dis nie ‘n volkskerk nie, dit lyk net soos een…

April 11, 2013

Neels Jackson se rubriek vanoggend is ‘n vreemde argument. ‘n Lang lys redes waarom die NG Kerk nie ‘n volkskerk is nie met ‘n slot wat sê dat die NG Kerk nogals baie soos ‘n volkskerk lyk. Iets soos: “Dit is nie ‘n volkskerk nie, dit lyk net soos een”.

Neels se lys argumente is basies die volgende:

  • Ons het ‘n sinodebesluit geneem dat ons nie meer ‘n volkskerk is nie.
  • Wit dominees ontken dat ons ‘n volkskerk is.
  • Wit lidmate ontken dat ons ‘n volkskerk is.
  • Op party plekke, veral middestede, is die NG Kerk nie meer wit nie.
  • Daar is selfs voorstedelike gemeentes waar jy gereeld ‘n “gekleurde” gesig sal sien.
  • In ons barmhartigheidswerk reik ons uit na swart gemeenskappe.

Maar selfs Neels weet nie hoe om verby Sondag oggend 9 uur te kom nie. Want maak nie saak wat sinodebesluite or wit dominees of wit lidmate sê  nie, maak nie saak ook die uitsonderings nie (belangrik soos wat hierdie voorbeelde is!), en dit maak selfs nie saak dat ons swart gemeenskappe wil “ophef” en “ontwikkel” nie, daar is so rondom 1000 simbole van die geskiedenis van kolonialisme, apartheid, institusionele rassisme en die teologiese regverdiging van apartheid wat elke Sondag oggend bymekaarkom. En my vermoede is daai simbole sê meer as wat Neels wil erken.

Jonathan Jansen se kritiek op die NG Kerk het my al baie gehelp. Ja hy werk met geykte stereotipes soos die “NG dominee met die swart pak”, iets wat ek dink as ‘n simbool van ‘n bepaalde ideologie funksioneer in sy retoriek. Ek dink Pierre de Vos doen iets soortgelyk, search maar net die “dominee” op sy Engelse blog en kyk wat jy kry. Ek sal die argument oor hoekom dit die “NG dominee” i.p.v die “APK dominee” is vir ‘n ander geleentheid los, maar ons moet tog besef dat daar ‘n bepaalde keuse gemaak word om die NG Kerk as voorbeeld te gebruik.

Ek dink dit is te vinnig om te sê Jonathan Jansen is só verkeerd. Ja, die proses waarvan Jansen net gehoor het (ons kan gerus ophou met die idee dat almal veronderstel is om die details van ons interne debatte hoef te ken) is meer kompleks as wat hy dit in sy kort rubriek beskryf. Ja, ons dra nie swart pakke en wit dasse nie (alhoewel ek dink ons veronderstel is om die metaforiese aard van Jansen se opmerking te moet raaksien). Maar ons moet hom hoor:

“Die georganiseerde kerk is immers die een plek waar jy sonder inmenging van buite steeds wit kan wees en afgesonder van jou swart susters en broers.”

En ons is ‘n wit kerk. Nie net omdat ons eredienste bestaan uit lidmate wat half bleek is en lyk of hulle voorouers oorwegend uit ‘n deel noord van Afrika gekom het nie. Om die waarheid te sê, beide Jansen se uitsondering van die NG Kerk asook Neels se verdediging van die NG Kerk loop die gevaar om die idee dat verandering beteken om “‘n paar gekleurde gesigte in ons eredienste te kry” te regverdig.

  • Ons is ‘n wit kerk omdat ons kerklike diskoers oor wat in die lang aan die gebeur is gereeld idees wat die instandhouding van ‘n wit identiteit ondersteun napraat (ek het daai idee in meer as 100 bladsye probeer neerpen elders).
  • Ons is ‘n wit kerk wanneer ons besluite oor eiendom en pensioenfondse daarop gemik is om die kapitaal wat in een deel van die kerk opgebou is oor dekades heen in die hande van daai selfde deel van die kerk te hou.
  • Ons is ‘n wit kerk wanneer ons teologiese studente se opleiding basies uitsluitlik leeswerk van wit teoloë insluit.

En dalk moet ons hierdie lysie nog uitbrei, met merkers wat ons herinner dat ons ‘n wit kerk is. Ons moet byvoeg dat by elkeen van hierdie tipe merkers is daar uitsonderings, en die uitsonderings word al hoe meer. Orals waar ek beweeg sien ek jong predikante wat Steve Biko as een van die belangrikste outeurs wat hulle gelees het sien. Ek sien plekke waar ringe ernstig begin dink oor wat dit beteken om kapitaal in die vorm van geboue deel buite die NG Kerk se beheer te laat gaan (en nie dit verkoop aan die een wat die hoogste aanbod maak nie). Ek sien hoe gemeentes en sinodes meer en meer standpunte inneem wat instandhouding van die voortgesette ongeregtighede wat hoofsaaklik arm swart Suid Afrikaners raak uitdaag. Ons beweeg dalk nie so vinnig nie, maar ons beweeg wel.

In die kerk is daar egter ‘n groeiende ander stem as die een wat sê

“om te maak of dit vandag steeds ’n kwessie van rassisme is, is op sy beste ’n teken van oningeligtheid en op sy slegste ’n teken van moedswilligheid of onnoselheid”.

Dit is die stem van ‘n groende groep lidmate en predikante wat erken dat hulle sukkel met hulle eie witheid. Hoe meer hulle deel van hierdie land word, veral psigologies hulleself as deel van ‘n Suid Afrika van 50 miljoen mense, nie 5 miljoen nie, beleef, hoe meer raak hulle ook bewus dat hulle gesosialiseer is om wit te wees.

Nee Neels, dit is nie oningeligtheid, moedswilligheid of onnoselheid wat maak dat ons rassisme (al sou ek die woord dalk met een van sy ander verbuigings wil vervang, maar dis nie nou so belangrik nie) as ‘n voortgaande probleem in die NG Kerk sien nie. Dit is omdat ons dink dat om eerlik op die tafel te sit dat ons steeds worstel met ons eie geras wees ons verder gaan help om te worstel met hoe ons dag na dag, Sondag na Sondag, verder wegbeweeg van die wêreld van wit bevoordeling en swart onderdrukking.

So ek dink ons kan maar gemaklik met Jansen saamstem: die mure van hierdie plek moet afgebreek word en iets nuuts moet opstaan. Dis mos maar hoe die kerk nog altyd gepraat het. Oor doodgaan vir ‘n ou lewe en opstaan in nuwe lewe. Van ons sien reeds tekens van hierdie voortgaande opstanding ook in die NG Kerk, maar ons erken tog dat ons nog op die lang pad van sterf vir die ou self is, op die lang pad om die mure van die tempel af te breek sodat iets nuuts gebou kan word.

Want jy sien, die georganiseerde kerk is wel die een plek waar jy nog sonder inmenging wit kan wees, maar dit is deels omdat die georganiseerde kerk die een plek is waar wette nie die skyn van verandering kan bring nie. Dit is deels omdat al wat hier verandering bring is diep oortuiging. Die kerk bly immers ‘n organisasie van vrywilligers.

Jansen het tog maar die antwoord tot ‘n mate namens die kerk gegee: “Christus se opstanding gee my hoop vir ’n nuwe begin, selfs in die (NG?) kerk.”

Advertisements

Steve, ek onthou iets anders as die stryd om te oorleef

Julie 6, 2011

Ek weet nie of die stof gaan lê het oor Steve se “Ons sal dit oorleef” nie, wat ek hier skryf is egter nie afhanklik van hoe gewild Steve se lied toe geword het nie. Ek luister Steve se lied as ‘n “act of remembrance”, ‘n verwoording van gebeure uit die verlede waarin herinneringe geskep word, en identiteit gevorm word, en ek wil op my manier vanuit my verstaan van ‘n spesifiek Christelike tradisie hierop reageer.

Steve kry meesterlik reg om in net ‘n paar woorde van die belangrikste momente wat die identiteit van Afrikaners vorm bymekaar te trek.

  • Die Anglo-boere oorlog, wat met reg beskryf moet word as die belangrikste moment in die vorming van wat ons vandag Afrikaners noem. Dit is in hierdie ervaring, en die “arm-blanke” geskiedenis hierna wat Afrikaner nasionalisme sy oorsprong gehad het.
  • Minder prominent maar tog duidelik sigbaar, veral in die kontroversieële woorde “die kaffer se dolk”, hoor ons Bloedrivier, 16 Desember, en die groter verhaal van die Groot Trek en die oorlog teen “donker” Afrika.
  • Die derde moment, wat die hele lied in werklikheid dra, maar slegs hier en daar eksplisiet genoem word, is die belewenis van misdaad en geweld in ‘n post-apartheid Suid Afrika. Dis nog maar ‘n onlangse stukkie herinnering, maar dit lyk of dit die dominante identiteitsvormende herinnering word vir Afrikaners vandag.

Miroslav Volf se The End of Memory het my gedagtes oor Steve se song tot ‘n groot mate in hierdie rigting gestuur. Hierdie ruimte gaan nie toelaat dat ek sy hele argument verduidelik nie, maar een sentrale argument moet genoem word: daar is etiese vrae oor “hoe” ons onthou. Elke hervertelling van die verlede is nie maar ewe legitiem nie. Veral nie as ek eties reflekteer nie!

Een sentrale voorwaarde vir hoe ons onthou is dat ons eerlik moet onthou. Dit beteken nie noodwendig dat ons elke detail so getrou moontlik moet onthou, of dat die herinnering van die historikus noodwendig meer getrou is omdat dit hierdie of daardie datum korrek weergee nie. Om eerlik te onthou beteken om die verlede nie ten koste van ander te onthou nie, of op so manier dat ek ander te na kom nie. Voorbeeld:

‘n Junior en senior kolega praat Maandag oor ‘n koppie koffie, en die junior kolega deel ‘n idee met sy senior kolega wat nuwe moontlikhede vir die maatskappy sal oopmaak. Donderdag vertel die senior kolega aan die bestuur dat hy en die junior kolega Dinsdag gepraat het, en dat hy (die senior kolega) met genoemde idee vorendag gekom het.

Die feit dat hy die dag verkeerd gehad het sal kwalik as ‘n oneerlike herinnering beskou kan word, maar die manier hoe hy die rolle omdraai wel.

Ek wil ‘n tweede riglyn noem wat ek glo vanuit ‘n Christelike tradisie belangrik is vir hoe ons onthou: ek glo ons het ‘n groter verantwoordelikheid om die pyn wat ons veroorsaak het te onthou as die pyn wat ons beleef het. Daar waar ons ander seergemaak het, daar waar ons die oorsaak was vir onreg en onderdrukking, moet dit onthou word, omdat ons ‘n verantwoordelikheid het om reg te maak. Waar ons pyn ervaar het, moet ons werk vir versoening, en werk na die nie-in-herrinering-roep van waar ons gely het (hier volg ek Volf), as deel van ons verbintenis om ook ons vyande lief te hê. Vir die laaste punt sal ek jou los om self deur Volf te werk, maar die verantwoordelikheid om die ongeregtigheid waarvoor ons verantwoordelik was te onthou wil ek aanraak.

Dus twee lense waardeur ek na Steve se in-herinnering-roep van vormende momente in die Afrikaner geskiedenis wil kyk:

  • Is dit eerlik?
  • Erken dit ‘n verantwoordelikheid om pyn en ongeregtigheid wat veroorsaak is te onthou?

Steve se uitbeelding van die Afrikaner as ‘n onderdrukte groep is natuurlik nie nuut nie. Dis ‘n klassieke lees van die Anglo-boere oorlog (en een wat nie totaal sonder waarheid is nie). Voeg hierby die intrek van die Groot Trek herinneringe, wat soos ek verstaan veral in die vorming van Afrikaner nasionalisme belangrik geword het, en dan die herinnering aan geweld en misdaad vandag, waarin bevestig word dat die Afrikaner vandag, soos daai tyd, steeds die onderdrukte is.

Ek kies om by die Anglo-boere oorlog te begin omdat dit beskou word as die belangrikste moment in die vorming van die Afrikaner, maar ook omdat dit moontlik die plek is waar daar die sterkste konsensus is dat hierdie groep wat ons Afrikaners noem ‘n lydende party geword het onder die groot Britse ryk. Daar is dus hier die kans dat ons kan sê dat Steve, en minigte ander, moontlik eerlik onthou. Wat natuurlik stilgehou word, is dat hierdie selfde gebeure, met dieselfde imperialistiese magte, selfs nog meer onderdrukkend op swart Suid Afrikaners ingewerk het. Die stilte hieroor maak dat hierdie gebeurtenis gebruik kan word om Afrikaners uit te beeld as ‘n onderdrukte groep teenoor alle ander groepe, i.p.v deel van die hele Suider Afrika, swart en wit, wat eens op ‘n tyd deur die Britse ryk onderdruk is.

Om egter hierdie herinnering nou by die 1830’s te gaan inlees begin al meer na oneerlikheid te ruik. Was die groep trekkers werklik die onderdrukte groep onder die mag van die “kaffer se dolk”, soortgelyk aan die gebeure rondom die oorlog? Of moet ons eerlik vertel dat die gebeure wat met Bloedrivier gesimboliseer word vir ‘n groot stuk onreg en lyding verantwoordelik was onder verskillende ander groepe wat in Suider Afrika gebly het?

Die derde moment is die een wat my erg ongemaklik laat. Wit Suid Afrikaners is die groep wat die kleinste kans het om vermoor te word in ‘n post-Apartheid Suid Afrika. Dit is ‘n groep wat ekonomies ongelooflike bevoordeling beleef. Om hierdie groep te beskryf as die lydende party, die party wat nou, soos in die verlede, alweer in ‘n situasie van onderdrukking is, is bloot oneerlik. Dat ons wat wit is, net soos ander in Suid Afrika, onder uitsonderlike hoë misdaad en geweld ly is inderdaad waar, maar daar is geen rede hoegenaamd om hierdie groep uit te sonder die lydende party van ‘n post-Apartheid Suid Afrika nie. Dit wat nie gesê word nie is nie maar onskuldig nie! Om stil te bly oor die massas arm swart Suid Afrikaners wat die impak van misdaad en geweld die ergste beleef is om oneerlik te onthou.

As ‘n oorgang na my tweede lens moet ek nog ‘n stuk oneerlikheid in hierdie herinnering noem: Om Afrikaners se identiteit te beskryf as eerstens ‘n groep wat “weer en weer” onderdruk word, sonder om by te voeg dat hierdie groep se identiteit vandag nog meer beskryf moet word as ‘n groep wat hulleself ook aan ernstige onderdrukking skuldig gemaak het is oneerlik.

Maar dit is meer as oneerlik, en hier kies ek ‘n benadering wat ek nie weet of ander wat nie vanuit ‘n Christelike etiese tradisie reflekteer noodwendig sal deel nie. Maar vir Christene glo ek het ons ‘n groter verantwoordelikheid om die ongeregtighede waarvoor ons verantwoordelik was te onthou as die ongeregtighede wat ons beleef het. Oor dit wat ons beleef het, moet ons ‘n openheid hê om te versoen, te vergewe, en te vergeet (hierdie deel vra baie langer verduideliking wat ek nie nou op ingaan nie). Oor dit wat ons veroorsaak het, het ons die verantwoordelikheid om te onthou sodat ons kan werk vir herstel (dink Saggeus in Lukas as hierdie vir jou vreemd klink). Dit beteken nie dat ons nooit ongeregtigheid wat ons beleef het moet onthou nie, dit moet inderdaad onthou word in ons stryd om geregtigheid, ek sê net dat ons eerste verantwoordelikheid is om die ongeregtigheid waarvoor ons skuld dra te onthou.

En hier faal Steve se weergawe oor wie die Afrikaner is. Want as ons hierdie riglyn ernstig opneem, dan moet ons die Afrikaner verhaal begin deur te onthou dat ons verantwoordelik was en is vir ongeregtighede, en daarom in die eerste plek onsself moet verbind tot versoening met hulle wat gely het a.g.v ons toedoen, en vir die regstel van die ongeregtighede wat hieruit gekom het.

Natuurlik het Steve net ‘n paar minute gehad, en kan mens nie alles in een lied skryf nie, maar ek het nog geen teken gesien dat Steve wil help bou aan ‘n vertelling van ons geskiedenis waarin erken word dat swart Suid Afrikaners in elke moment (Groot Trek, Britse oorheersing en misdaad en geweld in ‘n post-Apartheid Suid Afrika) die groep was wat aan die kortste ent getrek het nie, en ek hoor ook nie dat Steve ons identiteit help vorm met ‘n herinnering waarin die ongeregtigheid waarvoor ons verantwoordelik was belangriker is om te onthou as die lyding wat ons beleef het nie.

Hierdie is vir my persoonlik ‘n baie dieper probleem as die feit dat Steve gewaag het om “kaffers” te sing…


ten minste sal die witmense Pretoria red

Desember 23, 2010

“(e)nterprise, order, leadership: these are the gifts to the developmentally, perhaps evolutionary, challenged. Part of the “white” role is to prevent the country from becoming increasingly “third world” Steyn, p88

Dis weer tyd om te trek vir my en my huismense. Ek dink ons begin so bietjie soos gypsies raak, want trek het nie meer net blote pragmatiese motiverings nie, so teen Oktober dan begin ons interne klok net vir ons sê dat dit tyd is om te trek, en eindig ons ons kontrak al weet ons nog nie waarheen nie. Maar teen hierdie tyd weet ons waarheen: Arkadia. In ‘n woonstel waar die polisie en ambulanse lawaai, waar mense nie almal karre het nie, maar party blink Audi’s ry, en waar ek nou al seker ‘n goeie 6 verskillende groepe mense raakgeloop het. Wit, swart, Afrikaans, Engels, Portugese, Indiërs, en die lysie gaan aan. Dis daar naby die 224.

Ek moet erken dat Telkom ‘n hoofpyn is elke keer wat ons so trek. Ons was nooit seker of hulle betyds gaan kom om ons nuwe ADSL lyn aan te skakel nie, en om ‘n week sonder internet te moet leef is nie regtig vir ons ‘n opsie wat ernstig oorweeg word nie. Hierdie jaar was anders. Diens was goed toe ek gaan navraag doen, beloftes was mooi, en hulle het daarby gehou. So vanoggend sit ek en die Telkom technician toe nou daar op die vloer terwyl hy my internet regkry (wat nou werk, so wanneer ek volgende week intrek is die internet reeds uitgesort). Gelukkig weet hy nie ek’s ‘n tipe van dominee nie, so ons praat lekker, en hy gee my ‘n kykie in sy wêreldbeeld.

Op ‘n punt loop ons dialoog min of meer soos volg (italics my woorde):

“Ek sit partymaal lyne in hierdie woonstel in. Daar is nogals ‘n klompie witmense wat weer hier intrek”.

“Ja, daar is nogals mense wat weer terug trek stad toe”.

“Ek sal dit nie doen nie. Dis seker nie te gevaarlik nie, maar te gevaarlik vir ‘n vrou”.

“Ag, ek weet nie. Mens moet die stad net ken. Daar is dele en tye wat gevaarlik is, en ander weer nie”.

“Dis waar ja, maar mens moet niks verder wes beweeg as hier nie, en ook niks Suid nie” – (Suid bring jou by Sunnyside uit)

“Daar is nogals nice dele in Sunnyside, dis nie so bad nie”.

“Ja, maar dis net omdat daar nog witmense oor is. Hulle hou dinge darem nog reg”.

Jonathan Jansen skryf oor die kennis wat aan kinders oorgedra word (spesifiek binne ‘n kerk konteks):

“it is a knowledge of a glorious past of struggle and achievement against all odds, a knowledge of a troubling present that still threatens families and faith, and an absent knowledge about the horrors of Apartheid”  Jansen, p73


wat leer ons kinders in ‘n post-apartheid Suid Afrika?

Desember 6, 2010

Ek het nie kinders nie. Maar jeugbediening is al vir ‘n lang tyd so half deel van waar my gedagtes rond hardloop, en onderwys word dit meer en meer. ‘n Swart intellectual met wie ek vriende geword het oor die laaste maande vertel die naweek bietjie stories oor sy kind se onderwys ervaringe in ‘n “ou model-C skool”, waar 70% van die kinders nou al swart is, maar die onderwysers bly bykans uitsluitlik wit. Hy praat oor hoe dit by sy kind die prentjie gevestig het dat alle witmense onderwysers is, en alle swartmense by hulle moet leer (ten spyte daarvan dat sy pa en ma twee ongelooflike intelligente mense is!). Maar belangriker nog vir wat ek nou wil sê, hy vertel oor die ongemak met die manier waarop die storie van Suid Afrika vir sy kind geleer word. Dit is nie die eerste keer wat ek dit hoor nie, ‘n swart teoloog vriend het een aand vertel oor sy ongemak wanneer sy kind, ook in ‘n “ou model C skool” by die huis kom met sekere interpretasies van die Suid Afrikaanse geskiedenis wat hy weet net nie waar is nie, en nie dit waaraan hy self deelgeneem het weerspieël nie.

Ek dink daar is ‘n belangrike gesprek wat gevoer moet word oor swart kinders wat in skole kom waar die onderwysers uitsluitlik wit is, en die probleme wat gepaardgaan met die onderwyskorps van ‘n spesifieke skool wat nie getransformeer word nie. My eie vraag gaan egter vandag oor wit kinders. Wat moet ons ons wit kinders leer in ‘n post-apartheid Suid Afrika? Beverley Tatum help my vanuit die sielkunde om te verstaan hoe racialization in verskillende fases van ontwikkeling gebeur, en Shannon Sullivan het interessante teorieë oor hoe dit reeds by babatjies gevestig raak. In ons eie konteks het Jonathan Jansen belangrike goed geskryf oor jong wit Afrikaners die rassisme van hul ouers oorneem, sonder dat dit eksplisiet geleer word soos onder Apartheid. Wat moet ons dus vir wit kinders leer?

Daar gaan definitief verskille wees tussen wat vir wit en swart kinders geleer moet word. Hulle is op verskillende manier geracialize, en ons sal dit moet verstaan wanneer ons oor hierdie vraag dink. Maar wat as ons Justice Malala in ‘n tradisioneel wit skool, ‘n tradisioneel wit kerk, tradisionele wit gemeenskap lees, en sy antwoord ook ons antwoord maak. Wanneer hy skryf

“For the sake of our children and their children, we must constantly remind ourselves why there was a freedom struggle in this country”

dan link dit ongetwyfeld aan die onderwerp wat hier ter sprake is. Maar lees hom nou as ‘n wit ouer. ‘n Wit onderwyser. ‘n Wit predikant. In ‘n wit gemeenskap.

The first step is to accept that memory is crucial. We need to teach our children what happened here and how 46 years of apartheid nationalism nearly ruined us all. We need to teach them, in our schools and in the way we rebuild our country, that a crime as heinous as Nazism took place in South Africa.

Crucially, we need to entrench the values for which we fought in our children. It is not enough for us to just teach, it is also important to be non-sexist and non-racial. Unlike the racism preached by Botes, our children must see us living and mingling freely with our fellow countrymen. How we live our values is far more important than how much we teach them.

Die realiteit is dat ons dalk presies die teenoorgestelde probeer doen. Ons probeer om ons kinders geskiedenis-loos, konteks-loos groot te maak. Hoe minder hulle weet van die verlede, sodat hulle “skoon kan begin”, hoe beter. Dit dink ek moet verander. Ons moet ond kinders, wit en swart, leer oor die allerverskriklikste misdaad wat in hierdie land plaasgevind het. In die kerk moet ons ons kinders leer dat ons kerk (ten minste vir myself) foute gemaak het. Maar ons moet dit leef. En dit is dalk die werklike uitdaging wat voor ons lê. Hierdie geskiedenis, en die waardes wat ons wil kweek, kan nie in ‘n wit gemeenskap, ‘n wit kerk, ‘n wit skool met uitsluitlik wit onderwysers geleer word nie. Ons kinders moet ons sien waar ons gemaklik meng met die wye verskeidenheid van mense wat deel is van hierdie land.

Dit gaan moeilik wees. Dit is die reis wat voor ons deure lê.

 


jakaranda se reversed anglicization en anit-politics polemic

Junie 1, 2009

My dag om uit die kas te klim. Ek luister Jakaranda. Ek ken die Jakaranda 94.2 thingy wat hulle heeltyd ding, ek begin al van die omroepers se name te ken. Ek luister nou wel nie baie radio nie, net as ek in die kar is (so 2000km per maand, baie daarvan in die stad, so dis darem ‘n aansienlike aantal ure), maar as ek radio luister, dan is dit Jakaranda. Hoekom? Wel, ek dink ek mag dalk wat musiek aanbetref my tyd met so paar jaar gemis het, so ek like dit om ‘n stasie te luister wat “ou bekendes” speel, waar ek elke kort-kort bietjie Bon Jovi, Roxette, of watookal wat meer as 10 jaar oud is te hoor. Maar lately begin ek oorweeg om ‘n skuif te maak.

Aanvanklik het ek nie big issues gehad met die engelse Jakaranda omroepers wat nie Afrikaans kan praat nie, maar lately begin ek te wonder daaroor… hoekom doen hulle dit? Is dit net ek wat so gutt feel kry dat hulle speel met ‘n neo-Afrikaner nasionalisme en Afrikaanse taal herlewing, en deur op die emosies van hulle wat simpatiek tot hierdie bewegings is te speel verkoop hulle die stasie. Ek bedoel, as Afrikaners heeltyd sit en moan dat hulle taal van hulle weggevat word (wat absolute nonsens is), wat beter om jou stasie te verkoop as ‘n klomp rou engelse wat gebroke Afrikaans kom praat? Lekker reversed anglicization, of nie?

Ek is all for freedom of speech. Ek sal fight daarvoor dat ‘n meerderheid opinie nooit die stem van ‘n minderheid mag dooddruk bloot omdat hulle ‘n meerderheid is nie. Ek is heeltemal daarvoor dat verskillende opinies en ideologieë deel van ons publieke gesprek moet word wat soek na die toekoms van ons land en wêreld. Maar as freedom of speech beteken jy mag enige twak kwytraak, dan raak ek geïrriteerd. In die hele turbulent politiese tyd die laaste paar maande kan ek nie onthou dat Jarakanda my ooit gehelp het om sinvol te dink oor wat in die land aan die gbeur is nie, al wat hulle gedoen het is om die spot te dryf met al wat politikus is. Die ondertoon wat ek heeltyd hoor is dat alle politiek en politici simpel is.

Ek kan verkeerd wees, so help my as jy meer Jakaranda luister as ek, maar ek hoor die stemme van ‘n klomp ryk wit Suid Afrikaners, wat lightly rassisties is, en net heeltyd hulleself binne die safe-zone hou dat hulle nie vir diskrimenasie aangekla kan word nie, maar steeds deurlopend besig is om ‘n boodskap wat eenheid tussen arm en ryk, wit en swart afbreek, te verkondig. Maar dit is net my gutt feel.

O, en help my sommer ook met wat ‘n goeie alternatiewe radio stasie sal wees vir my om te luister? Een waat ek my musiek uit die 80’s en 90’s sal hoor, maar waar ek ook ‘n beter gesprek oor die wêreld rondom my sal hoor?