oor homoseksuele verhoudinge en kerklike ondersteuninsnetwerke

Julie 30, 2015

In 2003 was ek was ‘n groen eerstejaar teologiese student wat weens ‘n interessante loop van omstandighede besluit het om myself met groot moeite te laat verplaas van Sonop na Taaibos. Taaibos was my huis vir die volgende 5 jaar. Kelder 3 my eie privaat ruimte waar ek weer mens geword het. Op Kelder was daar diep kamermaat-skappe. Partners wat twee-twee deur die koshuis beweeg het. Jou kamermaat was die een wat agter jou moes kyk.

My kamermaat was gay. Ek het dit nie aanvanklik geweet nie. Ek dink nie hy het dit heeltemal geweet toe ek daar aangekom het nie. Maar teen halfjaar was dit vir hom duidelik wie hy was en dat hy vrede met homself moet maak. Hierdie vrede het beteken dat hy stadig, daar waar dit veilig was, moes begin praat oor wie hy was. In Kelder 3 was dit veilig.

Ons het diep paaie gestap. Na ons eerstejaar, toe ons enkelkamers kon kry, het ons kamers langs mekaar gekies, en so het ons vir nog twee jaar daarna langs mekaar gebly, tot hy uiteindelik uit die koshuis getrek het.

In 2004 het die Algemene Sinode van die NG Kerk verskoning gevra vir die pyn en onreg wat ons aan homoseksuele persone en hulle geliefdes veroorsaak het. Die presiese woorde was:

Dit is ook die roeping van die kerk om sonder vooroordeel, bewus van ons eie gebro­ken­­heid, ons lidmate op te roep en te begelei, om in waarheid met liefde en deernis voor God met mekaar om te gaan. In die lig hiervan vra die Alge­mene Sinode verskoning aan alle homo­seksueles en hulle fami­lies, binne en buite die kerk, vir elke geval waar die kerk sulke mense in die verlede, onder andere as gevolg van ’n gebrek aan leiding, seer­gemaak en veronreg het en waar God se liefde nie in die kerk se optrede raakgesien kan word nie.

Die Reformerende Kerk het die Sondag na die Algemene Sinode ‘n erediens gereël om erkenning te gee aan die verskoning, om dit te ontvang en in geloofsonderskeiding saam te dink oor hoe Christened an reageer op ‘n verskoning. My oud kamermaat het my saamgenooi kerk toe die aand. Ek het gegaan. Hulle het die verskoning aanvaar.

Tydens koffie na die tyd het ek skielik oogkontak gemaak met ‘n gesig wat ek geken het. ‘n Senior teologie student. Ons het nog nooit gepraat nie, ek het nie sy naam geken nie, en hy het nie myne geken nie, maar ons het mekaar se gesigte geken. Awkward moment, soos jy dalk kan dink. Dis 2004 en twee teologiese studente loop mekaar in ‘n gay kerk raak. Ons het toe maar gereël om later in die week te gaan koffie drink, sonder dat enige een van ons geweet het wat die ander se storie met die daarwees was.

Dit was die Donderdag, ek dink, en ons het maar eerder die privaatheid van die Aula se grasperk en ‘n koeldrank gekies, coffeeshops se tafeltjies is bietjie naby mekaar. Dit kom toe uit dat beide van ons die erediens net besoek het om deel te naam aan hierdie reaksie op die Algemene Sinode se verskoning. Maar ons stories was tog baie verskillend. Ek is heteroseksueel, behalwe nou as ‘n ander goeie vriend van my reg was toe hy altyd gesê het “ons is elkeen maar so bietjie gay” (dis mos nou maar deel van ‘n baie tegniese debat, maar dit maak eintlik nie saak vir die storie nie). Maar die senior student wat ek by die kerk raakgeloop het was op daardie stadium al vir 4 jaar in ‘n homoseksuele verhouding.

Ek het in die volgende paar minute meer geleer oor die kerk se reis rondom homoseksuele verhoudings as wat ek waarskynlik in die 10 jaar daarna geleer het. Hy het my vertel dat hy en sy lewensmaat nie in die Reformerende Kerk is nie, omdat hulle nie dink dis ideaal dat daar ‘n spesiale “gay-kerk” moet wees nie. Hulle is maar net lidmate van die kerk en wil net dood normaal deel van ‘n “gewone gemeente” (wat dit nou ookal is) wil word. Hulle het op daardie stadium by ‘n gemeente daar in die ooste van Pretoria ingeskakel… nee, nie die grootste een nie… (later jare toe ek predikant in Kameeldrif was sou ek leer dat die NG Kerk inderdaad homoseksuele lidmate het wat dood rustig as “gewone lidmate” – en baie keer as “baie aktiewe lidmate” soos dominees partymaal praat, inskakel).

Ek het meer geleer. Hierdie student, met wie ek nie kan onthou dat ek ooit weer gepraat het daarna nie, het my vertel dat dit moeilik is om ‘n homoseksuele Christen te wees, omdat dekades of meer waarin homoseksuele gedrag gestigmatiseer is ‘n patroon geskep het waarin homoseksuele persone volledig anoniem geleef het. Soveel so dat hulle nie eens hulle werklike identiteite sou openbaar aan ander homoseksuele persone nie, uit vrees dat dit sal “uitkom”. Maar om ‘n Christen te wees beteken dat ons deur Jesus se oë na verhoudings kyk, dit beteken dat ons in verhoudings staan wat deur liefde gedra word, verhoudings wat die beste in mekaar uitbring. Hierdie anonieme seksuele verhoudinge kon dit duidelik nie doen nie.

Toe die NG Kerk oor huwelike gedink het ‘n klompie jare terug het James Kirkpatrick eenmaal by die gemeente waar ek toe was kom praat oor die huwelik. Dit was treffend gewees (James het ‘n manier met woorde, en as hy praat is dit baie keer heel treffend). Treffend genoeg dat ek 6 blogposts uitgeryg het daarna (ek het makliker geblog daai tyd). Wat by my gebly het na daai dag was dat huwelike vir die kerk belangrik is, belangrik genoeg dat ons moeite doen om dit te beskerm. Ons beskerm dit deur families bymekaar te bring en ‘n net rondom hierdie huwelik te span, deur die verhouding liturgies en godsdienstig betekenis te gee, deur huwelikskontrakte en landswette te ondersteun wat in tye wanneer die verhouding nie so lekker gaan nie hierdie verhouding vashou en weer help regmaak.

In ‘n praatjie van Stanley Hauerwas wat ek jare terug geluister het maak hy die opmerking oor huwelike dat mense wat sê “till death do us part” nie eintlik weet waarvan hulle praat nie: daarom trou ons in die kerk. Ons het hierdie gemeenskap van gelowiges (en familie, vriende, selfs prokureurs en regters) nodig om hierdie verhouding te help dra, want menslik gaan ons dit nie maak werk vir ‘n leeftyd nie.

Ek maak al hierdie draaie om by een van die mees brutale goed wat ek in die laaste weke weer raakgelees het te noem. Die sirkulêre logika wat hier en daar kop uitsteek loop iets soos volg: homoseksuele persone is wesenlik promisku (en promiskuïteit beteken baie keer bloot meerdere seksuele partners oor ‘n tyd, niks anders nie), dis ‘n bewys dat permanente homoseksuele verhoudinge onmoontlik is, en daarom kan die kerk nie ruimte maak om permanente homoseksuele verhoudinge te dra en te verbind nie, aangesien dit elkgeval onmoontlik is vir mense wat inherent promisku is.

Dalk is ek ook inherent promisku. Ek weet nie. Wie sou ek gewees het sonder die gemeenskap, in my geval sonder die kerk, wat my oor dekades heen gevorm het om in verhouding te wees? Nie net dekades nie, die kerk wat oor eeue heen mekaar geleer het wat ‘n liefdevolle huwelik beteken. Die kerk (en familie en vriende) wat die dag wanneer die papaja die waaier tref (hopelik) gaan inkom en ons help om die stukke op te tel en die verhouding aanmekaar te hou. Met dit alles score heteroseksuele verhouding nie aldag baie hoog op die monogame skaal nie.

Maar hier is die afskuwelike van waar ons is: in ‘n wêreld wat nog bykans glad nie gedink het oor die tipe ondersteuningsnetwerke wat nodig is vir permanente homoseksuele verhoudinge nie, en die kerk natuurlik ook nie, wil ons werklik deelneem aan beskuldiging teenoor homoseksuele verhoudinge wat nie permanent bly nie sonder dat ons werk maak van hoe ‘n gemeenskap lyk wat hierdie permanente verhoudinge kan ondersteun.

Enige predikant wat net ‘n klein bietjie pastorale ervaring het sal vir jou kan vertel dat huwelike wat teen die stroom op gaan (mense van verskillende kante van die treinspoor in ‘n klas-bepaalde samelewing, mense van verskillende rasse in ‘n gerasde samelewing, mense van verskillende godsdienste, of in sekere gevalle selfs mense van verskillende opleidingsvlakke). Huwelike waaroor daar gefrons word het meer, nie minder nie, ondersteuningsnetwerke nodig as ons wil hê dit moet werk. En dis die brutaliteit wat ek rondom my sien: ons doen nie die nodige werk om hierdie ondersteuningsnetwerke te vorm nie, meer nog, ons wil selfs die bietjie wat bestaan met tye verban en afbreek, en dan wil ons vinger wys wanneer homoseksuele verhoudinge nie die nodige permanensie toon wat vir ons die ideaal is nie.

Toe ek en my vrou besluit het dat ons vir die res van ons lewe ‘n lewe saam gaan bou het ons nie geweet wat ons vir mekaar sê nie. Ons het nie geweet van die krisis wat ons gaan beleef toe … of … of … gebeur het nie (ek hoef nie in te vul nie, elke huwelik het mos sy storie). Maar ons het in die kerk getrou. Ons het ‘n prokureur gaan sien om ‘n kontrak op te stel. Ons het vriende en familie bymekaargemaak en vir hulle gesê “help ons”. En waar ons sou wees sonder dit, hetsy of ons nog bymekaar sou wees of ons nog seksueel in slegs een verhouding sou gestaan het, weet ek nie.


so wil ek antwoord oor dwaalleer

Mei 7, 2013

Ek wil ook partymaal praat van “die goeie ou dae”. Jy weet, toe dwaalleer nog dwaalleer was, en ons werklik gedink het die wêreld kom tot ‘n einde as jy met dwaalleer besig is en jy moet op ‘n hoop hout gegooi word en lewendig verbrand word. Of soos by Nicea toe hulle vir ‘n hele maand lank gepraat het oor ‘n saak. Of wat van Dordt wat 154 vergaderings in 7 maande gehou het om uiteindelik te kan sê “so glo ons” (en in die proses die een geloofsbelydenis gelewer het wat vandag die minste gebruik word in die kerk).

Eintlik wil ek in ‘n loflied saam met ‘n orrel uitbars omdat ons nie in daardie tyd leef nie. Kan jy nou dink as die Algemene Sinode vir 3 maande moet sit net om uiteindelik te kan sê: “so sê die meeste van ons” (want nie Nicea of Dordt het meer as dit gesê nie). Dit sal egter dalk beter wees as die manier waarop ons week na week moet hoor hoe iemand “dwaalleer” roep in die NG Kerk. Onthou julle die storie van die seuntjie wat wolf geroep het…?

Dalk moet ons egter bietjie saam dink oor hoe mens reageer op hierdie alewige “dwaalleer… dwaalleer…” refrein. Maar laat ek dit maar publiek doen, want ek kry al hoe meer die gevoel dat daar ‘n klein netwerk van mense in (en buite) die NG Kerk bestaan wat mekaar telkens inlig oor wie nou die volgende teiken is vir hulle dwaalleer aanklagte, en strategieë bymekaarmaak vir hoe hulle die lewe vir al wat ‘n dominee is met wie hulle bietjie verskil kan hel maak. So ek dink hardop en publiek.

Party dae dink ek daai lot wat met die sola scriptura ding gekom het sou hulleself maar bedink het as hulle geweet het wat ‘n lot Amerikaners daarmee sal maar teen die tyd wat die 20ste eeu aanbreek. Praat van die dag wat onder die eend se gat uitgeruk word! Iewers is ‘n klomp teoloë kwaad vir die pous wat ‘n klompie dodgy uitsprake maak om sy bankrekening te laat klop, en in protes roep hulle uit sola scriptura. Alleen die Bybel. As ons dus oortuig raak dat wat die kerklike leiers sê in stryd is met die Bybel, dan kies ons die Bybel. Fast forward ‘n klompie jare en iemand besluit dat ten spyte daarvan dat niemand nog ooit voorheen dit raakgesien het nie, kan hy die wegraping in die Bybel in raaklees. En bietjie later, ten spyte daarvan dat alle bewyse daarteen is, kan sola scriptura ook die grense van die natuurwetenskappe bepaal.

Waarheen sola scriptura geneem is, is egter ‘n verwerping van die tradisie. En nee, om ‘n frase uit ‘n geloofsbelydenis aan te haal is nie tradisie nie. Om ‘n geloofsbelydenis uit sy historiese tyd en plek te neem en te verabsoluteer is ook nie tradisie nie. Ek dink tradisie is om te sê dat ek nie die eerste een is wat ‘n teks lees nie, en dat ek ook nie die enigste een is wat ‘n teks lees nie (ten minste sover as wat tradisie oor die Bybel gaan). Dit beteken dat ek aanvaar dat daar ‘n bepaalde wysheid is in die manier hoe mense oor eeue heen tekste gelees het, maar ook dat die herinterpretasie van tekste altyd voortgaan.

Die probleem met die “dwaalleer… dwaalleer…” geroep wat ons tans hoor is dalk deels dat sola scriptura iets gemaak is wat totaal los van die gemeenskap van gelowiges en totaal los van die tradisie van die kerk staan. Sola scriptura word saam met “alleen my interpretasie” ‘n stok waarmee geslaan word. Eintlik word dit maar net die diepe oortuiging dat ek die “wil van God” ken, deurdat ek ‘n interpretasie op die tafel kan sit waarmee alle ander interpretasies tot dwaalleer verklaar kan word.

Die waarheid is egter dat individue nog nooit in die geskiedenis van die kerk bepaal het wat dwaalleer is nie (behalwe natuurlik as hulle deur die kerk aangestel is om dit te doen). Die kerk het dit bepaal. Die kerk het ook nog nooit slegs vir een enkele standpunt ruimte gehad nie, maar altyd vir meerdere opinies. Van Petrus en Paulus, deur die sinoptiese evangelies, deur Nicea, is die kerk nog altyd ‘n breë stroom van standpunte waaraan partymaal grense geplaas word. En partymaal word die grense weer verwerp. Dwaalleer kan uiteindelik net beteken dat jy buite die raamwerk van die kerk beweeg (of van ‘n spesifieke kerk beweeg wanneer dit dan op ‘n punt gedryf word). Dwaalleer kan onmoontlik beteken dat jy nie in lyn met die Bybel is nie. Dit kan net beteken dat jy die Bybel nie meer binne die raamwerk van die kerk lees nie. Die Bybel gaan immers nie ‘n eie interpretasie gee nie, slegs mense kan die Bybel interpreteer, en slegs wanneer dit buite die kerk se raamwerk val kan ons besluit iemand is besig met dwaalleer.

As dit oor dwaalleer gaan is dit sinneloos dat ons aanhou om met ‘n paar individue te stry oor wat die “korrekte” interpretasie van die Bybel is. As ons geforseer word om oor dwaalleer te praat dan gaan dit suiwer oor of iemand binne die raamwerk van die kerk beweeg. En die kerk se raamwerk is telkens maar dat daar ‘n verskeidenheid van moontlikhede is. Ja, selfs wanneer die kerk ‘n spesifieke standpunt het, was daar nog altyd ‘n breër raamwerk waarbinne ruimte gemaak is vir ander standpunte. Ons eintlike gesprek is maar net die vraag of teoloë en predikante binne die raamwerk van die kerk val. Indien wel, dan hou ons aan om met mekaar te stoei oor hoe hierdie raamwerk moet verander. Ons vorm saam verder aan die tradisie.

En as jy roep “dwaalleer… dwaalleer…” en die kerk stem nie met jou saam nie? Wel, dit lyk my dan moet jy of jou standpunt verander (of ten minste verbreed sodat daar vir ander standpunte ook ruimte is), of die kerk verlaat, of ander in ontevredenheid (dalk selfs woede) voortleef. As ek die storie so kyk het ons ‘n paar lidmate wat vir die derde opsie gekies het. Ons sal hulle seker altyd tussen ons hê, maar ons hoef onsself seker nie altyd deur hulle te laat ontstel nie?


dis nie ‘n volkskerk nie, dit lyk net soos een…

April 11, 2013

Neels Jackson se rubriek vanoggend is ‘n vreemde argument. ‘n Lang lys redes waarom die NG Kerk nie ‘n volkskerk is nie met ‘n slot wat sê dat die NG Kerk nogals baie soos ‘n volkskerk lyk. Iets soos: “Dit is nie ‘n volkskerk nie, dit lyk net soos een”.

Neels se lys argumente is basies die volgende:

  • Ons het ‘n sinodebesluit geneem dat ons nie meer ‘n volkskerk is nie.
  • Wit dominees ontken dat ons ‘n volkskerk is.
  • Wit lidmate ontken dat ons ‘n volkskerk is.
  • Op party plekke, veral middestede, is die NG Kerk nie meer wit nie.
  • Daar is selfs voorstedelike gemeentes waar jy gereeld ‘n “gekleurde” gesig sal sien.
  • In ons barmhartigheidswerk reik ons uit na swart gemeenskappe.

Maar selfs Neels weet nie hoe om verby Sondag oggend 9 uur te kom nie. Want maak nie saak wat sinodebesluite or wit dominees of wit lidmate sê  nie, maak nie saak ook die uitsonderings nie (belangrik soos wat hierdie voorbeelde is!), en dit maak selfs nie saak dat ons swart gemeenskappe wil “ophef” en “ontwikkel” nie, daar is so rondom 1000 simbole van die geskiedenis van kolonialisme, apartheid, institusionele rassisme en die teologiese regverdiging van apartheid wat elke Sondag oggend bymekaarkom. En my vermoede is daai simbole sê meer as wat Neels wil erken.

Jonathan Jansen se kritiek op die NG Kerk het my al baie gehelp. Ja hy werk met geykte stereotipes soos die “NG dominee met die swart pak”, iets wat ek dink as ‘n simbool van ‘n bepaalde ideologie funksioneer in sy retoriek. Ek dink Pierre de Vos doen iets soortgelyk, search maar net die “dominee” op sy Engelse blog en kyk wat jy kry. Ek sal die argument oor hoekom dit die “NG dominee” i.p.v die “APK dominee” is vir ‘n ander geleentheid los, maar ons moet tog besef dat daar ‘n bepaalde keuse gemaak word om die NG Kerk as voorbeeld te gebruik.

Ek dink dit is te vinnig om te sê Jonathan Jansen is só verkeerd. Ja, die proses waarvan Jansen net gehoor het (ons kan gerus ophou met die idee dat almal veronderstel is om die details van ons interne debatte hoef te ken) is meer kompleks as wat hy dit in sy kort rubriek beskryf. Ja, ons dra nie swart pakke en wit dasse nie (alhoewel ek dink ons veronderstel is om die metaforiese aard van Jansen se opmerking te moet raaksien). Maar ons moet hom hoor:

“Die georganiseerde kerk is immers die een plek waar jy sonder inmenging van buite steeds wit kan wees en afgesonder van jou swart susters en broers.”

En ons is ‘n wit kerk. Nie net omdat ons eredienste bestaan uit lidmate wat half bleek is en lyk of hulle voorouers oorwegend uit ‘n deel noord van Afrika gekom het nie. Om die waarheid te sê, beide Jansen se uitsondering van die NG Kerk asook Neels se verdediging van die NG Kerk loop die gevaar om die idee dat verandering beteken om “‘n paar gekleurde gesigte in ons eredienste te kry” te regverdig.

  • Ons is ‘n wit kerk omdat ons kerklike diskoers oor wat in die lang aan die gebeur is gereeld idees wat die instandhouding van ‘n wit identiteit ondersteun napraat (ek het daai idee in meer as 100 bladsye probeer neerpen elders).
  • Ons is ‘n wit kerk wanneer ons besluite oor eiendom en pensioenfondse daarop gemik is om die kapitaal wat in een deel van die kerk opgebou is oor dekades heen in die hande van daai selfde deel van die kerk te hou.
  • Ons is ‘n wit kerk wanneer ons teologiese studente se opleiding basies uitsluitlik leeswerk van wit teoloë insluit.

En dalk moet ons hierdie lysie nog uitbrei, met merkers wat ons herinner dat ons ‘n wit kerk is. Ons moet byvoeg dat by elkeen van hierdie tipe merkers is daar uitsonderings, en die uitsonderings word al hoe meer. Orals waar ek beweeg sien ek jong predikante wat Steve Biko as een van die belangrikste outeurs wat hulle gelees het sien. Ek sien plekke waar ringe ernstig begin dink oor wat dit beteken om kapitaal in die vorm van geboue deel buite die NG Kerk se beheer te laat gaan (en nie dit verkoop aan die een wat die hoogste aanbod maak nie). Ek sien hoe gemeentes en sinodes meer en meer standpunte inneem wat instandhouding van die voortgesette ongeregtighede wat hoofsaaklik arm swart Suid Afrikaners raak uitdaag. Ons beweeg dalk nie so vinnig nie, maar ons beweeg wel.

In die kerk is daar egter ‘n groeiende ander stem as die een wat sê

“om te maak of dit vandag steeds ’n kwessie van rassisme is, is op sy beste ’n teken van oningeligtheid en op sy slegste ’n teken van moedswilligheid of onnoselheid”.

Dit is die stem van ‘n groende groep lidmate en predikante wat erken dat hulle sukkel met hulle eie witheid. Hoe meer hulle deel van hierdie land word, veral psigologies hulleself as deel van ‘n Suid Afrika van 50 miljoen mense, nie 5 miljoen nie, beleef, hoe meer raak hulle ook bewus dat hulle gesosialiseer is om wit te wees.

Nee Neels, dit is nie oningeligtheid, moedswilligheid of onnoselheid wat maak dat ons rassisme (al sou ek die woord dalk met een van sy ander verbuigings wil vervang, maar dis nie nou so belangrik nie) as ‘n voortgaande probleem in die NG Kerk sien nie. Dit is omdat ons dink dat om eerlik op die tafel te sit dat ons steeds worstel met ons eie geras wees ons verder gaan help om te worstel met hoe ons dag na dag, Sondag na Sondag, verder wegbeweeg van die wêreld van wit bevoordeling en swart onderdrukking.

So ek dink ons kan maar gemaklik met Jansen saamstem: die mure van hierdie plek moet afgebreek word en iets nuuts moet opstaan. Dis mos maar hoe die kerk nog altyd gepraat het. Oor doodgaan vir ‘n ou lewe en opstaan in nuwe lewe. Van ons sien reeds tekens van hierdie voortgaande opstanding ook in die NG Kerk, maar ons erken tog dat ons nog op die lang pad van sterf vir die ou self is, op die lang pad om die mure van die tempel af te breek sodat iets nuuts gebou kan word.

Want jy sien, die georganiseerde kerk is wel die een plek waar jy nog sonder inmenging wit kan wees, maar dit is deels omdat die georganiseerde kerk die een plek is waar wette nie die skyn van verandering kan bring nie. Dit is deels omdat al wat hier verandering bring is diep oortuiging. Die kerk bly immers ‘n organisasie van vrywilligers.

Jansen het tog maar die antwoord tot ‘n mate namens die kerk gegee: “Christus se opstanding gee my hoop vir ’n nuwe begin, selfs in die (NG?) kerk.”


Kaarte vir ‘n kerklike landskap

Februarie 26, 2013

Die afgelope paar weke se debatte oor Kerkbode, Woordfees, die hemel en die hel het my baie laat dink oor die kaarte wat ons gebruik om sin te maak van die kerk. Of dalk eerder, laat dink oor waar ek myself op my eie kaart sien. Dit was hoofsaaklik omdat ek nie ‘n uitsonderlike stuk ontsteltenis oor die hele debakel kon ontwikkel nie (ek sou nie te ontsteld wees as die kerk die fees borg nie, en is nie te ontsteld as die kerk nie die fees borg nie), dit terwyl daar duidelik stemme in die kerk is wat diep ontsteld is daaroor dat daar in die eerste plek enige assosiasie tussen Kerkbode en die gesprek was, en lyk my nog meer ontsteltenis (of dalk verklap ek nou maar net in watter kringe ek beweeg) omdat die borgskap onttrek is. Natuurlik maak almal asof hulle met suiwer “tegniese” argumente besig is, suiwer besig is om te praat oor die “wetlikheid” van wat gebeur het, maar daar is ‘n groot ooreenkoms (met baie uitsonderings) tussen mense se teologie en wie hulle glo of nie.

Bertus se poging om ‘n kaart te teken van wat in die kerk aan die gebeur is het my nou so ver gekry om ook ‘n paar kaarte by te voeg. Terwyl ek getik het, het Johann ook ‘n klomp koördinate neergepen. Ek dink sulke kaarte is belangrik, maar ook gevaarlik. Dit is belangrik, want sonder ‘n kaart sukkel ons om iets so kompleks soos ‘n godsdienstige omgewing te verstaan. Dit is gevaarlik, want die godsdienstige landskap pas nooit in ‘n kaart in nie, en ons kaarte kan ons dus mislei ook.

Bertus se kaart kan as ‘n lyn geteken word. Dit is ‘n relatief bekende kaart, wat die kerk beskryf op ‘n spektrum van konserwatief na progressief, met die hoofstroom kerk iewers tussen hierdie twee. Hy beskryf dit met ‘n regterdeur en ‘n linkerdeur, wat die deure is waar mense uit die kerk loop. Die kenmerke wat hy by die regterkant plaas is “praise & worship”, bekeringsboodskappe en ‘n letterlike verstaan van die Bybel. My die linkerkant vind jy kritiese vrae, ‘n poging om geloof binne ‘n moderne tyd te verstaan en erns met die wetenskap. Die kerk is in die middel. In Bertus se beskrywing is die kerk heeltyd besig om die regterdeur te probeer gelukkig hou, en dit veroorsaak dat die aan die linkerkant wegloop. Ander wat ‘n soortgelyke prentjie gebruik beskuldig die kerk egter van die teenoorgestelde. Wat Johann aanbetref, dit lyk vir my of sy baie koördinate eintlik maar ook op ‘n lyn geplot word, met die idee dat daar twee “ekstreme” is, en dat daar ‘n “goeie middeweg” gevind moet word.

Die benadering om die kerklike landskap op ‘n lyn van “konserwatief” na “progressief” te teken het dalk waarde, maar dit wou net nog nooit vir my werk nie. Daar is net altyd te veel mense wat nie inpas nie. Mense wat byvoorbeeld ‘n tipies “behoudende” lees van die Bybel het, en juis daarom inpas by Bertus se beskrywing dat hulle “‘n hekel het in die empaaiers wat daar in kerkstrukture gebou word”. Hier is dus ‘n paar ander kaarte wat my deur die afgelope jare gehelp het.

Een daarvan was die prentjie van vier spiritualiteitstipes. Ek het dit geleer as ‘n kaart wat deur Corinne Ware geteken is. As student hier in my senior jare, toe ek pas by ‘n gemeente begin werk het, het ons as predikante baie die kaart gebruik. Die prentjie werk met 4 kwadrante wat rondom 2 asse geranskik word. Die een as skei die “denkers” van hulle wat “voel”, die ander as “die vir wie die belangrik is om iets van God te weet” van “die wat verkies om op misterie te fokus”.

spirit4

In die tyd toe ons baie oor hierdie kaart gepraat het het party gedink dit is moontlik om ‘n verskeidenheid van spiritualiteite in een gemeente te betrek. Ten minste ‘n deel van gemeentes wat met diverse eredienste werk het met hierdie oortuiging ingegaan. Dit is egter sekerlik moontlik dat ons elkeen van die “extremes” van hierdie kaart as ‘n “deur” binne Bertus se metafoor kan beskryf. Partymaal lyk dit ook vir my asof ‘n kwadrant aan die konkrete kant met tye sy teenoorgestelde aanneem (Charismatiese spiritualiteite wat moralisties voorkom, of tipies intellektuele spiritualiteite wat ‘n mistiese spiritualiteit beklemtoon). Uiteindelik is die beperking vir my egter dat dit wil voorkom asof hierdie spiritualiteite steeds ‘n verskeidenheid van teologieë kan verteenwoordig, en dat ons dit op ‘n manier moet verreken.

Bietjie later in my lewer, ongeveer die tyd wat ek klaargemaak het met my verpligte studies en die eerste jaar wat ek predikant was, het ‘n kaart wat ek by Leonard Sweet gekry het my gehelp. Die kaart kom uit The Church in Emerging Culture, waar Sweet as redakteur van die boek stemme kry om die verskillende kante van sy kaart te verteenwoordig. Weereens 4 kwadrante met 2 asse. Die een as verteenwoordig tot ‘n mate die bekende lyn konserwatief-progressief wat ek mee begin het: Onder vind jy die wat sê die teologie hoef nie te verander nie, bo die wat dink dit moet wel verander. Dit gaan egter verder en fokus ook op wat Sweet as “method” beskryf, maar wat hoofsaaklik fokus op liturgie sover ek kan aflei. Party wil die liturgie verander, ander nie. Een probleem van die enkele lyn waarmee ons die kerk probeer beskryf word ondervang met hierdie kaart: die feit dat daar in die kerk ‘n groot groep is wat ‘n meer letterlike lees van die Bybel verkies, maar ook verkies dat die kitare en dromme uit die kerk moet bly, en geen plek het vir ‘n “bekeringsdiens” nie. Op hierdie kaart sal so ‘n groep links onder gevind word, terwyl wat Bertus as die “regterdeur” beskryf regs onder gevind sal word. Die kaart kan help om gemeentes wat ‘n duidelike intellektuele klem het, en teologies ‘n hoë mate van verandering kan akkomodeer, maar wat weier om radikaal aan die liturgie te verander (of kies om die liturgie grotendeels vas te maak by ‘n bepaalde punt in die geskiedenis) te vind.

sweet01

‘n Kaart wat my begin help het hier van 2010 af kom oorspronklik van Justo González se Christian Thought Revisted af. Ek het dit egter by Roger Schroeder geleer, wat dit saam met Stephen Bevans in Constants in Context gebruik het om die kerk deur die eeue te verstaan. Deur hoofsaaklik van González gebruik te maak praat hulle van 3 tipes teologieë wat altyd binne die kerk teenwoordig was en is.

  • Een tipe teologie probeer om so getrou moontlik aan die tradisie vas te hou, en plaas die klem daarop om God in hierdie wêreld bekend te maak. Die groep word partymaal as “konserwatief” of “ortodoks” beskryf. Hulle glo dat om betekenis vir die toekoms te vind moet daar so getrou moontlik aan die verlede vasgehou word. Die taak van teologie is om die tradisie so te verpak dat dit aanvaar kan word in ‘n nuwe tyd. Party sal sê dat dit die primêre lyn is wat in die kerk gevind word deur die eeue.
  • ‘n Tweede tipe probeer om die kerk se teologie in gesprek te bring met die filosofie van die dag. Dit kan daaroor gaan om die teologie binne ‘n nuwe intellektuele klimaat aanvaarbaar te maak, maar ook om vanuit die teologie in gesprek te kan gaan met die filosowe van die dag. In die vroeë kerk sien ons hierdie lyn gereeld, wanneer vroeë teoloë met die heersende Griekse filosofie in gesprek tree (doen Paulus self nie ook iets hiervan nie?). Hierdie groep is oortuig dat die kerk nie gaan oorleef in ‘n veranderende wêreld as ons nie ons teologie wesenlik aanpas nie. Party sal sê dat dit die primêre lyn is wat in akademiese teologie gevind word.
  • ‘n Derde tipe probeer om die teologie met verandering in die samelewing in gesprek te bring. Die fokus is nie in die eerste plek die tradisie of die heersende filosofie nie, maar eerder die sosiale werklikhede waarbinne ons onsself bevind. Teologie beteken om te soek na wat geloof in God beteken te midde van onderdrukking, armoede en ongeregtigheid. Dit lyk of hierdie groep die minste gesien word deur die loop van die geskiedenis van die kerk. Dalk vind ons hierdie groep ook hoofsaaklik rondom die kerk, in politieke bewegings, as aktiviste, gemeenskapsorganiseerders.

Min mense kan in slegs een tipe pas nie, en meeste is ‘n kombinasie van hierdie drie, of beweeg selfs op verskillende tye in hulle lewe deur die drie. Party sal ook sê dat al drie op verskillende tye in die kerk “ortodoks” was. Die uitdaging is egter nie om ‘n “goeie middeweg” tussen hierdie drie te vind nie! Op hierdie kaart is al drie noodsaaklike dele van die teologiese landskap. Ons is net nie almal op dieselfde plek nie. Die kaart help my om myself te verstaan, maar ook waarom die lyn wat telkens geteken word, waar daar twee ekstreme in die kerk is, nie werk nie: ek dink dit is deels omdat party bereid is om die debatte oor of daar ‘n hemel is of nie bietjie opsy te sit sodat hulle saam kan utivind wat beteken dit om binne hierdie wêreld ‘n verskil te maak vanuit wat hulle glo.

lbdi-logo

Dalk moet ek nou stop, maar kom ek gee nog een kaart wat my heel onlangs begin help het wanneer ek dink oor die verskeidenheid van studente wat by ons inskryf, en hoe om hierdie diverse groep deur ‘n proses van teologiese opleiding te neem. David Tracy sê in The Analogical Imagination dat teologie binne 3 omgewings beoefen word, en dat die keuse wat ‘n teoloog maak oor “waar” hy/sy wil praat bepalend is vir die teologie wat hulle op die tafel sit. Kerk, akademie en samelewing word hierdie 3 sfere. As ek met die kerk in my gedagtes sit, dan gaan ek op een manier praat, as ek met die akademie (en dalk moet ons akademie verbreed om na intellektuele gesprek te verwys) in my agterkop sit op ‘n ander manier, en as ek met die breë publiek in my agterkop sit op nog ‘n ander manier.

So hier is waar ek nou sit: ek dink hierdie verskillende kaarte kan almal op ‘n manier geldig wees. Ek dink egter die laaste 4 help my meer as die tipiese lyn wat ons telkens skets (alhoewel die lyn se eenvoud dit dalk gewild maak). Op al 4 kaarte kan ek myself iewers plaas, maar waar ek myself plaas sal verander oor tyd. Wat ek hou van die laaste twee kaarte (Tracy and González) is die poging om te sê dat ons nooit die kerk tot een tipe kan reduseer nie. Dit gaan nie bloot daaroor dat ons die verskillende tipes moet “akkomodeer” nie, maar eerder dat ons al drie (op beide kaarte) nodig het. Teologie het nog altyd in verskillende omgewings funksioneer en moet dit aanhou doen. Net soos wat dit ons nie gaan help om Sondag oggend se liturgiese taal in ‘n politieke vergadering te gaan neersit nie, gaan dit ons ook nie help om Dinsdag middag se akademiese lesing in Sondag oggend se erediens neer te sit nie (maar dit beteken nie vir een oomblik dat die een die ander kan troef nie). Dit wil ook vir my voorkom of ons teologiese gesprek deur die eeue ‘n dans is tussen González se drie tipes, en dat ons juis in die spanning (mag ek my vooronderstellings maar verder ten toon stel deur van die “kreatiewe spanning” te praat) die kerk sal vind.

Ek dink ons het nodig om ‘n baie ernstige gesprek te voer oor die kaarte wat ons gebruik om die debatte in die kerk op te som. Want ek dink ons mees gewilde kaarte is verkeerd, en ons kyk goed daarom mis.


Kerklike debat en om anders te lééf

Desember 13, 2012

Ek is nie seker wat die doel van die drie artikels is wat saam as Kerkdebat in twyfel versprei word nie. Verseker kon dit nie drie kante van die saak belig het nie, want Jordaan, Strydom en Pretorius sê al drie eintlik maar dieselfde. Lees maar, dis heel eenvoudig: Daar is ‘n tradisionele geloof, en ‘n tradisionele praat oor God aan die een kant, en daar is een of ander “nuwe geloofstaal” aan die ander kant, met die onuitgesproke moontlikheid dat dit selfs ‘n totale verwerping van alle geloofstaal kan beteken.

Al drie probeer ‘n middeweg vind. Ons moet nuut praat sonder om die oue te los. Noem dit misterie, noem dit dialoog, noem dit wat jy wil, dit kom telkens op dieselfde neer. Iewers moet ons ‘n middeweg vind tussen die twee groepe wat Julian Müller uitwys. Twee groepe wat eintlik al stereotipes geraak het binne die Suid Afrikaanse publieke debat oor die toekoms van die kerk.

En in die proses het ons drie reaksies op Julian Müller en nie een van die drie raak aan die kern van sy argument nie:

Individuele spiritualiteit sonder sosiaal-etiese implikasie is aan die orde van die dag.

Albei groepe moet gehelp word om te verstaan wat die eise van die Evangelie vir húlle is.

Dalk hoor ek Müller verkeerd, maar as ek hom so lees dan het hy maar vrae oor beide groepe se bereidheid om te breek met ‘n individuele spiritualiteit en om die sosiaal-etiese implikasies van die evangelie sentraal te maak in die nuwe taal wat nodig is.

Dalk het ons almal oortuig geraak dat as Julian Müller skryf, dan moet ons hoor dat ons anders moet dink oor etlike artikels van die Apostoliese geloofsbelydenis. En daarop reageer die drie wat Kerkdebat in twyfel vol woorde pak dan ook. Maar ten spyte van die aanhak aan Wilhelm Jordaan se vorige rubriek, wat inderdaar met hierdie twee groepe gewerk het, is daar maar min in Müller se artikel oor hoe hierdie nuwe taal God sal omskryf. Wat hy egter wel herhaaldelik noem is eenheid, inklusiwiteit, etiek. Belhar, nie die Apostoliese Geloofsbelydenis nie, is waaroor hy praat. En Belhar se waarheidsaanspraak lê in ‘n manier van leef, nie in die korrekte formulerings oor hierdie of daardie metafisiese kontroversie nie.

Kom ek sê wat Julian Müller nie sê nie: Die Steeds Hervormers is nie juis veel meer wit as die Nuwe Hervormers nie.

(ek is nie deel van een van die twee nie, so ek getuig maar oor wat ek sien).

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek dink die pogings om een of ander onveranderde geloofstaal te vind is futiel. Die geskiedenis van die kerk is bloot teen jou as jy oortuig is dat daar een of ander punt in die geskiedenis is waarop ‘n bepaalde interpretasie van ons belydenis van geloof gefinaliseer is.

Ek dink verder oor dat al die wetenskaplike ontdekkings en filosofiese debatte die kerk nie kan verbygaan nie. Maar dan weer, dit het die kerk nog nooit verbygegaan nie. Kerklike burokrate het nog altyd versigtig die manier van praat geskuif (en as jy daaroor twyfel, vergelyk maar gerus die moderator vandag en die moderator van 100 jaar terug, of selfs die pous deur die eeue). Kerklike rebelle (heel gereels in die vorm van akademici) het nog altyd eksperimenteer met ander maniere van praat, of hierdie akademici wat aan die kerk gekoppel was nou teoloë of fisici was. Daar was nog altyd stemme wat geglo het die kerk ignoreer die veranderinge in die samelewing, en dan maar hul goedjies gevat en geloop het. Dis belangrik dat ons hieroor moet dink.

Maar ons kan so vasgevang word tussen hierdie twee groepe, of dalk eerder, tussen die burokrate se versigtige nuut-praat en die rebelle se eksperimente, dat ons vergeet dat ons in die NG Kerk eintlik ‘n belangriker debat op ons tafel het.

Hoe ons die wederkoms en entropie met mekaar in gesprek bring is belangrik. Maar hoe ons wit en swart Suid Afrikaners met mekaar in gesprek bring is heelwat belangriker. Hoe ons dink oor die kerklike ballinge is belangrik (en moet my nie verkeerd verstaan nie, dit is hoe die meeste van my vriende beskryf moet word), maar uiteindelik is dit ekonomie, taal en ras, meer as jou interpretasie van die maagedelike geboorte, wat bepaal of jy Sondag oggend in een van daai geboue wat as “NG Kerk” beskryf word gaan sit.

Ons kan so lekker saamdans oor hoe ons oor God moet praat, belangrik soos daai dans is, dat ons vergeet dat ons spesifieke verlede ons met een moerse sosiaal-etiese dilemma los, en dat dit, nie die vraag oor wat presies die aard van God is nie, bo-aan ons agenda moet wees.

So laat ons daai nuwe taal gaan soek. Maar kom ons begin deur te vra wat die sosiaal-etiese implikasies van hierdie nuwe taal gaan wees. As ek dit nie mis het nie, is dit waarvoor Julian Müller hierdie rondte gepleit het.


“ja” vir Belhar, want ons het mos nie baggage nie

Oktober 10, 2012

Ek raak altyd bietjie skepties as ek hoor “die jong dominees sê”. Jy sien, daar is ongelooflik mag daarin om die “jong stem” aan jou kant te hê. Dit is asof die een wat kan sê dat “ek sê wat die jong stemme sê” tot ‘n mate die langslewendheid van sy/haar eie idees bevestig. Die waarheid is egter dat daar selde, indien ooit, enige “jong stem” oor ‘n saak is. Al wat ons het is “jong stemme”. Telkens wanneer ons dus hoor dat “die jong dominees sê” dat moet ons stilstaan en die ou suspisieuse vrae vra: Watter jong dominees? Hoekom kies die een wat die jong stem oordra om dit te doen? Wat is die breër rol wat die uitverkose jong stem moet speel? Uiteindelik kry elke hoë profiel stem in die kerk iewers ‘n groepie jong dominees wat skynbaar hierdie of daardie standpunt sou ondersteun, en elkeen kies om maar die jong stemme wat anders klink te ignoreer.

In die kerk raak ek ook baie skepties wanneer ons oor teologie praat en die kerk eenvoudig tussen “jonk” en “oud” wil verdeel. Sonder om dit eers te verdedig, ek dink bloot nie die verdeling werk nie, en as jy sou begin ordentlik navorsing doen gaan jy agterkom dat daar ‘n ongelooflike hoeveelheid uitsonderings op elke patroon is wat jy skynbaar raaksien. Daarmee ontken ek nie dat die kerk oor tyd verander, en dat daar dus ‘n skuif te bespeur is nie, maar ek ontken wel dat daar ooit ‘n “clean break” is waar twee generasies eenvoudig teenoor mekaar kan staan.

Dit bring my by Belhar en Rapport.

As Tim du Plessis pleit vir die aanvaarding van Belhar (OK, pleit is dalk ‘n te sterk woord) dan sê dit dalk iets oor die rigting waarin die gesprek beweeg. Tim sou immers nie op die plek gesit het waar hy is as hy nie in staat was om die konsensus van sy lesers te verwoord, so paar stappe voor hulle te wees, maar om hulle nie te veel te ontstel nie. So dalk gee Tim rigting aan: die tyd waarin Belhar aanvaar sal kan word is naby.

Marlene Malan se artikel oor Belhar by Aardklop is ook insiggewend, want sonder om te veel tussen die lyne hoef te lees maak sy dit duidelik dat hierdie ‘n lot ou ooms is wat negatief is oor Belhar. Of dalk is negatief te sterk woord, kom ons sê maar net dat hierdie groep, wat in haar prentjie duidelik ouer stemme is, vind Belhar ‘n komplekse debat, is gekant teen die druk dat daar “ja” gestem moet word, en soek, in die woorde wat sy aan Piet Strauss toeskryf, ” ’n groter balans van “vir” en “teen” in die huidige debat oor Belhar voorstaan” (ek het geen idee wat hierdie frase beteken nie, maar kyk hoe herhaal hierdie frase in die volgende paragraaf).

Dit bring my terug by die jong stemme. Marlene skryf toe verder oor Belhar n.a.v die VGKSA se Algemene Sinodesitting. Hierdie keer is dit die jong stemme wat praat. Die artikel laat jou met die oortuiging dat daar ‘n konsensus is: “Deur die bank meen hulle: Belhar is ’n versoeningsgeskrif” en “Volgens Van der Spuy redeneer jong afgestudeerde NG predikante nie meer oor “vir” of “teen” Belhar nie. “Daar’s niks meer om oor te praat nie. Ons wil aangaan.”“. Die jong stemme is dus nie so ver van Tim du Plessis af wat glo dat “Die NGK moet Belhar, by wyse van spreke, uit die pad kry. Aanvaarding is al manier.

Hier dus my eerste punt: ons maak ‘n keuse vir watter jongmense ons wil aanhaal, en dit is ten diepste ‘n politieke keuse.  In hierdie geval vermoed ek dis ‘n keuse wat help om ‘n groeiende konsensus te verwoord, maar dit ontken steeds die feit dat daar ‘n sterk groep jong predikante is wat nie Belhar wil onderteken nie.

Daar is egter vir my ‘n dieper probleem, en daarom die titel van die blogpost.

Wanneer ons met oordrewe konsensus aandring daarop dat “Belhar is ’n versoeningsgeskrif“, dan moet ons met ‘n stuk ongemak gelaat word. Dit was nie perongeluk wat die 1982 sinode Eenheid, Versoening en Geregtigheid langs mekaar gesit het nie. Dit was omdat die sinode op daardie stadium gevoel het dat daar groepe in die Suid Afrikaanse kerkgemeenskap is wat een of twee van hierdie elemente ten koste van die ander beklemtoon. Die pro-Belhar diskoers in die NG Kerk lyk vir my ook of ons oor die algemeen Eenheid en Versoening meer beplemtoon as Geregtigheid.

Maar daar is ‘n volgende punt wat gehoor moet word. Een dominee wat Noordelike Sinode se laaste sinodesitting bygewoon het beskryf die kerk se standpunte oor Belhar ook in terme van 3 generasies. Die jong generasie “het nie die bagasie van Belhar nie- hulle lees die dokument net op sigwaarde, en sien geen dwalinge daarin nie“.

Wat is hierdie “bagasie”? Die bagasie is apartheid. Rassisme. ‘n Suid Afrikaanse geskiedenis van ongelykheid, van struggle teen apartheid, en van ‘n NG Kerk wat so diep drooggemaak het dat die kerk in die wêreld vir ons gesê het hulle kan hulleself nie langer met ons assosieer nie. En tot ‘n mate moet ons dit verstaan. Ek sukkel ook om die emosies van die middel 1980’s te verstaan (alhoewel dit tog meer moontlik raak as jy lank genoeg na die stories luister). Maar hier is my vrees: ons loop die gevaar om met Belhar in die een hand, en Klopjag in die ander hand die toekoms in te gaan. Ons loop die gevaar om tydens legitimasie Eenheid, Versoening en Geregtigheid te onderteken, en dan te sing “kan ons maar net aanbeweeg, Meneer“.

Jy sien, Belhar los my met ‘n ongelooflike stuk bagasie. Dit los my met die feit dat die top-skaal vir ‘n VGK predikant minder is as die begin-salaris van ‘n NGK dominee. Dit los my met die feit dat party in die land hulle kinders in publieke skole kan sit wat R25000 skoolgeld per jaar vra, terwyl ander dit nie kan bekostig om R25000 oor 12 jaar te betaal nie, en die skool se fasiliteite wys dit! Dit los my met die feit dat ‘n groeiende groep van my ouderdom mense aparte woonareas voortsit deur die komplekse wyse waarop gated communities kan bestuur wie mag hier binne kom en wie nie. Dit los my met die feit dat ‘n klomp kolegas in die VGK so paar maande hulle skok in my teenwoordigheid uitgespreek het omdat ‘n NG Kerk R10 miljoen aan ‘n kerkgebou kan spandeer (ek moes hulle toe skaam inlig dat dit in werklikheid meer as R50 miljoen was, en dat die memo nooit by hulle uitgekom het nie).

Nee, dis nie eenvoudig “alles apartheid” nie. Maar dit is apartheid ook. Dit is meer as apartheid ook. Maar dit is my baggage ook. Ek vrees dat die groeiende konsensus dat ons Belhar moet aanvaar gekoppel is daaraan dat ons deur die bank meen Belhar is ‘n versoeningsgeskrif, en dat ons selde hoor dat Belhar ten diepste oor geregtigheid gaan. En ons hoef nie bagasie oor Belhar te hê as dit nie oor restitusie gaan nie. Maar gaan kuier met die jong VGK predikante en vra vir hulle of Belhar oor restitusie gaan…

Ek sê ja vir Belhar. En elke keer wat ek dit skryf dan raak ek ongemaklik, want ek weet dit roep met tot ‘n leefstyl van eenheid, versoening en geregtigheid, en ek weet dit beteken ek het nog ‘n lang paadjie om te gaan. Ek sê ja vir Belhar, maar ek weet dat Belhar in die 1980’s geskryf is, teen ‘n bepaalde historiese agtergrond waaruit ek ongelooflik baie voordeel getrek het, en vir die res van my lewe die voordeel wat ek daaruit getrek het met my sal saamdra. Ek hoop met alles in my dat die NG Kerk Belhar sal aanvaar! Maar is nie iets waarmee ek sommer net kan aangaan nie, dis iets wat ek stadig moet oorweeg, die koste moet bereken, en in diepe geloofsoortuiging moet bid dat ek verander sal word. Want ek het nog ‘n leeftyd voor van werk om die ongeregtighede, onversoenbaarheid en apartheid van die verlede te help ongedaan maak, en ek hoop dit is waartoe ons onsself verbind as ons sê “ja” vir Belhar.


wanneer woorde skeldname word: oor die emerging church

April 24, 2012

Ek volg sulke stukkies van die huidige gesprekke oor die emerging church met ‘n glimlag en ‘n stuk pyn… gewoonlik gelyktydig. En dan raak ek so bietjies vies so tussendeur. Dieselfde stories lê agter al die emosies, en dit het dalk tyd geword dat en van hulle vertel. Dis ‘n storie van hyperlinks.

Vyf jaar terug het ek my eerste blog begin: Emerging South Africa. Dis ‘n kykie in die worsteling van ‘n teologie student in die post-Ferdie Mulder era by Tukkies. Ek het oor “emerging” begin skryf sonder dat ek enigiets geweet het van die beweging (‘n leser wat die geskiedenis van die beweging ken sal dit waarskynlik optel), maar die woord en een of twee gedagtes het my gehelp om te skryf. En ek het geskryf: oor die kerk wat kan word in Suid Afrika.

Ek het die blog gestop so jaar later, hoofsaaklik omdat ek begin voel het dat die naam nie my gedagtes vasvang nie. “Emerging” het nie my skrywes vasgevang nie, so ek het die Contemplator geword… net om 146 verdere blogposts te tag met “Emerging Church”. Die woord het my gehelp. Die woord het ander ook gehelp.

Maar niemand het ooit regtig geweet wat presies die woord beteken nie. Steve Hays was ‘n tipe vriend van die emerging church gesprek deur die jare in Suid Afrika, en ek gaan steeds terug na sy blog toe as ek stukkies van die geskiedenis wil optel, want hy het dit nogals goed gedokumenteer. Maar by hom sien jy dit duidelik: die beweging wil net net in ‘n definisie vasgevang word nie. Steve vat sulke momente vas van hoe die gesprek ontwikkel het:

Brian McLaren in 2007. Alan Hirch in 2008. Tshwane Emerging Cohort in 2009. Een kort refleksie uit die Tshwane Emerging Cohort bly klassiek: “One of the things that emerged was that many people were not clear about what exactly the emerging church was, but were interested in learning more.” Dit was die gesprek waarvan ons deel was: niemand het presies geweet waaroor dit gaan nie, maar ons het die gesprek geniet.

En toe gaan die gesprek dood. Nic Paton was ‘n belangrike stem gewees, maar lyk my hy het Desember 2010 laas hieroor geskryf. Roger Saner was die een wat die EmergingAfrica blog begin het, en in een van die laaste blogposts oor die Emerging Church wat ek van hom opspoor, Januarie 2010, praat hy tot ‘n mate oor die einde van die emerging church. Ekself? Wel, ‘n paar searches maak dit duidelik dat ek tot ‘n groot mate in 2010 opgehou het om oor die emerging church te blog. In 2011 verskryf daar nog blogposts wat die “emerging church” tag kry, maar hulle gaan almal oor die stilte rondom die gesprek.

My tydelike afsluiting van die gesprek was ‘n poging om te vertel wat geword het van die gesprek, en veral, wat geword het van die stemme wat eens op ‘n tyd aan die gesprek deelgeneem het. Dit het ek in 2010 geskryf, maar na EmergingAfrica doodgegaan het moes ek dit gaan uitgrawe, en het dit toe weer op my eie blog geplaas. My konklusie: die gesprek het doodgeloop want niemand kon besluit waaroor dit gaan nie, en omdat ons ander gesprekke gekry waarin ons ons energie ingesit het. Hoe dit gebeur het dat die woord skielik ‘n skeldnaam geword het weet ek nie, ek het gedog die gesprek het doodgeloop.

Nou vind ons ons in 2012, en proffies en kwaai lidmate is besig om ‘n woord wat tot onlangs toe nog ‘n beweging van 20-30 somethings beskryf het, ‘n woord waaraan niemand lekker kon inhoud gee nie, daai woord gebruik hulle om hoofsaaklik dominees van so ongeveer 50 jaar oud, of die kerk wie se leierskap min of meer uit daai generasie uit kom, van dwaalleer te beskuldig.

Vandag hardloop die skeldnaam “emerging church”, of Nelus Niemandt se vertaling van “ontluikende kerke” (getrou aan die vloeibaarheid van hierdie gesprek is Nelus se Afrikaanse gebruik van die woord nie sinoniem met die Engelse oorspronklike nie, in die Afrikaans was daar ‘n klemverskuiwing gewees, sodat ons vandag moet sê dat Emerging Church en Ontluikende Kerk nie regtig na dieselfde ding verwys nie) heen en weer geslinger. Die woord wat ons nooit lekker oor duidelikheid kon kry nie word skielik in detail met inhoud gevul deur hulle wat daarteen is, en dan gebruik om mense te beskuldig wat nog nooit hulleself met hierdie term beskryf het nie.

Jy sien, dis die probleem. ‘n Paar van ons was positief oor die term, en het stil geraak. Ek weet nie waar jy die spreekbuise vir die “emerging church” in Suid Afrika vandag sal kry nie. Ek weet hulle is nie tussen die bloggers wat die gesprek gevorm het 3/4 jaar terug nie (of dalk weier ons steeds om die woord te definieër, en weier ons om te dink dat daar ‘n spreekbuis kan wees vir hierdie vloeibare gesprek). Emerging het dus ‘n term geword wat ons toedig aan mense wat dit nog nooit op hulself gebruik het nie.

Dalk is dit maar een van daai gevalle waar ons ‘n naam vir ons vyand nodig het. Iewers het ‘n paar kwaai ooms (en ‘n tannie) ‘n woord betekenis gegee waaroor die wat eens op ‘n tyd met die woord identifiseer het nooit kon klarigheid kry nie, en nou het hulle ‘n naam vir die mense vir wie hulle kwaad is. En ‘n naam gee jou mag, want die een wat die ander ‘n naam gee, het hom of haar vasgevang, identifiseer, en kan nou inligting oor die een wat ‘n naam gekry het openbaar maak wat anders versteek sou wees (ons weet mos immers almal hoe daai emerging church mense dink…).

Ek glimlag dus maar elke keer, want ek onthou dat die woord nooit met sulke sekere definisies gevul was nie, en dat die huidige gesprek so bietjie uit die lug gegryp word. Ek kan glimlag, want ek was daar toe ons onseker was. Ek wil huil, want eens op ‘n tyd het ons gedroom wanneer ons mekaar ontmoet het in bokamers van coffee shops, en gepraat het oor die kerk wat kan word. En ek raak kwaad, want soos diewe het hulle die woord gevat wat ons so hard gewerk het om vaag te hou, en dit het ‘n duidelike byskrywing gekry, die woord wat ons so hard gewerk het om oop te hou, sodat ons kan saampraat oor God, het een geword waarmee mense uit die kerk verban word.