oor homoseksuele verhoudinge en kerklike ondersteuninsnetwerke

Julie 30, 2015

In 2003 was ek was ‘n groen eerstejaar teologiese student wat weens ‘n interessante loop van omstandighede besluit het om myself met groot moeite te laat verplaas van Sonop na Taaibos. Taaibos was my huis vir die volgende 5 jaar. Kelder 3 my eie privaat ruimte waar ek weer mens geword het. Op Kelder was daar diep kamermaat-skappe. Partners wat twee-twee deur die koshuis beweeg het. Jou kamermaat was die een wat agter jou moes kyk.

My kamermaat was gay. Ek het dit nie aanvanklik geweet nie. Ek dink nie hy het dit heeltemal geweet toe ek daar aangekom het nie. Maar teen halfjaar was dit vir hom duidelik wie hy was en dat hy vrede met homself moet maak. Hierdie vrede het beteken dat hy stadig, daar waar dit veilig was, moes begin praat oor wie hy was. In Kelder 3 was dit veilig.

Ons het diep paaie gestap. Na ons eerstejaar, toe ons enkelkamers kon kry, het ons kamers langs mekaar gekies, en so het ons vir nog twee jaar daarna langs mekaar gebly, tot hy uiteindelik uit die koshuis getrek het.

In 2004 het die Algemene Sinode van die NG Kerk verskoning gevra vir die pyn en onreg wat ons aan homoseksuele persone en hulle geliefdes veroorsaak het. Die presiese woorde was:

Dit is ook die roeping van die kerk om sonder vooroordeel, bewus van ons eie gebro­ken­­heid, ons lidmate op te roep en te begelei, om in waarheid met liefde en deernis voor God met mekaar om te gaan. In die lig hiervan vra die Alge­mene Sinode verskoning aan alle homo­seksueles en hulle fami­lies, binne en buite die kerk, vir elke geval waar die kerk sulke mense in die verlede, onder andere as gevolg van ’n gebrek aan leiding, seer­gemaak en veronreg het en waar God se liefde nie in die kerk se optrede raakgesien kan word nie.

Die Reformerende Kerk het die Sondag na die Algemene Sinode ‘n erediens gereël om erkenning te gee aan die verskoning, om dit te ontvang en in geloofsonderskeiding saam te dink oor hoe Christened an reageer op ‘n verskoning. My oud kamermaat het my saamgenooi kerk toe die aand. Ek het gegaan. Hulle het die verskoning aanvaar.

Tydens koffie na die tyd het ek skielik oogkontak gemaak met ‘n gesig wat ek geken het. ‘n Senior teologie student. Ons het nog nooit gepraat nie, ek het nie sy naam geken nie, en hy het nie myne geken nie, maar ons het mekaar se gesigte geken. Awkward moment, soos jy dalk kan dink. Dis 2004 en twee teologiese studente loop mekaar in ‘n gay kerk raak. Ons het toe maar gereël om later in die week te gaan koffie drink, sonder dat enige een van ons geweet het wat die ander se storie met die daarwees was.

Dit was die Donderdag, ek dink, en ons het maar eerder die privaatheid van die Aula se grasperk en ‘n koeldrank gekies, coffeeshops se tafeltjies is bietjie naby mekaar. Dit kom toe uit dat beide van ons die erediens net besoek het om deel te naam aan hierdie reaksie op die Algemene Sinode se verskoning. Maar ons stories was tog baie verskillend. Ek is heteroseksueel, behalwe nou as ‘n ander goeie vriend van my reg was toe hy altyd gesê het “ons is elkeen maar so bietjie gay” (dis mos nou maar deel van ‘n baie tegniese debat, maar dit maak eintlik nie saak vir die storie nie). Maar die senior student wat ek by die kerk raakgeloop het was op daardie stadium al vir 4 jaar in ‘n homoseksuele verhouding.

Ek het in die volgende paar minute meer geleer oor die kerk se reis rondom homoseksuele verhoudings as wat ek waarskynlik in die 10 jaar daarna geleer het. Hy het my vertel dat hy en sy lewensmaat nie in die Reformerende Kerk is nie, omdat hulle nie dink dis ideaal dat daar ‘n spesiale “gay-kerk” moet wees nie. Hulle is maar net lidmate van die kerk en wil net dood normaal deel van ‘n “gewone gemeente” (wat dit nou ookal is) wil word. Hulle het op daardie stadium by ‘n gemeente daar in die ooste van Pretoria ingeskakel… nee, nie die grootste een nie… (later jare toe ek predikant in Kameeldrif was sou ek leer dat die NG Kerk inderdaad homoseksuele lidmate het wat dood rustig as “gewone lidmate” – en baie keer as “baie aktiewe lidmate” soos dominees partymaal praat, inskakel).

Ek het meer geleer. Hierdie student, met wie ek nie kan onthou dat ek ooit weer gepraat het daarna nie, het my vertel dat dit moeilik is om ‘n homoseksuele Christen te wees, omdat dekades of meer waarin homoseksuele gedrag gestigmatiseer is ‘n patroon geskep het waarin homoseksuele persone volledig anoniem geleef het. Soveel so dat hulle nie eens hulle werklike identiteite sou openbaar aan ander homoseksuele persone nie, uit vrees dat dit sal “uitkom”. Maar om ‘n Christen te wees beteken dat ons deur Jesus se oë na verhoudings kyk, dit beteken dat ons in verhoudings staan wat deur liefde gedra word, verhoudings wat die beste in mekaar uitbring. Hierdie anonieme seksuele verhoudinge kon dit duidelik nie doen nie.

Toe die NG Kerk oor huwelike gedink het ‘n klompie jare terug het James Kirkpatrick eenmaal by die gemeente waar ek toe was kom praat oor die huwelik. Dit was treffend gewees (James het ‘n manier met woorde, en as hy praat is dit baie keer heel treffend). Treffend genoeg dat ek 6 blogposts uitgeryg het daarna (ek het makliker geblog daai tyd). Wat by my gebly het na daai dag was dat huwelike vir die kerk belangrik is, belangrik genoeg dat ons moeite doen om dit te beskerm. Ons beskerm dit deur families bymekaar te bring en ‘n net rondom hierdie huwelik te span, deur die verhouding liturgies en godsdienstig betekenis te gee, deur huwelikskontrakte en landswette te ondersteun wat in tye wanneer die verhouding nie so lekker gaan nie hierdie verhouding vashou en weer help regmaak.

In ‘n praatjie van Stanley Hauerwas wat ek jare terug geluister het maak hy die opmerking oor huwelike dat mense wat sê “till death do us part” nie eintlik weet waarvan hulle praat nie: daarom trou ons in die kerk. Ons het hierdie gemeenskap van gelowiges (en familie, vriende, selfs prokureurs en regters) nodig om hierdie verhouding te help dra, want menslik gaan ons dit nie maak werk vir ‘n leeftyd nie.

Ek maak al hierdie draaie om by een van die mees brutale goed wat ek in die laaste weke weer raakgelees het te noem. Die sirkulêre logika wat hier en daar kop uitsteek loop iets soos volg: homoseksuele persone is wesenlik promisku (en promiskuïteit beteken baie keer bloot meerdere seksuele partners oor ‘n tyd, niks anders nie), dis ‘n bewys dat permanente homoseksuele verhoudinge onmoontlik is, en daarom kan die kerk nie ruimte maak om permanente homoseksuele verhoudinge te dra en te verbind nie, aangesien dit elkgeval onmoontlik is vir mense wat inherent promisku is.

Dalk is ek ook inherent promisku. Ek weet nie. Wie sou ek gewees het sonder die gemeenskap, in my geval sonder die kerk, wat my oor dekades heen gevorm het om in verhouding te wees? Nie net dekades nie, die kerk wat oor eeue heen mekaar geleer het wat ‘n liefdevolle huwelik beteken. Die kerk (en familie en vriende) wat die dag wanneer die papaja die waaier tref (hopelik) gaan inkom en ons help om die stukke op te tel en die verhouding aanmekaar te hou. Met dit alles score heteroseksuele verhouding nie aldag baie hoog op die monogame skaal nie.

Maar hier is die afskuwelike van waar ons is: in ‘n wêreld wat nog bykans glad nie gedink het oor die tipe ondersteuningsnetwerke wat nodig is vir permanente homoseksuele verhoudinge nie, en die kerk natuurlik ook nie, wil ons werklik deelneem aan beskuldiging teenoor homoseksuele verhoudinge wat nie permanent bly nie sonder dat ons werk maak van hoe ‘n gemeenskap lyk wat hierdie permanente verhoudinge kan ondersteun.

Enige predikant wat net ‘n klein bietjie pastorale ervaring het sal vir jou kan vertel dat huwelike wat teen die stroom op gaan (mense van verskillende kante van die treinspoor in ‘n klas-bepaalde samelewing, mense van verskillende rasse in ‘n gerasde samelewing, mense van verskillende godsdienste, of in sekere gevalle selfs mense van verskillende opleidingsvlakke). Huwelike waaroor daar gefrons word het meer, nie minder nie, ondersteuningsnetwerke nodig as ons wil hê dit moet werk. En dis die brutaliteit wat ek rondom my sien: ons doen nie die nodige werk om hierdie ondersteuningsnetwerke te vorm nie, meer nog, ons wil selfs die bietjie wat bestaan met tye verban en afbreek, en dan wil ons vinger wys wanneer homoseksuele verhoudinge nie die nodige permanensie toon wat vir ons die ideaal is nie.

Toe ek en my vrou besluit het dat ons vir die res van ons lewe ‘n lewe saam gaan bou het ons nie geweet wat ons vir mekaar sê nie. Ons het nie geweet van die krisis wat ons gaan beleef toe … of … of … gebeur het nie (ek hoef nie in te vul nie, elke huwelik het mos sy storie). Maar ons het in die kerk getrou. Ons het ‘n prokureur gaan sien om ‘n kontrak op te stel. Ons het vriende en familie bymekaargemaak en vir hulle gesê “help ons”. En waar ons sou wees sonder dit, hetsy of ons nog bymekaar sou wees of ons nog seksueel in slegs een verhouding sou gestaan het, weet ek nie.


‘n o so romantiese verlede

September 27, 2010

Dit intrigue my die laaste ruk al hoe meer om agter te kom hoe ons die verlede romantiseer.

Hierdie aanhaling uit 1946 sit dit weer op die tafel.

Die huweliks- en huislike lewe van die Westerse volke lê in puin. Egskei-dings is aan die orde van die dag. As daar een terrein is van die maatskaplike lewe wat roep om voorligting, dan is dit ongetwyfeld die huweliks- en gesinslewe. Die Kerk gee egter min voorligting op dié gebied. Die kansels swyg so goed as heeltemal daaroor en laat dit aan bioskoop en liefdesromans oor om die volk in te lig met die gevolg dat meer as een egpaar van die wal in die sloot te lande gekom het. (Dreyer, Joh 1946:1)

Kon netsowel vandag geskryf gewees het. Envandag gaan ons aan oor die wonderlike huwelike van die 40’s, 50’s en 60’s.

Dreyer, Joh 1946. U het voor die kansel gestaan: Oordenkings vir die huweliks- engesinslewe. HAUM: Kaapstad.

en wat dan van God en die ringe

April 2, 2010

Die skerp leser sou seker agtergekom het dat God en die ringe, die twee dinge wat ons dan gewoonlik maak asof dit die belangrikste deel van in ‘n kerk trou, nie gister genoem is nie. Die mees prominente simboliese handeling in ‘n huwelikseremonie is gewoonlik die gee van die ringe en die groot soen. En dan doen ons dinge mos in ‘n kerk omdat hierdie ook ‘n verbintenis voor God is, of so sê hulle.

Nou moet my nie verkeerd verstaan nie, vir so baie van ons is hierdie verbintenis voor God werklik belangrik. Die Rooms-Katolieke het so ver gegaan om dit ‘n sakrament te maak. Maar ek dink die werk van die kerk lê primêr op die vlak van die gemeenskap wat saam verbind tot ‘n verhouding. Waar daar ‘n sterk godsdienstige belewenis met die huwelik saamgaan, moet dit natuurlik deel wees van ons seremonies, want dit weerspieël immers dan iets van hierdie twee mense en die gemeenskap rondom hulle.

Maar God gebeur meestal nie tussen twee mense op die huweliksdag nie. God het vir hulle in hierdie verhouding gebeur oor jare wat hulle saam aan die verhouding gebou het, op watter manier ookal. Partymaal het God nie vir hulle gebeur nie, en dan is ek nie seker of die huwelikseremonie die plek gaan wees waar God gebeur nie.

En dan die ringe. Die simbole van persoonlike verbintenis tussen twee mense. Weereens nie iets wat op hierdie dag gebeur nie, maar iets wat oor jare reeds gebeur het. Nie eens iets wat op hierdie dag publiek gemaak word nie, in die tyd waarin ons leef het daar oor jare reeds goed gebeur waarin twee mense publiek vir die mense rondom hulle gesê het dat hier ‘n verbintenis is. Daarom dat die mense rondom die verhouding lank voor die huwelik reeds baie kwaad sal raak indien een van die twee die verhouding met disrespek behandel deur byvoorbeeld ‘n ander soortgelyke verhouding gelyktydig aan te knoop.

Die huwelikseremonie bevat dus ‘n deel waarin op rituele-vlak net genoem word dit wat klaar gebeur het, dat twee mense hulleself aan mekaar verbind het, en in meeste gevalle waarby godsdienstige instansies betrokke is dat twee mense hulleself ook deur middel van ‘n gedeelte godsdienstige ervaring wat gewoonlik met sekere waardes gepaardgaan aan mekaar verbind het. Hulle het “voor God trou aan mekaar belowe”.

Toe ek en Maryke twee jaar terug ‘n paar vriende gevra het om kreatief die rituele vir ons huwelikseremonie aanmekaar te sit, was dit nie ringe en God wat ons vir hulle gevra het om oor te dink nie. Dit was Hauerwas se woorde uit ‘n week terug te post uit: Twee mense wat sê dat hulle vir ewig, deur goed en sleg, tot die dood hulle skei, trou sal bly aan mekaar weet nie wat hulle besig is om te sê nie. Daarom sê ons dit voor die geloofsgemeenskap en voor familie, om vir hulle te sê: “ons gaan hierdie nie op ons eie regkry nie, ons het hulp nodig” – Dit wat ons die “kerk”, die godsdienstige gemeenskap rondom ons (wat nie almal hulleself as Christene of selfs as eksplisiet godsdienstig beskryf het nie) gevra het om te doen, wat om ‘n ruimte te skep waarin familie, vriende, en ander wat rondom ons beweeg hullself kon verbind om hierdie huwelik te ondersteun, dit is wat die meeste tyd gekry het, dit is wat die meeste fokus gekry het.


net voor die huweliksnag – tussen familie en publiek

April 1, 2010

En dan net voor die huweliksnag waaroor ‘n groot deel van die Nuwe Testament vol in grappies al vertel is, kom die openbare huwelikseremonie. Op hierdie punt is die mense naaste aan die wat nou wil lewenslank ‘n verbintenis maak hopelik darem al ingelig van wat kom (alhoewel nie noodwendig nie), en in meeste gevalle is daar ook aandag aan die derde sirkel, wetlike aspekte, gegee. In meeste gevalle word die derde sirkel ook finaal voltrek hier, en in party gevalle word daar keuses gemaak om nie die derde sirkel as deel van die ondersteuning en beskerming van die huwelik te maak nie, maar tog die tweede sirkel, die godsdienstige, die openbare ritueel, wel.

Hierdie gaan nie net oor die familie nie. Alhoewel familie ‘n belangrike deel van hierdie ritueel kan word, en hulle ondersteuning vir die huwelik ook in die rituele wat hier plaasvind ingewerk kan word. Die hele publiek is ook glad nie hier uitgenooi nie. Hierdie is die plek waar hulle wat baie naby, en hulle wat rondom die verhouding staan, saamkom om hulle ondersteuning aan hierdie huwelik te kom bekendmaak.

Predikante het nou wel nie altyd ‘n goeie naam nie, is bekend daarvoor dat hulle die werk het om seker te maak heidene is bewus dat hulle lank gaan brand, en mense wat se timing rondom seks (primêr te vroeg) nie reg is nie onder oë te kry, en lang preke uit te ruk wat niemand lekker seker is wat die doel van is nie. Maar tog is die wêreld vol mense wat stories kan vertel dat predikante nie regtig so bad is nie. Hulle is veronderstel om ‘n stem van hoop, selfs al skyn hoop onmoontlik te wees, te wees in tye wanneer dinge maar rof gaan, en soveel keer in die geskiedenis was hulle dit ook. Hulle is veronderstel om ten spyte van al die gemors in die wêreld en al die stukkende verhoudings, aan te hou roep dat liefde moet seëvier, en deurlopend op kreatiewe maniere mense deel te maak van rituele waarin hierdie ander manier van leef, die manier van liefde, onthou word. Hulle preek om ook te verduidelik hoe dit dan sal moontlik wees dat die manier van die liefde geleef kan word, en hulle praat in persoonlike gesprekke om hierdie ook in soveel unieke kontekste te help gebeur.

Een van die plekke waar godsdiens, en ook dan predikante, rabbi’s, en priesters, nog altyd ‘n groot rol gespeel het was wanneer dit by huwelike kom. Hulle dra verantwoordelikheid om rituele te skep waarin mense hulleself aan mekaar en aan hierdie mense wat nou trou belowe aan mekaar kan verbind. Maar ek vrees ons het hierdie taak verloor. Ons het verval in ‘n mooi sedeprekie en die getroue voltrekking van die derde sirkel, die wetlike aspekte, wat gewoonlik in die formulering net ‘n godsdienstige skynsel gegee word.

Hoe sal dit lyk as die kerk en ander godsdienstige instellings weer hulle rol ernstig opneem om iewers tussen die nabyste familie en die wye publiek die mense wat rondom ‘n huwelik is te help om hulleself te verbind aan hierdie mense wat nou gaan trou? ‘n Plek waar predikante nie preek nie, maar ruimtes fasiliteer sodat stories, mooi stories nie, maak-sy-naam-gat stories nie, vertel kan word. ‘n Ruimte waar simbole van verbintenis tot uiting kan kom.


wat gemaak met dominees in die derde sirkel om die huwelik

Maart 31, 2010

Ek is steeds besig met die derde sirkel in opvolg op gister te post. Vir baie van ons is die dominee immers net die een wat help om die rituele waarin die gemeenskap van gelowiges, of ongelowiges, saam met vriende en familie bymekaarkom om hulleself te verbind om hierdie huwelik te ondersteun aanmekaar sit nie, maar ook die verteenwoordiger van die breër publiek, van die staat en die wet, wat moet toesien dat hierdie huwelik ordelik en wetlik korrek geskied.

So het ons dit ontvang, so was dit nog altyd gewees, maar ek wonder al lankal hieroor. In die eerste plek is daar soveel stories van mess-ups wat kom. Dominees is immers nie opgelei om seker te maak alles geskied wetlik reg nie, om te check dat een van die twee nie dalk geraamtes in die kas het wat later wetlike implikasies kan hê ensevoorts nie.

Om hierdie op die dominee af te pak kan ook maklik die derde sirkel relativeer. Ek wonder of daar sin in kan wees om te onthou dat die wetlike nie die familie of die godsdienstige (wat nog uitgepak moet word) sirkels is wat huwelike of lewenslange verhoudinge moet beskerm en ondersteun nie, dat dit ‘n eie sfeer is, wat belangrik is. ‘n Afsonderlike sirkel word darem erken wanneer twee mense saam by ‘n prokureur gaan sit om ‘n kontrak op te stel.

Sou dit so erg wees as dominees nie meer hierdie sirkel beman nie. As elke paar wat trou buiten vir ‘n proses waarin familie, wie familie ookal mag wees, en een of ander vorm van godsdienstige ritueel en verbintenis aan ‘n ondersteunings-netwerk, ook saam deur ‘n proses sou gaan om te besef dat die publiek deur middel van die wet hulle aanspreeklik wil hou en wil ondersteun (alhoewel nie noodwendig op sterk pastorale wyse nie) om hierdie huwelik te maak werk. Buiten vir die gesprek met die familie, en die “ja” voor die gemeenskap waarbinne die wat trou beweeg, ook te moet gaan sit in ‘n landros kantoor om vrae te antwoord en ‘n register te teken, en in ‘n prokureur se kantoor om seker te maak dat sou alle ander sirkels om hierdie huwelik vou, daar ‘n laaste dun stukkie beskerming gaan wees wat gaan probeer om hierdie verhouding in check te hou, of at least in bietjie minder stukkies te laat eindig as wat nodig is.

Ek sukkel om te verstaan wat ek as dominee moet maak as ek names die land en die publiek ‘n huweliksregister moet teken en moet seker maak hierdie huwelik is wettig…


en as jy trou, moenie die wet te hoog of te laag skat nie

Maart 30, 2010

Ek het lankal die gevoel gehad dat ons baie mooi moet gaan luister na mense wat saamwoon en dan kies om te trou. Partymaal selfs kinders het en dan kies om te trou. Daar is niks wat maak dat hulle moet trou nie. Hulle trou nie vir die seks nie. Hulle trou baie keer nie om families gelukkig te hou nie, want die families het in baie gevalle lankal vrede gemaak met hierdie verhouding, en kan selfs die ondersteuning wat families moet gee aan lewenslange verhoudinge reeds gee. (kyk gister se post oor huwelike en families)

So hoekom trou hulle? En as hulle trou, wat is die betekenis wat hulle aan “huwelik” gee? Ek het ‘n vermoede dit is baie hoog, en baie ernstig. Dalk is hulle selfs te ernstig oor hierdie huwelik ding, dat hulle te hard probeer om seker te maak dat die dag wanneer hulle trou dit gaan werk. Tog verstaanbaar, ek bedoel, dis nie asof daar hierdie wonderlike prentjie van standvastige huwelike is wat altyd nagevolg kan word nie.

Punt is, of mense saamwoon en dan trou, of nooit soen nie en dan trou, iewers kies ‘n baie groot meerderheid van mense rondom ons steeds om op een of ander punt ‘n wetlike verbintenis te maak om hierdie verhouding te help beskerm. Of is dit waaroor dit gaan? Ek wonder baie keer of my huwelikskontrak die huwelik werklik beskerm, en of dit net elkeen van hierdie individue op hulle eie beskerm dat die een die ander nie te veel kan skroef in die geval van ‘n egskeiding nie.

Maar goed, ons trou steeds, en daar is steeds wetlike aspekte daaraan verbonde. En ek dink dit is goed. Ek dink nie ons moet te idealisties met huwelike omgaan nie, en ons moet alles wat ons kan kry gebruik om hierdie een stabiele verhouding wat die samelewing nog bied te beskerm. Kontrakte en huweliksregisters en skikkingsadvokate (glo dit of nie) en partymaal selfs die hof is alles deel (of veronderstel om deel te wees) van ‘n sisteem wat eerlik is oor die feit dat twee mense op hulle eie nie ‘n lewenslange verhouding gaan uitgewerk kry nie. Dalk is die regsisteem maar net besig om te help dat egskeidings makliker kan loop, daar is immers baie geld daarin, maar ek wil tog hoop dat hierdie sirkel steeds help om huwelike op te pas.

En indien dit dan die geval is, dan moet ons hierdie sirkel nie te vinnig weggooi nie. Daar is tog iets daaraan as jy weet dat die hele publiek jou aanspreeklik gaan hou as jy nie moeite doen om hierdie verhouding te maak werk nie. As jy weet dat dit regsimplikasies het as jy rondskroef (baie keer letterlik) met hierdie verhouding. Ons moet hierdie sirkel dus nie te laag skat nie.

As ons egter dink dat hierdie sirkel as laaste linie van verdediging ons huwelike gaan in stand hou dan maak ons ‘n groot groot fout. Wanneer al wat oorbly om ‘n huwelik in stand te hou wetlike aspekte is, dan is die huwelik waarskynlik reeds verby. Moet dit dus ook nie te hoog skat nie. Moet nie te veel verwag van die wetlike nie, moenie al jou hoop daarop sit nie.


en as ons trou, moenie die families underplay nie

Maart 29, 2010

Noudat ek eers begin skryf het oor huwelike, hardloop my kop sommer in ‘n klomp rigtings. Ek hou van die drie sirkels wat James vir ons geskets het (alhoewel ek vrees ek hom quote op maniere wat dalk net vir my pas), en ek sal graag bietjie verder daarop wil ingaan.

Daar was ‘n tyd wat ouers namens hulle kinders huwelike gereël het. Verskeie faktore kon hier ‘n rol speel. Ek’s ‘n skaap-boer, jy’s ‘n mielieboer, ek het ‘n dogter, jy het ‘n seun… hierdie klink na ‘n blink transaksie. Of dalk, ek het ‘n mooi dogter, jy is ‘n ryk slagter (onthou jy nog Fidler on the Roof), hier kan ek ‘n winsie maak. Dalk was daar ouers wat selfs sou kon dink oor wie by wie sou pas.

Daar loop ‘n storie in ons familie dat my een oom by my een ouma gekom het met ‘n meisie jare terug, en my ouma na die eerste naweek wat hy haar huis toe gebring het vir hom gesê het dat hierdie meisie nie gaan werk nie. Volgens die verhaal het hy haar toe gelos op hierdie aanbeveling, en gesê hy sal nooit ‘n vrou trou wat nie my ouma se goedkeuring wegdra nie. Wel, soos ek my familie ken is daar waarskynlik bele mitiese elemente aan hierdie verhaal, maar dit herinner tog aan ‘n tyd toe “ouers vra” nog die moontlikheid ingehou het dat daar “nee” gesê kon word.

Toe ek en Maryke besluit om te trou was “ouers vra” regtigwaar nie veel meer as “ouers inlig” nie. Goed, die verskil tussen ons huwelik en die van Abram en Sara was dat ons mekaar toe reeds jare geken het, en elkeen die ander een se ouers reeds baie goed geken het. Dat die rol van families drasties verander het oor die laaste eeue, en ook in die laaste paar dekades, is egter seker.

Wat ek vrees is dat familie egter hulle verantwoordelikheid om huwelike te ondersteun afskuif na die tweede of derde sirkel toe. Asof die dominee moet plan maak dat die kinders se huwelik hou, en asof daai kontrak wat hulle geteken het hulle bymekaar moet hou. Die familie, as hierdie close groep mense wat deur goed en sleg ‘n paadjie met mekaar saamstap, glo ek moet primêr verantwoordelikheid vat om huwelike, daai permanente verbintenisse tussen twee mense, te dra.

Hier moet egter ‘n kwalifisering inkom. Vir baie van ons is die “uitgebreide familie” dood. Nefies en niggies sien jy amper nooit meer teen die tyd wat jy jou 20’s bereik nie. Ouma en oupa het dalk nog ‘n rol te speel, ma en pa darem gewoonlik, maar nie noodwendig nie, en broers en susters in baie gevalle darem nog, maar ook nie altyd nie. Wie “familie” is vir die twee mense wat besluit om ‘n lewenslange pad saam te stap gaan verskil van verhouding tot verhouding. Dalk is daar geen manier waarop binnelandse sake sal kan uitfigure dat hier bloedbande tussen twee mense is nie, maar op ‘n verhoudingsvlak is hulle familie vir mekaar. Wie familie ookal is, vir wie ookal jy familie is, jy is deel van die eerste sirkel, die eerste heining, wat jou familie se huwelike moet help beskerm. Hierdie verantwoordelikheid mag nie vir die godsdienstige of wetlike sirkels oorgegee word nie.