Los die Bybel en praat met die gays

Desember 8, 2011

Tot ‘n groot mate was ek ‘n unlikely kandidaat om my mond groot oop te maak oor die onderdrukking van mense op grond van seksualiteit. Vir die eerste 18 jaar van my lewe vermoed ek het ek nooit regtig daaroor gedink nie. As jy my sou vra of of homoseksualiteit sonde is, sou ek sonder twyfel gesê het “ja”, maar niemand het my gevra nie, en ek het nie nodig gehad om daaroor te dink nie. Ek het nie die 7 bybelversies op ‘n ry afgeken wat daaroor sou praat nie (ek sou moontlik nie een hier uit my geheue kon haal nie, en in alle eerlikheid, as ek dit nou moet doen sal ek dit maar moet google, ek weet steeds nie waar almal is nie), dit was bloot ‘n non-issue.

Diep in my matriek-jaar in, ek was al oppad om te gaan teologie swot, het ‘n baie goeie vriend aangedui dat hy graag met my sal wil praat. Hy het iemand nodig gehad om aan te vertel dat hy met homoseksualiteit worstel (ek gebruik sy woorde), maar dat hy tot die oortuiging gekom het dit is verkeerd, en dat hy sy lewe wil verander. Laaste keer wat ons gepraat het was hy baie gelukkig met sy keuse, in ‘n heteroseksuele verhouding sover ek onthou, en het die lewe vir hom aangegaan.

‘n Jaar later was ek ‘n jong teologie student. Oor die algemeen redelik konserwatief. Een van my beste vriende is aangeraai dat hy moet begin praat oor die feit dat hy homoseksueel is, en ek en hy het begin praat. Hy het nie gevra hoe ek hierdie of daardie teks interpreteer nie, hy het nie gevra wat my siening is nie, hy het bloot gevra of ons vriendskap van so aard is dat ons mekaar vertrou. Ons het laat aande gepraat. Ek onthou hoe hy my toestemming gegee het om enigiets te vra, en ek het. Stukkie vir stukkie moes ek besef dat hierdie mens wat hier langs my sit nie inpas by die prentjies van gays wat vir my geteken is nie. Een dag het ek hom gevra oor Romeine 1. Sy antwoord wat dat hy nog nooit wanneer hy daardie teks gelees het verstaan het dat dit praat oor hom nie, vir hom het homoseksualiteit immers niks met onnatuurlikheid of seksuele verhoudinge wat nie binne ‘n vertrouensverhouding geskied nie te make nie. Laaste keer wat ek gehoor het was hy gelukkig in ‘n homoseksuele verhouding.

Daar was nog stories, en deurlopend kom daar nog stories. In verhoudinge is ek gevorm en word ek steeds gevorm.

Ek het nog nooit die 7 tekste in detail bestudeer nie. Ek het gesien hoe ons dit as ‘n tipe litmus toets gebruik om te kyk of jy in of uit is (na alle kante van die teologiese spektrum toe), maar dit het vir my maar half vreemd gevoel. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat die Bybel slaafs navolg rondom seksualiteit nie. Iewers, of dit nou by Levitikus of Paulus is (ek bedoel come-on, wie van ons dink regtig dit sou beter gewees het as ons almal liewers selibaat geleef het?) besef almal van ons dat die Bybel in ‘n ander tyd geskryf is, en dat dinge anders werk. Ons forseer nie ‘n vrou wat deur ‘n man verkrag is om met hom te trou nie. Ons gebruik klippe om huise te bou, eerder as om mense daarmee te gooi. So waarom moet homoseksualiteit anders wees?

Dalk was die Bybel vir my belangriker as wat ek ooit sal besef. Party van my minder godsdienstige vriende in die koshuis het my diep verhouding met my gay vriend maar vreemd aangekyk. Maar ek kon nie anders as om om te gee nie. Nie omdat ek oortuig was dat homoseksuele verhoudinge Bybels aanvaarbaar was nie (ek was op daai stadium nie), maar omdat dit ‘n regte mens was. En jy sien, as vroom Christen (vir die wat wonder, daar was so ‘n stadium) is ek geleer mens gee om vir ander. Jy probeer om vir ander respek te hê. En die waarheid is dat ek ‘n paar keer gesien het hoe vroom konserwatiewe Christene met meer respek omgaan met gays as party van die wishy washy liberals wat vertel dat jy maar kan spyker wie jy wil (om Steve Hofmeyr se woorde te gebruik) maar nog nooit die moeite gedoen het om by iemand te gaan sit en hulle storie te luister nie.

Hoe ons die Bybel lees is belangrik, en ek het waardering vir die Bybelwetenskaplikes wat fyn die tekste bestudeer. Maar hierdie debat gaan nie oor die Bybel nie, en hoe vinniger ons dit besef hoe beter. Dit gaan oor mense. As jy die Bybel in die prentjie wil inbring, dan wil ek aanbeveel dat jy dit saam lees. In die NG Kerk het daar op verskeie plekke ‘n gewoonte begin ontstaan om saam die Bybelteks te lees, ‘n gewoonte wat ons by die Algemene Sinode sterk gesien werk het. Die gewoonte dryf my partymaal die mure uit, maar in hierdie geval dink ek moet ons daar begin. Kom ons begin deur Johannes 4 te lees in gemeenskappe waar mense wie se seksualiteit nie dieselfde is nie saam luister. Ons kan nie een dag langer hieroor debat voer sonder om saam met die gay community op reis te gaan nie. Dit is immers hoe ons in die kerk van Jesus Christus moet werk. En dalk sal hierdie reis, om saam met mense wat vir baie van ons partymaal vreemd voel (ja, ook vir baie van ons wat hard sal baklei dat daar ruimte gemaak moet word vir gays, ook ons het nog ‘n lang pad om te stap met ons eie homofobie) meer vir die kerk beteken as die om die regte besluit op papier te neem.

(eintlik dink ek daar is ‘n stap wat hierdie een vooafgaan, maar kom ek stop vir eers hier)


Paulus se voorstel vir ‘n post-ras wêreld

Augustus 23, 2011

Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

Galasiërs 3:26-29

Ek sal nie die eerste een wees wat hierdie gedeelte aanhaal in ‘n gesprek oor ras en rassisme nie. Net in hierdie week het twee mense in gesprekke na hierdie teks verwys. Ek wil die teks dus lees as ‘n teks wat relevant vir vrae oor rassisme is.

Om dit te doen moet ons begin deur te sê hierdie teks gaan nie oor ras nie. Paulus se “Jood of Griek” is nie verwysings na “ras” nie. “Ras” soos ons dit vandag ken is ‘n idee wat iewers tussen die laat middel-eeue en die vroeë verligting ontstaan in Europa. Dit verwys na verskeie pogings om mense te kategoriseer op grond van uiterlike merkers soos velkleur, wat partymaal met geografiese oorsprong saamgaan. Ani Rattansi het ‘n baie nice kort oorsig oor hierdie geskiedenis in Racism in die A Very Short Introduction reeks. Jood en nie-Jood is nie soveel ‘n hierargie van wie is bo en wie is onder nie, die eerder dit twee groepe is wat teenoor mekaar gestel word nie (en wat beide natuurlik dink hulle eie groep is die belangrikste). Ras werk anders. In ‘n ge-rasde samelewing weet almal dat wit bo is, en swart onder. Ja, ook hulle wat swart is weet dit, en hou dit baie keer in stand (dink maar aan Tutu se verwysings oor swart reaksies op geweld as ‘n onlangse voorbeeld).

Bron: Racism. A Very Short Introduction. p58As ons die teks egter vir ons eie tyd lees, moet ons dit tog as ‘n rasse-teks lees. Een van die sterkste lyne in die ontwikkeling van rassisme staan immers as “anti=semitisme” bekend. Dit was ‘n tipe “interne rassisme” (albei groepe het immers saam in Europa geleef), waar hulle wat “wit” was en hulle wat “Jood” was teenoor mekaar gestel is. Jode was lelik en skelm, wittes was mooi en nederig. In hierdie proses word die oorsprong van die Christelike tradisie daar Oos van die Middelandse See vergeet en word dit moontlik om “Christelikheid” direk aan “witheid” te koppel. Paulus se herinnering dat daar ‘n nuwe tyd aangebreek het deur Christus, is ook ‘n herinnering dat ons eie geloof in wese een is wat sy ontstaan het in die oorkom van die spanning tussen die een wat Jood is en die een wat heiden is. Ek is ‘n heiden, wat deur Christus, deur ‘n Joodse Jesus, een wat nie ‘n ligte pigmentasie gehad het nie, maar een wat ook nie die “wit” identeit wat ons in die afgelope paar honderd jaar geskep het deel nie, deel gemaak is van hulle wat “kinders van Abraham” genoem word.

Terug by ons eie konteks moet ek net eers een punt benadruk: daar bestaan nie iets soos ras nie. Ten minste, tegnies bestaan daar nie iets soos ras nie. Daar is geen wetenskaplike gronde vir die idee dat daar wesenlike verskille tussen mense bestaan op grond van die kleur van hulle vel nie. Geneties speel verskille in die kleur van jou vel baie minder van ‘n rol as vele ander aspekte. Dit wat ons ras noem is sosiale konstrukte wat kwasi-wetenskaplik begrond is. Dit beteken dat ons geleer is dat mense aan hierdie groepe behoort wat op grond van velkleur bepaal is, en wat bepaal wat hulle plek in die wêreld is, maar hierdie idees is gebou op sogenaamde “wetenskaplike” navorsing wat ons later sou leer geen begronding het nie.

Vandag sit ons dus met hierdie ding wat ons ras noem, wat ons geleer het bepaal wie ons is, en wat in rassisme omvorm het. Rassisme gaan nie bloot daaroor dat ek lelike goed oor ander sê nie, dit sluit in dat mense op maniere wat nie verwoord word nie, en waarvan ons partymaal nie eens bewus is nie, geleer word om op ‘n sekere manier teenoor mekaar op te tree, en verder dat die plek van hulle wat as “swart” ge-ras is oor die algemeen onder in die samelewing gehou word. Daar is uitsonderings, maar dit is uitsonderings. Ons maak vordering (en ek dink dit is belangrik om te onthou), maar dit beteken nie die probleem is op ‘n einde nie (wat ook belangrik is om te onthou). Dit gaan nie bloot oor kulturele verskille nie, maar oor die manier waarop die samelewing georganiseer word, en oor ‘n hierargie van wie is die “meeste mens”, en wie die minste. Wie se lewe is van die meeste belang, en wie s’n die minste.

As ons Paulus lees, dan gaan sy voorstel egter oor meer as bloot dat ons nie meer lelike goed vir mekaar moet sê nie. Paulus stel voor dat hierdie kategorië geen gewig meer dra in hierdie nuwe era wat deur Christus begin is nie.

As ons gedagtes wees na Paulus draai, dink ek ons lees Paulus verkeerd as ons van hierdie verklaring ‘n tipe “geestelike  ideaal” te maak. Paulus is nie besig om bloot te vertel dat ons “geestelik” nou ‘n merker het wat swaarder weeg as alle ander merkers nie. Paulus is bewustelik besig om ‘n nuwe politieke era in te lei, ‘n era wat hy glo gestalte gee aan dit wat Jesus kom leer het.

In kort, ek dink ons moet Paulus lees as een wat ‘n teologiese oortuiging uitspreek wat polities gestalte kry.

Polities vind dit vir Paulus gestalte in die kerk, die “ekklesia” (Griekse woord wat ons gewoonlik as kerk vertaal). Paulus het mos hierdie gebruik om Romeinse politieke terme oor te neem in sy eie werk. So byvoorbeeld is die “Christus Jesus is Here” ‘n direkte sinspeling op die uitspraak van die Romeinse ryk van sy dag wat gesê het dat “Caeser is Here”. Vir Paulus bring Christus Jesus dus ‘n nuwe stel reëls vir hoe die samelewing georganiseer behoort te word. Moontlik steeds die Romeinse ryk (ek dink nie Paulus breek hiermee nie), maar vir Paulus moet daar radikaal anders gedink word oor die plek van Caeser, en oor die plek van mense oor die algemeen in hierdie nuwe era wat deur die kruis en opstanding begin is.

Ekklesia is egter nog ‘n woord wat Paulus by die politieke wêreld van sy dag gaan leen. Ons vertaal dit vandag as “kerk”, maar dit verwys eintlik na ‘n byeenkoms, ook ‘n politieke byeenkoms. Wanneer die manne van die stad bymekaarkom om die sake van die stad te bespreek, dan is dit ‘n “ekklesia”. In Paulus se ekklesia geld daar egter hierdie nuwe stel reëls. Hier maak dit nie saak of jy Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie. In Paulus se ekklesia moet slawe en hulle meesters saam praat.

Paulus se ideaal is een wat polities gestalte kry in die plaaslike gemeente. Volgens Lukas, wat lank na Paulus se dood skrywe, het basies in gevangenisskap ingeloop ter wille daarvan om mense te help om in hierdie ideaal in te koop.

Ras is nou wel ‘n mite (maar moenie die krag van mites vergeet nie), en die verskillende “rasse” wat geskep is het nogals ‘n wye verskeidenheid van klassifikasies openbaar deur die geskiedenis. Wat egter grotendeels konstant gebly het (net grotendeels, daar is ‘n uitsondering of twee) is dat wit bo aan die hiërargie is, en swart onder. Wit is die naaste aan God, swart die verste. Wit is hoe God wil hê ons moet wees, swart gaan baie harde werk moet doen om deel van God se ideaal te word (indien dit enigsins moontlik is). So al kan ons vandag sê dat ras nie bestaan nie, is dit verstaanbaar dat die veral hierdie twee oorblyfsels uit ‘n ge-rasde geskiedenis is wat ons pla.

Vanuit ‘n Christelike tradisie herhaal ons Paulus se woorde dus graag deur te sê “daar is nou nie meer wit of swart nie”. En alhoewel Paulus oor iets anders gepraat het, dink ek inderdaad dat ons Paulus so kan lees. Gewoonlik klink dit of ons die “Jood of nie-Jood” met wit of swart vervang (wat verklap hoe diep die idee dat ras maar net kulturele verskille is), in die eerste weergawe van hierdie blogpost het ek dit self gedoen. Dit sal dalk help as ons onthou dat Paulus se “vry of slaaf” egter moontlik sterker ooreenkomste toon met ons “wit of swart” vanuit die moderne era.

Een manier waarop hierdie gedeelte interpreteer word is om te sê ons moet nou ophou karring aan ras. Daar is immers nie wit of swart nie, so ons moet ophou verwys na wit en swart, en eerder fokus op hierdie nuwe mensheid wat ons saambind. Interessant genoeg hou Paulus nooit op om die kategorieë te gebruik nie. Die aanhaling hierbo kom uit een van Paulus se eerste briewe uit. In Romeine, een van Paulus se laaste briewe, herhaal hy die aanhaling, en gebruik boonop ‘n groot deel van sy boek om oor die Jode te skryf. Efesiërs, een van daai boeke wat deur Paulus se volgelinge geskryf is, sit hierdie gedagtelyn voort, en Lukas, wat nogals moeite gedoen het om Paulus se storie as ‘n belangrike deel van die storie van die vroeë kerk neer te skryf, verwys jare later steeds na die probleme tussen Jode en nie-Jode, en hoe Paulus gewerk het om dit te oorkom.

Ek dink tog ons moet Paulus navolg. Maar om Paulus na te volg, soos wat hy geglo het hy Jesus Christus navolg, beteken egter nie om die bestaande kategorieë bloot te ignoreer nie. Dit beteken om ‘n wêreld te skep waar hierdie kategorieë nie meer saakmaak nie. Nie meer tel nie. Waar hierdie kategorieë van “wit” en “swart” nie bepaal met wie ek in verhoudinge is nie, nie bepaal wie ‘n stem het nie, nie bepaal waar my kinders skoolgaan of wie my dokter is. Wat veral nie bepaal in watter gemeente, ekklesia, ek is nie.

Ek dink ek sou Paulus tog navolg deur te droom van ‘n tyd wanneer dit werklik sinneloos sal wees om na wit en swart te verwys. Maar as ek Paulus so kyk, dan lyk dit vir my dit is nie ‘n wêreld wat maar bloot in-gepreek word nie. Dit is nie ‘n wêreld wat maar bloot geestelik aangekondig word nie. Dit is ‘n wêreld wat geskep word wanneer mense werk om ‘n politieke en sosiale omgewing te skep waar die lewe saam die getuienis is dat “dit maak nie saak of iemand swart of wit is nie”.

In kort: wit en swart maak nie saak nie, daarom werk ons vir ‘n wêreld waar dit werklik waar is dat wit en swart nie saakmaak nie. So vir nou praat ons oor ras, hierdie kwasi-wetenskaplike kategorie, in die hoop dat ons eendag nie meer oor ras hoef te praat nie (wetend dat Paulus se frase dan moontlik met nuwe spanninge gevul sal word).


hoe kreasionisme my teologie gered het

Julie 30, 2011

In 2002 was ek vir 7 dae lank ‘n kreasionis. Vir 7 dae lank het ek in ‘n 7 dag skepping geglo. Dit was moontlik die belangrikste 7 dae in my teologiese ontwikkeling.

Om egter by hierdie 7 dae uit te kom moet jy die bietjie meer as 7 jaar wat dit voorafgegaan het verstaan.

Ek was skaars ouer as 7 toe ek die stoep buite my pa se kantoor tot my eie plaaslike sterrewag verklaar het.

Kort daarna het ek en my broer ons laaste sakgeld elke maand uitgehaal om daai dinosaurus boeke by CNA te koop. Hulle het ons gevang met die goedkoop eerste uitgawe, en toe moet ons natuurlik aangaan om die hele dinosaurus te koop (so toe leer ons ook sommer ‘n paar lesse oor hoe ons as verbruikers gevang word).

Op 14 jaar oud het my pa vir my Gideon Joubert se Groot Gedagte gekoop. Die God wat ape neem en ‘n Goddelike asem in hulle in blaas, Quantum Fisika, Versnellers en allerhande sakies wat ek vandag oortuig is ek nie regtig op 14 verstaan het nie het my verbeelding aangegryp.

Toe ek op 18 dus hoor oor hierdie vreemde groep mense wat glo dat Genesis 1 ‘n wetenskaplike verklaring vir ons “hier-wees” gee, was my gevoel ‘n kombinasie van geamuseerd wees, en die arrogante begeerte om hierdie tipe mense tog in debat te wil ontmoet.

Hier moet ek ‘n meer ernstige kantnote maak vir almal wat in kinder- en jeugbediening werk. Ek het later jare meer studente leer ken wat in hul ontmoeting met hierdie vreemde groep wat ons “kreasioniste” noem vir die eerste keer gedink het daaraan dat daar moontlik ‘n spanning tussen antieke tekste en wetenskaplike teorieë is. Dit lyk my of baie van ons ‘n ongelooflike kapasiteit het om sonder allerhande modelle oor “wetenskap en teologie” (‘n uiters belangrike gesprek) tog gemaklik met tekste van geloofstradisies en ontdekkinge van ‘n moderne wêreld kan saamleef. Dis natuurlik nou tot iemand jou neus kom vryf in die argument dat dit onversoenbaar is.

My bekering tot die kreasionisme het, soos met vele ander tiener-bekerings, saamgehang met die verleiding van ‘n sekere jonge kerk-kamp vriendin. Die belangstelling in genoemde vriendin was groot genoeg om my 400 kilometer noord te trek na wat ek later sou ontdek die sentrum van allerhande wêreld-vreemde idees is (Pretoria, die stad wat ek love). Tydens ons eerste ontmoeting het hierdie vriendin my vertel van ‘n wêreld waar mense glo dat die aarde 6000 jaar oud is en in 6 dae gemaak is (ek verkies maar net die 7-dag teorie omdat dit darem die poësie van Genesis 1 ernstig opneem). Sonder om enige detail oor die naweek te onthul, sal ek dit vir die doel van hierdie skrywe net saamvat met die volgende sin: Ek het weggestap met ‘n kopie van Evolution: the unscientific lie, wat die outeur en hoof van die huishouding (‘n idee wat vele jare later eers betekenis sou kry, maar tog deel van hierdie storie is) waar ek my naweek spandeer het vir my as aspirant teologie student gegee het. Ek het belowe om die boek te lees na my baie eksamens wat die tweede helfte van matriek inhou.

Ek het nie by my woord gehou nie, en die 92 bladsy boeke kort voor my rekord-eksamen verslind. En ek was ten volle bekeer! Ek het die lig gesien. Ek het ‘n koherente wêreldbeeld gevind. Ek het my pa vertel hoe verkeerd hy en Gideon Joubert is. Die hele storie. Vir ongeveer 7 dae. Toe het die krake in die argument begin duidelik word. Die boek wou skynbaar net nie staande bly teen die harde wetenskap van matriek Nat-Skei nie.

Na 7 dae was ek van een ding oortuig: Pasop vir mense wat vertel dat Genesis 1 letterlik gelees moet word.

Dit was een van twee teologiese oortuiginge waartoe ek deur eie worsteling gekom het, en waarmee ek die storm-en-drang tydperk van 2003-2005 se teologiese opleiding by die berugte teologiese fakulteit by TUKS betreë het. My oortuiging ten spyt het die gesin waarvan die outeur van genoemde boek die hoof was vir baie jare daarna soos familie gebly. Dit was my ‘Pretoria-huis’. Genoemde outeur het egter moontlik nooit besef hoe dankbaar ek vir die dag toe hy daai boekie in my hand gestop het was nie.

Toe ons fakulteit tref in 2003 was daar verskeie sogenaamde “behoudendes” wat reggestaan het om die nuwe inname toekomstige-dominees in selgroepe te bind. My brose ontwikkelende teologie het nie lekker geweet wat om te maak met almal wat wonderbaarlike genesings beleef nie, of wat in tale praat nie. Ek het nie geweet wat om te maak met allerhande stories oor die gevaarlike standpunte wat sekere dosente skynbaar sou huldig nie. Maar ek het geweet dat as jy hoor iemand vertel vir jou dat Genesis 1 een of ander wetenskaplike teorie bevat, dan moet jy wegbly.

Toe ek in 2004 by ‘n uiters behoudende denkgroep (wel, denkgroep is moontlik nie die regte woord nie, want in hierdie kringe was daar hoofsaaklik vertel hoe daar gedink moes word, eerder as wat ‘n groep gedink het) aansluit, en die eerste spreker met hierdie einste idee begin, toe kon daar gevaar liggies aangaan. Dit sou my jare neem om die massas ander probleme raak te sien wat ek by die bekende behoudendes wat in hierdie jare die gange en grasperke rondom die Teologie gebou beman (ja, hoofsaaklik beMAN) het te verstaan, maar hierdie enkele oortuiging was soos die Suiderkruis wat ek op 7 jaar oud ontdek het: dit het my heeltyd gehelp om rigting te vind binne die storm van vreemde Amerikaanse teologieë wat besig was (en is) om oor ons Afrikaner volkie en sy kerkies te spoel.

So in kort: Aan die outeur van daai 92-bladsy boekie. As jy hierdie ooit sal lees. Ek wil maar net dankie sê vir die hulp in my persoonlike ontdekkingstog van wie ek nie is nie. Dis uiteraard nie die belangrikste ontdekkingstog waarop ‘n mens kan wees nie, maar ek glo dit was die grootste oorsaak dat ek deur die eerste paar jaar van my teologiese opleiding kon gaan sonder om opgesweep te word deur allerhande conspiracy theories.


elkeen lees met ‘n unieke bril

Januarie 29, 2010

Ek sit my gedagtes voort oor die lees van die Bybel. Ek moet Sondag so bietjie by Raslow gemeente gesels met hulle kategete, en hulle het spesifiek gevra hoe ons die Bybel moet hanteer in kategese, so hierdie is maar my proses van voorbereiding. Dankie dat jy deelneem hieraan.

In die teologie hou ons daarvan om van “konteks” te praat. Veral dan nou om die Bybel “in konteks” te lees. En dis nie net slim Bybelkenners wat dit doen nie, ek hoor dit orals, ook in die gemeente. In konteks kan beteken jy moet nie net die versie uitlig nie, jy moet die hele hoofstuk of boek lees. Dit kan ook beteken dat jy die wêreld waarbinne die gedeelte ontstaan het moet in ag neem, die politiese of ekonomiese omstandighede byvoorbeeld. Ons Bybelwetenskaplikes het wonderlike werk gedoen oor die laaste twee eeue om hierdie konteks te gaan skets en verduidelik.

Partymaal sal ons selfs ‘n volgende stap neem, en raaksien dat sekere idees vandag “binne konteks” ontstaan. Wanneer iemand op die platteland iets sê wat vreemd is vir ons in die stad, dan sal ons sê ons moet sy konteks onthou. Wat ons egter gewoonlik sukkel om te erken is dat ook my eie lees van die Bybel is nie totaal objektief nie, maar is gekleur deur my eie ervaringe. Die mooi manier waarop dit gesê word is dat “alle teologie is in wese kontekstueel”1

Die realiteit is dus eenvoudig so dat wanneer verskillende mense dieselfde deel lees, dan hoor hulle verskillende goed. Jou ekonomiese omstandighede, politieke ideologie, generasie waarin jy gebore is, en bloot jou lewensverhaal, bepaal wat jy gaan raaklees in die Bybel. Vir party mense maak hierdie realiteit hulle bang, hulle hou daarvan dat die Bybel vas en waar is, en dat hulle die Bybel kan gebruik om vir ander te wys wie reg en wie verkeerd is. Maar ander embrace hierdie realiteit, en gaan op ‘n avontuur saam met die Bybel.

Bybel lees in groepe veral word nou ‘n avontuur van dinge ontdek wat ek nooit sou raakgesien het nie. Lees bietjie die Bybel saam met iemand uit die local plakkerskamp uit, of saam met ‘n kid uit die gemeente wat totaal en al clueless oor die leer van die kerk is, en kyk hoe hulle dinge raaksien wat jy nooit aan sou gedink het nie. Die bevryding is dat die dominee nie meet die enigste legitieme interpretasie van die Bybel het nie, en ook nie die kategeet nie, maar dat almal saam interpreteer. Die stemme van jongmense in gemeentes word dan nog ‘n unieke bril wat met respek behandel moet word.

Natuurlik neem dit nie die vorige posts oor Bybelinterpretasie weg nie. Om bloot verskillende versies bymekaar te gooi, of al die problematiek uit die Bybel weg te try argumenteer bring ons nie my die unieke bydrae van jou bril nie. Dit is waarskynlik bloot maniere waarop ons steeds die realiteit probeer verwerp dat elkeen ‘n bril het. Maar wanneer ons ‘n teks lees, dan is daar waarde daarin om ook te hoor hoe ander dit lees, om werklik te luister, en om te weet dat my interpretasie is maar bloot een van baie. Dit bring nederigheid, en dit maak Bybel lees ‘n avontuur.

Hierdie los nie alles op nie. Dit antwoord byvoorbeeld nog glad nie die baie moeiliker vraag: “Hoekom moet ons Bybel lees?” nie. Maar as jy dan nou besluit om te lees, dink ek hierdie is ‘n perspektief uit die laaste 50 jaar wat belangrik is om te onthou.

1 – Bosch, D J. 1991. Transforming Mission. p422-423 het ‘n mooi opsomming hiervan.


elke teks interpreteer homself

Januarie 26, 2010

Hierdie word ‘n reeks wat skynbaar oor maande uitgestrek word, maar waarheen ek ook heeltyd terugkeer. Dit gaan nou oor hoe interpreteer ons die Bybel in ‘n postmoderne tyd.

Voor ek ‘n volgende stap byvoeg, moet ek net eers iets oor myself sê. Hoe meer tyd verbygaan, hoe minder van ‘n Bybelwetenskaplike word ek. Ek is mal oor die Bybelwetenskappe. Ek lees graag Walter Brueggemann, Marcus Borg en Albert Nolan as ek tyd kry. Jurie le Roux, Gert Steyn en Ernest van Eck het my ongelooflik gevorm in my jare op universiteit. Maar ek word minder van ‘n Bybelwetenskaplike oor tyd.

Ek’s ‘n dominee van ‘n NG gemeente. Met baie vriende wat nie kerk toe gaan nie. Wat beleef dat ek in ‘n krisis situasie is as ek kyk wat in die wêreld aangaan. Wanneer ek Bybel lees, dan lees ek om te probeer reageer op ongeregtigheid, absolute armoede, dreigende rampe, weermagte wat oorlog maak. En wanneer ek mense wil leer Bybel lees, dan is dit kategete, lidmate, kinders. En ek glo hierdie mense mag nie simplisties omgaan met die Bybel nie, want die krisisse van hierdie paragraaf en godsdiens is te nou inmekaar geweef, en die Bybel kan die probleem vererger.

Goed, nou dat dit uit die weg geruim is:

My volgende reël is gevorm op ‘n belydeniskamp. Ons het Kolosense 3 gelees op die kamp, en die jongmense het ons vasgevra soos gewoonlik. Ek kan nie onthou waaroor nie, maar dit was iets in Kolossense 3, en hulle het ontdek dat die Bybel homself weerspreek wanneer jy hierdie gedeelte met ‘n ander gedeelte vergelyk. Niks nuuts nie, ons weet mos nou al lankal dat daar goed is waaroor die Bybel nie ooreenkom nie. Dit het oom Willie Marais gemaak skryf aan boekies wat wys dat alles in die Bybel sin maak, en hy het die vreemste argumente daarvoor gebruik. Meer gematigde dominees het geleer dat alhoewel die Bybel bietjie oor feitelike goed verskil op plekke, dit altyd dieselfde praat oor God.

Die eerlike leser kom egter vinnig agter dis nie so nie, soos my belydenisklas dan nou ook gemaak het. Die realiteit is dat daar teologiese verskille, partymaal drastiese teologiese verskille, in die Bybel is. Ons probeer daarvan ontslae te raak deur te sê Jesus het goed verander van die Ou Testament, en elke keer wat ons iets in die Ou Testament raakloop wat vreemd is dan speel ons hierdie kaart. Dis nie net ‘n kaart wat die kerk nog altyd ten sterkste afgekeur het nie, maar dit los ook nie ons probleme op nie.

Hierdie feite het gemaak dat die Bybelwetenskappe van die laaste paar dekades nie meer gepraat het van ‘n “Teologie van die Bybel” nie (menende ‘n sistematiese samevatting van wat die Bybel oor God sê), ook nie eens meer oor ‘n “Teologie van die Ou Testament” en ‘n “Teologie van die Nuwe Testament” nie. Nee, hulle praat oor “Teologieë van die Ou Testament” en “Teologieë van die Nuwe Testament”. Ons erken dat die wysheidsliteratuur en die profete verskillende perspektiewe het. Dat verskillende profete verskillende perspektiewe, verskillende teologieë, het. Dat Lukas en Matteus en Johannes en Paulus elkeen ‘n eie teologie het.

Terug by die kamp, het ek en my kolega vir hulle gesê ons sal bietjie moet gaan dink oor hierdie baie intelligente vraag. Ons antwoord wat die titel van hierdie post: “Elke teks interpreteer homself”. In ons leesproses probeer ons net vra wat sê hierdie teks, ons probeer nie die hele Bybel te versoen nie. Ons laat die teks homself interpreteer, hoogstens binne dieselfde boek, outeur of tradisielyn, nie randomly in gesprek met enige ander teks in die Bybel nie.

Vir my kategete gaan ek net dit leer. Wanneer ons ‘n teks lees, dan probeer ons hierdie teks hoor, en ons weet dat ander tekste anders praat, en dis OK. Ek dink elkgeval dit is nader aan hoe die vroeë kerk hierdie briewe en dokumente gelees het.

Vorige posts in die reeks:

so stukkie afstand sal goed wees

dis ‘n boek daai, en daar is foute in


dis ‘n boek daai, en daar is foute daarin

September 8, 2009

‘n Baie goeie vriendin van my van waaay back af sit noudieaand hier in die sitkamer by ons. Sy is ‘n beautiful Christen mens, uit ‘n huis uit waar diep Christelike waardes geleef is. Jy weet, daai thick weergawe van geloof, waar dit alles beïnvloed, waar dit nie net oor ‘n paar basiese goed gaan nie, maar waar geloof jou hele uitkyk op die lewe bepaal. Sy ken haar Bybel, sy ken hom goed. En sy vra haar pa toe eendag wat nou gemaak met die contradictions en goed in die boek. Sy antwoord was bloot: “Onthou, die Bybel is deur mense geskryf, en mense maak foute”.

Ek onthou ‘n boekie van oom Willie Marais (onthou jy hom nog? die firebrand preacher van die Afrikaanse volk uit die ou dae) waarin hy al die vrae oor contradictions in die Bybel beantwoord het. Dis die mees fenominale eksegetiese gimnastiek, waar hy d.m.v allerhande interessante metodes vir jou verduidelik dat eintlik weerspreek die Bybel homself nooit nie. Maar vir meeste van ons is dit redelik voor die hand liggend dat daar verskillende weergawes van verhale bestaan, en dat hulle op baie plekke nie ons Suid Afrikaanse juridiese eise vir “ooreenstemmende getuienis” aan sou voldoen nie.

Hierdie is ‘n reaksie op twee posts terug se bespreking van ‘n kritiese afstand, en die belofte van ‘n paar gedagtes oor interpretasie in ‘n post-modernde tyd. En nou sou jy, met goeie reg kon vra of die raaksien van foute dan nou nodig is hiervoor. As jy bietjie meer filosofies inclined is sou jy moontlik vir my daarop wil wys dat my harsh opmerkings oor “foute” dan nou uiters modernisties is. En jy sou reg wees.

Maar as ons praat van Bybel lees in ‘n postmoderne tyd dan moet ons hierby verby kom. Ons moet op ‘n punt kom waar ons besef dat die Bybel voldoen nie aan ons eise vir historiese juistheid nie. As ek die Bybel wil gaan toets vir sy juridiese waarde, en my vereiste is dat die Bybel foutloos moet wees, dan gaan die Bybel nie die paal haal nie. Eers wanneer ons die kritiek op ‘n idee dat die Bybel foutloos is erken, en daarna die Bybel losmaak van die verwagting om “foutloos” te wees, kan ons begin praat van ‘n postmoderne lees van die Bybel. Die soeke na en kritiek op ‘n foutlose Bybel was die journey van ‘n moderne era, dit mag nou maar ent kry.


so stukkie afstand sal goed wees

Augustus 20, 2009

Dat ons hier in Suid Afrika met ‘n ernstige vlaag van fundamentalisme te doen het is ook nou nie meer ‘n geheim nie. Mens verwag dit seker in die briewekolom van die Kerkbode, amptelike koerant van die NG Kerk. Mens verwag elemente daarvan op die Dopper sinode. Mens verwag dit by Shofar en CRC, en ‘n menigte ander kerke op mushroom hier rondom ons. Maar as jy dit in die Beeld, grootste Afrikaanse dagblad in die land, lees, dan moet jy weet, dit is hier.

Die fundamentalisme kom in verskillende vorme. Daar is die calvinistiese soort, die charismatiese soort, die wegraper soort, die ek-pas-nêrens-in-nie-maar-het-al-die-antwoorde soort, die vêr-regse soort. Maar hulle almal het dit in gemeen: Hulle is Christene, die Moslem, Hindu en Joodse fundamentaliste is maar in die minderheid hier by ons, en hulle lees die Bybel.

‘n Vriendin vertel my noudiedag dat ‘n prominente Afrikaanse meisieskool die gedeelte oor evolusie uit in die matriek silabus skip. Iemand anders van ‘n laerskool waar daai hoofstuk toegestaple is. Nog een van hoe hoërskool seuns ‘n Christen onderwyser aanvat in die klas omdat sy goed “teen die Bybel” leer. Mense verlaat die geloof, en doen so onder die vooronderstelling dat die Bybel gekant teen die goeie intelek is, so asof dit dan mos algemeen aanvaar word dat die Bybel letterlik gelees moet word.

In hierdie klimaat moet daardie boek of baie vinnig weggepak word, want anders het hy die potensiaal om ongelooflike skade te verrig, of ons gaan hom bitter vinnig moet leer reg lees.

Reg lees? Ja, ek weet. Ek’s nie naïef nie, ek weet daar is nie een “regte interpretasie” van tekste nie. Maar daar is ‘n ruimte waar binne ons moet lees. En vir ‘n begin moet ons ‘n kritiese afstand tussen onsself en hierdie boek kry. Dit is iets wat die immergewilde massa-opswepende-predikers wat ons Afrikaner volkie in nuwe rigtings laat ly skynbaar nie verstaan nie. Daai boek is nie vir jou geskryf nie! Hy vertel nie van ‘n wegraping wat in jou leeftyd gaan gebeur nie, sy gesinne werk anders as joune, sy huwelike ook, sy son en maan is op ‘n ander plek as joune. Hy is nie vir jou geskryf nie. As ons dit ten minste net sal onthou verhoog die kanse dat ons hierdie boek sal kan aanhou lees sonder dat hy onherroeplike skade aan ons land aanrig aansienlik.


boksiegode en bybelgode

Augustus 18, 2009

“Maar as God almagtig is, hoe kan hy teen Jakob verloor?”

vra een van die graad 11’s in die belydenisklas noudieaand. En hulle sien ook raak dat God vir ‘n klein rakker kies hier. Esau is eintlik ‘n baie beter keuse, hierdie Jakob vent is ‘n klein liegbek. Maar God kies hom. En dan is daar nog God wat spyt kry oor hy mense gemaak het, hoe kan ‘n alwetende God tog spyt kry? En Abraham wat vir God afstry daar kort duskant Sodom. En ons het nou maar nog net begin raak aan Genesis.

Ek dink dit was Anton van Niekerk wat iewers skryf dat ons die God van die filosowe so bietjie moet los ter wille van die God van die Bybel. Nou, dit het niks met ‘n letterlike lees, of ‘n konserwatiewe godsbeskouing of enige so iets te doen nie. Die God van die filosowe het maar net ‘n manier om presies in te pas in een of ander teorie, mooi gesistematiseerd, agtermekaar, met beskrywende terme wat verabsoluteer word.

David Bosch skryf:

It is only when one loses faith in a plausibility structure that one senses that its powers were excessive and specious. In this respect Polanyi quotes Arthur Koester who, only after ht had ceased to be a Marxist, was able to write: “My party education had equipped my mind with such elaborate shock-absorbing buffers and elastic defenses that everything seen and heard became automatically transformed to fit a preconceived pattern”. The point Polanyi is maing is that the worldview one embraces may not be “true”. It may, in fact, be the Big Lie. Still, it remains “irresistibly persuasive, since it sweeps away all existing criteria of validity and resets them in its own support”

Ek dink jy weet beter waarvan Bosch (en Polanyi, op wie se werk hy baie sterk steun) praat as wat jy dink. Daai mense wat wanneer hulle praat dan kom jy net agter dat julle praat heeltemal by mekaar verby. Julle praat verskillende tale. Julle gebruik dieselfde woorde, maar bedoel totaal verskillende goed. En die ergste is, hulle an glad nie verstaan hoekom jy nie kan insien wat hulle probeer sê nie. Punt is dat beide van julle met sulke “elaborate shoc-absorbing” sisteme sit, dat julle tekste en stories op die mees wonderlike manier kan maak pas in die bekende patrone.

Daarom dalk dat meer en meer van ons hier van die ander kant af, of ons nou grade in teologie, filosofie, literatuurstudies, of sommer net graad 11, het, goed in die Bybel lees, wat vir ons so obvious lyk dat dit is wat daar staan, en dan kom jy net agter dat bitter min mense aan die duskant sien dit eers raak, hulle het experts geword om die spanninge in die teks uit te stryk tot alles mooi inpas in hulle verstaan van wat daar moet staan. En jy? Jy kan of konformeer, of jy kan die teks lees, en weer lees, en elke stukkie spanning opraap as ‘n geleentheid om iets van die rykdom van hierdie teks te ontdek. Die Jode het dit gedoen in hulle midrash, die Reformatore het gesê ons moet, en die post-moderne teoloë kan bloot nie anders nie.


Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het…

Julie 29, 2009

Hier is my suggestion: As hierdie title die eerste woorde van die Bybel was, dan was die hele  skeppings-debat heelwat eenvoudiger.

Die Bybel sou dan soos volg geloop het:

“Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie ‘n mens om die grond te bewerk nie.”

Hierna sou die verhaal verloop het van hoe die mens geskep is, en daarna vir hom ‘n tuiste geskep is in Eden, en die riviere en diere name gekry het. En dan…

In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.

En hierna sou die tweede skeppingsverhaal gevolg het wat vertel van hoe die aarde en hemel in 5 dae gemaak is, die mens in ‘n dag, en die Sabbats-rus begin het.
Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”

Die vreemde ding is dat in al ons gesprekke, hetsy met kreationiste, in die kerk, binne die wetenskap-geloof debatte, of selfs in hoogs opgeleide teologiese gesprekke, hak ons telkemale vas by die 7-dag verhaal. Maar die verhaal wat begin met die skepping van die mens, en hoe God vir die mens, en later saam met die mens, hierdie wêreld leefbaar gemaak het, hoor ons selde. Die minder sistematiese aanslag van hierdie verhaal het skynbaar ook die effek gehad dat Aufklärung denke nie werklik daarby kon aanklank vind nie.

Ek weet nie of dit is omdat ons nie heeltyd geleer is hoe om Genesis 2 met ons wetenskap te versoen, en of dit maar net natuurlik kom a.g.v die meer aardse aanslag van die outeur van Genesis 2 nie, maar dit lyk asof Genesis 2 baie duideliker uitskreeu: “Ek is ‘n mite, ‘n storie, moet my nie try in een of ander wetenskaplike teorie inforseer nie!” en mense luister meer geneë daarna.

Elkgeval, die punt is maar net, try jou Bybel lees deur te begin by Gen 2:4b-2:25, dan 1:1-2:4a, en dan van 3:1 af, en kyk of dit nie dan anders op die oor val nie. Dit kon elkgeval netsowel so om geranskik gewees het, om die 7-dag verhaal eerste te plaas was ‘n kompromie…

Update: Hier is ‘n oorvertel van Genesis 1 wat ek so rukkie terug geskryf het. Daar is dingetjies wat ek dink ek meer aandag aan moes gee, maar van dit at least sal jy in die comments kry.


Paulus en Polisiekar

Julie 6, 2009

Twee mense/groepe wie se gedagtes ek moes leer waardeer: Paulus en Fokofpolisiekar.

As goeie Gereformeerde eerstejaar teologiestudent was Paulus die een Bybelskrywer wat vir my ‘n hero was. Sy argumente, sy teologie, die stories van sy lewe. Maar met tyd het die hero-worship so bietjie verminder. Dit was nie my dosente nie, die een wat die Paulus klasse aangebied het was uiteraard baie opgewonde oor vriend Paulus. Maar soos soveel ander wat ek nou al oor die jare leer ken het, het dit net vir my gevoel of my lees van Paulus nie so lekker opline met dit wat ek van Jesus gelees het in die evangelies nie. So ek het maar begin om bietjie minder Paulus te lees vir eers.

Ek was net so mooi aan die gang met die teologiese studies, nog ‘n eerstejaar wat te veel klasse gebank het, toe Fokofpolisiekar begin musiek maak het. Ek kan nie sê dit het regtig ‘n invloed op my lewe gehad nie. Tot ‘n goeie vriendin wat nie regtig ‘n kerk-mens was nie, sy het die kerk eers baie laat in haar lewe ontdek, my geleer het om hulle te luister. Van daar af luister ek hulle baie, ek luister hulle musiek om iets van die wêreld waarbinne ‘n jonger generasie, myself ingesluit, leef te verstaan. Hulle gee nie noodwendig vir my die antwoorde nie, maar hulle verwoord definitief die vrae! En realiteit is dat meeste van die kids by die kerk, ook die goeie kerk-kinders, hulle musiek ken.

Andries van Aarde se Fatherless in Galilee wat ek teen einde van 2007 gelees het, tesame met ‘n referaat oor een of ander verskriklike Griekse vertaling uit van Paulus se briewe uit wat ek gelewer so rukkie voor ek die boek gelees het, het my weer ‘n waardering vir ons vriend Paulus begin gee. Maar ek moet sê dit gaan my nog ‘n ruk vat om Paulus regtig weer te verstaan ek dink.

Paulus en Polisiekar het nogals lyk my ‘n soortgelyke kritiek op leiers:

20  Julle verdra dit as iemand julle soos slawe behandel, as iemand julle uitbuit, as iemand julle bedrieg, as iemand julle uit die hoogte behandel, as iemand julle in die gesig klap.
21  Laat my dan maar tot my skande erken dat ons vir sulke dinge te swak was! Nou praat ek soos ‘n dwaas: enigiets waarop iemand aanspraak maak om te roem, daarop kan ek ook roem.

Julle verdra dit as iemand julle soos slawe behandel, as iemand julle uitbuit, as iemand julle bedrieg, as iemand julle uit die hoogte behandel, as iemand julle in die gesig klap. Laat my dan maar tot my skande erken dat ons vir sulke dinge te swak was!

(2 Korintiërs 11:20-21, Paulus van Tarsus)

Ons kort ‘n leier, ‘n bedreër om ons op te sweep. Om vir ons rigting te kan gee.

(Die seksuele revolusie 1:36-1:50, Fokofpolisiekar van Suid Afrika)

2 Korintiërs 11-12 is van die mees sarkastiese dele in alles wat Paulus geskryf het, en hier drup dit letterlik van die sarkasme! Dis asof Paulus wil sê: “Dankie tog dat ons nie sulke goeie leiers was nie”, want die sterk leiers bedrieg mense bloot, lei hulle om die bos, kry reg om idees aan ander te verkoop wat nie waar is nie. En dit wil lyk asof mense dit dan nou juis soek, enige bedreër wat met ‘n sterk opinie en vinnige antwoorde sal kom rigting gee. Wat instaat is om mense te manipuleer om soos goeie skape almal in die regte rigting te loop. Ek raak baie bekommerd wanneer ek sien hoe onkrities die kerk inkoop op al wat ‘n leierskap-tegniek is. Dalk het ons ‘n Paulus nodig wat sal sê: “dankie tog dat ek te swak was om mense te manipuleer op die manier wat party predikante dit reggekry het”.

Nelus Niemandt, oor wie se idees ek noudiedag bietjie geblog het, skryf:

Ons het dalk minder van John Maxwell en meer van Henri Nouwen nodig.

Ek dink daar is min mense wat Paulus se idees oor leierskap wat ek in 2 Korintiërs 11 en 12 kry so goed verwoord het vir vandag as Henri Nouwen in The Wouned Healer, ons het ‘n tipe leierskap nodig wat weet hoe om oor swakheid te praat, en waaroor ons kritici nie sal sing dat leiers maar net ‘n ander vorm van bedreërs is nie.