so wil ek antwoord oor dwaalleer

Mei 7, 2013

Ek wil ook partymaal praat van “die goeie ou dae”. Jy weet, toe dwaalleer nog dwaalleer was, en ons werklik gedink het die wêreld kom tot ‘n einde as jy met dwaalleer besig is en jy moet op ‘n hoop hout gegooi word en lewendig verbrand word. Of soos by Nicea toe hulle vir ‘n hele maand lank gepraat het oor ‘n saak. Of wat van Dordt wat 154 vergaderings in 7 maande gehou het om uiteindelik te kan sê “so glo ons” (en in die proses die een geloofsbelydenis gelewer het wat vandag die minste gebruik word in die kerk).

Eintlik wil ek in ‘n loflied saam met ‘n orrel uitbars omdat ons nie in daardie tyd leef nie. Kan jy nou dink as die Algemene Sinode vir 3 maande moet sit net om uiteindelik te kan sê: “so sê die meeste van ons” (want nie Nicea of Dordt het meer as dit gesê nie). Dit sal egter dalk beter wees as die manier waarop ons week na week moet hoor hoe iemand “dwaalleer” roep in die NG Kerk. Onthou julle die storie van die seuntjie wat wolf geroep het…?

Dalk moet ons egter bietjie saam dink oor hoe mens reageer op hierdie alewige “dwaalleer… dwaalleer…” refrein. Maar laat ek dit maar publiek doen, want ek kry al hoe meer die gevoel dat daar ‘n klein netwerk van mense in (en buite) die NG Kerk bestaan wat mekaar telkens inlig oor wie nou die volgende teiken is vir hulle dwaalleer aanklagte, en strategieë bymekaarmaak vir hoe hulle die lewe vir al wat ‘n dominee is met wie hulle bietjie verskil kan hel maak. So ek dink hardop en publiek.

Party dae dink ek daai lot wat met die sola scriptura ding gekom het sou hulleself maar bedink het as hulle geweet het wat ‘n lot Amerikaners daarmee sal maar teen die tyd wat die 20ste eeu aanbreek. Praat van die dag wat onder die eend se gat uitgeruk word! Iewers is ‘n klomp teoloë kwaad vir die pous wat ‘n klompie dodgy uitsprake maak om sy bankrekening te laat klop, en in protes roep hulle uit sola scriptura. Alleen die Bybel. As ons dus oortuig raak dat wat die kerklike leiers sê in stryd is met die Bybel, dan kies ons die Bybel. Fast forward ‘n klompie jare en iemand besluit dat ten spyte daarvan dat niemand nog ooit voorheen dit raakgesien het nie, kan hy die wegraping in die Bybel in raaklees. En bietjie later, ten spyte daarvan dat alle bewyse daarteen is, kan sola scriptura ook die grense van die natuurwetenskappe bepaal.

Waarheen sola scriptura geneem is, is egter ‘n verwerping van die tradisie. En nee, om ‘n frase uit ‘n geloofsbelydenis aan te haal is nie tradisie nie. Om ‘n geloofsbelydenis uit sy historiese tyd en plek te neem en te verabsoluteer is ook nie tradisie nie. Ek dink tradisie is om te sê dat ek nie die eerste een is wat ‘n teks lees nie, en dat ek ook nie die enigste een is wat ‘n teks lees nie (ten minste sover as wat tradisie oor die Bybel gaan). Dit beteken dat ek aanvaar dat daar ‘n bepaalde wysheid is in die manier hoe mense oor eeue heen tekste gelees het, maar ook dat die herinterpretasie van tekste altyd voortgaan.

Die probleem met die “dwaalleer… dwaalleer…” geroep wat ons tans hoor is dalk deels dat sola scriptura iets gemaak is wat totaal los van die gemeenskap van gelowiges en totaal los van die tradisie van die kerk staan. Sola scriptura word saam met “alleen my interpretasie” ‘n stok waarmee geslaan word. Eintlik word dit maar net die diepe oortuiging dat ek die “wil van God” ken, deurdat ek ‘n interpretasie op die tafel kan sit waarmee alle ander interpretasies tot dwaalleer verklaar kan word.

Die waarheid is egter dat individue nog nooit in die geskiedenis van die kerk bepaal het wat dwaalleer is nie (behalwe natuurlik as hulle deur die kerk aangestel is om dit te doen). Die kerk het dit bepaal. Die kerk het ook nog nooit slegs vir een enkele standpunt ruimte gehad nie, maar altyd vir meerdere opinies. Van Petrus en Paulus, deur die sinoptiese evangelies, deur Nicea, is die kerk nog altyd ‘n breë stroom van standpunte waaraan partymaal grense geplaas word. En partymaal word die grense weer verwerp. Dwaalleer kan uiteindelik net beteken dat jy buite die raamwerk van die kerk beweeg (of van ‘n spesifieke kerk beweeg wanneer dit dan op ‘n punt gedryf word). Dwaalleer kan onmoontlik beteken dat jy nie in lyn met die Bybel is nie. Dit kan net beteken dat jy die Bybel nie meer binne die raamwerk van die kerk lees nie. Die Bybel gaan immers nie ‘n eie interpretasie gee nie, slegs mense kan die Bybel interpreteer, en slegs wanneer dit buite die kerk se raamwerk val kan ons besluit iemand is besig met dwaalleer.

As dit oor dwaalleer gaan is dit sinneloos dat ons aanhou om met ‘n paar individue te stry oor wat die “korrekte” interpretasie van die Bybel is. As ons geforseer word om oor dwaalleer te praat dan gaan dit suiwer oor of iemand binne die raamwerk van die kerk beweeg. En die kerk se raamwerk is telkens maar dat daar ‘n verskeidenheid van moontlikhede is. Ja, selfs wanneer die kerk ‘n spesifieke standpunt het, was daar nog altyd ‘n breër raamwerk waarbinne ruimte gemaak is vir ander standpunte. Ons eintlike gesprek is maar net die vraag of teoloë en predikante binne die raamwerk van die kerk val. Indien wel, dan hou ons aan om met mekaar te stoei oor hoe hierdie raamwerk moet verander. Ons vorm saam verder aan die tradisie.

En as jy roep “dwaalleer… dwaalleer…” en die kerk stem nie met jou saam nie? Wel, dit lyk my dan moet jy of jou standpunt verander (of ten minste verbreed sodat daar vir ander standpunte ook ruimte is), of die kerk verlaat, of ander in ontevredenheid (dalk selfs woede) voortleef. As ek die storie so kyk het ons ‘n paar lidmate wat vir die derde opsie gekies het. Ons sal hulle seker altyd tussen ons hê, maar ons hoef onsself seker nie altyd deur hulle te laat ontstel nie?


‘n agenda vir ‘n post-vingerwys-kerk

April 26, 2012

Verskeie predikante kan stories vertel van daai vriend wat hulle op fakulteit gehad het met wie hulle heeltyd gestry het. Ek het ook so vriend gehad. Ek dink ons het begin stry die derde week van ons studies in die Dogmatiek klas, en ek dink ons stry nogsteeds alhoewel minder (tog nie omdat ons minder verskil nie).

In daai tyd toe mense petisies geteken het het ons opgehou praat.Ons het nooit wat ek kon onthou baklei oor wat aan die gebeur was in die fakulteit nie, dit was asof ons net ‘n stille ooreenkoms gemaak het dat dit beter vir ons vriendskap is as ons liewers nie met mekaar praat nie. Ons het nie saamgestem oor wat aan die gebeur was nie. Ons het diep verskil. So ons het maar liewers mekaar vermy.

Ons het ook verskil oor die hantering van die Ferdie Mulder sage, maar nadat Ferdie die kampus verlaat het, het ons eendag weer gepraat. Dit moes kom, osn moes die waters van ons vriendskap weer toets. Ons het steeds verskil, diep verskil. Maar daar was die moment toe ons nie verskil het nie: ons het beide ten diepste geglo dat die manier hoe miljoene onder armoede ly teen die wil van God was, en dat ons ‘n roeping het om ‘n beter wêreld te help vorm.

Deur die jare was daar eintlik baie waaroor ons saamgestem het. Ons het ‘n liefde vir die skepping gedeel, en geglo dat die manier waarop mense hierdie skepping verwoes is verkeerd. Ons het beide geglo dat dit beteken ons word geroep om ‘n eenvoudiger leefstyl te leef, want ons is immers volgelinge van Jesus.

Dalk het ons dit ook gedeel: dat ons beide Jesus ernstig opgeneem het. Ons het beide geglo dat as Jesus gesê het ons moet ons vyande liefhê, dan is dit belangrik om dit na te volg.

In die laaste jare van ons studies, en die eerste jare daarna, het ons minder gestry. Nie omdat ons minder verskil het nie! Ons verskil steeds (laaste keer wat ek gecheck het) diep oor die dinosourusse en die vloed en allerhande derglike dinge (dinge wat eintlik vir ons beide diep belangrik is). Dis nie net dat ons beide besef het daar is iets groter as ons verskille is nie, ons stry nog van tyd tot tyd. Maar dalk het ons geleer om ons verskille te waardeer, om die manier waarop die een die ander forseer om dieper te dink oor ons eie vooronderstellinge ernstig op te neem. Dieper as dit, het ons egter wel geleer dat daar iets belangriker is as waaroor ons verskil: hoe ons leef, en hierin het ons voortgegaan om mekaar te vorm.

Elke keer as ek hoor dat ons eers konsensus oor die Bybel moet kry voor ons oor ander dinge kan praat dan dink ek aan my vriend. Elke keer as ek hoor ons moet eers konsensus oor die hel, of die duiwel, of seks kry voor ons oor die diep vrae wat voor ons samelewing lê kan praat dan dink ek aan my vriend. En eintlik aan baie vriende. Want die waarheid is, massas Christene in gemeentes kry reg om saam te worstel oor die moeilikste vrae wat ons wêreld elke dag bedreig, al sukkel hulle om konsensus te kry oor hierdie of daardie perikoop.

Ek kan nie dink dat die kerk waarin ek in die toekoms gaan wees nie my vriend insluit nie. Ek dink hy voel dieselfde (al het hy een keer toe ek hom op die spot gesit het gesê hy sal wel sy stem teen my lig as ek dwaal, maar ons sal nogsteeds kuier daarna). En ek kan nie dink dat die huidige gesprek wat so publiek is, die gesprek is waaroor vriende wat diep verskil praat nie. Ons praat oor ons kinders, oor die wêreld waarin hulle gaan grootword, en oor hoe ons kan saamwerk sodat hierdie wêreld meer sal lyk soos ons glo God se droom daarvoor is. En dit is waaroor ek wil praat! Dit is waaroor ek gaan praat! Hopelik saam met my vriende wat die Bybel radikaal anders as ek lees.

So my vriend, as jy hierdie lees, jy weet wie jy is: ons moet nog iewers boeke terugruil en op ‘n Sondag middag ‘n hoendertjie braai…