Dis dalk tyd om weer te dink oor godsdiens in skole

September 2, 2014

Dalk moet ek eers dit sê: ek is nie gekant teen godsdiens in skole nie. Ek dink ons gaan uiters knap onderwysers verloor as ons ‘n kliniese verdeling tussen geloof en lewe in die klaskamer wil inbring. Ek dink verder dat een of ander hofbevel wat godsdiens volledig uit skole gaan verban bloot die effek gaan hê dat Christene (en waarskynlik mense met ander godsdienstige oortuigings) hulle kinders na “godsdienstige skole” gaan neem, en dat dit die uiters belangrike publieke ruimtes waar kinders leer om met mense wat anders as hulle glo saam te leef gaan ondergrawe. Maar ek dink ook dat ons ernstige vrae moet vra oor die posisie van bevoorregting wat die kerk by skole veronderstel, wat die NG Kerk spesifiek by skole veronderstel (of veronderstel het), en wat sekere Charismatiese kerke vandag veronderstel.

Toe ek nog ‘n “jeugdominee” was moes ek jaarliks deur ‘n gesprek sit waarin my onbetrokkenheid by die plaaslike skole onder oë geneem is. Die onbetrokkenheid het basies daarop neergekom dat ek nie saalopeninge waargeneem het nie. Dit het al gebeur, twee keer wat ek te vinnig ja gesê het, en die ander keer by een spesifieke skool waar ek wel myself beskikbaar gemaak het, vir redes wat nie nou belangrik is nie, maar dit was ‘n uitsondering.

Daar was twee punte agter hierdie houding. Die een gaan oor ons verhouding met ander godsdienste, die ander oor ons verhouding met ander kerke.

Die makliker een om te verduidelik is waarskynlik ons verhouding met ander godsdienste en mense wat nie godsdienstig is nie. Buiten dat ek dink ons ‘n goeie godsdienstige kurikulum nodig het waaroor almal kan saamstem, en buiten daarvoor dat ek bo-op dit ook ruimte het vir skole om ‘n eie godsdienstige beleid op te stel wat die godsdienstige oortuigings van die meerderheid leerlinge in ag neem, dink ek ons het ‘n ongelooflike verantwoordelikheid teenoor alle leerlinge om dieselfde behandel te word.

Dit beteken dat ‘n skool soos die een waarin ek skoolgegaan het, waar die meerderheid Christene is maar daar ook ‘n redelike groep Moslems is, ernstig moet oorweer om die Imam ook van tyd tot tyd te vra om die skoolopening te doen. Ek pleit daarvoor as ‘n Christelike teoloog, predikant en ouer. Ek dink ons kinders het nodig om te leer om met respek om te gaan met mense van alle godsdienstige oortuigings. Ek dink ons kinders het nodig om te hoor dat daar wysheid in Islam is waaruit die samelewing kan tap. Ek dink ons kinders het nodig om te leer om op ‘n liefdevolle en leerbare manier met Moslems om te gaan indien hulle getroue Christene wil wees in ons wêreld vandag.

Dit beteken ook dat ons godsdienstige optrede nie teenoor kinders mag diskrimineer nie. Nooit nie. Diskriminasie het natuurlik baie grys areas, en dis gewoonlik hierdie grys areas waar die probleme lê, maar ons moet begin dink oor hoe ons godsdienstige byeenkomste ‘n nie-amptelike vereiste word vir verkiesing op ‘n leerlingraad of ander liggaam.

Maar die tweede punt gaan ons dlak help om meer van die probleme raak te sien: ons verhouding tussen kerke moet op ‘n manier verreken word in ons verhouding met skole. So hard soos wat ek wil pleit dat my eie kinders ‘n gesonde en ietwat gekontroleerde blootstelling aan verskillende godsdienste sal kry wanneer hulle eendag in ‘n publieke skool van hierdie land is, so hard sal ek baklei wanneer die skool gebruik word om my kinders te bekeer na hierdie of daardie oortuiging toe. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is nie gekant teen bekering nie, en dink ons moet volledig ruimte maak daarvoor dat mense ook van godsdienstige oortuiging kan verander, maar wanneer die skool ‘n captured audience word, en meer nog wanneer die magsverhoudinge waarin onderwysers teenoor kinders staan ter sprake kom, dan mag ons dit nie gebruik as evangelisasieruimte nie.

Daar is ‘n rede waarom ek dit onder my tweede punt sit. Ek dink ‘n groot deel van die probleme hiermee gebeur tussen kerke. Ons gebruik die ruimtes van publieke skole om dogmatiese gevegte in die lewens van kinders in te dra. Natuurlik dink die onderwysers en vrywillige ouers (my probleem is nie met kinders wat as gelykes op skoolterreine teologiese debatte voer nie, of selfs mekaar van teologiese standpunte oortuig nie, ek dink dit is deel van die lewe) wat hierby betrokke is nie dat hulle met “dogmatiese gevegte” besig is nie, hulle is mos bloot besig om die “Bybelse standpunt” te verkondig. Ek sal uiters ontsteld wees as my seuns eendag van die skool af kom en ek moet uitvind ‘n onderwyser of ander volwassene het die skool gebruik om vir hulle te vertel dat die kerk waarvan hulle deel is eintlik verkeerd is. Ek wil vir alle ouers en kinders, ook die wat nie godsdienstig is nie, respekteer op dieselfde manier waarop ek hoop my kinders respekteer sal word.

Ek dink dat Christene, as die meerderheid-godsdiens in Suid Afrika, het ‘n eerste verantwoordelikheid om aan te dring daarop dat skole nie ruimtes word vir ons godsdienstige gevegte nie. Waar dit gebeur moet ons as kerk protesteer.

Dit beteken waarskynlik dat ek dink die verantwoordelike ding vir kerke om te doen is om te erken dat daar waarskynlik sekere praktyke is wat iewers in die toekoms in ‘n hof gaan verskyn waarmee ons ook ongemaklik is, en wat ons ook dink beter bestuur moet word in skole. Ek dink ons kan hierop kritiek lewer sonder om bloot ‘n bepaalde weergawe van nie-godsdienstigheid te onderskryf. In kort: ek dink ons kan alle kante van die lewe, ook die godsdienstige, in skole erken, en dit op so ‘n manier doen waar ons kinders, ook Christen kinders, met ‘n waardering en ‘n respek vir mense van alle godsdienstige oortuiginge grootmaak.


so wil ek antwoord oor dwaalleer

Mei 7, 2013

Ek wil ook partymaal praat van “die goeie ou dae”. Jy weet, toe dwaalleer nog dwaalleer was, en ons werklik gedink het die wêreld kom tot ‘n einde as jy met dwaalleer besig is en jy moet op ‘n hoop hout gegooi word en lewendig verbrand word. Of soos by Nicea toe hulle vir ‘n hele maand lank gepraat het oor ‘n saak. Of wat van Dordt wat 154 vergaderings in 7 maande gehou het om uiteindelik te kan sê “so glo ons” (en in die proses die een geloofsbelydenis gelewer het wat vandag die minste gebruik word in die kerk).

Eintlik wil ek in ‘n loflied saam met ‘n orrel uitbars omdat ons nie in daardie tyd leef nie. Kan jy nou dink as die Algemene Sinode vir 3 maande moet sit net om uiteindelik te kan sê: “so sê die meeste van ons” (want nie Nicea of Dordt het meer as dit gesê nie). Dit sal egter dalk beter wees as die manier waarop ons week na week moet hoor hoe iemand “dwaalleer” roep in die NG Kerk. Onthou julle die storie van die seuntjie wat wolf geroep het…?

Dalk moet ons egter bietjie saam dink oor hoe mens reageer op hierdie alewige “dwaalleer… dwaalleer…” refrein. Maar laat ek dit maar publiek doen, want ek kry al hoe meer die gevoel dat daar ‘n klein netwerk van mense in (en buite) die NG Kerk bestaan wat mekaar telkens inlig oor wie nou die volgende teiken is vir hulle dwaalleer aanklagte, en strategieë bymekaarmaak vir hoe hulle die lewe vir al wat ‘n dominee is met wie hulle bietjie verskil kan hel maak. So ek dink hardop en publiek.

Party dae dink ek daai lot wat met die sola scriptura ding gekom het sou hulleself maar bedink het as hulle geweet het wat ‘n lot Amerikaners daarmee sal maar teen die tyd wat die 20ste eeu aanbreek. Praat van die dag wat onder die eend se gat uitgeruk word! Iewers is ‘n klomp teoloë kwaad vir die pous wat ‘n klompie dodgy uitsprake maak om sy bankrekening te laat klop, en in protes roep hulle uit sola scriptura. Alleen die Bybel. As ons dus oortuig raak dat wat die kerklike leiers sê in stryd is met die Bybel, dan kies ons die Bybel. Fast forward ‘n klompie jare en iemand besluit dat ten spyte daarvan dat niemand nog ooit voorheen dit raakgesien het nie, kan hy die wegraping in die Bybel in raaklees. En bietjie later, ten spyte daarvan dat alle bewyse daarteen is, kan sola scriptura ook die grense van die natuurwetenskappe bepaal.

Waarheen sola scriptura geneem is, is egter ‘n verwerping van die tradisie. En nee, om ‘n frase uit ‘n geloofsbelydenis aan te haal is nie tradisie nie. Om ‘n geloofsbelydenis uit sy historiese tyd en plek te neem en te verabsoluteer is ook nie tradisie nie. Ek dink tradisie is om te sê dat ek nie die eerste een is wat ‘n teks lees nie, en dat ek ook nie die enigste een is wat ‘n teks lees nie (ten minste sover as wat tradisie oor die Bybel gaan). Dit beteken dat ek aanvaar dat daar ‘n bepaalde wysheid is in die manier hoe mense oor eeue heen tekste gelees het, maar ook dat die herinterpretasie van tekste altyd voortgaan.

Die probleem met die “dwaalleer… dwaalleer…” geroep wat ons tans hoor is dalk deels dat sola scriptura iets gemaak is wat totaal los van die gemeenskap van gelowiges en totaal los van die tradisie van die kerk staan. Sola scriptura word saam met “alleen my interpretasie” ‘n stok waarmee geslaan word. Eintlik word dit maar net die diepe oortuiging dat ek die “wil van God” ken, deurdat ek ‘n interpretasie op die tafel kan sit waarmee alle ander interpretasies tot dwaalleer verklaar kan word.

Die waarheid is egter dat individue nog nooit in die geskiedenis van die kerk bepaal het wat dwaalleer is nie (behalwe natuurlik as hulle deur die kerk aangestel is om dit te doen). Die kerk het dit bepaal. Die kerk het ook nog nooit slegs vir een enkele standpunt ruimte gehad nie, maar altyd vir meerdere opinies. Van Petrus en Paulus, deur die sinoptiese evangelies, deur Nicea, is die kerk nog altyd ‘n breë stroom van standpunte waaraan partymaal grense geplaas word. En partymaal word die grense weer verwerp. Dwaalleer kan uiteindelik net beteken dat jy buite die raamwerk van die kerk beweeg (of van ‘n spesifieke kerk beweeg wanneer dit dan op ‘n punt gedryf word). Dwaalleer kan onmoontlik beteken dat jy nie in lyn met die Bybel is nie. Dit kan net beteken dat jy die Bybel nie meer binne die raamwerk van die kerk lees nie. Die Bybel gaan immers nie ‘n eie interpretasie gee nie, slegs mense kan die Bybel interpreteer, en slegs wanneer dit buite die kerk se raamwerk val kan ons besluit iemand is besig met dwaalleer.

As dit oor dwaalleer gaan is dit sinneloos dat ons aanhou om met ‘n paar individue te stry oor wat die “korrekte” interpretasie van die Bybel is. As ons geforseer word om oor dwaalleer te praat dan gaan dit suiwer oor of iemand binne die raamwerk van die kerk beweeg. En die kerk se raamwerk is telkens maar dat daar ‘n verskeidenheid van moontlikhede is. Ja, selfs wanneer die kerk ‘n spesifieke standpunt het, was daar nog altyd ‘n breër raamwerk waarbinne ruimte gemaak is vir ander standpunte. Ons eintlike gesprek is maar net die vraag of teoloë en predikante binne die raamwerk van die kerk val. Indien wel, dan hou ons aan om met mekaar te stoei oor hoe hierdie raamwerk moet verander. Ons vorm saam verder aan die tradisie.

En as jy roep “dwaalleer… dwaalleer…” en die kerk stem nie met jou saam nie? Wel, dit lyk my dan moet jy of jou standpunt verander (of ten minste verbreed sodat daar vir ander standpunte ook ruimte is), of die kerk verlaat, of ander in ontevredenheid (dalk selfs woede) voortleef. As ek die storie so kyk het ons ‘n paar lidmate wat vir die derde opsie gekies het. Ons sal hulle seker altyd tussen ons hê, maar ons hoef onsself seker nie altyd deur hulle te laat ontstel nie?


@gormendizer kom ons praat oor teoloë en stakings

Januarie 15, 2013

Johan Swarts se rubriek verdien reaksie. Ek vat dit bietjie persoonlik op, want vermoed ek was iewers in sy gedagtes toe hy gekies het om te skryf, so ek voel bietjie verantwoordelik om maar te reageer. Terwyl my eie gedagtes nie volledig inpas by sy voorbeeld van hoe teoloë tipies reageer nie, is daar genoeg ooreenkomste tussen my eie onlangse opmerkings, en ook Johan se reaksie daarop, en waaroor hy in die rubriek skryf om my vermoede dat ek ten minste een van die was oor wie hy gedink het te bevestig. Natuurlik skryf Johan oor teoloë in die meervoud, en is elke opmerking wat hy maak nie op my gemik nie (dit sal elkgeval waarskynlik verwaand wees om te verwag dat ek die enigste een is wat hy in gedagte het), maar as een spesifieke teoloog, wat wel vermoedelik in sy gedagtes was, sal ek tog reageer.

As die wat agter Johan se argument lê reg verstaan, dan dink ek teoloë (en die kerk oor die algemeen) moet dit hoor. Ek hoor agter die argument die groter probleem dat teoloë wil praat oor dit wat in die samelewing aangaan, wil kritiek lewer, selfs wil voorstelle maak, sonder dat ons die werklikheid goed genoeg verstaan. In hierdie geval, ons verstaan nie die komplikasies van die landbousektor nie, verstaan nie die konteks van plaaswerkers nie, en verstaan nie die groter werking van die ekonomiese sisteem nie. Ons lewer dus goedbedoelde kritiek, maar dit is nie in voeling met die werklikheid nie, en as ons wil praat moet ons meer tyd spandeer om die data te verstaan.

Johan is nie die eerste wat dit sê nie. Blaai bloot weer deur David Tracy se Analogical Imagination, waar hy op die standaard kritiek teen teoloë wys wat sê dat ons te wyd en oor te veel wil praat, vae algemene analises maak, en besig is met wat in werklikheid bloot ongedissiplineerde refleksies is, wat ons onder die vaandel van “teologie” as aanvaarbaar beskou. Dis ‘n werklike probleem. Dit was een van die probleme wat ek ook spesifiek wou konfronteer toe ek op kerklike reaksies op geweld gewerk het. As ek Johan dus reg verstaan, dan dink ek ons moet hom hoor. Ons mag nie vir een oomblik verwag dat ons analise ongegrond mag wees bloot omdat ons dit as “teologie” bedryf nie. So kom ek probeer om my eie gedagtes bietjie verder te verwoord.

My eie mini-uitbarstingtjie waarna ek hierbo verwys was gebou op die gevoel dat ons besig is om met ‘n klompie double binds te sit wat ons met ‘n onmoontlike situasie los.

  • Plaaswerkers kry te min geld. Hulle kan nie hulleself onderhou met die geld wat hulle kry nie.
  • Ons kan nie die minimum lone verhoog tot op ‘n plek waar ons sal kan sê dat die geld wat plaaswerkers wel kry hulle toelaat om in dit te voorsien wat ons as “basiese menseregte” beskryf (kos, beshuising ens.) en nog steeds ons plase winsgewend bedryf nie.
  • Ons het reeds ‘n magdom mense wat nie kos kan bekostig nie (en ek praat nie van myself wat kla omdat die vleispryse oor kersfees opgaan nie), so as ons die minimum lone verhoog, en dan die hoër onkoste kan ondervang deur dit na die verbruiker toe te laat afkom, dan beteken dit nie bloot dat ek meer vir vleis gaan betaal nie, maar dat daar meer mense is wat nie kos kan bekostig nie (en ons sou kon byvoeg, dat die lewensonkoste van die einste plaaswerkers opgaan).

Die eerste twee punte hak aan die gesprek oor die Bureau for Food and Agricultural Policy se onlangse verslag, wat o.a. sê dat die huidige minimum lone te min is om van te leef. Dat plase nie ‘n ekonomiese bestaan sal kan maak as lone met meer as R20 verhoog word nie en dat dit steeds te min sal wees om ‘n gesonde dieët te kan volg. Die laaste hak aan voedselsekuriteit, wat steeds ‘n bedreiding bly in Suid Afrika, alhoewel ons ver beter vaar as ons buurlande.

As my eie eerste instink dus nie is dat plaaswerkers dom met hulle geld werk nie, dan is dit a.g.v hierdie tipe data. Om die waarheid te sê, ek dink dit is gevaarlik om ‘n regverdiging te gee vir so ‘n eerste instink, asof ons die “eintlike probleem” kan vind by die finansiële bestuur van minimum loon werkers, asof ons dit sou kon oplos deur ‘n klein bietjie “financial management” klasse. Of Johan dit werklik as ‘n rasionele argument beskou, en of hy dit net bloot as ‘n meer rasionele argument as sy skets van die tipiese teoloog beskou sal hy maar self op moet antwoord.

Ekself was verder nog heeltyd versigtig om die probleem as “onchristelike boere” te beskryf, wat bloot “gulsig” is. Ek wil nie maak asof boere bo verdenking is nie, maar ek dink wel dat boere vasgevang is in ‘n groter sisteem waarin die produksie van landbouprodukte nie op so ‘n manier gedoen kan word dat werkers genoeg betaal kan word om ‘n gesonde en veilige bestaan te voer nie (behalwe as ons plase verder meganiseer wat weer ernstige implikasies vir werkloosheid het). My eie vermoede is dat wanneer die middel-klas en politici die boere wil uitsonder as die eintlike probleem, dan versteek dit bloot hoe ons deel is van ‘n sisteem wat afhanklik is van hierdie einste salarisse waaroor daar baklei word.

Laastens, Johan se noble savages argument vra vrae oor hoekom teoloë enigsins wil praat oor die stakings. Dis ‘n ou kritiek op die kerk se sendingwerk, dat ons die “inboorlinge” as goedhartige maar primitiewe mense sien wat die “leiding” van die kerk nodig het, en in ander kontekste die “beskerming” van die kerk nodig het teen ‘n sluwe uitbuiter wat hierdie arme primitiewe mense nie die vermoëns het om te kan aanvat nie. Laat ek egter bloot reageer deur te sê dat ek dink Johan se “vrye agent” wat kontrakte kan sluit met wie hy/sy wil, en kan besluit dat om ‘n plaaswerker te wees nie werklik is waar hulle wil wees nie en dus ‘n ander werk kan gaan kry, is uit voeling met die realiteit. Ons sou dit graag so wil hê. Ons het selfs wette in plek wat aandring dat dit inderdaad so is. Maar die werklikheid is dat die plaaswerkers wat hierdie vryheid inderdaad gebruik, wat hulle goed vat en loop, in baie gevalle bloot in die diep gat van werkloosheid verval. ‘n Keuse tussen ‘n minimum loon wat nie ‘n “balanced food plate” kan verskaf nie en werkloosheid is kwalik vryheid. Om te werk met die vooronderstelling dat mense vasgevang is in ‘n ekonomiese posisie is nie dieselfde as om te aanvaar dat hulle inherent primitiewe goedhartige mense wat nie vir hulle eie aksies verantwoordelik gehou hoef te word nie, of selfs nie in staat is om hulle eie probleme op te los nie.

Dalk is die punt dat ek op ‘n ander manier kies om uit voeling met die werklikheid te wees. Die “werklikheid” is dat dit tegnies onmoontlik is om vir ‘n hele wêreld ‘n “balances food plate” te verskaf. Ons is almal veronderstel om te weet dat die ekonomie dit nie toelaat nie, en dat as ons gaan aandring daarop dat dinge anders moet lyk, die situasie net slegter gaan wees. Dit kan inderdaad gevaarlik wees om te sê dat dit onaanvaar is. Dit maak dat mens sommer maklik goed sê soos “Ek vind dit redelik maklik om die plaas-stakings te ondersteun“, wat dit laat lyk asof jy dan nie gehoor het dat hierdie stakings dinge nie gaan beter maak nie. Wat anders moet die kerk sê as ons gekonfronteer word daarmee dat mense moet leef op salarisse wat nie ‘n gesonde bord kos op die tafel kan sit nie as “dit is verkeerd”? Solank as wat die werklikheid ‘n konsensus is dat ons sekere morele vrae maar eers opsy moet skuif omdat dit nie tegnies haalbaar is om daaraan aandag te gee nie, kies ek om uit voeling met die werklikheid te wees.

Ek dink nie Johan wil so ver gaan om te sê dat teoloë as teoloë eerder stil moet raak nie (ek dink tog sy kritiek is hoofsaaklik teen teoloë wat nie wil luister nie, eerder as teen teoloë wat praat), maar op plekke kry ek tog die gevoel dat daar iewers ‘n groepie experts is aan wie ons die besluitneming moet oorlaat. Maar wie is hierdie experts? Sal ons dit oorlaat aan demokraties verkose politici? Die tegnokrate wat ‘n manier moet kry waarop ons die samelewing ten minste net vir nog so rukkie moet balanseer? Ons as teoloë moet tog op ons tone gehou word vir slegte analises, maar uiteindelik is ons ook besig om behoeftes van mense, morele vrae en beginsels wat moet geld wanneer ons oor die balans in hierdie fyn sisteem dink te verwoord. As ons sê “bliksem, dis onmoontlik om te kan leef met R70 per dag”, dan kan dit gevaarlik wees, dan kan dit implikasies hê wat ons nie voorsien nie, maar dan is ons dalk net besig om dit te doen: om te verwoord dat wat ons sien nie in lyn is met hoe ons glo ‘n samelewing moet lyk nie. En ek wil waag om te sê dat Johan self nie dink dis hoe ‘n samelewing moet lyk nie.

 

 


Kerklike debat en om anders te lééf

Desember 13, 2012

Ek is nie seker wat die doel van die drie artikels is wat saam as Kerkdebat in twyfel versprei word nie. Verseker kon dit nie drie kante van die saak belig het nie, want Jordaan, Strydom en Pretorius sê al drie eintlik maar dieselfde. Lees maar, dis heel eenvoudig: Daar is ‘n tradisionele geloof, en ‘n tradisionele praat oor God aan die een kant, en daar is een of ander “nuwe geloofstaal” aan die ander kant, met die onuitgesproke moontlikheid dat dit selfs ‘n totale verwerping van alle geloofstaal kan beteken.

Al drie probeer ‘n middeweg vind. Ons moet nuut praat sonder om die oue te los. Noem dit misterie, noem dit dialoog, noem dit wat jy wil, dit kom telkens op dieselfde neer. Iewers moet ons ‘n middeweg vind tussen die twee groepe wat Julian Müller uitwys. Twee groepe wat eintlik al stereotipes geraak het binne die Suid Afrikaanse publieke debat oor die toekoms van die kerk.

En in die proses het ons drie reaksies op Julian Müller en nie een van die drie raak aan die kern van sy argument nie:

Individuele spiritualiteit sonder sosiaal-etiese implikasie is aan die orde van die dag.

Albei groepe moet gehelp word om te verstaan wat die eise van die Evangelie vir húlle is.

Dalk hoor ek Müller verkeerd, maar as ek hom so lees dan het hy maar vrae oor beide groepe se bereidheid om te breek met ‘n individuele spiritualiteit en om die sosiaal-etiese implikasies van die evangelie sentraal te maak in die nuwe taal wat nodig is.

Dalk het ons almal oortuig geraak dat as Julian Müller skryf, dan moet ons hoor dat ons anders moet dink oor etlike artikels van die Apostoliese geloofsbelydenis. En daarop reageer die drie wat Kerkdebat in twyfel vol woorde pak dan ook. Maar ten spyte van die aanhak aan Wilhelm Jordaan se vorige rubriek, wat inderdaar met hierdie twee groepe gewerk het, is daar maar min in Müller se artikel oor hoe hierdie nuwe taal God sal omskryf. Wat hy egter wel herhaaldelik noem is eenheid, inklusiwiteit, etiek. Belhar, nie die Apostoliese Geloofsbelydenis nie, is waaroor hy praat. En Belhar se waarheidsaanspraak lê in ‘n manier van leef, nie in die korrekte formulerings oor hierdie of daardie metafisiese kontroversie nie.

Kom ek sê wat Julian Müller nie sê nie: Die Steeds Hervormers is nie juis veel meer wit as die Nuwe Hervormers nie.

(ek is nie deel van een van die twee nie, so ek getuig maar oor wat ek sien).

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek dink die pogings om een of ander onveranderde geloofstaal te vind is futiel. Die geskiedenis van die kerk is bloot teen jou as jy oortuig is dat daar een of ander punt in die geskiedenis is waarop ‘n bepaalde interpretasie van ons belydenis van geloof gefinaliseer is.

Ek dink verder oor dat al die wetenskaplike ontdekkings en filosofiese debatte die kerk nie kan verbygaan nie. Maar dan weer, dit het die kerk nog nooit verbygegaan nie. Kerklike burokrate het nog altyd versigtig die manier van praat geskuif (en as jy daaroor twyfel, vergelyk maar gerus die moderator vandag en die moderator van 100 jaar terug, of selfs die pous deur die eeue). Kerklike rebelle (heel gereels in die vorm van akademici) het nog altyd eksperimenteer met ander maniere van praat, of hierdie akademici wat aan die kerk gekoppel was nou teoloë of fisici was. Daar was nog altyd stemme wat geglo het die kerk ignoreer die veranderinge in die samelewing, en dan maar hul goedjies gevat en geloop het. Dis belangrik dat ons hieroor moet dink.

Maar ons kan so vasgevang word tussen hierdie twee groepe, of dalk eerder, tussen die burokrate se versigtige nuut-praat en die rebelle se eksperimente, dat ons vergeet dat ons in die NG Kerk eintlik ‘n belangriker debat op ons tafel het.

Hoe ons die wederkoms en entropie met mekaar in gesprek bring is belangrik. Maar hoe ons wit en swart Suid Afrikaners met mekaar in gesprek bring is heelwat belangriker. Hoe ons dink oor die kerklike ballinge is belangrik (en moet my nie verkeerd verstaan nie, dit is hoe die meeste van my vriende beskryf moet word), maar uiteindelik is dit ekonomie, taal en ras, meer as jou interpretasie van die maagedelike geboorte, wat bepaal of jy Sondag oggend in een van daai geboue wat as “NG Kerk” beskryf word gaan sit.

Ons kan so lekker saamdans oor hoe ons oor God moet praat, belangrik soos daai dans is, dat ons vergeet dat ons spesifieke verlede ons met een moerse sosiaal-etiese dilemma los, en dat dit, nie die vraag oor wat presies die aard van God is nie, bo-aan ons agenda moet wees.

So laat ons daai nuwe taal gaan soek. Maar kom ons begin deur te vra wat die sosiaal-etiese implikasies van hierdie nuwe taal gaan wees. As ek dit nie mis het nie, is dit waarvoor Julian Müller hierdie rondte gepleit het.


Die NG Kerk praat saam Afrikaner organisasies?

Mei 10, 2012

Ek was iewers in my agterkop bewus daarvan dat die NG Kerk met die ANC gaan praat. Ek het geweet dat “ons” (menende die verkose leiers in amptelike hoedanigheid) ongelukkig is met die ANC (OK, so what’s new, kyk maar net ons media verklarings oor die afgelope klompie jare), en alhoewel ek gewoonlik voel ons moan oor die verkeerde goed (gesprek vir ‘n ander dag), het ek die brokkie inligting hier laat ingaan en daar laat uitgaan.

Ek sou toe nou vanaand by ‘n housemate hoor dat ons namens die Afrikaners met die ANC gaan praat het!

Nou hier raak ek ongemaklik.

Natuurlik is ons ‘n “Afrikaner organisasie”. Dit is die baggage waarmee ons sit, en wat ons baie hard probeer om by verby te beweeg (en waar besluite by die laaste Algemene Sinode ons nogals gehelp het om deure oop te maak om ‘n ander identiteit te vind). Ons is ‘n Afrikaner organisasieas gevolg van historiese redes, en omdat ons lidmaatskap en amptelike leierskap bykans uitsluitlik uit hierdie groep wit Afrikaans sprekendes wat ons met “Afrikaners” kan identifiseer bestaan.

Oor die hele identifisering gaan ek nie nou praat nie. Ek is ‘n Afrikaner. Ek’s stuck daarmee. Ek dink Johan Swarts is spot-on (alhoewel ek dink hy moes meer eerlik gewees het en “wit” vooraan sy “Afrikaanssprekende Suid Afrikaners” gevoeg het). Die NG Kerk bestaan uit hierdie groep.

Maar verteenwoordig die NG Kerk hierdie groep? Praat ons “namens” hierdie groep? Is ons die “kerk van die Afrikaner”? (moet ek regtig uitwys hoe naby dit aan die “volkskerk” debat kom wat die NHK so tyd gelede oor gesels het?) Is die identiteit wat maak dat ons met die ANC in gesprek gaan ons Afrikanerskap?

Waar was die NG Kerk toe ‘n groep teoloë ‘n paar maande gelede ‘n brief vir die ANC geskryf het? ‘n Brief wat begin met “dankie”, maar tog skerp krities is. Sou ons nie eerder sê dat wanneer die Kairos teoloë met die ANC gaan praat, dan praat hulle ook namens die NG Kerk nie? Goed, ‘n klompie NG predikante het die dokument onderteken, en dus gevra dat die verteenwoordigers ook namens hulle gaan praat, maar op geen stadium het die NG Kerk (wat ek van weet) enigsins aangedui dat ons hierdie gesprek ook as ‘n gesprek sien wat ons belange op die hart dra nie: en hierdie groep praat immers as “Christene” met die ANC.

Moet my nie verkeerd hoor nie, Kairos is nie sonder probleme nie. Daar was sake daarin wat ek aanvanklik mee verskil het (maar in van die korrespondensie vooraf is daar ‘n goeie argument gemaak dat dit nie nou die tyd is om oor detail te verskil wat maak dat ons mekaar nooit vind nie). En Pierre de Vos se kritiek dat die gesprek tussen Afrikaners en ANC maar ‘n elite gesprek is, en dat die ANC nie bereid is om dieselfde gesprek met die magteloses en armes te voer nie het ‘n vriend van my ook oor Kairos gesê (en daarom nie geteken nie).

Of dalk sou ons eerder saam met die SARK wou gaan praat? Of die National Religious Leaders Forum? (eerder die eerste as die tweede in my opinie).

Maar om as Afrikaner organisasie ‘n voet in die deur te kry… ek weet nie so mooi nie. Ek is ‘n Afrikaner, ek moet met hierdie identiteit werk, maar die Afrikanerbond, Voortrekker Monument en ATKV kan nie namens my praat nie. Hulle het immers niks met my vorm van Afrikaner wees uit te waai nie. Ek is egter ‘n lidmaat van die NG Kerk! As die NG Kerk praat, dan erken ek graag “dit is my kerk wat nou praat” (al verskil ek van hulle, al skaam ek myself soms vir hulle, bly dit my kerk wat praat). Maar as die NG Kerk begin om namens my as Afrikaner te praat, dan raak ek ongemaklik.

Ons is ‘n Afrikaner-kerk. Ons huil daaroor dat ons dit is. Ons bely ons skuld omdat ons dit is. Ons werk uiters hard (ek hoop) sodat dit nie langer waar moet wees nie. Sodat ons deel kan word van ‘n breër kerk, een wat nie as ‘n “Afrikaner-kerk” identifiseer kan word nie. Wat maak my kerk dan tussen die Afrikaner organisasies? Kon ons nie maar eerder gesê het ons sal dan maar liewer stilbly nie? En om dit dan nog as “Publieke Getuienis” te beskryf? Om dit as “getuienis teenoor die staat” te beskryf as ons “Afrikanerskap” vir ons ‘n kaartjie by die dominante politieke mag wen… hiermee is ek erg ongemaklik.

Asseblief, kom ons verbind onsself as kerk om te praat as deel van die ekumeniese stem in Suid Afrika, nie as ‘n Afrikaner organisasie nie.


In hierdie kerk mag jy twyfel… maar hou net by die reëls

November 18, 2011

Dit het half populêr geword om deesdae positief te praat oor twyfel. Ek dink dis ‘n goeie ding. Ek dink dis gevaarlik.

Daar word stories vertel van ‘n kerk, lank lank gelede, waarin geen vrae toegelaat is nie, waar onsekerheid veroordeel is. Ek dink ek het so stukkie van daai kerk nog gevang, maar jou doodsteek vandag is om met daardie kerk identifiseer te word. Vandag soek ons kerke wat omgee, kerke wat jou verwelkom as jy ‘n twyfelaar is.

En nee, dit is nie net die Anglikane en die “liberale” Gereformeerdes nie, dit is die normale posisie van ‘n kerk wat wil “blybly met die tye”. Daar is ‘n band, ‘n projektor, en ‘n dominee wat vir jou vertel “dit is goed om vrae te vra”. En hierin dink ek is die gevaar.

Een teken (alhoewel nie die een wat my werklik pla nie) is wanneer ons “twyfel” en “ongeloof” te vinnig teenoor mekaar plaas. Alhoewel ek dink dit is ‘n sinvolle onderskeid, is dit ‘n gevaarlike onderskeid. Die waarheid is dat vir party wat twyfel, is ongeloof die beste woord om hulle twyfel te beskryf. Hulle is nie bloot besig om vrae te vra oor hierdie of daardie dogmatiese idee nie, of om te worstel deur die dood van ‘n geliefde nie. Wanneer hulle sal waag om eerlik te wees, dan moet hulle sê: “ek dink nie daar is ‘n God nie”, “ek dink God is goed nie”, “die Bybel is vir my ‘n struikelblok”. Hulle is ongelowig… maar partymaal kies hulle om in gesprek met die kerk, met die kerklike tradisie, en met God ongelowig te wees.

‘n Meer algemene vorm hiervan is wanneer ons sê: “natuurlik mag jy twyfel, solank jy net die Bybel as die Woord van God erken” (of een of ander saak wat na die “solank” moet kom). Dis asof die kerk dan sê: “jy mag twyfel, maar twyfel net binne die reëls wat ons vir jou sal maak”. Of dalk is nader aan die waarheid dat die kerk sê: “jy moet twyfel, maar hier is jou jy moet twyfel”.

Wanneer ‘n ma ‘n kind verloor omdat iemand teen 180km/h gejaag het en ‘n ongeluk gemaak het, en by die begrafnis opstaan en vertel hoe seker sy is dat God se goeie hand hierin sigbaar is, dan beskou ons die kerk waar sy opgehemel word as ‘n geloofsreus as siek, so gemeenskap is bykans patologies. Twyfel is goed. Mens moet twyfel. Die lysie van waaroor jy moet twyfel verskil net van gemeenskap tot gemeenskap.

Maar twyfel is wesenlik om die reëls van die gemeenskap te breek. Om te wonder of die gemeenskap op die regte pad is, maar om dit te doen terwyl jy op een of ander manier nog deel van die gemeenskap is (anders is jy nie ‘n twyfelaar nie, maar ‘n apologeet vir ‘n ander gemeenskap). Die toets vir ‘n gemeenskap se ruimte vir twyfel is nie of jy een van die vrae op die lys van “gewone twyfel” vrae mag vra nie, maar wat hulle maak wanneer jou worsteling jou na “gevaarlike terrein” neem.

Dit bring ons dalk by ‘n derde probleem met die twyfel taal. Wanneer ons ruimte laat vir twyfel, maar vooraf bepaal waarheen die reis van twyfel jou moet neem, dan wonder ek oor hierdie veilige ruimte. Wanneer een of ander geestelike leier jou aanmoedig om hierdie of daardie kontroversiële boek te lees, maar vooraf bepaal wat die oplossing vir vrae wat genoemde boek op die tafel sit moet wees, dan is dit nie werklik ruimte vir twyfel nie, maar ‘n poging om die eie posisie te versterk.

Ek raak opgewonde wanneer ek hoor dat selfs in kerke wat binne die teologiese sprektrum as uiters fundamenteel beskryf sou moet word, die taal van “twyfel” begin gebruik. Maar ek raak ongemaklik wanneer kerke (en hier dink ek maar net aan die kerk waarvan ek deel is) dit laat blyk dat twyfel beheer kan word, vasgevang kan word, en die uitkoms daarvan bepaalbaar is. Hier is die waarheid: twyfel kan ongeloof veroorsaak. Partymaal kies diep gelowiges om as ongelowiges (nie as twyfelaars nie) deel van die gelowige gemeenskap te wees.

Wat is dus my toets? Wel, ek wil net weet of jy deel wil wees van hierdie hermeneutiese gemeenskap, hierdie gemeenskap wat worstel met ‘n sekere teks – die Bybel (‘n teks wat baie probleme op ons tafel sit), ‘n sekere tradisie (waarvan die grootste deel deur die tradisie self onderdruk is, stilgemaak is, en op ‘n manier in herinnering geroep moet word). Daarmee wil ek nie vir ‘n bevoorregte posisie vir twyfelaar roep nie (dit is ‘n argument vir ‘n ander dag), die gemeenskap is immers met tye fundamentalisties, rassisties, chauvinisties. Maar as jy deel wil wees van hierdie gemeenskap, met al ons massas probleme (onder andere ons onverdraagsaamheid teenoor mense wat vrae vra), dan dink ek mag jy deel wees. Dan vorm jy saam aan wie hierdie gemeenskap is, een stem in die koor.

Dit is om ruimte te maak vir twyfel… en dalk is dit onmoontlik…


grondwetlike fundamentalisme?

November 3, 2011

Wat hier staan is klein bietjie tong in die kies.

Dit voel asof ons in die wit gemeenskappe (wat maar is wat ek die beste ken) ons fundamentalistiese verlede gaan opgrawe om oor die land se grondwet te praat.

  • Die groot vrees, verkiesing na verkiesing, is dat die grondwet verander gaan word, iets wat as ‘n doodsonde gesien word. Amper asof geen jota of tittel hiervan weggeneem of bygevoeg mag word nie.
  • As ons oor die grondwet sou sê “ja, daai was belangrik vir die tyd waarin dit geskryf is, maar ons het intussen meer geleer”, dan is die reaksie bykans soos wat party aangaan oor geloof en wetenskap. Asof die grondwet ‘n tipe bonatuurlike wysheid openbaar wat bo kritiek verhewe is.
  • As ons sou vra “wie is die outeurs, en wat was hulle vooroordele?”, en daarmee vir ‘n oomblik sou wonder of die grondwet moontlik blinde kolle bevat, dan gaan die rooi ligte aan dat hier moontlik kettery oppad is.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek het ongelooflike respek vir die grondwet. Die waarheid is egter dat ek die grondwet nog bitter min gelees het. Ek het ‘n vermoede dat dit waar is vir meeste van ons. Moet ek dit uitwys? Amper soos die Bybel, wat mense oor baklei in plaas van om dit saam te lees… daarom dalk dat dieselfde mense wat die grondwet as onaantasbaar beskryf in een gesprek, in ‘n volgende gesprek sal moan omdat die menseregte van kriminele beskerm word…

Ek loop seker nou die gevaar om die grondwet en die Bybel te veel met mekaar te vergelyk, en dit het natuurlik potensiaal om weer ‘n ander groep vies te maak, maar laat ek nog een stap verder gaan.

Die Bybel is ‘n ongelooflike dokument, wat oor eeue heen ontstaan het, en wat die diep wysheid wat ontstaan het uit ‘n godsdienstige tradisie se wandel met die transendente, met “wat ons God noem”, verwoord. Die aanhaal van die Bybel buite konteks loop egter altyd die gevaar om lynreg in stryd te wees met die einste tradisie waaruit dit ontstaan het. Die aanhaal van die grondwet vermoed ek loop dieselfde gevaar.

Laat ons nou die kwasi-godsdienstige taal los met die grondwet. Dit meer bespreek en minder bloot aanhaal.


Wat ons nie gehoor het nie: Tutu praat oor swart moorde

Augustus 13, 2011

As dit nie vir die gemoan op twitter oor Tutu wat “wittes kap”, of meer spesifiek, vir die kritiek op mense wat moan oor Tutu wat “wittes kap”, was nie, sou ek nie eens geweet het van Desmond Tutu se toespraak die 11de Augustus nie. Maar dit is die wêreld waarin ons leef. Iemand ruk ‘n sin uit verband uit in Tutu se speech, en die wat regtig belangstel gaan kyk die hele speech op youtube.

Jy kan in Beeld lees waaroor die gemoan gaan. Maar daar is ‘n deel van sy toespraak waaroor Beeld nie skryf nie. Sy argument loop soos volg:

11 minute: “black-on-black” geweld moet teen die agtergrond van ‘n totale gesprek aan selfbeeld gesien word.

12 minute: Apartheid het die oortuiging dat ek “gemors” is onder swart Suid Afrikaners gevestig.

13 minute: Ons trek ons skouers op oor swart politieke leiers wat doodgemaak word.

14 minute: Ons trek ons skouer op oor swart kinders wat doodbrand.

(die opmerkings oor wit Suid Afrikaners kom by 15 minute in)

As ek Tutu reg hoor, dan moet ons sy opmerkings lees teen die agtergrond van die verskynsel dat die onderdrukte die beeld wat die onderdrukker oor haar/hom het internaliseer, en dus hom/haarself sien deur die bril van die onderdrukker. Ons kry dit nie net rondom rassisme nie, ook die verhouding tussen vroue en mans toon hierdie verskynsel.

Die een ding wat dit my lyk die media nie oor gepraat het na Tutu se toespraak nie, is hierdie “indifference ” (Tutu se woord) waarmee die dood van swart Suid Afrikaners vandag nog hanteer word. Hoe dra die media by tot die idee dat die dood van wit Suid Afrikaners op ‘n manier “erger” is as die van swart Suif Afrikaners? Binne die konteks van Tutu se toespraak sou ons egter twee verdere vrae kon byvoeg: Hoe herstel ons ‘n wêreld waar die onderdrukking van swart Suid Afrikaners veroorsaak het dat ook hulle skouers optrek oor die dood van swart leiers en kinders? En vir myself, steeds in navolging van Tutu, moet ek nie erken dat ek ‘n stuk van my menslikheid kwyt is as ek steeds die dood wat wittes as ‘n groter tragedie as die dood van swartes sien nie?

Kyk gerus die hele toespraak, dis die moeite werd:


Steve, ek onthou iets anders as die stryd om te oorleef

Julie 6, 2011

Ek weet nie of die stof gaan lê het oor Steve se “Ons sal dit oorleef” nie, wat ek hier skryf is egter nie afhanklik van hoe gewild Steve se lied toe geword het nie. Ek luister Steve se lied as ‘n “act of remembrance”, ‘n verwoording van gebeure uit die verlede waarin herinneringe geskep word, en identiteit gevorm word, en ek wil op my manier vanuit my verstaan van ‘n spesifiek Christelike tradisie hierop reageer.

Steve kry meesterlik reg om in net ‘n paar woorde van die belangrikste momente wat die identiteit van Afrikaners vorm bymekaar te trek.

  • Die Anglo-boere oorlog, wat met reg beskryf moet word as die belangrikste moment in die vorming van wat ons vandag Afrikaners noem. Dit is in hierdie ervaring, en die “arm-blanke” geskiedenis hierna wat Afrikaner nasionalisme sy oorsprong gehad het.
  • Minder prominent maar tog duidelik sigbaar, veral in die kontroversieële woorde “die kaffer se dolk”, hoor ons Bloedrivier, 16 Desember, en die groter verhaal van die Groot Trek en die oorlog teen “donker” Afrika.
  • Die derde moment, wat die hele lied in werklikheid dra, maar slegs hier en daar eksplisiet genoem word, is die belewenis van misdaad en geweld in ‘n post-apartheid Suid Afrika. Dis nog maar ‘n onlangse stukkie herinnering, maar dit lyk of dit die dominante identiteitsvormende herinnering word vir Afrikaners vandag.

Miroslav Volf se The End of Memory het my gedagtes oor Steve se song tot ‘n groot mate in hierdie rigting gestuur. Hierdie ruimte gaan nie toelaat dat ek sy hele argument verduidelik nie, maar een sentrale argument moet genoem word: daar is etiese vrae oor “hoe” ons onthou. Elke hervertelling van die verlede is nie maar ewe legitiem nie. Veral nie as ek eties reflekteer nie!

Een sentrale voorwaarde vir hoe ons onthou is dat ons eerlik moet onthou. Dit beteken nie noodwendig dat ons elke detail so getrou moontlik moet onthou, of dat die herinnering van die historikus noodwendig meer getrou is omdat dit hierdie of daardie datum korrek weergee nie. Om eerlik te onthou beteken om die verlede nie ten koste van ander te onthou nie, of op so manier dat ek ander te na kom nie. Voorbeeld:

‘n Junior en senior kolega praat Maandag oor ‘n koppie koffie, en die junior kolega deel ‘n idee met sy senior kolega wat nuwe moontlikhede vir die maatskappy sal oopmaak. Donderdag vertel die senior kolega aan die bestuur dat hy en die junior kolega Dinsdag gepraat het, en dat hy (die senior kolega) met genoemde idee vorendag gekom het.

Die feit dat hy die dag verkeerd gehad het sal kwalik as ‘n oneerlike herinnering beskou kan word, maar die manier hoe hy die rolle omdraai wel.

Ek wil ‘n tweede riglyn noem wat ek glo vanuit ‘n Christelike tradisie belangrik is vir hoe ons onthou: ek glo ons het ‘n groter verantwoordelikheid om die pyn wat ons veroorsaak het te onthou as die pyn wat ons beleef het. Daar waar ons ander seergemaak het, daar waar ons die oorsaak was vir onreg en onderdrukking, moet dit onthou word, omdat ons ‘n verantwoordelikheid het om reg te maak. Waar ons pyn ervaar het, moet ons werk vir versoening, en werk na die nie-in-herrinering-roep van waar ons gely het (hier volg ek Volf), as deel van ons verbintenis om ook ons vyande lief te hê. Vir die laaste punt sal ek jou los om self deur Volf te werk, maar die verantwoordelikheid om die ongeregtigheid waarvoor ons verantwoordelik was te onthou wil ek aanraak.

Dus twee lense waardeur ek na Steve se in-herinnering-roep van vormende momente in die Afrikaner geskiedenis wil kyk:

  • Is dit eerlik?
  • Erken dit ‘n verantwoordelikheid om pyn en ongeregtigheid wat veroorsaak is te onthou?

Steve se uitbeelding van die Afrikaner as ‘n onderdrukte groep is natuurlik nie nuut nie. Dis ‘n klassieke lees van die Anglo-boere oorlog (en een wat nie totaal sonder waarheid is nie). Voeg hierby die intrek van die Groot Trek herinneringe, wat soos ek verstaan veral in die vorming van Afrikaner nasionalisme belangrik geword het, en dan die herinnering aan geweld en misdaad vandag, waarin bevestig word dat die Afrikaner vandag, soos daai tyd, steeds die onderdrukte is.

Ek kies om by die Anglo-boere oorlog te begin omdat dit beskou word as die belangrikste moment in die vorming van die Afrikaner, maar ook omdat dit moontlik die plek is waar daar die sterkste konsensus is dat hierdie groep wat ons Afrikaners noem ‘n lydende party geword het onder die groot Britse ryk. Daar is dus hier die kans dat ons kan sê dat Steve, en minigte ander, moontlik eerlik onthou. Wat natuurlik stilgehou word, is dat hierdie selfde gebeure, met dieselfde imperialistiese magte, selfs nog meer onderdrukkend op swart Suid Afrikaners ingewerk het. Die stilte hieroor maak dat hierdie gebeurtenis gebruik kan word om Afrikaners uit te beeld as ‘n onderdrukte groep teenoor alle ander groepe, i.p.v deel van die hele Suider Afrika, swart en wit, wat eens op ‘n tyd deur die Britse ryk onderdruk is.

Om egter hierdie herinnering nou by die 1830’s te gaan inlees begin al meer na oneerlikheid te ruik. Was die groep trekkers werklik die onderdrukte groep onder die mag van die “kaffer se dolk”, soortgelyk aan die gebeure rondom die oorlog? Of moet ons eerlik vertel dat die gebeure wat met Bloedrivier gesimboliseer word vir ‘n groot stuk onreg en lyding verantwoordelik was onder verskillende ander groepe wat in Suider Afrika gebly het?

Die derde moment is die een wat my erg ongemaklik laat. Wit Suid Afrikaners is die groep wat die kleinste kans het om vermoor te word in ‘n post-Apartheid Suid Afrika. Dit is ‘n groep wat ekonomies ongelooflike bevoordeling beleef. Om hierdie groep te beskryf as die lydende party, die party wat nou, soos in die verlede, alweer in ‘n situasie van onderdrukking is, is bloot oneerlik. Dat ons wat wit is, net soos ander in Suid Afrika, onder uitsonderlike hoë misdaad en geweld ly is inderdaad waar, maar daar is geen rede hoegenaamd om hierdie groep uit te sonder die lydende party van ‘n post-Apartheid Suid Afrika nie. Dit wat nie gesê word nie is nie maar onskuldig nie! Om stil te bly oor die massas arm swart Suid Afrikaners wat die impak van misdaad en geweld die ergste beleef is om oneerlik te onthou.

As ‘n oorgang na my tweede lens moet ek nog ‘n stuk oneerlikheid in hierdie herinnering noem: Om Afrikaners se identiteit te beskryf as eerstens ‘n groep wat “weer en weer” onderdruk word, sonder om by te voeg dat hierdie groep se identiteit vandag nog meer beskryf moet word as ‘n groep wat hulleself ook aan ernstige onderdrukking skuldig gemaak het is oneerlik.

Maar dit is meer as oneerlik, en hier kies ek ‘n benadering wat ek nie weet of ander wat nie vanuit ‘n Christelike etiese tradisie reflekteer noodwendig sal deel nie. Maar vir Christene glo ek het ons ‘n groter verantwoordelikheid om die ongeregtighede waarvoor ons verantwoordelik was te onthou as die ongeregtighede wat ons beleef het. Oor dit wat ons beleef het, moet ons ‘n openheid hê om te versoen, te vergewe, en te vergeet (hierdie deel vra baie langer verduideliking wat ek nie nou op ingaan nie). Oor dit wat ons veroorsaak het, het ons die verantwoordelikheid om te onthou sodat ons kan werk vir herstel (dink Saggeus in Lukas as hierdie vir jou vreemd klink). Dit beteken nie dat ons nooit ongeregtigheid wat ons beleef het moet onthou nie, dit moet inderdaad onthou word in ons stryd om geregtigheid, ek sê net dat ons eerste verantwoordelikheid is om die ongeregtigheid waarvoor ons skuld dra te onthou.

En hier faal Steve se weergawe oor wie die Afrikaner is. Want as ons hierdie riglyn ernstig opneem, dan moet ons die Afrikaner verhaal begin deur te onthou dat ons verantwoordelik was en is vir ongeregtighede, en daarom in die eerste plek onsself moet verbind tot versoening met hulle wat gely het a.g.v ons toedoen, en vir die regstel van die ongeregtighede wat hieruit gekom het.

Natuurlik het Steve net ‘n paar minute gehad, en kan mens nie alles in een lied skryf nie, maar ek het nog geen teken gesien dat Steve wil help bou aan ‘n vertelling van ons geskiedenis waarin erken word dat swart Suid Afrikaners in elke moment (Groot Trek, Britse oorheersing en misdaad en geweld in ‘n post-Apartheid Suid Afrika) die groep was wat aan die kortste ent getrek het nie, en ek hoor ook nie dat Steve ons identiteit help vorm met ‘n herinnering waarin die ongeregtigheid waarvoor ons verantwoordelik was belangriker is om te onthou as die lyding wat ons beleef het nie.

Hierdie is vir my persoonlik ‘n baie dieper probleem as die feit dat Steve gewaag het om “kaffers” te sing…


En sê nou hulle glo in die kerk maar nie ‘n Jesus nie?

Junie 14, 2011

Neels, Sakkie, en nou Henk, dryf my tot skryf. Laat ek nou sommer met die deur in die huis val: dit voel vir my na ‘n sinnelose gesprek. Alhoewel ek, soos vele ander, nogals ‘n liking in Neels se oorsprongklike artikel gehad het, het een opmerking my bietjie omgekrap gehad:

My indruk is dat baie van die kerk se kritici nie (meer) glo nie, al sê hulle dit nie reguit nie. En as jy nie glo nie, dan het die kerk seker nie veel sin nie.

Natuurlik beskryf Neels dit as ‘n “indruk”, en moet dit gelees word teen die agtergrond van sy groter argument, maar ek het altyd so stuk ongemak as dit wil voorkom of enige van ons beter weet wat ‘n ander glo as wat hulle self glo. So as jy vir my kom vertel dat iemand nie glo nie, al wil hulle dit nie sê nie, dan raak ek uiters ongemaklik.

Sakkie en toe Henk se reaksies het toe nou eintlik grotendeels Neels se breër argument gemis. Buiten vir hierdie stelling, waarop ek nou ook maar gaan reageer, het Neels nogals ‘n paar goeie punte gemaak. Sakkie het egter weereens op die teologiese belaglikheid gewys van die kerk, en predikante all over moes weereens reageer dat hulle nie inpas in die karikatuur wat Sakkie teken nie. Tot ‘n mate maak Sakkie toe dieselfde fout as wat ek dink Neels gemaak het, deur te maak asof hy beter weet wat die kerk nou eintlik glo as die kerk self. Deur die kerk se eie getuienis oor hoe hulle dink oor sake te ignoreer en eerder sy eie weergawe bo-op die kerk te plaas.

Henk se reaksie het darem mooi daarop gewys dat Sakkie se prentjie oor wat die kerk sê darem nou regtig nie ooreenstem met die siening van dominees nie. Maar toe argumenteer hy veel meer breedvoerig as Neels se kort opmerking hierbo dat Sakkie en ander eintlik oneerlik is, dat die redes wat hulle gee om die kerk te verlaat en die werklike rede nie dieselfde is nie.

Maar al drie hierdie argumente maak in my beskeie opinie dieselfde fout: hulle aanvaar dat mense wat kerk bywoon actually glo wat die kerk leer, as dat as hulle nie doen nie, hulle waai. Dalk was dit vir ‘n sekere generasie waar, maar soos wat ek skryf hardloop storie op storie deur my kop wat hierdie idee verkeerd sou bewys.

Ek dink aan een vriend wat aktief betrokke was in ‘n gemeente waar ek ook was, maar in al die jare nooit oor God gepraat het nie, en as ek daaroor sou wou praat my net gesê het dat hy “anders” dink oor God. Wat dit beteken weet ek nie, maar in sy eie opinie het sy standpunt en die van die kerk nie ooreengekom nie, maar dit het nie bepaal of hy deel is van die kerk nie.

Nog een wie se teologiese oortuiginge ek geken het, wat Borg en Spong, en al daai mensies wat Spangenberg et al so lief voor is, graag gelees het, en toe eendag aangekondig het dat sy nou ‘n super-fundamentalistiese charismatiese kerke hier in Pretoria gaan join. Ek wou op my rug val! Haar rede: haar nuwe ou is daar, en sy like elkgeval die kleiner kerk, so sy ignoreer maar wat hulle preek.

Nog ‘n vriend was spesifiek met die Nuwe Hervorming opgetrek, en ek het saam met hom in ‘n kerkgebou gesit terwyl die dominee teen hierdie lot Nuwe Hervormers uitgevaar het. En tog het dit nie gelyk na ‘n rede om te waai nie. Laat die dominee maar preek, hy het van die gemeente gehou, so hoekom waai?

Alhoewel die model moontlik bietjie simplisties is, herinner dit my tog aan die Behoort, Beleef, Bely gesprek so tyd gelede. Daar het ek so bietjie die idee dat die kerk ‘n plek is waar ons behoort voor gevra word na die presiese belydenis uitgepak. Ek vermoed egter die gesprek moet van die ander kant af ook gevoer word. Waar ek daar probeer verduidelik het hoe dit sou moontlik wees dat ‘n kerk kan ruimte maak dat mense behoort, en saam beleef, al bely hulle nie noodwendig presies soos die dominee, of kerkraad, of sinode, of wie ookal voorskryf nie, wil ek nou bloot sê dat of dit kerk hierdie ruimte gaan skep of nie, dit gebeur elkgeval.

Strepe jonger mense sit in kerke al glo hulle nie soos die kerk nie. Hulle pas in Sakkie se karikatuur in, en join die NG kerk wat hoog en laag sweer dat hulle nie hierdie lysie goed bely nie. Of hulle vind hullself tuis in wat Sakkie skryf, maar verkies die lewe van die plaaslike gemeente bo die lesing lokaal waar allerhande voordragte gelewer word. Ja, en selfs Neels en Henk se kernbelydenisse dat “vir my is Jesus Christus die Here” of “dat Jesus Christus die Seun van God is” word nie noodwendig gedeel nie. Of dit word na hierdie of daardie (hoor my baie mooi, na alle moontlike teologiese kante toe, hierdie is nie een of ander verskuilde pro-Nuwe Hervorming argument nie) kant toe interpreteer op maniere wat ek vermoed beide Neels en Henk sal getuig (OK, en nou raai ek wat hulle bedoel met stellings terwyl ek self sê hulle behoort in hul eie woorde dit te unpack) buite die grense van hoe hulle dit bedoel het gebruik word. Maar tog sit hulle somewhere in ‘n kerk. Vir die mense. Vir die liturgie. Vir ‘n algemene konneksie met die transendente. As hulle waai uit die kerk uit, dan is dit ook moontlik as gevolg van die mense, die liturgie, of ‘n totale verlies aan enige sinvolle konneksie met die transendente.

Is my vermoede reg? Ek weet nie, wat beleef jy? As ek reg is, is dit ‘n probleem?