oor homoseksuele verhoudinge en kerklike ondersteuninsnetwerke

Julie 30, 2015

In 2003 was ek was ‘n groen eerstejaar teologiese student wat weens ‘n interessante loop van omstandighede besluit het om myself met groot moeite te laat verplaas van Sonop na Taaibos. Taaibos was my huis vir die volgende 5 jaar. Kelder 3 my eie privaat ruimte waar ek weer mens geword het. Op Kelder was daar diep kamermaat-skappe. Partners wat twee-twee deur die koshuis beweeg het. Jou kamermaat was die een wat agter jou moes kyk.

My kamermaat was gay. Ek het dit nie aanvanklik geweet nie. Ek dink nie hy het dit heeltemal geweet toe ek daar aangekom het nie. Maar teen halfjaar was dit vir hom duidelik wie hy was en dat hy vrede met homself moet maak. Hierdie vrede het beteken dat hy stadig, daar waar dit veilig was, moes begin praat oor wie hy was. In Kelder 3 was dit veilig.

Ons het diep paaie gestap. Na ons eerstejaar, toe ons enkelkamers kon kry, het ons kamers langs mekaar gekies, en so het ons vir nog twee jaar daarna langs mekaar gebly, tot hy uiteindelik uit die koshuis getrek het.

In 2004 het die Algemene Sinode van die NG Kerk verskoning gevra vir die pyn en onreg wat ons aan homoseksuele persone en hulle geliefdes veroorsaak het. Die presiese woorde was:

Dit is ook die roeping van die kerk om sonder vooroordeel, bewus van ons eie gebro­ken­­heid, ons lidmate op te roep en te begelei, om in waarheid met liefde en deernis voor God met mekaar om te gaan. In die lig hiervan vra die Alge­mene Sinode verskoning aan alle homo­seksueles en hulle fami­lies, binne en buite die kerk, vir elke geval waar die kerk sulke mense in die verlede, onder andere as gevolg van ’n gebrek aan leiding, seer­gemaak en veronreg het en waar God se liefde nie in die kerk se optrede raakgesien kan word nie.

Die Reformerende Kerk het die Sondag na die Algemene Sinode ‘n erediens gereël om erkenning te gee aan die verskoning, om dit te ontvang en in geloofsonderskeiding saam te dink oor hoe Christened an reageer op ‘n verskoning. My oud kamermaat het my saamgenooi kerk toe die aand. Ek het gegaan. Hulle het die verskoning aanvaar.

Tydens koffie na die tyd het ek skielik oogkontak gemaak met ‘n gesig wat ek geken het. ‘n Senior teologie student. Ons het nog nooit gepraat nie, ek het nie sy naam geken nie, en hy het nie myne geken nie, maar ons het mekaar se gesigte geken. Awkward moment, soos jy dalk kan dink. Dis 2004 en twee teologiese studente loop mekaar in ‘n gay kerk raak. Ons het toe maar gereël om later in die week te gaan koffie drink, sonder dat enige een van ons geweet het wat die ander se storie met die daarwees was.

Dit was die Donderdag, ek dink, en ons het maar eerder die privaatheid van die Aula se grasperk en ‘n koeldrank gekies, coffeeshops se tafeltjies is bietjie naby mekaar. Dit kom toe uit dat beide van ons die erediens net besoek het om deel te naam aan hierdie reaksie op die Algemene Sinode se verskoning. Maar ons stories was tog baie verskillend. Ek is heteroseksueel, behalwe nou as ‘n ander goeie vriend van my reg was toe hy altyd gesê het “ons is elkeen maar so bietjie gay” (dis mos nou maar deel van ‘n baie tegniese debat, maar dit maak eintlik nie saak vir die storie nie). Maar die senior student wat ek by die kerk raakgeloop het was op daardie stadium al vir 4 jaar in ‘n homoseksuele verhouding.

Ek het in die volgende paar minute meer geleer oor die kerk se reis rondom homoseksuele verhoudings as wat ek waarskynlik in die 10 jaar daarna geleer het. Hy het my vertel dat hy en sy lewensmaat nie in die Reformerende Kerk is nie, omdat hulle nie dink dis ideaal dat daar ‘n spesiale “gay-kerk” moet wees nie. Hulle is maar net lidmate van die kerk en wil net dood normaal deel van ‘n “gewone gemeente” (wat dit nou ookal is) wil word. Hulle het op daardie stadium by ‘n gemeente daar in die ooste van Pretoria ingeskakel… nee, nie die grootste een nie… (later jare toe ek predikant in Kameeldrif was sou ek leer dat die NG Kerk inderdaad homoseksuele lidmate het wat dood rustig as “gewone lidmate” – en baie keer as “baie aktiewe lidmate” soos dominees partymaal praat, inskakel).

Ek het meer geleer. Hierdie student, met wie ek nie kan onthou dat ek ooit weer gepraat het daarna nie, het my vertel dat dit moeilik is om ‘n homoseksuele Christen te wees, omdat dekades of meer waarin homoseksuele gedrag gestigmatiseer is ‘n patroon geskep het waarin homoseksuele persone volledig anoniem geleef het. Soveel so dat hulle nie eens hulle werklike identiteite sou openbaar aan ander homoseksuele persone nie, uit vrees dat dit sal “uitkom”. Maar om ‘n Christen te wees beteken dat ons deur Jesus se oë na verhoudings kyk, dit beteken dat ons in verhoudings staan wat deur liefde gedra word, verhoudings wat die beste in mekaar uitbring. Hierdie anonieme seksuele verhoudinge kon dit duidelik nie doen nie.

Toe die NG Kerk oor huwelike gedink het ‘n klompie jare terug het James Kirkpatrick eenmaal by die gemeente waar ek toe was kom praat oor die huwelik. Dit was treffend gewees (James het ‘n manier met woorde, en as hy praat is dit baie keer heel treffend). Treffend genoeg dat ek 6 blogposts uitgeryg het daarna (ek het makliker geblog daai tyd). Wat by my gebly het na daai dag was dat huwelike vir die kerk belangrik is, belangrik genoeg dat ons moeite doen om dit te beskerm. Ons beskerm dit deur families bymekaar te bring en ‘n net rondom hierdie huwelik te span, deur die verhouding liturgies en godsdienstig betekenis te gee, deur huwelikskontrakte en landswette te ondersteun wat in tye wanneer die verhouding nie so lekker gaan nie hierdie verhouding vashou en weer help regmaak.

In ‘n praatjie van Stanley Hauerwas wat ek jare terug geluister het maak hy die opmerking oor huwelike dat mense wat sê “till death do us part” nie eintlik weet waarvan hulle praat nie: daarom trou ons in die kerk. Ons het hierdie gemeenskap van gelowiges (en familie, vriende, selfs prokureurs en regters) nodig om hierdie verhouding te help dra, want menslik gaan ons dit nie maak werk vir ‘n leeftyd nie.

Ek maak al hierdie draaie om by een van die mees brutale goed wat ek in die laaste weke weer raakgelees het te noem. Die sirkulêre logika wat hier en daar kop uitsteek loop iets soos volg: homoseksuele persone is wesenlik promisku (en promiskuïteit beteken baie keer bloot meerdere seksuele partners oor ‘n tyd, niks anders nie), dis ‘n bewys dat permanente homoseksuele verhoudinge onmoontlik is, en daarom kan die kerk nie ruimte maak om permanente homoseksuele verhoudinge te dra en te verbind nie, aangesien dit elkgeval onmoontlik is vir mense wat inherent promisku is.

Dalk is ek ook inherent promisku. Ek weet nie. Wie sou ek gewees het sonder die gemeenskap, in my geval sonder die kerk, wat my oor dekades heen gevorm het om in verhouding te wees? Nie net dekades nie, die kerk wat oor eeue heen mekaar geleer het wat ‘n liefdevolle huwelik beteken. Die kerk (en familie en vriende) wat die dag wanneer die papaja die waaier tref (hopelik) gaan inkom en ons help om die stukke op te tel en die verhouding aanmekaar te hou. Met dit alles score heteroseksuele verhouding nie aldag baie hoog op die monogame skaal nie.

Maar hier is die afskuwelike van waar ons is: in ‘n wêreld wat nog bykans glad nie gedink het oor die tipe ondersteuningsnetwerke wat nodig is vir permanente homoseksuele verhoudinge nie, en die kerk natuurlik ook nie, wil ons werklik deelneem aan beskuldiging teenoor homoseksuele verhoudinge wat nie permanent bly nie sonder dat ons werk maak van hoe ‘n gemeenskap lyk wat hierdie permanente verhoudinge kan ondersteun.

Enige predikant wat net ‘n klein bietjie pastorale ervaring het sal vir jou kan vertel dat huwelike wat teen die stroom op gaan (mense van verskillende kante van die treinspoor in ‘n klas-bepaalde samelewing, mense van verskillende rasse in ‘n gerasde samelewing, mense van verskillende godsdienste, of in sekere gevalle selfs mense van verskillende opleidingsvlakke). Huwelike waaroor daar gefrons word het meer, nie minder nie, ondersteuningsnetwerke nodig as ons wil hê dit moet werk. En dis die brutaliteit wat ek rondom my sien: ons doen nie die nodige werk om hierdie ondersteuningsnetwerke te vorm nie, meer nog, ons wil selfs die bietjie wat bestaan met tye verban en afbreek, en dan wil ons vinger wys wanneer homoseksuele verhoudinge nie die nodige permanensie toon wat vir ons die ideaal is nie.

Toe ek en my vrou besluit het dat ons vir die res van ons lewe ‘n lewe saam gaan bou het ons nie geweet wat ons vir mekaar sê nie. Ons het nie geweet van die krisis wat ons gaan beleef toe … of … of … gebeur het nie (ek hoef nie in te vul nie, elke huwelik het mos sy storie). Maar ons het in die kerk getrou. Ons het ‘n prokureur gaan sien om ‘n kontrak op te stel. Ons het vriende en familie bymekaargemaak en vir hulle gesê “help ons”. En waar ons sou wees sonder dit, hetsy of ons nog bymekaar sou wees of ons nog seksueel in slegs een verhouding sou gestaan het, weet ek nie.

Advertisements

Los die Bybel en praat met die gays

Desember 8, 2011

Tot ‘n groot mate was ek ‘n unlikely kandidaat om my mond groot oop te maak oor die onderdrukking van mense op grond van seksualiteit. Vir die eerste 18 jaar van my lewe vermoed ek het ek nooit regtig daaroor gedink nie. As jy my sou vra of of homoseksualiteit sonde is, sou ek sonder twyfel gesê het “ja”, maar niemand het my gevra nie, en ek het nie nodig gehad om daaroor te dink nie. Ek het nie die 7 bybelversies op ‘n ry afgeken wat daaroor sou praat nie (ek sou moontlik nie een hier uit my geheue kon haal nie, en in alle eerlikheid, as ek dit nou moet doen sal ek dit maar moet google, ek weet steeds nie waar almal is nie), dit was bloot ‘n non-issue.

Diep in my matriek-jaar in, ek was al oppad om te gaan teologie swot, het ‘n baie goeie vriend aangedui dat hy graag met my sal wil praat. Hy het iemand nodig gehad om aan te vertel dat hy met homoseksualiteit worstel (ek gebruik sy woorde), maar dat hy tot die oortuiging gekom het dit is verkeerd, en dat hy sy lewe wil verander. Laaste keer wat ons gepraat het was hy baie gelukkig met sy keuse, in ‘n heteroseksuele verhouding sover ek onthou, en het die lewe vir hom aangegaan.

‘n Jaar later was ek ‘n jong teologie student. Oor die algemeen redelik konserwatief. Een van my beste vriende is aangeraai dat hy moet begin praat oor die feit dat hy homoseksueel is, en ek en hy het begin praat. Hy het nie gevra hoe ek hierdie of daardie teks interpreteer nie, hy het nie gevra wat my siening is nie, hy het bloot gevra of ons vriendskap van so aard is dat ons mekaar vertrou. Ons het laat aande gepraat. Ek onthou hoe hy my toestemming gegee het om enigiets te vra, en ek het. Stukkie vir stukkie moes ek besef dat hierdie mens wat hier langs my sit nie inpas by die prentjies van gays wat vir my geteken is nie. Een dag het ek hom gevra oor Romeine 1. Sy antwoord wat dat hy nog nooit wanneer hy daardie teks gelees het verstaan het dat dit praat oor hom nie, vir hom het homoseksualiteit immers niks met onnatuurlikheid of seksuele verhoudinge wat nie binne ‘n vertrouensverhouding geskied nie te make nie. Laaste keer wat ek gehoor het was hy gelukkig in ‘n homoseksuele verhouding.

Daar was nog stories, en deurlopend kom daar nog stories. In verhoudinge is ek gevorm en word ek steeds gevorm.

Ek het nog nooit die 7 tekste in detail bestudeer nie. Ek het gesien hoe ons dit as ‘n tipe litmus toets gebruik om te kyk of jy in of uit is (na alle kante van die teologiese spektrum toe), maar dit het vir my maar half vreemd gevoel. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat die Bybel slaafs navolg rondom seksualiteit nie. Iewers, of dit nou by Levitikus of Paulus is (ek bedoel come-on, wie van ons dink regtig dit sou beter gewees het as ons almal liewers selibaat geleef het?) besef almal van ons dat die Bybel in ‘n ander tyd geskryf is, en dat dinge anders werk. Ons forseer nie ‘n vrou wat deur ‘n man verkrag is om met hom te trou nie. Ons gebruik klippe om huise te bou, eerder as om mense daarmee te gooi. So waarom moet homoseksualiteit anders wees?

Dalk was die Bybel vir my belangriker as wat ek ooit sal besef. Party van my minder godsdienstige vriende in die koshuis het my diep verhouding met my gay vriend maar vreemd aangekyk. Maar ek kon nie anders as om om te gee nie. Nie omdat ek oortuig was dat homoseksuele verhoudinge Bybels aanvaarbaar was nie (ek was op daai stadium nie), maar omdat dit ‘n regte mens was. En jy sien, as vroom Christen (vir die wat wonder, daar was so ‘n stadium) is ek geleer mens gee om vir ander. Jy probeer om vir ander respek te hê. En die waarheid is dat ek ‘n paar keer gesien het hoe vroom konserwatiewe Christene met meer respek omgaan met gays as party van die wishy washy liberals wat vertel dat jy maar kan spyker wie jy wil (om Steve Hofmeyr se woorde te gebruik) maar nog nooit die moeite gedoen het om by iemand te gaan sit en hulle storie te luister nie.

Hoe ons die Bybel lees is belangrik, en ek het waardering vir die Bybelwetenskaplikes wat fyn die tekste bestudeer. Maar hierdie debat gaan nie oor die Bybel nie, en hoe vinniger ons dit besef hoe beter. Dit gaan oor mense. As jy die Bybel in die prentjie wil inbring, dan wil ek aanbeveel dat jy dit saam lees. In die NG Kerk het daar op verskeie plekke ‘n gewoonte begin ontstaan om saam die Bybelteks te lees, ‘n gewoonte wat ons by die Algemene Sinode sterk gesien werk het. Die gewoonte dryf my partymaal die mure uit, maar in hierdie geval dink ek moet ons daar begin. Kom ons begin deur Johannes 4 te lees in gemeenskappe waar mense wie se seksualiteit nie dieselfde is nie saam luister. Ons kan nie een dag langer hieroor debat voer sonder om saam met die gay community op reis te gaan nie. Dit is immers hoe ons in die kerk van Jesus Christus moet werk. En dalk sal hierdie reis, om saam met mense wat vir baie van ons partymaal vreemd voel (ja, ook vir baie van ons wat hard sal baklei dat daar ruimte gemaak moet word vir gays, ook ons het nog ‘n lang pad om te stap met ons eie homofobie) meer vir die kerk beteken as die om die regte besluit op papier te neem.

(eintlik dink ek daar is ‘n stap wat hierdie een vooafgaan, maar kom ek stop vir eers hier)