Dis dalk tyd om weer te dink oor godsdiens in skole

September 2, 2014

Dalk moet ek eers dit sê: ek is nie gekant teen godsdiens in skole nie. Ek dink ons gaan uiters knap onderwysers verloor as ons ‘n kliniese verdeling tussen geloof en lewe in die klaskamer wil inbring. Ek dink verder dat een of ander hofbevel wat godsdiens volledig uit skole gaan verban bloot die effek gaan hê dat Christene (en waarskynlik mense met ander godsdienstige oortuigings) hulle kinders na “godsdienstige skole” gaan neem, en dat dit die uiters belangrike publieke ruimtes waar kinders leer om met mense wat anders as hulle glo saam te leef gaan ondergrawe. Maar ek dink ook dat ons ernstige vrae moet vra oor die posisie van bevoorregting wat die kerk by skole veronderstel, wat die NG Kerk spesifiek by skole veronderstel (of veronderstel het), en wat sekere Charismatiese kerke vandag veronderstel.

Toe ek nog ‘n “jeugdominee” was moes ek jaarliks deur ‘n gesprek sit waarin my onbetrokkenheid by die plaaslike skole onder oë geneem is. Die onbetrokkenheid het basies daarop neergekom dat ek nie saalopeninge waargeneem het nie. Dit het al gebeur, twee keer wat ek te vinnig ja gesê het, en die ander keer by een spesifieke skool waar ek wel myself beskikbaar gemaak het, vir redes wat nie nou belangrik is nie, maar dit was ‘n uitsondering.

Daar was twee punte agter hierdie houding. Die een gaan oor ons verhouding met ander godsdienste, die ander oor ons verhouding met ander kerke.

Die makliker een om te verduidelik is waarskynlik ons verhouding met ander godsdienste en mense wat nie godsdienstig is nie. Buiten dat ek dink ons ‘n goeie godsdienstige kurikulum nodig het waaroor almal kan saamstem, en buiten daarvoor dat ek bo-op dit ook ruimte het vir skole om ‘n eie godsdienstige beleid op te stel wat die godsdienstige oortuigings van die meerderheid leerlinge in ag neem, dink ek ons het ‘n ongelooflike verantwoordelikheid teenoor alle leerlinge om dieselfde behandel te word.

Dit beteken dat ‘n skool soos die een waarin ek skoolgegaan het, waar die meerderheid Christene is maar daar ook ‘n redelike groep Moslems is, ernstig moet oorweer om die Imam ook van tyd tot tyd te vra om die skoolopening te doen. Ek pleit daarvoor as ‘n Christelike teoloog, predikant en ouer. Ek dink ons kinders het nodig om te leer om met respek om te gaan met mense van alle godsdienstige oortuigings. Ek dink ons kinders het nodig om te hoor dat daar wysheid in Islam is waaruit die samelewing kan tap. Ek dink ons kinders het nodig om te leer om op ‘n liefdevolle en leerbare manier met Moslems om te gaan indien hulle getroue Christene wil wees in ons wêreld vandag.

Dit beteken ook dat ons godsdienstige optrede nie teenoor kinders mag diskrimineer nie. Nooit nie. Diskriminasie het natuurlik baie grys areas, en dis gewoonlik hierdie grys areas waar die probleme lê, maar ons moet begin dink oor hoe ons godsdienstige byeenkomste ‘n nie-amptelike vereiste word vir verkiesing op ‘n leerlingraad of ander liggaam.

Maar die tweede punt gaan ons dlak help om meer van die probleme raak te sien: ons verhouding tussen kerke moet op ‘n manier verreken word in ons verhouding met skole. So hard soos wat ek wil pleit dat my eie kinders ‘n gesonde en ietwat gekontroleerde blootstelling aan verskillende godsdienste sal kry wanneer hulle eendag in ‘n publieke skool van hierdie land is, so hard sal ek baklei wanneer die skool gebruik word om my kinders te bekeer na hierdie of daardie oortuiging toe. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is nie gekant teen bekering nie, en dink ons moet volledig ruimte maak daarvoor dat mense ook van godsdienstige oortuiging kan verander, maar wanneer die skool ‘n captured audience word, en meer nog wanneer die magsverhoudinge waarin onderwysers teenoor kinders staan ter sprake kom, dan mag ons dit nie gebruik as evangelisasieruimte nie.

Daar is ‘n rede waarom ek dit onder my tweede punt sit. Ek dink ‘n groot deel van die probleme hiermee gebeur tussen kerke. Ons gebruik die ruimtes van publieke skole om dogmatiese gevegte in die lewens van kinders in te dra. Natuurlik dink die onderwysers en vrywillige ouers (my probleem is nie met kinders wat as gelykes op skoolterreine teologiese debatte voer nie, of selfs mekaar van teologiese standpunte oortuig nie, ek dink dit is deel van die lewe) wat hierby betrokke is nie dat hulle met “dogmatiese gevegte” besig is nie, hulle is mos bloot besig om die “Bybelse standpunt” te verkondig. Ek sal uiters ontsteld wees as my seuns eendag van die skool af kom en ek moet uitvind ‘n onderwyser of ander volwassene het die skool gebruik om vir hulle te vertel dat die kerk waarvan hulle deel is eintlik verkeerd is. Ek wil vir alle ouers en kinders, ook die wat nie godsdienstig is nie, respekteer op dieselfde manier waarop ek hoop my kinders respekteer sal word.

Ek dink dat Christene, as die meerderheid-godsdiens in Suid Afrika, het ‘n eerste verantwoordelikheid om aan te dring daarop dat skole nie ruimtes word vir ons godsdienstige gevegte nie. Waar dit gebeur moet ons as kerk protesteer.

Dit beteken waarskynlik dat ek dink die verantwoordelike ding vir kerke om te doen is om te erken dat daar waarskynlik sekere praktyke is wat iewers in die toekoms in ‘n hof gaan verskyn waarmee ons ook ongemaklik is, en wat ons ook dink beter bestuur moet word in skole. Ek dink ons kan hierop kritiek lewer sonder om bloot ‘n bepaalde weergawe van nie-godsdienstigheid te onderskryf. In kort: ek dink ons kan alle kante van die lewe, ook die godsdienstige, in skole erken, en dit op so ‘n manier doen waar ons kinders, ook Christen kinders, met ‘n waardering en ‘n respek vir mense van alle godsdienstige oortuiginge grootmaak.

Advertisements

godsdienstige toleransie en ons skole

Augustus 23, 2010

Ek wil meer en meer lag oor hoe soveel mense hier in my Pretoria-Christendom-konteks (Ek sien CUM het die tatoo-parlor in Menlyn oorgeneem, dus groei die Christendom steeds rustig voort soos dit my lyk) gelyktydig vertel dat die heidendom besig is om oor ons skole te spoel, en terselftertyd dit as vanselfsprekend aanvaar dat ons skole tog steeds mooi Christelik (en indien enigsins moontlik sal Christelik Nasionaal nog beter wees) hoort te wees. Dis nie ‘n fyn beredeneerde standpunt, waar ons alle kante van die saak opgeweeg het en uiteindelik besluit het dat Christelike publieke skole die ideaal is, of waar ons onder die nuwe wetgewing mooi gaan sit en dink het oor ons godsdiensbeleid en hoe ons die godsdienstige pluralisme gaan hanteer in ‘n domnante Christelike skool nie. Nee, dis bloot net: Ons skool sal, moet, en gaan “Christelik” (en indien moontlik Christelike Nasionaal) bly.

Ek sou seker nou ‘n lekker sousige post kon skryf hieroor, maar ek sal myself daarvan weerhou. Eerder wil ek darem net my waardering teenoor elke Moslem, Hindu, Boeddis, Taois, Ateïs, Agnostikus, aanbidder van Thor (ja, ek het al op so een afgekom onder tieners) ens in die ouderdomsgroep 14-18 uitspreek. Nee, ek stem nie met julle saam nie, ek verstaan God deur die bril van Israel, Jesus en die kerk, maar ek dink ons maak te min daarvan om vir julle dankie te sê vir die toleransie wat julle in “ou model-C, sogenaamde “x”-Christelike Nasionale, skole uitleef. Ek weet daar is uitsonderings, maar ek hoor selde dat iemand sê: “sjoe, dis nogals ongelooflik, die Moslems, Hindus ens in ons skool skop nie scenes op oor skoolopeninge uit die Bybel nie”.

Die Suid Afrikaanse konstitusie maak ruimte vir godsdiens in skole, en ek stem heeltemal saam met daardie beleid. Ek dink dit sal beide hartseer en oneerlik (kyk my response op George Claasen laasjaar) wees as ons dit moet verloor. En ek weet dat ons tradisioneel-wit skole (en meeste ander ook) primêr Christelik is (ons kan dalk praat oor die feit dat van ons skole nog so sterk wit is, maar ons moet ruimte gee aan dominant Christelike skole om hierdie godsdiens uit te leef). Maar soos die saying gaan: “give credit where credit is due”, en ek dink ons kan tog die toleransie vanaf ander godsdiente wat teenwoordig is in dominant Christelike skole raaksien en positief beoordeel. Ek wonder net partymaal of ons in die kerk dieselfde stuk toleransie sal kan openbaar wat ons van ander verwag om aan ons te toon indien ons kinders in skole sou kom wat nie meer dominant Christelik is nie?


Dan Denette en ‘n konstruktiewe voorstel vir godsdiens in skole

September 28, 2009

Ek voel myself tog verplig om ‘n konstruktiewe voorstel te probeer maak vir die hele godsdiens-in-skole gesprek wat op die oomblik aangaan. Ek het natuurlik persoonlike belang by hierdie saak. Ek is ‘n teoloog, en ‘n jeug-predikant. My vriende range van agnostici, ateïste, en verskeie vorme van Christene. My vriende is nou in hulle 20’s, en beide ek en hulle gaan oor 10/15 jaar kinders in skole van ons land hê, want vir basicly al my vriende is waai uit hierdie land nie ‘n opsie nie.

Ek wil vanuit my teologiese agtergrond ‘n bydrae maak. Dit is moontlik dat die voorstel op plekke met die huidige grondwet kan clash, ek is nie ‘n kenner van die grondwet nie, maar weet dat die grondwet verdraagsaamheid tussen mense wil aanmoedig, en ek dink dit vereis ‘n bepaalde teologiese kyk – dus impliseer ek dat sekere teologiese vooronderstellings tot onverdraagsaamheid sal lei. Sou dit met die grondwet clash dink ek grondwet, teologie, en menigte ander rolspelers sal moet saam gesels om te soek vir ‘n benadering wat in ‘n publieke ruimte sal werk.

Binne die huidige gesprek dink ek Dan Dennett se argument by 2006 se TED kan ons help met konstruktiewe gesprek. Kyk daarna, want die res van die post gaan daarop voortbou. Onder is net die gedeelte van die talk waarna ek hier wil verwys, maar die hele talk kan hier afgelaai word.

Nelus Niemandt het op my vorige post gereageer op facebook met die opmerking:

Die vraag is dalk of enige skool hoegenaamd van opvoeding kan praat en opvoed in die ware, holistiese sin van die woord, as godsdiens weggewens word? Selfs ‘n keuse om te swyg of vir atiesme is ‘n godsdienstige keuse. Hoe sou skole lyk as daar baie en respekvol oor godsdiens gepraat word?

Om godsdiens uit skole te wil verban ontken die feit dat godsdiens inherent deel van ons samelewing is. Dit is ‘n mag wat tot van die grootste humanitêre werk wat aan die gang is ingespan kan word, en ‘n mag wat tot ongelooflike geweld ingespan kan word. Dit vorm etiek, en word met tye gebruik om onetiese gedrag te regverdig. Godsdiens bly steeds ‘n bepalende faktor in die wêreldgeskiedenis, en ook in die geskiedenis van samelewings, en die meerderheid van individue.

Die moeilikheid met Dennette se voorstel is natuurlik die optimisme oor feite. Wie bepaal die feite? Watter feite? Dit gaan ‘n ongelooflike komplekse kurrikulum wees om aanmekaar te sit, maar ek dink ‘n uiters noodsaaklike een. As teoloog, en jeug-predikant, sal ek nog verdere redes wil byvoeg. Eerstens op grond van die ongelooflike hoeveelheid vrae wat onder jongmense bestaan oor verskillende godsdienste. As skole nie hierdie taak gaan opneem om jongmense ‘n prentjie te gee van hoe die wêreld van die godsdienste lyk nie, dan moet die kerk definitief ernstig daaraan begin aandag gee. Tweedens het die kerk uit sy eie geskiedenis die belangrikheid geleer van konstruktiewe gesprek met hulle van ander godsdienstige agtergronde: ons mag nie die onverdraagsaamheid tussen godsdiente, of tussen godsdienstiges en nie-godsdienstiges aanblaas nie, ons moet groter begrip kweek, sonder om verskille te relativeer.

Die kompleksiteit in ag geneem, en ook die feit dat so ‘n kurrikulum noodsaaklik is, wil ek nog ‘n voorstel maak. Eerstens dat ons nie net die verhale/feite van verskillende godsdienste moet leer vir kinders nie, maar ook op een of ander manier, dalk later in die kurrikulum, algemene inligting oor paradigmas (Thomas Kuhn) of wêreldbeelde vir kinders sal gee. Die gevaar van totaliserende ideologieë moet vir hulle geleer word, en ook hoe vooronderstellings funksioneer.

Binne ons skool sisteem moet ons dan besef dat elke onderwyser nie anders kan as om sy/haar eie keuse rondom geloofsoortuiging in die klas indra. Ouers van ‘n skool kies die algemene approach van die skool, maar kan nie ‘n enkele onderwyser in enige geloofsoortuiging in forseer nie. Alle kinders leer dus van alle godsdienste, maar gaan ook hoor hoe verskillende onderwysers keuses maak binne hierdie wêreld van godsdienstigheid/nie-godsdienstigheid. As ek kan aansluit by ‘n argument op ‘n ander blog van my rondom hoe ons teologie moet funksioneer: ons moet kinders help om self-krities te kan funksioneer, om die voorlopigheid van hulle eie standpunt (hetsy godsdienstig of nie-godsdienstig) te verstaan, maar om tog met volle oortuiging te kan kies vir ‘n verstaan van geloof/ongeloof wat hulle kan help om nie net sin te maak van hulle wêreld nie, maar ook om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Onderwysers moet nie minder oor godsdiens, en selfs hulle eie oortuigings, praat nie, maar leer hoe om op ‘n respekvolle wyse aan die publieke gesprek oor godsdiens, en tussen godsdienste, deel te neem, en ‘n voorbeeld wees vir ons kinders.

Idealisties? Moontlik. Maar ek sal graag hierdie pad saam met onderwysers wil stap, waar ons hulle kan help om gesond te ontwikkel, en dan meer van hulleself in die klas weg te gee, nie minder nie.


‘n briefie aan George Claasen

September 23, 2009

George. Ons ken mekaar nie. Ek kan ook nie onthou wanneer ek die eerste keer iets van jou gelees het nie, maar ek onthou wel dat jou naam oor die algemeen positiewe herinnerings oproep. Toe ek Sondag die Rapport opskrifte sien, was ek uit die aars van my agtergrond, opleiding en beroep geïnteresseerd om te hoor waaroor dit gaan. Toe ek die artikel lees was ek… ek weet nie, ek dink ek was kwaad, met ek “agge nee” gevoel daarmee saam. Ek was aanvanklik maar half skepties gewees, ek glo jy sal bly wees om dit te hoor, want Rapport het nou nie juis ‘n track record van ongelooflike beriggewing nie, hulle het mos maar ‘n manier om dinge bietjie met sensasie te belaai jy weet. So ek het jou blog gaan lees.

Ek moet begin deur te sê ek voel jou pyn. Ek het nie kinders nie, maar daar is wel baie kinders in my gemeente, en ek gesels graag met hulle. Ek raak bekommerd as ek van die teologiese uitsprake hoor wat hulle maak, ek raak baie bekommerd as ek iets optel van die hermeneutiese bril waarmee hulle na die Bybel kyk. Ek dink dit is gevaarlik. En ek vermoed dat die CSV’s by die skole, dalk selfs onderwysers, moontlik kan bydrae daartoe. Jy sien, as teoloog is ek geskool in histories kritiese eksegese, en sekere vorme van ‘n postmoderne hermeneutiek. Ek het dus ‘n redelike uitgewerkte verstaan van realiteit, transendensie, “Heilige boeke” en hulle ontstaan, en hoe ons tewerk moet gaan met antieke bronne om betekenis in ‘n post-moderne wêreld te vind. Ek lei af dat jy self redelike goed deurdagte idees het op bogenoemde sake. En verstaan jou ongemak wanneer mense daarvan verskil.

Baie van die goed wat jy noem laat my baie ongemaklik. Wanneer godsdienstige rituele na publieke ruimtes geneem word waar dit duidelik kan word wie nie daaraan deelneem nie, is ek nie net ongemaklik a.g.v my agtergrond in Etiek en respek vir Menseregte nie, maar is ek ook as teoloog ongemaklik, omdat ek dink sulke praktyke uit ‘n Konstantynse kerkverstaan kom wat die teologie ernstige vrae oor moet begin vra. Dit verwys nou spesifiek na jou ongemak met die gebeure in laerskool Stellenbosch se “Jesus-week”.

Maar tog voel ek heel ongemaklik met wat ek lees, en, ek moet erken, met tye selfs kwaad. Dalk moet ek by die kwaad begin. Ek verstaan jou dalk verkeerd, en sal dit dan graag wil weet, maar dit voel vir my of jy alle godsdiens oor dieselfde kam skeer. Dit voel of die kompleksiteit van verskillende godsbeelde, wêreldbeelde, en hermeneutiese raamwerke geïgnoreer word, en die wêreld in twee kampe verdeel word: Die godsdienstiges en die ateïste. Dan skuif die argument mos na die openbare uitleef van geloof . En as ek jou nou reg verstaan het, dan raak ek heel ongemaklik.

Dalk is die ding dat ek baie meer holisties kyk na onderwysers. Hulle is nie masjiene wat feite oordra nie. Hulle is mense met spesifieke idees rondom hoe die wêreld lyk en werk, wat belangrik is, etiek, godsdiens, transendensie, geloof, kultuur, ‘n verstaan van die geskiedenis vna Suid Afrika. Al hierdie sake gaan uitkom. As hulle nie na “God” mag verwys nie, mag hulle dan ook nie na enige Utilitarian etiese argumente verwys nie? Ek bedoel, daar is verskeie ouers wat immers nie met vorme van Utilitarianism gaan saamstem nie? As hulle nie mag Bybel lees nie, dan sekerlik ook nie Plato of Freud nie, siende dat beide sterk teenkanting gehad het op sekere tye, en nie een van die twee voorgeskryf word in die skool sillabus nie. Ek weet nie of dit die tipe onderwysers is wat ek soek nie. Ek dink ook nie dit was die onderwysers wat my die meeste gevorm het nie. Nee, die onderwysers wat my die meeste gevorm het, het hulle hele wese in die klas ingedra, hulle filosofie, waardes, vooronderstellings, en was boonop mense wat gesond en gebalanseerd ontwikkel het (ons het die juffrou wat net heeltyd Bybelversies gequote het vinnig-vinnig leer ignoreer).

As die probleem spesifieke gevalle is waar godsdiens op ‘n manier gebruik word wat ander kinders manipuleer, dan sal ek jou ondersteun in hierdie saak. Ek weet steeds nie of die hof die plek is om dit te beslis nie, siende dat ek vrees dat so ‘n aksie fundamentalisme net nog verder gaan laat opvlam, maar in die saak sal ek jou ondersteun. Maar as hierdie ‘n poging is om die volledige menswees van onderwysers uit die klas te haal, sodat net die kliniese opvoedkundige oorbly, of as dit ‘n poging is om enige blootstelling aan godsdiens uit skole te haal, dan raak ek ongemaklik.

So, na ek hierdie geskryf het, en my gedagtes hopelik nou meer georden is, dalk net die vraag: Wil jy nie net bietjie meer duidelik wees nie? Is alle godsdiens in skole ‘n probleem? Is alle verwysings na God of enige vorm van transendansie deur bestuursliggame en amptelike dokumente van skole waarteen julle wil stem dikmaak? Of gaan dit oor manipulasie van kinders, wat deur godsdiens, kultuur, filosofie, ja, selfs deur die wetenskap en opvoedkunde, kan plaasvind? Is daar vir jou nog ruimte vir onderwysers om volledig mens te wees, wat hulle hele kultuur-agtergrond, etiese-agtergrond en geloofs-agtergrond deel van hulle omgang met kinders maak? Of moet dit alles by die huis gelos word wanneer die skoolgronde betreë word?