stigting maar net die ekonomiese belange van wittes probeer beskerm resoneer met hoekom ek die tweet geplaas het. Nie-rassigheid impliseer vir my veel meer as net ‘n paar mooi sinne wat belowe dat ons nie sal diskrimineer nie (al is die mooi sinne ook belangrik). Nie-rassigheid beteken dat my seun, en die swart kinders wat twee dae terug reg oor Suid Afrika gebore is dieselfde geleenthede, dieselfde kyke van alle mense, en dieselfde persepsies oor hoeveel waarde hulle het sal hê. Ons is nie daar nie. Ek pleit saam met julle vir ‘n wêreld waar ras nie meer sal bestaan nie, maar ek glo ook dat ons nie gaan wen deur “nie-rassigheid” te skreeu voor dit ‘n werklikheid geword het nie, en dit gaan ‘n hele paar generasies neem.

Vandag kan ons nog as wittes praat, en enige eenvoudige analise van Suid Afrika sal wys dat wittes steeds oor die algemeen baie sterk bevoordeel is en word. As die FW de Klerk ‘n stem vir geregtigheid wil wees, soos ek altyd gedog het die Stigting is, dan sal dit vra dat daar erns gemaak moet word met die vraag wie vandag die onderdruktes van Suid Afrika en die wêreld is, en wie aan die onderkant van die steeds bestaande rasse-idees lê. Eers wanneer ons hieroor gepraat het, en dit verander het, kan ons met trots praat van ‘n nie-rassige Suid Afrika.

Cobus