dis nie ‘n volkskerk nie, dit lyk net soos een…

April 11, 2013

Neels Jackson se rubriek vanoggend is ‘n vreemde argument. ‘n Lang lys redes waarom die NG Kerk nie ‘n volkskerk is nie met ‘n slot wat sê dat die NG Kerk nogals baie soos ‘n volkskerk lyk. Iets soos: “Dit is nie ‘n volkskerk nie, dit lyk net soos een”.

Neels se lys argumente is basies die volgende:

  • Ons het ‘n sinodebesluit geneem dat ons nie meer ‘n volkskerk is nie.
  • Wit dominees ontken dat ons ‘n volkskerk is.
  • Wit lidmate ontken dat ons ‘n volkskerk is.
  • Op party plekke, veral middestede, is die NG Kerk nie meer wit nie.
  • Daar is selfs voorstedelike gemeentes waar jy gereeld ‘n “gekleurde” gesig sal sien.
  • In ons barmhartigheidswerk reik ons uit na swart gemeenskappe.

Maar selfs Neels weet nie hoe om verby Sondag oggend 9 uur te kom nie. Want maak nie saak wat sinodebesluite or wit dominees of wit lidmate sê  nie, maak nie saak ook die uitsonderings nie (belangrik soos wat hierdie voorbeelde is!), en dit maak selfs nie saak dat ons swart gemeenskappe wil “ophef” en “ontwikkel” nie, daar is so rondom 1000 simbole van die geskiedenis van kolonialisme, apartheid, institusionele rassisme en die teologiese regverdiging van apartheid wat elke Sondag oggend bymekaarkom. En my vermoede is daai simbole sê meer as wat Neels wil erken.

Jonathan Jansen se kritiek op die NG Kerk het my al baie gehelp. Ja hy werk met geykte stereotipes soos die “NG dominee met die swart pak”, iets wat ek dink as ‘n simbool van ‘n bepaalde ideologie funksioneer in sy retoriek. Ek dink Pierre de Vos doen iets soortgelyk, search maar net die “dominee” op sy Engelse blog en kyk wat jy kry. Ek sal die argument oor hoekom dit die “NG dominee” i.p.v die “APK dominee” is vir ‘n ander geleentheid los, maar ons moet tog besef dat daar ‘n bepaalde keuse gemaak word om die NG Kerk as voorbeeld te gebruik.

Ek dink dit is te vinnig om te sê Jonathan Jansen is só verkeerd. Ja, die proses waarvan Jansen net gehoor het (ons kan gerus ophou met die idee dat almal veronderstel is om die details van ons interne debatte hoef te ken) is meer kompleks as wat hy dit in sy kort rubriek beskryf. Ja, ons dra nie swart pakke en wit dasse nie (alhoewel ek dink ons veronderstel is om die metaforiese aard van Jansen se opmerking te moet raaksien). Maar ons moet hom hoor:

“Die georganiseerde kerk is immers die een plek waar jy sonder inmenging van buite steeds wit kan wees en afgesonder van jou swart susters en broers.”

En ons is ‘n wit kerk. Nie net omdat ons eredienste bestaan uit lidmate wat half bleek is en lyk of hulle voorouers oorwegend uit ‘n deel noord van Afrika gekom het nie. Om die waarheid te sê, beide Jansen se uitsondering van die NG Kerk asook Neels se verdediging van die NG Kerk loop die gevaar om die idee dat verandering beteken om “‘n paar gekleurde gesigte in ons eredienste te kry” te regverdig.

  • Ons is ‘n wit kerk omdat ons kerklike diskoers oor wat in die lang aan die gebeur is gereeld idees wat die instandhouding van ‘n wit identiteit ondersteun napraat (ek het daai idee in meer as 100 bladsye probeer neerpen elders).
  • Ons is ‘n wit kerk wanneer ons besluite oor eiendom en pensioenfondse daarop gemik is om die kapitaal wat in een deel van die kerk opgebou is oor dekades heen in die hande van daai selfde deel van die kerk te hou.
  • Ons is ‘n wit kerk wanneer ons teologiese studente se opleiding basies uitsluitlik leeswerk van wit teoloë insluit.

En dalk moet ons hierdie lysie nog uitbrei, met merkers wat ons herinner dat ons ‘n wit kerk is. Ons moet byvoeg dat by elkeen van hierdie tipe merkers is daar uitsonderings, en die uitsonderings word al hoe meer. Orals waar ek beweeg sien ek jong predikante wat Steve Biko as een van die belangrikste outeurs wat hulle gelees het sien. Ek sien plekke waar ringe ernstig begin dink oor wat dit beteken om kapitaal in die vorm van geboue deel buite die NG Kerk se beheer te laat gaan (en nie dit verkoop aan die een wat die hoogste aanbod maak nie). Ek sien hoe gemeentes en sinodes meer en meer standpunte inneem wat instandhouding van die voortgesette ongeregtighede wat hoofsaaklik arm swart Suid Afrikaners raak uitdaag. Ons beweeg dalk nie so vinnig nie, maar ons beweeg wel.

In die kerk is daar egter ‘n groeiende ander stem as die een wat sê

“om te maak of dit vandag steeds ’n kwessie van rassisme is, is op sy beste ’n teken van oningeligtheid en op sy slegste ’n teken van moedswilligheid of onnoselheid”.

Dit is die stem van ‘n groende groep lidmate en predikante wat erken dat hulle sukkel met hulle eie witheid. Hoe meer hulle deel van hierdie land word, veral psigologies hulleself as deel van ‘n Suid Afrika van 50 miljoen mense, nie 5 miljoen nie, beleef, hoe meer raak hulle ook bewus dat hulle gesosialiseer is om wit te wees.

Nee Neels, dit is nie oningeligtheid, moedswilligheid of onnoselheid wat maak dat ons rassisme (al sou ek die woord dalk met een van sy ander verbuigings wil vervang, maar dis nie nou so belangrik nie) as ‘n voortgaande probleem in die NG Kerk sien nie. Dit is omdat ons dink dat om eerlik op die tafel te sit dat ons steeds worstel met ons eie geras wees ons verder gaan help om te worstel met hoe ons dag na dag, Sondag na Sondag, verder wegbeweeg van die wêreld van wit bevoordeling en swart onderdrukking.

So ek dink ons kan maar gemaklik met Jansen saamstem: die mure van hierdie plek moet afgebreek word en iets nuuts moet opstaan. Dis mos maar hoe die kerk nog altyd gepraat het. Oor doodgaan vir ‘n ou lewe en opstaan in nuwe lewe. Van ons sien reeds tekens van hierdie voortgaande opstanding ook in die NG Kerk, maar ons erken tog dat ons nog op die lang pad van sterf vir die ou self is, op die lang pad om die mure van die tempel af te breek sodat iets nuuts gebou kan word.

Want jy sien, die georganiseerde kerk is wel die een plek waar jy nog sonder inmenging wit kan wees, maar dit is deels omdat die georganiseerde kerk die een plek is waar wette nie die skyn van verandering kan bring nie. Dit is deels omdat al wat hier verandering bring is diep oortuiging. Die kerk bly immers ‘n organisasie van vrywilligers.

Jansen het tog maar die antwoord tot ‘n mate namens die kerk gegee: “Christus se opstanding gee my hoop vir ’n nuwe begin, selfs in die (NG?) kerk.”


ons moet die 80’s en Apartheid onthou

November 13, 2010

Selfs in my eie gedagtes, as ek van die “’80’s” hoor is my eerste gedagtes weird haarstyle, goeie musiek (in my opinie at least – dink Bon Jovi en Johanner Kerkorrel), daai helse donkerbrille…

maar ek weet dis nie die 80’s nie. Die 80’s is daai verhale waaroor ons nie regtig wil praat nie. Selfs wanneer ons oor Johannes Kerkorrel praat, dan is dit nie die politieke kant van die verhaal nie. Ons wil graag vergeet van die joernalis Jan Rabie. Die 80’s was die tyd van PW Botha, nood toestande, opstande, jongmense wat doodgeskiet word in ons townships, boikots, sanksies. Dit was die 80’s. Ek was nie hier nie. Ek’s in ’84 gebore, en het in Swaziland gebly. Bietjie kleuterskool gehad, maar die wit laerskool was nog oppad. Op 4 of 5 kan mens seker nog verskoon word as jy polities ignorant is…

My besoeke aan die Apartheidmuseum bring my altyd by ‘n oproep dat ons Apartheid moet onthou (My eerste besoek. My tweede besoek). In reaksie op die gewilde oproep onder wit Afrikaners, my eie groep mense, dat ons Apartheid tog net moet vergeet, dat ons moet ophou om alewig terug te gaan na Apartheid toe, pleit ek dat ons Apartheid nie moet vergeet nie. Dat ons moet leer om weer en weer daaroor te praat. Dat ons vir ons kinders moet vertel van die ongeregtigheid van Apartheid, en moet herinner dat dit nooit weer mag gebeur nie (en dat waar dit steeds voortgesit word ons dit wortel en tak moet uitroei).

Ek het gekies om vandag se besoek te fokus op die tydperk vanaf 1980 af verder. Die Nelson Mandela uitstalling, en vele ander dele ook, ken ek al baie goed. Maar hier rondom die noodtoestande en CODESA voel my geheue half vaag. Na ek so bietjie rondgedwaal het was die eerste stop dus die video oor die opstande in die 80’s. Dit was in hierdie geleentheid wat ek getweet het “how the hell can we think that the ’80’s isn’t still haunting us today. #apartheidmuseum“. Maar meer as ‘n tweet is nodig om dit te verduidelik.

Jy sit daar en kyk hoe jong mans wat net verby 18 is met gewere op mense moet skiet, hoe hulle jong swart mans moet jaag, skop, oor drade gooi, op hulle skiet. Daai jong mans, aan beide kante van die struggle, is vandag ons pa’s, oppad om oupas te word. Hulle sit op ons kerkrade, hulle is direkteure van maatskappye, hulle maak ons kinders groot. Hulle is die boetmans wat die bliksem in is, maar steeds hoor ek hoe jongmense my eie ouderdom vertel hoe hulle pa’s nie kan praat oor die tyd op die tye op die grens nie! Steeds hoor ek hoe vroue in die gemeente vertel hoe hul mans sukkel met die realiteit van dit waarvan hulle deel was in die verlede. En dan is daar die jongmense wat aan opstande deelgeneem het. Op een plek vertel een van die uitstallings dat die polisie met tye kinders van so jonk as 8 jaar oud vasgetrek het. Maak die sommetjies! Daai kinders is nou maar nog in hulle 30’s, en hulle onthou nog ‘n tyd toe die polisie hulle mishandel het!

So voor ons nog by Jansen se argumente kom oor hoe die ideologie van Apartheid voortgesit word in jongmense wat nooit onder Apartheid gelewe het nie, en dit ons moet forseer om erns te maak met ons Apartheid geskiedenis (en moet my nie verkeers verstaan nie, dit is ‘n baie belangrike aspek van die gesprek waarvoor my eie generasie voor sal moet verantwoordelikheid vat). Voor blote historiese bewussyn, en die feit dat jy nie kan verstaan wie jy is of waar jy is nie ons forseer om vir ons kinders weer te vertel van Apartheid, voor dit alles gaan ons weer oor die 80’s moet praat want dit is die spoke wat steeds by ‘n baie groot deel van Suid Afrikaners spook. Maak nie saak van watter ras jy is nie. Apartheidswetgewing het geval ja, maar ons moet oor Apartheid praat, want dit spook by ons. Ons kan nie maar net aanbeweeg nie.