kleinboet is bliksems bekommerd

December 7, 2009

Ek reageer heel moontlik te vinnig. Maar kleinsus wat óók die bliksem in is maak dat ek net moet reageer. Ja, ek drink ook Cuppachino’s met cream en praat oor hoe ons gaan deelneem aan daai koninkryk waarvan Jesus gepraat het, hoe ons die stemme van die armes, die wat suffer, die wat vasgavang is in ‘n sisteem wat besig is om hulle te moor, daai stemme wil ons hê moet gehoor word. Ja, ek het ook netnou uit ‘n fancy R20 per kaartjie fliek uitgestap en verby ‘n kid gery wat met bykans huilende gesig vra net vir ‘n paar sent… ek het voor my uitgekyk, hy’t nie ‘n paar sent gekry nie.

Maar bliksem! Hierdie kan nie die status quo wees nie! En hierdie is nie iemand anders se probleem nie. En dit is nie maar fine nie. En dit is nie maar die ANC nie. En jy help niks (baie sterk taal neig om hier te surface) deur sarkastiese opmerkings te maak dat ander maar al hulle goed moet verkoop en dit vir die armes gee nie (jy onthou dat daai Joodse profeet van so 2000 jaar terug dit ook een keer gesê het, sonder ‘n greintjie sarkasme).

Ja, ek’s bekommerd oor die dreigende geweld. Maar ek’s meer bekommerd dat ons besig is om ons menslikheid te verloor. Ek’s bliksems bekommerd. Want as dit fine raak dat duisendes elke dag aan VIGS doodgaan, dan is daar iewers is baie verkeerd in ons samelewing. As dit fine raak dat mense honger, sonder skoon water, sonder ‘n greintjie menswaardigheid danksy die system, kan lewe, en ons niks kan doen nie want dis nie “ekonomies haalbaar” nie, dan is ons samelewing verder heen as wat ons wil weet.

Weeskinders tel in die miljoene. Werkloses tel in die miljoene. Mense in shacks tel in die miljoene. Mense met VIGS tel in die miljoene. Dit is Afrika. Dit is my land. En ek’s bliksems bekommerd, want oorlog of nie, rewolusie of nie, miljoene is besig om te sterf. Regte egte mense (of het ons steeds nie van ons Apartheid persepsies ontslae geraak nie). Wat moet nog gebeur voor ons Shakespeare se woorde gaan hoor:

“If you prick us, do we not bleed? if you tickle us, do we not laugh? if you poison us, do we not die? and if you wrong us, shall we not revenge? If we are like you in the rest, we will resemble you in that” – ongeveer 1600 AD

Of Lukas s’n:

Geseënd is julle wat arm is, want aan julle behoort die koninkryk van God.

Ellende wag vir julle wat ryk is, wnat julle het julle lekker lewe al weg.

Lukas 6:20 & 24, ongeveer 84 AD

Nee, ek weet ook nie wat die antwoord is nie. Maar die kommentaar op kleinsus se kreet maak my bliksems bekommerd. En die feit dat dinge skynbaar nie beter word nie maak my bliksems bekommerd. En die feit dat daar nog heeltyd, dwarsdeur die resessie, 3-verdieping huise gebou word maak my ook bliksems bekommerd.


dogma en veilige ruimtes, kerke en die se praatjies

December 1, 2009

Hendrien blog oor ‘n kamp wat ons die naweek gehad het. Klein eksperimentjie wat al vir so jaar lank loop, waar ons Badseloop toe gaan, ‘n klein groepie mense, flieks kyk (vlak flieks, diep flieks, rowwe flieks, chick flieks), kos maak, labirinte loop, in die warm-baddens lê en muf, en praat. En praat. Diep praat. Oor kerk praat as ons wil. Hier mag jy maar sê wat jy dink, en niemand gaan jou judge nie. Ek dink dis veral vir hulle wat al so bietjie van ‘n te lang paadjie met die kerk gestap het ‘n plek om te detox.

Die grootste ding waarna sy verwys is die veilige ruimte. Die ruimte waar jy jouself en jou vooronderstellings kan ontdek, en dit mag verander. En die spanning wanneer sy die gemeente tref.

Ek kuier so tydjie gelede by vriende van my in die gemeente. Goeie NG lidmate hoe jy ookal daarna kyk. En op ‘n punt sê die een net dat sy die kerk nog nooit beleef het as ‘n plek waar mens maar mag sê wat jy dink nie. As ‘n reël werk die kerk met ‘n vorm van dogma, en is die bevraagtekening hiervan baie keer letterlik strafbaar met die helse vuur. Die skep nie ‘n veilige ruimte om te sê wat jy dink nie, behalwe as jy een van die select few is wat mooi inpas in die sisteem wat geskep is.

Nou, moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek dink daar is baie waarde aan die dogma. My vriende wat meer positief is oor dogmatiese konstrukte (alhoewel hulle moontlik glad nie dit so sal noem nie), sal dalk heel negatief wees oor my evaluasie hiervan, maar ek dink dogma kan ongelooflike betekenis-gewende narratiewe wees. Narratief is nie die woord wat hulle dalk vir dogma wil gebruik nie, maar hoor my uit. Dit verskaf ‘n raamwerk waarbinne sin gemaak kan word van die lewe, maar belangriker nog, waarbinne die individu of gemeenskap motivering kan vind vir ‘n lewe van liefde, geregtigheid en hoop (dit geld nou net vir die gesonde dogmatiese konstrukte).

Maar wat as die betekenisgewende narratief van die verlede nie meer betekenis gee nie? En wat van die paar wat aan die anderkant sit waar betekenis moeiliker en moeiliker word om te vind deur middel van bestaande narratiewe? Stephan Bevans skryf redelik radikaal wanneer hy sê: “theology, when it is perceived as irrelevant, is in fact irrelevant”. En dit is presies dit wat as onuitspreekbaar beskou word. Al die kritiese vrae oor die opstanding, maagdelike geboorte, of watter pet topic die Afrikaanse “kritiese denkers” aanpak, vermoed ek is maar net die simptome van ‘n ervaring dat die bestaande vir alle praktiese doeleinde irrelevant geword het.

Kan daar weer waarde gevind word in die verlede, in die tradisie? Ongetwyfeld! Slegs ‘n ekstreme vorm van rasionalisme en individualisme kan ons oortuig dat slegs ons generasie die antwoorde het, en die verlede ons nie kan help nie. Maar sonder die veilige ruimte waar ek maar die onuitspreekbare mag uiter, dat die manier waarop ander oor God praat geensins resoneer met die wêreld, die konteks, waarbinne ek myself bevind nie, gaan soveel godsdienstiges (en ek evalueer die woord hier uiters positief) teen ‘n plafon vas bid (daai aksie van godsdiens waar ek die onmoontlike formuleer, waar die ander, dit wat ons God noem, my kan verander), geen antwoord kry nie, omdat alle antwoorde na ons toe terugkom in ‘n vorm wat vir ons in werklikheid onherkenbaar geword het.


ek’s weer geestelik betas

November 12, 2009

Ek ontmoet vanaand ‘n paar vriende in Menlyn vir ‘n fliek. Ons herken ons vriende eers nie, want sien hulle net van agter af, en die girls wat daar by hulle staan ken ons glad nie. Maar nou ja, ons het hulle lanklaas gesien, so dalk is die girls nuwe vriende wat ons nog nie ontmoet het nie. Ons staan nader en groet. Heel vriende stel die jong dametjies hulleself aan ons voor.

Die eerste sin na die name was “you are the people we were praying to meet“. Onwillekeurig reageer my brein met “ek weet nie waarvoor julle gebid het nie, maar ek is seker dit was nie vir my nie“. Die volgende sin, net nadat ek myself bedwing het om my gedagtes tot woorde te bring? “It’s always strange how people react when we start talking about the Lord“. “Wat het my vriende aangevang?! Wie is die vreemde mense met wie hulle kuier?

My vriende like ook nie baie hierdie mense wat jou so geestelik kom betas nie, en dan maak hulle my die verantwoordelike om hierdie tipe ongemaklike situasietjies te hanteer, deur publiek te maak dat hier tans ‘n dominee in die groep is. Die opgewondenheid onder die jonge dames was geen geheim nie. ‘n Dominee! Mensdom, hoekom kan my vriende nie in suke gevalle byvoeg dat hierdie dominee reeds getroud is nie!

Volgende ding is ons word na hulle bybelstudie toe genooi. Ek moet sê, dit was ‘n eerste vir my. Ek het gedog die feit dat ek ‘n ds. titel het (wat ek nooit gebruik nie) vrywaar my daarvan om na random bybelstudiegroepies genooi te word, maar niks sal hierdie evangeliste stop nie! Hulle sal sommer die ander kerk se dominee try convert dit lyk my. Op daai punt kon ek myself nie meer inhou nie:

You really don’t want to invite me to your biblestudy group.

No, we like people who ask a lot of questions.

Really, you don’t want to invite my to your biblestudy group (emphasized by one of my friends telling them that this isn’t a good idea).

We really like people who ask a lot of questions.

Hulle het nommer uitgeruil met my een vriend. En ek wonder nogals of ek nie dalk tog by hulle bybelstudie moet instap met my Griekse Bybel en ‘n kopie van die boek oor Nuwe Testament eksegese wat ek vandag gekoop het nie. Iets wat ek nooit sal doen in my eie gemeente nie, waar ons saam lees, en saam teologiseer. Maar vanaand voel ek violated.

Ek voel geestelik betas.

Hierdie mense ken my nie, weet nie wie ek is nie, ken nie my storie nie. Maar hulle aanvaar dat ek hulle vorm van geestelikheid moet deel, en aanvaar dat hulle maar aan my mag vat met hulle weergawe van die wie die spirituele wese wat ons God noem is, en hulle aanvaar dat ek fine moet wees daarmee. Ek voel vanaand violated.


Sinodes en vergaderings

Oktober 12, 2009

Ek sit by Oostelike sinode. Kyk so hier van die ander kant af na wat by die groot kerk vergaderings gebeur. Sit hier op prime spot, in die middel agter, en kyk reguit na voor, daar waar die belangrike dominees van die sinode praat. Die wireless netwerk is nou nie so lekker nie, maar ek sal nie hierdie teologie blog clutter met my struggles met die tegnologie nie. Die mense sit om ronde tafels, en die leiers probeer gesprek te fasiliteer.
Jy hoor die retoriek van verandering heeltyd. Orals hoor jy nog die stories van die ‘ou dae’ van die sinode, toe daar 100 besluit ‘n dag geneem moes word, toe ons meer vergadering gehou het as wat daar iets gebeur het. Grappies soos: “God het die wêreld so lief gehad dat hy nie ‘n komissie gestuur het nie” word met groot smaak vertel. Kom ons face dit, almal in die kerk weet dat die institusionele model ten minste moet verander… dalk selfs moet eindig.
Maar hoe ernstig ons dit gaan opneem weet ek nie. Daar is tog ‘n stukkie sekuriteit in hierdie tipe vergaderings. So ‘n vergadering het immers mag om dinge waarvan ons nie hou nie aan te spreek. Hierdie vergaderings word die buffer teen gemeentes wat gay dominees wil aanstel, teen teoloë wat hulle tradisie wil herinterpreteer op ‘n manier wat vir die huidige kerk bietjie vreemd lyk, teen fundamentalisme wat die finale stem in die kerk wil wees.
Daar is orals die begeerte dat die sinodesitting eerder ‘n plek moet wees wat netwerke bou, wat mense aan mekaar oplink, wat kreatiwiteit losmaak, wat gemeentes help om beter te werk. As ek die stories hoor van wat was, dan wil dit vir my lyk asof ons darem al begin vorder.


Dan Denette en ‘n konstruktiewe voorstel vir godsdiens in skole

September 28, 2009

Ek voel myself tog verplig om ‘n konstruktiewe voorstel te probeer maak vir die hele godsdiens-in-skole gesprek wat op die oomblik aangaan. Ek het natuurlik persoonlike belang by hierdie saak. Ek is ‘n teoloog, en ‘n jeug-predikant. My vriende range van agnostici, ateïste, en verskeie vorme van Christene. My vriende is nou in hulle 20’s, en beide ek en hulle gaan oor 10/15 jaar kinders in skole van ons land hê, want vir basicly al my vriende is waai uit hierdie land nie ‘n opsie nie.

Ek wil vanuit my teologiese agtergrond ‘n bydrae maak. Dit is moontlik dat die voorstel op plekke met die huidige grondwet kan clash, ek is nie ‘n kenner van die grondwet nie, maar weet dat die grondwet verdraagsaamheid tussen mense wil aanmoedig, en ek dink dit vereis ‘n bepaalde teologiese kyk – dus impliseer ek dat sekere teologiese vooronderstellings tot onverdraagsaamheid sal lei. Sou dit met die grondwet clash dink ek grondwet, teologie, en menigte ander rolspelers sal moet saam gesels om te soek vir ‘n benadering wat in ‘n publieke ruimte sal werk.

Binne die huidige gesprek dink ek Dan Dennett se argument by 2006 se TED kan ons help met konstruktiewe gesprek. Kyk daarna, want die res van die post gaan daarop voortbou. Onder is net die gedeelte van die talk waarna ek hier wil verwys, maar die hele talk kan hier afgelaai word.

Nelus Niemandt het op my vorige post gereageer op facebook met die opmerking:

Die vraag is dalk of enige skool hoegenaamd van opvoeding kan praat en opvoed in die ware, holistiese sin van die woord, as godsdiens weggewens word? Selfs ‘n keuse om te swyg of vir atiesme is ‘n godsdienstige keuse. Hoe sou skole lyk as daar baie en respekvol oor godsdiens gepraat word?

Om godsdiens uit skole te wil verban ontken die feit dat godsdiens inherent deel van ons samelewing is. Dit is ‘n mag wat tot van die grootste humanitêre werk wat aan die gang is ingespan kan word, en ‘n mag wat tot ongelooflike geweld ingespan kan word. Dit vorm etiek, en word met tye gebruik om onetiese gedrag te regverdig. Godsdiens bly steeds ‘n bepalende faktor in die wêreldgeskiedenis, en ook in die geskiedenis van samelewings, en die meerderheid van individue.

Die moeilikheid met Dennette se voorstel is natuurlik die optimisme oor feite. Wie bepaal die feite? Watter feite? Dit gaan ‘n ongelooflike komplekse kurrikulum wees om aanmekaar te sit, maar ek dink ‘n uiters noodsaaklike een. As teoloog, en jeug-predikant, sal ek nog verdere redes wil byvoeg. Eerstens op grond van die ongelooflike hoeveelheid vrae wat onder jongmense bestaan oor verskillende godsdienste. As skole nie hierdie taak gaan opneem om jongmense ‘n prentjie te gee van hoe die wêreld van die godsdienste lyk nie, dan moet die kerk definitief ernstig daaraan begin aandag gee. Tweedens het die kerk uit sy eie geskiedenis die belangrikheid geleer van konstruktiewe gesprek met hulle van ander godsdienstige agtergronde: ons mag nie die onverdraagsaamheid tussen godsdiente, of tussen godsdienstiges en nie-godsdienstiges aanblaas nie, ons moet groter begrip kweek, sonder om verskille te relativeer.

Die kompleksiteit in ag geneem, en ook die feit dat so ‘n kurrikulum noodsaaklik is, wil ek nog ‘n voorstel maak. Eerstens dat ons nie net die verhale/feite van verskillende godsdienste moet leer vir kinders nie, maar ook op een of ander manier, dalk later in die kurrikulum, algemene inligting oor paradigmas (Thomas Kuhn) of wêreldbeelde vir kinders sal gee. Die gevaar van totaliserende ideologieë moet vir hulle geleer word, en ook hoe vooronderstellings funksioneer.

Binne ons skool sisteem moet ons dan besef dat elke onderwyser nie anders kan as om sy/haar eie keuse rondom geloofsoortuiging in die klas indra. Ouers van ‘n skool kies die algemene approach van die skool, maar kan nie ‘n enkele onderwyser in enige geloofsoortuiging in forseer nie. Alle kinders leer dus van alle godsdienste, maar gaan ook hoor hoe verskillende onderwysers keuses maak binne hierdie wêreld van godsdienstigheid/nie-godsdienstigheid. As ek kan aansluit by ‘n argument op ‘n ander blog van my rondom hoe ons teologie moet funksioneer: ons moet kinders help om self-krities te kan funksioneer, om die voorlopigheid van hulle eie standpunt (hetsy godsdienstig of nie-godsdienstig) te verstaan, maar om tog met volle oortuiging te kan kies vir ‘n verstaan van geloof/ongeloof wat hulle kan help om nie net sin te maak van hulle wêreld nie, maar ook om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Onderwysers moet nie minder oor godsdiens, en selfs hulle eie oortuigings, praat nie, maar leer hoe om op ‘n respekvolle wyse aan die publieke gesprek oor godsdiens, en tussen godsdienste, deel te neem, en ‘n voorbeeld wees vir ons kinders.

Idealisties? Moontlik. Maar ek sal graag hierdie pad saam met onderwysers wil stap, waar ons hulle kan help om gesond te ontwikkel, en dan meer van hulleself in die klas weg te gee, nie minder nie.


‘n briefie aan George Claasen

September 23, 2009

George. Ons ken mekaar nie. Ek kan ook nie onthou wanneer ek die eerste keer iets van jou gelees het nie, maar ek onthou wel dat jou naam oor die algemeen positiewe herinnerings oproep. Toe ek Sondag die Rapport opskrifte sien, was ek uit die aars van my agtergrond, opleiding en beroep geïnteresseerd om te hoor waaroor dit gaan. Toe ek die artikel lees was ek… ek weet nie, ek dink ek was kwaad, met ek “agge nee” gevoel daarmee saam. Ek was aanvanklik maar half skepties gewees, ek glo jy sal bly wees om dit te hoor, want Rapport het nou nie juis ‘n track record van ongelooflike beriggewing nie, hulle het mos maar ‘n manier om dinge bietjie met sensasie te belaai jy weet. So ek het jou blog gaan lees.

Ek moet begin deur te sê ek voel jou pyn. Ek het nie kinders nie, maar daar is wel baie kinders in my gemeente, en ek gesels graag met hulle. Ek raak bekommerd as ek van die teologiese uitsprake hoor wat hulle maak, ek raak baie bekommerd as ek iets optel van die hermeneutiese bril waarmee hulle na die Bybel kyk. Ek dink dit is gevaarlik. En ek vermoed dat die CSV’s by die skole, dalk selfs onderwysers, moontlik kan bydrae daartoe. Jy sien, as teoloog is ek geskool in histories kritiese eksegese, en sekere vorme van ‘n postmoderne hermeneutiek. Ek het dus ‘n redelike uitgewerkte verstaan van realiteit, transendensie, “Heilige boeke” en hulle ontstaan, en hoe ons tewerk moet gaan met antieke bronne om betekenis in ‘n post-moderne wêreld te vind. Ek lei af dat jy self redelike goed deurdagte idees het op bogenoemde sake. En verstaan jou ongemak wanneer mense daarvan verskil.

Baie van die goed wat jy noem laat my baie ongemaklik. Wanneer godsdienstige rituele na publieke ruimtes geneem word waar dit duidelik kan word wie nie daaraan deelneem nie, is ek nie net ongemaklik a.g.v my agtergrond in Etiek en respek vir Menseregte nie, maar is ek ook as teoloog ongemaklik, omdat ek dink sulke praktyke uit ‘n Konstantynse kerkverstaan kom wat die teologie ernstige vrae oor moet begin vra. Dit verwys nou spesifiek na jou ongemak met die gebeure in laerskool Stellenbosch se “Jesus-week”.

Maar tog voel ek heel ongemaklik met wat ek lees, en, ek moet erken, met tye selfs kwaad. Dalk moet ek by die kwaad begin. Ek verstaan jou dalk verkeerd, en sal dit dan graag wil weet, maar dit voel vir my of jy alle godsdiens oor dieselfde kam skeer. Dit voel of die kompleksiteit van verskillende godsbeelde, wêreldbeelde, en hermeneutiese raamwerke geïgnoreer word, en die wêreld in twee kampe verdeel word: Die godsdienstiges en die ateïste. Dan skuif die argument mos na die openbare uitleef van geloof . En as ek jou nou reg verstaan het, dan raak ek heel ongemaklik.

Dalk is die ding dat ek baie meer holisties kyk na onderwysers. Hulle is nie masjiene wat feite oordra nie. Hulle is mense met spesifieke idees rondom hoe die wêreld lyk en werk, wat belangrik is, etiek, godsdiens, transendensie, geloof, kultuur, ‘n verstaan van die geskiedenis vna Suid Afrika. Al hierdie sake gaan uitkom. As hulle nie na “God” mag verwys nie, mag hulle dan ook nie na enige Utilitarian etiese argumente verwys nie? Ek bedoel, daar is verskeie ouers wat immers nie met vorme van Utilitarianism gaan saamstem nie? As hulle nie mag Bybel lees nie, dan sekerlik ook nie Plato of Freud nie, siende dat beide sterk teenkanting gehad het op sekere tye, en nie een van die twee voorgeskryf word in die skool sillabus nie. Ek weet nie of dit die tipe onderwysers is wat ek soek nie. Ek dink ook nie dit was die onderwysers wat my die meeste gevorm het nie. Nee, die onderwysers wat my die meeste gevorm het, het hulle hele wese in die klas ingedra, hulle filosofie, waardes, vooronderstellings, en was boonop mense wat gesond en gebalanseerd ontwikkel het (ons het die juffrou wat net heeltyd Bybelversies gequote het vinnig-vinnig leer ignoreer).

As die probleem spesifieke gevalle is waar godsdiens op ‘n manier gebruik word wat ander kinders manipuleer, dan sal ek jou ondersteun in hierdie saak. Ek weet steeds nie of die hof die plek is om dit te beslis nie, siende dat ek vrees dat so ‘n aksie fundamentalisme net nog verder gaan laat opvlam, maar in die saak sal ek jou ondersteun. Maar as hierdie ‘n poging is om die volledige menswees van onderwysers uit die klas te haal, sodat net die kliniese opvoedkundige oorbly, of as dit ‘n poging is om enige blootstelling aan godsdiens uit skole te haal, dan raak ek ongemaklik.

So, na ek hierdie geskryf het, en my gedagtes hopelik nou meer georden is, dalk net die vraag: Wil jy nie net bietjie meer duidelik wees nie? Is alle godsdiens in skole ‘n probleem? Is alle verwysings na God of enige vorm van transendansie deur bestuursliggame en amptelike dokumente van skole waarteen julle wil stem dikmaak? Of gaan dit oor manipulasie van kinders, wat deur godsdiens, kultuur, filosofie, ja, selfs deur die wetenskap en opvoedkunde, kan plaasvind? Is daar vir jou nog ruimte vir onderwysers om volledig mens te wees, wat hulle hele kultuur-agtergrond, etiese-agtergrond en geloofs-agtergrond deel van hulle omgang met kinders maak? Of moet dit alles by die huis gelos word wanneer die skoolgronde betreë word?


dis ‘n boek daai, en daar is foute daarin

September 8, 2009

‘n Baie goeie vriendin van my van waaay back af sit noudieaand hier in die sitkamer by ons. Sy is ‘n beautiful Christen mens, uit ‘n huis uit waar diep Christelike waardes geleef is. Jy weet, daai thick weergawe van geloof, waar dit alles beïnvloed, waar dit nie net oor ‘n paar basiese goed gaan nie, maar waar geloof jou hele uitkyk op die lewe bepaal. Sy ken haar Bybel, sy ken hom goed. En sy vra haar pa toe eendag wat nou gemaak met die contradictions en goed in die boek. Sy antwoord was bloot: “Onthou, die Bybel is deur mense geskryf, en mense maak foute”.

Ek onthou ‘n boekie van oom Willie Marais (onthou jy hom nog? die firebrand preacher van die Afrikaanse volk uit die ou dae) waarin hy al die vrae oor contradictions in die Bybel beantwoord het. Dis die mees fenominale eksegetiese gimnastiek, waar hy d.m.v allerhande interessante metodes vir jou verduidelik dat eintlik weerspreek die Bybel homself nooit nie. Maar vir meeste van ons is dit redelik voor die hand liggend dat daar verskillende weergawes van verhale bestaan, en dat hulle op baie plekke nie ons Suid Afrikaanse juridiese eise vir “ooreenstemmende getuienis” aan sou voldoen nie.

Hierdie is ‘n reaksie op twee posts terug se bespreking van ‘n kritiese afstand, en die belofte van ‘n paar gedagtes oor interpretasie in ‘n post-modernde tyd. En nou sou jy, met goeie reg kon vra of die raaksien van foute dan nou nodig is hiervoor. As jy bietjie meer filosofies inclined is sou jy moontlik vir my daarop wil wys dat my harsh opmerkings oor “foute” dan nou uiters modernisties is. En jy sou reg wees.

Maar as ons praat van Bybel lees in ‘n postmoderne tyd dan moet ons hierby verby kom. Ons moet op ‘n punt kom waar ons besef dat die Bybel voldoen nie aan ons eise vir historiese juistheid nie. As ek die Bybel wil gaan toets vir sy juridiese waarde, en my vereiste is dat die Bybel foutloos moet wees, dan gaan die Bybel nie die paal haal nie. Eers wanneer ons die kritiek op ‘n idee dat die Bybel foutloos is erken, en daarna die Bybel losmaak van die verwagting om “foutloos” te wees, kan ons begin praat van ‘n postmoderne lees van die Bybel. Die soeke na en kritiek op ‘n foutlose Bybel was die journey van ‘n moderne era, dit mag nou maar ent kry.


dinge waaroor die kerk nie praat nie: mediese fondse en privaat hospitale

September 5, 2009

Ek wil nie regtig op die ou ding ingaan hoe sleg of hoe goed dit is dat dominees nie oor seks, politiek en geld preek nie. Wat my eerder begin pla is die hoeveelheid goed wat dit vir my wil voorkom ons nie eers oorweeg dat ons veronderstel is om daaroor te praat nie. Een daarvan het vanaand om die tafel uitgepop: mediese fondse en privaat hospitale.

Kom ons face dit nou maar: Privaat hospitale sê dat daar prioriteit gegee moet word aan die versorging van hulle wat kan betaal om versorg te word. Dus dat jou lewe se waarde gelyk is aan dit wat jy verdien. Mediese fondse blyk vir my die voertuig te wees wat hierdie sisteem in stand hou.

Ons lees die Bybel en ons maak oorlog as mense sou waag om op ‘n paar kritiese puntjies af te wyk van wat daar staan. Maar realiteit is dat ons huidige mediese sisteem in sy wese indruis teen wat Jesus kom leer het. Kom ek verduidelik.

  • Een van die goed wat nogals uniek is aan Jesus is dat hy kom praat het van God as ‘n Vader.
  • Jesus kom leer dat jou waarde nie bepaal word deur uiterlike dinge nie.
  • Jesus kom leer dat hierdie Vader almal ewe lief het, en vir almal eweveel omgee. Almal se waarde is dieselfde.

Ek volg nie die hele storie nie, maar klink my of Obama darem bietjie hierdie mediese storie aanspreek. Hoog tyd, want Amerika s’n was nog erger as ons s’n gewees. Een van my gunsteling flieks, Patch Adams, het ernstige krities teen hierdie sisteem. Ek het die fliek al baie gebruik as metafoor vir die kerk, maar dalk moet ons die absoluut eksplisiete boodskap van die fliek en van Patch Adams se lewe meer in die kerk hoor.

Ek het nie ‘n antwoord nie. Alle predikante moet aan ‘n mediese fonds behoort. Ek ook. Maar hieroor het ek nog nooit iemand hoor preek nie. Hierdie ding het ek nog amper nooit eers gehoor dat teoloë, predikante, gemeentes, enigiemand, oor praat nie. Ek het al gepreek oor geld. Ek het gepreek oor politiek kort voor die verkiesing. Op jeugkampe praat ons baie oor seks. Oor ekologie praat ons. Oor rassisme preek my kolega gereeld. Maar ek het nog nooit oor mMediese fondse en privaat hospitale gepreek nie. Ek weet ook nie wat ek sal sê nie. Ek het nog nooit iemand daaroor hoor preek nie. Ek het nog nooit eers gehoor dat iemand sê ons is veronderstel om daaroor te praak nie.

Het die Christelike Etiek iets hieroor te sê? Het die Jesus-storie iets hiervoor te sê?


so stukkie afstand sal goed wees

Augustus 20, 2009

Dat ons hier in Suid Afrika met ‘n ernstige vlaag van fundamentalisme te doen het is ook nou nie meer ‘n geheim nie. Mens verwag dit seker in die briewekolom van die Kerkbode, amptelike koerant van die NG Kerk. Mens verwag elemente daarvan op die Dopper sinode. Mens verwag dit by Shofar en CRC, en ‘n menigte ander kerke op mushroom hier rondom ons. Maar as jy dit in die Beeld, grootste Afrikaanse dagblad in die land, lees, dan moet jy weet, dit is hier.

Die fundamentalisme kom in verskillende vorme. Daar is die calvinistiese soort, die charismatiese soort, die wegraper soort, die ek-pas-nêrens-in-nie-maar-het-al-die-antwoorde soort, die vêr-regse soort. Maar hulle almal het dit in gemeen: Hulle is Christene, die Moslem, Hindu en Joodse fundamentaliste is maar in die minderheid hier by ons, en hulle lees die Bybel.

‘n Vriendin vertel my noudiedag dat ‘n prominente Afrikaanse meisieskool die gedeelte oor evolusie uit in die matriek silabus skip. Iemand anders van ‘n laerskool waar daai hoofstuk toegestaple is. Nog een van hoe hoërskool seuns ‘n Christen onderwyser aanvat in die klas omdat sy goed “teen die Bybel” leer. Mense verlaat die geloof, en doen so onder die vooronderstelling dat die Bybel gekant teen die goeie intelek is, so asof dit dan mos algemeen aanvaar word dat die Bybel letterlik gelees moet word.

In hierdie klimaat moet daardie boek of baie vinnig weggepak word, want anders het hy die potensiaal om ongelooflike skade te verrig, of ons gaan hom bitter vinnig moet leer reg lees.

Reg lees? Ja, ek weet. Ek’s nie naïef nie, ek weet daar is nie een “regte interpretasie” van tekste nie. Maar daar is ‘n ruimte waar binne ons moet lees. En vir ‘n begin moet ons ‘n kritiese afstand tussen onsself en hierdie boek kry. Dit is iets wat die immergewilde massa-opswepende-predikers wat ons Afrikaner volkie in nuwe rigtings laat ly skynbaar nie verstaan nie. Daai boek is nie vir jou geskryf nie! Hy vertel nie van ‘n wegraping wat in jou leeftyd gaan gebeur nie, sy gesinne werk anders as joune, sy huwelike ook, sy son en maan is op ‘n ander plek as joune. Hy is nie vir jou geskryf nie. As ons dit ten minste net sal onthou verhoog die kanse dat ons hierdie boek sal kan aanhou lees sonder dat hy onherroeplike skade aan ons land aanrig aansienlik.


boksiegode en bybelgode

Augustus 18, 2009

“Maar as God almagtig is, hoe kan hy teen Jakob verloor?”

vra een van die graad 11’s in die belydenisklas noudieaand. En hulle sien ook raak dat God vir ‘n klein rakker kies hier. Esau is eintlik ‘n baie beter keuse, hierdie Jakob vent is ‘n klein liegbek. Maar God kies hom. En dan is daar nog God wat spyt kry oor hy mense gemaak het, hoe kan ‘n alwetende God tog spyt kry? En Abraham wat vir God afstry daar kort duskant Sodom. En ons het nou maar nog net begin raak aan Genesis.

Ek dink dit was Anton van Niekerk wat iewers skryf dat ons die God van die filosowe so bietjie moet los ter wille van die God van die Bybel. Nou, dit het niks met ‘n letterlike lees, of ‘n konserwatiewe godsbeskouing of enige so iets te doen nie. Die God van die filosowe het maar net ‘n manier om presies in te pas in een of ander teorie, mooi gesistematiseerd, agtermekaar, met beskrywende terme wat verabsoluteer word.

David Bosch skryf:

It is only when one loses faith in a plausibility structure that one senses that its powers were excessive and specious. In this respect Polanyi quotes Arthur Koester who, only after ht had ceased to be a Marxist, was able to write: “My party education had equipped my mind with such elaborate shock-absorbing buffers and elastic defenses that everything seen and heard became automatically transformed to fit a preconceived pattern”. The point Polanyi is maing is that the worldview one embraces may not be “true”. It may, in fact, be the Big Lie. Still, it remains “irresistibly persuasive, since it sweeps away all existing criteria of validity and resets them in its own support”

Ek dink jy weet beter waarvan Bosch (en Polanyi, op wie se werk hy baie sterk steun) praat as wat jy dink. Daai mense wat wanneer hulle praat dan kom jy net agter dat julle praat heeltemal by mekaar verby. Julle praat verskillende tale. Julle gebruik dieselfde woorde, maar bedoel totaal verskillende goed. En die ergste is, hulle an glad nie verstaan hoekom jy nie kan insien wat hulle probeer sê nie. Punt is dat beide van julle met sulke “elaborate shoc-absorbing” sisteme sit, dat julle tekste en stories op die mees wonderlike manier kan maak pas in die bekende patrone.

Daarom dalk dat meer en meer van ons hier van die ander kant af, of ons nou grade in teologie, filosofie, literatuurstudies, of sommer net graad 11, het, goed in die Bybel lees, wat vir ons so obvious lyk dat dit is wat daar staan, en dan kom jy net agter dat bitter min mense aan die duskant sien dit eers raak, hulle het experts geword om die spanninge in die teks uit te stryk tot alles mooi inpas in hulle verstaan van wat daar moet staan. En jy? Jy kan of konformeer, of jy kan die teks lees, en weer lees, en elke stukkie spanning opraap as ‘n geleentheid om iets van die rykdom van hierdie teks te ontdek. Die Jode het dit gedoen in hulle midrash, die Reformatore het gesê ons moet, en die post-moderne teoloë kan bloot nie anders nie.