anderster (eerliker?) gepraat oor belydenisskrifte

November 20, 2014

Belydenisskrifte is mos maar bietjie van ‘n olifant in die vertrek. Dit is dokumente wat onderteken word maar nie gelees word nie. Wat puntgewys aangehaal word as absolute bewysteks maar nie bespreek word nie. Hierdie ongeleesde, onbespreekte woorde is die grond waarop ons skynbaar moet bepaal wie deel van die “heilige, algemene Christelike kerk” is (of is dit net van die NG Kerk, is ons fine daarmee as jy deel van die kerk is al sou dit blyk dat op vraag x of artikel y se jota of tittel ‘n ander kyk ontwikkel, solank jy net nie deel van my kerk is nie), en wie die ketters is (dis nou daai mense wat ons ter dood veroordeel het in ‘n vorige lewe van die kerk).

Maar oor die laaste paar weke gooi ons woorde soos “quia” en “quatenus” heel liberaal rond (alhoewel meer gereeld quia as quatenus, en “heel liberaal” mag dalk ‘n op eerste oogopslag as ‘n onvanpaste beskrywing beskou word vir die plekke waar dis die gemaklikste rondgegooi word). Hier en daar lyk dit asof ons wil maak asof die olifant nooit ‘n olifant was nie, asof dit tog maar duidelik is dat belydenisskrifte almal, puntsgewys, en op elke punt, letterlik, soos deur die Heilige Gees en ons neergepen, aanvaar word.

Ons het ‘n meer eerlike gesprek oor belydenisskrifte nodig.

Ek hoop so ‘n eerliker poging word vasgevang in die ligte, speelse poging om oor belydenisskrifte te praat wat ‘n paar van ons onder Helené van Tonder se bekwame leiding neergepen het in gesprek met die Heidelbergse Kategismus. Jy kan die inleiding van Sewe Stories gratis lees (jy kry sommer ‘n stukkie van Helené se eie refleksie in die eerste opstel van die boek gratis by).

Hier is hoe ons dalk beter en eerliker oor belydenisskrifte kan praat:

In 2013 is die Heidelbergse Kategismus 450 jaar oud.
“Die wát?” hoor ek jou vra. En dit is ’n goeie vraag. Want soos ons – en jy waarskynlik ook – lees baie (gereformeerde) Christene selde of ooit die Heidelbergse Kategismus (HK).

of bietjie later

Hierdie vraag het ons, die skrywers, ook vir onsself gevra. En, om eerlik te wees, nie een van ons was eintlik aanvanklik te gretig om die Heidelbergse Kategismus te lees nie.

Met meer as genoeg voorbehoude het ons toe op reis gegaan met die Heidelbergse Kategismus: deur kerke se konsistories, Pretoriase nagklubs wat voorbereidings tref vir DJ Fresh-vertonings, om Sunnyside se straathoeke, deur koffiewinkels, pizza-plekke, bierdrinkbankies, via verdagte Portugese en Sjinese restaurante. Dit was amper soos die dae waarvan die Duitse filosoof Jürgen Habermas vertel het: Toe burgers nog in koffiewinkels en haarkappers bymekaargekom het en sake van die polis – die stad – bespreek het om sodoende saam tot mondigheid te groei.

Die waarheid is

Die Heidelbergse Kategismus is egter nié deesdae die mees wydgelese dokument waaraan ’n mens kan dink nie. En, in alle eerlikheid, soms gril mense ’n bietjie daarvoor. Dit is oud, stowwerig, verstok, weird, en dit pas nie lekker in die post-alles plekke waarin mense (ook ons) graag uithang nie.

En hier is die realiteit

Ook die groot Suid-Afrikaans teologiese aangeleentheid van die laaste kwarteeu – die aanvaarding van die Belydenis van Belhar, al dan nie – blyk implisiet beïnvloed te wees deur hierdie paradoks: Belydenisse maak skynbaar absolúút saak (vir sowel die voorstanders as die teenstanders van Belhar), maar eintlik maak dit glad nie saak nie (albei groepe weer geïmpliseer). Daar word voortdurend klem geplaas op die belangrikheid en gesag van belydenisskrifte in die kerk ten spyte van ’n groot gebrek aan deurligte, kreatiewe interaksie daarmee in die lewe van die kerk.

Hier is waarvan ons iewers in Arcadia op ‘n Saterdagmiddag oortuig geraak het: dalk, net dalk, is dit belangriker dat ons belydenisskrifte lees as onderteken, bespreek as aanhaal. En as my vermoede reg is dat die groot meerderheid van ons predikante en lidmate, as jy hulle nou in ‘n blik moet druk, iewers bietjie wonder of elk van ons belydenisskrifte dan nou regtig op elke puntjie presies reg is (ek is nie oortuig dat dit is wat “omdat dit in lyn met die Woord van God is” beteken nie, maar goed, meer daaroor op ‘n ander dag), ja, as hierdie vermoede reg is, dan is die beste manier om seker te maak dat hierdie antieke woorde nie meer gelees en bespreek word nie deur aan te dring dat ons ook nie daarvan mag verskil nie. Dis die maklikste manier om konflik te vermy: sê maar net niks oor belydenisskrifte nie.

As ons net ‘n bietjie sagter (en eerliker?) is oor hierdie goed dan lees ons dit dalk weer, en ontdek ons net dalk iets wat mooi is.

Die aanhalings kom uit die boek Sewe stories en ‘n stock cube.

Advertisements

weer gedink: waarom Belhar?

Januarie 18, 2013

As dit nou moontlik is om die NG Kerk in eenvoudige pro-Belhar en anti-Belhar kampies in te deel, dan is daar ‘n interessante patroon in die debat waardeur ons sal moet breek.

  1. Eers vind ons ‘n argument dat Belhar ‘n vreemde teologie bevat. Dat Belhar dus ‘n breuk is met die tradisie, en nie versoenbaar is met die belydenisgrondslag van die Gereformeerde kerke nie.
  2. Dan vind ons die stemme wat sê dat Belhar niks nuuts sê nie, dat dit heeltemal in lyn met die Bybel en die Gereformeerde tradisie is (en belangrik, dat dit nie bevrydingsteologie is nie), en dat daar daarom geen rede is waarom ons dit nie as Belydenisskrif kan aanvaar nie.
  3. Maar, kom die teenvraag dan, waarom sal ons dan Belhar as ‘n belydenisskrif wil aanvaar as dit elkgeval alles sê wat ons belydenisskrifte reeds sê?

Daar is baie antwoorde wat hierop gegee word: omdat Belhar ons spesifieke konteks aanspreek, omdat Belhar ‘n bepaalde punt in ons tradisie waar die evangelie op die spel was aanspreek, of selfs net dat dit in nuwe woorde geskryf is. Al hierdie antwoorde probeer egter van die 3de punt teruggaan na die 2de punt, i.p.v om deur te beweeg na ‘n 4de posisie wat sê: Belhar sê nie wat ons belydenisskrifte sê nie, en juis daarom moet ons met Belhar werk.

Daar is ‘n skerp ironie in die hele gesprek oor Belhar in die NG Kerk. Die punt is dat ons stuck geraak het met ons belydenisskrifte in ‘n moderne era. Na al die lekker debatte oor belydenisskrifte en wie is nou eintlik in lyn en wie nie, moet ons dalk maar net eerlik wees daaroor dat ons hierdie dokumente nie meer lees nie. Ja fine, daar is dalk iewers iemand wat my nou sal herinner dat hulle inderdaad hierdie dokumente nog gereeld bestudeer, maar as ‘n reël is dit dooie geskrifte in ons kerk. Ons ken dit nie. Ons weet nie wat om daarmee te maak nie (selfs al het die gedagtes daarin ons dalk meer gevorm as wat ons wil erken), en ons kan nie vir een oomblik sien dat belydenisskrifte een of ander wonderbaarlike comeback gaan maak nie. Terwyl hierdie spel besig is om uitgespeel te raak, wil ons nou kom met die idee dat ons nog ‘n belydesnisskrif moet aanvaar: Belhar. Jy sal verskoon word as jy wil vra waarom ons weer hierdie roete moet loop, as jy wil sê dat ons al voorheen op ‘n punt was waar ons geglo het ons moet bely, en dat die belydenis duidelik nie so tydloos was as wat ons gedink het nie.

Ek dink ons voer hierdie gesprek nog nie ernstig genoeg nie. En dat ons bloot naïef voortgaan met die gedagte dat Belhar maar sê wat ons nog altyd gesê het, en ons dit daarom maar net kan aanvaar en voortgaan.

Klippies Kritzinger help my hier. Hy verduidelik dat Belhar se waarheidsaanspraak anders is as die van ons ander belydenisskrifte. Waar ons ander belydenisskrifte soek na ortodoksie, na die vraag of jy instem met die algemene leer, lê Belhar se waarheidsaanspraak in ‘n bepaalde optrede: Belhar vra ten diepste hoe ek saam met ander mense moet leef, en plaas dit sentraal aan ons geloof. Belhar is dus nie iets waarmee ek bloot rasioneel kan instem nie. Uiteindelik moet ek Belhar met my lyf bely.

Iemand anders het dit blatant gestel: al ons Gereformeerde belydenisse sê iets oor die geloof in Jesus. Belhar is die eerste belydenis wat iets sê oor die geloof van Jesus.

Kan ons nie maar die debatte spel bypass en in reaksie op die stemme wat pleit dat Belhar anders is (selfs 10 maal anders is) antwoord: ja, Belhar is anders. Dit is nie vreemd nie, ons vind hierdie klem om eenheid en versoening en geregtigheid reeds by Jesus self. Nie vreemd nie nee, maar sover dit belydenisse aangaan wel anders, en daarom kies ons om juis so te bely.


“ja” vir Belhar, want ons het mos nie baggage nie

Oktober 10, 2012

Ek raak altyd bietjie skepties as ek hoor “die jong dominees sê”. Jy sien, daar is ongelooflik mag daarin om die “jong stem” aan jou kant te hê. Dit is asof die een wat kan sê dat “ek sê wat die jong stemme sê” tot ‘n mate die langslewendheid van sy/haar eie idees bevestig. Die waarheid is egter dat daar selde, indien ooit, enige “jong stem” oor ‘n saak is. Al wat ons het is “jong stemme”. Telkens wanneer ons dus hoor dat “die jong dominees sê” dat moet ons stilstaan en die ou suspisieuse vrae vra: Watter jong dominees? Hoekom kies die een wat die jong stem oordra om dit te doen? Wat is die breër rol wat die uitverkose jong stem moet speel? Uiteindelik kry elke hoë profiel stem in die kerk iewers ‘n groepie jong dominees wat skynbaar hierdie of daardie standpunt sou ondersteun, en elkeen kies om maar die jong stemme wat anders klink te ignoreer.

In die kerk raak ek ook baie skepties wanneer ons oor teologie praat en die kerk eenvoudig tussen “jonk” en “oud” wil verdeel. Sonder om dit eers te verdedig, ek dink bloot nie die verdeling werk nie, en as jy sou begin ordentlik navorsing doen gaan jy agterkom dat daar ‘n ongelooflike hoeveelheid uitsonderings op elke patroon is wat jy skynbaar raaksien. Daarmee ontken ek nie dat die kerk oor tyd verander, en dat daar dus ‘n skuif te bespeur is nie, maar ek ontken wel dat daar ooit ‘n “clean break” is waar twee generasies eenvoudig teenoor mekaar kan staan.

Dit bring my by Belhar en Rapport.

As Tim du Plessis pleit vir die aanvaarding van Belhar (OK, pleit is dalk ‘n te sterk woord) dan sê dit dalk iets oor die rigting waarin die gesprek beweeg. Tim sou immers nie op die plek gesit het waar hy is as hy nie in staat was om die konsensus van sy lesers te verwoord, so paar stappe voor hulle te wees, maar om hulle nie te veel te ontstel nie. So dalk gee Tim rigting aan: die tyd waarin Belhar aanvaar sal kan word is naby.

Marlene Malan se artikel oor Belhar by Aardklop is ook insiggewend, want sonder om te veel tussen die lyne hoef te lees maak sy dit duidelik dat hierdie ‘n lot ou ooms is wat negatief is oor Belhar. Of dalk is negatief te sterk woord, kom ons sê maar net dat hierdie groep, wat in haar prentjie duidelik ouer stemme is, vind Belhar ‘n komplekse debat, is gekant teen die druk dat daar “ja” gestem moet word, en soek, in die woorde wat sy aan Piet Strauss toeskryf, ” ’n groter balans van “vir” en “teen” in die huidige debat oor Belhar voorstaan” (ek het geen idee wat hierdie frase beteken nie, maar kyk hoe herhaal hierdie frase in die volgende paragraaf).

Dit bring my terug by die jong stemme. Marlene skryf toe verder oor Belhar n.a.v die VGKSA se Algemene Sinodesitting. Hierdie keer is dit die jong stemme wat praat. Die artikel laat jou met die oortuiging dat daar ‘n konsensus is: “Deur die bank meen hulle: Belhar is ’n versoeningsgeskrif” en “Volgens Van der Spuy redeneer jong afgestudeerde NG predikante nie meer oor “vir” of “teen” Belhar nie. “Daar’s niks meer om oor te praat nie. Ons wil aangaan.”“. Die jong stemme is dus nie so ver van Tim du Plessis af wat glo dat “Die NGK moet Belhar, by wyse van spreke, uit die pad kry. Aanvaarding is al manier.

Hier dus my eerste punt: ons maak ‘n keuse vir watter jongmense ons wil aanhaal, en dit is ten diepste ‘n politieke keuse.  In hierdie geval vermoed ek dis ‘n keuse wat help om ‘n groeiende konsensus te verwoord, maar dit ontken steeds die feit dat daar ‘n sterk groep jong predikante is wat nie Belhar wil onderteken nie.

Daar is egter vir my ‘n dieper probleem, en daarom die titel van die blogpost.

Wanneer ons met oordrewe konsensus aandring daarop dat “Belhar is ’n versoeningsgeskrif“, dan moet ons met ‘n stuk ongemak gelaat word. Dit was nie perongeluk wat die 1982 sinode Eenheid, Versoening en Geregtigheid langs mekaar gesit het nie. Dit was omdat die sinode op daardie stadium gevoel het dat daar groepe in die Suid Afrikaanse kerkgemeenskap is wat een of twee van hierdie elemente ten koste van die ander beklemtoon. Die pro-Belhar diskoers in die NG Kerk lyk vir my ook of ons oor die algemeen Eenheid en Versoening meer beplemtoon as Geregtigheid.

Maar daar is ‘n volgende punt wat gehoor moet word. Een dominee wat Noordelike Sinode se laaste sinodesitting bygewoon het beskryf die kerk se standpunte oor Belhar ook in terme van 3 generasies. Die jong generasie “het nie die bagasie van Belhar nie- hulle lees die dokument net op sigwaarde, en sien geen dwalinge daarin nie“.

Wat is hierdie “bagasie”? Die bagasie is apartheid. Rassisme. ‘n Suid Afrikaanse geskiedenis van ongelykheid, van struggle teen apartheid, en van ‘n NG Kerk wat so diep drooggemaak het dat die kerk in die wêreld vir ons gesê het hulle kan hulleself nie langer met ons assosieer nie. En tot ‘n mate moet ons dit verstaan. Ek sukkel ook om die emosies van die middel 1980’s te verstaan (alhoewel dit tog meer moontlik raak as jy lank genoeg na die stories luister). Maar hier is my vrees: ons loop die gevaar om met Belhar in die een hand, en Klopjag in die ander hand die toekoms in te gaan. Ons loop die gevaar om tydens legitimasie Eenheid, Versoening en Geregtigheid te onderteken, en dan te sing “kan ons maar net aanbeweeg, Meneer“.

Jy sien, Belhar los my met ‘n ongelooflike stuk bagasie. Dit los my met die feit dat die top-skaal vir ‘n VGK predikant minder is as die begin-salaris van ‘n NGK dominee. Dit los my met die feit dat party in die land hulle kinders in publieke skole kan sit wat R25000 skoolgeld per jaar vra, terwyl ander dit nie kan bekostig om R25000 oor 12 jaar te betaal nie, en die skool se fasiliteite wys dit! Dit los my met die feit dat ‘n groeiende groep van my ouderdom mense aparte woonareas voortsit deur die komplekse wyse waarop gated communities kan bestuur wie mag hier binne kom en wie nie. Dit los my met die feit dat ‘n klomp kolegas in die VGK so paar maande hulle skok in my teenwoordigheid uitgespreek het omdat ‘n NG Kerk R10 miljoen aan ‘n kerkgebou kan spandeer (ek moes hulle toe skaam inlig dat dit in werklikheid meer as R50 miljoen was, en dat die memo nooit by hulle uitgekom het nie).

Nee, dis nie eenvoudig “alles apartheid” nie. Maar dit is apartheid ook. Dit is meer as apartheid ook. Maar dit is my baggage ook. Ek vrees dat die groeiende konsensus dat ons Belhar moet aanvaar gekoppel is daaraan dat ons deur die bank meen Belhar is ‘n versoeningsgeskrif, en dat ons selde hoor dat Belhar ten diepste oor geregtigheid gaan. En ons hoef nie bagasie oor Belhar te hê as dit nie oor restitusie gaan nie. Maar gaan kuier met die jong VGK predikante en vra vir hulle of Belhar oor restitusie gaan…

Ek sê ja vir Belhar. En elke keer wat ek dit skryf dan raak ek ongemaklik, want ek weet dit roep met tot ‘n leefstyl van eenheid, versoening en geregtigheid, en ek weet dit beteken ek het nog ‘n lang paadjie om te gaan. Ek sê ja vir Belhar, maar ek weet dat Belhar in die 1980’s geskryf is, teen ‘n bepaalde historiese agtergrond waaruit ek ongelooflik baie voordeel getrek het, en vir die res van my lewe die voordeel wat ek daaruit getrek het met my sal saamdra. Ek hoop met alles in my dat die NG Kerk Belhar sal aanvaar! Maar is nie iets waarmee ek sommer net kan aangaan nie, dis iets wat ek stadig moet oorweeg, die koste moet bereken, en in diepe geloofsoortuiging moet bid dat ek verander sal word. Want ek het nog ‘n leeftyd voor van werk om die ongeregtighede, onversoenbaarheid en apartheid van die verlede te help ongedaan maak, en ek hoop dit is waartoe ons onsself verbind as ons sê “ja” vir Belhar.


turn2god en die VF+

Junie 14, 2009

Jy al Turn2God en die VF+ se beleide bietjie vergelyk?

Ek is tempted om my guts te spill oor revivalist movements en pogings tot teokrasieë en voortsettings van die 19de eeu se sendingideale van “die hele wêreld vir Christus in ons leeftyd” ens. Maar ek sal dit vir eers los vir iets interessanters.

Die Vryheidsfront Plus se beleid rondom territoriale outonomie:

Die ander belangrike komponent van die Vryheidsfront se beleid, is die aanspraak op territoriale outonomie. ‘n Minderheidsgroep bly voortdurend kwesbaar binne ‘n staatsbestel wat deur ander groepe oorheers word. Beskerming wat vandag met moeite beding word, kan jou môre polities ontneem word. ‘n Volk kan slegs waarlik vry wees binne ‘n eie grondgebied onder ‘n eie owerheid. Hierdie ideaal kan verwesenlik word deur ‘n evolusionêre proses, naamlik groter outonomie op plaaslike regeringsvlak wat daarna lei tot selfbeskikking op streeks-, provinsiale en uiteindelik nasionale vlak.

Elsa Meyer het egter beleef dat God vir haar die volgende sê oor ons land se regering:

Ek het ervaar dat hierdie boodskap vir al 14 bevolkingsgroepe van ons land bedoel is.  In elke bevolkingsgroep is daar leiers wat hulle mense se belange op die hart dra.  Hulle tree in vir hulle volk en is dienaars van God en mense.  As hierdie mense opstaan en hulle mense oproep om na die Here toe te draai,  sal hulle luister en God sal ons gebede verhoor en aan ons ’n toekoms vol van sy oorvloed gee!  As ons egter nie na God toe draai nie teken ons,  ons land se doodsvonnis.

Ek het beleef dat God nooit bedoel het dat volke en nasies deur politieke leiers regeer moet word nie.  Volksleiers was bedoel om mense te wees wat omgee vir hul mense en nie gedryf word deur ander belange nie.  ’n Volksraad behoort te bestaan uit die leiers van volke en ’n staatsleier behoort vir al die volke van sy land in te tree by God.  Hy/sy moet God se plan en strategie vir die land te wete kom en in wysheid sonder vooroordeel regeer.

(Ek het sommer ‘n paar interessanthede met soortgelyke kleure gemerk)

Of Elsa Meyer aan die VF behoort weet ek nie, en ek twyfel eintlik nogals. Maar come-on??? Ek’s seker nie die enigste een wat dink hier is iets fishy nie? Kyk die ooreenkomste:

  • Beide verdeel mense volgens volkegroepe
  • Beide wil nasionale politieke leierskap afskaal sodat volksleiers sterker uistaan
  • Beide voorsien uiteindelik ‘n nasionale staatsleier, maar hierdie moet bloot ‘n verteenwoordiger van die onderskeie volkegroepe wees

Ja, tannie Elsa sê baie meer keer “God” in haar stukkie as die VF, en ja, die VF lê wel klem op territoriale verdeling wat tannie Elsa nie doen nie, maar verder is die ooreenkomste vir my maar half shocking! Ek bedoel, het tannie Else nog nie Belhar gelees nie?

Maar goed, dat ek nou stop. Wat dink jy van hierdie twee beleide oor die toekoms van ons land? Dink jy dit is versoenbaar met wat daai wandering prophet, Jesus van Nasaret, geleer het 2000 jaar terug? Sien jy ooreenkomste? Sien jy verskille? Deel sommer jou thoughts, ek wil graag hoor.