oor sjibolette en gemarginaliseerdheid; oor woordfees en gays

Maart 27, 2013

Ek was in daai tyd by TUKS se Teologie Fakuteit. Jy weet, daai tyd toe TUKS se teologie vir ‘n paar weke in ‘n ry Rapport se voorblad gehaal het. Ons het mooi oor Sjibbolet in teologiese gesprekke geleer. Uit ervaring. Daar was sulke sleutelwoorde of terme waaraan jou heil (beide jou ewigheidsheil, maar ook jou aarde heil van wat jy moet verwag van die mense rondom jou) gehang het. Die mees algemene was: “glo jy in die letterlike, liggaamlike, historiese, fisiese opstanding”. Elke woord het skynbaar betekenis gehad, en sonder die byvoeglike naamwoorde wat die “opstanding” skynbaar betekenisloos.

Op ander plekke en in ander tye is die sjibbolet vraag of jy die legitimasie van gay teologie studente, of die bevestiging van gay permanente verhoudinge as huwelike (of een of ander woord wat in praktyk maar op dieselfde ding sal neerkom)  goedkeur.

Die een probleem van hierdie tipe benadering is dat dit met ‘n ongelooflike reduksie van die Christelike teologie, geloof, of evangelie (take your pick) werk. Almal wat die regte byvoeglike naamwoord voor “opstanding” plaas is in een kampie, en almal wat dit nie doen nie daar buite, ten spyte daarvan dat daar oor ‘n honderd ander goed verskil word.

Wat my egter die laaste jaar of twee ontstel is die teenoorgestelde van wat ek by die fakulteit beleef het (granted, dit is deels omdat ek selde in die kringe beweeg waar hierdie tipe frases nog gebruik word, al weet ek dat dit nog bestaan). Sjibbolette kan skynbaar omgedraai word. Lina Spies het my ongelukkig met daardie gevoel gelos.

Dit is regtig vir my ongelukkig, want van die dag wat ek daai legitimasie-boek gaan teken het (en hopelik voor dit al) het ek my deel probeer doen vir oop gesprek (veral op hierdie en ander blogs, gesprekke op facebook, en deur die massas blogs en facebook accounts van predikante vir wie ek gehelp het om die eerste keer die publieke ruimte van sosiale media te betreë) en ruimte vir mense wat twyfel en teologies anders as die hoofstroom dink te maak (jammer, niks om aan die groot klok te hang nie, die mense saam met wie ek hier ‘n pad stap weet wie hulle is).  En ek het nog nooit iets anders gesê as dat daar ruimte in die kerk moet wees vir gay persone nie, ook vir die wat in permanente seksuele verhoudinge is.

Aan die een kant wens ek ek kon vir Lina Spies net sê “ek hoor jou”. Ek, en ander wat in my tyd geswot het, lees graag Marcus Borg saam met jou. Ons is dalk nie so lekker gemaklik met die “rabbi Jesjoe” taal nie, maar dit is omdat daar elke kort-kort een of ander iemand is wat dink dat om “rabbi Jesjoe” te volg beteken jy moet jou baard groei. Ons koop egter die ding dat jy Jesus as ‘n Jood moet leer ken, en verstaan dat sy die navolging van hierdie rabbi geensins as deel van een of ander “back to the first century” beweging sien nie.

Maar as die toonbeeld van gemarginaliseerdes gay persone raak dan voel iets vir my uit plek uit. Ek hoop my gay vriende lees hier, en korrigeer my as ek fout maak. Waarheid is egter, ons het veel meer gay lidmate, ook openlike gay lidmate, as huisbediendes in die NG Kerk. Ons gemeentes kry in baie gevalle dit nogals verbasend goed reg om gay persone te akkomodeer. In die laaste gemeente waar ek was het ‘n hele paar gay persone baie aktiewe rolle in die gemeente gespeel. Dit kerkraad was egter 100% wit, en die gemeente ook (ja, ek weet daar was ‘n uitsondering once in a while daar in die agterste bank, dit verander nie juis veel nie).

As jy jouself by die gemarginaliseerdes wil skaar, maar die toonbeeld van gemarginaliseerdheid word homoseksualiteit en mense wat fancy intellektuele vrae kan vra, dan het ek bietjie ‘n vraag oor hoe ons die Jesus wat met die gemarginaliseerdes gemeng het verstaan.

Onder my VGK kolegas hoor ek gereeld die argument dat jy nie Belhar kan bely wat oor ‘n God praat wat aan die kant van die onderdruktes is, oor eenheid en versoening, en dan sê mense wat gay is is minder welkom in die kerk nie. In party kringe in die NG Kerk het ons egter dalk die teenoorgestelde nodig: jy kan nie in ‘n wit middelklas gemeente in een van die rykste dorpe in die land sit en vinger wys na die verwerping van homoseksuele persone sonder om vrae te vra oor waar die armes, die plaasarbeiders, die swart huisbediendes en die werkloses is nie.

Dis dalk maar hoekom ek nog met my kerk struggle, want ek kon nog nooit ‘n ander plek kry wat hierdie “ons sal staan waar God staan” werklik regkry nie. So ek sukkel maar waar ek is om dinge ‘n klein bietjie nader te kry aan hoe ek Jesus verstaan.

Ek weet egter dit: ek sukkel baie meer om te weet wat om te maak met die gemarginaliseerdheid van die swart vrou wat ‘n prostituut is en daar op die hoek van ons kerkgebou staan as met die gemarginaliseerheid (want dit is ook gemarginaliseerd in ons dominante heteroseksuele omgewing) van homoseksuele persone. Ek is dus maar versigtig om myself voor te hou as ‘n voorbeeld van iemand wat homself by die gemarginaliseerdes skaar.

Dalk het Lina Spies, Jean Oosthuizen en die Woordfees self ‘n Sjibbolet geword. Waar jy staan bepaal in watter kampie jy geplaas word. En ek haat dit steeds. So ek kies maar om aan ander gesprekke te gaan deelneem.

Advertisements

Kaarte vir ‘n kerklike landskap

Februarie 26, 2013

Die afgelope paar weke se debatte oor Kerkbode, Woordfees, die hemel en die hel het my baie laat dink oor die kaarte wat ons gebruik om sin te maak van die kerk. Of dalk eerder, laat dink oor waar ek myself op my eie kaart sien. Dit was hoofsaaklik omdat ek nie ‘n uitsonderlike stuk ontsteltenis oor die hele debakel kon ontwikkel nie (ek sou nie te ontsteld wees as die kerk die fees borg nie, en is nie te ontsteld as die kerk nie die fees borg nie), dit terwyl daar duidelik stemme in die kerk is wat diep ontsteld is daaroor dat daar in die eerste plek enige assosiasie tussen Kerkbode en die gesprek was, en lyk my nog meer ontsteltenis (of dalk verklap ek nou maar net in watter kringe ek beweeg) omdat die borgskap onttrek is. Natuurlik maak almal asof hulle met suiwer “tegniese” argumente besig is, suiwer besig is om te praat oor die “wetlikheid” van wat gebeur het, maar daar is ‘n groot ooreenkoms (met baie uitsonderings) tussen mense se teologie en wie hulle glo of nie.

Bertus se poging om ‘n kaart te teken van wat in die kerk aan die gebeur is het my nou so ver gekry om ook ‘n paar kaarte by te voeg. Terwyl ek getik het, het Johann ook ‘n klomp koördinate neergepen. Ek dink sulke kaarte is belangrik, maar ook gevaarlik. Dit is belangrik, want sonder ‘n kaart sukkel ons om iets so kompleks soos ‘n godsdienstige omgewing te verstaan. Dit is gevaarlik, want die godsdienstige landskap pas nooit in ‘n kaart in nie, en ons kaarte kan ons dus mislei ook.

Bertus se kaart kan as ‘n lyn geteken word. Dit is ‘n relatief bekende kaart, wat die kerk beskryf op ‘n spektrum van konserwatief na progressief, met die hoofstroom kerk iewers tussen hierdie twee. Hy beskryf dit met ‘n regterdeur en ‘n linkerdeur, wat die deure is waar mense uit die kerk loop. Die kenmerke wat hy by die regterkant plaas is “praise & worship”, bekeringsboodskappe en ‘n letterlike verstaan van die Bybel. My die linkerkant vind jy kritiese vrae, ‘n poging om geloof binne ‘n moderne tyd te verstaan en erns met die wetenskap. Die kerk is in die middel. In Bertus se beskrywing is die kerk heeltyd besig om die regterdeur te probeer gelukkig hou, en dit veroorsaak dat die aan die linkerkant wegloop. Ander wat ‘n soortgelyke prentjie gebruik beskuldig die kerk egter van die teenoorgestelde. Wat Johann aanbetref, dit lyk vir my of sy baie koördinate eintlik maar ook op ‘n lyn geplot word, met die idee dat daar twee “ekstreme” is, en dat daar ‘n “goeie middeweg” gevind moet word.

Die benadering om die kerklike landskap op ‘n lyn van “konserwatief” na “progressief” te teken het dalk waarde, maar dit wou net nog nooit vir my werk nie. Daar is net altyd te veel mense wat nie inpas nie. Mense wat byvoorbeeld ‘n tipies “behoudende” lees van die Bybel het, en juis daarom inpas by Bertus se beskrywing dat hulle “‘n hekel het in die empaaiers wat daar in kerkstrukture gebou word”. Hier is dus ‘n paar ander kaarte wat my deur die afgelope jare gehelp het.

Een daarvan was die prentjie van vier spiritualiteitstipes. Ek het dit geleer as ‘n kaart wat deur Corinne Ware geteken is. As student hier in my senior jare, toe ek pas by ‘n gemeente begin werk het, het ons as predikante baie die kaart gebruik. Die prentjie werk met 4 kwadrante wat rondom 2 asse geranskik word. Die een as skei die “denkers” van hulle wat “voel”, die ander as “die vir wie die belangrik is om iets van God te weet” van “die wat verkies om op misterie te fokus”.

spirit4

In die tyd toe ons baie oor hierdie kaart gepraat het het party gedink dit is moontlik om ‘n verskeidenheid van spiritualiteite in een gemeente te betrek. Ten minste ‘n deel van gemeentes wat met diverse eredienste werk het met hierdie oortuiging ingegaan. Dit is egter sekerlik moontlik dat ons elkeen van die “extremes” van hierdie kaart as ‘n “deur” binne Bertus se metafoor kan beskryf. Partymaal lyk dit ook vir my asof ‘n kwadrant aan die konkrete kant met tye sy teenoorgestelde aanneem (Charismatiese spiritualiteite wat moralisties voorkom, of tipies intellektuele spiritualiteite wat ‘n mistiese spiritualiteit beklemtoon). Uiteindelik is die beperking vir my egter dat dit wil voorkom asof hierdie spiritualiteite steeds ‘n verskeidenheid van teologieë kan verteenwoordig, en dat ons dit op ‘n manier moet verreken.

Bietjie later in my lewer, ongeveer die tyd wat ek klaargemaak het met my verpligte studies en die eerste jaar wat ek predikant was, het ‘n kaart wat ek by Leonard Sweet gekry het my gehelp. Die kaart kom uit The Church in Emerging Culture, waar Sweet as redakteur van die boek stemme kry om die verskillende kante van sy kaart te verteenwoordig. Weereens 4 kwadrante met 2 asse. Die een as verteenwoordig tot ‘n mate die bekende lyn konserwatief-progressief wat ek mee begin het: Onder vind jy die wat sê die teologie hoef nie te verander nie, bo die wat dink dit moet wel verander. Dit gaan egter verder en fokus ook op wat Sweet as “method” beskryf, maar wat hoofsaaklik fokus op liturgie sover ek kan aflei. Party wil die liturgie verander, ander nie. Een probleem van die enkele lyn waarmee ons die kerk probeer beskryf word ondervang met hierdie kaart: die feit dat daar in die kerk ‘n groot groep is wat ‘n meer letterlike lees van die Bybel verkies, maar ook verkies dat die kitare en dromme uit die kerk moet bly, en geen plek het vir ‘n “bekeringsdiens” nie. Op hierdie kaart sal so ‘n groep links onder gevind word, terwyl wat Bertus as die “regterdeur” beskryf regs onder gevind sal word. Die kaart kan help om gemeentes wat ‘n duidelike intellektuele klem het, en teologies ‘n hoë mate van verandering kan akkomodeer, maar wat weier om radikaal aan die liturgie te verander (of kies om die liturgie grotendeels vas te maak by ‘n bepaalde punt in die geskiedenis) te vind.

sweet01

‘n Kaart wat my begin help het hier van 2010 af kom oorspronklik van Justo González se Christian Thought Revisted af. Ek het dit egter by Roger Schroeder geleer, wat dit saam met Stephen Bevans in Constants in Context gebruik het om die kerk deur die eeue te verstaan. Deur hoofsaaklik van González gebruik te maak praat hulle van 3 tipes teologieë wat altyd binne die kerk teenwoordig was en is.

  • Een tipe teologie probeer om so getrou moontlik aan die tradisie vas te hou, en plaas die klem daarop om God in hierdie wêreld bekend te maak. Die groep word partymaal as “konserwatief” of “ortodoks” beskryf. Hulle glo dat om betekenis vir die toekoms te vind moet daar so getrou moontlik aan die verlede vasgehou word. Die taak van teologie is om die tradisie so te verpak dat dit aanvaar kan word in ‘n nuwe tyd. Party sal sê dat dit die primêre lyn is wat in die kerk gevind word deur die eeue.
  • ‘n Tweede tipe probeer om die kerk se teologie in gesprek te bring met die filosofie van die dag. Dit kan daaroor gaan om die teologie binne ‘n nuwe intellektuele klimaat aanvaarbaar te maak, maar ook om vanuit die teologie in gesprek te kan gaan met die filosowe van die dag. In die vroeë kerk sien ons hierdie lyn gereeld, wanneer vroeë teoloë met die heersende Griekse filosofie in gesprek tree (doen Paulus self nie ook iets hiervan nie?). Hierdie groep is oortuig dat die kerk nie gaan oorleef in ‘n veranderende wêreld as ons nie ons teologie wesenlik aanpas nie. Party sal sê dat dit die primêre lyn is wat in akademiese teologie gevind word.
  • ‘n Derde tipe probeer om die teologie met verandering in die samelewing in gesprek te bring. Die fokus is nie in die eerste plek die tradisie of die heersende filosofie nie, maar eerder die sosiale werklikhede waarbinne ons onsself bevind. Teologie beteken om te soek na wat geloof in God beteken te midde van onderdrukking, armoede en ongeregtigheid. Dit lyk of hierdie groep die minste gesien word deur die loop van die geskiedenis van die kerk. Dalk vind ons hierdie groep ook hoofsaaklik rondom die kerk, in politieke bewegings, as aktiviste, gemeenskapsorganiseerders.

Min mense kan in slegs een tipe pas nie, en meeste is ‘n kombinasie van hierdie drie, of beweeg selfs op verskillende tye in hulle lewe deur die drie. Party sal ook sê dat al drie op verskillende tye in die kerk “ortodoks” was. Die uitdaging is egter nie om ‘n “goeie middeweg” tussen hierdie drie te vind nie! Op hierdie kaart is al drie noodsaaklike dele van die teologiese landskap. Ons is net nie almal op dieselfde plek nie. Die kaart help my om myself te verstaan, maar ook waarom die lyn wat telkens geteken word, waar daar twee ekstreme in die kerk is, nie werk nie: ek dink dit is deels omdat party bereid is om die debatte oor of daar ‘n hemel is of nie bietjie opsy te sit sodat hulle saam kan utivind wat beteken dit om binne hierdie wêreld ‘n verskil te maak vanuit wat hulle glo.

lbdi-logo

Dalk moet ek nou stop, maar kom ek gee nog een kaart wat my heel onlangs begin help het wanneer ek dink oor die verskeidenheid van studente wat by ons inskryf, en hoe om hierdie diverse groep deur ‘n proses van teologiese opleiding te neem. David Tracy sê in The Analogical Imagination dat teologie binne 3 omgewings beoefen word, en dat die keuse wat ‘n teoloog maak oor “waar” hy/sy wil praat bepalend is vir die teologie wat hulle op die tafel sit. Kerk, akademie en samelewing word hierdie 3 sfere. As ek met die kerk in my gedagtes sit, dan gaan ek op een manier praat, as ek met die akademie (en dalk moet ons akademie verbreed om na intellektuele gesprek te verwys) in my agterkop sit op ‘n ander manier, en as ek met die breë publiek in my agterkop sit op nog ‘n ander manier.

So hier is waar ek nou sit: ek dink hierdie verskillende kaarte kan almal op ‘n manier geldig wees. Ek dink egter die laaste 4 help my meer as die tipiese lyn wat ons telkens skets (alhoewel die lyn se eenvoud dit dalk gewild maak). Op al 4 kaarte kan ek myself iewers plaas, maar waar ek myself plaas sal verander oor tyd. Wat ek hou van die laaste twee kaarte (Tracy and González) is die poging om te sê dat ons nooit die kerk tot een tipe kan reduseer nie. Dit gaan nie bloot daaroor dat ons die verskillende tipes moet “akkomodeer” nie, maar eerder dat ons al drie (op beide kaarte) nodig het. Teologie het nog altyd in verskillende omgewings funksioneer en moet dit aanhou doen. Net soos wat dit ons nie gaan help om Sondag oggend se liturgiese taal in ‘n politieke vergadering te gaan neersit nie, gaan dit ons ook nie help om Dinsdag middag se akademiese lesing in Sondag oggend se erediens neer te sit nie (maar dit beteken nie vir een oomblik dat die een die ander kan troef nie). Dit wil ook vir my voorkom of ons teologiese gesprek deur die eeue ‘n dans is tussen González se drie tipes, en dat ons juis in die spanning (mag ek my vooronderstellings maar verder ten toon stel deur van die “kreatiewe spanning” te praat) die kerk sal vind.

Ek dink ons het nodig om ‘n baie ernstige gesprek te voer oor die kaarte wat ons gebruik om die debatte in die kerk op te som. Want ek dink ons mees gewilde kaarte is verkeerd, en ons kyk goed daarom mis.


weer gedink: waarom Belhar?

Januarie 18, 2013

As dit nou moontlik is om die NG Kerk in eenvoudige pro-Belhar en anti-Belhar kampies in te deel, dan is daar ‘n interessante patroon in die debat waardeur ons sal moet breek.

  1. Eers vind ons ‘n argument dat Belhar ‘n vreemde teologie bevat. Dat Belhar dus ‘n breuk is met die tradisie, en nie versoenbaar is met die belydenisgrondslag van die Gereformeerde kerke nie.
  2. Dan vind ons die stemme wat sê dat Belhar niks nuuts sê nie, dat dit heeltemal in lyn met die Bybel en die Gereformeerde tradisie is (en belangrik, dat dit nie bevrydingsteologie is nie), en dat daar daarom geen rede is waarom ons dit nie as Belydenisskrif kan aanvaar nie.
  3. Maar, kom die teenvraag dan, waarom sal ons dan Belhar as ‘n belydenisskrif wil aanvaar as dit elkgeval alles sê wat ons belydenisskrifte reeds sê?

Daar is baie antwoorde wat hierop gegee word: omdat Belhar ons spesifieke konteks aanspreek, omdat Belhar ‘n bepaalde punt in ons tradisie waar die evangelie op die spel was aanspreek, of selfs net dat dit in nuwe woorde geskryf is. Al hierdie antwoorde probeer egter van die 3de punt teruggaan na die 2de punt, i.p.v om deur te beweeg na ‘n 4de posisie wat sê: Belhar sê nie wat ons belydenisskrifte sê nie, en juis daarom moet ons met Belhar werk.

Daar is ‘n skerp ironie in die hele gesprek oor Belhar in die NG Kerk. Die punt is dat ons stuck geraak het met ons belydenisskrifte in ‘n moderne era. Na al die lekker debatte oor belydenisskrifte en wie is nou eintlik in lyn en wie nie, moet ons dalk maar net eerlik wees daaroor dat ons hierdie dokumente nie meer lees nie. Ja fine, daar is dalk iewers iemand wat my nou sal herinner dat hulle inderdaad hierdie dokumente nog gereeld bestudeer, maar as ‘n reël is dit dooie geskrifte in ons kerk. Ons ken dit nie. Ons weet nie wat om daarmee te maak nie (selfs al het die gedagtes daarin ons dalk meer gevorm as wat ons wil erken), en ons kan nie vir een oomblik sien dat belydenisskrifte een of ander wonderbaarlike comeback gaan maak nie. Terwyl hierdie spel besig is om uitgespeel te raak, wil ons nou kom met die idee dat ons nog ‘n belydesnisskrif moet aanvaar: Belhar. Jy sal verskoon word as jy wil vra waarom ons weer hierdie roete moet loop, as jy wil sê dat ons al voorheen op ‘n punt was waar ons geglo het ons moet bely, en dat die belydenis duidelik nie so tydloos was as wat ons gedink het nie.

Ek dink ons voer hierdie gesprek nog nie ernstig genoeg nie. En dat ons bloot naïef voortgaan met die gedagte dat Belhar maar sê wat ons nog altyd gesê het, en ons dit daarom maar net kan aanvaar en voortgaan.

Klippies Kritzinger help my hier. Hy verduidelik dat Belhar se waarheidsaanspraak anders is as die van ons ander belydenisskrifte. Waar ons ander belydenisskrifte soek na ortodoksie, na die vraag of jy instem met die algemene leer, lê Belhar se waarheidsaanspraak in ‘n bepaalde optrede: Belhar vra ten diepste hoe ek saam met ander mense moet leef, en plaas dit sentraal aan ons geloof. Belhar is dus nie iets waarmee ek bloot rasioneel kan instem nie. Uiteindelik moet ek Belhar met my lyf bely.

Iemand anders het dit blatant gestel: al ons Gereformeerde belydenisse sê iets oor die geloof in Jesus. Belhar is die eerste belydenis wat iets sê oor die geloof van Jesus.

Kan ons nie maar die debatte spel bypass en in reaksie op die stemme wat pleit dat Belhar anders is (selfs 10 maal anders is) antwoord: ja, Belhar is anders. Dit is nie vreemd nie, ons vind hierdie klem om eenheid en versoening en geregtigheid reeds by Jesus self. Nie vreemd nie nee, maar sover dit belydenisse aangaan wel anders, en daarom kies ons om juis so te bely.


@gormendizer kom ons praat oor teoloë en stakings

Januarie 15, 2013

Johan Swarts se rubriek verdien reaksie. Ek vat dit bietjie persoonlik op, want vermoed ek was iewers in sy gedagtes toe hy gekies het om te skryf, so ek voel bietjie verantwoordelik om maar te reageer. Terwyl my eie gedagtes nie volledig inpas by sy voorbeeld van hoe teoloë tipies reageer nie, is daar genoeg ooreenkomste tussen my eie onlangse opmerkings, en ook Johan se reaksie daarop, en waaroor hy in die rubriek skryf om my vermoede dat ek ten minste een van die was oor wie hy gedink het te bevestig. Natuurlik skryf Johan oor teoloë in die meervoud, en is elke opmerking wat hy maak nie op my gemik nie (dit sal elkgeval waarskynlik verwaand wees om te verwag dat ek die enigste een is wat hy in gedagte het), maar as een spesifieke teoloog, wat wel vermoedelik in sy gedagtes was, sal ek tog reageer.

As die wat agter Johan se argument lê reg verstaan, dan dink ek teoloë (en die kerk oor die algemeen) moet dit hoor. Ek hoor agter die argument die groter probleem dat teoloë wil praat oor dit wat in die samelewing aangaan, wil kritiek lewer, selfs wil voorstelle maak, sonder dat ons die werklikheid goed genoeg verstaan. In hierdie geval, ons verstaan nie die komplikasies van die landbousektor nie, verstaan nie die konteks van plaaswerkers nie, en verstaan nie die groter werking van die ekonomiese sisteem nie. Ons lewer dus goedbedoelde kritiek, maar dit is nie in voeling met die werklikheid nie, en as ons wil praat moet ons meer tyd spandeer om die data te verstaan.

Johan is nie die eerste wat dit sê nie. Blaai bloot weer deur David Tracy se Analogical Imagination, waar hy op die standaard kritiek teen teoloë wys wat sê dat ons te wyd en oor te veel wil praat, vae algemene analises maak, en besig is met wat in werklikheid bloot ongedissiplineerde refleksies is, wat ons onder die vaandel van “teologie” as aanvaarbaar beskou. Dis ‘n werklike probleem. Dit was een van die probleme wat ek ook spesifiek wou konfronteer toe ek op kerklike reaksies op geweld gewerk het. As ek Johan dus reg verstaan, dan dink ek ons moet hom hoor. Ons mag nie vir een oomblik verwag dat ons analise ongegrond mag wees bloot omdat ons dit as “teologie” bedryf nie. So kom ek probeer om my eie gedagtes bietjie verder te verwoord.

My eie mini-uitbarstingtjie waarna ek hierbo verwys was gebou op die gevoel dat ons besig is om met ‘n klompie double binds te sit wat ons met ‘n onmoontlike situasie los.

  • Plaaswerkers kry te min geld. Hulle kan nie hulleself onderhou met die geld wat hulle kry nie.
  • Ons kan nie die minimum lone verhoog tot op ‘n plek waar ons sal kan sê dat die geld wat plaaswerkers wel kry hulle toelaat om in dit te voorsien wat ons as “basiese menseregte” beskryf (kos, beshuising ens.) en nog steeds ons plase winsgewend bedryf nie.
  • Ons het reeds ‘n magdom mense wat nie kos kan bekostig nie (en ek praat nie van myself wat kla omdat die vleispryse oor kersfees opgaan nie), so as ons die minimum lone verhoog, en dan die hoër onkoste kan ondervang deur dit na die verbruiker toe te laat afkom, dan beteken dit nie bloot dat ek meer vir vleis gaan betaal nie, maar dat daar meer mense is wat nie kos kan bekostig nie (en ons sou kon byvoeg, dat die lewensonkoste van die einste plaaswerkers opgaan).

Die eerste twee punte hak aan die gesprek oor die Bureau for Food and Agricultural Policy se onlangse verslag, wat o.a. sê dat die huidige minimum lone te min is om van te leef. Dat plase nie ‘n ekonomiese bestaan sal kan maak as lone met meer as R20 verhoog word nie en dat dit steeds te min sal wees om ‘n gesonde dieët te kan volg. Die laaste hak aan voedselsekuriteit, wat steeds ‘n bedreiding bly in Suid Afrika, alhoewel ons ver beter vaar as ons buurlande.

As my eie eerste instink dus nie is dat plaaswerkers dom met hulle geld werk nie, dan is dit a.g.v hierdie tipe data. Om die waarheid te sê, ek dink dit is gevaarlik om ‘n regverdiging te gee vir so ‘n eerste instink, asof ons die “eintlike probleem” kan vind by die finansiële bestuur van minimum loon werkers, asof ons dit sou kon oplos deur ‘n klein bietjie “financial management” klasse. Of Johan dit werklik as ‘n rasionele argument beskou, en of hy dit net bloot as ‘n meer rasionele argument as sy skets van die tipiese teoloog beskou sal hy maar self op moet antwoord.

Ekself was verder nog heeltyd versigtig om die probleem as “onchristelike boere” te beskryf, wat bloot “gulsig” is. Ek wil nie maak asof boere bo verdenking is nie, maar ek dink wel dat boere vasgevang is in ‘n groter sisteem waarin die produksie van landbouprodukte nie op so ‘n manier gedoen kan word dat werkers genoeg betaal kan word om ‘n gesonde en veilige bestaan te voer nie (behalwe as ons plase verder meganiseer wat weer ernstige implikasies vir werkloosheid het). My eie vermoede is dat wanneer die middel-klas en politici die boere wil uitsonder as die eintlike probleem, dan versteek dit bloot hoe ons deel is van ‘n sisteem wat afhanklik is van hierdie einste salarisse waaroor daar baklei word.

Laastens, Johan se noble savages argument vra vrae oor hoekom teoloë enigsins wil praat oor die stakings. Dis ‘n ou kritiek op die kerk se sendingwerk, dat ons die “inboorlinge” as goedhartige maar primitiewe mense sien wat die “leiding” van die kerk nodig het, en in ander kontekste die “beskerming” van die kerk nodig het teen ‘n sluwe uitbuiter wat hierdie arme primitiewe mense nie die vermoëns het om te kan aanvat nie. Laat ek egter bloot reageer deur te sê dat ek dink Johan se “vrye agent” wat kontrakte kan sluit met wie hy/sy wil, en kan besluit dat om ‘n plaaswerker te wees nie werklik is waar hulle wil wees nie en dus ‘n ander werk kan gaan kry, is uit voeling met die realiteit. Ons sou dit graag so wil hê. Ons het selfs wette in plek wat aandring dat dit inderdaad so is. Maar die werklikheid is dat die plaaswerkers wat hierdie vryheid inderdaad gebruik, wat hulle goed vat en loop, in baie gevalle bloot in die diep gat van werkloosheid verval. ‘n Keuse tussen ‘n minimum loon wat nie ‘n “balanced food plate” kan verskaf nie en werkloosheid is kwalik vryheid. Om te werk met die vooronderstelling dat mense vasgevang is in ‘n ekonomiese posisie is nie dieselfde as om te aanvaar dat hulle inherent primitiewe goedhartige mense wat nie vir hulle eie aksies verantwoordelik gehou hoef te word nie, of selfs nie in staat is om hulle eie probleme op te los nie.

Dalk is die punt dat ek op ‘n ander manier kies om uit voeling met die werklikheid te wees. Die “werklikheid” is dat dit tegnies onmoontlik is om vir ‘n hele wêreld ‘n “balances food plate” te verskaf. Ons is almal veronderstel om te weet dat die ekonomie dit nie toelaat nie, en dat as ons gaan aandring daarop dat dinge anders moet lyk, die situasie net slegter gaan wees. Dit kan inderdaad gevaarlik wees om te sê dat dit onaanvaar is. Dit maak dat mens sommer maklik goed sê soos “Ek vind dit redelik maklik om die plaas-stakings te ondersteun“, wat dit laat lyk asof jy dan nie gehoor het dat hierdie stakings dinge nie gaan beter maak nie. Wat anders moet die kerk sê as ons gekonfronteer word daarmee dat mense moet leef op salarisse wat nie ‘n gesonde bord kos op die tafel kan sit nie as “dit is verkeerd”? Solank as wat die werklikheid ‘n konsensus is dat ons sekere morele vrae maar eers opsy moet skuif omdat dit nie tegnies haalbaar is om daaraan aandag te gee nie, kies ek om uit voeling met die werklikheid te wees.

Ek dink nie Johan wil so ver gaan om te sê dat teoloë as teoloë eerder stil moet raak nie (ek dink tog sy kritiek is hoofsaaklik teen teoloë wat nie wil luister nie, eerder as teen teoloë wat praat), maar op plekke kry ek tog die gevoel dat daar iewers ‘n groepie experts is aan wie ons die besluitneming moet oorlaat. Maar wie is hierdie experts? Sal ons dit oorlaat aan demokraties verkose politici? Die tegnokrate wat ‘n manier moet kry waarop ons die samelewing ten minste net vir nog so rukkie moet balanseer? Ons as teoloë moet tog op ons tone gehou word vir slegte analises, maar uiteindelik is ons ook besig om behoeftes van mense, morele vrae en beginsels wat moet geld wanneer ons oor die balans in hierdie fyn sisteem dink te verwoord. As ons sê “bliksem, dis onmoontlik om te kan leef met R70 per dag”, dan kan dit gevaarlik wees, dan kan dit implikasies hê wat ons nie voorsien nie, maar dan is ons dalk net besig om dit te doen: om te verwoord dat wat ons sien nie in lyn is met hoe ons glo ‘n samelewing moet lyk nie. En ek wil waag om te sê dat Johan self nie dink dis hoe ‘n samelewing moet lyk nie.

 

 


Oor pedofiele, apartheid en ekonomiese ongeregtigheid

Januarie 9, 2013

So paar weke terug land ek langs ‘n Rooms Katolieke priester by ‘n tafel. Ons gesprek vind plaas binne een van die mees transformerende ruimtes waarvan ek nog deel was. En daar bestaan so bykans heilige moment waar jy voel dat vreemdelinge mekaar kan vertrou soos wat vriende selde kan. Ek vra hom dus die een vraag wat ek seker nooit weer vir ‘n Rooms Katolieke priester sal vra nie: “Wat gaan met die Rooms Katolieke Kerk gebeur a.g.v die pedofiel priesters?” (ek weet nie of ek dit so verwoord het nie, maar dit was die implikasie)

Hy is nie te geskok nie. Hy verdedig nie. ek het verwag hy gaan iets sê oor hoe priesters toegelaat gaan word om te trou of soiets, een of ander polities korrekte uitkoms wat darem die kerk sal vorentoe neem. Hy verduidelik egter bietjie van die interne politiek wat dit duidelik maak dat hy dink die kerk is dieper in die moeilikheid as wat selfs ek gedink het. En toe sê hy eenvoudig: “I think the church will be much smaller by the time this is over, but more humble”.

Ek het so bietjie soos ‘n hond gevoel. Of soos Piet Meiring. Nie seker watter een van die twee nie.

Piet Meiring vertel hoe hy deel was van ‘n afvaardiging na Rwanda wat moes gaan help dink oor hoe Suid Afrika se WVK model kan help om deur die gemors in Rwanda te werk. Op een stadium vra hy toe vir een van die Rwandese: “Waar was die kerk in dit alles?”. Die man het ontplof! Hy het die stories vertel van kerke wat mense bymekaargemaak het en dan die soldate ingeroep het om die mense te kom vermoor! Daardie aand by aandete toe kyk die man op ‘n stadium na Piet Meiring en sê vir hom: “Jy is mos die een wat vanmiddag die vraag oor die kerke gevra het. Kan ek jou nou ‘n vraag vra: “waar was die kerke gedurende apartheid?”. Oom Piet eindig sy storie altyd met die woorde: “Ek skuld daai man nog ‘n antwoord.”

Ek het die priester so geluister en gedog, as hy nie so ongelooflike pastor was nie, dan sou hy sekerlik nou vir hierdie jong astrante NG teoloog gevra het: “So, wat gaan julle met apartheid maak?”

Ons moet ‘n skuif maak in ons denke. Die grootste probleem wat voor die kerk se deur lê is nie dat ons nie beheer het oor die samelewing nie, dit is nie dat mense nie meer kerk toe gaan nie, en dit is nie dat mense op ander plekke as in die kerk gaan soek wanneer hulle die transendente in hulle lewens wil ontdek nie. Inteendeel. Ek dink op hierdie gebiede doen die kerk eintlik heel goed (ten minste as jy wil syfers tel). In Suid Afrika skryf predikante nog gereeld in koerante, Christelike tydskrifte verkoop soos soetkoek, die ANC raak nog ontsteld as kerke briewe skryf waarin hulle sê die ANC maak droog (wat dit vir my laat lyk dat die kerk nog tot ‘n mate ‘n bedreiging is), en hulle loop in kerke rond as dit verkiesing tyd is (wat beteken hierdie platvorm kan nog bepaal vir wie daar gestem gaan word). Daar is geen vrywillige instansie wat die tipe lidmaatskap wys wat die kerke kan wys nie (of probeer ek nou te hard om die kerk te laat goed lyk?), en ten minste in ons samelewing bly ons grotendeels Christelik (onthou jy my voorstel dat ons ‘n klompie “SA draai na Allah” borde in Pretoria opsit om te kyk wat die reaksie is? Toets dit as jy twyfel).

Ons probleem is dat kerke apartheid ondersteun en priesters wat pedofiele is beskerm. En in werklikheid, is dit nie ons grootste probleme nie, omdat ons eintlik nou al redelik konsensus het daaroor dat hierdie probleme is (of was). Die kerk se grootste probleem bly dat ons teen ons eie identiteit ingaan en telkens onsself in situasies vind waar ons deel is van die ongeregtigheid in die samelewing. Die kerk se sterkste aanspraak op legitimiteit is egter dat ons ‘n lang geskiedenis het van deel van bewegings wat tot groter geregtigheid gelei het.

So hier is my voorstel: ek dink die kerk het ‘n teologie wat ons in staat kan stel om ons eie sonde op die tafel te sit. Waar anders kry jy ‘n organisasie wat weekliks bymekaarkom om skuld te bely? Dalk het hierdie weeklikse ritueel ons immuun gemaak teen die effek van skuldbelydenis, maar ek dink daar is moontlikhede wat ons hier rondom kan ontgin. Die grootste probleem vir die kerk is nie dat ons te min geld het, te min politieke mag, of selfs te min lede het nie. Ons grootste probleem is dat ons in ons strukture deel geword het van die instandhouding van ‘n status quo wat ongeregtigheid laat voortgaan. Dat ons rituele en metafore (teologie) gekonstrueer het wat dit vir mense moontlik maak om eties vrede te maak met ‘n verbruikerskultuur, diep ekonomiese geregtigheid en ekologiese verwoesting (om maar ‘n paar te noem). Maar weet ons al hoe om ons diep teologiese verbintenis tot ongeregtigheid te bely?

Die vrees wat tot die tipe skeptiese reaksies lei wat ek gister openbaar het is die volgende: Ons kan ‘n glorieryke toekoms vir die kerk beplan waar lidmate betrokke is by ‘n eindelose verskeidenheid van projekte in gemeenskappe, opheffingswerk, diens en getuienis, kom ons gebruik maak die lingo van die dag, waar ons missionaal is in volle glorie. Ons kan onsself oortuig dat as ons hierdie roete gaan dan gaan mense (nie enige mense nie, daai middel-klas wit lidmate wat die pad gevat het, of wie se ouers die pad gevat het) terugkom na ons kerke toe, en ons kan selfs reg wees. Maar ons kan steeds as instansie, en as kollektief van mense wat dag tot dag met iewers ‘n lewe maak, deel wees van die sistemiese ongeregtigheid in ons samelewings.

As ons hier gaan begin krap, as ons op hierdie probleem gaan fokus, dan gaan ons oplossings vir die toekoms van die kerk anders lyk. Ons gaan waarskynlik nie in die eerste plek ‘n antwoord soek vir hoe ons mense weer in die kerk gaan kry nie. Ons gaan nie ‘n model soek vir hoe ons die kerk kan herstruktureer nie. Ons gaan dalk soos die priester erken dat die toekoms van die kerk is dat ons kleiner en meer nederig gaan wees, maar hopelik gaan ons aan iets op die tafel kan sit waarna generasies na ons kan terugkyk en sê: “die kerk het God reg gehoor”.

 


Heer waar dan heen, is die kerk oppad heen?

Januarie 8, 2013

Attie daar by sy koffietafel is besig om weer die gesprek oop te maak oor hoe die kerk van die toekoms moet lyk. Ons was oppad om bloot heen en weer op mekaar te reageer, so nou maak ek die gesprek maar hier oop met ‘n paar verdere gedagtes.

As ek Attie reg lees, dan is daar twee probleme wat hy beleef.

Eerstens, die kerk is nie meer so belangrik soos wat dit eens was nie. Hy beskryf die tyd waarin die kerk belangrik was as Christendom. Dit is nie net dat die kerk belangrk was omdat daar baie mense in die kerk was nie, maar veral omdat die kerk mag gehad het om te sê hoe dinge in die samelewing moet werk.

Die tweede probleem wat Attie raaksien (of is dit ‘n moment van hoop?) is dat mense se soeke na transendensie nie meer na die kerk lei nie. Daarom hak hy aan die bekende “spiritual not religious” lyn, en lewer kritiek op ‘n kerk wat irrelevant geword het. Dis egter belangrik om te sien dat Attie ook hierin ‘n oplossing vind (ek dink). Mense is nie wesenlik teen God of geloof nie, hulle hou eintlik nogals daarvan, glo nogals baie, en die kerk het dus ‘n groot “mark” (nie sy woorde nie) as ons net kan leer hoe om hierdie mark te tap.

Sy begin vir ‘n oplossing (en hier begin ons toe debat voer) is dat die kerk meer missionaal moet wees. Ek het al probeer om hierdie “missionaal” ding te verstaan (en ek dink ek het reggekry om David Bosch min of meer te verstaan, wat konstant aangehaal word wanneer daar oor missionaal wees gepraat word), maar die waarheid is dat ons nie regtig weet wat ons daarmee bedoel nie. Te minste, nie presies nie. Daar is ‘n paar lyne waaroor almal waarskynlik sal saamstem:

  1. Missionale kerkwees het iets te make met die sosiale nood binne ‘n bepaalde konteks. Dit gaan nie bloot daaroor om mense hemel toe te vat nie.
  2. Missionale kerkwees sluit almal wat hulleself “Christen” noem in, en kan nie ge-outsource word na een of ander kommitee toe nie.
  3. Missionale kerkwees moet op een of ander manier met my lewe tussen eredienste te doen hê.

As eerste voorbeeld vir wat as ‘n moontlike antwoord op die twee probleme hierbo kan dien, gee Attie vir ons Thomas Gemeente in Sheffield. Die spesifieke goed wat hierdie gemeente noem wat lyk my vir hom uitstaan is dat hulle die gemeente in groepe van ongeveer 20 mense organiseer, en die primêre fokus van die groepe is dan betrokke by “diens en getuienis” in ‘n spesifieke omgewing (geografies of binne ‘n bepaalde netwerk van verhoudinge). Die groepe wil ook hê dat die mense op wie hulle ‘n impak het (ek aanvaar deur hulle diens en getuienis) Jesus moet volg. In die comments verwys hy verder daarna dat hierdie kerk 600 gemeentes of 3 jaar gestig gekry het.

Kom ek verduidelik my ongemak met hierdie antwoord (voor ek my ongemak met die probleem verduidelik). Dis nie bloot omdat die “buitelands” is nie. Ek is eintlik bitter bly hy gee nie vir ons nog ‘n Amerikaanse model nie. Maar ek raak ongemaklik wanneer ek die link na die wikipage oor die gemeente volg, en dan die link na Sheffield volg en dan op Economy click. Lees maar self. Wat ons vind is ‘n gemeente wat ‘n ongelooflike storie vertel hand aan hand met ‘n ongelooflike ekonomiese verhaal.

Kom ek gee gou vir jou twee ander voorbeelde van dieselfde situasie. Saddleback Church (Rick Warren se kerk) kan jy vind in ‘n omgewing (Lake Forest) waar 66% van die huishoudinge meer as $100000 inbring. Die 2003 syfers vr Amerika was dat 15% van huishoudings hierdie tipe inkomste gewys het. Willow Creek Church (Bill Hybels) is in South Barrington, waar die inkomste mediaan van ‘n huishouding $170000 is. Iewers moet ons begin skepties raak oor kerkmodelle, maak nie saak hoe goed hulle lyk, wat geskep word in uitwonderlike ekonomiese omstandighede. Dalk kan ons iets by hulle leer, maar daar is massas vrae wat ons gaan moet vra. En vir die oomblik dalk net dit: hoeveel kan die gemeente in Danville, Attridgeville of die Moot regtig leer by ‘n model wat geskep is om mense wat uitsonderlik ryk is in die kerk te kry?

Ek weet nie vreeslik baie van die gemeente in Sheffield nie, maar omdat ek van Willow Creek en Saddleback geweet het, het ek sonder om twee maal te dink die links gevolg na die “Economy” konteks van hierdie gemeente wat as voorbeeld voorgehou word.

Vinnig iets oor die probleme: Is ons probleme in die kerk werklik dat ons mag verloor het en dat mense spirituele wyshede op ander plekke gaan soek? Deel van hierdie “mag verloor” was dat die kerk nie vandag meer vir opvoedkunde en mediese dienste verantwoordelik is nie. Ons het daai vir die staat (terug)gegee. En dit is nie maar bloot met geweld afgevat nie! Die kerk self het ook tot die oortuiging gekom dat dit beter is as die kerk nie hiervoor verantwoordelikheid neem nie. Ja, op plekke is die kerk inderdaad nog met hierdie tipe dienste besig, staan die kerk die skoene vol van dit wat ons eintlik glo die verantwoordelikheid van die politieke/ekonomiese sisteem is. Is hierdie verlies aan mag ‘n probleem? Ek dink nie so nie! Wat wel ‘n ernstige probleem is, en sentraal moet staan in die kerk se agenda, is dat hierdie politieke/ekonomiese sisteem waarvan die kerk haarself losgemaak het (of losgemaak is), is nie besig om seker te maak dat almal opvoeding, mediese sorg, en ‘n basiese menswaardige bestaan kry nie!

Oor die hele “spiritual not religious” ding sal ek later meer skryf, maar ek wonder of die kerk nie bykans uit verligting hierna gryp omdat dit as teken gebruik word dat die “harde ateïsme” waarvoor ons so bang was (en is) nie gewen het nie. Dit is dus die kerk se oplossing ook. Ons moet net weer regkry om God anders te verpak, dan kan ons hierdie samelewing wat eintlik almal “geestelik” wil wees weer in die kerk kry. Meer hieroor in ‘n volgende post.

Attie vra my waar ek voorstel ons moet gaan soek vir antwoorde. Kom ek probeer deur eers my kritiek op die modelle wat in ekstreme ryk kontekste ontstaan te voltooi.

Ek dink nie Saddleback, Willow Creek of St. Thomas doen net slegte dinge, of dat hulle eers hoofsaaklik slegte dinge doen nie. Inteendeel, ek dink hulle het al baie keer hulle ekonomiese mag gebruik om mooi goed te doen, en vermoed dit sal voortgaan. Maar daar is ‘n gevaar. As ek reg is dat ons hele politieke en ekonomiese sisteem so bedryf word dat dit nie net misluk daarin om die mediese en onderwysdienste wat vandag moontlik is aan mense te verskaf nie, en misluk daarin om ‘n basiese lewensstandaard daar te stel nie, maar meer as misluk, dat hierdie sisteem uiteindelik afhanklik is daarvan dat daar ongelooflike hoë vlakke van ongelykheid is, dat ons ‘n hoeveelheid bronne gebruik wat uiteindelik sal veroorsaak dat die hele ekologiese sisteem in duie stort, en dat daar iewers spotgoedkoop arbeid moet wees – dat mense dus uitgebuit moet word, dan gaan hierdie modelle ons nie help nie. Ek wil voorstel dat ‘n model wat in hierdie konteks ontstaan ons nie gaan help om daardie selfde konteks te ondergrawe nie.

Wat ons dus kry is dat hierdie tipe modelle voorstel dat die kerk “in die gemeenskap betrokke moet raak”, dat ons met “diens en getuienis” moet besig wees, maar telkens aanvaar dat ons nie te veel aan die groter toutjies kan trek nie. In kontrak hiermee, het die kreatiewe werk waarmee die kerk in Suid Amerika, in Swart Apartheid-Suid Afrika, in Swart gemeenskappe in die VSA, tussen vroue, en op ‘n massa ander plekke mee besig was die laaste paar dekades, vir ons kom leer dat as jy iets wil verander, dan help dit nie jy “raak betrokke” nie, jy sal die sisteem moet verander.

Die post raak te lank, so ek sal maar nog van hulle moet skryf. Ek dink ons probleem (myne, Attie s’n, meeste van ons wat in die NG Kerk is) is dat ons makliker aanklank vind by die modelle wat ons leer dat ons die sisteem basies kan los soos dit is, en net binne hierdie sisteem goeie dinge kan doen. Dit is omdat ons oor die algemeen aan die ontvangkant van hierdie sisteem sit. Ons bly onbewus daarvan, net soos Saddleback, Willowcreek, en ek vermoed St. Thomas (ek raai sommer, weet eintlik niks van hulle nie, maar as ek verkeerd is sal ek uiters verbaas wees), dat ons die hele sisteem wat na Christenkom gekom het sal moet help omverwerp en transformeer as ons werklik wil omgee vir die mense van hierdie aarde.


Kerklike debat en om anders te lééf

Desember 13, 2012

Ek is nie seker wat die doel van die drie artikels is wat saam as Kerkdebat in twyfel versprei word nie. Verseker kon dit nie drie kante van die saak belig het nie, want Jordaan, Strydom en Pretorius sê al drie eintlik maar dieselfde. Lees maar, dis heel eenvoudig: Daar is ‘n tradisionele geloof, en ‘n tradisionele praat oor God aan die een kant, en daar is een of ander “nuwe geloofstaal” aan die ander kant, met die onuitgesproke moontlikheid dat dit selfs ‘n totale verwerping van alle geloofstaal kan beteken.

Al drie probeer ‘n middeweg vind. Ons moet nuut praat sonder om die oue te los. Noem dit misterie, noem dit dialoog, noem dit wat jy wil, dit kom telkens op dieselfde neer. Iewers moet ons ‘n middeweg vind tussen die twee groepe wat Julian Müller uitwys. Twee groepe wat eintlik al stereotipes geraak het binne die Suid Afrikaanse publieke debat oor die toekoms van die kerk.

En in die proses het ons drie reaksies op Julian Müller en nie een van die drie raak aan die kern van sy argument nie:

Individuele spiritualiteit sonder sosiaal-etiese implikasie is aan die orde van die dag.

Albei groepe moet gehelp word om te verstaan wat die eise van die Evangelie vir húlle is.

Dalk hoor ek Müller verkeerd, maar as ek hom so lees dan het hy maar vrae oor beide groepe se bereidheid om te breek met ‘n individuele spiritualiteit en om die sosiaal-etiese implikasies van die evangelie sentraal te maak in die nuwe taal wat nodig is.

Dalk het ons almal oortuig geraak dat as Julian Müller skryf, dan moet ons hoor dat ons anders moet dink oor etlike artikels van die Apostoliese geloofsbelydenis. En daarop reageer die drie wat Kerkdebat in twyfel vol woorde pak dan ook. Maar ten spyte van die aanhak aan Wilhelm Jordaan se vorige rubriek, wat inderdaar met hierdie twee groepe gewerk het, is daar maar min in Müller se artikel oor hoe hierdie nuwe taal God sal omskryf. Wat hy egter wel herhaaldelik noem is eenheid, inklusiwiteit, etiek. Belhar, nie die Apostoliese Geloofsbelydenis nie, is waaroor hy praat. En Belhar se waarheidsaanspraak lê in ‘n manier van leef, nie in die korrekte formulerings oor hierdie of daardie metafisiese kontroversie nie.

Kom ek sê wat Julian Müller nie sê nie: Die Steeds Hervormers is nie juis veel meer wit as die Nuwe Hervormers nie.

(ek is nie deel van een van die twee nie, so ek getuig maar oor wat ek sien).

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek dink die pogings om een of ander onveranderde geloofstaal te vind is futiel. Die geskiedenis van die kerk is bloot teen jou as jy oortuig is dat daar een of ander punt in die geskiedenis is waarop ‘n bepaalde interpretasie van ons belydenis van geloof gefinaliseer is.

Ek dink verder oor dat al die wetenskaplike ontdekkings en filosofiese debatte die kerk nie kan verbygaan nie. Maar dan weer, dit het die kerk nog nooit verbygegaan nie. Kerklike burokrate het nog altyd versigtig die manier van praat geskuif (en as jy daaroor twyfel, vergelyk maar gerus die moderator vandag en die moderator van 100 jaar terug, of selfs die pous deur die eeue). Kerklike rebelle (heel gereels in die vorm van akademici) het nog altyd eksperimenteer met ander maniere van praat, of hierdie akademici wat aan die kerk gekoppel was nou teoloë of fisici was. Daar was nog altyd stemme wat geglo het die kerk ignoreer die veranderinge in die samelewing, en dan maar hul goedjies gevat en geloop het. Dis belangrik dat ons hieroor moet dink.

Maar ons kan so vasgevang word tussen hierdie twee groepe, of dalk eerder, tussen die burokrate se versigtige nuut-praat en die rebelle se eksperimente, dat ons vergeet dat ons in die NG Kerk eintlik ‘n belangriker debat op ons tafel het.

Hoe ons die wederkoms en entropie met mekaar in gesprek bring is belangrik. Maar hoe ons wit en swart Suid Afrikaners met mekaar in gesprek bring is heelwat belangriker. Hoe ons dink oor die kerklike ballinge is belangrik (en moet my nie verkeerd verstaan nie, dit is hoe die meeste van my vriende beskryf moet word), maar uiteindelik is dit ekonomie, taal en ras, meer as jou interpretasie van die maagedelike geboorte, wat bepaal of jy Sondag oggend in een van daai geboue wat as “NG Kerk” beskryf word gaan sit.

Ons kan so lekker saamdans oor hoe ons oor God moet praat, belangrik soos daai dans is, dat ons vergeet dat ons spesifieke verlede ons met een moerse sosiaal-etiese dilemma los, en dat dit, nie die vraag oor wat presies die aard van God is nie, bo-aan ons agenda moet wees.

So laat ons daai nuwe taal gaan soek. Maar kom ons begin deur te vra wat die sosiaal-etiese implikasies van hierdie nuwe taal gaan wees. As ek dit nie mis het nie, is dit waarvoor Julian Müller hierdie rondte gepleit het.