@gormendizer kom ons praat oor teoloë en stakings

Januarie 15, 2013

Johan Swarts se rubriek verdien reaksie. Ek vat dit bietjie persoonlik op, want vermoed ek was iewers in sy gedagtes toe hy gekies het om te skryf, so ek voel bietjie verantwoordelik om maar te reageer. Terwyl my eie gedagtes nie volledig inpas by sy voorbeeld van hoe teoloë tipies reageer nie, is daar genoeg ooreenkomste tussen my eie onlangse opmerkings, en ook Johan se reaksie daarop, en waaroor hy in die rubriek skryf om my vermoede dat ek ten minste een van die was oor wie hy gedink het te bevestig. Natuurlik skryf Johan oor teoloë in die meervoud, en is elke opmerking wat hy maak nie op my gemik nie (dit sal elkgeval waarskynlik verwaand wees om te verwag dat ek die enigste een is wat hy in gedagte het), maar as een spesifieke teoloog, wat wel vermoedelik in sy gedagtes was, sal ek tog reageer.

As die wat agter Johan se argument lê reg verstaan, dan dink ek teoloë (en die kerk oor die algemeen) moet dit hoor. Ek hoor agter die argument die groter probleem dat teoloë wil praat oor dit wat in die samelewing aangaan, wil kritiek lewer, selfs wil voorstelle maak, sonder dat ons die werklikheid goed genoeg verstaan. In hierdie geval, ons verstaan nie die komplikasies van die landbousektor nie, verstaan nie die konteks van plaaswerkers nie, en verstaan nie die groter werking van die ekonomiese sisteem nie. Ons lewer dus goedbedoelde kritiek, maar dit is nie in voeling met die werklikheid nie, en as ons wil praat moet ons meer tyd spandeer om die data te verstaan.

Johan is nie die eerste wat dit sê nie. Blaai bloot weer deur David Tracy se Analogical Imagination, waar hy op die standaard kritiek teen teoloë wys wat sê dat ons te wyd en oor te veel wil praat, vae algemene analises maak, en besig is met wat in werklikheid bloot ongedissiplineerde refleksies is, wat ons onder die vaandel van “teologie” as aanvaarbaar beskou. Dis ‘n werklike probleem. Dit was een van die probleme wat ek ook spesifiek wou konfronteer toe ek op kerklike reaksies op geweld gewerk het. As ek Johan dus reg verstaan, dan dink ek ons moet hom hoor. Ons mag nie vir een oomblik verwag dat ons analise ongegrond mag wees bloot omdat ons dit as “teologie” bedryf nie. So kom ek probeer om my eie gedagtes bietjie verder te verwoord.

My eie mini-uitbarstingtjie waarna ek hierbo verwys was gebou op die gevoel dat ons besig is om met ‘n klompie double binds te sit wat ons met ‘n onmoontlike situasie los.

  • Plaaswerkers kry te min geld. Hulle kan nie hulleself onderhou met die geld wat hulle kry nie.
  • Ons kan nie die minimum lone verhoog tot op ‘n plek waar ons sal kan sê dat die geld wat plaaswerkers wel kry hulle toelaat om in dit te voorsien wat ons as “basiese menseregte” beskryf (kos, beshuising ens.) en nog steeds ons plase winsgewend bedryf nie.
  • Ons het reeds ‘n magdom mense wat nie kos kan bekostig nie (en ek praat nie van myself wat kla omdat die vleispryse oor kersfees opgaan nie), so as ons die minimum lone verhoog, en dan die hoër onkoste kan ondervang deur dit na die verbruiker toe te laat afkom, dan beteken dit nie bloot dat ek meer vir vleis gaan betaal nie, maar dat daar meer mense is wat nie kos kan bekostig nie (en ons sou kon byvoeg, dat die lewensonkoste van die einste plaaswerkers opgaan).

Die eerste twee punte hak aan die gesprek oor die Bureau for Food and Agricultural Policy se onlangse verslag, wat o.a. sê dat die huidige minimum lone te min is om van te leef. Dat plase nie ‘n ekonomiese bestaan sal kan maak as lone met meer as R20 verhoog word nie en dat dit steeds te min sal wees om ‘n gesonde dieët te kan volg. Die laaste hak aan voedselsekuriteit, wat steeds ‘n bedreiding bly in Suid Afrika, alhoewel ons ver beter vaar as ons buurlande.

As my eie eerste instink dus nie is dat plaaswerkers dom met hulle geld werk nie, dan is dit a.g.v hierdie tipe data. Om die waarheid te sê, ek dink dit is gevaarlik om ‘n regverdiging te gee vir so ‘n eerste instink, asof ons die “eintlike probleem” kan vind by die finansiële bestuur van minimum loon werkers, asof ons dit sou kon oplos deur ‘n klein bietjie “financial management” klasse. Of Johan dit werklik as ‘n rasionele argument beskou, en of hy dit net bloot as ‘n meer rasionele argument as sy skets van die tipiese teoloog beskou sal hy maar self op moet antwoord.

Ekself was verder nog heeltyd versigtig om die probleem as “onchristelike boere” te beskryf, wat bloot “gulsig” is. Ek wil nie maak asof boere bo verdenking is nie, maar ek dink wel dat boere vasgevang is in ‘n groter sisteem waarin die produksie van landbouprodukte nie op so ‘n manier gedoen kan word dat werkers genoeg betaal kan word om ‘n gesonde en veilige bestaan te voer nie (behalwe as ons plase verder meganiseer wat weer ernstige implikasies vir werkloosheid het). My eie vermoede is dat wanneer die middel-klas en politici die boere wil uitsonder as die eintlike probleem, dan versteek dit bloot hoe ons deel is van ‘n sisteem wat afhanklik is van hierdie einste salarisse waaroor daar baklei word.

Laastens, Johan se noble savages argument vra vrae oor hoekom teoloë enigsins wil praat oor die stakings. Dis ‘n ou kritiek op die kerk se sendingwerk, dat ons die “inboorlinge” as goedhartige maar primitiewe mense sien wat die “leiding” van die kerk nodig het, en in ander kontekste die “beskerming” van die kerk nodig het teen ‘n sluwe uitbuiter wat hierdie arme primitiewe mense nie die vermoëns het om te kan aanvat nie. Laat ek egter bloot reageer deur te sê dat ek dink Johan se “vrye agent” wat kontrakte kan sluit met wie hy/sy wil, en kan besluit dat om ‘n plaaswerker te wees nie werklik is waar hulle wil wees nie en dus ‘n ander werk kan gaan kry, is uit voeling met die realiteit. Ons sou dit graag so wil hê. Ons het selfs wette in plek wat aandring dat dit inderdaad so is. Maar die werklikheid is dat die plaaswerkers wat hierdie vryheid inderdaad gebruik, wat hulle goed vat en loop, in baie gevalle bloot in die diep gat van werkloosheid verval. ‘n Keuse tussen ‘n minimum loon wat nie ‘n “balanced food plate” kan verskaf nie en werkloosheid is kwalik vryheid. Om te werk met die vooronderstelling dat mense vasgevang is in ‘n ekonomiese posisie is nie dieselfde as om te aanvaar dat hulle inherent primitiewe goedhartige mense wat nie vir hulle eie aksies verantwoordelik gehou hoef te word nie, of selfs nie in staat is om hulle eie probleme op te los nie.

Dalk is die punt dat ek op ‘n ander manier kies om uit voeling met die werklikheid te wees. Die “werklikheid” is dat dit tegnies onmoontlik is om vir ‘n hele wêreld ‘n “balances food plate” te verskaf. Ons is almal veronderstel om te weet dat die ekonomie dit nie toelaat nie, en dat as ons gaan aandring daarop dat dinge anders moet lyk, die situasie net slegter gaan wees. Dit kan inderdaad gevaarlik wees om te sê dat dit onaanvaar is. Dit maak dat mens sommer maklik goed sê soos “Ek vind dit redelik maklik om die plaas-stakings te ondersteun“, wat dit laat lyk asof jy dan nie gehoor het dat hierdie stakings dinge nie gaan beter maak nie. Wat anders moet die kerk sê as ons gekonfronteer word daarmee dat mense moet leef op salarisse wat nie ‘n gesonde bord kos op die tafel kan sit nie as “dit is verkeerd”? Solank as wat die werklikheid ‘n konsensus is dat ons sekere morele vrae maar eers opsy moet skuif omdat dit nie tegnies haalbaar is om daaraan aandag te gee nie, kies ek om uit voeling met die werklikheid te wees.

Ek dink nie Johan wil so ver gaan om te sê dat teoloë as teoloë eerder stil moet raak nie (ek dink tog sy kritiek is hoofsaaklik teen teoloë wat nie wil luister nie, eerder as teen teoloë wat praat), maar op plekke kry ek tog die gevoel dat daar iewers ‘n groepie experts is aan wie ons die besluitneming moet oorlaat. Maar wie is hierdie experts? Sal ons dit oorlaat aan demokraties verkose politici? Die tegnokrate wat ‘n manier moet kry waarop ons die samelewing ten minste net vir nog so rukkie moet balanseer? Ons as teoloë moet tog op ons tone gehou word vir slegte analises, maar uiteindelik is ons ook besig om behoeftes van mense, morele vrae en beginsels wat moet geld wanneer ons oor die balans in hierdie fyn sisteem dink te verwoord. As ons sê “bliksem, dis onmoontlik om te kan leef met R70 per dag”, dan kan dit gevaarlik wees, dan kan dit implikasies hê wat ons nie voorsien nie, maar dan is ons dalk net besig om dit te doen: om te verwoord dat wat ons sien nie in lyn is met hoe ons glo ‘n samelewing moet lyk nie. En ek wil waag om te sê dat Johan self nie dink dis hoe ‘n samelewing moet lyk nie.

 

 

Advertisements

Oor pedofiele, apartheid en ekonomiese ongeregtigheid

Januarie 9, 2013

So paar weke terug land ek langs ‘n Rooms Katolieke priester by ‘n tafel. Ons gesprek vind plaas binne een van die mees transformerende ruimtes waarvan ek nog deel was. En daar bestaan so bykans heilige moment waar jy voel dat vreemdelinge mekaar kan vertrou soos wat vriende selde kan. Ek vra hom dus die een vraag wat ek seker nooit weer vir ‘n Rooms Katolieke priester sal vra nie: “Wat gaan met die Rooms Katolieke Kerk gebeur a.g.v die pedofiel priesters?” (ek weet nie of ek dit so verwoord het nie, maar dit was die implikasie)

Hy is nie te geskok nie. Hy verdedig nie. ek het verwag hy gaan iets sê oor hoe priesters toegelaat gaan word om te trou of soiets, een of ander polities korrekte uitkoms wat darem die kerk sal vorentoe neem. Hy verduidelik egter bietjie van die interne politiek wat dit duidelik maak dat hy dink die kerk is dieper in die moeilikheid as wat selfs ek gedink het. En toe sê hy eenvoudig: “I think the church will be much smaller by the time this is over, but more humble”.

Ek het so bietjie soos ‘n hond gevoel. Of soos Piet Meiring. Nie seker watter een van die twee nie.

Piet Meiring vertel hoe hy deel was van ‘n afvaardiging na Rwanda wat moes gaan help dink oor hoe Suid Afrika se WVK model kan help om deur die gemors in Rwanda te werk. Op een stadium vra hy toe vir een van die Rwandese: “Waar was die kerk in dit alles?”. Die man het ontplof! Hy het die stories vertel van kerke wat mense bymekaargemaak het en dan die soldate ingeroep het om die mense te kom vermoor! Daardie aand by aandete toe kyk die man op ‘n stadium na Piet Meiring en sê vir hom: “Jy is mos die een wat vanmiddag die vraag oor die kerke gevra het. Kan ek jou nou ‘n vraag vra: “waar was die kerke gedurende apartheid?”. Oom Piet eindig sy storie altyd met die woorde: “Ek skuld daai man nog ‘n antwoord.”

Ek het die priester so geluister en gedog, as hy nie so ongelooflike pastor was nie, dan sou hy sekerlik nou vir hierdie jong astrante NG teoloog gevra het: “So, wat gaan julle met apartheid maak?”

Ons moet ‘n skuif maak in ons denke. Die grootste probleem wat voor die kerk se deur lê is nie dat ons nie beheer het oor die samelewing nie, dit is nie dat mense nie meer kerk toe gaan nie, en dit is nie dat mense op ander plekke as in die kerk gaan soek wanneer hulle die transendente in hulle lewens wil ontdek nie. Inteendeel. Ek dink op hierdie gebiede doen die kerk eintlik heel goed (ten minste as jy wil syfers tel). In Suid Afrika skryf predikante nog gereeld in koerante, Christelike tydskrifte verkoop soos soetkoek, die ANC raak nog ontsteld as kerke briewe skryf waarin hulle sê die ANC maak droog (wat dit vir my laat lyk dat die kerk nog tot ‘n mate ‘n bedreiging is), en hulle loop in kerke rond as dit verkiesing tyd is (wat beteken hierdie platvorm kan nog bepaal vir wie daar gestem gaan word). Daar is geen vrywillige instansie wat die tipe lidmaatskap wys wat die kerke kan wys nie (of probeer ek nou te hard om die kerk te laat goed lyk?), en ten minste in ons samelewing bly ons grotendeels Christelik (onthou jy my voorstel dat ons ‘n klompie “SA draai na Allah” borde in Pretoria opsit om te kyk wat die reaksie is? Toets dit as jy twyfel).

Ons probleem is dat kerke apartheid ondersteun en priesters wat pedofiele is beskerm. En in werklikheid, is dit nie ons grootste probleme nie, omdat ons eintlik nou al redelik konsensus het daaroor dat hierdie probleme is (of was). Die kerk se grootste probleem bly dat ons teen ons eie identiteit ingaan en telkens onsself in situasies vind waar ons deel is van die ongeregtigheid in die samelewing. Die kerk se sterkste aanspraak op legitimiteit is egter dat ons ‘n lang geskiedenis het van deel van bewegings wat tot groter geregtigheid gelei het.

So hier is my voorstel: ek dink die kerk het ‘n teologie wat ons in staat kan stel om ons eie sonde op die tafel te sit. Waar anders kry jy ‘n organisasie wat weekliks bymekaarkom om skuld te bely? Dalk het hierdie weeklikse ritueel ons immuun gemaak teen die effek van skuldbelydenis, maar ek dink daar is moontlikhede wat ons hier rondom kan ontgin. Die grootste probleem vir die kerk is nie dat ons te min geld het, te min politieke mag, of selfs te min lede het nie. Ons grootste probleem is dat ons in ons strukture deel geword het van die instandhouding van ‘n status quo wat ongeregtigheid laat voortgaan. Dat ons rituele en metafore (teologie) gekonstrueer het wat dit vir mense moontlik maak om eties vrede te maak met ‘n verbruikerskultuur, diep ekonomiese geregtigheid en ekologiese verwoesting (om maar ‘n paar te noem). Maar weet ons al hoe om ons diep teologiese verbintenis tot ongeregtigheid te bely?

Die vrees wat tot die tipe skeptiese reaksies lei wat ek gister openbaar het is die volgende: Ons kan ‘n glorieryke toekoms vir die kerk beplan waar lidmate betrokke is by ‘n eindelose verskeidenheid van projekte in gemeenskappe, opheffingswerk, diens en getuienis, kom ons gebruik maak die lingo van die dag, waar ons missionaal is in volle glorie. Ons kan onsself oortuig dat as ons hierdie roete gaan dan gaan mense (nie enige mense nie, daai middel-klas wit lidmate wat die pad gevat het, of wie se ouers die pad gevat het) terugkom na ons kerke toe, en ons kan selfs reg wees. Maar ons kan steeds as instansie, en as kollektief van mense wat dag tot dag met iewers ‘n lewe maak, deel wees van die sistemiese ongeregtigheid in ons samelewings.

As ons hier gaan begin krap, as ons op hierdie probleem gaan fokus, dan gaan ons oplossings vir die toekoms van die kerk anders lyk. Ons gaan waarskynlik nie in die eerste plek ‘n antwoord soek vir hoe ons mense weer in die kerk gaan kry nie. Ons gaan nie ‘n model soek vir hoe ons die kerk kan herstruktureer nie. Ons gaan dalk soos die priester erken dat die toekoms van die kerk is dat ons kleiner en meer nederig gaan wees, maar hopelik gaan ons aan iets op die tafel kan sit waarna generasies na ons kan terugkyk en sê: “die kerk het God reg gehoor”.

 


Heer waar dan heen, is die kerk oppad heen?

Januarie 8, 2013

Attie daar by sy koffietafel is besig om weer die gesprek oop te maak oor hoe die kerk van die toekoms moet lyk. Ons was oppad om bloot heen en weer op mekaar te reageer, so nou maak ek die gesprek maar hier oop met ‘n paar verdere gedagtes.

As ek Attie reg lees, dan is daar twee probleme wat hy beleef.

Eerstens, die kerk is nie meer so belangrik soos wat dit eens was nie. Hy beskryf die tyd waarin die kerk belangrik was as Christendom. Dit is nie net dat die kerk belangrk was omdat daar baie mense in die kerk was nie, maar veral omdat die kerk mag gehad het om te sê hoe dinge in die samelewing moet werk.

Die tweede probleem wat Attie raaksien (of is dit ‘n moment van hoop?) is dat mense se soeke na transendensie nie meer na die kerk lei nie. Daarom hak hy aan die bekende “spiritual not religious” lyn, en lewer kritiek op ‘n kerk wat irrelevant geword het. Dis egter belangrik om te sien dat Attie ook hierin ‘n oplossing vind (ek dink). Mense is nie wesenlik teen God of geloof nie, hulle hou eintlik nogals daarvan, glo nogals baie, en die kerk het dus ‘n groot “mark” (nie sy woorde nie) as ons net kan leer hoe om hierdie mark te tap.

Sy begin vir ‘n oplossing (en hier begin ons toe debat voer) is dat die kerk meer missionaal moet wees. Ek het al probeer om hierdie “missionaal” ding te verstaan (en ek dink ek het reggekry om David Bosch min of meer te verstaan, wat konstant aangehaal word wanneer daar oor missionaal wees gepraat word), maar die waarheid is dat ons nie regtig weet wat ons daarmee bedoel nie. Te minste, nie presies nie. Daar is ‘n paar lyne waaroor almal waarskynlik sal saamstem:

  1. Missionale kerkwees het iets te make met die sosiale nood binne ‘n bepaalde konteks. Dit gaan nie bloot daaroor om mense hemel toe te vat nie.
  2. Missionale kerkwees sluit almal wat hulleself “Christen” noem in, en kan nie ge-outsource word na een of ander kommitee toe nie.
  3. Missionale kerkwees moet op een of ander manier met my lewe tussen eredienste te doen hê.

As eerste voorbeeld vir wat as ‘n moontlike antwoord op die twee probleme hierbo kan dien, gee Attie vir ons Thomas Gemeente in Sheffield. Die spesifieke goed wat hierdie gemeente noem wat lyk my vir hom uitstaan is dat hulle die gemeente in groepe van ongeveer 20 mense organiseer, en die primêre fokus van die groepe is dan betrokke by “diens en getuienis” in ‘n spesifieke omgewing (geografies of binne ‘n bepaalde netwerk van verhoudinge). Die groepe wil ook hê dat die mense op wie hulle ‘n impak het (ek aanvaar deur hulle diens en getuienis) Jesus moet volg. In die comments verwys hy verder daarna dat hierdie kerk 600 gemeentes of 3 jaar gestig gekry het.

Kom ek verduidelik my ongemak met hierdie antwoord (voor ek my ongemak met die probleem verduidelik). Dis nie bloot omdat die “buitelands” is nie. Ek is eintlik bitter bly hy gee nie vir ons nog ‘n Amerikaanse model nie. Maar ek raak ongemaklik wanneer ek die link na die wikipage oor die gemeente volg, en dan die link na Sheffield volg en dan op Economy click. Lees maar self. Wat ons vind is ‘n gemeente wat ‘n ongelooflike storie vertel hand aan hand met ‘n ongelooflike ekonomiese verhaal.

Kom ek gee gou vir jou twee ander voorbeelde van dieselfde situasie. Saddleback Church (Rick Warren se kerk) kan jy vind in ‘n omgewing (Lake Forest) waar 66% van die huishoudinge meer as $100000 inbring. Die 2003 syfers vr Amerika was dat 15% van huishoudings hierdie tipe inkomste gewys het. Willow Creek Church (Bill Hybels) is in South Barrington, waar die inkomste mediaan van ‘n huishouding $170000 is. Iewers moet ons begin skepties raak oor kerkmodelle, maak nie saak hoe goed hulle lyk, wat geskep word in uitwonderlike ekonomiese omstandighede. Dalk kan ons iets by hulle leer, maar daar is massas vrae wat ons gaan moet vra. En vir die oomblik dalk net dit: hoeveel kan die gemeente in Danville, Attridgeville of die Moot regtig leer by ‘n model wat geskep is om mense wat uitsonderlik ryk is in die kerk te kry?

Ek weet nie vreeslik baie van die gemeente in Sheffield nie, maar omdat ek van Willow Creek en Saddleback geweet het, het ek sonder om twee maal te dink die links gevolg na die “Economy” konteks van hierdie gemeente wat as voorbeeld voorgehou word.

Vinnig iets oor die probleme: Is ons probleme in die kerk werklik dat ons mag verloor het en dat mense spirituele wyshede op ander plekke gaan soek? Deel van hierdie “mag verloor” was dat die kerk nie vandag meer vir opvoedkunde en mediese dienste verantwoordelik is nie. Ons het daai vir die staat (terug)gegee. En dit is nie maar bloot met geweld afgevat nie! Die kerk self het ook tot die oortuiging gekom dat dit beter is as die kerk nie hiervoor verantwoordelikheid neem nie. Ja, op plekke is die kerk inderdaad nog met hierdie tipe dienste besig, staan die kerk die skoene vol van dit wat ons eintlik glo die verantwoordelikheid van die politieke/ekonomiese sisteem is. Is hierdie verlies aan mag ‘n probleem? Ek dink nie so nie! Wat wel ‘n ernstige probleem is, en sentraal moet staan in die kerk se agenda, is dat hierdie politieke/ekonomiese sisteem waarvan die kerk haarself losgemaak het (of losgemaak is), is nie besig om seker te maak dat almal opvoeding, mediese sorg, en ‘n basiese menswaardige bestaan kry nie!

Oor die hele “spiritual not religious” ding sal ek later meer skryf, maar ek wonder of die kerk nie bykans uit verligting hierna gryp omdat dit as teken gebruik word dat die “harde ateïsme” waarvoor ons so bang was (en is) nie gewen het nie. Dit is dus die kerk se oplossing ook. Ons moet net weer regkry om God anders te verpak, dan kan ons hierdie samelewing wat eintlik almal “geestelik” wil wees weer in die kerk kry. Meer hieroor in ‘n volgende post.

Attie vra my waar ek voorstel ons moet gaan soek vir antwoorde. Kom ek probeer deur eers my kritiek op die modelle wat in ekstreme ryk kontekste ontstaan te voltooi.

Ek dink nie Saddleback, Willow Creek of St. Thomas doen net slegte dinge, of dat hulle eers hoofsaaklik slegte dinge doen nie. Inteendeel, ek dink hulle het al baie keer hulle ekonomiese mag gebruik om mooi goed te doen, en vermoed dit sal voortgaan. Maar daar is ‘n gevaar. As ek reg is dat ons hele politieke en ekonomiese sisteem so bedryf word dat dit nie net misluk daarin om die mediese en onderwysdienste wat vandag moontlik is aan mense te verskaf nie, en misluk daarin om ‘n basiese lewensstandaard daar te stel nie, maar meer as misluk, dat hierdie sisteem uiteindelik afhanklik is daarvan dat daar ongelooflike hoë vlakke van ongelykheid is, dat ons ‘n hoeveelheid bronne gebruik wat uiteindelik sal veroorsaak dat die hele ekologiese sisteem in duie stort, en dat daar iewers spotgoedkoop arbeid moet wees – dat mense dus uitgebuit moet word, dan gaan hierdie modelle ons nie help nie. Ek wil voorstel dat ‘n model wat in hierdie konteks ontstaan ons nie gaan help om daardie selfde konteks te ondergrawe nie.

Wat ons dus kry is dat hierdie tipe modelle voorstel dat die kerk “in die gemeenskap betrokke moet raak”, dat ons met “diens en getuienis” moet besig wees, maar telkens aanvaar dat ons nie te veel aan die groter toutjies kan trek nie. In kontrak hiermee, het die kreatiewe werk waarmee die kerk in Suid Amerika, in Swart Apartheid-Suid Afrika, in Swart gemeenskappe in die VSA, tussen vroue, en op ‘n massa ander plekke mee besig was die laaste paar dekades, vir ons kom leer dat as jy iets wil verander, dan help dit nie jy “raak betrokke” nie, jy sal die sisteem moet verander.

Die post raak te lank, so ek sal maar nog van hulle moet skryf. Ek dink ons probleem (myne, Attie s’n, meeste van ons wat in die NG Kerk is) is dat ons makliker aanklank vind by die modelle wat ons leer dat ons die sisteem basies kan los soos dit is, en net binne hierdie sisteem goeie dinge kan doen. Dit is omdat ons oor die algemeen aan die ontvangkant van hierdie sisteem sit. Ons bly onbewus daarvan, net soos Saddleback, Willowcreek, en ek vermoed St. Thomas (ek raai sommer, weet eintlik niks van hulle nie, maar as ek verkeerd is sal ek uiters verbaas wees), dat ons die hele sisteem wat na Christenkom gekom het sal moet help omverwerp en transformeer as ons werklik wil omgee vir die mense van hierdie aarde.


“ja” vir Belhar, want ons het mos nie baggage nie

Oktober 10, 2012

Ek raak altyd bietjie skepties as ek hoor “die jong dominees sê”. Jy sien, daar is ongelooflik mag daarin om die “jong stem” aan jou kant te hê. Dit is asof die een wat kan sê dat “ek sê wat die jong stemme sê” tot ‘n mate die langslewendheid van sy/haar eie idees bevestig. Die waarheid is egter dat daar selde, indien ooit, enige “jong stem” oor ‘n saak is. Al wat ons het is “jong stemme”. Telkens wanneer ons dus hoor dat “die jong dominees sê” dat moet ons stilstaan en die ou suspisieuse vrae vra: Watter jong dominees? Hoekom kies die een wat die jong stem oordra om dit te doen? Wat is die breër rol wat die uitverkose jong stem moet speel? Uiteindelik kry elke hoë profiel stem in die kerk iewers ‘n groepie jong dominees wat skynbaar hierdie of daardie standpunt sou ondersteun, en elkeen kies om maar die jong stemme wat anders klink te ignoreer.

In die kerk raak ek ook baie skepties wanneer ons oor teologie praat en die kerk eenvoudig tussen “jonk” en “oud” wil verdeel. Sonder om dit eers te verdedig, ek dink bloot nie die verdeling werk nie, en as jy sou begin ordentlik navorsing doen gaan jy agterkom dat daar ‘n ongelooflike hoeveelheid uitsonderings op elke patroon is wat jy skynbaar raaksien. Daarmee ontken ek nie dat die kerk oor tyd verander, en dat daar dus ‘n skuif te bespeur is nie, maar ek ontken wel dat daar ooit ‘n “clean break” is waar twee generasies eenvoudig teenoor mekaar kan staan.

Dit bring my by Belhar en Rapport.

As Tim du Plessis pleit vir die aanvaarding van Belhar (OK, pleit is dalk ‘n te sterk woord) dan sê dit dalk iets oor die rigting waarin die gesprek beweeg. Tim sou immers nie op die plek gesit het waar hy is as hy nie in staat was om die konsensus van sy lesers te verwoord, so paar stappe voor hulle te wees, maar om hulle nie te veel te ontstel nie. So dalk gee Tim rigting aan: die tyd waarin Belhar aanvaar sal kan word is naby.

Marlene Malan se artikel oor Belhar by Aardklop is ook insiggewend, want sonder om te veel tussen die lyne hoef te lees maak sy dit duidelik dat hierdie ‘n lot ou ooms is wat negatief is oor Belhar. Of dalk is negatief te sterk woord, kom ons sê maar net dat hierdie groep, wat in haar prentjie duidelik ouer stemme is, vind Belhar ‘n komplekse debat, is gekant teen die druk dat daar “ja” gestem moet word, en soek, in die woorde wat sy aan Piet Strauss toeskryf, ” ’n groter balans van “vir” en “teen” in die huidige debat oor Belhar voorstaan” (ek het geen idee wat hierdie frase beteken nie, maar kyk hoe herhaal hierdie frase in die volgende paragraaf).

Dit bring my terug by die jong stemme. Marlene skryf toe verder oor Belhar n.a.v die VGKSA se Algemene Sinodesitting. Hierdie keer is dit die jong stemme wat praat. Die artikel laat jou met die oortuiging dat daar ‘n konsensus is: “Deur die bank meen hulle: Belhar is ’n versoeningsgeskrif” en “Volgens Van der Spuy redeneer jong afgestudeerde NG predikante nie meer oor “vir” of “teen” Belhar nie. “Daar’s niks meer om oor te praat nie. Ons wil aangaan.”“. Die jong stemme is dus nie so ver van Tim du Plessis af wat glo dat “Die NGK moet Belhar, by wyse van spreke, uit die pad kry. Aanvaarding is al manier.

Hier dus my eerste punt: ons maak ‘n keuse vir watter jongmense ons wil aanhaal, en dit is ten diepste ‘n politieke keuse.  In hierdie geval vermoed ek dis ‘n keuse wat help om ‘n groeiende konsensus te verwoord, maar dit ontken steeds die feit dat daar ‘n sterk groep jong predikante is wat nie Belhar wil onderteken nie.

Daar is egter vir my ‘n dieper probleem, en daarom die titel van die blogpost.

Wanneer ons met oordrewe konsensus aandring daarop dat “Belhar is ’n versoeningsgeskrif“, dan moet ons met ‘n stuk ongemak gelaat word. Dit was nie perongeluk wat die 1982 sinode Eenheid, Versoening en Geregtigheid langs mekaar gesit het nie. Dit was omdat die sinode op daardie stadium gevoel het dat daar groepe in die Suid Afrikaanse kerkgemeenskap is wat een of twee van hierdie elemente ten koste van die ander beklemtoon. Die pro-Belhar diskoers in die NG Kerk lyk vir my ook of ons oor die algemeen Eenheid en Versoening meer beplemtoon as Geregtigheid.

Maar daar is ‘n volgende punt wat gehoor moet word. Een dominee wat Noordelike Sinode se laaste sinodesitting bygewoon het beskryf die kerk se standpunte oor Belhar ook in terme van 3 generasies. Die jong generasie “het nie die bagasie van Belhar nie- hulle lees die dokument net op sigwaarde, en sien geen dwalinge daarin nie“.

Wat is hierdie “bagasie”? Die bagasie is apartheid. Rassisme. ‘n Suid Afrikaanse geskiedenis van ongelykheid, van struggle teen apartheid, en van ‘n NG Kerk wat so diep drooggemaak het dat die kerk in die wêreld vir ons gesê het hulle kan hulleself nie langer met ons assosieer nie. En tot ‘n mate moet ons dit verstaan. Ek sukkel ook om die emosies van die middel 1980’s te verstaan (alhoewel dit tog meer moontlik raak as jy lank genoeg na die stories luister). Maar hier is my vrees: ons loop die gevaar om met Belhar in die een hand, en Klopjag in die ander hand die toekoms in te gaan. Ons loop die gevaar om tydens legitimasie Eenheid, Versoening en Geregtigheid te onderteken, en dan te sing “kan ons maar net aanbeweeg, Meneer“.

Jy sien, Belhar los my met ‘n ongelooflike stuk bagasie. Dit los my met die feit dat die top-skaal vir ‘n VGK predikant minder is as die begin-salaris van ‘n NGK dominee. Dit los my met die feit dat party in die land hulle kinders in publieke skole kan sit wat R25000 skoolgeld per jaar vra, terwyl ander dit nie kan bekostig om R25000 oor 12 jaar te betaal nie, en die skool se fasiliteite wys dit! Dit los my met die feit dat ‘n groeiende groep van my ouderdom mense aparte woonareas voortsit deur die komplekse wyse waarop gated communities kan bestuur wie mag hier binne kom en wie nie. Dit los my met die feit dat ‘n klomp kolegas in die VGK so paar maande hulle skok in my teenwoordigheid uitgespreek het omdat ‘n NG Kerk R10 miljoen aan ‘n kerkgebou kan spandeer (ek moes hulle toe skaam inlig dat dit in werklikheid meer as R50 miljoen was, en dat die memo nooit by hulle uitgekom het nie).

Nee, dis nie eenvoudig “alles apartheid” nie. Maar dit is apartheid ook. Dit is meer as apartheid ook. Maar dit is my baggage ook. Ek vrees dat die groeiende konsensus dat ons Belhar moet aanvaar gekoppel is daaraan dat ons deur die bank meen Belhar is ‘n versoeningsgeskrif, en dat ons selde hoor dat Belhar ten diepste oor geregtigheid gaan. En ons hoef nie bagasie oor Belhar te hê as dit nie oor restitusie gaan nie. Maar gaan kuier met die jong VGK predikante en vra vir hulle of Belhar oor restitusie gaan…

Ek sê ja vir Belhar. En elke keer wat ek dit skryf dan raak ek ongemaklik, want ek weet dit roep met tot ‘n leefstyl van eenheid, versoening en geregtigheid, en ek weet dit beteken ek het nog ‘n lang paadjie om te gaan. Ek sê ja vir Belhar, maar ek weet dat Belhar in die 1980’s geskryf is, teen ‘n bepaalde historiese agtergrond waaruit ek ongelooflik baie voordeel getrek het, en vir die res van my lewe die voordeel wat ek daaruit getrek het met my sal saamdra. Ek hoop met alles in my dat die NG Kerk Belhar sal aanvaar! Maar is nie iets waarmee ek sommer net kan aangaan nie, dis iets wat ek stadig moet oorweeg, die koste moet bereken, en in diepe geloofsoortuiging moet bid dat ek verander sal word. Want ek het nog ‘n leeftyd voor van werk om die ongeregtighede, onversoenbaarheid en apartheid van die verlede te help ongedaan maak, en ek hoop dit is waartoe ons onsself verbind as ons sê “ja” vir Belhar.


Suid Afrikaners nie godsdienstige mense nie?

Augustus 13, 2012

‘n Daling in godsdienstigheid het die Suid Afrikaanse koerante aan die gons. Alles van Rapport en Beeld tot by Citypress en Sowetan berig dat Suid Afrika minder godsdienstig is. Of as jy Beeld en Rapport se opskrifte moet glo dat “meer die kerk verlaat” en “heelwat minder glo”.

Min predikante sal ontken dat daar ernstige skuiwe in die Suid Afrikaanse godsdienstige landskap aan die gebeur is. En daar is ook geen tekort aan stemme wat of vir ons vertel dat ons besig is om soos “ongodsdienstige Europa” te word, of soos “fundamentalistiese Amerika”. Of ons egter enige werklike prentjie het oor wat aan die gebeur is twyfel ek al hoe meer. Hierdie vlaag van berigte help ons ook nie so baie soos wat die feit dat dit ‘n “gesagvolle navorsingsliggaam” was dit wil laat klink nie.

Eerstens, daar was ‘n volle 200 respondente uit Suid Afrika wat aan die WIN-Gallup studie deelgeneem het. Die minste van enige land op die lys. My agtergrond is statistiek is nie genoeg om te kan sê presies hoe akkuraat 200 antwoorde uit drie opsies sal wees nie, maar dit is genoeg om te kan sê dat as Kanada 35 miljoen inwoners en 1000 respondente het, en Suid Afrika 50 miljoen en 200 respondente, dan is die syfers oor Kanada heelwat meer akkuraat as die oor Suid Afrika. Wat ek egter nog nie kon opspoor vir hierdie studie nie is daai standaard stukkie oor metodologie en sekerheidsintervalle wat saam met statistiese navorsing moet gaan. Hoe random was die 200, en met hoeveel sekerheid kan ons afleidings uit 200 respondente maak?

‘n Verdere vraag is hoe die inligting bymekaargemaak is. In ‘n gesprek oor kwantitatiewe navorsing oor godsdiens in Afrika oor middagete so jaar gelede, het ‘n ander navorser wat hierop werk genoem dat hulle slegs van landlyne gebruik maak, omdat selfoon oproepe te duur is. My reaksie was dat dit ‘n totaal skewe profiel van Suid Afrika (en heelwat ander Afrika lande) sal gee, omdat landlyne nie eweredig deur die samelewing versprei is nie.

Dan is daar die vraag oor wat beteken die studie nou eintlik. Die vraag was nie of mense kerke verlaat nie (Beeld), en ook nie of hulle meelewende lidmate is nie (Rapport), maar eerder: “Irrespective of whether you attend a place of worship or not, would you say you are a religious person, not a religious persons or a convinced atheist?

Ek sal die gebruik van “convinced” eers ignoreer, maar dit moet die vraag laat opgaan watse effek dit op antwoorde het. Sou mense wat hulself as “ateïsties” beskryf byvoorbeeld eerder een van die ander twee kategorieë kies wanneer die beskrywing “convinced” bykom?

Ons moet egter vir ‘n oomblik stilstaan by die verskil tussen die ander twee kategorieë. Wat presies beteken “godsdienstig” en “nie-godsdienstig”? Is dit dieselfde as “a religious person” en “not a religious person”? Hoeveel lidmate van gemeentes sou wanneer hulle voor hierdie keuse staan kies vir die tweede in plaas van die eerste? Hoeveel predikante het oor die afgelope paar jaar gepreek “Christianity is not a religion” of “Jesus het nie gekom om ‘n godsdiens te begin nie”?

Buiten dat ek versigtig sou wees om te veel erns te maak oor die akkuraatheid van die “19%”, is die vraag dus of ‘n skuif van “a religious person” na “not a religious person” nie moontlik baie sê oor ‘n skuif in taal nie, ‘n skuif in hoe ons woorde verstaan, en nie noodwendig ‘n skuif in die praktyk van deelname aan godsdienstige organisasies of persoonlike godsdienstige oortuiging nie?

Ek weet hierdie is net vrae, maar dit is dalk die punt. Ek het net al lankal ‘n vermoede dat daar bloot nog ‘n baie groot stuk werk is wat gedoen moet word om regtig te verstaan wat aan die gebeur is in die Suid Afrikaanse godsdienstige lewe. Die feit dat hierdie 200 respondente soveel sensasie kon veroorsaak bevestig my vermoede net nog meer. Dit wys egter moontlik op iets anders ook. Hier is my vermoede: sensasionele berigte oor godsdiensverlating verkoop koerante. Ek wonder of daar ‘n joernalis is wat bereid is om ‘n artikel te skryf oor die effek van negatiewe berigte oor godsdiens op koerantverkope? As my vermoede reg is weet ek egter nie of mense die koerante koop omdat hulle bekommerd is oor die uitsterf van godsdienste, en of hulle graag die goeie nuus oor die einde van godsdiens wil hoor nie.

 


anderkant Margate. Respek vir ‘n oorgang

Desember 19, 2011

Die jeugwerker in my wou sien wat Beeld toe nou te sê het oor Margate vanoggend. Maklik om te vind, gaan na www.beeld.com, en jy het vandag hierdie skerm gekry (screenshot). Afrikaanse lesers wil weet wat gebeur by Margate. Beeld verkope en besoeke aan hulle website sal opgaan as hulle vertel wat by Margate gebeur. Daai boodskap is duidelik.

Die materiaal gaan met massas waarskuwings gepaard”

“Ouers wat nié wil weet wat hul kinders op matriekvakansie aangevang het nie, moet eerder nié hierdie berig lees nie.”

“Hierdie video bevat taalgebruik en beelde wat mag aanstoor gee.”

Wat verkoop is nie tieners nie, wat verkoop is “skokkende” gedrag. Die “skokkende” gedrag is natuurlik nie so skokkend nie. Wel, die skokkende gedrag is vir die van ons wat lank genoeg stilgebly het om na jongmense te luister nie skokkend nie, want ons moes hierdie stories lankal hoor. Maar die gedrag is veral nie skokkend nie, omdat dit is wat volwassenes daagliks mee besig is – ons maak dit skokkend omdat hierdie mense 18 is.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, die van ons wat jongmense deur een deel van hulle oorgang na volwassenheid (belydenisklas) begelei sit met ‘n vrees elke jaar as daardie selfde jongmense op matriekvakansie gaan. Nie in die eerste plek oor die eksperikante wat op die Beeld video uitgebeeld word nie, maar oor dit wat nie uitgebeeld word nie: die feit dat daar iewers ‘n ongeluk gaan wees waarin daar waarskynlik ‘n 18-jarige gaan doodgaan. Die feit dat morning-after en kondome ten spyt daar ‘n jong meisie voor die bitter moeilike besluit gaan staan of sy ‘n aborsie moet kry en of sy met die swangerskap moet deurgaan, en beide kante toe gaan met ‘n ongelooflike stuk trauma gepaard.

Maar wat is Beeld se video anders as om ‘n klomp jongmense op die voorblad te sit en te vertel dat “hulle mag nie doen wat ons doen nie”. Is hulle sonde dat hulle strippers kry vir hulle partytjie? Is hulle sonde dat hulle hulleself onkapabel drink? Natuurlik nie! Wat nuuswaardig is, is dat hulle 18 is. Dit is dat 18-jariges strippers betas. Daai sonde is genoeg om Beeld se website te cover.

Die Youth, Church and Culture Podcast met die titel “Rights of Passage” kyk na ‘n soortgelyke storie. Panama City in Amerika. In ‘n gesprek vroeër die jaar het ek en die navorsers (wat hier praat) bietjie oor die ooreenkomste met Margate gepraat, en alhoewel ek nie vinnige lyne tussen Amerika en Suid Afrika wil trek nie, vermoed ek daar is ‘n soortgelyke konteks vir die jongmense wat aan Margate deelneem (eintlik maar ‘n baie klein persentasie van matrieks) en die wat by Panama City bymekaarkom. Ek dink egter veral dat Micheal, Wendy en Todd met baie meer respek omgaan met hierdie oorgangsritueel as Nadine Theron (maar dan weer, hulle werk is nie om te skok of nuus te maak nie, maar om te verstaan en te begelei).

Hier stop ek vir vandag. Ek gaan nie probeer verduidelik nie. Ek hoop maar net dat Margate meer kan word as ‘n moment wat ons gebruik om te vertel hoe skokkend “die jeug van vandag is”, en eerder ‘n plek waar ons respekvol kan luister na hoe jongmense probeer sin maak van ‘n oorgang in hulle lewens. ‘n Poging om self sin te maak van ‘n oorgang, binne ‘n konteks van ‘n wêreld wat vir hulle gesê het “figure self uit”.

So, wie is die jeug-navorsers wat volgende jaar op Margate gaan sit?


Oor Malema en NG Kerk Missionêre Teologie

November 10, 2011

Ek dreig nou al ‘n paar dae om bietjie in Afrikaans ‘n paar opmerkings oor David Bosch en Missionêre Teologie te maak. Ek dink dit het baie te sê oor Julius Malema. Een deel hiervan is om bloot ‘n klompie belangrike verwysings in Bosch se werk te lys (kyk die voetnotas), en die ander om te pleit dat ons die gesprek oor ‘n Missionêre Teologie (en op ‘n ander dag sal ek argumenteer dat ons dieselfde idees kan bespreek sonder die woord “sending”, “missionêr” of “missionaal”, maar tans is dit taal wat baie gebruik word) in die NG Kerk in ‘n ander rat plaas. Ek het ‘n soortgelyke uiteensetting hier gemaak, wat die punte korter saamvat, maar sonder die spesifieke verwysings en die refleksie op die NG Kerk. Die argument kon gemaak word deur na ‘n verskeidenheid van ander stemme te verwys, maar ek ken Bosch se werk, en dit is tans belangrik in die NG Kerk, so ek gebruik hom. Hier is waaroor ek dink ons moet praat, wie praat saam?

Hier is my (een) super-simplistiese opsomming van waar ek dink ons in die NG Kerk is met die gesprek rondom Missionêre Teologie, ek probeer ons gesprek bietjie plot aan die hand van Bosch se werk. Hang net bietjie aan met Malema.

Die dominante idee oor sending was vir ‘n lang tyd dat ons heidene in die hemel moet kry. Heidene was diegene wat swart was. Ons het die swaar verantwoordelikheid gehad om hulle siele vir ewig te verlos. In die vroeë twintigste eeu met die arm-blanke vraagstuk het die NG Kerk nogals vir ‘n oomblik die sosiale vraagstukke van hierdie een groep ernstig op die agenda geplaas1, maar oor die algemeen was ons gevorm deur ‘n piëtistiese teologie wat gemaak het dat ons ontrek het van die vraagstukke van “hierdie wêreld” (versus die “volgende wêreld”, wat belangrik was)2.

Die ontdekking wat die laaste paar jaar in die NG Kerk plaasgevind het, was grotendeels dat die Koninkryk van God toe nou nie met die hemel gelykgestel kan word nie. Dit was natuurlik ‘n herontdekking wat baie moet maak (alhoewel almal se herontdekking nie noodwendig gepaardgegaan het met ‘n herontdekking van die vertaling van die “Koninkryk van God” nie), en hierdie proses het vir eindelose spanning deur die loop van die 20ste eeu gesorg3. Een oplossing vir die wat voorheen gewerk het met die idee dat die eintlike taak van die kerk in die wêreld was om die heidene in die hemel te kry, was om soos Lausanne by 1974 te verklaar dat al hierdie sosiale verantwoordelikhede van die kerk inderdaad belangrik is, maar dat evangelisasie (om mense Christene te maak) die primêre verantwoordelikheid bly. Bosch was nie gelukkig met so ‘n benadering nie4. Hierdie is steeds ‘n belangrike lyn binne die NG Kerk se gedagtes rondom wat die rol van die kerk in die wêreld behoort te wees.

Bosch het ‘n komprehensiewe benadering5 voorgestel, waar hierdie verskillende dimensies nie teen mekaar afgespeel mag word nie, maar waar dit in ‘n kreatiewe spanning geplaas word, en deel uitmaak van ‘n groter prentjie van die sending van die kerk. Maar, voor Bosch sy komprehensiewe benadering uitspel, is daar 7 belangrike waarskuwings wat eers gehoor moet word6. Die waarskuwings wat Bosch lys is gemik teen die Verligting paradigma wat hy vroeër beskryf het. As ons daardie bladsye mis lees, dan vermoed ek ons lees Bosch mis. Maar hier is die probleem, ek dink ons lees Bosch mis hierso. Een lyn wat Bosch deur die 20ste eeu trek loop soos volg:

  1. Vroeg in die 20ste eeu is die kerk betrokke by liefdadigheidswerk: basiese gesondheidsorg, sorg vir weeskinders, jy weet, daai tipe ding, maar as ‘n tipe ambulans-diens. Die kerk moet inklim en fix waar mense swaarkry.
  2. Later ontwikkel ‘n tipe “konprehensiewe benadering”, waar die kerk besef hulle kan nie net fix waar daar nood is nie, maar moet betrokke raak by die rekonstruksie van gemeenskappe.
  3. Na die tweede wêreldoorlog ontwikkel die groot ontwikkelingsplanne. Die “Derde Wêreld” moet net gehelp word om te ontwikkel, dan sal almal in die vrugte van die ekonomie deel. Die kerk val by hierdie patroon in, en glo die wêreld gaan opgelos word deur die groot ontwikkelingsplanne.7

Dit is nou al baie genoem dat Suid Afrika, die Afrikaanse gemeenskap, en die NG Kerk, “die Verligting gemis het”, weens die manier waarop Apartheid ons van die internasionale gemeenskap afgesluit het. Dis dus dalk nie vreemd dat ons die patrone van die Verligting herhaal nie. Alhoewel ek vermoed (en ek wil nie vir ander kerke praat nie, want ek ken nie ander kerke nie, so ek noem dit versigtig) dat baie ander kerke in praktyk maar nog iewers vasgevang is in benaderings wat reeds in die 20ste eeu sterk kritiek gekry het. Maar iewers tussen hierdie drie stappe vermoed ek is die konsensus in die NG Kerk besig om te vorm.

Maar, jy kan Bosch net verstaan as jy hoor dat hy uiters skepties is oor hierdie ontwikkelingsmodel. Dit verduidelik hy in Transforming Mission, waar die kritiek op so ‘n “sending as ontwikkeling” gelees moet word saam met die ander 6 punte van kritiek op die Verligting. Dit word verder uitgepak in Believing in the Future8, waarin van sy laaste gedagtes neergeskryf is.

So, wat kom na hierdie ontwikkelingsmodel? Dit is nie heeltemal so eenvoudig om te antwoord nie. ‘n Bevrydings-model (hier verwys Bosch nie na Bevrydingsteologie nie) is waarskynlik die duidelikste lyn wat Bosch uitwys na die ontwikkelingsmodel. Maar hy is nie volledig positief oor Bevrydings-model nie. Een van sy eerste punte van kritiek daarteen was dat die Bevrydings-model te veel vertroue plaas op net ‘n volgende groep leiers, wat te veel keer in die geskiedenis misluk het (sy voorbeeld kom uit Frankryk van die 18de eeu).9

Ten spyte van die bad press wat Bevrydingsteologie by die laaste Algemene Sinode gekry het in van die opmerkings, moet ons hoor dat ‘n belangrike deel van wat Bosch beskryf as die Missionêre Teologie van ‘n post-moderne of ekumeniese era10 oor Bevrydingsteologie gaan (ook hier het hy sy kritiek). Bosch wys reeds in 1991 uit dat Bevrydingsteologie deur fases gegaan het, nooit ‘n finale produk kan wees nie, maar telkens opnuut moet dink oor onderdrukking11. Om Bevryding uit te sonder is wel ‘n reduksie van Bosch, maar een wat ek dink onder die huidige omstandighede belangrik is om uit te sonder.

Wanneer Bosch uiteindelik vir die “kerk in die Weste” skryf, dan maak hy o.a die volgende opmerking:

“It belongs to our missionary mandate to ask questions about the use of power in our societies, to unmask those that destroy life, to show concern for the victims of society while at the same time calling to repentance those who have turned them into victims, and to articulate God’s active wrath against all that distorts and diminishes human beings and all that exploits, squanders, and disfigures the world for selfishness, greed, and self-centered power”12

Kort hierna wys hy uit hoe die Weste skuldig staan aan die onderdrukking van die Derde Wêreld13.

En hier kom Malema in die storie in. Malema was oor een ding reg: Daar is ernstig fout in ons ekonomie, en ekonomiese mag is wat uitgedaag moet word (of hy enigsins inhoud kon gee is ‘n debat vir ‘n ander dag, en oor of hy hierdie kritiek enigsins met integriteit kon lewer is iets waaroor SARS en ander wat met ondersoeke besig is moet uitspraak lewer, so kom ons ignoreer dit). As hierdie dan die einde van die Malema era was, dan het ons nodig dat ander opstaan en nog moeiliker vrae vra oor ekonomiese ongeregtigheid, ekonomiese ongelykheid, globale ekonomiese transformasie en Suid Afrika se plek binne dit en oor hoe ‘n toekoms gaan lyk waar beide armoede en die dreigende ekologiese krisis aangespreek gaan word. Bosch se suspisie was dat ons dit nie gaan regkry deurdat groot maatskappye en ryk kerke inkom en wonderlike ontwikkelingsplanne vir arm gemeenskappe en lande uitdink nie, dit gaan vra dat ons ernstige vrae vra oor die magsverhoudinge in die samelewing.

Dit is egter hier waar die moeilikheid inkom. Bosch skryf oor kritiek op die ontwikkelingsmodel:

Even more important was the entire area of power. It became clear that, deep down, this was the real issue, and that authentic development could not take place without the transfer of power. The Western developers appeared, however, to be either unwilling of unable to transfer power to poor third-world peoples.14

Mag is ‘n uiters komplekse ding, en ons het meer mense nodig wat fyn magsanalises doen in ons samelewing. Die NG Kerk (of meer presies, die Christene wat deur die NG Kerk verteenwoordig word) se rol is egter die bykans onmoontlike: om te doen dit wat die ontwikkelaars van die vorige eeu nie kon regkry nie: om krities oor ons eie mag te wees, en toe te laat dat mag van ons weggeneem word. As ons ‘n etiese stem wil wees in hierdie tyd, dan is een van die belangrikste komponente daarvan dat ons self-krities oor ons magsposisie moet raak, wat beteken ons sal moet stil raak, op ons tande byt, en die kritiek op ons eie magsposisie (in die huidige dan veral ekonomiese magsposisie). Dit is ‘n pynvolle proses. Van ons kant af hoop ek ons sal begin deur ‘n eerlike analise van ons bevoorregte ekonomiese posisie te maak, en toe te laat dat daar kritiek op gelewer word.

Bosch het natuurlik nooit Bevryding los van ander elemente gesien nie. Dit moet gesien word saam met die deurlopende oproep dat die kerk ‘n alternatiewe gemeenskap moet wees15, sy soeke na ‘n komprehensiewe verstaan van verlossing16, en sy versigtige waarskuwing dat ons nie die nuwe wêreld finaal tot stand gaan laat kom nie, maar dat ons permanent besig is om tekens op te rig17, om maar van die punte te noem wat ek dink in spanning moet staan met wat ek hierbo geskryf het.

PS. As jou eerste reaksie is om my te wil herinner waarom Malema verkeerd was, dan het jy waarskynlik iets gemis…

  1. Bosch, D J. 1986. Ethics in Contexts of Transition in Journal of Theology for Southern Africa, pp17-23.
  2. Bosch, D J. 1984. The roots and fruits of Afrikaner civil religion In New faces of Africa, by J W Homeyr and W S Vorster, 14-35. Pretoria: University of Pretoria.

    Bosch, D J. 1986. The Afrikaner and South Africa in Theology Today, pp203-216.

  3. Bosch, D J. 1979. Heil vir die Wêreld. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
  4. Bosch, D J. 1984. The Scope of Mission in International Review of Mission, pp17-32
  5. Bosch, D J. 1991. Transforming Mission. New York: Orbis. p368
  6. Transforming Mission, p349-367
  7. Transforming Mission, p356-357
  8. Bosch, D J. 1995. Believing in the Future. Valley Forge: Trinity Press.
  9. Transforming Mission, p358
  10. Transforming Mission, p531, voetnote 1
  11. Transforming Mission, p447
  12. Believing in the Future, p34
  13. Believing in the Future, pp36-40
  14. Transforming Mission, p357
  15. Massas verwysings, ek dit in hoofstuk 3 van hierdie dokument beskryf, en die verwysings kan daar opgevolg word – pp24-36
  16. Transforming Mission, pp393-399
  17. Transforming Mission, pp498-510